—Ek glo ek het haar altyd liefgehad. Net, ek het my eie hart nie geken

nie. As ’n mens nog te jonk is, kan jy die betekenis van die lewe nog nie

goed onderskei nie . . . . En ek het haar ook lief vir altyd.

—Ja, sê sy ernstig. Voor ’n mens hom bind deur ’n ewigdurende belofte,

moet jy seker wees van jouself. En ek het vertroue in jou.

—In Paula vind ek die moed van Marcel terug, en sy fierheid. Sy is so

mooi daarby. Ek sal die lotsbestemming seën as dit so is dat sy vir my

bewaar is.

—Dis God wat jy moet seën, Jan. Van Hom alleen kom ons krag. Ja, Paula is

’n goeie kind. Al is ek haar moeder, ek kan dit met trots sê. Met vreugde

gee ek haar aan jou. Jy was maar altyd so deurmekaar met my eie kinders,

en vir Marcel was jy ’n broer.

—O, mevrou, dis my aangenaam om u so te hoor praat . . . . Maar syself?

—Moenie ongerus wees nie, Jan, Paula sal jou neem. Maar jy moet haar dit

self vra . . . . Maar jy het seker al goed nagedink oor jul bestaan? Jy

weet, ons is nie ryk nie. As Paula toestem om jou vrou te word, sal my

seun Etienne en ek die opbrings van Maupas aan julle afstaan. Nadat die

wingerd afgesny is, bedra dit nie veel nie; maar dis al wat ons het.

Sy gee alles, en maak nog verskoning daarvoor.

—Nee, mevrou, sê Jan.

—Laat my nou uitpraat: Kyk, ek wil my uit alles terugtrek. Ek het min

nodig om te lewe. Etienne, wat dit kan doen, stuur my ’n gereëlde toelae;

ek het hom al gevra om dit minder te maak, maar hy wil nie. Jy moet dink

aan jou toekomstige famielie, Jan.

—O, mevrou, waar’s die geld wat gelyk staan met die skatte wat in Paula

haar hart lê. Maar moenie glo ek sal u alte edelmoedige aanbod aanneem

nie. Ek het al gedink aan ons toekoms. Etienne het iemand nodig om hom te

help in die kolonies. In al sy briewe sê hy dit. Nou wel, ek bied hom my

samewerking aan. Ek het hom verlede maand al daaroor geskrywe.

—O, so! dan wil jy jou vrou wegneem daarnatoe!

Op dié oomblik sien Jan Paula op die stoep—sy het net tuisgekom. En hy

merk nie hoe die oë van mevrou Kibert vol trane skiet nie. As hy haar

weer aankyk, is sy reeds bereid vir die nuwe offer wat God van haar verg,

en met ferme stem antwoord sy hom:

—Dat God jou planne seën! Daar is my dogter, Jan. Te lank het sy in

eensaamheid en ellende gelewe. Sy het behoefte aan geluk. En hoe gelukkig

sal sy tog wees met jou liefde! Haar jonkheid, wat sy al vergeet het, sal

sy weer voel herlewe. Ek gee jou permissie, Jan, om haar te sê dat jy

haar liefhet.

En, dewyl Paula al naby hulle is, sê sy fluisterend daarby:

—Ek gee jou my laaste en my liefste kind.

Haastig stappend en regop kom Paula oor die agterplaas na hulle toe,

onder die skaduwee van die kastaiingbome. ’n Bietjie styf in haar

swart rok, groet sy die jonkman, wat haar tegemoet kom. ’n Ligte rooi

verlewendig haar gelaatskleur terwyl haar donker oë verhelder. Sy soen

haar moeder:

—Ek kom van die boer. Môre sal ons eiers en botter kry.

Mevrou Kibert vat altwee same in haar moederlike blik. Sy staan op van

haar stoel:

—Ek gaan die ete klaarmaak. Ekskuseer my, Jan. Dis ’n mooi aand. Julle

kan nog maar ’n bietjie rondwandel tot die son ondergaan. Loop tot na die

bos van die waterval, en kom dan gou weer terug, kinders.

Ontroerd, en vol vertroue, kan sy nie nalaat om hulle haar kinders te

noem nie. Naas mekaar en lig van stap sien sy hulle gaan, die boomlaning

in.

—Hoe lank is sy! sê mevrou Kibert by haarself.

