II.

Ds. Evertse kom op die Toneel.

In ds. Evertse se studeerkamer op Smartendal hang daar ’n geillumineerde

teks aan die muur: „Gered om te dien.” Veral in die laaste maande het

daardie woorde die dominee nooit met rus gelaat nie. Nou moet die leser

nie hiervan wil aflei dat ds. Evertse sy pligte as predikant verwaarloos

het nie. Dit is nie die geval nie. Sy eie gemeentelede word getrou

bearbei, maar dit neem al sy tyd en kragte in beslag. Sy hart bloei vir

die delwers, en hoe langer hoe meer word dit vir hom duidelik dat sy plig

hom Diamantkuil-toe roep. As ds. Evertse oortuig is dat sy paadjie in

’n seker rigting loop, dan laat hy hom van niks keer nie. Hy bring die

kwessie voor sy Kerkraad, bepleit die noodsaaklikheid vir die geestelike

bearbeiding van die delwers hartstogtelik en wen sy saak. ’n _Locum

tenens_ word benoem, en die dominee kry verlof om vir vier maande sy

tyd en kragte uitsluitend aan die delwers te wy. ’n Week later was ds.

Evertse op Diamantkuil in ’n tentjie tussen die uitgewekenes, bereid om

te dien.

Sy koms daar is met gemengde gewaarwordinge deur die delwersbevolking

begroet. ’n Klein klompie was waaragtig bly, ’n groot klomp was heeltemal

onverskillig, en ’n hele paar was openlik boos.

Die delwersgemeenskap is uit die aard van die saak kosmopolieties. ’n

Mens tref daar aan: Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere, Engelse

en Duitsers en wat dies meer sy, maar verreweg die meeste bestaan uit

Afrikaners van alle rang en stand. Daar is diegenes wat altyd arm was en

arm sal doodgaan, en daar is ander wat eers ryk bedeeld was met aardse

goedere en deur hulle eie toedoen of deur teenspoed alles verloor het.

Die dominee het egter nie gras onder sy voete laat groei nie, en die

delwers, wat baie fyn is om iemand gou na waarde te leer skat, het hom

spoedig liefgekry. Hy was regtig soos een van hulle; nie uit die hoogte

het hy hulle genader nie, maar as iemand wat gered is om te dien. Niemand

word oorgeslaan nie, tot in die vuilste pondokkie kruip hy in, nie om

te preek en te bestraf nie, maar om ’n woordjie van bemoediging en ’n

boodskap van hoop te bring.

In die aand word ’n kort diens gehou. ’n Lantern word aan ’n paal gebind

en omhoog gehou as teken dat die dominee op daardie plek sou preek. Die

eerste week het nog geen dosyn delwers opgedaag nie, dog die gehoor het

altyd meer en meer aangegroei. Die woord het van mond tot mond gegaan dat

ds. Evertse dit wel met die delwers meen.

Treffend was dit om saans die delwers te sien opkom. Diegenes wat ’n

lantern besit, bring dit saam. Die diens word onder die blote hemel

gehou. Bo die dominee se hoof hang die lantern aan die paal, en verder

word lig verskaf deur die lanterns wat die delwers saamgebring het.

Die Woord word in alle eenvoud dog met diepe erns gebring, en

indrukwekkend was dit om die gesigte van die toehoorders gade te slaan.

Slegs enkeles spot openlik, die grootste gros luister aandagtig en

eerbiedig. En as die dominee Ges. 7 vs. 2: „Sy troue Vaderoë sien alles

van naby” opgee, dan sing die gehoor dit so hartlik soos ’n mens dit

selde in enige kerk hoor, en as die laaste tone wegsterf oor die slapende

vlaktes, dan voel die delwer dat daar darem nog Een is wat vir hom sorg.

Ook dié onder hulle wat Hom in hulle ellende gevloek het, verlang terug

na die dae toe hulle as kind aan die knie van ’n vrome moeder hulle

gebedjie geprewel het, en begin hulself af te vra of hulle nie liewers

moet terugkeer tot die ou weë nie.

Saterdags het die dominee dit altyd baie moeilik gehad. Op daardie dag

kom die drank-lorrie die delwery ’n besoek bring, en dan moet meer as een

huigesin die volgende Sondag sonder kos gaan, omdat die vader sy laaste

paar sielings aan ’n bottel brandewyn bestee het. En as dit maar al was!

Maar die gruwelike dronktonele wat daar dan soms afgespeel word, is te

vreeslik om te boek te stel.

Aan hierdie hemeltergende euwel behoort onmiddellik deur wetgewing ’n end

gemaak te word. Moet die vrou en kinders dan vir ewig ly omdat die man

’n bees van hom wil maak, en waarom moet die brood uit die mond van die

onskuldiges gehou word om gewetenlose drankhandelaars te verryk?

