„Ja, neef; drie jaar se droogte, drie jaar se sprinkane, drie jaar se
misoeste en daardie borgstaan vir Freek Willemse het vir my gerinneweer.”
Oom Piet Legransie was eers ’n welgestelde boer gewees en seker een van
die mees gasvrye in Westelike Transvaal. Meer as een genoeglike aand het
ek by oom Piet deurgebring as ek moeg was van ’n hele dag se inspeksie
en die lus my ontbreek het om nog dieselfde dag verder te ry. Ek wis dat
ek altyd welkom was op Welgevonde. Hierdie goeie oom en sy vrou het die
slag verstaan om iemand by hulle tuis te laat voel. Daar was niks van die
onnodige rondvallery en ekskuusmakery wat ’n mens net laat voel dat jy
tot oorlas is nie. Jy was vry om te doen wat jy wil, en die oubaas het
die kuns meesterlik verstaan om die onderwerp van die gesprek so te kies
dat almal kon saampraat en sy gas nie nodig het om alleen die diskussie
aan die gang te hou nie.
Verlede jaar het ek nog op Welgevonde vernag, en nou, elf maande
later, ontmoet ek vir oom Piet toevallig op Kreepoort, een van die
jongs-geproklameerde delwerye.
„Maar hoekom het Oom dan nie vir my van Oom se moeilikhede vertel toe ek
laas by Oom was nie? Ons is mos tog ou vriende, en moontlik kon ons saam
’n plan gemaak het. Of miskien kon ek vir Oom met geld gehelp het!”
„My goeie neef, wat sou dit gebaat het? En waarom sou ek jou ook in die
ongeluk saamgesleep het? Nee, neef, Piet Legransie het darem nog ’n
bietjie selfrespek oorgehou.”
Om die gesprek ’n ander wending te gee vra ek nou: „En betaal die
delwery-besigheid nogal?”
„Betaal? vra jy, neef. My liewe vriend, jy is tog al lank genoeg in
Smartendal om te weet hoe dit met die meeste delwers gesteld is. Kyk,
neef, ek sou nooit my toevlug hiernatoe geneem het nie, as ek kans gesien
het om op ’n ander manier my kos te verdien nie; maar ek is nie meer jonk
nie en het nie kans gesien om êrens anders ’n heenkome te soek nie. Dit
gaan _hel_ hier, neef; _hel_, sê ek.”
Dit was snaaks om hierdie woord uit oom Piet se mond te verneem.
Gewoonlik was hy besonder kies wat sy taal betref, en onder normale
omstandighede buitengewoon gesteld op sy uiterlik. Maar nou lyk die
oubaas net soos die meeste delwers: bruin van die stof, bruin gebrand en
ongewas, en hy het nie juis geskroom om te swets nie.
„Maar Oom, as dit _hel_ gaan, waarom bly Oom dan op die delwerye?”
„En waar moet ek anders heen? Na die dorp, om daar rond te slenter en
heeldag by die pastorie om aalmoes aan te klop? Of na die Dam om daar
onder ’n voorman te werk? Ek, wat nog altyd my eie baas was, sal onder ’n
ander gaan buk! So nooit as te nimmer nie! Nee, neef, wragtag nooit nie!
Ek vergaan soms byna van die honger, maar hier is ek tog my eie baas. My
kleim is wel klein, maar hier is _ek_ baas!” herhaal die ou.
„En hoelank is Oom al hier op Kreepoort?”
„Môre ag maande.”
„Al iets gekry?”
„Net eenmaal ’n _twee-carat_, waarvoor ek £20 gekry het, en laas week ’n
_carat_ wat _gespot_ was en net £3 _gefetch_ het,” antwoord oom Piet in
die taal wat alle delwers eie is.
„En hoe lewe Oom dan?”
„Ek lewe nie, man! Ek bars; ja, op my oudag _bars_ ek! Vir die laaste
drie maande eet ek aldag mieliepap, en dit sonder melk of suiker, en ons
koffie is al meer as ses weke gelede gedaan. Ek het al vergeet hoedat
vleis en brood smaak. Neef,—en hier laat oom Piet sy stem sak,—neef, as
dit nie vir my vrou was nie, dan bring ek myself om die lewe!”
„Maar Oom, is tant Lenie dan ook hier? Ek sou haar baie graag wil besoek
en ’n handdruk gee.”
„Nou stap dan saam.”
Ons vleg ons pad deur uitgewerkte kleims en oor hope dooie grond en
gruis, tussen pondokkies van sink en streepsakke deur, tot oom Piet
eindelik voor ’n krot stilstaan wat nog omtrent die armoedigste is wat ek
ooit gesien het.
„Kruip maar in, neef,” sê hy.
Binne voor ’n tafeltjie sit tant Lenie. Ek sou haar nooit herken het nie.
Uitgeteer en spierwit, ’n toonbeeld van ly en swaarkry.
