II.

’n Paar maande later het my werk my weer op Kreepoort gebring. In

die loop van die agtermiddag het ek vir oom Piet gaan besoek. Tot my

aangename verrassing was hy nie in sy ou krotjie te vinde nie. Na

ondersoek blyk dit dat die oubaas nou in Freek Willemse se huisie woon.

Toe ek voor die deur stilhou, staan oom Piet op die stoep.

„Dag, neef,” roep hy, en sy stem klink al amper weer net soos vanselewe.

„Dag, Oom, en hoe het Oom dan nou in hierdie huis te lande gekom?”

„Ou neef, dis ’n lang storie. Klim af, kom binne, drink ’n lekker koppie

koffie en dan kan ons gesels.”

Ek het my nie tweekeer laat nooi nie. Ons het skaars gesit of tant Lenie,

wat nou ook weer goed ’n tien jaar jonger lyk, bring twee geurige koppies

koffie binne. Op haar gesig was duidelik te lees dat daar ’n radikale

verandering in die lewe van die twee oumense plaasgevind het.

Na ’n rukkie begin oom Piet:

„Na jou vertrek twee maande gelede het ek werklik nie die moed gehad

om volgens gewoonte na my pondokkie terug te gaan nie. Mismoedig en

troosteloos het ek op die _was_ wat ek opgemaak het, gaan sit en die dag

van my geboorte verwens. Ek kan nie onthou dat ek al ooit van te vore

so sleg gevoel het of so ontevrede met my lot was nie. Meteens hoor ek

voetstappe kort agter my. Ek draai my om en kyk in die skelm oë van die

man wat ek die allerminste sou verlang het om te sien. Neef, ek moet

erken dat al die onderdrukte hartstogte van die laaste ag maande my in

’n oogwenk oormeester het, en as daar ’n wapen op die oomblik binne my

bereik was, sou ek ’n moord begaan het. Ja, as Freek my ook in die minste

beledigend aangespreek het, soos hy in die laaste tyd nooit nagelaat

het om te doen nie, dan sou ek hom daar en dan op die plek verwurg het.

Begryp dus my verbasing toe hy ewe saggies—ten minste so vals vleiend

as hy kon—vir my goeiendag sê en na my welstand en dié van tant Lenie

verneem. Ek was so uit die veld geslaan dat ek niks kon antwoord nie.

„Is dit nou weer een van Freek se skelmstreke? dog ek by myself, en

opnuut sien ek net rooi.

„‚Kyk hier, Freek, as jy weer gekom het om met my te spot en jou in my

ellende te verheug, dan hoe gouer jy jou pestelike teenwoordigheid hier

verwyder hoe beter, anders begaan ek so waaragtig as wat ek lewe vandag

’n moord!’

„Maar Freek bly maar staan, en hoewel hy so effentjies bleker word, gaan

hy voort: ‚Nee, Omie, ek kom nie spot nie; ek kom besigheid praat.’

„‚Besigheid!’ skree ek; ja neef, ek het nou nie meer gepraat nie.

‚Besigheid! Jou godvergete niksnuts! Praat jy van besigheid met my wat jy

tot die bedelaarstaf gebring het! ... Vrou!’ brul ek, en my stem het vir

my eie ore vreemd geklink, ‚Vrou, bring hier die roer; hier is ’n duiwel

en ek wil hom hel-toe stuur, waar hy tuis hoort!’

„Neef, ek wens jy kon Freek se gesig toe gesien het. Al die sluheid het

soos ’n toorslag daarvan verdwyn en plek gemaak vir bange vrees. Die vent

was op daardie oomblik nog afskuweliker as die lelikste onder die beeste.

Wat praat ek van beeste? Dis ’n belediging vir die diere om die laagste

onder hulle met so ’n skepsel te vergelyk.

„Op hierdie moment verskyn my vrou op die toneel, anders huiwer ek om te

dink wat sou gebeur het. Jy weet sy het altyd ’n kalmerende invloed op

my, neef. Sy is ’n engel, neef, en sy hoort nie op die aarde tuis nie. Ek

wonder wat sy ooit in my kon gesien het om met my te trou? Haar gelyke

loop daar nie op hierdie wêreld rond nie. Maar, neef, ek dwaal af van my

storie. So gaan dit altyd as ek van tant Lenie begin te praat. Jy weet,

neef...”

„Ja, Oom, ek weet daar is maar net een tant Lenie op hierdie ou aardbol.

En wat maak Oom toe?”

„Toe maak ek niks, neef. Wat kon ek maak met daardie verwytende blik van

tant Lenie op my gerig? Soos ek reeds hierbo opgemerk het, neef, is sy

mos nie ’n gewone mens nie en....”

„Ja, Oom, sy is ’n engel. Maar wat het Freek toe gemaak?”

„Freek het ook niks gemaak nie, neef; hy het net sy droë lippe natgelek

en toe stamel hy voordat ek nog weer die woord kan kry: ‚Maar oom Piet,

ek kom met Oom reëlinge tref oor die afbetaling van die £1,500 wat ek aan

Oom skuld!’

