IV.

Belangstelling sowel as nuuskierigheid het my hof-toe gedrywe op die

gedenkwaardige dag van 9 Junie, 192..., toe Jan Emmer en Seal voor die

regter moes verskyn.

Dit was op ’n Vrydag, en daar die meeste delwers tog op daardie dag na

Smartendal moes kom om hulle diamante te laat registreer alvorens hulle

dié mag verkoop, was die hofsaal ver te klein om die skare van delwers te

bevat en moes etlike honderde teleurgesteld omdraai.

Daar is ’n doodse stilte in die hof toe die regter sy plek op die regbank

inneem, en toe Jan Emmer se naam uitgeroep word, kon ’n mens ’n speld

hoor val.

Die beskuldigde stap met lustelose tred die boks binne, en dit moes ’n

hart van staal gewees het wat op daardie oomblik g’n medelyde met hom

gehad het nie. Die versreël uit Gesang IV het my onwillekeurig te binne

geskiet: „Wordt ergens zo betreurenswaard ’n schepsel Gods gevonden?” toe

ek my oë op hom rig.

Met geboë hoof, arms wat slap langs sy liggaam hang, en oë wat te skaam

is om op te kyk, staan hy daar, waarlik ’n betreurenswaardige skepsel

Gods. Sy klere is nog vuil van die rooi stof van die _diekens_, en sy

hare hang in toiings oor sy voorkop. Ja, ek kon sweer dat selfs oor die

juts se gesig ’n sweem van jammerte vir ’n oomblik geflits het.

„Jan Emmer, pleit jy skuldig of onskuldig op die aanklag?” vra die

publieke aanklaer.

„Skuldig,” klink die nouliks hoorbare antwoord.

„Jy pleit skuldig op die aanklag dat jy onwettig ’n ruwe diamant van ’n

kaffer gekoop het,” sê die regter, „en as delwer behoort jy tog te weet

dat dit as ’n baie ernstige oortreding in die oog van die wet beskou

word. Jy weet ook wat die straf is in so ’n geval. Sover ek weet was daar

g’n versagtende omstandighede wat jou tot so ’n misdaad gedrywe het,

gewees nie, en daarom vonnis ek jou tot......”

Onverwags klink daar ’n stem van uit die gehoor in die hofsaal. Verstoord

kyk die regter in daardie rigting, en aan die uitdrukking op sy gesig was

dit duidelik te sien dat hy daardie persoon sonder verder versuim gaan

laat uitgooi. Dog tot aller verbasing verander die kwaai uitdrukking op

die juts se gesig, en op byna vriendelike toon vra hy: „Weet u miskien

iets van die saak af en wil u getuienis aflê?”

„Ja, edelagbare,” sê Koos Blikkies, en sy stem klink helder deur die

hofsaal.

„Nou kom dan vorentoe en kom lê jou getuienis hier in die getuiehokkie

af,” herneem die regter.

Sonder om ’n oomblik te aarsel vleg Koos Blikkies sy weg deur die

gedrang na die getuieboks toe, en met ’n diep buiging aan die regter en

die jurielede begin hy sy verklaring, wat egter meer ’n pleidooi was as

iets anders:

„Edelagbare regter, en here lede van die jurie, ek weet ek praat namens

al die delwers van Kreepoort as ek u my hartlike dank toebring vir die

geleentheid om ’n woordjie ter verdediging van Jan Emmer te spreek.” Ek

het my verbaas oor die keurige taal waarvan Koos Blikkies hom bedien

en kon merk dat die regter en die jurie ewe verbaas was as ek. „U het

soewe van versagtende omstandighede gewag gemaak,” gaan Koos voort,

„en edelagbare regter en lede van die jurie, as daar ooit versagtende

omstandighede bestaan het, dan was dit in hierdie geval wat u nou

geroepe word om vonnis oor te vel. Hier het u voor u ’n man wat beter

dae geken het; ’n man uit ’n goeie huis, fyn opgevoed en getroud met ’n

dame ewe goedgekonnekteer as hy. Sonder sy eie toedoen bevind hy hom

met famielie en al op Kreepoort vandag; sy sogenaamde vriende, waarvan

party gegoede mense is, het hom tot die bedelstaf gedrywe. Maar ek wil

u kosbare tyd nie alte lank in beslag neem nie, en sal dus nie verder

oor die beskuldigde se verlede uitwei nie... Op die delwerye het dit met

die beskuldigde van sleg tot erger gegaan. Die eerste ses maande het hy

’n blink geloop, en tot oormaat van ramp word sy vrou en kind ernstig

siek. Die dokter besoek die delwerye, en op mooipraat van enige delwers

beskuldigde se tent.