„Dag, tant Lenie, en hoe....” maar verder kon ek dit nie bring nie; daar
was ’n knop in my keel wat ek nie kon afsluk nie. En toe tant Lenie haar
oë op my rig, moes ek al my wilskrag in beoefening bring om nie soos ’n
kind my te gedra nie. O! die weemoed en die wêreld van geduldig ly en
hartseer wat uit daardie oë spreek!
„Dag, neef. Ek is spyt dat ek jou nie kan welkom heet soos in die goeie
dae van Welgevonde nie; maar soos jy sien, het ons dit nie alte breed
nie,” met ’n gedwonge glimlag. „Ek word die lewe hier nogal op ’n manier
gewoon, maar my ou man kan hom maar nie na hierdie omstandighede skik
nie.”
Geen sug van ontevredenheid nie; geen sweem van murmurering nie; geen
woord van verwyt aan haar man nie, wat teen haar raad en sin vir Freek
Willemse destyds gaan borg teken het. Dis alte waar, die adel van die
siel blink des te skoner uit onder teenspoed. En tant Lenie was van kinds
af aan die beste gewoon gewees.
Ek het nie alte lank vertoef nie; my gemoed was te vol; ek kon nie vandag
met die oumense gesels nie. Al die tyd wat ek daar was, het net die een
gedagte my besig gehou: wat kan ek doen om die goeie mense uit hulle
ellende te help?
„Nou ja, dag tant Lenie. Ek hoop die Here sal uitkoms gee! Dag, oom Piet!”
Tant Lenie stamel ’n dankie uit, maar oom Piet sê: „Wag, neef, ek stap
saam tot by jou moter.”
Onder die loop bars hy uit: „Kyk, ons moet mekaar goed verstaan. Jy het
ons nou in hierdie toestand aangetref, maar onthou dat nòg tant Lenie nòg
ek van enige persoon ter wêreld aalmoes sal ontvang, en van liefdadigheid
wil ons nie lewe nie, gehoor! En wat jy daar sê van die Here, neef, en
uitkoms, is pure bog. Ek glo nie die Godheid bekommer Hom in die minste
oor ons nie!”
„Maar Oom wil tog nie sê dat al die jare van huisgodsdiens en gebed
en kerkdiens alles skyn was nie? Oom was dan tot twee jaar gelede nog
ouderling van Smartendal se kerk!”
„Dis waar, neef, dis waar, maar toe het ek nie deurgemaak en geweet
wat ek nou weet nie. Toe het alles voorspoedig gegaan en het die hele
affêre ’n sweem van waarheid en wesenlikheid gedra, om nie eers van
fatsoenlikheid te praat nie. Ons hele godsdiensgedoente pas pragtig
vir ryk en fatsoenlike mense, maar in die kerk is daar nie plek vir my
en my gelykes nie. Sit daar een werklike arm man in die ouderlings- of
diakensbanke? Ek glo nie dat God so ’n danige liefdevolle Wese is nie,
dè!” ... En nou raak oom Piet sulke profane dinge kwyt dat ek dit liewer
nie sal te boek stel nie.
„Maar, Oom, kyk hoe dit met Job gegaan het! Hoe die Here hom uitgehelp
en...”
„Nonsens, neef,” val die ouman my vererg in die rede, „alles _blooming_
nonsens. Wat het ek vir die Here gemaak dat Hy my nou op my oudag hier op
die delwerye moet laat vergaan van ellende en armoede? As Hy dan tog vir
my wil vernietig, waarom slaan Hy my dan nie somar op die plek dood nie?
Liefdevol? Ek sal wragtie my hond nie so laat ly nie. En dan kom jy ook
nog met jou vroom praatjies aangeloop! Ek herhaal, neef, dus alles pure
bog en nonsens. As daar ’n Here is, dan gee Hy nie ’n _dem_ vir ons om
nie en kan dit hom weinig skeel wat van ons word.”
„Maar Oom, is dit nie ’n bietjie onbillik om die hele godsdienskwessie
as nonsens te bestempel eenvoudig omdat die teenspoed en onheile Oom
so getref het nie? Oom was mos altyd baie regverdig in Oom se oordeel,
en....”
„Regverdig! billik!” val hy my in die rede. „Asof daar so iets bestaan.
Kyk vir Freek Willemse, wat my so in die verderf gestort het, hoe goed
doen hy vandag. Ek weet nie wanneer hy laas ’n _blink_ geloop het nie.
Almal weet hy is ’n skelm van die eerste water; dat hy diamante van die
kaffers koop, en tog word hy nooit _getrep_ nie. En dan daardie Sieriër
Gias! Hy lieg en bedrieg en verkoop ontwettig drank aan die kaffers en
hy ry in ’n duiwelse mooi moter rond. En daar is Jim ... maar wat sal ek
hulle nou algar opnoem; daar is nog dosyne van hierdie kalieber. Hoekom
straf die regverdige God nie vir hulle nie? Waarom moet Hy nou juis vir
my uitsoek?....”