„Ek kon maar nog nie glo dat Freek dit opreg meen nie en wou net vorentoe

spring om hom aan sy strot te gryp, toe ek weer daardie selfde verwytende

blik van tant Lenie gewaar. Neef, het jy al ooit ’n vrou met sulke oë

gesien? Die diepte van die hemel en die teerheid van...”

„Ja, Oom, dis waar. Tant Lenie het wonderlike oë, maar Oom het laas

opgehou by Freek se strot en die kontras tussen tant Lenie se hemelse oë

en....”

„Ja, neef, dis ook waar; ek dwaal alte maklik af as ek van tant Lenie

praat.”

„‚Gee vir Freek ’n kans om te sê wat hy te vertel het, en bedwing

jouself, Piet,’ sê tant Lenie op daardie sagte dog gebiedende toon wat

haar alleen eie is. Jy weet, neef, ek glo nie daar is nog ’n vrou met so

’n stem soos tant Lenie nie. As sy praat dan....”

„Dan moet Oom stilbly. Maar het Freek toe besigheid gepraat?”

„Hy het, neef. Hy transporteer sy huisie, sy biljartkamer en sy kafè op

my naam, en boonop betaal hy my £500 kontant as ek wil afsien van die

£1,500 wat ek indertyd vir hom moes inbetaal en my mond wil hou. Wat hy

met die laaste sin bedoel, weet ek nie, want ek het buitendien nooit oor

hierdie ou transaksie gepraat nie. Maar ek het darem belowe.

„Ek wou eers nie sy geld en goed vat nie, en was dit nie dat ek voor my

oë gesien het hoedat tant Lenie by die dag agteruit gaan nie, dan het ek

hom eerder by die gruisgat afgeskop. Maar die gesondheid en die welstand

van tant Lenie het die deurslag gegee en ek het sy aanbod aanvaar.

„Maar, neef, weet _jy_ miskien wat Freek beweeg het om dit te doen? Dis

opmerklik dat dit juis gebeur het op die dag van jou besoek.” En hier kyk

oom Pieter my so stip in die oë dat my gesig amper die geheim verklap het.

„En wanneer is Freek dan toe weg van Kreepoort af?”

„Ek sal vertel, neef. Ja, die arme Freek het dit die laaste week voor sy

vertrek maar smoor gehad hier op die delwery. Het jy al gehoor hoedat Jan

Pieterse, sy voorman, hom deur-geloop het? Ek het nie, sê jy. Maar man,

dan was jy amper een van die beste grappe kwyt wat hier ooit plaasgevind

het... Het jy al ooit opgelet hoe daar in party diere meer karakter

sit as in ander van dieselfde soort? Ek herinner my nog goed dat my pa

twee osse gehad het: die een was ’n skoorsoeker van die eerste water en

baie parmantig, maar by die werk het hy maar min beteken en het hy geen

hart gehad nie, terwyl die ander weer goed van geaardheid was en ’n

baastrekker. Jentelman was ’n vooros en, soos ek reeds aangemerk het, ’n

staatmaker. Net agter hom het Koerland getrek, wat dit nooit kon nalaat

om Jentelman net wanneer hy die kans kry ’n gevoelige stoot met sy skerp

horings te gee nie. In die veld het Jentelman gewoonlik padgegee, maar

in die juk was dit natuurlik buite die kwessie, en ek het al die idee

begin te kry dat die vooros maar ’n bangbroek was. Op ’n goeie dag het

ons gebraak en die osse het noustrop getrek. Elke keer by die draai moes

die arme Jentelman dit ontgeld en die skerp horings van Koerland voel.

Om twaalfuur word afgehak om die osse ’n paar uur rus te gee. By so ’n

geleentheid gee Jentelman gewoonlik ver pad vir Koerland en gaan hy

rustig op sy wei, maar vandag kon ’n mens somar aan sy hele houding sien

dat sy geduld uitgeput was. Om ’n lang storie kort te maak: Koerland het

die eerste die beste kans gevat om Jentelman ’n gevoelige stoot in die

ribbekas te gee. En toe was die gort gaar. Jentelman spring om, en daar

is die twee diere aanmekaar. Koerland kon vir ’n maand lank nie ploeg

trek nie.

„Nou, neef, so wou ek maar sê is dit by die mens net soos by die dier;

en jy wat so baie met mense te doen het, sal dit wel self al opgemerk

het. Ek wou maar net duidelik gemaak het dat Jan Pieterse my altyd aan

Jentelman, en Freek Willemse my aan Koerland laat dink het.

„Baiekeer as ek verby Willemse se kleim stap, het ek moes aansien en

aanhoor hoe Freek die arme Jan Pieterse boelie. Ek het dié Jan bewonder

vir sy geduld en verdraagsaamheid, maar in my hart het ek hom tog as

lafaard bestempel.

