Die taak van die onderwyser op die delwerye is seker nie een van
ongemengde genot nie. Die hele atmosfeer van die _diekens_, soos die
delwers sal sê, is nie juis bereken om skoolhou ’n plesier te maak nie.
Die toestande waaronder die kinders opgroei, is so hemeltergend benard
dat dit ’n wonder is dat daar nog van een iets teregkom. Die woning
bestaan gewoonlik net uit een lokaaltjie, wat so klein is dat ’n groot
man hom moeilik tussen die paar kaste en bankies waaruit die huisraad
bestaan, kan beweeg. In hierdie kamertjie word gekook en geëet en geslaap
en, moenie skrik nie, babetjies gebore. Dat baie kindertjies dus opgroei
sonder enige gevoel van skaamte of kiesheid of reinheid, kan niemand
bevreem nie.
Maar wat die werk van die onderwyser nog die meeste bemoeilik, is die
ondervoeding waaraan so baie delwerskinders ly. As ’n mens die bleek
gesiggies en die maer beentjies sien, dan bloei jou hart vir hulle, en
in die winter gaan dit eers swaar. Ek het meisies gesien wat net ’n dun
linnerokkie aan het sonder enige onderklere, en seuns wat byna nakend
loop. En op die kaal vlaktes waar die delwerye meesal gevind word, kan
dit raak koud word.
Die sanitêre reëling is uiters primitief, en epidemies van maagkoors of
ander besmetlike siektes is glad geen uitsondering nie. Die wonder is dat
daar nie meer mense jaarliks aan aansteeklike siektes op die delwerye
omkom nie, en temeer as verder in gedagte gehou word dat daar geen enkele
hospitaal op die _diekens_ te vind is nie!
Toe, leer nou kinders wat so sonder tug opgroei en daarby nog gedurig
honger ly. En tog verseker die goeie onderwyser(es) my dat die
delwerskinders gou aan tug en gesag gewend word. ’n Paar meesters beweer
selfs dat hulle liewer hierdie natuurkinders van meet af aan in hulle
klas wil hê as hulle meer-bevoorregte boeties en sussies. Hoe dit ook
al sy, ek het baie respek vir die onderwyser wat ’n sukses van sy werk
in die delwerskool maak en daar aanbly, en nie die eerste die beste
geleentheid te baat neem om daarvandaan te vlug nie.
Dis opmerklik hoe gou die delwer die goeie meester van sy swakker kollega
onderskei en dan vir laasgenoemde die lewe op die delwery onmoontlik maak.
„Waarom stuur julle hierdie nuwe onderwyser nie liewers terug
normaalskool-toe nie?” vra ’n delwer eendag aan my.
„En wat is daar dan verkeerd met hom?”
„Kyk, Meneer, ’n meester wat heeldag sy keel hees skree voor ’n klas,
kan nie alte veel beteken nie. As ek die hele liewe dag my kaffers moet
rondskree, dan sou hulle later nie na my luister as ek ordentlik met
hulle praat nie. En dis mos darem nie nodig om soos ’n mal mens te kere
te gaan as jy iets aan ’n kind wil duidelik maak nie. Party seuns sê die
meester is gek, terwyl ’n paar dogters dit weer so op hulle senuwees kry
dat hulle weier om langer skool-toe te gaan. My kind, wat aanstaande jaar
in sy klas moet kom, huil nou al as sy daaraan dink. Julle moet die vent
wegvat, anders raak hy een van die dae goed _opgedons_. Ek weet van ’n
hele paar delwers wat lus voel vir sy vel.”
Nou redeneer nou met so ’n man, temeer daar hy reg is. Wat skeel dit hom
dat hy die wet sal oortree as hy vir Meester _opdons_? Die natuurmens
redeneer nie, hy tree handelend op, en dis wonderlik hoe fyn sy gevoel
van reg en onreg ontwikkel is.
Soms egter kry Meester dit opdraand, omdat een of ander voorman op die
_diekens_ ’n ander sienswyse oor aanvanklike leermetodes toegedaan is.
„Jy moet die kinders die A, B, C leer,” het ’n vader die onderwyseres
een môre in die skool-lokaal voor al die kinders kom teregwys. „Wat vir
’n gemors is daardie klank-affêre? As ek vir my Kosie saans laat woorde
spel, kan ek hom nie volg nie. My kind moet net soos sy _pape_ voor hom
geleer word!” En toe die onderwyseres haar hieraan nie steur nie, moes sy
voor die skoolkommissie verskyn en wou hierdie opvoedkundige liggaam haar
met alle geweld dwing om Gert Janse se metodiek te volg en in die toekoms
toe te pas. Die kwessie is selfs na die Skoolraad verwys en, moenie lag
nie, ’n deputasie moes uitgestuur word om die skoolkommissie tot ander
insigte te beweeg.
Dieselfde onderwyseres het later deur haar ywer en toewyding so die harte
van die delwers gesteel, dat hulle stilletjies ’n paar lede van die
Skoolkommissie na die Onderwys-departement afgevaardig het om beleefd
te vra dat haar salaris met £100 per jaar sou verhoog word, mits sy
op Syferlaagte aanbly en nie binne tien jaar sou trou nie. En toe die
Departement aan hierdie vriendelike versoek geen gehoor gee nie, het die
Kommissie my „kaalkop die waarheid vertel en verseker dat beide ek en die
Departement net ’n _blooming wash-out_ was en deur generaal Kemp moes
uitgeskop word!” „En doen ou Kempie dit nie, dan sal ons so wragtiewaar
nie weer vir hom stem nie!”