I
Dis heuwels, heuwels, heuwels net
sover 'n mens se oog kan speur:
maar heuwels sonder struik of gras,
en droewig-vaal soos as gekleur.
Langes die heuwels staan 'n ding
soos die houtgeraamte van 'n huis,
waarbowe rust'loos wiele draai
wat die waentjies optrek met die gruis.
Die heuwels is party al oud;
verlate en vasgereën party,
en storms het baster-klofies in
hul naakte ribbes ingesny.
Die ander is nog in die maak
van poeiergrond of gruis nog grof;
en as die wind die fynes vat,
dan trek daar tuite stof.
Die heuwels lyk soos duine wat
in blankheid rys aan verre strand--
dáár rys hul uit die blou-diep see,
hier uit die aard se ingewand.
Hier's ook 'n dreuning soos die dreun
van sagbewoë wêreldsee,
en winde wend, dan hier, dan daar
die dowwe dreuning met hul mee.
* * * * *
Maar waarom is die heuwels dan
so hoog en ook so bleek?
En waarom is die dreun so diep,
so droef nes een wat smartlik smeek?...
Hul sê die duine aan strand is die
grafheuwels van wie sterwe in see;
en daardie droewe dreuning is
die klag van wees en weduwee.
Maar hiérdie heuwels, heuwels dan
wat ook so hoog is en so bleek?
En hiérdie droewe dreuning dan
wat klaag soos een wat smartlik smeek?...