Jan probeer om teëstand te bied aan die ontydige invloed van die musiek

en toneel, want dis heeltemal in stryd met sy opgewekte hartstog. Maar

sy wil is verlam en kan nie lank weerstand bied nie. Hy het die lewe, in

al sy uitinge van skoonheid, te lief om weerstand te kan bied aan so’n

volmaakte kuns, wat hy begryp en bewonder, waarvan die reine besieling

alle lae begeertes, alle haat en beuselagtigheid uit ons harte losruk,

soos onkruid uit ’n tuin uitgetrek word, sodat die oneindig kosbaarder

plant beter mag bloei: die heilige begeerte na liefde en toewyding.

Hy voel nou dat hy reeds verhewe is bo die aanbidding van die éne vrou.

’n Begeerte gryp hom aan om, as die ware, verskillende lewens gelyk te

lewe. Van ’n lae wellusteling is hy in ’n held verander; hy wil terug,

maar voel hom dan weer opgehef. Met onweerstaanbare mag dring sy verlede

lewensloop hom aan sy herinnering op: Hy is weer saam met sy vriend

Marcel, op die woestyntog, waar hy, in eensaamheid en gevaar, by gebrek

en strewe, gevoel het wat die lewe beteken in al sy grootheid, want hy

het toe besef wat die rigting en waarde daarvan is. En van die broer

dwaal sy gedagtes af op die suster. Van die begin af het hy vanaand elke

gedagte aan Paula verban. Het hy haar, ’n oomblik gelede, selfs nie

heeltemal vergeet nie? Waarom verskyn sy nou meteens weer in sy gedagtes,

en waarom sou dit wees dat die kuise musiek wat hy hoor, so bevorderlik

is aan haar ontydige koms in sy herinnering? Hy probeer om haar beeld te

verdrywe, maar hy het daar berou oor.

—O! dink hy, waarom is sy tog nie net so mooi soos hierdie een nie?

En weer is sy oog op die skone hals en skouers, dis net of daar lig

uitstraal wat hom aantrek. Maar met stille genoeë, dog sonder te dink aan

die growwe ongepastheid van sy vergelyking, erken hy darem:

—Paula het mooier hare; as dit los is, moet dit seker tot by haar knieë

kom.

Isabella draai haar hoof om en lag met hom.

Paula het mooier oë ook, dink hy weer. En in sy gedagte sien hy hoe die

swart oogappels, met hul blitsligte, hom weer aankyk. Maar daar’s ’n

verwyt in dié oë, en hy verstaan goed wat hul sê: Waarom dink jy aan my

met so min respek? skyn Paula hom te vra. Het ek miskien probeer—net

soos hierdie een by jou—om jou te verlei met vertoning en aanloklike

maniertjies? Het dit my, in jou teenwoordigheid, al ooit ontbreek aan

sedigheid en waardigheid? As jy my nie liefhet nie, laat my dan met vrede

in my eensame bestaan; moenie my reine jonkheid onteer deur die beeld

daarvan te maak tot ’n voorstelling van jou laere begeerlikheid nie. En

as jy my liefhet, o! as jy my liefhet! waarom is jou liefde dan nie sterk

genoeg om jou los te ruk van ’n bekoring waarvan jy nie weet of dit jou

lewe uit die goeie koers sal stuur nie. Kom tog na my toe terwyl jy nog

vry en onskuldig is. Laat my op jou voorhoof en in jou oog niks ontdek

wat laag en gemeen is nie. Ek weet nie of ek mooier is nie, maar ek het

jou lief, so innig, dat hierdie vrou nooit ’n begrip daarvan kan hê nie.

