laat mevrou Kibert die ander maar verbystap wat sterker is as sy. Tog is
sy nog een van die eerstes, want sy hou nog haar ou gewoonte om altyd
baie te vroeg op ’n plek te wees. Sy gaan heeltemal apart sit, en sonder
haarselwe daar af in gebed. Sy voel groot behoefte aan die goddelike
beskerming, en smeek dit af met haar hele hart. Vandag nog sal sy haar
bittere eensaamheid moet ingaan. Die oomblik het gekom dat sy haar
laaste kind moet afgee, die enigste wat sy nog in haar arms het en wat
God tot dusver gespaar het. Om drieuur sal Paula en haar man vertrek van
Chamberie om na hul broers te gaan in Asië.
Die huwelik is ’n paar maande gelede voltrokke. Die jong gehude paar
het toe die eerste weke van hul huwelikslewe gaan deurbring in die
onvergelyklike skone gedeelte van die land—die fris-groen vlakte van
Chablais, aan die meer Leman, omgewe deur hobbelige hoë berge, tot aan
hul toppe met bos begroeid—verderaf skerpgepunte koppe, bedek met ewige
sneeu, helder-wit afstekend teen die klaarblou lug, saans nagloeiend in
die lig van die ondergaande son. Daar, in die geseënde oord, waar die
lug helder deurskynend is, skenk die fyne kleuroorgange van die natuur
’n lieflike bekoorlikheid aan die dae, wat tog alte gou verbygaan. Die
siel moet daar wel tot homself inkeer. Die hemelgewelf spieël hom af in
die water van die meer, wat nou bleekblou en dan weer donkerblou is. Die
grond aan die oorkant lyk huiwerig om water en lug te skerp van mekaar
te skei en werp ’n ylblou missluier op om die skeidingslyn te versag.
Veral die najaar verleen ’n roerende skoonheid aan hierdie towerland,
wat die byna wegsterwende tinte harmonies laat samesmelt, tot tempering
van die somervreugde, wat te oorvloedig daarop uitgestort word; en die
skaterlag van water en weilande, vlaktes en berge, word omgesit in die
pynlikverlangende glimlag van die wellus wat hom swak voel en darem nog
wil geniet, en nie ontsien om in ’n wrange en bedwelmende mengsel die lus
tot lewe en liefde saam te vat met die voorgevoel van die naderende dood
nie.
Paula en Jan ondervind die betowering van die najaar. Hulle asem die
wrede bekoring daarvan in. Hulle sien hoe die blare van die bome
duisende skone verbygaande kleure aanneem, hoe die wingerde tot aan die
waterkant ’n opskik van goud aantrek, om in ryke skoonheid te sterwe. So
is hul jeug reeds gewaarsku, hulle voel hoe onstandvastig die liefde is
wat haar doel in haarself soek, en, deur liefkosing te beskou as dagtaak,
haar duursaamheid nie weet te grondves op ’n samelewing van wedersydse
vertroue en ’n begeerte tot stigting van ’n gesin nie.
Hulle keer terug na Maupas as die oeste af is en die lande en
vrugteboorde die mense verlos van landbousorge. Paula hou vas aan haar
moeder, as om ’n dreiende toekoms te vergeet. En die toekoms weeg
swaar op die weinige ure wat die twee nog verenig. Mevrou Kibert moes
haar dogter wel vertel dat sy besluit het om tuis agter te bly. Jan
is so goed om sy hele plan van vertrek te wil opgooi. Die karakter en
bekwaamheid van die jongman, die geeskrag van die jongvrou, die geldelike
omstandighede van hul famielie weerskante—alles wys daarop dat hulle na
die kolonies moet gaan om hul kragte behoorlik te kan ontwikkel en ’n
nuwe tuis te wen. Etienne hou ook altyd meer en meer aan dat hulle moet
kom, dat sy onderneminge goeie gevolge het en ’n groot sukses waarborg.
Hy smeek sy suster om hul moeder ook mee te bring, om daar, as voorwerp
van hul gesamentlike sorge en liefde, ’n gelukkige oudag te slyt. Beleef
maar beslis weier mevrou Kibert. Ek is tog alte oud, sê sy as Jan en
Paula by haar aanhou. Ek wat nog nooit verder gegaan het nie as tussen
Maupas en Chamberie, hoe sal ek so ’n lang seereis kan verdra? Ek sal
net lastig wees vir julle. Ek bly hier, en beurt om beurt kom julle by
my kuier. Julle sal my vertel van my kleinkinders wat ek nie ken nie, en
wat ek liefhet, soos ek my eie kinders liefgehad het voor hul geboorte.
