XVII

Die oorlogsfakkel is gedoof,

en die oorlogskamp word oopgesluit.

Die nuwe tye, hooggeloof,

kom met gejubel, lank en luid.

Die burgers kom van oral an

en raak al met hul lot versoen.

Maar net oom Gert, gebroke man,

wat sal hy in so 'n wêreld doen?

Want ook sy troue vrou is dood--

die lewe van 'n handjie meel

en van 'n brok genadebrood

was haar as boerevrou te veel.

Willem, sy skoonseun--hy't vir hom

die boerdery eers waargeneem--

is skout, en het nie teruggekom.

Hy's seker nou totaal vervreem!

Oom Koos weer het sy grond verhuur,

en trek die hoë Bosveld in,

die Randse lewe is hom te duur

en skaadlik vir sy huisgesin.

Maar Dina--waar is sy en wat?

sy die altyd skone boerevrou?...

Geheel verslingerd in die stad

en will'ge prooi van vreemdes nou!

Wanneer oom Gert van Dina hoor,

verbysterd al deur smart op smart,

dan roep 'n dubb'le stem: "Verloor!"

en dubb'le swaard gaan deur sy hart.

Geen antwoord is daar op die stem

wat vlymend deur sy siel nou gaan;

maar as die leed te vinnig klem,

roep hy: "Dit het die stad gedaan!"

[Illustrasie: "Dié vaal-wit hopies dek hul bei, / vader en dogter, sy

aan sy!"]

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 37 / 45 题