’n Ander, meer donkerblou hemel, ’n ander dor en kaal land het sy
gevoeligheid geskerp en volmaak gemaak. En veral het ander, droewiger
aandoeninge sy hart by herhaling getref, net soos die beitel van die
beeldhouer ’n klip tref en die onnodige stukke laat wegspat om ’n
beeld te laat ontstaan. ’n Gevoel van dankbaarheid laat hom die volle
en opwekkende gevoelens wat hierdie voorjaarsmôre hom gee, in verband
bring met die bloedige môre toe sy vriend geval het. So ’n doodval van
sy aanvoerder ná die oorwinning, so’n deurboorde voorhoof waarop die
verstand sy setel gehad het, so’n verkilde hart wat vol liefde was,
soveel werkkrag en moed, afgebreek soos ’n boom in bloei—kyk, dis dit wat
ons wys op die nietigheid van die mens en as teenstelling—die dag meer
lig gee! Daar, voor die bleek gesig van Marcel, uitgestrek op die grond,
skoon, ernstig en vreedsaam in sy onbeweeglikheid—’n skoonheid, so stil
tevrede, so kalm, dat hy dit nooit sal vergeet nie, so roerend in die
omgewing en in die omstandighede—daar het hy die lus gevoel om te lewe,
met sy hele hart en sonder vrees, en die behoefte om die ewige werk van
die dood teen te spreek.
Die ou hek van Maupas staan oop, soos altyd. Jan loop op in die
kastaiinglaning. Hy asem die geur van die bloeisels in. Hy weet dat daar
in ’n oomblik weer trane sal vloei, pynlik maar weldadig, en dat hy die
droewige verdienste sal hê van ou wonde weer oop te maak. Die gruis kraak
onder sy voete.
Mevrou Kibert sit op stoep te werk—met stram vingers—in die koel môrelug.
Sy staan op en kyk wie die besoeker is. Sy sien die jonkman.
—Jan, is dit jy? Ek het tog so na jou verlang!
Met die eerste oogopslag sien hy die spore van haar beproewing op haar.
Sy het krommer geword, en gryser. Maar met verwondering herken hy ook op
haar vermaerde gesig die vreedsame uitdrukking van vroeër.
—Mevrou, o, mevrou!
Haastig storm hy die treedjies op, en, net of dit natuurlik so kom, buig
hy oor haar en gee haar ’n soen.
Sy probeer vergeefs om nie te huil nie en fluister die naam van Marcel.
—Kom binne, sê sy. In die voorkamer kan ons beter van hom praat.
Sy loop sukkelend vooruit. Sy maak ’n deur oop en roep:
—Paula, hier is Jan Berlier.
—Ek het gisteraand gekom, sê die jonkman. En ek kom al vroeg vanmôre
omdat ek u graag gou wil sien.
—Dis baie goed van jou. Ek het wel geweet dat jy gou sou kom. Verskeie
dae al het ons oë die pad opgepas.
Paula kom binne en gee Jan haar hand. Haar mooi swart hare laat haar
mat-bleek gelaatskleur uitkom. Daar is geen vuur meer in haar donker oë
nie. Nog meer fier en regop as vantevore, dra sy trots haar verbryselde
hart. Alhoewel Jan heeltemal besig gehou word deur die treurige storie
wat hy vertel, verbaas dit hom om in die jong, ernstige gelaat en in
die stywe houding so’n lewensgeringagting te sien, Sy is verbaas om ’n
verandering in hom te ontdek: met die jare het hy ’n beslister en fermer
houding aangeneem—iets soos Marcel.
En in die klein voorkamer van die buitehuis—waar ’n sonstraal deur die
geslote luike kom—roep die getuie van sy dood die held weer op uit die
harde Afrikaanse grond waar hy rus, waar hy vir sy land geval het, en
bring hom terug in sy famieliekring. Jonk lyk hy, groot, skraal en
gespierd, sy hoof omhoog, gebiedend, begaaf met die meerderheid wat sy
verskyning laat voel, die aanvoerdersgees, die gewilde kalmte wat ’n
hoofman uitwys.
Op die piano sien Jan sy roos-omkranste portret.