En dan glimlag sy om hul aandag af te trek van haar oë wat vol trane is.
Maar in stilte dink sy by haarself: Ek voel dat God my roep. Nou, nou
eers is my taak volbrag. Ek is digter by die dode as by die lewende. As
ek alleen is, sal ek meer my man opsoek en my klein Thérèse: hulle wag
vir my in die kerkhof. Veral ook sal my hart aan Marcel dink, wat daar
vèr in Afrika rus. Nee, ek sal nog net één reis maak, en dit sal wees om
by dié te kom wat ek liefhet. Dié wat nog lewe, het my nie meer nodig
nie. Van vèr sal ek vir hulle bid—eers van hier en dan daar bo. Ek kan
niks anders meer doen nie . . . .
Paula doen al wat sy kan om haar ma elke dag liefde te bewys. Hulle het
tog so lange jare saam hul brood met trane geëet. Die jongvrou maak haar
byna ’n verwyt van haar eie geluk, nou dat sy op vertrek staan; en haar
ma wil haar maar altyd die geluk nog meer laat voel.
—Ek merk waar jy aan dink, sê Jan, as hy trane sien in Paula haar oë.
—Ek het jou lief, Jan, antwoord sy, ek het jou lief bo alles in die
wêreld. Maar sy . . . .
Hy kus haar, en antwoord:
—Ek is nie jaloers nie, Paula, en ek begryp jou smart so goed . . . .
Jan het self ’n plan gemaak omtrent die ou vrou haar woning as hulle weg
sal wees: in die winters sal sy op kamers gaan woon in Chamberie: sy sal
daar minder afgesonderd wees as op Maupas. Sy het teen-gestribbel, en
gesê:
—Julle moenie uitgaaf aan my hê nie.
Namate die dae verbygaan, voel Paula haar moed sak, terwyl die moed van
mevrou Kibert al groter word. As ’n soort van verheerliking dra sy nog op
haar diep-gerimpelde voorhoof, in haar helder oë, op haar bleek wange,
die afglansing van haar siel. Saans praat sy met die twee kinders oor hul
toekoms, en stort in hul harte ook haar eie vertroue op God—die vertroue
wat heeltemal aan die Voorsienigheid oorlaat al wat voorbereid is met
beslistheid, moed en deug. Altyd sal hulle wel dink aan hierdie lering,
deur eie edele voorbeeld so aanskoulik gemaak.
So teen mekaar aangedruk, soos reisigers deur ’n onweer bedreig, smaak
hulle nog die geluk van hul laaste samesyn, tot die droewige afskeidsure
aanbreek.
Jan en Paula slaap nog toe mevrou Kibert stilletjies uitgaan om by haar
God die hoogste krag te gaan soek wat sy netnou nodig sal kry.
So sit sy dan in die kerk. Sy het meer behoefte aan moed as aan kalmte.
Voor die uur van smarte slaan, soek sy krag en geduld by Hom Wat alle
menslike ellende gedra het sonder kla.
Mevrou Kibert sit ’n bietjie apart in ’n donker hoekie, verlore in haar
eie oordenkinge. In gedagte gaan sy die laaste jare van haar lewe weer
oor, en vind soveel om die Heer voor te dank. Het Hy haar nie die seën
geskenk waar sy so lank met besorgdheid om gesmeek het nie—die geluk van
haar dogter? Paula, haar eie Paulatjie—sy het haar wel nie die liefste
van al haar kinders nie, maar sy is die sagste, en was haar steun in die
beproewinge van haar oudag; hoe dikwels het sy nie die Here Se seën op
haar afgesmeek nie, want op Paula veral het die verdriet van die famielie
neergekom! En om haar dogter nou die afgebede seën te skenk, verskeur
die Heer die hart van die moeder. Maar dewyl die Heer dit nou vir so’n
prys wil doen, hoe sou sy so laf kan wees om te murmureer teen Sy wil
en weldaad, hoe kan sy dit regkry om die eensaamheid te verwens wat sy
vanaand sal ingaan soos in ’n vroegtydige dood? En sy sê in haar gebed:
—Nee, nee, ek sal myself nie beklaag nie; ons is tog maar te gou
om soiets te doen tot verontskuldiging van ons swakheid. My God, U
ondersteun my in my behoefte. Vanaand wil ek sterk wees. Hulle sal my
nie sien ween nie. Ek sou tog nie met hulle kan saamgaan nie. U het
my gewaarsku dat my kragte uitgeput is; en dan, my werk is gedaan.