Dit was die Maandagaand na so ’n naweek dat die dominee my versoek het om

op die delwery oor te bly en sy diens by te woon. „Gister en eergister

was dit weer baie kwaai,” sê hy, en hy skud sy hoof: „die arme Hendrik

Blits was weer buite kennis van Saterdagmiddag af tot van oggend toe. Ag!

as ek Hendrik tog net so ver kon kry om die drank te laat staan, hoe sou

ek die goeie God dank. Hy word beskou as een van die rofste karakters op

Diamantkuil, en tog het ek al baie dingetjies opgemerk wat my oortuig dat

daar meer in hom steek as wat die meeste delwers dink.”

Wis ek dit nie? Daardie koue oggend se voorval met die baster was my nog

helder voor die gees.

* * * * *

Die dominee het daardie aand die gelykenis van die Verlore Seun vir sy

gehoor uit die Afrikaanse bewerking van die Nuwe Testament voorgelees. Ek

het al dikwels in die kerk en in die Sondagskool opgelet hoedat hierdie

verhaal grootmense sowel as kinders aangryp, maar nog nooit het ek ’n

aandagtiger gehoor as toe gesien nie. Die delwers: man, vrou en kind, het

letterlik aan die prediker se mond gehang en elke woord ingedrink.

„Geliefdes,” roep die prediker aan die end van sy rede, en sy stem is

pleitend, net soos ’n liefhebbende moeder met haar stout seuntjie sou

praat, „geliefdes, net soos die Vader se oog al van ver sy afgedwaalde

seun sien aankom het en hy met ’n hart brandende van liefde hom tegemoet

gesnel en gekus het, netso wag julle hemelse Vader vir elkeen van julle.

Maar dan moet dit nie enkel by goeie voornemens bly nie. Nee, julle moet

opstaan en soos die verlore seun na Hom teruggaan. Waarom sal julle

langer as huurlinge swynedraf eet, wanneer julle as seuns en erfgename

by julle Vader kan aansit?” Toe word as slotsang gesing: „Komt gij

allen, komt tot Hem, zondaars, komt, wat zou u hindren,” die seën word

uitgespreek en die diens was afgeloop. Een vir een gaan die delwers

huis-toe. Net een bly agter. Hy het so ’n bietjie opsy in die skaduwee

gestaan, asof hy bang was dat iemand hom sou raaksien. Soos Nikodemus

het hy in die nag gekom, omdat hy bevrees was om gesien te word. Nou tree

hy vorentoe en kon ek die verbasing op die dominee se aangesig lees.

„Wel, Hendrik man, ek is waarlik bly om jou ook vanaand hier te sien!”

„Maar ek was nog elke aand teenwoordig, Dominee, hoewel ek nie juis my

bakkies in die lig wou wys nie,” sê die aangesprokene, wat niemand anders

as Hendrik Blits was nie. „Dominee, mag ek met jou saamstap na jou tent

toe? Of is jy ook bang vir hierdie paaiboelie?” gaan hy verder.

Ek wou my verwyder, maar op versoek van die dominee en Hendrik het ek

saamgestap.

„Kyk, Dominee,” sê hy toe ons in die tentjie van die predikant sit,

„daardie preek van jou het my vanaand laat besluit dat ek ook wil

teruggaan na my aardse vader. Ek wil graag met die Hemelse ook vrede

maak, maar kan tog nie voordat ek nie eers met my natuurlike vader

versoen is nie. Ek is moeg vir varkkos. Sal jy vir my help?”

„Alte seker,” sê die dominee op so ’n opgewekte en bemoedigende toon, dat

ek by myself dink die saak is alreeds halfgewen.

„Maar, Dominee, ek is ’n duiwel as ek drank ruik, en het u al vergeet

hoedat ek u nou die dag nog beledig het?” gaan Hendrik voort.

„_Vergeet?_” herhaal die dominee sag, „nee, maar _vergewe_ wel. Ek wis

dat dit die drank was wat gepraat het en nie Hendrik nie.”

In Hendrik se oog blink warempel ’n traan. Dit was lank laas dat iemand

so vriendelik met hom gepraat het.

„En kyk hier Hendrik man,” herneem die dominee, „jy kom van vanaand af

hier by my in die tent woon. Ek neem g’n weiering aan nie. Jy het na my

toe gekom om hulp, en met Gods genade gaan ek jou help. Maar vertel my

eers hoedat jy hier op die delwerye te lande gekom het.”

Op die delwerye · 第 12 / 34 题