II.

Koos Blikkies was ’n interessante persoonlikheid. Nie juis rysig van

gestalte nie, was hy die besitter van ’n paar krom bene en besonder lang

arms. As ’n mens hom op ’n afstand sien aankom, dan dink jy onwillekeurig

aan Darwin se ewolusieteorie. Beskou jy hom egter van naderby en kyk jy

hom reg in die oë, dan vergeet jy heeltemal sy krom bene en sy abnormale

arms. So ’n ope en eerlike gesig sien jy nie aldag nie, en al is dit

miskien ’n bietjie vuil van die stof, dan nog trek dit dadelik die aandag

van elkeen wat hom vir die eerste keer ontmoet.

Die naam Blikkies, verstaan ek, het hy met die driejarige oorlog verwerf.

Hy was eintlik die groot man gewees om vyandelike forte op te blaas. En

vir hierdie doel het hy kondensmelkblikkies gebruik wat hy met dinamiet

gelaai het. Koos self het die bynaam as ’n eretietel beskou en was selfs

trots daarop.

„Ek hou baie van boerdery, maar die boerdery hou niks van my nie,” het

hy eendag geantwoord op my vraag wat of hom dan delwerye-toe gedrywe

het. Maar ek het later uitgevind dat Koos Blikkies se bure en sogenaamde

vriende so van sy goedhartigheid en vrygewigheid misbruik gemaak het dat

hulle hom totaal gerinneweer het. Met ’n wa, ’n span osse, ’n tent, ’n

vrou en ses kinders, ’n paar pikke en grawe en £100 kontant het hy uit

die boerdery gestap en op Kreepoort geland.

Die eerste jaar het die Geluksgodin haar gesigskant vir hom getoon en het

hy goed geld gemaak. Maar hier het dit ook maar nes voorheen op sy plaas

gegaan. Sy bure wat minder gelukkig was as hy, het so dikwels van hom

geleen en so selde weer die geleende terugbetaal, dat Koos Blikkies aan

die end van die jaar ryk aan vriende maar arm aan geld was.

„Ek kan tog nie die arme mense rondom my van ellende sien vergaan nie, en

hulle sal my weer op ’n ander keer help as ek in verleentheid is,” het hy

aan sy vrou gesê toe sy hom vir die duisendste keer gesmeek het om tog

minder rojaal geld en goed uit te leen.

Koos Blikkies is een van die weinige mense op aarde wie se vertroue in

sy medemens nie maklik kan geskok word nie. Self so eerlik, opreg,

eenvoudig en goedhartig, kon hy nooit iemand anders van verkeerde of

oneerlike motiewe verdink nie. Maar aan die ander kant het hy nie

geskroom om ’n man in sy gesig te sê wat hy van hom dink as hy hom op ’n

skelmstuk betrap het nie. En by so ’n geleentheid kon hy hom nogal van

besonder keurige taal bedien.

* * * * *

Speurder Midas was g’n vriend van die delwers nie, en hy het onomwonde

verklaar dat in sy opienie al die delwers ’n klomp skurke was. Die leser

sal derhalwe maklik kan begryp waarom hy en die delwers mekaar nie juis

uit liefde omhels het nie. Op die delwerye het die gerug weleens die

rondte gedoen dat Midas self nie bo verdenking was nie. En die een delwer

het in sy buurman se oor gefluister dat die oneerlike skurk minder kans

staan om getrep te word as die eerlike man. Ja, dat Midas self ’n aandeel

had in die I.D.B.

„Het oom Koos gehoor dat die arme Jan Emmer vanmôre vroeg getrep is?” sê

Gert Struis aan sy buurman.

„Jy wil tog nie vir my kom vertel dat daardie arme sukkelaar gevang is

nie? Ek sal nooit glo dat Jan Emmer skuldig is nie!” sê Koos Blikkies,

en sy oë blits van verontwaardiging.

„Ja, Oom, ek het so flussies gesien dat Midas hom dorp-toe vat. Hy loop

tussen twee kafferpolies, en een van hulle het my vertel dat Jan Emmer

vir I.D.B. gevang is,” gaan Gert voort.

„En wat moet nou van sy siek vrou en babetjie word?” vra Koos Blikkies

weer.

„Die Here alleen weet, Oom. Dis juis deur hulle wat hy getrep is.”

„Hoe kan dit deur hulle wees, man? Jy praat nou somar nonsens,” sê Koos,

en ’n mens kon sien dat hy hom vererg.

„Nee, tog nie, Oom. Gister was die dokter by Jan Emmer se tent en hy het

die vrou en die babetjie see-toe georder. As hulle nie gaan nie, het hy

gesê, dan sou hul nog uiters ’n ses maande kan lewe. Oom weet seker hoe

hardop die arme Jan is en hoe lank Midas al probeer om vir hom te trep.

Dis hierdie soort _game_ wat Midas speel wat my bloed laat kook. Hy wis

dat Jan byna enigiets sou waag om geld in die hande te kry, sodat hy sy

vrou en kind kan see-toe stuur volgens die dokter se orders, en nou maak

Midas van Jan se ellende gebruik om die arme sukkelaar te trep en...”

Hier raak Gert se verontwaardiging vir hom meester en kon hy nie

voortgaan nie.

„Skandelik!” roep Koos Blikkies, „skandelik! En dan is die vent nogal

kamtig iemand wat moet toesien dat die wet uitgevoer en die orde

gehandhaaf word. Maar kan ons dan niks doen om die arme Jan uit die tronk

te hou nie?”

„Ek vrees ons kan niks daaraan doen nie, Oom, want Jan is werklik getrep.

Verlede nag om drie-uur het ’n kaffertrep hom ’n tien-_carat_ aangebied

vir £10 en Jan het in die strik geloop. Die gedagte aan sy vrou en

babetjie se toestand het natuurlik die deurslag gegee. Maar is dit nou

regverdig om iemand in Jan se toestand so in die versoeking te bring? Is

dit nou reg om ’n man wat nog altyd eerlik en ordentlik was, in ’n skelm

te herskep? Waarom probeer hy nie liewer daardie Moor Seal vang nie? So

wragtag, Oom, as hul daardie duiwel van Kreepoort nie wegneem nie, dan

word hy nog _gelynch_!”

Hierdie laaste sin het Gert op so ’n toon geuit dat Koos Blikkies jou

werklik-waar moes skrik.

„As ek in Jan Emmer se plek was, dan sou ek dieselfde gedoen het,”

sê Koos Blikkies, „en die persoon wat vir so iemand ’n trep stel, is

absoluut uit die bose en verdien om gestraf te word honderd maal meer as

die arme slagoffer wat deur sy duiwelse lis gevang is.”

In ’n armoedige hut op Kreepoort lê ’n arme vrou en haar kindjie op hulle

uiterste; maar wat het die wet daarmee te maak? Jan Emmer is skuldig en

moet gestraf word!

Op die delwerye · 第 21 / 34 题