My kinders sal dit voortsit beter as ek kan. Ek dank U dat U my, in U
goedheid, nog die geluk van my dogter laat sien het. Ek dra haar op
aan U beskerming gedurende die lang seereis, en ook haar man, wat ook
my kind geword het . . . . Ek dra ook aan U hoede op, my God, ’n ander
lewentjie wat nog in duisternis en onsekerheid verkeer, die lewentjie van
’n klein wesentjie wat nog moet kom, wat my oë nooit sal sien nie, wat my
hande nie sal verwelkom in die wêreld nie. Gee daaraan ook gesondheid,
verstand, wilskrag, en onderwerping aan U heilige wil. Gee hom ’n lang
lewe, opdat hy U lank en goed kan dien. Laat hom volhardend en sterk wees
in wat goed is; laat hom nie bang wees om te lag nòg om te ween nie; laat
hom werklustig wees; en laat hom word vir sy moeder wat sy vir my gewees
het . . . .
As mevrou Kibert haar hoof ophef van haar hande, waarop sy vooroor geleun
het, sien sy dat die priester klaar is om die diens te sluit. Sy verwyt
haar dat sy nie na die preek of gesang geluister het nie. Maar sy vind
dat sy in haar gebed die kalmte en vrede gevind het wat sy kom soek het.
Die mense staan op van hul sitplekke en verlaat langsaam die kerk. Mevrou
Kibert stap ook uit op die sneeu, in die triestige winterdag, wat haar
sal sien terugkom van die stasie . . . . alleen.
As sy terugkom op Maupas, en deur die gang stap, wat vol kiste en koffers
is, vind sy haar ou meid Marie besig met die ete klaar te maak.
Meneer het uitgegaan, sê sy, om ’n rytuig te bespreek.
—Sonder te eet? vra mevrou Kibert—sorgsaam soos altyd.
—Hy wou nie.
—En mevrou?
—Watter mevrou? Ag ja, juffrou Paula. Ek kan tog nie gewend word om haar
mevrou te noem nie . . . . is dit nie snaaks nie? . . . . die juffrou is
in haar kamer . . . . As ’n mens oud word, dan vergeet jy ook alles, en
ek is niks meer werd nie.
—Dit kan ook nie anders nie, Marie: ons is altwee oud.
Maar albei vergeet wat hulle te doen het en dink aan die vertrek wat op
hande is; die ou bediende haal haar bril af en stryk haar hand oor haar
oë.
Met haar bewende hande wil mevrou Kibert nog vir die laaste keer haar
dogter haar sjokolade klaarmaak soos sy daarvan hou. Dan gaan sy luister
aan die kamerdeur, en hoor Paula sug. Sy klop, stap saggies binne, en
vind Paula in trane.
—Ma, ag ma, moet ek regtig weggaan! Ek het geen moed meer nie.
Mevrou Kibert sit die koppie neer, en lê haar gerimpelde hand op die
voorhoof van haar dogter:
—My liefste, ek wou jou vanmôre nog bedien, en ek het van hierdie
broodjies laat kom, wat jy so graag eet.
Sy buig vooroor, en terwyl sy Paula kus, sê sy saggies:
—Hou moed, Paula, God wil dit so! Die liefde van jou man gee my die
versekering dat jy gelukkig sal wees. En moenie oor my ongerus wees nie.
Maar die trane hou maar aan. Jan kom binne, en sien die twee in mekaar se
arms. Hy dink dat dit Paula is wat moeite doet om haar ma te troos.
—Ons kom weer, ma, sê hy. Ek beloof u, ons kom weer. Ander jaar kom
Etienne en sy vrou kuier, en dan kom ons die jaar daarna.
Maar as die ou vrou opkyk, merk hy met verbasing dat sy nie ween nie, en
dat dit sy is wat moet troos.
—Waar sal ek in dié twee jaar wees? dink sy. En kalm en ernstig antwoord
sy:
—Jan, jy moet jou vrou tog baie liefhê. As julle vèrweg is, dan sal dié
gedagte my krag gee. God is goed en Hy waak oor ons. Die skeiding sal die
band tussen ons hegter maak. Ons gedagtes en ons harte bly één. As daar
sekerheid van liefde is, dan beteken afstand tog maar min.