Hy behoor reeds nie meer tot dié jongkêrels wat deur die lewe gaan met

oogklappe aan nie. Dié soort jongkêrels kan nie die ontsaglik groot velde

sien wat naas die smalle pad van hul harstogte lê nie, en wat aldag die

vrugbare saad ontvang van menslike strewe. Nadat Jan nou eers net sy oog

gehad het op die begeerte van die oomblik, sien hy meteens die kaart van

sy hele bestaan voor hom uitgesprei, en hy lees daarop—uit sy afkoms en

sy verlede—die openbaring van sy toekoms. So beskou, kry die liefde vir

hom ’n ander betekenis. In plaas van die wellus, stel hy hom voor die

bekoring van ’n gemeenskap van gedagtes, en van die innerlike krag wat

voortspruit uit vrede van die gemoed en uit ’n kalm, huislike bestaan.

In plaas van verbygaande, heftige opbruisinge, stel hy die genot van

duursame geluk en die welsyn van die ras.

In die drie weke wat hy nou al terug is, het Jan al baiemaal na Maupas

gegaan. En dit was nie net maar om twee bedroefde vroue te troos nie.

Deur haar fierheid, deur haar ernstige en diepe gevoel, deur haar jeug,

waarvan die skone ingetoënheid vir hom duidelik word, oefen Paula ’n

onweerstaanbare aantrekking op hom uit. Ná elke besoek moes hy tot eie

verbasing beken dat die teruggetrokke en verstandige noointjie ’n hart

vol lewe besit, net so klaar om die lewe met geesdrif te geniet, as

sy die smart gedra het sonder te beswyk. Op die treffende manier van

liefhebbende harte, wat daar plesier in het om hul liefde terug na te

gaan dat hul kan sien hoe die tyd dit aangebring het, so vergelyk hy die

teenwoordige bekoring wat Paula op hom uitoefen met die vae herinneringe

van vroeër dae toe hy nog rond gespeel het met ’n wilde, uitgelate

Paulatjie. Vergetend dat hy haar self vergeet het, verbeel hy hom dat dit

’n ou neiging is wat die kinderjare oorleef het. Met die heldersiendheid

van die instink, bowenal voel hy dat sy toekomstige krag en ’n normale

verloop van sy lewe dáár te soek is, en nêrens anders nie. So bemin

hy dan die jong nooi, soos ’n mens op dertigjarige leeftyd bemin: met

vertroue en teerheid. Haar bekoorlike teenwoordigheid het sy hart vervul

met nuwe vrede.

Nou kom die hartstogtelike Isabella weer tussenin. Ná haar huwelik vir

geld, oorstelp sy haar „flirt” van vroeër dae met al haar onbevredigde

sinlike begeertes, met al die storme van haar gemartelde hart. Sy het

baie trouer gebly aan Jan as aan haar eie man, meneer Landeau. Sy het

uitgekyk na sy terugkoms. En toe sy hom weer sien, was sy nog meer

aangetrek deur die erns en diepte op die gesig van die jongman te lees,

as deur sy sorgloosheid en vrolikheid van vroeër dae; sy het by haarselwe

gesê dat sy nie meer sal wag nie, en om hom te behaag, hang sy haar

skoonheid voor hom uit soos ’n vlag.

Wel, sonder te weet, is dit haar ook geluk om hier in die „loge” van die

konsertgebou enige oomblikke oor hom te triomfeer. Die hele aand het sy

al getwyfel of haar middeltjies om die mooi jong offisier te vang, iets

uitgerig het—hy is maar terughoudend, en ook maar versigtig met sy woorde.

Daar val die gordyn, die bedryf is uit; nou sal sy die kans waarneem om

die afgebroke gesprek weer aan te knoop.

Brandend van ongeduld, kyk sy dadelik om na hom, en, ekspres so

vooroorbuiend dat hy mooi langs haar welgevormde hals kan kyk, vra sy:

—Waaraan het jy so gesit en dink? Ek het gemerk dat jy nie na die musiek

geluister het nie.

—Ek het aan twee mooi vrouens gedink.

—Dis één te veel.

