III.

Die delwer het heelwat goeie hoedanighede, en as ’n mens geleer het om sy

minder beskaafde karaktertrekke nie raak te sien nie, dan begin jy hom

werklik liefkry.

Dit was al na drie toe ek kon vertrek, en ek het nog nie eers die tyd kon

vind om te eet nie. Ek het my derhalwe gehaas om by die huis te kom.

Voordat ek egter die delwery uit was, bars daar ’n vreeslike onweer los

wat my verplig om in die eerste die beste huisie skuiling te soek. My

gasheer was ’n man van sowat dertig somers en ongetroud. Aan alles in die

hutjie kon ’n mens merk dat hy beter dae geken het. Sy opmerking by my

binnekoms was dan ook vreemd genoeg: „Jy het seker gedink toe jy by my

deur instap:

„Man wants but little here below,

Nor wants that little long!”

„Jy het reg geraai,” antwoord ek, „maar wat soek _jy_ hier op die

delwery?”

„My naam is Fanie Renier en ek is ’n teruggekeerde soldaat wat vir reg en

geregtigheid onskadelik gemaak is,” sê hy op ’n bitter toon, „en wat toe

na die delwerye gestuur is met £20 om hier te kom vrek!... Maar het jy al

geëet?”

„Nee, ou broer, maar moenie moeite maak nie; kos is seker by jou nie alte

volop nie.”

Sonder om hom aan my te steur steek hy ’n Primus-stofie op, bak gou ’n

paar eiers, braai ’n stukkie vleis en sit vir my dit voor met ’n stukkie

droë brood en koffie.... Ek het later uitgevind dat hy my sy laaste

leeftog voorgesit het en dat hy die volgende dag sonder kos moes bly.

Vandaar dan ook die gesegde in Transvaal: „By ’n trekker en ’n delwer is

’n mens altyd welkom.”

Die weer het eindelik opgeklaar, en na ’n hartlike dankie aan my nuwe

kennis wou ek op die moter klim.

„Kyk hier,” sê hy, terwyl hy my aan die arm vat, „kan julle dan niks

doen vir die mense wat hier langs my woon nie? Die toestand van hierdie

famielie is allerellendigs. Die vader suip soos ’n vis, die moeder is

in die bed met ’n babetjie, die oudste dogtertjie lê siek, en die ander

kinders word totaal verwaarloos. Ek glo nie daar is ’n stukkie kos in

daardie huisie te kry nie. So ver ek kon het ek gehelp, maar op die

oomblik is ek self poot-uit. Kan jy nie nog ’n oomblikkie spaar om saam

met my te gaan kyk nie?”

Om die waarheid te sê, het ek maar min lus daarvoor gevoel, maar meer om

my gasheer tevrede te stel as om enige ander rede het ek ingewillig.

Die famielie het maar ’n paar tree van Fanie se huisie gewoon, en ons was

dus gou by ons bestemming. Nou het ek al gewoon geword om enige pondokkie

op ’n delwery as geskik vir menslike verblyf te beskou, maar so ’n krot

as waar ons nou voor staan, het ek nog nooit gesien nie. Hoe enige

persoon in so iets kan lewe, is vir my nou nog ’n raaisel! Die hutjie het

bestaan uit ’n klompie oopgevlekte parafienblikke wat op een of ander

manier aan mekaar getimmer was, met seilsakke hier en daar tussenin om as

vensters te dien.

Ons kruip hande-viervoet in, en ons oë moes eers gewoon word aan die

half-duister voor ons iets binne kon onderskei.

„Ruk daardie sak solank af asseblief,” sê ek aan Fanie, „sodat ’n mens

kan sien en asem kan skep.”

Hy doen dit op my versoek, en toe ontvou hom daar ’n toneel aan ons oë,

so hartverskeurend soos ek nog nooit van te vore gesien het nie of hoop

om ooit weer getuie van te wees nie.

In die een hoek op ’n klomp sakke wat oor droë gras gesprei is, lê die

moeder met haar babetjie, en onder by die voetenent op ’n paar sakke

die siek dogtertjie, wat niemand anders as Annie Losper was nie. My nuwe

kennis en ek kon ons met moeite omdraai in die kamertjie.

„Die dokter was vanmôre hier,” fluister Renier in my oor, „en hy sê daar

is nie hoop vir Annie nie. Haar liggaampie is deur gedurige ondervoeding

te uitgeput om die siekte af te skud.”

Dis my later meegedeel dat Renier ses maande na hierdie voorval nog altyd

doktersrekening afbetaal het.

„Dag, Annie,” groet ek so opgewek as ek kon onder die treurige

omstandighede, „en hoe gaan dit met jou, my kind?”

„Nie alte sleg nie, Meneer, maar ek was tog so spyt dat ek nie vandag

op skool kon wees nie,” antwoord sy met ’n flou glimlaggie, en haar

stemmetjie was so swak dat ek haar amper nie kon verstaan nie.

„Ag, moenie vir jou kwel nie, my kind; jy sal tog in ieder geval

oorgeplaas word na ’n hoër standerd. Hou maar vir jou stil sodat jy gou

kan gesond word. Aanstaande jaar hoop ek seker om jou weer eerste in jou

klas te sien staan.”

’n Hemelse glimlaggie speel om die bleek ou mondjie. Sy skud haar koppie

en nouliks hoorbaar fluister sy: „Aanstaande jaar sal ek nie meer op

skool wees nie.”

„Ag nee wat, Annie, jy is nog glad te jonk om uit die skool te gaan,” en

ek maak asof ek haar nie reg begryp het nie, „en die onderwyseres sal

dit mos nooit toelaat nie. Maar moenie meer praat nie; dit maak jou alte

moeg. Probeer liewer om ’n bietjie te rus.”

Ek moes nou my oor vlak teen haar mondjie hou om te hoor wat sy sê.

Gelukkig het Renier die moeder besig gehou en sy het dus nie gemerk wat

hier by haar plaasvind nie.

„Meneer,” en sy kyk my stip in die oë, „sal Meneer nie asseblief vir

my saggies Psalm 23 opsê nie? Ek het dit laas nog by die inspeksie vir

Meneer opgesê.”

Dis die eerste keer wat ek die rol van sieke-trooster en predikant moes

vervul, maar ek het dit gedoen so goed as ek kon. Ek het haar uitgeteerde

handjies in myne geneem en toe daardie mooi Psalm so goed as ek kon

opgesê. Toe ek klaar was, kon ek nog ’n flou _dankie_ hoor en daarna die

woorde: „Al gaan ek ook in die dal van die skaduwee van die dood, dan sou

ek nie kwaad vrees nie.” Toe breek die mooi blou ogies, die handjies

word koud, en Annie Losper was in ’n beter wêreld oorgeplant.

Die handjies het ek eerbiedig op die borsie gekruis, ’n sagte soentjie

op die voorkoppie gedruk, en toe letterlik die pondokkie uitgevlug. My

gemoed was te vol; ek kon die droefheid en hartseer ook nie aansien nie.

Uit die tent kom die angsgeskrei van ’n gebroke moederhart: „O, my God!

My kind! My kind!”

Buite het ek vir Renier gewag. Aan sy gesig kon ek sien dat ook hy

ontroerd was. Daar is geen woord tussen ons gewissel nie, net ’n warm

handdruk wedersyds, en toe het ek op die moter geklim en huis-toe gery.

Op die delwerye · 第 9 / 34 题