Die skoolgebou op Syferlaagte was skaars geskik vir ’n koeistal; ja ek
twyfel of ’n ryk boer sou bereid gewees het om sy volbloed vee daarin
te huisves, en in so ’n lokaal moes ondervoede en onderklede kinders
aldag vyf uur deurbring. Oorspronklik was die gebou bedoel gewees vir
’n koeliewinkel, waar so min lig en lug as moontlik vereis word, want
dit is nie in die belang van die verkoper dat sy kliënt alte goed die
ware wat hy koop, moet kan besigtig nie. Die hele gebou het twee klein
venstertjies en ’n deur gehad. Die sinkmure was van binne nie met hout
uitgevoer nie; daar was geen plafon nie, en die vloer was van grond.
In die hartjie van die somer het die sink so warm geword dat ’n mens dit
nie met jou kaal hand kon aanraak nie; voeg nou daarby nog die asempies
van 62 leerlinge wat almal in die een lokaal ingeprop is, en dan sal jy
’n flou denkbeeld kry van hoe die lug so teen twaalfuur in die skoolgebou
moet wees.
Buite kry ’n mens net die uitgegrawe kleims en die hope dooie grond en
gruis. ’n Boom is ’n onbekende iets. Maar stof, as die wind waai, hang
soos ’n bruin sluier oor die delwerye en verpes die atmosfeer in die
skool nog meer. En, leser, hierdie beskrywing is nie uit die duim gesuie
nie; dis getrou aan die waarheid.
Onder sulke omstandighede moet die onderwyseres onderrig gee en moet die
kinders opgevoed word!
En die outoriteite is nie altoos te blameer nie, want ’n delwery is
iets wat dikwels in ’n dag se tyd ontstaan en soms binne ’n jaar se
tyd verlate is. Inteendeel, dis prysenswaardig dat daar tog ’n poging
aangewend word om onderwys te verskaf aan die honderde kindertjies wat
anders vir kwaadgeld sou rondloop.
„Toe, begin maar,” sê ek aan die onderwyseres by die aanvang van die
skool, „en gaan voort net soos gewoonlik.”
Sy open met gebed en laat toe sing: „Heer, waar dan heen” en wat daar op
volg, wat my nogal as heeltemal treffend voorgekom het. Ja, ek weet nie
van nog ’n gesang wat so toepaslik is vir die delwerye nie.
Daarna het sy die sondvloed met die leerlinge behandel; en al het sy dit
nou nie juis altyd streng ortodoks gedoen nie, tog het sy meesterlik
daarin geslaag om dit interessant voor te dra en die kinders se aandag te
boei.
Na afloop van die les sê sy: „Nou, kinders, kan julle vrae stel oor
enigiets wat julle nie duidelik is nie.”
„Juffrou,” en agter in die klas gaan ’n vuil handjie omhoog, „het Noag
vlieë en vlooie ook in die ark geneem?”—Hierdie insektetjies is vreeslik
lastig op die _diekens_.
„Ek dink seker, Kosie,” antwoord die onderwyseres.
„Maar hoor dis jammer dat die ding nie vergaan het nie,” weer van Kosie.
„Maar, Kosie, dan sou die mense en die diere ook mos saam verongeluk
het, en dan sou geeneen van ons mos vandag hier gewees het nie,” herneem
Juffrou.
„Ja, dis ook weer waar,” sê Kosie. Dog op sy gesiggie is ’n onverskillige
uitdrukking duidelik leesbaar, en dis nie moeilik om te ontsyfer wat in
sy breintjie omgaan nie: As die mens moes gespaar gebly het om sy lewe op
die delwerye te slyt, dan was die redding van Noag en sy kroos ’n groot
fout.
„Juffrou,” en vlak voor haar word ’n handjie omhoog gehou van ’n
meisietjie met groot blou kykers en ’n maer gesiggie wat van ondervoeding
getuig, „Juffrou, glo Juffrou alles wat in die Bybel staan?”
„Hoekom vra jy dit, Miemie?” sê die onderwyseres sonder om haarself te
kompromiteer.
„Omdat my pa sê dis somar alles kaf, maar Mammie sê weer dis alles die
heilige waarheid. En al glo ek vir my mammie, want sy is so goed, tog wil
ek graag weet wat Juffrou dink.”
„Ek stem saam met jou mammie,” bevestig Juffrou.
Hier val ek in: „Waar is jou ouer sustertjie, Miemie?”
„Sy is siek, Meneer, baie siek. Sy laat groete weet en sal tog so bly
wees as Meneer net vir haar ’n oomblikkie wil kom besoek voordat Meneer
wegry. Sy het so vorentoe gekyk na die inspeksie, maar nou...” en hier
swem klein Miemie se oë in die trane.
„Nou goed. Sê vir Annie ek kom haar vanmiddag besoek en sy moet gou
gesond word.”
Dis snaaks dat ek vir Annie Losper so goed onthou het. Ek kon sedert
my vorige besoek nooit haar gesiggie uit my geheue verban nie. Uit ’n
allerarmoedigste huisgesin, het tog haar oë en die soet uitdrukking van
die gesiggie somar dadelik ’n mens getref. In haar klas was sy maklik
nommer een in elke opsig, en die onderwyseres, iemand van lang ervaring,
het my verseker dat sy nog nooit van te vore so ’n kind in haar klas
gehad het nie. Haar opmerking verlede jaar was dan ook snaaks genoeg: „Ek
glo nie sy is vir hierdie wêreld nie!”
Eindelik was die inspeksie afgeloop en kon die skool vir die dag sluit.
Die werk was baie bevredigend, en die juffrou en die kinders het ’n
pluimpie gekry.
Nou wag daar nog ’n paar lede van die Skoolkommissie; maar ook hulle
moeilikhede is ten laaste opgelos, en nou was ek net haastig om weg te
kom.
Onder al die werksaamhede van die dag het ek Annie glad vergeet.