Hendrik vertel sy Lewensgeskiedenis.
Dis ’n lang storie, Dominee, en vir my nie eintlik plesierig om te vertel
nie, maar ek sal dit so kort en saaklik doen as ek kan. My ouers lewe
nog, woon in die Westlike Provinsie en is ryk. Ek is die enigste seun,
maar daar is nog twee dogters ook in die lewe. My eerste onderrig het
ek in Pêrel ontvang, en vandaar is ek na die Kaapse Uniwersiteit toe,
waar ek my graad in die wetenskappe behaal het. My vader wou hê ek moes
kom boer en die plaas bestier, maar met my het dit gegaan soos met baie
ander boerseuns. As ons klaar geleer het, dan kan ons dit eenvoudig op ’n
plaas nie uithou nie. Jy is ’n dominee en hierdie vriend ’n onderwysman,
maar kan julle dan niks daaraan doen om ons onderwysstelsel so te herskep
dat dit meer _uit die volk_ en _vir die volk_ is nie? Kyk wat dit van
my gemaak het. En al wil ek myself en my toestand nie hierdeur verskoon
nie, tog beweer ek dat ’n kind vandag so opgevoed word dat hy aan die
plaaslewe hoog die land het as hy klaar is. ’n Mens sou sweer dat elke
seun ’n klerk of onderwyser of dokter of so iets gaan word en elke meisie
’n onderwyseres of tikster. Nee, ons stelsel mag vir die buiteland deug,
maar vir Suid-Afrika is dit hopeloos verkeerd.
Ek wou vir dokter in die medisyne gaan studeer, en hoewel teen sy sin,
het my vader eindelik ingewillig. ’n Maand daarna was alles in orde en
het ek na Londen vertrek om my studies voort te sit. Die eerste jaar het
dit goed gegaan en die twede ook, maar toe het ek in slegte geselskap
verval. Ek het naamlik die vriendskap verwerf van ’n Amerikaanse student
wie se vader ’n miljoenêr was en wat derhalwe nooit gebrek aan geld gehad
het nie. Tot dusver het ek altyd maklik uitgekom met die toelae wat my
vader my maandeliks gestuur het; ek het selfs geld oorgehou, want my
vader het my rojaal behandel. Maar nou het ’n maand se geld my skaars
’n week geduur. Ek het deur my vriend in _High Society_ gekom, en die
gevolg was dat ek skuld begin maak het. As ek hierby nog vermeld dat ek
’n eersteklas voetbalspeler en die beste bokser op die Uniwersiteit was,
dan sal u wel kan verstaan dat ek dikwels uitgevra is, aan baie bankette
en danse deelgeneem, en later ’n smaak vir sterk drank aangekweek het.
Maar so kon dit nie voortduur nie; my skuldeisers het my begin te dreig,
en my vader moes opdok. Hy het betaal, maar my onmiddellik gebied om
huis-toe te kom.
’n Maand later was ek in Tafelbaai. Aan boord skip het ek vir oulaas nog
die groot meneer gespeel, en toe ek by die Kaap kom, was my lyf lekker.
Ek het nooit my ouers by die doks verwag nie, anders sou ek my miskien
nog ’n bietjie bedwing het, maar berou kom altyd te laat. Op pad huis-toe
het my moeder elke slag ’n traan uit haar oë gevee, en my vader was
woedend.
„Toe, gaan slaap eers jou roes af,” sê hy by ons tuiskoms, „en dan sal
ons môre mekaar onder vier oë spreek. Jy behoort jou te skaam om jou
moeder en my soveel verdriet aan te doen.”
Die volgende môre het my vader my in sy kantoortjie geroep en vreeslik
geroskam. Ek het dit alles verdien, Dominee, maar as my vader net ’n
bietjie meer simpatiek was ...
„As ’n gewone dagloner sal jy nou moet werk, en as jy binne die eerste
twee jaar goedmaak, sal ek jou weer as my seun behandel. Maar die eerste
die beste keer wat jy ’n mistrap doen, jaag ek jou soos ’n kaffer van my
plaas af weg!”
Maar my moeder en my susters het my alles vergewe, en om hulle nooit weer
leed aan te doen nie, het ek my ernstig voorgeneem om ’n nuwe blaadjie om
te slaan.
Dit het egter geblyk dat die duiwel nie so gemaklik van die syne afstand
doen nie. ’n Gereelde kuiergas van my suster was ’n vent wat ek somar van
die eerste dag af aan nie kon veel nie. By my vader was hy egter baie
gewild, hoewel my moeder en my oudste suster hom nie juis uit liefde om
die nek geval het nie. Wat my nog meer vererg het, was die feit dat hy
my kompleet nes ’n bediende in die huis behandel het. Ons maat het hom
verbeel dat hy verbasend musikaal was, en hy het selfs musieklesse gegee,
maar my opienie was dat die Muse haar hoof uit skaamte laat hang het
sodra hy sy mond oopmaak om te sing.
