Kom, burgers, trek die perde reg:
nou vrou en kind goeien-dag geseg!
Jongkêrels, los die nôi se hand;
en seuns, verlaat jul moeders, want
daar gaan 'n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels bymekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!
Die regterhand gryp die visier,
die bors oorkruis 'n bandelier;
die spore in die sonskyn blink,
stiebeuels teen mekaar weerklink,
die ketel aan die saal rinkink.
Kom, burgers, hou nou bymekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!
Laat aan die trippelaar sy pas,
maar hou die vuurge hingste vas.
Die agterstes moet ingalop
tot binne-in die ruiter-trop--
die ponie en die bossie-kop.
Kom, burgers, ry so bymekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!
Trek burgers, almal nou geteld,
al voort maar deur die wye veld,
en of jul al omlaag verdwyn
of op die heuwels weer verskyn--
wys altyd weer die slingerlyn.
Kom burgers, trek so bymekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!
Jaag, burgers, jaag oor rant en rots
wanneer jul teen die vyand bots.
Ruk in, spring af en pos gevat
aan die onwrikbre ryperd-blad.
Mik fyn, kyk waar die stoffie spat!
Staan, burgers, staan dan bymekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!
En moet jul val, val dan met eer,
met die oog die vyand toegekeer;
val op die grense, man en perd,
die oue vierkleur is dit werd,
en die eerkroon wink al uit die vert.
Val burgers, val dan bymekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!