Met haar twee oë, skerp soos pyle, probeer sy om die harde voorhoof te

deurboor en daarin te lees.

Ongeduldig en dorstig na haar geluk, waarvan sy haar wil verseker, staan

sy op en sê:

—’n Mens stik hier van die warmte. Kom, kaptein, bring my na die

wandelsaal.

En as sy aan die arm van Jan uitstap, kyk sy die vryerige Lavernay aan

met ’n blik wat sê: gefop oudjie! want hy sit haar en oppas. En as hul

uitstap in die gang, leun sy, met die hele gewig van haar wulpse liggaam,

op die arm van Jan.

Hy bly nog maar stil, en sy vra, met bevallige bedeesdheid:

—Jan, is ek dan nie meer mooi nie?

—Kyk om u heen, mevrou, wat sê die oë van die mense?

Ja, die oë van die hele deftige skaar in die wandelsaal is op hulle twee

gerig. Vrouens wat verbykom, kyk na haar rok en bereken die snit en

waarde daarvan; en haar bekoorlike blote arms en hals trek die aandag van

almal. Sy tik met haar waaier op Jan se vingers en antwoord.

—Jy, wat jy sê alleen, is al wat ek vra.

—En die ou oppasser van jou, daar in die „loge”? vra Jan, laggend.

—Hy doen my boodskappe.

Gesteund deur sy gedagte aan Paula, maak hy of hy die toenadering nie

merk nie, en nie sonder ’n seker ontroering nie, voel hy die ronde arm

van die verleidster op syne. Die hoogrooi kleur op die gesig van die jong

vrou bedek maar half ’n uitdrukking van teleurstelling.

—Onthou jy nog, Jan, die eikebos by Chenée?

—Ja, sê hy, en hy dink daaraan hoe die lot van Marcel daar beslis is.

—Ek sou so graag weer met jou daarnatoe wil gaan. Jan, sê my nou reguit:

as ek nog ’n jong meisie was, sou jy dan meer van my hou?

—Jy is nou mooier, maar anders. Ek sien altyd jou man agter jou.

—Jou grappies is laf, Jan, sê sy, nou sy sien dat meneer Landeau nie daar

is nie. Sy sê weer:

—Is jy dan bang vir hom?

—Glad nie!

—Vind jy hom onaangenaam?

—Ja.

— Moet hy dan aangenaam wees as jy met my wil . . . . „flirt”?

Hy lag en sê:

—Natuurlik.

—Maar dis snaaks.

—Ja, sy is tog sy vrou.

Nou lag sy weer; met haar gesig half agter haar waaier, sê sy:

—Ja, so op ’n manier.

—Hou op.

Sy maak die stemmetjie na van kinders wat knor gekry het.

—Ek sal dit nooit weer doen nie, hoor.

Hy kyk haar aan soos sy daar voor hom staan, heeltemal aan hom oorgegee.

Waarom sal hy nog weerstand bied aan die oproeping van die plesier, in

so’n skone vorm gehul?

—Isabella! fluister hy.

Op haar beurt kyk sy _hom_ nou weer in sy oë aan, en, stralende van

genoeë, lê sy haar sagte hand in die hand van die jonkman.

—Jan! my liewe Jan!

’n Oomblik verlustig altwee hulle in die saligheid van beloofde genot en

in die bedwelmende betowering wat die jonkheid aanbied. Daar lui die bel:

die voorstelling begin weer. Swaar weeg hul geluk op hulle, spraakloos

en langsaam stap hul terug na die konsertsaal. Bo-op die marmere trap bly

hulle staan om asem te skep. Haar triomf dwing haar die bekentnis af:

—Jy weet nie hoe jy my van ongerustheid laat bewe het nie, Jan. Ek het

waarlik al geglo wat die mense sê.

Vaag-ongerus, en met halfbeklemde hart, vra hy:

—En wat sê die mense dan?

—Dat jy Paula Kibert liefhet.