Hy is net ’n halfkop langer. En tog lyk hy groot. Hulle is ’n mooi paar.

Hul verdwyn onder die bome. Langsaam, want haar hart voel swaar, stap die

ou vrou na die huis. Sy maak haar klaar vir haar grootste opoffering, en

sê by haarself:

—Paula, my liefste, nou vir my verlore . . . . ek wens dat jy gelukkig

mag wees; as ’n goeie kind het jy dit wèl verdien. Wees gelukkig—dis

alles wat ek vra van God . . . .

Jan en Paula stap aan in die voetpaadjie van die populierbos, hy agter en

sy voor.

—Laat ons loop tot by die dennebos, sê sy, deur die takke kan ons dan die

aandrood op die berge sien.

Hy bly staan:

—Sal ons nie liewer hier bly nie?

En hy wys haar ’n ou boomstam wat as sitplek kan dien. Sy het laas daarop

gesit met Marcel, op hul laaste wandeling, vóór sy vertrek. Sy dink aan

dié dag terug en is half huiwerig om te gaan sit. Sy merk niks uit die

woorde van Jan nie. Weinig gewend om oor haarself te dink, getroos in

haar armoede en in die vooruitsig om agtergelaat te word, het sy geen

gedagte meer aan liefde of aan ’n huwelik nie. Sy dink dat sy vir altyd

die gevoelens van vroeër dae stil gemaak het, wat haar so baie verniet

laat ly het, en sorgvuldig bewaak sy haar verstote hart. Sy laat haar

oorhaal om te gaan sit. ’n Oomblik sit hulle so, spraakloos naas mekaar.

Die son is al weggesak agter die berg. Hulle het ’n gevoel of daar iets

heiligs en geheimsinnigs in hul nabyheid is: die aandstilte, aanswewend

oor die landskap. Aan hul voete golf die ryp graan van die lande saggies

op en neer in die windjie—soos ligte golfies langsaam wegsterwende op

’n seestrand. ’n Entjie verder, swaargeblaard en vol majesteit, val die

groot bosse reeds in slaap. En vèr, op die horison, trots dat hulle die

daglig nog in die oog het, gloei die laaste kranse in al die prag van hul

rose en violette tinte.

Die kalmte van die natuur is vir Jan ’n gelukkige voorteken, en versnel

die slae van sy hart. Hy kyk na haar wat naas hom sit, en verheug hom in

wat hy haar te sê het, want nogmaals herken hy in haar die bevalligheid

van haar jonkheid, en die fierheid van haar hele famielie.

Pynlik duidelik herinner sy haar nog die tere woorde van Marcel, hier

op dieselfde boomstam uitgespreek, die aand van sy vertrek na Afrika:

_Paula, moenie ongerus wees nie; ééndag sal jy nog gelukkig wees_. Vandat

Jan terug is, het sy haar in haar lot geskik, sonder bitterheid en sonder

swakheid. Ja, sy voel wel ’n soort gelate geluk, waarmee sy haar tevrede

stel na soveel skokke. Is _dit_ die geluk wat Marcel bedoel het? En die

vreedsaamheid van die aanduur word weer in haar wakker, die onbestemde

verlange na ’n ander soort saligheid. Maar sy weet nie dat die uur nou

gekom het nie.

Jan besluit nou om te praat:

—Paula, ek het aan jou ma vertel wat my planne vir die toekoms is.

Sy kyk hom aan met haar swart oë.

—Is jou verloftyd al verby? Gaan jy gou weer weg?

—Ek gaan nie terug na my kommando nie.

Verbaas wag sy op nader uitleg.

Haar oë blits:

—Ek gaan bedank.

—Jy, Jan! O, dis verkeerd van jou. Jy is nog nie dertig jaar oud nie,

jy het al ’n ereteken, en jy gaan jou loopbaan weggooi! Wat sou Marcel

daarvan gesê het?

—Marcel sou dit goed gevind het, Paula, want ek sal my land nog dien, op

’n manier wat nie minder nuttig is nie. In plaas van soldaat, word ek

kolonis. Ek het aan jou broer Etienne geskrywe; hy kan àl sy werk nie

alleen klaar kry nie, daar in Asië. Ek gaan hom help.

—Ag! sê sy, sal hulle nie bly wees nie! Hulle weet hoe lief jy vir Marcel

gehad het. Jy sal vir hulle van hom vertel soos jy ons vertel het. Jy sal

kennis maak met my nefie en niggie, wat ek nog nie eens ken nie.

