III.

Aan die gesigte van die skoolkommissie kon ek sien dat hul nou iets

wonderliks verwag. Wat vir toormiddels gaan die kêrel gebruik? „Seker so

’n dingetjie soos die dokters gebruik om te hoor of ’n mens hartkloppens

het,” fluister een.

„Nee wat,” waag ’n ander, „hulle sê hy kyk somar binne in ’n kind se kop

met daardie groot bril van hom.”

Soortgelyke en nog heelwat minder vleiende opmerkings van die kant van

die skoolkommissie-lede het ek opgevang.

Nou neem die toetsery ’n aanvang. Elke leerling kry ’n papiertjie waarop

tien vrae gedruk is, en hierdie tien vrae moes in seker bepaalde tyd

beantwoord word. Volgens die antwoorde word dan die kind se intelligensie

bepaal.

Hier volg enige van die toetse vir kinders van elf jaar:

(1) Jan val van sy fiets af en is bewusteloos. Hy stap na die dokter vir

hulp.

Wat is verkeerd met hierdie voorval?

(2) Eendag het die poliesie die lyk van ’n arme kind by die spruit gekry.

Die liggaam was in 18 stukke opgesny. Die hoofkonstabel reken dat die

kind selfmoord gepleeg het.

Is dit moontlik?

(3) Ek het drie broers: Jan, Piet en ek.

Sou jy dit netso gesê het?

(4) Gister het daar ’n treinongeluk gebeur en vyftig mense het

verongeluk. Die koerante sê dis gelukkig nie so danig ernstig nie.

Is die koerante reg?

(5) As iemand jou opienie vra oor ’n seun of dogter wat jy nie goed ken

nie, wat sou jy antwoord?

(6) Veronderstel dat jy iets moet onderneem wat baie belangrik is, wat

sou jy heel eerste doen?

(7) Waarom moet ’n mens iemand oordeel by wat hy doen en nie by wat hy sê

hy sal doen nie?

(8) In julle skool speel een-derde van die kinders voetbal en een-derde

speel krieket. Is daar nou kinders wat nòg die een nòg die ander speel?

Is daar kinders wat albei speel?

(9) Aalwyn en rubber groei in warm landstreke. Gras en heiblommetjies

groei in kouer landstreke. Heiblomme en rubber wil klam grond hê; gras en

aalwyn wil nie alte baie nattigheid hê nie. By die Amasonerivier is dit

baie warm en baie nat. Watter van die voormelde plante sou daar groei?

(10) C lê wes van B; B lê wes van A. Lê A nou noord, suid, oos of wes van

C?

Of die voorgaande toetse, wat, tussen hakies gesê, almal dié van Burt is,

afdoende is om die intellek van ’n kind van elf jaar te bepaal, laat ek

aan die gesonde verstand van die leser oor. Ek wil in die meriete van die

saak nie juis ingaan nie. Persoonlik egter is ek die mening toegedaan dat

sulke vrae op hulself nie baie opvoedkundige waarde besit nie, en glad

nie daarop berekend is om uit te vind wie die slimste kind in die klas

is nie, nog minder help om juis die _elfjarige_ leerling se verstand te

bepaal nie. Ek het dan ook al gesien dat ’n hele paar seuns van nege

jaar die elfjarige toetse baie beter gedoen het as dié wat vir kinders

van hulle eie leeftyd bedoel was.

Die uitdrukking op die voorsitter se gesig toe hy die verskillende

kaartjies in die hand neem en deurkyk, was die moeite werd om te sien. Ek

kon my moeilik bedwing. Maar toe hy hoor dat sy Jannie skaars drie uit

die tien toetse reg beantwoord het volgens dr. Fohl se vereistes, was die

gort gaar.

„Mag ek sien wat Jannie oor jou verspotte vrae te sê het?” vra hy

verstoord aan die geleerde dokter.

„Seker,” was die antwoord, „dan sal u miskien meteen ’n besef kry van u

eie kapasiteit.”

„Wat meen die vent?” vra die voorsitter, en ek kon sien dat sy oë blits.

Hier tree ek tussenbei.

„Wag laat ons sien hoe Jannie die vrae beantwoord het,” val ek hulle in

die rede. „Ek sal een vir een vraag en antwoord aflees, en dan kan die

dokter sê of hy dit goed- of afkeur.”

Met hierdie suggestie was almal tevrede, en toe begin ek af te lees:

_Vraag_: (1) Jan val van sy fiets af en is bewusteloos. Hy stap na die

dokter vir hulp. Wat is hiermee verkeerd?

