II

'n Agtal jare is weer verby.

Die boereplase is opgebou,

die platjies is weer huise nou,

die woeste leegte 'n landery.

Gou ruk weer alles in verband--

Suid-Afrika's 'n wonderland!

Maar net oom Gert se lewe kwyn.

Sy hart is nie meer in die werk,

sy wank'le bene is al onsterk,

en ook die plasie word te klein.

Die lewensreggie, kort van duur,

wag net nog op sy sterwensuur.

Wanneer hy die omtrek saans beskou,

hoedat die huis-tal groter word,

die vrydom steeds word ingekort--

dan sê hy: "Ja, daar is dit nou!

Die vroeëre boere-paradys

is nou één molshoop, groot en grys.

"Hier bly net hope en holtes lê:

die vreemd'ling kraak die neut in twee

waarvan hy ons net doppe gee,

maar al die neutvet dra hy weg.

Ons goud gaan na 'n vreemde strand--

Transvaal bly lê: 'n armmans-land!

"Die voorpos van die armes woon

in Blikkies-dorp se kronkel-sink

wat ver soos bottelstukke blink.

Hul lewe van 'n hongerloon

in huisies aanmekaar gepas

en jaartjies vol van steenkool-as.

"Ag, arm Transvaal, waarvoor ek vrees,

jy't Afrika voorheen geroer

tot wakkerskudding van die boer--

sal jy nie nou die laaste wees?

Jou heil'ge eersgeboorte-reg

word op die mark te koop geleg."

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 39 / 45 题