Hy praat van hom soos hy dit sou verlang het: op eenvoudige en waardige
wyse. Hy het ’n mooi, waar manier van vertel. Sy woord verjaag alle
swakheid en wanhoop, hy bemoedig en vertroos en weet selfs die dood voor
te stel as voltrekking van ’n bestemming. Die twee vrouens het geween by
sy aankoms, maar aangenaam is sy verhaal nou vir hul harte.
Hy het sy maat nie sien val nie. Dit was net dagbreek toe die geweerskote
hom laat opspring het; hy het sy manskappe dadelik bymekaargeroep. Die
kommandant het, ’n entjie daarvandaan, die vyand dadelik aangeval. Die
sersant, wat by hom was, het my vertel hoe hy gesterwe het. Ek was op die
linkervleuel, hy in die middel. Hy het hulle uit hul posiesie geskiet
en toe agternagesit. Teen die rooi môrelug het ek sy swart skadubeeld
gesien. Die sersant het hom gewys op ’n duikie in die grond, waar miskien
nog van die vyand kon skuil. Hy gee ’n stap vooruit, voel meteens aan sy
voorhoof, bly nog ’n sekonde regop staan, en val toe met ’n slag teen die
grond.
Mevrou Kibert bêre haar gesig in haar hande, en daar is trane in Paula
haar oë, alhoewel sy probeer om haar te bedwing.
—Hy het nie meer geroer nie, sê die kaptein verder—hy het geen pyn te ly
gehad nie. Die dood het hom getref in die setel van sy gedagte: reg voor
sy voorhoof. En hy het aan sy vaderland gedink, en aan julle.
—En aan God, nie waar nie? fluister die arme moeder.
—Ja, aan God. Ek moes bevel voer in sy plek. Maar hy het die hele
oorwinning al behaal. Toe ek hom eindelik kon soek, het hulle hom ’n
entjie opsy gedra, onder ’n palmboom. Vergeefs het ek my oor hom heen
gebuig. Ons dokter het my droefgeestig aangekyk—hy het hom al ondersoek.
Ons samelewe het broers van ons gemaak. Ek het hom liefgehad soos
julle hom liefhet. En daar het ek hom beween soos julle, in jul naam.
En ek het gesien—dié droewige vreugde mog julle nie smaak nie—ek het
die kalme, stille vrede gesien wat hy in die dood gehad het. Dit het
hom ’n uitdrukking gegee van ewige skoonheid. As ek hom so sien in my
herinnering dan kry ek net gedagtes aan sieleadel en krag. Die aand
vantevore het hy nog met my meegegaan na my slaapplek. Dit was ’n heldere
sterrenag. Ons het baie oor die ou tuis gepraat. Hy het gepraat oor u en
oor Paula, hy het julle kort vantevore nog gesien. Hy het geen droewige
voorgevoel gehad nie, maar vir die dood het hy geen vrees gehad nie. In
sy baadjiesak het hy hierdie brief gehad, wat ek u gebring het—dit het sy
laaste hartslae gevoel.
Mevrou Kibert herken haar eie handskrif; sy kyk op—haar gelaat vol
moedersmart. As sy haar woorde kan kry, sê sy:
—En nou, nou rus hy in die vrede van God. Jan, sê my, waar is hy begrawe?
—Op die slagveld, mevrou, tussen twee ander offisiere van laere rang; aan
sy voete lê die gesneuwelde soldate.
Paula sê:
—Ons het inligtinge gevra omtrent wat daar gedaan moet word dat
hy oorgebring kan word na Chamberie. Hy sal hier rus in ons
famielie-grafkelder, by my vader, wat, net soos hy, op die veld van eer
neergeslae is, by my sustertjie Thérèse.
Jan kyk haar aan. Hy weet dat die famielie Kibert maar arm is.
Vertroostend, oortuiend, byna gebiedend wil hy hul die kosbare en
nuttelose plan afraai:
—Waarom hom terug te haal? Die plek waar hy lê, dra die naam van sy
oorwinning, daar het hy getriomfeer. Watter graf sou hom beter pas? Sou
hy ooit ’n beter monument kon verlang het?
—Hulle sal hom daar gou vergeet.
—Nee, Paula, dis tog nie so nie. Al die grafte het opskrifte en word goed
versorg. Op syne staan sy naam, sy rang en die drie oorwinninge wat sy
lewe kenmerk.