_Antwoord van Jannie_: Die een wat dit vertel het, lieg dat hy so bars.

_Vraag_: (2) Eendag het die poliesie die lyk van ’n arme kind by die

spruit gekry. Die liggaam was in 18 stukke opgesny. Die hoofkonstabel

reken dat die kind selfmoord gepleeg het. Is dit moontlik?

_Antwoord van Jannie_: ’n Poliesman wat so onnosel is, behoort uit die

diens ontslaan te word. „Hoor! Hoor!” uit die mond van die kommissielede.

_Vraag_: (3) Ek het drie broers: Jan, Piet en ek. Sou jy dit netso gesê

het?

_Antwoord van Jannie_: Natuurlik nie. Wie tel homself dan as ’n broer?

_Vraag_: (4) Gister het daar ’n treinongeluk gebeur en vyftig mense het

verongeluk. Die koerante sê dis gelukkig nie so danig erg nie. Is die

koerante reg?

_Antwoord van Jannie_: Dit hang alles daarvan af wie in die trein was.

As dit kaffers of koelies of onderwysers was, dan is die koerante reg,

anders is hulle verkeerd.

_Vraag_: (5) As iemand jou opienie vra oor ’n seun of dogter wat jy nie

goed ken nie, wat sou jy antwoord?

_Antwoord van Jannie_: Ek is nie so slim soos dr. Fohl nie, wat ’n hele

boel kinders kom beoordeel wat hy vandag vir die eerste keer sien.

_Vraag_: (6) Veronderstel dat jy iets moet onderneem wat baie belangrik

is, wat sou jy heel eerste doen?

_Antwoord van Jannie_: Ek sou my pa eers raadpleeg. „Hoor! hoor!” van die

voorsitter, en in sy hele houding is vaderlike trots te lees.

_Vraag_: (7) Waarom moet ’n mens iemand oordeel by wat hy doen en nie by

wat hy sê hy sal doen nie?

_Antwoord van Jannie_: Omdat jy anders maklik gekul sal raak.

_Vraag_: (8) In julle skool speel een-derde van die kinders voetbal en

een-derde speel krieket. Is daar nou kinders wat nòg die een nòg die

ander speel? Is daar kinders wat albei speel?

_Antwoord van Jannie_: Ek weet nie. Ons speel net voetbal en albaster, en

die meisies spring toutjie of speel hasie.

_Vraag_: (9) Aalwyn en rubber groei in warm landstreke. Gras en

heiblommetjies groei in koue landstreke. Heiblomme en rubber wil klam

grond hê; gras en aalwyn wil nie alte baie nattigheid hê nie. By die

Amasonerivier is dit baie warm en baie nat. Watter van die voormelde

plante sou daar groei?

_Antwoord van Jannie_: Rubber, maar daar sal wel gras en onkruid ook

groei.

_Vraag_: (10) C lê wes van B; B lê wes van A. Lê A nou noord, suid, wes

of oos van C?

_Antwoord van Jannie_: Oos.

„Wat sê u, Dokter, het die seun net drie antwoorde reg?” vra Jannie se

trotse vader.

„Ja,” brom dr. Fohl, „en sy intellek is dié van ’n sesjarige seun. Hy

aard waarskynlik na sy vader.”

Hier moes ek opnuut die vrede herstel.

„Sal ons nie liewers nou maar ry nie, Dokter?” vra ek. „Dit word laat en

u kan vanaand die resultate op u gemak uitwerk, en dan môre vir my laat

weet hoe dit met die delwerskinders se verstandsvermoë gesteld is.”

„Dis nie eers nodig om dit uit te werk nie,” antwoord dr. Fohl. „Daar is

byna g’n enkel kind in hierdie skool wat normaal is nie. Feitlik almal is

onder normaal.”

„Maar as dit werklik die geval is, dan is u toetse onbevredigend. Ek laat

my nog nooit vertel dat onder honderd en tien kinders daar skaars ’n

dosyn volgens u berekening normaal is nie! U moet vir die delweryskole ’n

stel toetse optrek wat rekening hou met hierdie soort kind se omgewing,

ontwikkeling, ondervinding en huislike omstandighede. Die resultate bewys

dat u intelligensie-toetse nie doelmatig is nie!”

Dog die dokter wou my kant van die saak maar nie insien nie.

Ons was dan ook al so goed as in die moter, toe die voorsitter, wat vir

die laaste paar minute in druk gesprek was met ’n paar lede van die

skoolkommissie, vorentoe tree.

