Wat Hendrik Blits se regte naam was, kon niemand van die delwers my
vertel nie. Hierdie bynaam het hy verwerf, eerstens omdat hy hom gereeld
elke naweek dronk gedrink het aan kafferblits, en twedens omdat sy taal
dan by sulke geleenthede so sterk gekleur was.
My kennismaking met Hendrik was nogal baie buitengewoon. Op ’n koue môre
in Julie het ek my op Diamantkuil bevind, waar ek in gesprek was met die
hoof van die Goewerment-skool, toe hy die opmerking maak: „Allewêreld,
hoe mishandel so ’n Groot Lawaai weer vanoggend die stomme donkies!”
Groot Lawaai was die naam van ’n groot, vierkantige lummel van ’n vent.
Hy was ’n baster en ’n boelie so groot as wat daar te vinde is. Om sy
grootte en krag het die delwers hom met respek behandel en verder maar
so veel moontlik uit sy pad gebly. Ek kyk in die rigting waar die hoof
wys, en daar sien ek ’n waterwa met veertien donkies bespan, krakend en
waggelend die spruit se wal uitkom. Dit was duidelik dat die donkies so
skaars-skaars die wa kon uitbring. En g’n wonder nie! Gras was daar op
die hele delwery nie genoeg vir ’n paar honderd sprinkane nie, laat staan
’n paar honderd diere. En op hierdie veld moet die arme donkies nou snags
hulle pense volvreet, na ’n dag van swaar trek en mishandeling.
’n Diamantkoper wat ook vroeër gedelf het, het eendag die onderstaande
opmerking in my teenwoordigheid gemaak: „Twee dinge dank ek die liewe
Vader dat ek nie is nie: ’n delwer se donkie en ’n delwer se vrou!”
Sedert dié tyd het ek eersgenoemde bewering ongelukkig al oor en oor
gestaaf gesien.
Wel, die veertien donkies van Groot Lawaai was g’n uitsondering nie; die
arme diere was letterlik net vel en been. Om hulle aan die gang te hou,
loop hy op en af langs die span, en terwyl hy die gruwelikste vloekwoorde
uitstoot, gésel hy die donkies meedogenloos met ’n groot handsambok. ’n
Mens kon die _doef_, _doef_, van die houe seker ’n myl ver hoor.
„Maar is hier dan niemand op Diamantkuil om ’n stop aan sulke wreedheid
te sit nie?” vra ek, en ek voel hoe die bloed na my kop toe bruis.
„Nee,” sê die hoof, „almal is bang vir Groot Lawaai, want hy is ’n
vreeslike woestaard.”
Al nader en nader kom die wa, en al harder en harder klink die _doef_,
_doef_ van die sambok.
Ek het my al klaar voorgeneem om met die vent te gaan praat en, as dit
nie help nie, die poliesie van die mishandeling van die esels te gaan
verwittig, toe daar skielik uit ’n onverwagte oord ’n ander vir die
donkies in die bres spring.
„O magtig!” roep die hoof verbaasd uit, „wat gaan Hendrik Blits nou maak?
Groot Lawaai sal hom vermorsel. Laat ons nader stap om, indien moontlik,
die rusie te voorkom.”
Ek het nooit die persoon opgemerk wat g’n vyftig tree van ons af onder
’n doringboom gelê en slaap het nie, voordat die opmerking van die
onderwyser nie my aandag by hom bepaal het nie. Ewe op sy gemak staan
Hendrik Blits op, rek hom uit, gooi sy flenterbaadjie van hom af en stap
reguit na Groot Lawaai toe.
„Kyk hier, jou gemene boelie, as jy nog ’n slag jou arm oplig om
die donkies te slaan, dan dons ek vir jou op. Het jy my begryp, jou
vervloekte baster?”
Die Groot Lawaai se gesig was die moeite werd om te sien. Dis amper
ongelooflik dat ’n mens se gelaatstrekke so kan verander. Die duiwel,
soos hy my in my kinderjare op sy lelikste afgeskilder is, sou vir
hierdie bakkies geskrik het.
„Jou verd...de kind!” brul Groot Lawaai woedend, „sal jy vir my kom belet
om my eie diere vrek te slaan as ek wil? Jakob! Jou d..der!” en met
hierdie vloek slaan hy die hotagter donkie oor die kop netso hard as hy
kan. Toe draai hy na Hendrik Blits en sê smalend: „En nou gaan ek van jou
frikkadel maak, jou vieslike dronklap.”