Paula kyk weg en dink na, en Jan se oë is op haar fyn sy-gesig. Nog altyd
trou aan haar broer, sê sy weer:
—Ons sou hom so graag digteby ons wil voel, om op die steen te kan kniel
wat hom bedek.
—Julle besit tog sy nagedagtenis, sy gedagte. Wat van Marcel oorbly, is
tog iets anders as sy stoflike oorskot.
—Ja, sê mevrou Kibert, dinkend aan sy onsterflike siel.
Die suster van Marcel dring nie verder aan nie. Maar Jan merk dat die
trane oor haar wange rol.
—Hy was ons trots en my lewe, snik sy; en met sagter stem laat sy daarop
volg: Hy het al lank ’n voorgevoel gehad van sy lot.
—Dit was die Heer Se wil, sê haar moeder. Ons ken Sy weë nie. Somtyds
lyk Hy vir ons so wreed, dat ons lus het om te murmureer. Nogtans is Sy
goedheid grensloos.
Jan is bewoë. Hy neem in sy hand die bewende, gekerfde ou hand, en, vol
eerbied, soos Marcel ook eendag gedaan het, druk hy daar ’n soen op. Hy
staan op en, die twee vroue aansiende, spreek hy met ernstige stem nog
hierdie laaste lofrede uit op die dode—miskien sal dit nog iets uitwerk
op Paula, wat nog die minste getroos en die mismoedigste is:
—Ja, sy kort loopbaan was kompleet. Deur sy wil, sy moed, het hy dit tot
’n blywende voorbeeld gemaak. Moet ons hom nie liewer beny in plaas van
hom te bekla nie? Sonder vrees het hy die dood tegemoet getree. Weet ons
waar of wanneer die dood ons afwag? Hy kan ons elke oomblik ontmoet. Dit
alleen is van belang: sonder vrees en sonder ophou steeds al ons kragte
in te span tot bereiking van ons bestemming. Ons moet die dode eer, dog
ook vertroue behou in die lewe.
Met haar donker oë, wat weer opvlam, kyk Paula die jonkman aan; hy
gee haar nuwe moed. Is hy dan nie meer die ligsinnige, jong offisier
wat gekheid maak met flirterige meisies nie? As sy terugdink, dan
vind sy dat sy hom altyd behandel het met ’n soort van geringagtende
verdraagsaamheid, miskien was dit ’n vae gevoel van ongeopenbaarde
hartseer. Syself, in haar trots, het gedink dat sy baie sterk was; nou
voel sy dat, as sy die respek van haarself en dié van Jan wil verdien, sy
sonder swakkerigheid die bitterheid en opstandigheid uit haar hart moet
ruk wat vir hulle daar opgehoop het soos dooie blare in ’n bos in die
winter.
—Gaan jy nou al weg? vra mevrou Kibert, half verdrietig.
Jan wil haar troos, deur met haar te praat oor al die bande wat haar nog
aan die lewe bind. Hy doen navraag na haar ander kinders: Magriet, wat
sendelinge is, en haar seuns in Asië.
—Hoeveel kinders het Etienne al?
—Die derde word verwag. Ek ken nog geeneen van hulle nie, maar o, ek
het hul lief, as die laaste blydskap wat God my nog skink. Hul name is
Mouritz en Francina, na my man en na my genoem. Dié wat kom, sal Marcel
genoem word.
—En as dit ’n dogtertjie is?
—Dan Marcella. Kyk, hier is die portret van die twee oudste.
—Is hulle nie fraai nie? sê Paula.
—Ja, die meisie lyk na jou, sy het jou swart oë.
—O, sy sal baie mooier wees.
—Dit glo ek nie, sê die jonkman, terwyl hy die portret aan mevrou Kibert
teruggee; en met die mooi glimlag, wat sy gesig so jonk laat lyk, sê hy
nog daarby:
—Is dié dan nie mooi genoeg nie? Jy is moeilik tevrede te stel.
Onwillekeurig kry Paula ’n kleur, nuwe lewe vlam op in haar bleek gelaat
en gee haar ’n ander aansien—so maak ’n sonstraal met ’n diamant. In haar
wanhoop het sy reeds alle besef van haar skoonheid uit die oog verloor,
en met vreugde vind sy dat sy dit nou weer besit.
Jan is bly om te sien dat die twee hul smart ’n oomblik vergeet, so hou
hy aan met vra omtrent die seuns, en waar hul eintlik woon.