Hy laat die arm val wat op syne leun, en vra, met veranderde stem:

—Wie vertel jou dit?

—O! sê sy, ontsteld en bleek, asof sy aan sy voete die puinhope sien van

haar geluk. Net deur die towerkrag van één naam is sy verslae. En dié

naam, in haar onnoselheid moes sy dit self uitspreek. Dis genoeg dat sy

Jan net aankyk om te besef hoe groot haar nederlaag is; en woedend omdat

sy so meteens uit haar hemel geval het, vererger sy nog haar dwaasheid:

—Ja, die hoogmoedige klein ding, met haar prinsesmaniertjies, het jou

wel weet te vang; dit moes ek geweet het. Ek wed dat sy haar speletjie

al lank met jou gespeel het. Soos alle ou-jong-nooiens is sy op die

mannejag. Loop maar na haar toe: sy wag vir jou.

Nou die verleidster self hom aan sy ware liefde teruggee, sien hy haar

met medelye aan:

—Isabella, dit het vroeër net van jou afgehang om my vrou te word. En

vanaand nog het jy kon opmerk hoe swak ek en hoe sterk jy is. Dit betaam

jou nie om so te praat nie.

Sy antwoord niks. Die op-en-neer-gaan van haar bors toon aan wat ’n

storm daar in haar woel. Met haar allesoorwinnende skoonheid gee sy

die stryd op, erken haar nederlaag en gee haar oor aan haar verdriet.

Die neerlaag vind haar onvoorbereid. Te lank al het sy altyd mog reken

op die geluk van haar oorwinninge. Haar flirterige, sinlike liefde

weet net van geesdriftige verheffinge of wanhoop, en is onmatig in ’n

liefdeskermutseling.

Hulle bly alleen staan op die balkon, bo die trap; die mense is al almal

die konsertsaal in. Die leegheid van die wandelsaal lyk bowemate groot

vir Isabella. Sy vat met haar hande aan haar keel asof sy wil stik, en

hef eindelik haar oë op na Jan; dit maak sy hart seer om die smart te

sien van dié skone wese. Nou dat sy innig verdriet het, voel sy niks

laags of gemeens meer nie.

—Jan, snik sy, met ’n nouliks verstaanbare stemmetjie, jy het dit goed

gesien: daar is geen vrou wat jou liefde so verdien as Paula nie. Jy sal

gelukkig wees, en ek baie ongelukkig . . . .

Sy kan nie meer sê as dit nie, maar vooroorbuigend neem sy die hand van

die jongman en druk ’n soen daarop. Hy voel ’n traan op sy hand val, en,

as sy weer haar hoof ophef, sien hy die trane langs haar wange afrol. Sy

herstel haar genoeg om te kan sê, met ’n armsalige glimlaggie:

—Is _dit_ nou pêrels, Jan?

—Jou trane is duisendmaal meer werd.

Hy neem haar in sy arms en soen haar op haar oë. Die onversigtige

afskeidsomhelsing laat hulle amper weer beswyk. Hoeveel paartjies is daar

nie al aanmekaargeketen geraak nie ten gevolge van so ’n paar sekondes

van vertedering en jeugdige ontroering? In die liefde is oral gevaar; ons

vlees is so swak en ons wil so wankelend . . . . ’n Deur wat oopgaan, is

hul redding. Hulle gaan terug in hul „loge.”

—Omdat ek bang was, het ek my lewe misgeloop, sê sy.

Vir die res van die aand vergeet sy heeltemal wat ’n krag sy in haar

skoonheid besit, sy is droewig in haarself gekeerd, sy haat haar mooi

rok en haar juwele, en sou liewer die heerlike armoede van ware liefde

besit. Vir die res van die aand het haar oorwinnaar—onderdaniger en

kragteloser as ’n oorwonnene—sy oog nog op die skoonheid, wat nooit syne

sal word nie. Voordat die vlam van sy begeerte uitgaan, brand dit hom

nog. Voordat hy met vaste stap op die reguit pad van sy bestemming gaan,

kyk hy nog ’n slag om na die wellus—en nie sonder ’n suggie nie.

