wintermôre wat ’n koue lig-rilling oor die sneeu laat dwaal. Die ou vrou
bid nog aaneen. Uit God put sy haar onoorwinlike krag. As uitverkorene
van die smart, moet sy tot selfs die besinksel van die bittere
lydensbeker uitdrink.
Paula word wakker en sien hoe haar ma, bleek en yskoud, haar flou toelag.
Sy sê tevergeefs aan haar dat sy rus moet neem en moet eet.
Geboë, en meer dan tien jaar verouderd, gaan mevrou Kibert aan
haar skryftafeltjie sit en begin met vaste hand te skrywe aan haar
afwesige dogter en seuns, sodat almal kan deel in hul gemeenskaplike
beproewing . . . .
IV.
ROUBEKLAG.
Gedurende die dae wat volg, beskryf die koerante, tot in alle
besonderhede, die treurspel wat daar vér in die woestyn afgespeel is.
Aan die roemryke nagedagtenis van die heldhaftige kaptein Kibert word
alle eer bewys. Sy portret en lewensbeskrywing kom in die koerante. Sy
te korte loopbaan word deur alle harte betreur. In hul eensaamheid, op
Maupas, oorstelp van droefheid, ontvang die moeder en dogter in stille
gelatenheid die talryke betuiginge van simpatie, wat uit die hele land na
hulle toestroom, van die Regering, van die kommando-maats van Marcel, van
bekende en onbekende mense. Hulle steun mekaar, om hul verlies beter te
kan verstaan en te kan dra; en hul enigste troos vind hul in gebed en in
hul wedersydse liefde vir mekaar.
Meteens kom nou die deftige wêreld tot besluit om die voortou te vat in
die uiting van algemene simpatie—die deftige wêreld, wat eers die rug
toegekeer het aan die famielie Kibert in hul eerlike verlies van hul
fortuin.
Mevrou Delourens voel dat sy iets moet doen. Sy haal ou jongjuffrou
Sonjon oor—as honorêre presidente van die Rooi-Kruisvereniging—om voor
te gaan in die instelling van ’n lykdiens, wat met groot ophef sal
plaasvind in die groot kerk van Chamberie. Dis naamlik van belang om
die nagedagtenis van die roemryke dode in genadige beskerming te neem,
en om deur al die deftigheid uit te blink bo sy burgerlike afkoms. Die
outoriteite sal ook uitgenooi word om teenwoordig te wees; hulle sal aan
die diens iets vernaams meedeel—en hul afwesigheid sal die koerante van
die politieke teenpartye ’n stok in die hand gee! In elk geval sal dit
dus goed gaan.
Alles is nou mooi agtermekaar—alles en almal bymekaargesoek, die diens
bepaal, die uitnodiginge uitgestuur; mejuffrou Sonjon en mevrou Delourens
word offisiëel afgevaardig na Maupas om nou net nog die famielie Kibert
se toestemming tot die kerkdiens te vra. Mevrou Marthenay (Alida) gaan
saam met haar ma; sy wil haar roubeklag doen—wat sy innig diep voel!—aan
mevrou Kibert en aan Paula, en sy het nie gedurf om alleen te gaan nie.
Dis die eerste dae van Maartmaand. Die sneeu smelt op die somber,
modderige velde, op die verspoelde paaie. Onder laaghangende, swaar
wolke, omring van nakende, swart, verwaarloos uitsiende bome, lê die ou
buitehuis daar, droefgeestig en verlate.
—Ek sou my tog nie, jaar-in en jaar-uit, op so ’n plek lewendig wil
begrawe nie, sê mevrou Delourens aan mejuffrou Sonjon terwyl die rytuig
die verlate boomlaning opry.
—Die kerk is te vèr van hulle af, sê die ou jongjuffrou, met ’n vroom
gesig.
Die ou siel het nog nooit uitgevind, dat God oral is nie, en dat sy nie
die hele land hoef rond te reis—veral na die plekke waar sy dit lekker
het—om Hom te vind nie.
