Blink is die saal van lampelig;
gloed-helder blink hulle aangesig.
Warm is die saal van somergloed;
warm en onstuimig die hartebloed.
En kringlend sweef daar bont deureen
die danseresse op ligte been.
Maar Dina is die skoonste as sy
haar liggaamskoon in dans uitsprei;
en Willem, die gewenste man,
sien van die kant die skouspel an;
terwyl hom loof 'n kring van mans
dat hy só 'n vrou leen vir die dans.
Daar word gebuig, gevra, geswaai,
die arrems in mekaar gedraai.
* * * * *
Dan rus oom Gert, in slaap gesink,
waar net Gods sterre in stilte blink.
Rus?... Nee, hy sien op donker muur,
in helder letters van hemelvuur:
"Geweeg, geweeg, te lig bevind!"
Dan roep hy: "Ag, my arme kind!"
Sy vrou die stoot hom saggies aan,
maar berg ook self 'n snik en traan.
* * * * *
Dof word én saal én walsgeluid,
en langsaam gaan die lampe uit...
Leeg is die saal... Op tafelblad
staan leë bottels in hul nat.
En eind'lik, ná die sondenag,
staan weer daarbuite 'n ander dag.