Hier breek die oubaas se woordevloed so effentjies af. „Ja, dat Hy vir my
opdreun, kan ek nog verstaan, maar watter kwaad het my vrou ooit vir Hom
gedoen dat _sy_ so swaar moet kry?” Hier breek oom Piet se stem en swyg
hy skielik.
„Dag, oom Piet,” en ek vat my ou vriend se hand. „Ek veroordeel Oom nie;
ek kan my ook beswaarlik in Oom se toestand indink. Maar ter wille van
tant Lenie sal ek darem, as ek in Oom se plek was, my oordeel oor die
Voorsienigheid ’n bietjie matig. Miskien sal Oom nog later ondervind:
„Want die Hy liefhet, kasty Hy.”
Eers was dit my plan om somar reguit dorp-toe te ry, maar opeens skiet
die gedagte my te binne dat dit nie kwaad kan doen as ek Freek Willemse
’n besoekie gaan bring nie.
Hierdie tiepe van man is glad nie onbekend op die delwerye nie. Gewoonlik
tref ’n mens hom aan in rybroek en kamaste, en op sy aangesig is al die
laer hartstogte te lees, terwyl sy oë beslis weier om dié van ’n ander te
ontmoet.
Freek Willemse staan voor sy biljartkamer toe ek daar stilhou. Hy was nie
slegs delwer nie, maar het ook ’n kafè en ’n biljartkamer daarop nagehou.
„Mag ek jou ’n oomblikkie alleen spreek?” vra ek beleefd.
„En wat wil jy van my hê?” was die antwoord op ’n taamlike onbeskofte
manier.
„As jy my die kans wil gee om alleen met jou te praat, dan sal ek jou
nuuskierigheid gou genoeg bevredig,” sê ek weer. „Kom sit hier op die kar
langs my, dan kan ons ongestoord gesels.”
Die vent se hele houding was dié van ’n roofdier. Hy loop nie, hy sluip;
hy kyk nie voor hom nie, hy loer rond; hy praat nie, hy blaf of hy knor.
Eindelik kom hy nader en klim op die moter, maar kom nie voor by my
sit nie. Hy plak hom agter in die kar neer en so naby die deurtjie as
moontlik, terwyl sy een been by die oop deurtjie uithang.
„Toe, roer nou jou bek en wees baie haastig, want my masien loop en ek
wil gaan kyk of die kaffers nie verneuk nie!”
„Nou ja, Willemse, ek het vir jou kom besoek om te hoor wat jou plan is
met daardie £1500 wat jy vir oom Piet Legransie skuld. Dit lyk aan alles
of jy baie geld maak, en die oubaas en sy vrou vergaan van ellende. Jy
sal seker graag nou vir hom iets wil doen, aangesien dit aan jou te wyte
is dat hy vandag uit sy grond geraak en alles verloor het.”
„En wat die hel gaan dit jou aan? As _dit_ die oorsaak van jou besoek is,
dan hoe gouer jy trap hoe heilsamer dit vir jou bas sal wees!” En hy maak
aanstalte om af te klim.
„Wag ’n bietjie, ou vriend,” sê ek sonder om my aan sy taal te steur,
„wag ’n bietjie. Moenie alte haastig wees nie, anders kan jy maklik _jou_
bas in gevaar bring!” En hier wend ek ’n bietjie bluf aan. „Of jy sal jou
skuld by oom Piet vereffen, òf ek gaan nou aan die speurders vertel wat
ek weet!”
Ek wis eintlik niks definitiefs nie, maar kon sien die skoot was raak.
Die gewone man sou waarskynlik niks gemerk het nie, maar ek het die
krampagtige inkrimp van sy ooglede raakgesien. Sy ogies word nou al nouer.
„En wat weet jy dan so danig?” vra hy terwyl al sy botande wys.
Hy praat nou al in ’n heel ander toon as van te vore.
„Dis my saak, Willemse, maar dis die vraag of oom Piet sal tevrede wees
om _sy_ mond te hou. Hy weet nog heelwat meer as wat ek gehoor het.”
Die vent se hele houding het nou ’n verbasende metamorfose ondergaan. Hy
was nou nie langer die blufferige, onbeskofte meneer van flussies nie; hy
was nou die onderdanigheid self.
„Nou ja, hoe sal dit wees as ek vir oom Piet £10 in die maand afbetaal?”
vra hy.
„Kyk, dis vir oom Piet om te besluit. Ek gee aan die hand dat jy die
oubaas vanmiddag nog gaan besoek om met homself reëlinge te tref. Maar
maak gou; môre kan dit miskien te laat wees.” En met hierdie woorde druk
ek die selfaansitter van my kar as teken vir Willemse dat die onderhoud
afgeloop was.