Ou Marie, die bediende, sien die deftige rytuig, en waag dit nie om
toegang te weier aan die hoë dames nie, alhoewel sy strenge orders het om
niemand toe te laat nie. So gou as haar ou bene haar kan dra, gaan sy sê
dat daar mense is. Mevrou Kibert is verdrietig daaroor en sê:
—Maar ek het jou tog gesê ek wil niemand sien nie. Sy draai na Paula: Ek
het nie die moed om mense te ontvang nie. Waarom kom mevrou Delourens ons
hinder? Ons het niks aan haar nie, wat wil sy hê?
—Ek weet tog nie ma, sê Paula; sy staan op, klaar om uit die kamer te
gaan.
—Help my om hulle te ontvang, Paula.
Mevrou Kibert kyk haar dogter aan, en sien hoe haar bleek gesig beef en
’n besliste trek aanneem, aantonende wat daar in haar omgaan.
—Paula, smeek sy, verlaat my nie; ek is bangerig en onhandig, dink
daaraan. As ’n mens kwaad gedoen het, is dit gouer vergeet as wanneer ’n
mens goed gedoen het. As sy met my oor die verlede praat, sal ek nie weet
wat om haar te antwoord nie. Bly by my, Paula.
Paula aarsel nie meer nie en gee ’n teken aan Marie om die mense binne te
laat, terwyl sy sê:
—Ek bly hier, ma.
Mejuffrou Sonjon is maar min gewend aan pligpleginge, en laat die woord
aan mevrou Delourens:
—Wat ’n wrede slag vir u! sê mevrou Delourens, terwyl sy nader kom na
mevrou Kibert—die ou vrou moet aan die skoorsteenmantel gryp om te kan
opstaan van haar stoel; dan groet mevrou Delourens ook vir Paula, terwyl
sy voel hoe die meisie haar met ’n ferme en vyandige blik aankyk. Sy wens
dat Paula uit die kamer is.
—Ja, antwoord Marcel se moeder, God beproef ons.
So gee sy dadelik ’n ernstige en godsdienstige wending aan die gesprek.
Mejuffrou Sonjon slaan haar oë op na die hemel, net of sy alleen die
vereiste outorisasie het om die goddelike tussenkoms in te roep:
—Hoe algemeen is tog die beklag wat u in u rou ontvang! sê mevrou
Delourens weer. Die eenstemmige betuiginge van bewondering vir die
heldhaftigheid van die kommandant, die algemene simpatie en rou . . . .
In ons dae van volksheerskappy word verdienste nie meer genoeg geëer nie.
Dikwels moet die dood eers die volle waarde daaraan toeken; en eers na ’n
onherstelbare verlies, betreur ’n mens dit bitter dat jy te laat van die
verdienste kennis geneem het.
Mevrou Kibert is bewoë sodra van haar kind gepraat word. Sy dink by
haarselwe: Nou wil sy ekskuus maak omdat sy Marcel afgestoot het;
eindelik sien sy haar fout in en het daar spyt van; maar mevrou Marthenay
moet nie saamgekom het nie: haar teenwoordigheid is pynlik vir ons.
Die ou vrou kyk mevrou Delourens aan, en die opheldering in haar
smart-verwoeste gelaat lyk soos ’n sonstraal in ’n blaarlose bos in die
winter. Maar Paula is nie so maklik te oorrompel nie, hoewel sy daar nie
aan kan twyfel of mevrou Delourens heeltemal sonder bygedagte so praat
nie.
Nà ’n oomblik stilte, begin mevrou Delourens nou met die doel van haar
besoek.
—U sal dit dus heeltemal natuurlik vind dat ons die begeerte voel om eer
te bewys aan so ’n waardevolle nagedagtenis. Die hele land neem deel in u
rou, maar veral die mense van aansien, tot wie u seun behoor het deur sy
famielie en sy verdienste.
Sy skep ’n slaggie asem, en nou sy voel dat sy mooi op stryk raak,
swaai sy haar oog snel oor haar toehoorders. Mejuffrou Sonjon staan
goedkeurende buiginkies te maak met haar lanklysige, uitgedroogde lyf.
Alida, in haarself gesluit, kyk na die bedroefde aangesigte van mevrou
Kibert en van Paula—haar ou skoolmaat. Sy voel so sleg, dat sy haar hand
op haar bors moet druk: die snikke wat sy inhou, verstik haar. Sy sou
haar hele hart uitstort voor die moeder en dogter, maar sy durf nie. Sy
probeer om saggies die hand te vat van Paula, wat naas haar sit. Maar
beslis trek Paula haar arm weg: sy het nog niks vergeet nie.
