Bo-op die grond rys al 'n stad
wat op die heuwels skitter-blink;
dit was 'n reeks van kampe eers,
getimmer uit hout en sink;
maar nou 'n wêreldstad meteen,
en massas delwers trek daarheen.
Oom Gert het so iets nooit gesien:
die suiwer lug is troebel-vuil,
en helder stroompies van weleer
dam nou in donker modderkuil.
Die grond voorheen so skoon en rooi
is nou met steenkool-as bestrooi.
Al bo die stad, en verder, sweef
'n swart-deurrookte deins'righeid;
dit lyk net soos 'n veldvuur wat
hom uitsprei oor die velde wyd.
En saans dan slaan 'n rooi gegloor
soos veldbrand al die heuwels oor.
In boeredorpe het hul eers
'n kerk gestig op wye plein,
waarom vergader, hier en daar,
die grasdak-huisies, laag en klein.
Maar nou word eers, en wondergou,
'n groot hotel daar opgebou.
Daar is geen Son- of Maandag meer;
dit vleg en kronkel deurmekaar,
en saans, nog lank na middernag,
het die gewoel nog nie bedaar.
Die wêreld maak oom Gert nou dom
wat selde in die stad meer kom.
En as hy in die sonlig sien
hoedat die stad lê flikker-beef,
of saans bemerk die dof-rooi gloed
wat opwaarts na die hemel streef,
dan dink hy: 's Dit nie wat ek lees
van Babilon en van die Bees?