Met dié plegtigheid, wat sy waarskynlik nie opsetlik aan haar woorde gee
nie, gaan die ou moeder aan:
—Bemin mekaar trou. Moenie jul liefde maak tot ’n vervelende en
verswakkende tederheid nie. Put daaruit, en uit jul wedersydse vertroue,
die wilskrag en die volharding vir jul lewe. Kyk vooruit. As julle
agteruitkyk na ons dode, na my, moenie dat dit julle ontmoedig nie,
maar laat dit strek tot beter begrip van jul jonkheid en van al wat God
daarvan verwag.
Jan en sy vrou het haar hande geneem en haar spraakloos aangehoor.
—Ja, sê sy nog daarby, asof sy in die toekoms sien, kyk vooruit, na jul
planne, na jul toekomstige kroos. Gee aan jul seuns en dogters dapper
harte, en laat hulle ook voor hulle uitkyk, met oë wat uit jul eie
verlede krag sal put om te sien.
Hulle ween albei, terwyl die ou moeder doodkalm bly. En sy besluit:
—Ek seën julle. Vir jou, Paula, om jou vrome waaksaamheid oor my, en om
jou sorg vir jou broers. En vir jou, Jan, om jou vriendskap vir Marcel,
en om al die geluk wat ek in daardie twee oë lees, al is hulle vol
trane . . . .
Mevrou Kibert gaan met hulle saam tot by die stasie. Hulle ontmoet daar
bowendien nog ’n paar vriende wat die jong vertrekkende paar kom groet.
Jan se oom is siekerig, maar hy het die bediende gestuur met ’n ruiker
blomme. Alida staan opsy—bleek en skraal, hoewel sy ’n dik pelskleed aan
het: sy wag op ’n geskikte oomblik om Paula te groet. Paula sien haar
staan, en gaan na haar toe; ’n oomblik aarsel die twee, en dan is hulle
in mekaar se arms. Paula sien hoe haar ou skoolmaat lyk, en vra saggies:
—Nog altyd so verdrietig?
—Altyd nog. Maar jy Paula?
Terwyl hul saam na die kant van mevrou Kibert stap, vra Paula snel aan
haar:
—Alida, bewys my tog ’n vriendskap: gaan tog af en toe na ma toe, hou ’n
oog op haar, en skryf my hoe dit met haar gesondheid gaan.
—Ek beloof jou dit.
Alida bly alleen staan, en bewoë stap Paula terug na haar ma en Jan. Soos
altyd as die oomblik van afskeid kom, is die laaste woord van die ou vrou
’n gebed:
—Dat God julle beskerm!
Maar as die trein wat hulle wegneem, verdwyn het, raak sy haar voorhoof
aan en voel dat dit yskoud is, en sy dink:
—Dit was hoog tyd. My moed was op.
Sy is verplig om op die bank te gaan sit, in die derdeklas wagkamer. Die
reisigers wat kom en gaan, is besig met hul reiskaartjies en hul koffers
en sien nie eens die ou vrou in haar rouklere wat daar alleen sit en huil
nie.
Sy het weer geword ’n arme, swakke, lydende sterfling. Maar sy het darem
die krag besit om tot die laaste oomblik haar wanhoop verborge te hou vir
haar kinders.
In die trein druk Jan sy wenende vroutjie aan sy bors. Sy leun haar
hoof teen die hart waaraan sy haar heeltemal oorgegee het, en laat aan
haar trane ’n vrye loop. Hy begryp dat hy maar stil moet bly. Hy streel
net saggies haar wang met sy hand, en nou en dan buig hy vooroor om ’n
eerbiedige kus te druk op die oë waarvan hy die trane nie kan stuit nie.
Sy lig nou haar hoof op, en Jan verseker haar:
—Ons kom eendag terug, Paula.
Sy skud haar hoof, twyfelagtig, of wil nog nie vertroos word nie.
—Jy is my alles, Jan, fluister sy; en dan begin sy weer te ween.
