XV

So sing die jonges vol van vreugde,

maar ag, oom Gert se hart is seer

as hy straks diep en dieper peinsend

gaan langs die slagveld van weleer.

Dáár lê Majuba, donker kleurig,

sy sye een en al terras;

dis of die berg van alle eeue

vir wonderdaad geskape was.

Daar lê Laingsnek; dis of Gods hande

dit vir 'n skanswerk uit wou bou.

En daar's Ingogo's kronkelbedding--

net om die vyand op te hou.

Daar's nog die wonderlike hoeke,

net om die vyand vas te keer;

maar ag, oom Gert voel nou so anders,

sy hart is onverklaarbaar seer.

Hy sien nou oral groot kanonne,

hy weet nie of die ding sal gaan.

Die treine voer nou alle soorte

van wapens uit die hoofstad aan.

Daar is hom ook so baie mense,

en baie goed word aangevoer;

voorheen was daar so min maar nodig:

'n ryperd, biltong en 'n roer.

Dis nodig, ja, die tyd die vorder,

en daarom swyg hy maar en kyk.

Maar heel die Amajuba-wêreld,

alles wil hom so anders lyk.

Tog leef hy weer, die troue krygsman,

al trek hy nou maar same net:

'n oorlogsperd die stamp en runnik

wanneer hy hoor die krygstrompet!

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 35 / 45 题