'n Warrelwind, die dagspook wat
so plots ontwaak,
en plots op straat of in die pad
sy dans-swaai maak--
is hy nie soms die bode van
'n storm wat naak?
Papiere, blare, voddegoed,
van stof deurdring;
geswaai, geruk, soos in 'n tregter
opgewring,
kry skielik lewe en asem, hul
dans in 'n kring.
Is dit 'n gees, haastig gedaal
uit hoër lug,
wat van 'n naadrende onheil bring
die voorgerug?...
Kyk hoe die loom-lui stof geswind
sy voet ontvlug!
Of is dit dalk 'n toorheks wat
puur uit 'n grap,
op straat al in die rondte wals
met ligte stap,
en met die voddegoed en stof
kalkoentjies trap?...
* * * * *
Rumoer'ge warr'ling langs
die stof-vuil straat;
binne die sinkgebou staan al
'n mense-plaat,
en op die platform staan 'n klomp
klaar om te praat.
Uit alle wêreld-oorde saam
gewarrelwaai,
lyk hul oom Gert soos hane wat
staan koningkraai;
wanneer hul veg vir stemreg met
'n groot lawaai.
Intussen pak die stormwolk al
op Tafelberg;
en anderkant die water is
'n leeu vererg
wat nog in sagte woorde-klou
sy naels verberg.
Oom Gert is moeg van die tumult;
ryp is sy plan:
hy self met honderd ander storm;
gryp pote van
die stoele, en slaan op kop en lyf
so wat hul kan.
Die helde vlug na alle kant
die deurpoorte uit.
Van lae galery vlug hul
deur vensterruit,
totdat 'n al te dikkert daar
op half-lyf stuit.
Oom Gert laat hom dit dugtig op
sy sitplek voel.
Die dikkert skreeu sy buitevriend:
"o Pull, John, pull!"
Oom Gert die slaan; die dikkert roep:
"o Help, John, pull!"
[A] 'n Beskrywing van die stemreg-agitasie.