’n Skaduwee versprei hom oor die vlakte, en begin op te klim teen die

hang van die berge. Op die meertjie in die verte sweef ’n purperkleurige

waas, geleidelik oorgaande in die rose en goudkleur van die aandhemel. En

die vrede van die aand daal neer op die onbeweeglike dinge van die aarde,

soos ’n hemelse seën.

Jan staan op en bly so voor haar staan.

—Jou broers sal nog blyer wees as hulle weet wat my ander plan is. En met

neergeslae oë sê hy, op sagter toon:

—Dis ’n plan wat vir my van baie groot betekenis is. Jou ma weet al

daarvan.

Hy kyk haar aan en merk, tot sy verbasing, dat sy hom nog nie verstaan

nie. Dat sy haarself so vergeet, is vir hom mooi; en eindelik, met diepe

erns en gevoel, spreek hy die beslissende woorde uit:

—Paula, ek het jou lief. Wil jy nie my vrou word en met my saamgaan oor

die see nie?

Spraakloos, staan sy nou ook op, en word doodsbleek. Daar is ’n druk op

haar bors, dit gaan op en neer, en toon aan wat ’n storm in haar hart

losgebreek het. Maar sy bly stil.

Hy gaan aan:

—Ek het jou lief, Paula. Het jy dit nie geweet nie? Toe ek van Algiers

teruggekom het, het ek jou teruggevind, so dapper . . . . . en so mooi.

Nee, moenie jou hoof skud nie. In die woestyne, ek weet dit nog, het

Marcel my baiemaal vertel hoe jy die steun was van jou moeder. En daar,

in die wildernis, as ek een of ander beeld of steun nodig gehad het om my

kragte aan te wakker, om my moed in te fluister, dan is dit aan _jou_ wat

ek gedink het. Ek sien dit wel, ek het jou altyddeur al liefgehad, van

ons kindsdae af, toe ons saam gespeel en gelag het. My geluk lê in jou

hande, Paula, wil jy my dit nie gee nie?

Sy antwoord nie. Sy is so bleek asof al haar bloed uit haar are

teruggedring is. Hy neem haar hand. Sy trek dit nie terug nie. Hy wag vol

vertroue, kalm, sy hart swellend van hoop.

Sonder iets te sien, is haar oog op die vreedsame landskap gevestig. Die

kranse weerkaats nie meer die gloor van die ondergegane son nie. Die hele

natuur gaan skuil in die skaduwee wat die slaap voorafgaan.

Is dit dan nie dié geluksaligheid wat Marcel haar voorspel het nie, hier

op dieselfde plek, op net so’n kalm aand?

Terwyl sy nog maar stil bly, voel Jan ’n ontsaglike beklemming om sy

hart. Sy stem klink anders as hy die derde maal herhaal:

—Paula, ek het jou lief. Waarom praat jy nie? Ek smeek jou, antwoord my.

Saggies trek sy haar hand uit syne, terwyl sy sê:

—Nee, nee, ek wil nie!

Snikke verstik haar stem, en hardlopend vlug sy huis-toe.

En nou voel hy die nag binnedring tot in sy hart. Hy verag die lewe,

wat hy liefgehad het, en hy beny Marcel waar hy rus, in die sand van

Afrika—Marcel, wat reeds die uiteindelike vrede smaak.

VIII.

MEVROU KIBERT.

Mevrou Kibert wag haar kinders af, op stoep. Haar arms is gekruis op die

tralie. Haar hoof is gebuig. Haar lippe prewel ’n gebed. ’n Diepe vrede,

soos dié wat saans op die lande neerdaal ná ’n skone dag, is nou ook op

haar gelaat te sien, wat nog nat is van haar trane. ’n Paar rose loer

tussen die half-verlepte klimop uit, en beweeg in die windjie, wat hul

blaartjies verstrooi en hul geur in grypies wegsteel.

Sy sien Paula terugkom, ontsteld en snikkend, en probeer tevergeefs om

haar staande te hou met die woorde:

—Paula, wat makeer? vertel my . . . . .

Sonder te antwoord is sy binne-toe en in haar kamer.

