IX

Die nuwe wêreldstad die lê

tussen die twee families in.

Een kant is Willem en oom Gert,

en ander kant daar boer oom Koos

nog met sy talryke gesin.

Die wêreldstad lê tussen hul,

want, ja, die vriendskap is geskeur.

Is dit miskien die profesie

van wat op later dag nog met

die hele nasie sal gebeur?...

Dina het Engels gou geleer,

en ook so mooi leer sing...

Sy het verlaas oom Koos besoek

om hom saam met sy huisgesin

tot vriendskap met die stad te dwing.

Sy praat van meegaan met die stroom,

van nie so alles te vermy.

Maar nee, oom Koos het vas besluit

dat hy met sy geslag

op die ou-ou boere-pad sal bly.

Sy sing oplaas vir hul 'n lied

om so hul harte nog te vang.

Oom Koos die volg dit met 'n sug

en dink aan beter tyd terug

wanneer hy hoor die mode-sang:

X

"Stad waar die ligte newels swewe,

waar ligte luggies skitter-bewe;

stad op 'n hoogland uitgebou,

ver-sigbaar by die hemelblou--

Johannesburg jy's waarlik ja

die glorie van Suid-Afrika.

"Van digte donkerheid omgewe

het Boer en Kaffer hier gelewe;

hul kon die goudstraal nie ontdek

wat die beskawings-lewe wek;

geen boeretent of ossewa

kon lig bring vir Suid-Afrika.

"Geen trekker bring hier nuwe lewe,

maar deur 'n hoër drang gedrewe,

kom pionier en delwer aan

wat goudvonke uit die rotse slaan.

Johannesburg die was weldra

die ligpunt van Suid-Afrika.

"Johannesburg is hoog van strewe,

wat laag is word nie neergedrewe,

maar naturel en trekker-boer

word uit hul onkunde opgevoer.

Johannesburg is waarlik ja

die glorie van Suid-Afrika.

"Johannesburg is hoog verhewe,

die koningin uit lig gewewe;

haar goue beeld sal wonders doen,

sal immer ophef en versoen.

Johannesburg sal steeds hierna

die glorie wees van Afrika!"

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 30 / 45 题