Toe sy uitstap by die deur om huis-toe te gaan, help hy haar nog met die

wit symantel wat sy om die blanke naaktheid van haar hals en skouers

slaan. En nou eers dat sy weg is, voel hy bly dat hy haar baasgeraak het,

en dink hy ongedwonge en vry aan die reine, fiere jongnooi wat sy hele

hart vervul—die hart wat so vol moed is en tog so swak.

Alida het maar min met Jan gepraat die hele aand. Hy het haar besig

gesien met haar man. Daar word gefluister dat Marthenay belangryke

verliese gely het by die dobbelspel en dat hy so opsigtelik aan die gang

is met ’n seker dame van die deftige wêreld. Sonder teenstribbeling

onderwerp Alida haar aan haar droewige bestaan, met ’n hart wat al

vooruit die ergste verwag. Wat help haar nou haar groot fortuin? Sy

verwag geen geluk meer nie. Haar natuur is te fyn en gevoelig om hom te

kan troos met die genoeëns van die wêreld, terwyl daar verlatenheid is in

haar huis en leegheid in haar hart. Haar dogtertjie alleen hou haar nog

terug van wanhoop. Sy maak haar groot met oordrewe liefde, en weet nie

dat sy haar ook ontwapen vir haar toekomstige lewe nie.

Maar vanaand het die teenwoordigheid van Jan haar weer met pynlike

helderheid laat terugdink aan die gebeurtenis daar in die eikebos

van Chenée toe sy te swak was om haar geluk te gryp ten koste van ’n

gemaklike selfoorwinning of selfs maar ten koste van ’n belofte om te

wag en geduld te hê. Sy wou Jan nog gevra het om haar iets te vertel

omtrent die dood van kommandant Kibert. Maar dié vraag het nie oor haar

lippe gekom nie: is dit nie reeds ontrou van haar as sy so’n vraag sou

doen nie? Nougeset, laai sy dié nuwe smart ook nog maar op haar innerlike

weduweeskap.

So kom sy dus nooit te wete nie dat Marcel, op die oomblik van sy dood,

die portret by hom gedra het van ’n blonde blouoog-meisie, wat hom

gebring het tot die fiere minagting van die dood.

VII.

DIE GEHEIM VAN PAULA.

Jan het ’n ope rytuig in die dorp gaan haal en help sy oom daarin. Die

oubaas is opgeskik in swart manel en keil, borshemp, hoë boordjie en

pêrelgrys handskoene, en in sy hand sy goudknop-wandelstok.

—Ek voel bra ongemaklik in al die deftigheid, sê hy aan sy neef.

Hy het spyt dat hy sy tuinklere moes uittrek. En ’n mens sou sê hy gaan

weg op ’n lang reis, want Jan moet allerhande raadgewinge aanhoor in

verband met sy agterblywende roosboompies.

Jan stel hom gerus daaromtrent.

—Maar, oom, vergeet veral nie u boodskap nie.

—Verbeel jou! sê die ou mannetjie, opwippend. Ek sal jou boodskap goed

oorbring, al sou my beste rose ook verlep solank as ek weg is.

Die oom gaan na Maupas om aan mevrou Kibert die hand van Paula te vra

vir sy neef Jan. Die rytuig verdwyn om die draai. Jan is ongeduldig en

opgewonde; in plaas van binne-toe te gaan, stap hy langsaam die pad

langs, agter die rytuig aan. Op dié manier sal hy sy oom gouer ontmoet

as hy terugkom; en miskien sal hy dan voor die aand tyd hê om self nog

na Maupas te gaan en te praat met haar, wat dan sy verloofde sal wees.