Mevrou Kibert gee ’n paar stappies agter haar aan. Maar sy dink na, en

bly weer staan. Sy gooi ’n tjalie oor haar skouers, stap die treedjies

af, en so hard as haar bewende ou stappies haar wil dra, gaan sy die

boomlaning in. Sy gaan staan by die groot hek aan die pad, en sê by

haarself:

—Hy kan nog nie verby wees nie. Paula het so vinnig huis-toe gestap.

Sy kyk die pad op. Rondom hoor sy net die skel eentonige klaaggeluid van

die kriekies, en nou en dan die geskuifel van die sware kastaiingblare in

die windjie. In ongeduld wag sy ’n paar oomblikke en sien dan die swart

skadubeeld van Jan in die verte. Hy loop met geboeë hoof en liggaam. As

hy naby haar kom, sien sy dadelik op sy gesig dat hy bedroef en wanhopend

is. Versink in sy leed, merk hy nie dat sy daar staan by die pilaar van

die hek nie. As hy verby wil stap, roep sy hom:

—Jan!

Verbaas om sy naam te hoor roep, kyk hy op en gewaar die ou vrou; sy

glimlag hom droefgeestig toe. Hy groet en kom nader.

—Ag! sê hy, net asof hy kla by sy moeder. Ek is baie ongelukkig.

Sy steek haar hand uit.

—Jan, gee my jou arm. Laat ons binne-toe gaan. Dit word al donker en koud.

Moedeloos gehoorsaam hy:

—Mevrou, u weet dat dit my nie pas om ooit weer hier binne te gaan nie.

Maar ek sal u tot by die deur bring.

Aaneen klink die kriekiesgesang op uit die velde. En deur die stamme van

die bome sien hy in die lug die laaste goudglim van die verdwene son.

Hardnekkig hou die dag die stryd vol teen die nagskaduwees.

Spraakloos stap hul aan, naas mekaar. By die treedjies wil hy afskeid

neem, maar sy sê:

—Kom binne. Ek wil met jou praat. Paula is nie in die voorkamer nie.

Hy wil weier. Onverskillig gee hy dan maar toe en volg haar. Hy voel soos

’n veroordeelde wat maar min glo aan die trooswoorde van sy weldoener,

maar dit darem tog aanhoor.

Binnegekom, draai sy om na hom, neem sy twee hande in hare, kyk met haar

sagte oë in syne, en sê:

—Het sy geweier om jou vrou te word?

—Sy het wenend weggehardloop.

—Jan, my liewe Jan, jy het haar nie verstaan nie.

Die vriendelike bejeëning is balsem op sy smart, maar knak die bietjie

krag wat hy nog oorhet. Hy is klaar om in trane los te bars.

—Ag, dit _is_ so! sê hy. Sy het my nie lief nie, en ek hou tog so baie

van haar.

Sy laat die hande van die jonkman los, en leun nadinkend op die tafel.

Wat sy nou wil waag, is iets ernstigs. Mag sy beskik oor die hart van

haar dogter? Is sy, as moeder, wel seker dat sy haar goed deurgekyk het?

Sy beskou die jonkman, wat sy graag haar seun sou wil noem, en sy dink

aan sy trou en moed. Bowenal dink sy aan Paula haar brandende hart en aan

haar toekoms. Sy voel nou seker van haar saak, kyk Jan glimlaggend aan,

en sê eindelik:

—Jy het dit mis, Jan, Paula het jou _wèl_ lief.

Hy skud sy kop.

—Nee, nee, mevrou. Ek vra geen verklaring nie. Laat my nou gaan.

—Sou die moeders dan teenwoordig nie meer weet wat daar omgaan in die

harte van hul dogters nie?

Sy dink eers weer na, en vul dan aan:

—Paula het jou lief. Jy het nie verstaan dat sy haarself opoffer vir my

nie.

—Vir u? Hoe so?

En oplettend kyk hy mevrou Kibert aan. Sy jeug kan sy neerlaag nie verdra

nie, en hy voel reeds ’n nuwe roering van hoop. Intussen verbaas dit haar

nie dat hy haar gedagtes nie kan lees nie, en dit klink byna soos ’n

ekskuus uit haar mond as sy sê:

—Het jy haar nie vertel dat jou plan is om na Asië te gaan nie?

—Ja.

—Sy wou my nie alleen laat agterbly nie, Jan. En daarom het sy gehuil en

weggeloop. Maar sy _het_ jou lief: is haar trane nie bewys daarvan nie?

