Die treppery van Jan Emmer het ’n groot opskudding verwek op Kreepoort.
Die volgende dag kon ’n mens orals tussen die kleims groepies delwers
druk in gesprek met mekaar opmerk. Dit het alles oor die een onderwerp
gegaan, en die gemoedere was net warm. Het Koos Blikkies nie die delwers
tot gematigdheid aangespoor nie, dan weet die liewe Vader alleen wat sou
plaasgevind het.
„Nie met geweld nie,” het hy gesê, „maar met uitoorlê sal ons vir Midas
die les leer. Moet net nie oorhaastig te werk gaan nie.” En hierop het
die delwers na hulle kleims toe gegaan en die verder verloop van sake in
Koos se hande gelaat.
Vir Gert Struis en Piet Visasie het hy sy planne meegedeel. „Dit sal
nooit gaan om teveel konfidante te hê nie, want dan is ons geheim netnou
op die vlakte,” het hy aan hulle gesê.
„Maar wat is dan Oom se planne?” vra Gert.
„Kyk, neef, ek het vanmôre weer ’n mooi vyftiencarat-klippie gekry;
Swartbooi het dit so ’n uur of wat gelede vir my gebring. Hy het dit
somar in die kleim uitgekap.”
„Maar hoor, Oom is darem gelukkig,” val Gert hom in die rede.
Sonder om notiesie te neem van Gert se interrupsie gaan Koos Blikkies
voort: „Ek kan vir Swartbooi vertrou, want jy weet seker dat ek eenmaal
sy lewe gered het—maar dis nou tot daar-en-toe—en ek gaan hom as trep
gebruik om daardie Moor Seal te vang. Want as ek vir Seal gevang het, dan
het ek vir Midas ook in die hande.”
„En is Oom nie bang om die diamant te verloor nie?” vra Gert.
„Glad nie, neef, glad nie; ou Swartbooi sal my nooit bedrieg nie, en hy
is vir Seal te slim. Maar ek het jou en Piet Visasie se hulp nodig. Ek
weet Piet is ’n kêrel wat sy mond kan hou en wat nie maklik skrik nie.”
„En hoe sal Oom vir Midas vang deur vir Seal te trep?” vra Gert weer.
„Dis te lank om vir jou nou al die redes vir my gevolgtrekkings hier
uiteen te sit. Oefen maar geduld; jou nuuskierigheid sal oor ’n dag of
wat bevredig word. Seal ag homself so veilig met sy onwettige handel dat
hy baie maklik gaan gevang word.”
„Nou goed, Oom kan op my reken. Laat hoor nou Oom se planne.”
„Kyk,” begin oom Koos, „Swartbooi vertel aan my dat hy Seal se rolplek
ken. En hy weet te sê dat Midas altyd sorg dra dat daar nooit ’n
kafferpolies in die nabyheid kan kom nie. Nou het Swartbooi al vir Seal
gepols, en hy sê die Moor is baie gretig om besigheid te doen. Ons weet
ook dat Midas op Smartendal se groot dans is. Môre-oggend om drie-uur
gaan Swartbooi my vyftiencarat-diamant aan Seal verkoop, en jy, Piet
Visasie en ek, sowel as twee kafferkonstabels gaan die Moor vang.
Verstaan jy nou?”
„Ja, Oom, en as ons daardeur somar vir Jan Emmer ook kan loskry, dan sal
ek meer as beloon vir die moeite voel.”
„Wie weet, neef, wie weet? Miskien het alles vir die beste gebeur!” En
met hierdie woorde stap Koos Blikkies na sy tent toe.
Daardie nag is die net nog ’n slaggie uitgesprei, maar hierdie keer om
’n regte roofvoël te vang, en dit was nie tevergeefs nie. Seal is op
heterdaad betrap, en daar was _vyf_ ooggetuies!