Die kragtige stem van mevrou Delourens weerklink weer deur die stille
voorkamer:
—Al die vernaamste dames van die Rooi-Kruis en van die hoogste kringe
het meteens ’n aansporing gevoel om te vra dat daar ’n plegtige lykdiens
gehou sal word in die groot kerk van Chamberie. Al die predikante uit
die omtrek het beloof om te kom. Die Regering sal goed verteenwoordig
word. Die diens sal so groot en pragtig wees, glo my, mevrou, dat dit die
nagedagtenis van die grote dode waardig sal wees.
Sonder ’n woord te praat, het mevrou Kibert haar aangehoor; sy antwoord
eenvoudig:
—Ek dank u, mevrou; en bedank asseblief ook vir my al die dames vir hul
goeie voornemens. Ons het, na ons eie beurs, ’n klein diens laat hou. Al
was dit koud en vèr, ons vriende het almal gekom. Die generaal van die
kommando was self ook daar, en ’n groot klomp offisiere. Baie dankie,
maar ons het nie behoefte aan nog meer publieke plegtighede nie.
—Ja, mevrou, ek begryp u goed. ’n Famielie hou nie daarvan dat
vreemdelinge indring by hul rou nie. Maar dis hier ’n besondere geval.
Die dood van kommandant Kibert is ’n publieke ramp. Die verlies van u
seun is ’n verlies vir die hele land. Sy lewe en sy dood is die land tot
eer. Dit moet u dus nie verwonder as ons hom groot dank betoon nie. Dit
spreek vanself dat die geldmiddele van ’n famielie maar beperk is. Maar
laat _ons_ dit in hande neem. Ontsê ons nie die plesier nie . . . .
Dadelik slaan sy die ongelukkige losgelate woord dood:
—Die droewige plesier wat ’n lykdiens-gebed ’n mens laat voel. Die
plegtigheid is ’n gebed vir ons. U, wat so ’n brawe kristin is—kan u
die gebede weier wat ons wil aanbied? Kan u dit oor u hart kry om ons
deelneming in u rou van die hand te wys?
—Die kerk stel belang in die plegtighede en oefeninge, sê mejuffrou
Sonjon—haar godsdiens is praalsugtig en aristokraties.
Alida het aan die muur ’n vergrote portret ontdek van Marcel; en vir niks
het sy nou nog oog nie as vir die fiere jonkman, wat sy so sonder moed
liefgehad het.
Onderwyl aarsel mevrou Kibert nie omtrent haar antwoord nie, maar
omtrent goeie en beleefde woorde tot inkleding van haar antwoord. Mevrou
Delourens kom haar hier ’n verbetering aanbied op haar eie beskeie
lykdiensie, wat so sonder praal of pronk of glans was, en nou aangevul
moet word deur ’n minder armsalige, deur ’n skitterender en wêreldse
vertoning. Dis die rykdom wat die armoede besoek en genadig onder
beskerming wil neem. So neem Paula dit op; sy kook inwendig en kyk haar
ma skerp aan met haar donker oë, waar lig in flikker—soos blitse in
die nag. Maar mevrou Kibert sien in die aanvraag niks meer nie as ’n
eerbiedige hulde aan haar kind; en hoewel sy so’n mededinging—wat sy as
onnuttig beskou—van die hand wil wys, probeer sy elke woordjie te vermy
wat die minste wrywing sou kan veroorsaak.
Paula vrees dat haar ma te beskroomd is, en het ’n halwe gedagte dat sy
besluiteloos is—dus waag sy dit om haar voor te spring:
—U plan het ons diep getref, mevrou, en ons stel dit na verdienste op
prys; dit spyt ons om so’n guns af te wys. Die nagedagtenis van my broer
is al behoorlik geëer. Ons verlang nie na meer publieke roubetuiginge nie
as ons reeds ontvang het. God meet Sy seëninge nie af na die maat van die
mooiste plegtighede nie.
Mevrou Delourens maak of sy volstrek geen waarde heg aan wat Paula te sê
het nie: sy draai na mevrou Kibert. Die ou vrou begryp die beweging en sê:
—Ja, mevrou, dis soos Paula sê.