—Ag, sê mevrou Kibert, ek kan al die vreemde name nie onthou nie; Paula
kan dit beter doen as ek.
En Paula vertel hoe haar broers daar aangaan. Dit gaan goed, maar hul het
te baie werk, en niemand uit die ou vaderland wil hulle kom help nie.
Eenvoudig en duidelik het sy alles vertel. Jan is opgetoë:
—Hier is geen toekoms meer vir ’n man nie, ek gaan hulle help.
—En jou militêre loopbaan? sê mevrou Kibert, terwyl die jonkman opstaan
om weg te gaan.
—Ek het daar nie so ’n lus in soos Marcel nie; ’n mens verlies so baie
tyd en krag. Maar nou klets ek, mevrou.
Hulle stap uit op die stoep; die front van die huis is toe onder die
blare en blomme van kamperfoelie, rose en meelkruid. Hulle leun teen
die stoeptralies. Hierdie lentemôre is ’n fees vir alle oë wat op haar
skoonheid rus. Die lug is deurskynend en yl. ’n Blouagtige waas—teken
van mooi weer—verdowwe sag die grillige vorme van die berge. Onder in
die laagte skuil die kerktorinkie van die dorpie weg in die skaduwee van
die kastaiingbome. Naderby het die veld die fris-heldere groen kleur wat
net in die voorjaar gesien word. Die halme van die jong gesaaides tril
in die windjie wat verbydwaal; in die vrugteboord het die bome die grond
al bestrooi met die wit- en rosesneeu van hul fyngeurende bloeisels,
en glimlag nog uit al die botsels aan hul takkies. Twee lindebome,
in die hoek van die agterplaas, versprei hul geur in die lug, en die
kastaiingbome van die laning versier hul donkergroen gebladerte met wit
blomtrosse.
Hulle hoor hiervandaan die ewige lied van die weergeboorte; hulle is
getuie van die onophoudelike belofte van die vrugbare aarde aan die
werksame mens.
Voor hulle en om hulle heen is die jonkheid van die jaar—’n beeld van
die bestendige lewe self. Swyend kyk hulle alles so aan; aldrie dink aan
Marcel, en hierdie alte skone dag maak hul droefgeestig.
Gebuig en moeg, neergedruk deur haar herinneringe, laat mevrou Kibert
haar dogter met die kaptein meegaan na die hek. Sy sien hul aanstap, dink
in stilte aan wat miskien kan gebeur, vertrou die toekoms van Paula toe
aan God, en gaan na binne om in eensaamheid die gebeurtenisse nogmaals
voor haar gees te haal waarvan Jan vertel het.
Paula en Jan groet mekaar aan die end van die laning. Die jonkman draai
nog ’n keer om en volg met sy oog die slank-buigsame gestalte wat tussen
die bome deurgly. Op dieselfde oomblik kyk Paula ook om. Die toeval jaag
’n kleur in haar gesig. Om hom nie te laat dink dat sy dit ekspres gedaan
het nie, draai sy om en stap dapper na hom terug.
—Jan, sê sy bewoë, ek dink net daaraan: ek het jou nie genoeg bedank nie,
vir my broer, wat ook min of meer ’n broer vir jou was, vir my moeder wat
jou briewe en jou besoek tog so aangenaam gevind het in haar droefheid.
Jy is baie vriendelik gewees vir ons. Ek het gevoel dat ek jou dit nog
moes sê, daarom het ek teruggekom na jou.
Haar ontroering maak haar skoonheid meer menslik en treffend.
—Ag nee! antwoord die jonkman, moenie so danig bedank nie; was ek dan nie
Marcel se maat nie. En vóór ons was ons vaders ook al maats.
Sonder nog meer woorde te kan kry, bly hulle mekaar so staan en aankyk.
Hulle voel ’n wonderlike verleëntheid, hulle wil daar ’n end aan maak,
maar wil ook nie. Jan sien op Paula se wange die skaduwee van die lang
ooghare, neergeslae oor haar vlammende oë, wat na die grond kyk.
—Luister, sê hy eindelik. In Marcel se baadjie was net één brief: die
laaste een van jou ma. Maar hierdie portret was daarby. Ek het gedink dat
ek dit maar aan jou moes gee.
