XIII

Is 't oorlog?... In oom Koos se huis

woel almal net om klaar te kry.

Daar word geslag weer en gebak,

en buite voor die agterdeur

trek reeds die seuns die bokwa reg

om op te pak.

Die harte voel nie lekker nie,

die woorde het angstig-min geword--

soos steeds by donker voorbesef,

by die vergeefse angsgevraag

van hoe en waar

die ontwaakte lewenslot sal tref.

Lughartig praat 'n enkele seun

hoe hy die Engelsman sal skiet,

maar moeder maan: My kind, my kind!

Die seun wyk willig vir die woord,

want, ja, daar was 'n kleinigheid

wat hy nog aan sy saal wou bind!

Dis amper klaar... Daar kom hul aan,

die burgers van die omtrek, want

oom Koos die is nog veldkornet...

Straks staan hul, teuel in die arm

en met geboë hoof,

want een gaan voor in smeekgebed.

Die vrouens staan effens opsy,

met arrems oor mekaar gevou,

nou dat hul taak is afgedaan.

Nou kan hul eers hul smart besef,

en enkle droog met voorskoot-punt

al die eerste oorlogstraan.

Dan skuif en skok, met gang en draf,

die burgers op hul perde weg--

dit lyk somaar 'n mengelklomp!

Maar tussen hulle flikker-blits

geweldig in die lenteson

die blinkgemaakte mauser-tromp!

Oom Gert wat hom meer tuis voel by

dié ruiterskaar--hy het oom Koos

sy krygsmansdiens al aangebied--

die luister hoe die jongspan in

hul oorlogsblydskap sing

die klanke van 'n oorlogslied:

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 33 / 45 题