’n Epidemie van Maagkoors en Slot.
Die eerste somerreëns het geval, en die vaal vlaktes het al so ’n ligte
groen skynsel begin te wys. Die delwer se waterrekening, wat nog al ’n
aansienlike sommetjie elke maand bedra, sal nou weer aanmerklik minder
wees, want elke uitgewerkte kleim het vol gereent.
Nou is dit juis die tyd van die jaar wat ’n mens nie te versigtig kan
wees met betrekking tot jou drinkwater nie, want byna elke dammetjie
staande water is besmet. Maar die delwer dink selde daaraan om sy water
te kook; hy het nie die tyd en die geleentheid daarvoor nie, en brandhout
is ’n baie skaars artiekel op die _diekens_.
Die distriksdokter het sy hoof bedenklik geskud. Hy was ’n dag of wat
gelede ingeroep na drie siekes in een tent, en sy diagnose in ieder geval
was gewees: _maagkoors_.
„As daar nie ’n groot verbetering aangebring word wat sanitasie en
drinkwater betref nie, dan gaan julle ’n epidemie van maagkoors hier
op die delwerye hê,” het hy by daardie geleentheid met nadruk aan die
delwerskomitee gesê.
Maar hoe op aarde gaan jy behoorlike gesondheidsmaatreëls neem in so ’n
gemeenskap? En waar gaan jy skoon drinkwater kry vir vier- of vyfduisend
mense?
Die delwerskomitee het wel sy bes gedoen, maar die epidemie het tog
uitgebreek. Nou was dit werklik ’n naarheid op Diamantkuil. Hele
huisgesinne lê plat aan die gevreesde siekte, en daar is g’n hospitaal
waarin hulle kan verpleeg word nie. Die twee dokters van Smartendal het
gedoen wat hulle kon, maar wat vermag twee geneeshere in so ’n geval?
Soos ’n dienende engel het ds. Evertse van tent tot tent en pondokkie
tot pondokkie gegaan. Hier het hy enkel ’n gebed gedoen, daar het
hy verpleeg, elders het hy bestraf, en weer op ’n ander plek het hy
dooies die laaste eer bewys en help begrawe. Hy was onvermoeid en met
bo-menslike krag het hy volgehou.
En Hendrik Blits?—Waar die dominee nie meer kon werk nie, het hy gaan
help en sy kennis van medisyne het hom goed te stade gekom. G’n hut of
krot was vir hom te vuil om te besoek nie; oral het hy ingekruip om sy
dienste aan te bied. Toe die dominee hom waarsku om homself ’n bietjie
meer in ag te neem, was sy enigste opmerking: „Ek het baie verlore kanse
om in te haal!”
Onder die krankes was onder meer ook Groot Lawaai. Die dominee kon
niemand kry om hom te gaan verpleeg nie. Die mense was bang vir hom, en
party delwers het openlik gesê dat hul hoop hy sou _vrek_.
„Hendrik,” sê ds. Evertse een aand, „ek kom nou net van Groot Lawaai
af. Hy is allerellendigs en het niemand om hom te verpleeg nie. Ek
het gewonder of _jy_ miskien sou wil gaan?” En hy kyk hom vas in sy
oë. Hendrik laat sy hand oor die litteken op sy gesig gly, en vir ’n
oomblik blits sy oë. Op die dominee se aangesig is verleentheid duidelik
leesbaar. Hendrik merk dit op en met ’n glimlag sê hy: „Ek sal gaan,
Dominee, ek sal gaan. Hy sal vir my ook beter luister as vir enig iemand
anders.”
Die epidemie word nou so kwaai dat dit eindelik die aandag van die
outoriteite trek. Verpleegsters word afgestuur na die delwerye, ’n paar
dokters kom saam, en drie of vier groot markeetente word as tydelike
hospitale ingerig. Nou gaan dit beter, en kon die dominee en Hendrik
sowel as die ander helpers ’n bietjie asem skep. En dit was hoog tyd,
want die dominee was klaar, en Hendrik self het die laaste paar dae al
geweet dat hy die siekte onder lede het.