„Mag ek die dokter vra of _hy_ gewillig is om homself te onderwerp aan

seker toetse wat ons hom sal stel? Ons wil graag sien of sy groot

intellek meetbaar is. Dis nie aldag wat ons sulke geleerde manne in ons

midde kry nie.”

As ek in die dokter se plek was, dan sou ek hartlik vir die eksamentjie

bedank het, maar ek het verwag dat hy hom die toetse sou laat welgeval.

Was die kêrel ’n bietjie minder verwaand gewees en het hy die delwer

beter geken, dan sou hy die versoek geweier het, maar nou loop hy in die

val netsoos beer by jakkals.

„Seker, alte seker, oubaas,” sê hy, „maar maak net gou, want ons is

haastig.”

„Ek sal nie lank draai nie, Dokter. En as jy die volgende vrae tot ons

bevrediging beantwoord, dan is jy werklik so slim soos jy dink dat jy is.”

_Vraag_ (1): Hoe moet _gravel_ lyk om ’n goeie was te gee?

_Vraag_ (2): Hoe sal jy uitvind of jou masien _diamonds_ weggooi?

_Vraag_ (3): Hoe moet die _porrel_ lyk?

_Vraag_ (4): Wat is meer werd: ’n bruin _diamond_ of ’n swarte?

_Vraag_ (5): Hulle beweer dat die _diamonds_ hier spoeldiamonds is. As

dit so is, hoe kom hulle hier tussen die _gravel_ op die bult?

Op versoek van die voorsitter het ek die vrae afgeskrywe en die papier

toe aan dr. Fohl oorhandig.

„Kyk,” gaan die voorsitter verder, „jy kry twee minute om ’n vraag te

beantwoord.”

„Maar is jy ernstig?” vra dr. Fohl half-verleë:

„Dood-ernstig,” herneem die voorsitter.

„Maar wat weet ek van _gravel_ en _porrel_ en wat dies meer sy af; ek is

mos nie ’n delwer nie,” vervolg dr. Fohl.

„Nou ja, maar sê dan reguit of jy die vrae kan beantwoord of nie!” gaan

die voorsitter voort.

„Ek kan nie,” beken dr. Fohl.

„Maar Jannie van my kan wel,” sê die voorsitter. „Volgens jou uitspraak

is sy intellek dié van ’n kind van ses. Nou ja, dr. Fohl, volgens my

oordeel en dié van my kommissie is jou verstand dié van ’n kind onder

ses, en ek sou aan die hand gee dat jy eers ’n tydjie op die delwerye

kom deurbring voordat jy dit waag om weer toetse vir ons kinders te kom

stel.”

Na hierdie woorde draai hy sy rug op die dokter, gee my sy hand en

vertrek met die lede van sy skoolkommissie.

Op pad huis-toe wou ek weet of ons die ander-dag met die

intelligensie-toetse sou voortgaan, maar dr. Fohl het my ’n antwoord

skuldig gebly.

Dieselfde aand is hy met die tienuur-trein weg R.-toe.

„GETREP.”

Daar gaan baie oneerlikheid aan op die delwerye, en etlike delwers

vergaan van ellende omdat die diamante wat op hulle kleims gekry word,

in die besit kom van gewetelose persone wat maar alte gereed is om op

onwettige wyse hierdie kosbare steentjies van kaffers te koop. En dis nie

so danig maklik om die kaffer of die onwettige koper te vang nie. Hulle

is uiters geslepe en slimmer as die houtjie aan die galg.

Om ’n halfdosyn of meer kaffers wat onder in ’n kleim werk, dop te

hou om te voorkom dat hulle stilletjies ’n diamant oppik, is nie

kinderspeletjies nie. Persoonlik wou ek nooit glo dat ’n kaffer my so

onder my oë sou fop nie, en het dan ook hierdie mening aan meer as een

delwer vry uitgespreek.

„Nou goed,” sê ’n ou delwer eendag aan my, „kom saam na my kleim toe, en

dan sal u self kan oordeel of ons delwers die kaffer se gladheid om ’n

diamant te steel oordrywe het.”

Ek het sy aanbod gewillig aanvaar, en net vir gou staan ons by sy kleim

waarin sowat sewe kaffers besig was om gruis los te kap.

„Swartbooi,” sê my vriend (wat onder die delwers bekend gestaan het as

Koos Blikkies) aan sy mandoor onder die skepsels, „hierdie baas wil nie

vir my glo as ek hom vertel dat julle kaffers ’n diamant onder sy neus

sal wegsteel sonder dat hy dit sal bemerk nie. Nou wil ek net vir hom wys

hoe maklik julle dit kan doen.”