„‚Jou vrou en kind moet see-toe,’ raai die dokter aan, ‚anders gee ek hul

nog uiters ses maande om te lewe.’ Edelagbare, stel u nou in die plek van

die beskuldigde! Ek weet u het ook ’n dierbare eggenoot en kinders,—wat

sou u gedoen het as u onder daardie omstandighede die kans aangebied is

om geld in hande te kry om die kosbare lewe van u dierbares te red?—As u

anders sou gehandel het as Jan Emmer, dan is u van beter stoffasie gemaak

as hy en ek en die gewone delwer.”

Hier breek Koos Blikkies se woordevloed vir ’n oomblik af, en die hoofde

van al die teenwoordiges gee ’n nouliks sigbare knik van instemming met

sy pleidooi.

„Ten volle bewus van Jan Emmer se ellendige toestand,” vervolg Koos

Blikkies, „stel Midas, wat u ’n speurder noem, maar vir wie ons ’n

minder vleiende naam het, sy trep vir hom.” Met moeite bedwing die

spreker hom, en met ’n stem wat van verontwaardiging tril, bars hy uit:

„Is dit nou reg en geregtigheid, edelagbare regter en here lede van

die jurie, om ’n man wat in Jan Emmer se gemoedstoestand verkeer, te

trep?—Dis die werk van die duiwel, edelagbare, dis uit die bose!”

Koos bly weer ’n rukkie stil. ’n Mens kon sien dat èn die juts èn die

jurie getroffe was. „Ons pleit vir die ligste straf wat u kan oplê,

edelagbare. As dit moontlik is, vra ons om die genade van die hof. Kan

dit egter nie, dan versoek ons nederig om ’n opgeskorte vonnis of ’n

geldelike boete, want dié sal ons betaal, en namens die delwersgemeenskap

beloof ek dat ons sal sorg dra dat die beskuldigde saam met sy vrou

en kind see-toe sal gestuur word. Ons onderwerp ons volgaarne aan u

uitspraak.”

Koos Blikkies gaan sit, en die atmosfeer is nou so gespanne dat ’n mens

amper bang voel om asem te haal.

Die jurie is sigbaar aangedaan, en hoewel die regter niks laat merk nie,

kon ’n mens tog aan sy stem hoor dat ook hy onder die betowering van

Koos Blikkies se welsprekendheid geraak het.

„Ek simpatiseer met jou, Jan Emmer,” sê die regter eindelik, „want die

bose self kon nie ’n beter tyd en geleentheid uitgesoek het om jou val te

bewerkstellig as wat Midas die speurder geprakseer het nie. Maar jy is

skuldig, en die wet moet gehoorsaam word. Ek maak jou straf egter so lig

as ek kan, en hiervoor moet jy die vriend wat so ’n kragtige pleidooi vir

jou gelewer het, danksê. Dis jou eerste misdaad, en die vonnis van die

hof lui: agtien maande tronkstraf, opgeskort vir agtien maande! Laat dit

vir jou ’n waarskuwing wees!”

Noudat die spanning van die laaste paar uur verby is, vergeet die delwers

glad waar hulle is. Dit klap in die hande en stamp met die voete dat hoor

en sien vergaan. Dit het moeite gekos om weer stilte in die hof te verkry.

Dit was die merkwaardigste hofsitting wat ek ooit in my lewe bygewoon

het.

Seal is gevonnis, en Midas se medepligtigheid het met die verhoor

uitgekom. Hy is saam gevonnis en later uit die diens ontslaan.

Jan Emmer se vrou en kind is fris en gesond, en hulle woon nie meer op

die delwerye nie. Hy is voorman op Koos Blikkies se plaas. Laasgenoemde

se geluk het spreekwoordelik geword op Kreepoort, en ’n jaar na die

hofsitting het hy genoeg geld gemaak om ’n mooi plaas te koop en kontant

af te betaal.

Ek hoop ek klap nie uit die skool as ek aan die nuuskierige leser vertel

dat Koos Blikkies in die jaar 18... een van die briljantste debatteerders

was wat ooit op die Kollegebanke in Kaapstad gesit het.

HIERDIE BOEK IS GEDRUK DEUR

MASKEW MILLER BEPERK,

IN HUL STANDERD-PERS, KAAPSTAD.

[Illustration]

Op die delwerye · 第 23 / 34 题