„Ai! Dominee,” sug hy toe Groot Lawaai buite gevaar was, „nou moet ons
twee darem ’n bietjie gaan rus. Wat myself betref, ek voel of ek vir
altyd kan gaan slaap!”
Die predikant skrik toe hy Hendrik se doods-bleek gelaat sien en die
koorsgloed in sy oë. Hy gryp sy hand, voel sy pols, en daar was ’n moeder
se besorgdheid in sy stem toe hy sê: „Kom, Hendrik, nou moet jy gaan rus.”
Die volgende dag was Hendrik deurmekaar.
„Hy het te lank gewag voordat hy bed-toe gegaan het,” was die uitspraak
van die dokter, „en sy gestel is so afgesloop dat ek die ergste vrees.”
In die hospitaal-tent het hulle vir Hendrik alles so gerieflik moontlik
ingerig, en die verpleegsters het gedoen wat hulle kon vir hierdie
pasjent. Aandoenlik was dit om te sien hoedat delwers wat hom vroeër
kwaadgesind was, nou met ontroerde gesigte elke môre en aand na sy
toestand kom verneem, en die getrouste onder hulle was Groot Lawaai, die
baster.
„As hy famieliebetrekkings het wat hom graag voor sy dood wil sien,” het
die dokter aan die dominee gesê, „dan moet u hulle ontbied. Hy sal dit
nie lank meer maak nie. Lewe sy ouers nog miskien?”
„Ja, Dokter.”
„Nou laat hulle seker kom. Hendrik vra al na sy vader vir die laaste
week. Hy hou aan hy wil hom met sy vader versoen, en dis maar die beste
om hom sy sin te gee,” sê die dokter.
* * * * *
’n Paar dae later staan sy ouers om sy bed. Hendrik is by sy positiewe,
maar uiters swak. Hy ken hulle, en ’n tevrede glimlag speel om sy mond.
Sy vader vat sy een uitgeteerde hand in syne, en sy moeder die ander een
in hare. Op oom Hendrik se gesig staan vaderlike trots geskrywe, want die
dominee het hom en sy vrou reeds kortliks van Hendrik se reformasie en sy
selfopofferende liefde-arbeid vertel. Maar die moeder se oë is vol trane,
en in haar hart die volheid van liefde wat ’n moeder alleen beskore is.
„Ek het jou alles vergewe, my kind, en my hart brand van verlangste om
jou as seun in my huis terug te verwelkom,” fluister die vader in sy oor.
Hendrik knik nouliks sigbaar met sy hoof, en toe sy moeder hom saggies op
sy voorhoof soen, rol daar ’n traan oor sy wange.
„Dis nou genoeg opwinding vir vandag,” en die dokter stap vorentoe.
„Hy is nog nie dood nie, en so lank soos daar lewe is, is daar hoop op
herstel.”
Ons sal nie die dae en nagte van hoop en teleurstelling, van angs en
benoudheid beskrywe nie. Dit het lank geduur, en meer as eens het sy lewe
aan ’n draadjie gehang, maar eindelik het die siekte ’n gunstige wending
geneem en het Hendrik tog gesond geword.
„Uit die dood teruggekeer,” het die dokter verklaar, en hy was reg ook.
Niemand behalwe die skrywer weet watter worsteling in die gebed die
dominee in sy tent deurgemaak het nie.
Dis g’n oordrywing as ek sê dat daar uit vyfduisend harte op Diamantkuil
’n sug van dank na Bo geslaak is vir Hendrik se herstel nie. En toe
die dominee kort voor sy vertrek ’n dankdag bepaal, omdat die epidemie
verby was, het elke man, vrou en kind wat daartoe in staat was, opgekom.
Opmerklik was dit hoe baiekeer Hendrik se naam in die dankgebede
voorgekom het.
Dominee Evertse is terug in sy pastorie op Smartendal, en Hendrik het
saam met sy ouers huis-toe vertrek, dog nie om te gaan boer nie. Hy het
teruggegaan Uniwersiteit-toe, het sy mediese studies voltooi en is vandag
een van die knapste geneeshere in Suid-Afrika. Die armes en veral die
delwersbevolking geniet sy besondere aandag, en die skrywer ag dit ’n
besondere eer om onder sy vriende getel te word.