„Een agtermiddag moes ek daar weer verby en hoor hoe Freek die arme Jan

slegsê en uitvloek. Dit was net die dag na hy sy huisie en die ander

twee geboue op my getransporteer het. Jy weet mos hoe praat Freek, nè,

as die duiwel in hom gevaar het. Hy begin daaronder in die diepte, en

sy stem klim altoos hoër en hoër totdat dit eindelik in ’n langgerekte

gehuil—soos dié van ’n nadroejakkals—wegsterf. Nie tevrede om Jan

uit te maak vir alles wat laag en gemeen is nie, en dit nogal in die

teenwoordigheid van die kaffers, spring hy naderhand af in die kleim waar

Jan en die volk werk, en gee sy voorman ’n raps met sy handsambok dwars

oor sy kop. Neef, glo my as ek jou sê, dit was weer ’n Jentelman en ’n

Koerland wat ek daaronder in die kleim sien, maar net baie komiekliker.

In ’n kits het Jan Pieterse die handsambok uit Freek se hand geruk en

looi hy Freek net so lustig as hy kon. Dit het Willemse nie verwag nie,

en soos ’n kat probeer hy by die kleim uitklouter sonder om hom in die

minste te versit. Jy weet die gruis hierlangs sit baie diep, nè. Elke

keer nes Freek amper bo is, gryp Jan hom aan die voet met die linkerhand,

en terwyl hy hom aftrek na onder, steek hy hom los met die regterhand.

Die kaffers skree dit uit van louter vreugde, en die toeskouers, wat nou

al aansienlik in getal aangegroei het, hou hulle sye vas soos hulle lag.

Dit was rêrig te komiek!

„Freek het die dag na die pak spoorloos verdwyn, en niemand weet wat van

hom geword het nie. En dit was ook maar die beste wat hy kon gedoen het,

want sy dae op Kreepoort was getel. Buitendien glo ek dat die poliesie

ook vir hom soek, want hulle vertel dat hy ’n hele reeks misdade op sy

kerfstok het. Maar neef, verveel ek jou nie?”

„Nee, glad nie, Oom. Inteendeel, daar is nog iets wat ek darem graag van

Oom wil geweet het. Ek kon nie help om op te merk dat Oom se taal nou

heelwat.....”

„Sê maar gerus fatsoenliker,” val die oubaas my in die rede.

„Ja, Oom, fatsoenliker en beskaafder is as twee maande gelede. Het Oom

dan al so gou weer Oom se oordeel oor die Voorsienigheid gewysig, en

moet ek dit toeskrywe aan die meer gegoede omstandighede waarin Oom nou

verkeer?”

„Neef, ek het gehoop dat jy my hierdie verklaring sou spaar, want ek

praat liewers nie oor hierdie saak nie. Kyk, laat ek dan somar van die

staanspoor af sê dat ek my skaam dat ek my daardie dag so vergeet het in

jou teenwoordigheid. Maar neef, ek was in elk geval eerlik en het toe

gepraat soos ek in daardie dae gevoel het. Man, toe die teenspoed my tref

en ek in daardie ellende verkeer, het ek vir die eerste keer besef hoe

’n skynheilige lewe ek van te vore gelei het. Al my vroomheid was niks

anders as selfbedrog gewees nie; en ek bloos om dit te getuig, maar my

ouderlingskap en huisgodsdiens en gebede was alles skyn. Toe daardie

mantel van geveinsdheid in die diepte van my ellende van my afval, staan

Piet Legransie in al sy naaktheid daar, en toe sou ek eers besef hoe

werklik bedorwe ek was. Dit was net in daardie tyd wat jy my op die

delwerye raak-geloop het, en jy sal miskien nou beter my taal van toe kan

verklaar. Maar ek dwaal af. Kyk, ek wil nie ons kerk blameer nie, maar

dit lyk tog vir my of dit alte gemaklik is om lid te word of as ouderling

en diaken te dien. Ek glo ons Dominee noem die lede van my soort:

_mooiweer-kristene_, en hy is reg ook. Maar ek wonder tog of hy sou weet

hoeveel van my soort daar nog in sy kerk is?...

„Daardie aand na Freek Willemse weg is en ek as deur ’n wonder uit my

haglike toestand gered was, het tant Lenie met my gepraat soos sy nog

nooit van te vore gedoen het nie. Ek mag nie vertel wat daar alles

plaasgevind het nie, maar ek het my opnuut leer ken soos ek _is_ en nie

soos ek graag in die oog van die wêreld wil _lyk_ nie. En jy weet, neef,

dit beteken vir ’n mens al ontsaglik baie. Ek sien jy word haastig. Met

jou verlof sal ons hierdie saak nooit weer aanroer nie.”

By myself dink ek hoe goed dit sou wees as meer mense, waaronder die

skrywer, hierdie ware selfkennis besit.

„En gaan Oom nou vir altyd op die delwerye bly?”

„O nee, neef! Sodra ek ’n koper kan kry vir hierdie ongewenste

beslommering wat ek die trotse eienaar van is—met bytende sarkasme

uitgespreek—dan skud ek vir ewig die stof van die delwerye van my voete

af. Welgevonde is weer in die mark; ek hoor die Bank wat dit destyds

vir skuld moes inneem, wil graag die plaas van die hand sit. Wie weet,

moontlik heet ek jou nog aankomende jaar welkom in die ou huis.”

Op die delwerye · 第 16 / 34 题