Hy kyk na die son, wat sonder die minste haas na die berge daal, en hy

verwens die vervelende lang somerdae.

Ná die aand van die komedievoorstelling het die gevoel in die jonkman se

hart nog inniger geword. Hy het Paula lief om haar moed en haar fierheid,

en ook om die geheimsinnige onverklaarbare aantreklikheid wat op ons

uitgeoefen word deur die gelaatstrekke, die kleur van die oë, die sware

hoofhare, die gestalte, en al die bekoorlikhede van die vrou in wie ons

vooruit die versekering en die blydskap van ons toekoms lees, of van ’n

toekoms vol rampsalige dog genotvolle kwelling. Die verstandige jongnooi,

met haar vlammende oogopslag, het sy hart vervul met tere liefde; bowenal

het sy hom daartoe gebring om die ware doel van ons menslike bestaan na

te streef—die doel wat nie daarin lê dat ons die begin en die end van

alles in onsself soek nie, maar daarin, dat ons onbaatsugtige en werksame

skakels uitmaak tussen voorgaande en nakomende geslagte. Waar sou hy ooit

’n edeler metgesel kan vind, dapperder, standvastiger, beradener? Sy het

groot geword soos ’n jong plantjie wat krag put uit vrugbare grond. Haar

famielie is ’n waarborg vir haar deugsaamheid. Net ’n bietjie son het

haar ontbreek om tot volle wasdom te kan kom. Sou liefde haar nie met die

warmte en lig kan bedeel nie? En wat ’n vreugde om te sien hoe sy opegaan

soos ’n blom, om te voel dat ’n mens daar ’n bietjie oorsaak van is, om

aan die alte swaar beproefde jonkheid weer smaak te gee in die dag wat

verbygaan, om haar te laat wens dat dit nie so gou verdwyn nie!

Sy sal hom liefkry; miskien het sy hom reeds lief. Sou hy verkeerd gesien

het, of het hy haar nou en dan betrap op ’n klein verrassing van haar

geheime jongmeisies-gevoel, ondanks die waardigheid en terughoudenheid

wat al haar beweginge bestuur? Het sy oog nie nou en dan ’n blossie

gevang op haar wange nie, ’n alte snelle knip van haar oë, en veral

die manier van aankyk, die blik, so rein, so trouhartig, so vas, so

onwillekeurig vriendelik op hom gerig? En nou, as hy terugdink, lyk

dit dan nie vir hom of hy ook gedeel het in die afkeer wat sy by alle

geleenthede laat blyk het teen Isabella Orlandi nie? Isabella Orlandi—hy

het haar nog nie weer gesien nie; hy sal haar ook nooit weer sien nie; hy

voel nog ’n soort van bygelowige vrees vir haar, en hy verban die alte

skone beeld uit sy gedagte; dit verneder hom en herinner hom wreed aan sy

swakheid. Maar as geliefde van Paula Kibert voel hy sterk genoeg om die

gewig van die hele wêreld te kan dra. Is dit nie ’n teken van ware liefde

nie, as dit al ons kragte verhoog en ons soveel selfvertroue gee?

Ander bedenkinge het nog by die gevoel van sy hart gekom. By ’n huwelik

skei ’n liefhebbende hart hom nie af van die stoflike en maatskaplike

lewe nie; en juis daardeur, deur die moeilikhede wat in die weg kom, leer

die liefde verstaan wat die menslike bestaan in die algemeen beteken,

en dat dit beskerm moet word; die hartstog, daarenteen, probeer om dit

te vergeet of te verniel. Die famielie Kibert is nie ryk nie, en wat hy

self moet erwe, is ook maar min. Alhoewel hy die militêre diens liefhet

en nie sonder hartseer daarvan sal afskeid neem nie, voel hy nie die

beroepsaansporing—soos Marcel by voorbeeld—wat ’n mens as dit ware by

die skouers gryp en dwing om ’n pad te gaan waarbuite hom net ongemak en

ongeluk te wag is. En hy moet rekening hou met die stoflike behoeftes van

sy aanstaande huishoue.