Hy gee haar ’n half-verweerde kaartjie waarop sy sien, tussen die bome
van Maupas, twee klein meisies van tien of twaalf jaar—die één blond, die
ander bruin, die één het ’n soet gesiggie en kyk alles verwonderd aan,
die ander lyk of sy in beweging was: dis Alida en Paula self.
—Ag! sê Paula. En met dowwe stem vra sy:
—Het hy nooit met jou gepraat oor haar nie?
—Nee, nooit.
Die kaartjie ontglip aan haar hand en val met ’n droë tikkie op die sand
van die pad. Sy hou haar nou nie meer in nie, sonder enige trots in haar
houding beween sy die onverbiddelike lotsbestemming van haar broer—deur
die liefde na sy dood gelei, en hy het dit geweet.
Jan neem haar hand.
—Ja, daar vèr in Afrika het ek baiemaal gedink: hoe verkeerd en dom
gaan die noodlot tog te werk—waarom nie vir my geneem nie, in plaas van
Marcel? Oor my sal tog niemand getreur het nie.
Wat kan sy antwoord? Daar skiet net ’n vlam uit haar oë. Sy tel die
kaartjie self op, voordat Jan kan buk om dit te doen:
—Dankie, Jan; kom gou weer; jy bewys ons daar ’n weldaad mee.
Hy kyk haar ’n oomblik aan en stap dan weg. Sy gaan langsaam die tuin
deur, huis-toe. Sy hou van blomme, sy pluk ’n roos af, en, vir die eerste
keer vanjaar is dit vir haar ’n bietjie aangenaam om aan ’n roos te ruik.
Die dood van haar broer het vir haar ’n ander en onverwagte aansien
gekry; en by haarself herhaal sy die woorde van Jan, terwyl sy die
opwekkende les daarvan voel:
—_Ons moet die dode eer, dog ook vertroue behou in die lewe._
Dié woorde, is hul nie die kort samevatting nie, die aansporing tot ware
lewe, wat die loopbaan van helde samevat as in ’n kosbare kragaftreksel?
_Die_ is groot wat nie suinig is met die moeite wat hul moet gebruik nie,
en wat op hul kort of lang loopbaan ’n afdruksel maak van hul siel—vry
van alle vrees en swakheid. So put sy dan bevrediging en vertroosting uit
die aandoening self wat haar in verwarring bring. En terwyl sy die fyn
geur opruik, sweer sy by haarself om van nou af dapper haar swaar te dra,
sonder bitterheid en sonder te murmureer. Haar afgeskeepte jonkheid sal
nie nutteloos wees nie as dit hom aan die wêreld gee soos ’n vrywillige
offerande. En as sy by haar moeder kom, wat die blomme van Marcel water
gee, omarm sy die arme ou vrou, asof sy die ouderdom wil beskerm wat aan
haar sorg toevertrou is, asof sy die belofte van nuwe moed met ’n seël
wil bekragtig en wil toon dat sy dit meen met haar nuwe lewensopvatting.
VI.
ISABELLA.
Vooraan in ’n hokkie of „loge” van die eerste rang, in die konsertgebou,
sit mevrou Marthenay (Alida) en mevrou Landeau (Isabella). Aan al die
oë en brilletjies wat op hulle gerig is, bied hulle so hul skoonheid te
kyk aan—eersgenoemde met bedeesheid, laasgenoemde ekspres en beslis. En
die teëstelling in hulle skoonheid val goed in die oog. Isabella dra ’n
aandrok van dun, geel sy, met ’n punt laag toelopend van voor, sodat haar
volmaak-skone, dunne hals goed te sien is; en, om die blankheid van haar
hals nog meer te laat uitkom, dra sy ’n swart ferweellint daar om, met ’n
diamant daarin van die helderste water. Die sagte Alida dra ’n rok van
swart kant, sonder ’n enkele juweel; en die sombere kleur—wat sy ekspres
gekies het om nie in die oog te val nie—pas goed by haar fyne blondheid.