Mejuffrou Sonjon stik amper, en slaan haar oë hemelwaarts, terwyl die
meesteres van Chenée—ongewoon om dwars getrek te word—die aanval hernuwe:
—Ek kan u weiering nie verklaar nie. Ons vra niks meer nie as om u ons
simpatie op die mees natuurlike manier te betoon. Al die dames, mejuffrou
Sonjon, gravin Lavernay, barones Ambelard, is dit eens met my. Ek
verteenwoordig hulle by u. Ons predikant sal ook sy bes doen.
Sy dink om indruk op die ou vrou te maak deur al die hoë adel op te noem.
Sy weet nie, en sy kan nie weet, tot wat ’n graad van onverskilligheid
die lewe mevrou Kibert gebring het ten opsigte van wêreldse sake en mense
nie.
Paula kry jammer vir haar ma in haar verleëntheid. Sy kap nou om daar ’n
end aan te maak.
—In Chamberie was dit bekendgemaak dat ons ’n lykdiens sou hou. Al ons
vriende het gekom, selfs van verre plekke; daar het selfs onbekende mense
gekom om ons te bekla. Maar dis my vertel dat u bank leeg was, mevrou; ek
wou dit nie glo nie.
Aan die set voeg sy nog toe:
—As my oudste broer, wat nou hoof van die famielie is, dink dat verdere
pligpleginge nog bepaald nodig is, dan sal hy ons dit wel laat weet. Ons
sal na sy begeerte handel. My moeder en hy is alleen bevoeg om hierin
iets te doen.
Mevrou Delourens sien nou dat alle moeite verniet is; sy staan op:
—Dit spyt my, mevrou, dat ons die misverstand nie kan wegneem nie. Ek het
soiets nie hier verwag nie. Maar ek sien dat u dogter groot invloed oor u
het.
—Ek is dit heeltemal eens met haar, sê die ou vrou, terwyl ook sy met
moeite opstaan.
Sy keur goed wat Paula gesê het, maar sy sou gewens het dat dit alles op
minder oorheersende toon gesê was. Sy vrees dat haar besoekers aanstoot
sal neem, en dit pynig haar, en ’n kleurtjie vlam op in haar bleek wange.
Terwyl sy die dames uitgeleide doen, merk mevrou Delourens die ligte
gloed op. Sy soek na wraak, en sy dink dit daarin te vind: met katterige
spotsug gee sy die ou vrou ’n steek:
Dag, mevrou. Maar kyk, u sien daar waarlik goed uit! Mooi so! Dit verbaas
ons en ons is daar bly om.
Die ou vrou haar oë skiet vol trane: sy is nog maar alte gevoelig vir
onregvêrdige beoordeling. Oud, krom en gebroke, soos sy daar is, moet
sy elkeen met medelye vervul, behalwe die teleurgestelde vrou van die
wêreld. Soetjies sê sy, terwyl die bloed weer uit haar wange wyk:
—Ek hoop die Heer sal my gesond hou! My taak is nog nie op ’n end nie.
Sy dink by dié woord aan Paula; haar onsekere toekoms maak die ou vrou
ongerus en laat haar nog vashou aan die lewe. Maar die voorkamerdeur is
agter hulle toegemaak. Sy volg die dames tot by hul rytuig, hul gaan sit,
maar sien dat Alida agtergebly het.
—Ek sal haar roep, sê mevrou Kibert, en sukkel die treedjies weer op.
Alida het alleen agtergebly by Paula en laat eindelik die vrye loop aan
haar verdriet:
—Paula, my liewe Paula, wil jy my toelaat om jou ’n soen te gee?
O, ek het ook so baie geween. Kan jy ooit weet? Ek is so bedroef
vandat . . . . . vandat hy nie meer leef nie. Ag, jy kan dit nie verstaan
nie!
Paula staan onbeweeglik, ongenaakbaar; met verwondering kyk sy die
elegante jonge vrou aan, met die rein en skoon gelaatstrekke, wat haar om
’n guns vra; en sy dink aan wat verby is:
—Wat sal dit help? sê sy.
En alhoewel sy sien dat Alida haar oë hol is en haar gelaat asvaal, sê sy
nog daarby, tussen haar tande:
—Is dit nie jou skuld, min of meer, dat ons vandag so ongelukkig is nie?