’n Mens sou nooit sulke ratheid by Hendrik gesoek het nie, maar voor jy
_mes_ kon sê, ruk hy die handsambok uit die baster se hand uit en gebied:
„Trek uit jou baadjie; ek wil jou op gelyke voet ontmoet, sodat jy nie
naderhand behoef te vertel dat ek jou onder ’n hendikep ’n pak slae gegee
het nie. Toe, maak gou as jy nie te lafhartig is nie!” En Hendrik gooi
die sambok neer en plaas sy voet daarop.
Groot Lawaai het hom nie tweemaal laat nooi nie. Hy pluk sy baadjie uit
en onder ’n stroom van die profaanste vloeke loop hy vir Hendrik storm.
Van natuur is ek nie iemand wat behae skep in rusie en bakleiery nie,
maar hierdie môre het ek die _mieks-op_—soos die delwers sal sê—eerlik
geniet, en my hele siel was aan Hendrik se kant.
’n Man wat baie woedend is, kan nie goed boks nie. Groot Lawaai was seker
tweemaal so sterk as Hendrik Blits, maar waar laasgenoemde kortgeskiet
het in krag, het sy ratheid en kennis van boks hierdie tekortkoming meer
as vergoed.
Hy duik onder Groot Lawaai se arm deur, en voordat die baster sy ewewig
kan herwin, kry hy ’n opstopper op sy kinnebak wat hom soos ’n besopene
laat waggel. Arrie! maar dit het die boelie darem nie verwag nie.
Hierdie veragtelike skepsel wat hy tot stof sou vermorsel, het hom so
wrintig-waar amper onderstebo geslaan. Hy sal nou sy taktiek verander en
versigtiger te werk gaan. Soos ’n mierkat om ’n slang begin Groot Lawaai
al om Hendrik Blits te dans, totdat hy skielik buk en die handsambok
gryp en voordat Hendrik kan keer, hom ’n hou oer sy gesig gee dat die
bloed so tussen vel en vleis wys.
„Eina! maar dis gemeen!” skree die onderwyser, en hy tel ’n klip op wat
goed ’n paar pond weeg. „Ek voel by my kool lus om die vloek se kop
hiermee te verbrysel!” en hy hef die steen dreigend omhoog.
„Wag maar,” sê ek, „Hendrik is mans genoeg vir hom; dis nie die eerste
keer wat hy boks nie. Ek wonder waar hy die kuns aangeleer het?”
Die geveg word hoe langer hoe doller. Groot Lawaai het tot die ontdekking
gekom dat die enigste kans om te wen in die hanteer van die sambok lê,
en bokspring nou al vinniger om Hendrik. Eindelik sien laasgenoemde die
psigologiese moment. Soos ’n wildekat vlieg hy vorentoe onder die sambok
deur, wat sy kop strykelings raak, gee sy teenstander ’n geweldige slag
met die linkervuis op sy wind, en toe hy inmekaar sak, gee hy hom die
_coup de grâce_ so netjies dat Dempsey hom die hou sou beny het.
Ongeërg tel hy die sambok op en wag tot Groot Lawaai bykom.
„Kyk hier, jou gemene baster, nou gaan jy eers die pak slae kry wat jy al
lank verdien het. Ek wil hê jy moet ’n slaggie voel hoedat jou eie sambok
slaan. Miskien sal jy dit dan in die vervolg ’n bietjie minder op die
donkies gebruik.” En met hierdie woorde steek Hendrik los. Die eerste en
die twede hou het Groot Lawaai nog verdra, maar toe spring hy weg en loop
netso hard as hy kan al om die wa en die donkies, en kort op sy hakke is
Hendrik, wat al die tyd onbarmhartig daar op los slaan.
Eindelik kan die boelie nie meer hardloop nie. „Asseblief, Meneer,”
soebat hy, „sowaar, Meneer, ek sal die donkies nooit weer mishandel nie!
Moenie meer vir my slaan nie! Ag, asseblief tog, my baas!”
„Dè, vat jou sambok,” sê Hendrik, en in elke woord was veragting te lees,
„maar die Here help vir jou as jy weer die donkies mishandel.” En sonder
’n verder woord stap hy na die boom toe, trek sy baadjie aan, stryk sy
hand oor die striem op sy gesig en strek hom so lank as hy is op sy rug
onder die doringboom uit.
„Daardie kêrel se hand wil ek vat, al is hy ook ’n dronklap,” voeg ek
die hoof toe. „Daar steek meer in hom as in ons twee saam!”
En so het ek kennis gemaak met Hendrik Blits.