Agter die dames sit graaf Marthenay, meneer Landeau en kaptein Jan
Berlier. Die stuk wat vanaand gespeel word, is „Iphigenie in Tauris,”
van Glück. Op die eerste mate van die orkes, soos snel opmekaarvolgende
golwe, stilte en aandag in die saal verspreidende, verdwyn Marthenay
stilletjies deur die agterdeurtjie van die „loge.” In ’n oomblik is hy in
die dobbelsaal. Toe sy vrou omkyk, sien sy dat hy weg is. Alleenstaande
in haar ongeluk, en terwyl sy die vriend van Marcel so by haar sien, dink
sy met weemoed aan wat sou kan gewees het, maar wat nie is nie. Isabella
wag nou met die geduld en gespanne aandag van ’n kat haar kans af om
eindelik haar begeerde prooi te bemagtig, en sy gee haar bekoorlikheid
tyd om sy werk te doen, want sy voel agter haar blote nek, waar haar
swart hare opgeborsel is, die asem van die jonkman wat agter haar sit.
Meneer Landeau voel hom geslinger tussen twee gedagtes, tussen die
begeerte om in die nabyheid te toef van sy verfynd-wrede, skone vrou, en
die lus om na die leessaal te loop en in die koerante na te gaan hoe die
geldmark staan—die toneel van sy eindelose worstelinge.—Hy gaan.
Alleen gelaat, geniet Jan nou van die hemelse musiek—eenvoudig en rustig,
soos die lyne van ’n Griekse tempel. Wat hy hoor, is die roerende
smeekbede aan die kuise Diana gerig deur Iphigenie: vraende aan die
godin om haar tog liewer genadiglik te laat sterwe as haar te verban
na die woeste kuste van Tauris. Deur die voorwaartse beweging van haar
jong liggaam, haar uitgestrekte arms, die reglynige en harmoniese plooie
van haar wit gewaad, die adel in haar houding en haar suiwer-skone
gelaat, verteenwoordig die sangeres—maar in lewende lywe—die outydse
marmerbeelde, waarvan die onbeweeglik vaste vorme altyd nog aandoening
wek in siele wat gevoelig is vir skoonheid, en waarvan die invloed nog
altyd aangroei met die tyd. Half begrypende die hoë besieling van hierdie
kuns, juig die mense geesdriftig toe.
Isabella kyk om en sien met verbasing dat Jan se oë skitter van
opgetoënheid—hy kyk oor haar heen na die toneel. Sy fluister hom toe,
sodat hy vooroor buig en die geur kry van haar huid.
Ná die eerste bedryf het Alida lus om die kaptein te vra om haar na die
dobbelsaal te bring en haar man te gaan haal. Het sy hom nie iets te vra
nie? Maar sy durf nie en neem maar die arm van meneer Landeau. Dat almal
nou weg is, is net na Isabella haar sin, en sy wink vir Jan om naas haar
te kom sit.
—Weet jy, sê sy, dat ek jou dood al beween het?
—My dood? Maar dan was jy ’n bietjie haastig daarmee.
—Ja, die dood van kaptein Kibert is bekend gemaak geword; en jy was mos
daar by hom. Hoe kon ek weet dat dieselfde lot jou nie getref het nie?
—Het die mooi oë my waarlik beween?
—’n Hele aand.
—Hulle brand en skitter so, dat hul jou trane wel moet laat opdroog.
—Hulle is bly om jou weer te sien, Jan. En brutaalweg kyk sy hom aan met
brandende, smagtende oë. Oombliklik geluk dit haar om tussen hulle twee
te herstel die vryerige verhouding wat vir hulle vroeër so aangenaam
was. Sy sien dat hy sy handskoen uit het. Sy trek hare ook uit, en haar
vingers vol goue ringe, strengel sy deur dié van haar ou maat.
—Jy hou van edelstene, sê hy, en by die lig beskou hy die dun uitlopende
vingers en rose naels van haar blanke hand.
—Ja, antwoord sy, dan het ek ’n gedagte dat ek, in klein, al die skatte
van die wêreld by my dra.
Om sy mond speel ’n twyfelagtige glimlag.
—Die wêreld is baie groot, mevrou, om dit in u handjie te kan hou.
—Kyk hoe mooi is die groen van hierdie smarag, Jan.
—Ek hou meer van die veld-groen.
—En die helder-blou van hierdie saffier.
—Dis nie so skoon as die hemelblou nie.
—En hierdie robyn.
—Bloed is mooier.
—En hierdie pêrels.
—Ek hou meer van trane.
—Nou ja, dan kan jy tevrede wees, want trane het ek vir jou gestort.