„Goed, my baas,” antwoord Swartbooi. „Gooi maar daardie ses-carat wat ons

gister gekry het, hier in die kleim voor my neer. Laat hierdie baas dan

al die tyd vir my in die gate hou, en as die steentjie wegraak, dan moet

die baas hom maar betaal. Hy is mos so seker van sy saak.”

„Ek is heeltemal tevrede,” sê ek, „maar as ek vir Swartbooi betrap dat hy

die diamant vat, dan kry hy ses houe met hierdie handsambok.”

Swartbooi gee so ’n lang pruimspuug, en terwyl al sy van die twak

geelgekleurde tande wys, sê hy laggend: „Allright!”

My selfvertroue het my nou ’n bietjie begewe, want ’n kaffer beklink nie

somar gou so ’n kontrak nie, of hy moet absoluut seker wees van sy saak.

Maar die feit dat ek net die één skepsel, wat g’n drie tree van my af

gruis kap nie, moes dophou, het my soveel vertroue in myself gegee dat ek

my pyp stop en op my gemak gaan sit en rook het op die kant van die kleim.

„Nou toe,” voeg ek Koos Blikkies toe, „plaas nou maar die diamant net

waar jy wil, solank as ek net die steentjie kan sien, en as Swartbooi hom

wegvat sonder dat ek hom betrap, dan eet ek nog my hoed op die koop toe

ook op.”

Koos Blikkies het die diamant onder in die kleim neergesit, omtrent twee

tree van my en sowat ’n tree van Swartbooi af, en toe vir my gewaarsku

om baie oplettend te wees. Hy sou my ’n halfuur tyd gee; as die diamant

dan nog daar was, of as ek die kaffer gevang het, dan het ek gewen. Met

’n laaste vermaning aan my om die skepsel dubbel goed dop te hou, het hy

vertrek.

Binne ’n kwartier het die diamant spoorloos verdwyn. Ek kon sweer dat ek

vir g’n enkel oomblik my oë van die klippie af weggeneem het nie, en tog

... dit was weg! Onder die stof kon dit nie wees nie, want dit het onder

op die harde bodem gelê en die volk het aan die ander kant van die kleim

gewerk, en dan? ek het die ding nog so flussies daar gesien.

Ek vrywe my oë en kyk weer.

„Waar is die diamant, Swartbooi?” vra ek.

„Ek weet nie; die baas hy het hom mos opgepas,” antwoord die skepsel, en

om sy mond sweef daar ’n trek van diepe minagting vir my oplettendheid.

„Maar wat het dan van die ding geword?” vra ek weer, en in my verbeelding

sien ek reeds hoe ek £150 vir Koos Blikkies moet betaal, en geld was in

daardie dae nie juis alte volop by my nie.

„Hoekom die baas hy vra vir Swartbooi? Die baas hy het hom mos opgepas.

En al is hy weg, die baas hy het mos baja sjeld, hy kan mos maklik

betaal,” sê die skepsel met so ’n sataniese glimlaggie van hartlike

voldoening, dat ek somar lus voel om ’n handvol gruis by sy keelgat af te

druk.

Ek het gelukkig my £150 behou, want Swartbooi was eerlik genoeg om die

diamant aan sy baas terug te besorg, maar hierdie voorvalletjie het vir

my geleer hoe onmoontlik dit vir die delwer is om sy werksvolk op te pas,

en dat hy feitlik aan hulle genade oorgegee is. Het hy eerlike kaffers,

dan is dit ook nie nodig om hul op te pas nie, maar het hy oneerlike

volk, nou ja, dan moet hy maar self ’n plan uitdink. Ek het nie raad vir

hom nie.

Hoe Swartbooi daardie kosbare steentjie so vlak voor my oë kon

verduistermaan, weet ek tot vandag toe nog nie, maar die feit bly daar

dat hy dit wel gedoen het.

Nou, leser, sal jy miskien beter verstaan waarom die owerheid die

trepstelsel op die delwerye ingevoer het. Was dit nie in swang nie, dan

sou die onwettige diamanthandel welig op die _diekens_ gefloreer het, en

sou die eerlike delwer maar baie min vrug op sy arbeid gesien het. Selfs

onder bestaande omstandighede gaan dit maar moeilik en vind daar nog baie

oneerlikheid plaas.

Maar ongelukkig is hierdie trepstelsel ’n uiters gevaarlike wapen in die

hande van die minder eerlike speurder, en kan dit alte maklik gebeur dat

die onskuldige persoon in die val gelei en gevang word.

Op die delwerye · 第 20 / 34 题