XVI

Verlore!...

Die dag van stryd het mooi begin,

die burgers trek verwinnend in,

en boerename 't binnekort

oral 'n glorie-klank geword!--

'n Pragtige môreglore!

Maar onder in oom Gert se hart

kom effens al, nog diep-verward,

'n fluisterstem na vore:

Verlore, verlore!

Verlore!...

Die dag van stryd begin so goed,

Suid-Afrika lê aan hul voet...

Die Boer moet Afrika regeer!

Gryp gou, voordat die kans kan keer!

Buig uit die grense na vore!...

Maar nou kom daardie fluisterstem,

diep in oom Gert se bors geklem,

so duidelik na vore:

Verlore, verlore!

Verlore!...

Rookwolke nader uit die suid

en sprei hul oor die aard-breedte uit;

oor Drakensberg se veil'ge top

skuif swaar 'n donderonweer op;

die storm sing in wilde kore!

Oom Gert se stemme, in hom bekneld,

kom nou daar buite op berg en veld

al donderend na vore:

Verlore, verlore!

Verlore!...

Oom Gert die kon nie verder vlug,

en sit nou, met sy vrou, te sug

agter die ysterplate vas,

daar waar hy eertyds vryman was

en sy vryheid is wedergebore!

Die fluisterstem daarbinne kom

nou deur die ysterplaat weerom

as huilende windstem na vore:

Verlore, verlore!

Verlore!...

Die dag van stryd hou lank nog aan--

dis of die son nou stil gaan staan.

Maar eindlik roep hul rond: "Verby!

dis vrede, vrede weer, wees bly--

al is die vryheid verlore!"...

Dan keer die wilde stem as sug

weer in oom Gert se hart terug;

en dring dan weer altyd na vore:

Verlore, verlore!

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 36 / 45 题