I.

Die Afrikaners aap baie graag na. En meesal vergeet hulle om eers te gaan

sit en die koste te bereken. ’n Paar studente gaan Duitsland-toe, kom as

hooggeleerde doktore terug, vertel ons dat ons hele opvoedkundige stelsel

verkeerd is, en ons sê onmiddellik ja en amen daarop. „In Duitsland

maak hulle so en so en so, en ons behoort dit hier ook te doen!” roep

een van die intellektuele reuse, en dadelik word deur die lengte en die

breedte van die land deur middel van die pers uitgebasuin dat al ons

skole volgens Duitse model moet ingerig word. Wie nie saamstem nie,

word vir bekrompe en ongeleerd uitgeskel. So was dit vanselewe toe ons

’n Skotse onderwysstelsel ingevoer het, en so gaan dit vandag nog. In

plaas dat ons gaan sit en ’n suiwer Suid-Afrikaanse stelsel ontwerp

wat rekening hou met Suid-Afrikaanse toestande, neul ons aljimmers met

ingevoerde artiekels. In stede van Suid-Afrikaanse skoene te dra, dwing

ons ons voete om te groei volgens die formaat van ingevoerde stewels. As

ons streng eerlik met onsself wil wees, dan sal ons moet erken dat ons

patriotisme waarop ons kamtig so trots is, dikwels selfbedrog is. Ons

strewe na die vreemde en uitheemse en jaag dit na asof ons hele saligheid

daarvan afhang.

En so het ons eindelik tot die ontdekking gekom dat ’n mens die kind se

intellek kan meet! Dis nie juis ’n nuwe teorie nie, want iets wat bestaan

kan ’n mens meet, hoewel so ’n metery dikwels tot absurde gevolgtrekkings

lei. Die kopbeen van ’n idiotiese ou Boesman word in Taungs per ongeluk

opgegrawe, en nadat sorgvuldige afmetings van die lengte, hoogte en

breedte gemaak is, beweer die een groot geleerde na die ander dat

eindelik die skedel van ons ou stamvaderlike aap ontdek is! O tempora! O

mores!

So wou ek maar net gesê het dat dit miskien wel moontlik sal blyk om die

menslike verstand te meet, maar dan moet rekening gehou word met baie

meer omstandighede as wat nou gebeur. Dis mos tog dwaasheid om te reken

dat ’n stel intelligensie-toetse wat opgetrek is vir ’n Johannesburgse

seun, toepaslik sal wees om die verstand te meet van ’n seun wat sy hele

lewe op die delwerye geslyt het. Onmoontlik sal dit seker nie blyk om

intelligensie-toetse vir die delwerskind op te stel nie, maar dan moet in

gedagte gehou word al die omstandighede wat op sy ontwikkeling ingewerk

het: sy huislike lewe, sy vermake, sy skool.

Maar nou kom een en ander van die jonger deskundiges vars uit een van

Amerika se uniwersiteite met ’n volledige stel intelligensie-toetse

volgens Terman, en kom pas dit somar onvervals toe op Suid-Afrikaanse

kinders, om uit te vind of die bloedjies hoër of laer staan as hulle

Amerikaanse nefies en niggies! ’n Ander bring weer die Binet-toetse

in sy hand-sakkie saam en verklaar met fronsende voorhoof en treurige

hoofskudding dat ons seuns en dogters agter is vir hulle Europese boeties

en sussies. ’n Derde gee Cyril Burt se intelligensie-toetse netso

onvervals en maak dan sy gevolgtrekkings!

As dit nie was dat die leser my miskien met Ananias sou klassifiseer nie,

dan het ek hier opgeteken ’n stel intelligensie-toetse wat aan sekere

skole in Transvaal gestuur is, met die versoek aan die onderwyser om

dit in sy klas af te neem. Die resultate moes opgestuur word om te sien

hoeveel normale kinders ons in hierdie deel van die provinsie besit.

Ek verstaan dat die uitslae uiters teleurstellend was. En g’n wonder

nie, want die meeste vrae was absurditeite. Een toets moet tog aan die

vergetelheid ontruk word, en dis die volgende: „Wat sou jy doen as jy nog

’n hele ent van die skool af is en die klok hoor lui?”

Nou glo ek dat dat die kind moes antwoord dat hy sou hardloop dat die

stof so staan om darem nog te trag om betyds te kom, maar die delwerseun

dink glad anders oor die saak, en hier volg enige van die antwoorde:

(1) Ek sou ’n paar skrifte agter by my broek insteek.

(2) Ek sou omdraai en my pa gaan help.

(3) Ek sou sê my ma het my uitgestuur en dat ek moes wag.

(4) Ek sou sweer dat ek ons donkies moes gaan keer.

(5) Ons skool het nie ’n klok nie; Meester blaas op ’n fluitjie.

(6) Ons sou nie die klok hoor nie; ons donkiekar raas te baie.

Geeneen van die voorgaande antwoorde het enige punte behaal nie!

Die opsteller was verbaas oor die onbegaafdheid van Kreepoort se

delwerskinders!

* * * * *

Op die delwerye · 第 18 / 34 题