Hy begin nou oor haar ma te praat:
—Paula, wat ’n voorbeeld gee sy ons van moed en selfopoffering. Dat ons
dit tog nooit vergeet nie! En as ons dit haar miskien moet nadoen, dat
ons dan steeds aan haar terugdink. O, dat dié wat uit jou gebore word,
soos sy mag wees! Dat hy ’n ferm en dapper hart mag besit! Dat hy sy
bestemming aanvaar sonder sy hande slap te laat hang, opdat hy, deur
nie bang te wees vir die lewe nie, die dood ook nie vrees nie: dis net
onvrugbare siele wat terneergeslae word deur die gedagte aan die dood.
Dat God ons kind beskerm, en ook haar vir wie ons daar agterlaat met
verskeurde hart.
—Ja, antwoord sy nou, dis ook my gebed. Dis God wat aan ma die
tevredenheid en berusting gegee het wat sy op my wou oorbring.
Haar jong lewe het menige uur van smart en rou geken. Maar sy dink dat
hierdie nog die swaarste is. Sy dink dis die dood wat sy voel. Maar dis
die lewe—die lewe in sy verhewenste roering—wat sy voel in die diepste
van haar siel. En dis dié hoogste lewe wat haar liefde louter, en dié
heilige vlam van moederlike opoffering waarvan sy die krag meer en meer
sal ondervind. Eendag sal sy verstaan dat die edelste, innigste, volste
lewe bestaan in algehele oorgawe van eie hart, en in selfopoffering.
Die trein stoom verby die eikebos van Maupas; en Jan en Paula kyk nog
’n keer uit oor die welbekende ou landskap. Die takke van die bome
dra sneeuvlokkies, soos klein wit blaartjies wat die ondergaande son
tempteer; en die ryp op die wingerdstokke blink in die aandstrale soos
skitterende kantwerk.
Dáar, en nêrens anders, het sy haar lewe deurgebring totnogtoe, dáar het
sy kennis gemaak met die lewe, met die dood, met die liefde. En sy dink
aan ’n jong, trotse dingetjie wat ’n hoë borsie opsit omdat sy haar ma
oppas.
—Soen my, sê sy aan haar man.
Hy omarm haar, en voldoen aan haar wens. En dié kus verwek ’n heilige
ontroering in hul wese, want hulle voel daarin nie alleen ’n tere
vereniging van hul liggame en siele nie, maar ook haar lange, vrome
toewyding aan haar moeder; hulle voel ook die geheimsinnige vooruitsig op
die betekenis van hul vereniging vir hul ras en nasie; dit vermeerder hul
lewenshoeveelheid en deel aan hul liefde iets onsterfliks mee . . . .
X.
KALME BERUSTING.
Met moeite staan mevrou Kibert op van die bank waar sy gaan sit het om te
huil. Sy sien al die vreemde mense heen en weer verbystap, en wil haar
droefheid vir hul oë verberg. Sy dink by haarself:
—Hier kan ek tog nie veel langer bly nie.
Sy staan eindelik op, en moet aan die muur vashou om te bly staan. Sy
vra haarself of sy wel ooit nog krag genoeg het om die huis te bereik.
Sy voel _nou_ eers haar swakheid en ouderdom soos ’n sware drag op
haar skouers. Sy dink terug aan die dag toe sy aangesukkel het in die
eindeloos-lange laning van Chenée. Aan die deur van die stasie, dink sy
met swarigheid aan die lang ent pad huis-toe. Gewend om nooit koste vir
haarself te maak nie, dink sy daar nie eens aan om een van die huurrytuie
te neem wat daar staan nie.
Stadigies begin sy aan te stap, leunend op haar sambreel, voetjie vir
voetjie, om nie te gly op die sneeu nie. Die moeite wat sy haar moet gee,
trek haar aandag van haar droefheid af. Maar elke keer as sy ’n oomblik
stilstaan, fluister sy die naam van Paula—Paula, wat haar nooit meer tot
steun sal wees nie. In gedagte volg sy haar twee geliefde reisigers, wat
haar geluk wegdra.
—Hulle is nou al dáar of dáar . . . .
As sy oor die bruggie gaan van die troebele, wild-tuimelende spruitjie,
bly sy ’n oomblik staan en leun teen die brugreling om asem te kry. Daar
hoor sy ’n sagte stem roep:
—Mevrou, wil u my toelaat om met u mee te gaan?
Dis Alida, wat gesien het hoe die ou vrou aarselend en sukkelend die pad
van die stasie ingeslaan het, huis-toe; sy het nie geweet of sy die ou
vrou moet help nie—volgens haar belofte aan Paula—dan of sy haar maar
ongesteurd moet laat in haar diepe smart. Maar nou sy sien dat mevrou
Kibert nie meer kan nie, kom sy nader.