Hierdie swak, verliefde kind het geweier om met haar broer te trou, en
daaraan skryf sy dit toe dat hy so na die dood begin te verlang het;
nadat hy die laaste keer van Chenée teruggekom het, het sy dit baiemaal
opgemerk, in woorde wat hy hom so kalm laat ontval het oor die dood.
Sy, wat nou hier by haar staan te huil, het toe net nodig gehad om één
woordjie te praat om weer lewenslus op te wek in die vurig beminnende
hart van haar broer en daarby ook die vertroue wat selfs die gevaar in
bedwang hou. Dié woordjie het sy toe nie uitgespreek nie, hoewel sy hom
liefgehad het. Was sy onverskillig gewees vir sy liefde, dan sou sy nou
nie skuldig wees nie; maar haar lafhartigheid was sterker gewees as haar
liefde.
Alida staan nog maar te snik:
—Ag, ek is nog ongelukkiger as jy.
Dit lyk nou darem vir Paula of Alida haar droefheid regtig diepgevoeld
is. Bewoë sluit sy haar ou skoolmaat in haar arms; en—soos in die ou dae
by hul grappies—so meng die twee nou hul trane in verdriet.
—Ek het hom liefgehad, fluister Alida.
—Waarom wou jy dan nie toestem nie?
Sy ontboesem haar nou eindelik heeltemal, en so tussen haar snikke deur
sê sy:
—Jy, Paula, kan jou trane ’n vrye loop gee. Maar ek moet my vrolik hou
terwyl ek die dood in my hart dra . . . . My liewe Paula, mag God jou
behoed van ooit te moet dra wat ek nou te dra het! . . . . . En dis my
eie skuld, Paula . . . . Ag, dis waar, ek sou vandag liewer sy weduwee
wil wees as wat ek nou is.
So kom Paula dan te wete hoe haar vriendin doodgemartel word deur
innerlike smart. So op die oog sou jy gesê het dat Alida gelukkig was:
die gedoente van die groot wêreld laat hom skaars hoor tot by Maupas.
En kyk, nou sien sy meteens die onmiddellike en altyddurende straf wat
opgelê word aan dié wat bang is vir die lewe.
Alida leun op Paula haar skouer, net of sy smeek om hulp. Alhoewel sy
haar klere aanhet van pels, beef sy oor haar hele liggaam. Paula soen
haar, sy neem haar betraande gesig tussen haar hande:
—Alida, ek het tog so jammer vir jou. Maar jy moet moed hou; jy moet
vergeet. Dink aan jou kindjie. Maak van _haar_ ’n dapper vrou.
—Ek het hom liefgehad, herhaal sy nog ’n keer saggies.
Mevrou Kibert kom nou binne. Sy sien hoe die twee mekaar omhels; en sy
voel waarom hulle ween.
—U ma wag vir u, mevrou.
Sy soek na nog ’n woord en sê saggies:
—Dankie vir die besoek.
Dis ’n woord van vergifnis. Alida neem die ou vrou haar hand en soen dit.
Sy droog haar oë af, kyk nog vir die laaste keer na Marcel se portret en
loop haastig die kamer uit . . . .
Die rytuig gaan deur die blaarlose boomlaning en uit by die hek.
Mevrou Delourens was ongerus oor die lank wegbly van haar dogter; sy kyk
haar nou aan, met besorgdheid, met gehegtheid en jaloersheid. Sy vermy
sorgvuldig om haar te bekla oor die weiering van mevrou Kibert en oor die
houding van Paula. En terwyl die rytuig by die eikebos uitry, lê sy haar
hand op Alida haar arm en sê soetjies, terwyl mejuffrou Sonjon sit en
rondkyk:
—Nou sien jy hoe verstandig jou moeder was.
Die jong vrou kyk haar vraend aan. Sy vervolg:
—Natuurlik. Het ek jou toegelaat om met kommandant Kibert te trou, dan
was jy vandag weduwee.