Wel, een aand toe almal al moeg was van sy geskree en daar ’n oomblikkie
stilte gekom het, vra ek verlof om die _Ave Maria_ van Schubert op die
gramafoon te speel. Dit was ’n plaat van Heifitz—op die oomblik, soos u
wellig weet, een van die grootste vioolspelers in die wêreld. Ek het hom
self in Londen gehoor, Dominee, en hy is in een woord wonderlik.
Toe die plaat afgeloop was, sê ons musikale vriend: „Ons het nou genoeg
van sulke _rubbish_ gehad, laat ons nou weer musiek maak!” met die
nadruk op musiek. Ek moes nou òf praat òf ontplof. „Jou verwaande esel,”
bars ek los, „as jy ook maar ’n greintjie verstand had, dan...”
„Hendrik,” val my vader my in die rede, „gedra vir jou of verlaat die
kamer.”
Dominee, ek het die kamer verlaat en so ampertjies die plaas ook. Maar my
moeder, wat my na my kamer gevolg het, het so mooi gepraat dat ek om haar
ontwil aangebly het. Van dié tyd af het ek die kuiergas vermy.
Vir ’n paar maande het dit goed gegaan en het ek die voorvalletjie al
amper vergeet, toe daar een aand ’n konsert op X was, waar die vryer ook
sou sing. Die hele famielie sou dorp-toe gaan vir die konsert, en ek moes
die moter drywe.
Soos die toeval dit wou hê, moes ek juis daardie aand ’n ou kennis uit
Londen ontmoet wat met die pouse by my aandring om saam met hom iets te
gaan drink. Hoe ek ook al teëpraat, hy wou g’n weiering aanneem nie,
en onder die verstandhouding dat ek net iets ligs sou gebruik, gaan ek
uiteindelik saam.
Die _bar_ was vol konsertgangers, waaronder ook ons musikale vriend.
Hy het my binnekoms nie opgemerk nie. Om hom staan ’n klompie van sy
drinkbroers, en elke keer skree hulle dit uit van die lag.
„Ou Hendrik,” sê hy tot vermaak van sy maats, „doen sy uiterste om
daardie dogter van hom aan my af te smeer, en sy ouvrou is eintlik
lastig. Sy seun, soos julle weet, is somar ’n sujet en ’n niksnuts, en sy
dogters van dié soort wat om enige jongkêrel se nek sal val.”
„Wat sê jy daar?” vra ek terwyl ek vorentoe stap.
„Dè, jou plaashotnot!” skree hy en hy gooi sy glasie whiskey in my gesig,
terwyl sy maats dit uitgil van hilariteit.
Dis seker onnodig vir my om te vertel dat hy na die pouse nie verder kon
deelneem aan die konsert nie, of dat hy die volgende dag nog nie sy oë
kon oopmaak nie.
Soos ’n vuurtjie in die lang gras het die nuus versprei dat ek ons
kuiergas ’n pak slae in die bar toegedien het, en ek het rede om te glo
dat die meeste inwoners van X baie bly daaroor was. Maar my vader was ’n
ander sienswyse toegedaan. Hy wou eenvoudig na g’n uitleg luister nie en
wou g’n rede verstaan nie.
„Jy stink weer na die vervloekte drank,” snou hy my toe. „Maak dat
jy vir ewig uit my gesig wegkom. ’n Dronklap van ’n seun wat soos ’n
straatboef in kantiene baklei, wil ek nie erken nie. Trap!”
Ek het wel na drank geruik, maar dit was die vryerman se whiskey wat hy
op my uitgesmyt het; self het ek niks gedrink nie. My moeder wou nog as
middelaar tussenbei kom, maar ook sy word beveel om stil te bly. Toe
verloor ek my kop en het my vader dinge toegevoeg wat onbetaamlik was vir
’n seun. Die volgende dag het ek van die plaas af vertrek en rondgeswerwe
totdat ek hier aangeland het.
„Die drank moes my die verlede laat vergeet, en nou is ek sy slaaf. Kan
jy my regtig help, Dominee?” en Hendrik se stem was diep ernstig.
„Ja, Hendrik, met die hulp van Bo sal ek jou help,” sê die dominee op so
’n toon dat die dieps-gesonkenste moed sou geskep het. „Maar eers moet
ons jou onder die drankduiwel se mag uitkry, en daarom gaan jy van nou af
aan as my broer by my in die tent bly.”
In stilte gee ek die dominee en Hendrik ’n handdruk en vertrek.
„Dis waar,” peins ek op die pad huis-toe, „party mense moet deur dieper
waters gaan as ander.”