Sonder moeite het hy sy lewensplan uitgewerk: hy gaan as kolonis na

Frans en Etienne Kibert in Asië. Hulle het al so dikwels aan hul moeder

geskrywe dat hulle hulp nodig het om hul werk behoorlik uit te brei.

Hy is ’n kind en kleinkind van landbouers, en daar is ’n verlange in

hom na die vrye, vreedsame buitelewe. Sy vroutjie sal nie bang wees

om met hom oor die see te gaan nie: sy sal hom sterk maak vir ’n lewe

van stryd en avontuur. Die bloed van ou dokter Kibert—onverskillig vir

gevaar—die bloed van die ou moeder—met haar onoorwinlike geloof, wat alle

beproewings vir haar draaglik maak—dié bloed vloei ook in die are van die

meisie wat hy bemin.

Met die selfsug wat ’n minnaar kenmerk, vergeet Jan net één persoon,

by al sy toekomsplanne; of liewer, sonder daaraan te dink, maak hy nou

’n plan om dié één te beroof van haar enigste soetigheid in ’n bitter

bestaan. Die dapperheid van mevrou Kibert is vir hom ’n sterk waarborg

van Paula se moed, sy is so’n moeder waardig; maar hy besef nie dat hy

van die arme vrou haar grootste opoffering gaan verlang nie: haar laaste

kind, dié wat sy so angstig-beminnend in haar arms druk, en wat God haar

nog gespaar het.

Terwyl hy so op die pad van Maupas aanstap, sy geluk tegemoet, in die

skemer en die heerlike lug van die someraand, maak ou Marie die deur oop

vir sy oom. Sy laat hom in die voorkamer, en terwyl sy haar nooi gaan

roep, dink sy:

—Wat is die ou se planne—met sy swart manel en keil?

Die ou bly stilstaan voor ’n blompot met rose wat in die middel van die

tafel staan. Hy bekyk hulle so digteby dat dit lyk of hy hul wil opruik,

en meteens lig hy sy hande op in die grootste verbasing. So kry mevrou

Kibert hom daar staan. Hy groet haar nouliks, dog wys dadelik na die

blomme en roep uit:

—Daardie een! Sien u dit?

—Ja, sê sy, verwonderd.

—Waar het u dit gekry?

—Ag, ek weet nie meer nie, meneer.

—Onmoontlik! U _moet_ weet. Antwoord!

En ’n bietjie minder brutaal sê die ou rosegek dan weer:

—Asseblief tog, mevrou. Dis baie belangryk.

Mevrou Kibert probeer nou om haar geheue te ondervra:

—My seun het die steggies uit Siena meegebring. Ons het dit hier geplant

en dit dra mooi.

—A! het ek nie geweet dis ’n Sinese roos nie! En die naam weet u

natuurlik nie. Niemand ken hier die name van blomme nie.

Mevrou Kibert beken glimlaggend dat sy die naam nie weet nie.

En daar begin die ou uit te vaar, wel ’n halfuur lank, oor die skandelike

verwaarlosing van die plantkunde by die onderwys.

Mevrou Kibert, dinkende aan iets anders, kan skaars ’n woordjie hier en

daar inbring. Sy verseker hom dat sy van name niks weet nie, maar darem

baie van blomme hou.

Maar die ou is nou heeltemal opgewonde, en nie meer in te hou nie. Hy

vertel haar die geskiedenis en name van rose in vreemde lande. Mevrou

Kibert voel wel wat die doel van sy onverwagte besoek is: hy wat net vir

sy plante lewe en sy medemense veronagsaam, dit moet wel iets belangryks

wees wat hom uitgedrywe het, dit kan niks anders wees nie as ’n aanvraag

ten huwelik. Bewoë dink sy aan Paula, wat nie tuis is nie en so gelukkig

sal wees as sy terugkom. Die ou vrou probeer om sy woorde op ’n ander

koers te lei:

—Hoe gaan dit tog met Jan? Ons het hom al ’n paar dae nie gesien nie, hy

kom te min hier.

