II.

„Hoogsbenoke,

14 Junie 1925.

Mnr.............,

Skoolinspekteur,

Smartendal.

Die outoriteite het my verlof gegee om die intelligensie van

sekere delwerskinders in u kring te kom meet, en my gevra om

sake verder met u te reël. Sal u tog so goed wees om my per

ommegaande te laat weet watter dae vir u gerieflik sal wees, en

of u my sal vergesel?

(Get.) D. E. M. Fohl, Ph. D.,

ens., ens., ens.”

Die voorgaande brief het ek beleef beantwoord en die geleerde heer laat

weet dat hy baie welkom sou wees op Smartendal op die 28ste Junie en

volgende dae. Ek sou met hom saamgaan om meteen ook te kan profiteer van

sy ondervinding en kennis op die gebied van die intelleksbepaling.

Die 28ste Junie het eindelik aangebreek, en om neënuur stap dr. Fohl

by my kantoordeur in. ’n Mens moes hom van naby sien om sy persoon

behoorlik te kan appresieer! Sy hele voorkome het jou onwillekeurig aan

’n ontvlugte kranksinnige herinner. Sy oë staan verwild in sy kop; sy

hare—en die vent het ’n vreeslike bossiekop gehad, netsoos die meeste mal

mense het—is ongekam. Daarby dra hy ’n groot skilpadbril, wat nie juis sy

uiterlik verbeter het nie. Hy stap so vinnig op my af dat ek begin bang

word het dat hy dwars oor my sou struikel.

„Môre!” sê hy, „is _jy_ die skoolinspekteur?” met die nadruk op die _jy_.

„Goeiemôre,” antwoord ek, „en wie is _u_?” met die nadruk op die _u_.

„Wat!” roep hy, „meen jy te sê jy ken nie vir my nie?”

„Nee,” antwoord ek ewe bedees, want miskien had ek te doen met ’n seur of

’n graaf of so iets, „ek ken u nie.”

„Ek is dr. Fohl. Het jy nog nooit van my gehoor nie?”

„Dit spyt my om u teleur te stel; glad nie. Ek het nog net eenmaal van u

gehoor en dit was toe ek u brief ontvang het.”

„Dis snaaks, want op die Rand is ek welbekend; ek wou amper sê beroemd.

My portret was in byna al die dagblaaie.”

„Bedoel u onder die advertensies van De Wit se pille of Moeder Seigel’s

stroop?” vra ek ewe onskuldig.

Dit was die moeite werd om die kêrel se gesig te sien. Ek dag hy sou ’n

oorval kry.

„Probeer jy om snaaks te wees, of is dit maar net wat ’n mens te wagte

moet wees van julle buite-inspekteurs?” voeg hy my bits toe.

Sonder om op sy woorde ag te slaan, vat ek my hoed en my jas, stap na die

moter toe, maak die deurtjie oop vir hom en klim self in.

„Ons sal maar met die grootste skool begin,” sê ek, „en dan sal u self

kan oordeel of dit die moeite werd sal wees om met die toetse voort te

gaan.”

Ons het ’n rit van ’n goeie twintig myl voor gehad, en ’n hele ruk het hy

stil gesit sonder om sy mond oop te maak, en ek het hom nie gestoor nie.

Maar eindelik het die stilswye hom begin te verveel.

„Hou jy nog jou inspeksie op die ouderwetse manier?” vra hy.

„Ek weet nie reg wat u bedoel nie,” sê ek.

„Stel jy jou vrae om die kinders se kennis te toets, of probeer jy om

daardeur hulle intelligensie te bepaal?” gaan hy voort.

„Albei,” was my antwoord, „want dis nog al taamlik moeilik om altyd juis

die lyn te trek tussen kennis en intelligensie.”

„_Nonsens_,” sê hy met soveel nadruk dat ek byna in ’n sloot ry met die

moter. „_Nonsens!_ Dis gemaklik, en as jy dit nog nie kan doen nie, dan

behoort jy nie inspekteur van onderwys te wees nie.”

Ek was egter nie uit die veld geslaan nie.

„Neem nou die geval van my eie seuntjie van vyf jaar,” gaan ek voort, „as

jy vir hom moes vra hoekom ’n voëltjie, hoewel hy swaarder weeg as lug,

nie grond-toe val as hy vlie nie, dan sal hy jou dadelik die antwoord kan

gee. Hoekom? Omdat sy boetie wat veertien jaar oud is, baie belangstel

in vliegtuie en hy van hom geleer het wat dinamiese krag beteken. Die

toepassing op die vlie van die voëltjie doen hy self. Sou jy in hierdie

geval die vraag beskou as ’n toets vir sy intelligensie, of van sy

kennis? Jy sal my seker wil gewonne gee as ek sê dat dit moeilik is om

hier ’n definitiewe lyn te trek tussen sy intelligensie en sy kennis.

Verder is dit duidelik dat die meeste kinders van sy leeftyd die vraag

nie sou kan beantwoord nie, tensy hulle ook boeties het om hulle op dié

punt in te lig.”

Maar dr. Fohl het my met minagtende stilswye bejeën en iets binnensmonds

gemompel wat baie soos sy naam met die voorletters geklink het.

Die twintig myl was tog eindelik op ’n end, en ons hou voor die skool

stil. Nog nooit het my die pad so lank gelyk nie.

Die nuus van die hooggeleerde dokter wat ’n kind se verstand kan meet,

het ons vooruit-gesnel; en toe ons by die skool stilhou, was daar ’n

hele klomp delwers met vrouens en kinders, en die skoolkommissie was ook

voltallig. Almal het gekom om die wonderdokter te sien.

By die afklim storm almal op ons toe.

„Sal die dokter tog nie vir my vrou iets gee nie; sy ly so aan die

asma?” vra een hier agter my, en dit het my ’n geruime tyd geneem om die

goeie mense dit aan die verstand te bring dat ons geleerde vriend nie ’n

medisynmeester is nie, maar wel ’n verstandsmeter.

„’n Landmeter ken ons,” sê een van die ouers, „maar ’n verstandsmeter het

ons nog nooit van gehoor nie. En hoe gaan hy miskien ’n kind se verstand

meet? Dis mos ’n ongehoorde iets.”

„Kyk, Oom,” sê ek aan die voorsitter van die skoolkommissie, „dit sal

beste wees dat die skoolkommissie die toetse bywoon, dan kan die lede

vir hulleself oordeel. Maar versoek tog asseblief die ander vriende om

te vertrek. Hulle sal môre kan verneem hoe dit met die geestes-gawes van

hulle kinders gesteld is.”

Hierdie suggestie het byval gevind en die ouers het vertrek.

Op die delwerye · 第 19 / 34 题