Alida antwoord nie. Met skrik ontdek sy dat haar siel in baie opsigte nog
heeltemal onontgin is; en sy vra haarself of sy as weduwee nie minder
ongelukkig sou wees nie. Die smart wat die noodlot ons oplê, is dieper,
maar minder neerdrukkend as dié waaraan ons self skuld het, deur ons
swakheid, deur ons lafhartigheid vir die lewe. Die eerste soort breek ons
harte, maar reinig en versterk ons daarna. Die laaste soort verslyt ons
sonder enige voordeel na te laat, en laat ons langsamerhand laer en laer
buk onder slae wat niks veredelends meebring nie. Het sy die beste van
die twee gekies? . . . . Die heldhaftige dood te beween van ’n man wat sy
bo almal sou verkies—dit lyk vir haar nog ’n aangenamer lot as haar hele
lewe lank die veragtelikheid te moet beween van dié man wat altyd haar
lewensmaat bly . . . .
V.
JAN.
Die famielies wat in die verte deur die ongeluk getref word, wat sou hul
nie gee om deur iemand wat ooggetuie was van die bloedige offer, te hoor
vertel van hul liewe dode nie, van die besonderhede wat so kort en bondig
ontwyfelbare waarhede laat voel in verband met die treurige gebeurtenis,
al sou sulke besonderhede ook hul wonde weer oopmaak en hul trane weer
laat vloei. Ja, hul is gelukkig selfs in hul ellende, as hul maar die
noukeurige waarheid kan hoor, opdat die dood minder duister bly, en die
onsekerhede weggeneem word wat by dag ’n kwelling is vir hul gees en
snags verander in benoude drome . . .
Verskeie maande is al verloop na die veldslag in die Sahara. Van die twee
vrouens in rou op Maupas, het die één nog krommer geword en op haar bleek
gelaat het die glimlaggie vir altyd versterwe; die ander een het regop en
fier gebly, maar haar jeug versmadend, gee sy haar bitter en hopeloos oor
aan haar dae wat verbygaan. Omsluit deur eensaamheid en stilte, gaan hul
nie meer dorptoe nie, en stap geen deur meer in nie as van die armoedige
huisies waar altyd na hul uitgesien word.
Nietemin, as hul die stap van die brieweman hoor op die sand van die
agterplaas, dan gee hul harte nog ’n ruk. Die goeie ou man skep vreugde
in die belangryke rol wat hy speel, hy laat hul nie wag nie, op die
posseëls kykend roep hy hul al van vèr toe: „Hier is één van Parys . . .
van China . . . . van Algiers.”
—Dankie, Ravet; Marie is in die kombuis, laat sy vir jou iets te drinke
gee.
In die briewe lê nou die hele plesier wat die huis nog ken. Daar kom
nou meer as anders. Uit die verre lande wedywer die kinders van mevrou
Kibert met mekaar om haar droewige ou dag met hul liefde te verlig. Die
briewe uit Afrika is van Jan Berlier; hulle vertel net van Marcel en van
sy roemryke dood. In sy laaste brief skryf Jan dat hy teen die end van
Meimaand huis-toe kom. Dis nou Meimaand: alles is éne sonlig en blomme.
Met verlange kyk hul al uit op Maupas of daar nog nie iemand aankom
in die verlate boomlaning nie, waar die kastaiingbome trots hul wit
bloeiselpluime in die lug dra . . . .
Die jonkman wat stadig teen die bult opstap, onder die bome wat om die ou
huis groei, is nie meer die galante vryer van Isabella Orlandi nie. Hy
het darem nog altyd sy mooi skraal postuur en sy ligte dog vaste stap.
Maar sy gebruinde gelaat het iets manlikers, en dit lyk of sy oë elke
ding meer besonderlik raaksien. Sy sorglose jonkheid het oorgegaan in ’n
leeftyd van nadink en wilskrag.
Hy het die aand vantevore aangekom. Vroeg vanmôre het hy die rosevilla
van sy oom verlaat. Hy asem die lug in van sy ontwakende geboortegrond,
van die herlewende natuur. Die veld lyk nog kouerig, en is hier en daar
oordek met violet en purper dampe, soos ’n jongvrou wat langsaam haar
ooglede opslaat, haar uitrek, en haar sluierbedekking afskuiwe. So verras
Jan die ontwakende lente, die lewensvreugde wat met die daglig begin. Hy
bewonder die tere groen wat in Meimaand die velde en bome oorwaas, en hy
ruik die lug van die sagte jong blaartjies in die heinings. Hy soek na
die welbekende kerktorings teen die hang—die een byna in die groen bome
begrawe, die ander teen ’n bos van kastaiingbome, soos ’n grysaard wat
die koelte soek. Selfs die kranse van die berge het in die môrelig hul
dreiende aansien verloor. Onder die heldere lug glimlag die hele natuur,
en skyn vertroulik haar bevalligheid en betowering aan te bied, belofte
te gee van vrug en oes.
