—Dit was verkeerd van ons om hom te vra om sy betrekking te bedank.

—Hoe seer maak jy my, my kind! Sou jy my dan wil verlaat het?

—Is dit beter dat my man my verlaat?

—Ek sou gesterf het, sê mevrou Delourens opgewonde. Jy sal tog nooit

begryp hoe lief ek jou het, en hoe graag ek jou gelukkig wil maak nie!

En sy meen heeltemal wat sy sê.

Mislei deur die droewige klag van haar dogter, vind sy weer haar sekere

stelling terug, wat versteur was deur die gedagte aan die gesneuwelde

held. Afgaande op die ondervinding van haar eie huwelikslewe, kan sy

die teleurstelling van Alida haar bestaan glad nie voel nie. Is dit

dan nie die lot van die meeste vrouens nie? En het haar dogter dan nie

nog as troos, wat aan so baie ander ontbreek, ’n toevlug aan die warme

moederhart nie?

En in haar gedagte sien Alida ’n ander moeder, wat op hierdie selfde

oomblik die bittere lydensbeker leeg drink—’n arme ou vrou, by wie sy

graag sou wil wees, en waar sy sou gewees het as sy haar bestemming

gevolg het. Soos swakkelinge wat in opstand kom, gaan sy die maat te

buite, tot sy onregverdig word ten opsigte van haar eie moeder.

Hulle kyk mekaar aan. Eindelik begryp mevrou Delourens haar dogter,

en voel ’n diepe smart. Daar is meteens ’n diepe kloof ontstaan

tussen haar en haar dogter. Altwee voel die wrede openbaring. Hul

verskillende geaardheid—die een heerssugtig en heeltemal oorgegee aan

wêreldse vooroordele: die ander tengerig, gedwee en oorheers deur haar

teerheid—die verskil val hul meteens kragtig op.

As hul ’n oomblik daarna bedaard en gearmd in die voorkamer kom, dan het

niemand ’n gedagte aan die treurspel wat ’n skeiding tussen hulle gemaak

het nie.

Isabella is daar, sy lei die gesprek op luide toon, parmantig, geestig,

en laat haar wit tande sien. Van tyd tot tyd kyk sy almal met haat en

minagting aan—haar man, haar nalopers, Marthenay, Lavernay, en veral

Clement Delourens—omdat hul haar nie kan sê of Jan Berlier nog leef nie.

Sy sien dat Alida gehuil het, en beny haar die opregtheid van haar smart.

As die oomblik van vertrek daar is, en Alida met haar na die kleedkamer

gaan om haar te help met haar jas, maak sy van die geleentheid gebruik om

haar arms om Alida haar hals te slaan en haar eindelik oor te gee aan die

ontroering wat sy al die heel aand onderdruk het. En sy laat die volgende

woorde hoor—wat Alida dadelik begryp:

—My arme Alida! Hoe lafhartig is ons twee tog gewees! Ag! hoekom kan

ons vanaand nie openlik ons dooie beween nie. Ons lewe het aan hulle

toebehoor, en ons het geweier om hulle dit te gee. Laat ons ons ellendige

bestaan beween; alles kon vir ons helder gewees het!

—Ja, sê Alida. Selfs die dooie te beween, is nou nog te verkies bo ons

teenwoordige bestemming . . . .

II.

DIE BOODSKAP VAN DIE VELDWAGTER.

—Ek sal teen skemerdonker terug wees, het mevrou Kibert gesê aan haar

dogter toe sy die middag weggery het met die rytuig. Sy het na Chamberie

gegaan om famieliesake te reël in verband met die behoud van Maupas, wat

nou moontlik sal wees omdat haar kinders in Asië—Etienne en Frans—en ook

Marcel, deur sy werk in Afrika, so veel sukses gehad het.

Die son is al onder, en Paula gaan op stoep om te hoor of die rytuig nog

nie aankom nie. Maar alles is stil. Dis skerp koud; sy gaan haar tjalie

haal, en wag.

Die landskap is met sneeu bedek, en die aandlig kleur dit met ’n rose

tint—soos ’n blos van maagdelike skroomvalligheid. Die wingerd-ranke en

heinings dra ’n fyn kantwerk van ryp, skitterend in die laaste sonstrale.

Die bosse is kaal en bêre geen geheime meer nie, en die fyn takkies bo

staan swart geteken teen die suiwere winterlug.