Mevrou Kibert is so gedaan, dat sy somaar die arm neem van die jongvrou.
Sy stap bedruk en spraakloos aan. Alida is by-die-hand genoeg om haar
op ’n mooi manier te troos deur haar te vertel hoe bly haar kinders sal
wees as hulle mekaar daar in Asië ontmoet. Aan die deur bedank Paula haar
moeder haar hartlik vir haar moeite.
—Maar ek sal u ook nog die trap ophelp, sê mevrou Marthenay.
—Dis baie goed van jou, dankie.
En as hulle bo kom, sê mevrou Kibert:
—Bly nog ’n oomblik om uit te rus. Ek het swaar op jou arm geleun, die
hele pad.
Daar lê iets smekends in haar gedoofde oë, wat die treurige verlatenheid
van haar huis aanskou. Dit maak Alida verdrietig, en sy antwoord dat sy
’n bietjie sal sit.
Sy volg die ou vrou in haar slaapkamer, wat oordag ook as voorkamertjie
dien—’n skerm is voor die bed geplaas.
Ou Marie, nog bedroef oor die vertrek van die _juffrou_, bring ’n
telegram binne:
—Hier is ’n telegram, sê sy; en stuurs kyk sy die deftige mevrou
Marthenay aan.
Met moeite, want sy beef, maak mevrou Kibert die telegram oop. Die rooi
papiertjie, wat die dood kan inhou, maak sy nooit meer oop sonder angs
nie. Maar haar gelaat helder meteens op. Solank as sy lees, kyk Alida
onwillekeurig rond na die armlike meubels—byna kloosterlik eenvoudig.
En daar val haar oog op ’n vergrote portret van Marcel. Sy gaan nader
om te kyk. Die portret was geneem na sy terugkoms van die woestyn, as
kommandant; hy het die strenge kyk van ongenaakbaarheid in sy oë. En
duidelik sien sy weer die dag terug toe hy met haar gepraat het in die
bos van Chenée.
Mevrou Kibert lig haar hoof op van die telegram en sien hoe Alida daar
voor die portret staan. Sy het nou spyt dat sy haar daar in die kamer
gebring het. Maar as sy omdraai en na die ou vrou terugkom, bars Alida
meteens in trane uit.
—Wat makeer?
—Mevrou, o mevrou!
En die jongvrou snik haar geheim uit voor die moeder van Marcel.
—Ek het hom liefgehad. As u kon weet hoe lief ek hom gehad het!
Met groot medelyde kyk mevrou Kibert die jongvrou aan, wat haar seun moeg
gemaak het vir sy lewe. Paula het haar vertel dat Marcel, op die oomblik
toe hy gesneuwel het, in die binnesak van sy baadjie die portret gehad
het van ’n blonde meisiekind. ’n Meisie_kind_, ja, dit is sy, ’n swak
kind, wat die uitverkorene was van die manhaftige siel!
—Arme kind, sê sy, terwyl sy met haar hand die wang streel van Alida, wat
uitgeput op ’n stoel neergesak het.
Die ellende wat die ou vrou nou te vertroos het, laat haar haar eie smart
vergeet, en oombliklik het sy haar teenwoordigheid van gees en haar moed
terug.
—Alida, my kind, bedaar!
Maar mevrou Marthenay snik aaneen. Eindelik bring sy die woorde uit, wat
al eenkeer oor haar lippe gekom het, en wat ’n samevatting is van haar
hele ongelukkige bestaan.
—Waarom is ek nie sy weduwee nie? Dan sou ek minder ongelukkig gewees het
as nou.
Mevrou Kibert sê saggies:
—Maar jy wou nie sy vrou word nie.
—O, ja, _ek_ wou wél, want ek het hom liefgehad; maar my ouers was teë
daarop.
Sy beskuldig haar ma nie alleen nie.
Maar die ou vrou skud haar kop, en naderbykomend, sê sy nog sagter,
terwyl sy altyd nog Alida haar wang streel:
—Arme kind! Jy het nie geweet wat dit beteken om lief te hê nie.