Jan draai hom om en sien in die verte, soos ’n plaat pêrelmoer en goud,
die meertjie lê, slapende nog in die môreson. Onder die strelende
sonstrale begin die water wellustig te rimpel. Die jonkman stap aan. Teen
die bult staan die villa Chenée, met oop rame in die môrewindjie. Hy dink
met plesier terug aan sy vyf-en-twintig-jarige leeftyd en aan Isabella
met haar mooi rooi lippe—net so klaar om te soen as om te babbel. Hy dink
terug en sê verwonderd:
—Amper vier jaar het ek hierdie plek, en vir haar, nie gesien nie. Dit
lyk my baie langer. Ek was toe maar ’n kalfie, wat met die lewe gespeel
het. Maar hy dink nie lank aan haar nie. In die eikebos hoor hy ’n meisie
sing wat die skape oppas: dis ’n ou liefdeliedjie:
Bo-op die berg
sing die voëltjies so.
Ek neem my roer
met my mee na bo.
Vier wou ek skiet,
maar weggevloë
is almal nou,
en geen één het ek, o!
Die stem klink so helder soos fonteinwater. In ’n draai van die pad
sien hy die skape, agter hulle die meisie, donker teen die lug, in die
omlysting van die bome wat oor die pad in mekaar groei. Dis ’n dogter van
vyftien of sestien jaar so gesond en fris as net ’n mooi boerenoointjie
kan wees. Sy sing weer verder:
My liefie se hartjie
het ek geraak.
O, het ek my liefie
nou seergemaak?
Sy stap verby Jan; hy glimlag.
—Dag, meneer Jan, sê sy, en buig met haar hoof.
—Ken jy my dan? vra hy, verbaas.
—Maar seker. Ek is die dogter van die boer op Maupas.
—Jeannette?
—Ja, om u te dien.
—Maar jy was so hoog soos my kapstewel, en nou is jy langer as die
koringhalme.
Daar is niks wat ons so laat voel hoe die tyd verbygaan nie as die
kinders wat groot word en wat ons maar min sien. Die meisie voel gevlei
en begin te lag, en haar vreugde werk aansteeklik. En terwyl sy verder
aanstap, sing sy weer die laaste versie:
My liefie se hartjie
het ek geraak.
O, het ek my liefie
nou seergemaak?
En tot by die jonkman, wat nog altyd onbeweeglik bly staan by die
eikebome, dra die windjie die laaste, flou-gehoorde woorde aan:
’n Bietjie maar net—
maar dit maak my dood!
O, soen my net éénkeer—
en weg is die nood.
Hy slaan sy oë in die rondte op die vorme van die natuur, wat hom omring,
op die jong boomblare, op die golwende gras van die weilande, op die
jongmeisie, wat haar jeug dra soos die oorlopende wynbeker. Hy asem die
geure in van die veld en die môrelug van die bosse. En die lug van die ou
tuisplek maak hom weer vol lewenslus.
Nou dat hy ondervind het dat skone dae verbygaande is—nou wil hy daar
ten volle van geniet. Jongmense stel nie waarde op hul bestaan nie as
hul gedagteloos hulle plesier, ligsinnigheid en verstrooiing najaag,
en alles wat die tyd maar versnel en doodmaak gelyk. Dis lewensgevaar,
dis hartstog, dis liefdesmart of die aanblik van die dood, dis diepe
droefheid wat hulle meteens tot stilstand bring voor die ontmaskerde
gesig van die lewe—soos ’n mens aan die end van ’n tuinpad meteens ’n
koue grafsteen sien onder rose verberg—dié wat die nag nie ken nie, sal
hy met dieselfde gretigheid as ons die bedreigde prag van lig geniet en
die vorme wat weer in die donker verlore sal gaan?