Hy sien nou in hoe hy net aan homself gedink het; sonder ’n woord staan

hy daar voor die ou vrou, wat hy heeltemal verbygesien het, vir wie hy

besig was ’n eensame en treurige bestaan vóór te berei, vir haar, wat ’n

uurtjie gelede selfs geen klag laat hoor het nie toe hy haar gevra het

om haar laaste kind aan hom te gee.

Terwyl hy nog altyd stilbly, gaan mevrou Kibert voort, kalm en bedaard:

—Sy wou my nie eensaam laat agterbly nie.

En met ’n droefheidverbergende glimlaggie, voeg sy daarby toe:

—Verbaas dit jou, Jan?

Hy bly nog maar stil en probeer om hom sterk te maak teen die diepe

ontroering wat hom aangryp. Maar die ou vrou gaan aan, met sagte maar

besliste stem:

—Dis verkeerd van haar, Jan. Sy het my liefgehad voordat sy jou liefgehad

het. Vandag hou sy meer van jou as van my, maar sy weet dit nog nie. Sy

is my vreug gewees, my hele krag selfs. Later sal jy ondervind wat die

toewyding van hierdie kind beteken. Sy is so aan my geheg dat sy haarself

daarvoor wil opoffer. Maar dit wil ek nie hê nie. God wil dit ook nie hê

nie.

Die jonkman ween. Sy neem sy hand:

—Sy kyk agtertoe, maar in die lewe moet ’n mens vorentoe kyk. Vaders en

moeders kan vir hul kinders lewe, maar nie omgekeerd nie. Dis die wet van

die natuur. Dis die wil van God. Moenie bedroef wees nie, Jan, sy sal

jou vrou word. Ek gaan haar haal vir jou. Maar beloof my eers weer dat

jy haar sal liefhê, dat jy altyd vir haar mooi sal oppas, dat jy haar

gelukkig sal maak. My Paula verdien dit tog so.

Jan probeer nie meer om sy trane in te hou nie. Dis trane van diepe

veréring vir so’n wonder van selfverloëning. In sy eerbiedvolle en

liefderyke bewondering, maak hy byna geen onderskeid tussen moeder en

dogter nie, mekaar so waardig in wederkerige opoffering van hul geluk.

En hyself, verblind deur sy liefde, het daar nie aan gedink nie dat die

liefde—wreed, soos eertyds die gode—’n offerande eis, die versoenende

offerande van ’n edele hart wat verskeur word.

Skielik buig hy voorover en druk sy lippe op haar hand, met ’n beweging

asof sy ’n heilige is.

—Ek sou voor u wil kniel, fluister hy. Wees geseën onder al die vroue.

—O Jan, wat sê jy daar?

Hy gaan aan:

—Maar ek neem u offerande nie aan nie. Ons sal hier in die moederland by

u bly. Paula sal u nie hoef te verlaat nie.

Maar mevrou Kibert is al weggestap. Aan die end van die voorkamer maak sy

’n deur oop. Op die drempel draai sy om en sê aan hom:

—Wag daar tot ek weer kom.

Sy loop deur haar eie kamer en bereik die kamer van haar dogter, sonder

geluid te maak. Gedra op die geure van die tuin, sluip die sterwende,

geheimsinnige aandgloed deur die venster in en word in die spieël

teruggekaats, tesame met die boomblare wat nou, soos ’n swart skaduwee,

teen die lig afsteek. In die halflig sien sy Paula sit op die voetenent

van haar bed, gekromd oor haar eie skoot, bewenende haar verlore geluk.

Vrywillig en sonder swakheid het sy dit verloor . . . . En mag sy dit nou

nie beskou as ’n skone, verre, beloofde land, waar sy nooit sal binnegaan

nie? En sy geniet van haar leed, van haar ou, vurige liefde, waarvan

niemand ooit iets sal weet nie—haar liefde, waarvan sy gedink het dat sy

dit al lank verstik het, en wat nou in haar verdriet herleef. Sy geniet

só, dat sy amper lus kry om maar nou te sterwe.

Sy skrik uit haar droefheid op, want sy voel ’n kus van haar moeder op

haar hare.

—Paula, waarom huil jy? Jy moet dapper wees in die liefde, soos jy dit

gewees het by beproewinge.

Die dogter spring op, en, wetende dat die skemer die tekens van haar

ontroering half verberg, verdedig sy dadelik haar gedrag:

—Ma, ma weet nie wat daar gebeur het nie. Ek het hom nie lief nie . . . .