Maar die ou blommegek is nie haastig met sy boodskap nie. Hy is eindelik

so ver dat hy die roos uit die blompot het.

—O, met Jan gaan dit goed, sê hy onverskillig, en dan dadelik weer:

—Ja, hierdie soort is, so te sê, onbekend hier. Ek sal dit ’n naam gee.

Mag ek hierdie een saamneem, mevrou?

—Seker, meneer, sê mevrou Kibert. Sy vrees al dat sy mis gesien het

omtrent sy boodskap.

—Baie dankie, mevrou, ek wil met hom werk voor hy verlep is.

Hy is weg met die blom. In die deur bly hy staan, en op ’n geheimsinnige

toon, wat haar laat ontroer, sê hy:

—Ek sal u ’n geheim vertel: deur oor en weer ent het ek ’n nuwe roos laat

ontstaan. U sal dit sien. Dit het nog nie ’n naam nie. Ek sal dit na u

dogter noem: _Mevrou Paula Berlier_. My neef sal dié naam tog alte mooi

vind.

En sonder sy boodskap op ’n ander manier te laat blyk, is die wonderlike

ou snuiter weg—sy roos in sy hand en sy oë daarop.

Mevrou Kibert kan ’n glimlag nie onderdruk nie:

—Die arme ou! Hy vergeet ons almal vir ’n blom.

Jan kom die pad op, sy oom tegemoet, en is al byna by die eikebos. Hy

hoor die wiele van die rytuig op die gruis, en daar sien hy dit, deur die

takke van die bome. Hy hardloop, al is dit opdraans:

—Wel, oom?

Jan voel gerus, want die ou hou die blom in die lug, soos ’n oorwinnaar.

—Kyk, kyk, hierdie roos het nog makeer aan my versameling!

—Wat raak dit my! sê Jan kortaf. Sê sy ja of nee?

Die ou laat somaar die roos val en slaan sy hande wanhopend aan sy hoof:

—O my vadertjie! Ek is stapelgek. Ek het heeltemaal vergeet om te vra!

Jan kyk hom medelydend aan:

—Ek gaan nou terug, nou-nou.

—Nee, ek gaan self; gaan maar terug na u blomme, oom, hulle sal u weer

tot bedaring bring.

En so gaan Jan na Maupas.

Die ou kyk hom na tot hy verdwyn agter die draai van die pad. Dan droog

hy sy gesig af en sê die koetsier moet maar aanry. Vir die eerste maal in

sy lewe kom hy sonder plesier tuis in die Rosevilla.

Jan kry mevrou Kibert in die tuin van Maupas. Sy glimlag as sy hom sien;

en hy voel gerus as hy die vriendelikheid gewaar van die edele vrou.

—Dag, Jan. Jou oom was hier, weet jy daarvan?

—Ja, mevrou, hy was die draer van my lewenshoop, en hy het versuim om dit

aan u te sê.

—O, vergeef hom dit. Hy leef in drome, en sy drome is bloemryk.

Met bevallige huiwerigheid neem sy die hand van die jonkman.

—Maar stel jou gerus. Ek verstaan die taal van die blomme.

Hulle gaan sit by die kliptafeltjie onder die bome. Jan soen haar hand.

Hulle het mekaar al verstaan.

—Dus weet u dat ek haar liefhet? sê die jongman, bewoë.

En met vaster stem voeg hy daar by:

—Hoe sou ek haar nie kan liefhê nie, mevrou?

—Sy is dit werd, sê Paula haar moeder. En sy dink aan haar nuwe toekoms.

Bang vir die lewe · 第 12 / 15 段