Alida wil teëpraat, maar die ou vrou gaan aan:
—Nee, jy het nie geweet wat liefde is nie. As ’n mens jou hart weggee,
dan is dit vir altyd. En liefde skenk krag, geduld en lydsaamheid. Jou
ma het jou geluk gesoek—maar op háar manier. Sy het gedink dat sy goed
doen deur jou af te keer van my seun. Beskuldig haar nie: beskuldig net
jouself. Ongetwyfeld sou mevrou Delourens toegegee het as jou liefde
onherroeplik gebly het. Want sy het jou liefgehad en sy sou geleer het
om in te sien dat die voorwerp van jou liefde haar goedkeuring werd was.
Nee, jy _wou_ nie die vrou word van Marcel nie.
[Illustration: Arme kind, sê sy, terwyl sy met haar hand die wang streel
van Alida, wat uitgeput op ’n stoel neergesak het.]
Alida snik wanhopend:
—Ek het hom _nog_ lief.
Buite haarself van verdriet, hou sy nog vas aan haar nuttelose liefde.
Op ferme toon gaan mevrou Kibert voort:
—Jy was bang vir die lewe. Jou ouers was bang vir die lewe vir jou. Die
lewe, Alida, is nie die tydverdryf en ydele gedoente van die wêreld nie.
Om te lewe is om te voel dat jy ’n siel besit, en dat jy dit heeltemal
besit. Dis om lief te hê, lief te hê met al jou kragte, vir altyd, tot
aan die end, tot aan selfopoffering. Daar moet geen vrees bestaan vir
moeite, nòg vir groot vreugde, nòg vir groot verdriet: dis alles net
openbaringe van ons menslike natuur. Uit die dae wat verbygaan, moet ’n
mens die goeie opvang, wat nooit verbygaan nie. ’n Meisie wat gaan trou,
neem aan om deelgenoot te word van arbeid en van gevare, en nie om groter
gemak te soek of beuselagtige genot nie. In haar toewyding self sal sy
groter behae skep. Dit weet jy nie.
Alida luister nou aandagtig, en sy dink by haarself:
—Dit het niemand my nog ooit gesê nie.
Mevrou Kibert gaan aan:
—Op hierdie oomblik selfs, dat my hart verbryseld is, kan ek nie anders
nie as God dank vir sy oorvloedige weldade. Jy verbaas jou daaroor, my
kind, dat ek jou, op so’n dag as hierdie, nog van my geluk vertel. En tog
is dit waar: ek _is_ gelukkig. As God my sou vra om weer met my lewe te
begin, ek sou weer begin. En nogtans het ek gesigte wat my die liefste
was, koud en beweegloos gesien; en ek het die dood geken in sy wreedste
gedaante vir ’n moeder: as hy haar kind wegneem wat vèrweg is van haar.
Maar in my man, in my seuns en dogters, het my hele hart geleef, en het
ek alles gesmaak wat die goddelike goedheid ’n mens kan gee. My lewe was
vol omdat ek verbind was aan hul lewe. Myself het ek nooit beween nie.
En nou voel ek ook nie eensaam nie. My dode hou my geselskap, en dié wat
leef, verlaat my nie. Kyk, hierdie telegram het ek netnou van Etienne
gekry. Hy weet dat Paula vandag van my weggaan; en uit naam van almal
spreek hy my moed in. Ek het dit nodig gehad.
—Mevrou! sê Alida, en soen haar hand.
—Ja, my kind, ek het my lewe liefgehad, ek het die lewe liefgehad. En ek
kan sterwe, selfs in eensaamheid, selfs as vreemde hande my oë sal moet
toedruk: God het my ’n skone deel toegemeet. En die dood sal my volgsaam
en tevrede aantref as hy kom.
Daar skitter ’n vreemde verrukking in haar helder oë. Alida is nou kalm
en kyk haar aan vol eerbiedige bewondering.
—Praat nog so met my, smeek sy as mevrou Kibert ophou.
Die ou vrou kyk haar lank en teer aan. Dan streel sy weer haar wang, en
sê:
—My kind, jy moet my iets belowe.
—O mevrou, alles wat u wil.
—Moenie meer aan Marcel dink nie. Jy het nie reg daartoe nie. Neem jou
teenswoordige lewe op, in sy geheel en sonder wroeging, God wil sien dat
jy moed genoeg toon om vroeëre bande los te maak. Dit was verkeerd van
jou om jou man sy betrekking te laat neerlê. Werk is die adel van ons
dae. Spoor hom aan om iets te soek waarmee hy hom kan besig hou, opdat
jou fout weer goedgemaak word.
—Hy het my verlaat, mevrou.