Sy voorstel het so onverwags gekom, dit was so snaaks vir my, dat dit my

’n bietjie dof geslaan het. Ma, dis die eerste keer, verstaan ma . . . .

Maar lief het ek hom nie, ek verseker ma dit . . . . . ek kan nie anders

nie.

Haar ma kyk haar met innige liefde aan asof sy die volle maat wil begryp

van die jonge, standvastige toewyding, wat nie wil beken nie, en tot in

die wanhoop daarin wil volhard.

—Kom saam met my, Paula, sê sy eindelik. Jan het jou nie alles vertel

nie. Jy het te gou weggehardloop. Hy het nie tyd gehad om jou te sê dat

ek saam gaan met julle twee nie.

Soos blomme waarop, na ’n reënbui, die water-druppeltjies skitter soos

edelgesteentes, so straal daar meteens ’n glans van blydskap uit die

betraande gelaat. Sy slaat haar arms om die hals van haar moeder. As

mevrou Kibert nog sou getwyfel het aan Paula haar geheim, dan is hierdie

skielike verandering in Paula wel genoeg om alle sekerheid te gee.

—Ma, is dit waar? Hoe gelukkig sal ons daar tog wees! . . . . . Ek het ma

tog so lief.

Mevrou Kibert glimlag, sy begryp wel dat die laaste woorde vir iemand

anders bestemd is.

—Ek het wel geweet, sê sy saggies, terwyl sy Paula haar wang streel, soos

vanmelewe toe sy nog klein was. Met ontroering aanskou sy die ontluikende

geluk, waartoe die Voorsienigheid haar ’n kans gegee het om iets by te

dra. En stilletjies dank sy die Heer dat Hy haar wens vervul het.

Skamerig, en sonder haar ma aan te kyk, vra Paula:

—Is hy al weg?

—Hy is nog daar.

Sy bloos, maar die skemering verberg dit vir die oog van haar ma.

—Kom, ons gaan terug na hom toe, sê mevrou Kibert. Sy neem Paula haar

hand en lei haar binne in die voorkamer:

—Jan, hier is jou vrou.

Self lê sy hulle hande in mekaar. Hulle kyk mekaar nie aan nie. ’n

Heerlike ontroering swel in hul boesem en vul dit met die genade en

skuheid van die lewe—die geheime kenteken van goddelike krag.

Jan is die eerste wat sy oë opslaat en die geliefde voorwerp van sy

saligheid aankyk. Paula haar trane van flus het haar skoonheid verminder,

maar het haar uitdrukking van trots ook getemper en haar bedeel met ’n

onderdaniger, aandoenliker menslikheid, wat ook spreek uit haar houding

van oorgawe. Om haar vrouweswakheid kry hy haar nog meer lief.

—Kan ek nou glo aan my geluk? sê hy eindelik.

Met ’n sug van verligting antwoord sy:

—O, ja!

—Paula, ek het jou lief.

In ’n byna onhoorbare suggie sê sy die woorde na:

—Jan, ek het jou lief.

Nou kyk sy hom ook aan, en hulle glimlag met mekaar. Maar dadelik soek sy

die oog van haar moeder, en, seker nou van haar geluk, sê sy:

—Ma gaan met ons saam na Asië. Daar oorkant sal ons almal bymekaar wees,

behalwe suster Magriet, die sendelinge.

Jan verstaan nou watter kragargument mevrou Kibert gebruik het om die

hart van haar dogter te leer ken. En hoewel hy twyfel aan die saamgaan

van die ou vrou, en vanself begryp dat dit maar ’n leuentjie is uit ’n

goeie hart, maak hy maar of hy net so bly is as hulle.

—My kinders, my liewe kinders! sê mevrou Kibert. God skenk ons groot

blydskap. Dat Sy seën op julle daal, op julle huis en famielie! Jan,

omhels jou verloofde!

Hy druk sy lippe op haar nog traanvogtige wang. So is reeds by hul eerste

omhelsing die spore van smart teenwoordig, as om aan te dui dat hul

lewens één is, in smart sowel as in vreugde.

Aan die ander end van die kamer kyk mevrou Kibert na die portret van

Marcel. Maar dis al so donker dat sy meer in haar verbeelding dan op die

portret sy gelaatstrekke gewaar. Jan en Paula kom nou by haar:

—Marcel sal tevrede wees, sê hy. Ek glo nou dat hy al my hart geken het

voordat ek dit self geken het.