—En die trane, mevrou, was hul ook van die eerste water, net soos die
diamant aan u hals?
—Is dit nie ’n mooi diamant nie? Die vonke wat dit uitskiet, is enig.
Hulle glimlag van pret oor hul verliefderige skermutseling—soos twee
sabelskermers wat mekaar met die wapen groet. Net of sy geniet van ’n
ruiker blomme, so asem die jong vrou gretig die jong lewe in. Haar
boesem gaan op en neer onder haar keurslyf van sagte sy, wat haar volle
vorme goed laat veronderstel, en op haar blanke huid kan Jan die fyn
vertakking van blou aartjies sien tot waar hul verdwyn onder die sye
stof. Die onberispelike snit en hang van haar kleed laat goed sien wat
’n volmaakskoon liggaam daarin sit, gekroon met die fiere koninklike
gelaat en pikswart hare. Hy hoef maar te buk om die skoon blom te kan
pluk—die seldsame, lewende orgideeblom. Die steel na hom toe gebuig, die
blaartjies uitgesprei—trillende in die lou aandwindjie—bied die blom
hom aan. Waarom sou hy dit nie pluk nie? Weet hy dan die skoonheid nie
op prys te stel nie, en die jeug, wat deur die plesier opgefleur word?
Maar as hy dit nie waardeer nie, dan sou hy nie in teenwoordigheid van
die vreugde die uitdrukking hê van diepe droefgeestigheid nie, wat alleen
ontstaan as ’n mens met die dood bekend is.
—Ek het tog so lank vir jou gewag, sê sy, met ’n veranderde stem, waarin
hy ’n toontjie van verlange ontdek.
—Het jy regtig vir my gewag?
—Ek wag nog vir jou.
Die orkes begin te speel vir die twede bedryf. Alida en meneer Lavernay
kom terug in die „loge”—meneer Landeau het sy plek aan meneer Lavernay
afgestaan omdat hy liewer in die leessaal bly by sy beursoordinkings dan
te luister na die droefgeestige musiek wat hy tog nie verstaan nie, en
wat so anders is as die operettedeuntjies.
Langsaam word die outydse drama op die toneel afgespeel. Maar die
musiek—opvoedster van kalme en reine siele—kan Jan nou nie meer bekoor
nie. Vlak voor hom, tussen die swart ferweellint en die keurslyf, sien
hy die blanke vlees van Isabella, en hy stel hom voor hoe sag dit moet
wees. Sy kyk half opsy en hy sien haar sy-gesig: met sy oog volg hy die
skone lyn van haar neus tot sy blik gevestig bly op haar rooi lippe—skone
lippe, slaafs tot sy diens bereid. Want het sy nie gesê nie: _Ek wag nog
vir jou?_ Waarvoor wag hy nog? Het hy dan meteens onverskillig geword
vir die tallose verleidinge van die lewe, in hierdie vrou samegevat in
haar buitengewone skoonheid, soos die soort oosterse reukflessies wat in
één druppeltjie die aftreksel bevat van duisend rose? Het die Afrikaanse
son dan sy bloed koud gemaak in plaas van daar gloed in te giet? Hy is
nog jonk en ongetroud, by wie sou hy meer kan geniet van sy jonkheid en
vryheid?
Die skone hoof, wat so sy aandag boei, draai nou weer na voor, en nou is
sy oog gevestig op haar hare—waarvan hy die gewig skat—op haar hals en
skouers. Dit duisel in sy hoof: ’n oomblik sluit hy sy oë en sweer dat hy
die vurige begeerte sal tevrede stel wat hom verteer.
Op die oomblik van oorgawe laat die musiek hom die akkoorde hoor van
diepe en aanhoudende gemoedsontroering—statig en bedaard, selfs by
die heftige smart wat hul moet vertolk. Sy oorspanne senuwee tril. Sy
gevoeligheid, vertienvoudig deur die uitsig op genot, drink die hemelse
musiek met graagte in, soos ’n verdroogde blom die dou.
Op die toneel betwis Orestes en Pylades mekaar die voorreg om, die een
vir die ander, te sterwe—dewyl op die somber kuste van Tauris een van
hulle as offer geëis word. Dis ’n diep-droewige worsteling waarin die
weldadige vriendskap die innigste liefde nog oortref.