En Paula onthou haar broer se woorde: _Moenie ongerus wees nie: eendag

sal jy nog gelukkig wees._

Hy, wat toe reeds op sy voorhoof die teken van die dood gedra het, en

die dood tegemoet gegaan het met ’n ferme stap—het hy toe in die toekoms

gesien met oë wat reeds geopen was vir ’n ander wêreld; en moet ’n mens

van die lewe afgeskei wees om die verwantskap van siele te deursien en

die geheim van hul bestemming? . . . . Haar susterlike gehegtheid aan

haar broer maak dit vir haar aangenaam om hom in verband te bring met

haar liefde vir Jan.

—Nou gaan ek huis-toe, sê Jan aan Paula.

Sy voel dadelik bedroef. Terwyl sy reeds al haar gedagtes gee aan haar

toekomstige man, veroorsaak die eerste skeiding al pyn.

Mevrou Kibert kom tussenbei:

—Dis al laat. Bly maar by ons, Jan, en eet saam. Jy sal met min tevrede

moet wees. Na die ete kan jy teruggaan na jou rosevilla.

Hy aarsel:

—Ek kan nie, mevrou. My oom sal ongerus wees. Ek het hom flus ’n bietjie

kortaf behandel op die pad, en ek wil hom nie nog meer las aandoen nie.

—Bring hom môre saam om by ons te eet, sê mevrou Kibert. Sê aan hom ons

sal ons mooiste rose op tafel sit.

As Jan Maupas verlaat, is dit al nag in die eikebos. Vrolik en sonder

haas stap hy die skuinste af, asof dit die reguit en maklike pad is

van sy toekomstige bestaan. Dis dieselfde skuinste wat Marcel een nag

opgehardloop het—sy bors gloeiende van liefde en die voorproef van gevaar

op sy droë lippe . . . .

Paula val laat eers in slaap. Sy ontvang die liefde met ’n ferme hart,

met roerende erns, wat vir haar glad nie ’n verslapping in deug is nie,

maar ’n versterking. Sy het dit opdraans gehad in haar jeug, stryd

voerende met stoflike moeilikhede en siele-smarte, soos bokke wat ’n

steilte uitklim en vlokkies wol aan die bossie agterlaat. Nou voel sy of

sy in die vlakte wandel—met sagte gras onder haar blote voete. Voor haar

uit is daar net lig op die horison. En wat sou haar afskrik as sy weer

eendag moet klim? Steun sy dan nou nie op ’n sterk arm nie, en voel sy

haar eie moed dan nie hernuud nie?

Maar sy is al lank aan slaap geval as haar ou moeder nog waak en bid:

—My God, fluister die arme ou vrou, vir die eerste keer in my lewe het

ek ’n leuen vertel. Vergewe my. Ek moes die twee kinders tog aan mekaar

gee. U het hulle vir mekaar geskape. Gaan hul geluk nie voor myne nie?

Ek is te oud om met hulle saam te gaan. Ek kan my dode nie verlaat nie.

Die aarde trek my ook al aan; weldra roep U my ook. Hier wil ek die ure

van U koms afwag. Maar gee my tog krag, o my God, om die laaste afskeid

met kalmte te dra. Ek het my so gewend gemaak aan Paula haar liefderyke

sorge; en deur my my enigste aardse vreugde te ontneem, herinner U my

daaraan dat ons nie vir ons onherroeplik moet heg aan die sake van die

wêreld nie. As sy weggaan, neem sy my hart saam, wat U so vol geluk

gemaak het voordat U dit breek. Vooraf bied ek U reeds my smarte aan,

opdat U U oorvloedigste seën uitstort op my seuns, Jan ook daarby, en op

my dogters, dié wat lewe en dié wat gestorwe is. . . .

Sy bid nog lank so. In haar geloof vind sy eindelik berusting; en as sy

uiteindelik aan slaap val, dan is dit in vrede.

IX.

HAAR LAASTE KIND.

Die grond is bedek met sneeu, sodat die voetstappe van die mense

onhoorbaar is—soos skimme gaan hulle daaroor, hierdie wintermôre, op pad

na die kerk in Chamberie. Instappend in die kerk herken vriende mekaar en

groet swyend met ’n hoofknikkie.

Bang vir die lewe · 第 13 / 15 段