Paula bewonder die towerspel van die winter. Sy beef van die kou. Net

soos sy die deur instap, vlie daar ’n kraai in die verte en laat sy

krassende stem hoor—sy vlerke soos ’n swart vlek teen die bleekblou lug.

—Ongeluksvoël! sê Paula, maar sonder gedagte aan ’n slegte voorteken: dis

mos nou die tyd vir kraaie. Omdat daar geen kos meer op die velde te kry

is nie, soek hul dit in die nabyheid van die huise.

Sy sit nog twee stukke hout op die kaggelvuur in die voorkamer en sit ’n

ketel water daarop. Dan gaan sy ’n glas haal, die suikerpot, ’n lepel en

’n paar suurlemoene, en sit alles op ’n tafeltjie by die vuur, terwyl sy

in stilte dink:

—Ma sal koud wees as sy tuiskom. Dis helder weer en koud, en ’n mens

bevries amper in die ope rytuig. Die warm vuurtjie en ’n glasie pons sal

haar goed doen—arme ma!

Sy neem ’n boek en probeer om te lees, maar dit wil nie vlot nie. Die

horlosie slaat sesuur. Ongerus gryp sy weer die tjalie van die stoel en

gaan weer op stoep staan.

Dis nou al nag. Die sterre staan bewerig aan die klare hemelruim—net of

hul koud kry. Hoewel die maan nog nie op is nie, is die gesigseinder

darem nie donker nie. Dit lyk of ’n onbestemde lig van onder opgaan, en

of die wit besneeude aarde die hemelruimte verlig.

Onder in die laagte sien Paula die liggies van Chamberie skitter. Sy boor

met haar oë tussen die eikestamme deur waar die rytuig langs moet kom,

of sy die beweënde lanterns nog nie gewaar nie. Die minste geluidjie wat

die windjie aandra, hoor sy. Nou word sy bedroë deur die tiktak van ’n

windmeul. Dan skrik sy meteens op as sy ’n krysende geskreeu hoor, soos

’n noodroep. Maar die skrik gaan weer weg, want sy het die fluit herken

van ’n naburige fabriek. Lank bly sy so staan, leunende op die tralie

oplettend en onrustig.

Marie, die ou vrou wat hulle deur goeie en kwaaie dae gedien het kom haar

soek en beknor haar:

—Maar is dit nou nie dwaas nie, juffrou, om in so ’n koue buite te bly

nie! Kom nou binne; u sal mevrou tog nie gouer laat kom nie.

Paula gehoorsaam sonder antwoord te gee. Sy gaan in die voorkamer om die

vuur op te stook. Haar gewone moed het haar verlaat. Haar hart klop hard

in haar bors. Sy probeer om haarself gerus te stel—maar dit gaan nie.

—Die ou perd draf maar stadig, sê sy. Die notarisse hou ’n mens altyd

langer besig as jy gedink het.

Sy hou nou op om te probeer die ongerustheid te oorwin, wat elke minuut

groter word. Selfs in die gebed vind sy geen kalmering. Daar hoor sy die

voordeur oopgaan.

—Het ma gekom? vra sy, opspringend, aan ou Marie wat by die deur verbykom.

—Nee, juffrou, dis ’n man wat vra of hy die ou mevrou kan spreek.

En?

—Hy sê hy is die veldwagter en word gestuur deur die burgemeester.

—Die veldwagter? En wat wil hy hê?

Sy word nog meer ongerus en sê dat hy binnegelaat moet word. Maar sy

bedwing haar en ontvang die boodskapper van die burgemeester skynbaar met

die grootste kalmte.

Stug swyend en onverskillig, soos mense wat heeldag besig is met een

soort harde werk, voel die man tog dat hy ’n belangrike sending te

volbring het, nou hy so voor Paula staan. Op pad het hy daar nooit aan

gedink nie.

Paula sê aan hom:

—My moeder is uit. Maar kan ek die boodskap aanneem?

Hy praat nie, hy voel ongemaklik, en sy swye vermeerder Paula se

innerlike angs. Dan stamel hy:

—Juffrou, ek moet . . . . ek moet u vertel . . . .

Die lamplig val op sy gesig, sy sien die verleentheid en beteuterdheid

daarop en gee haar oor aan haar donkerste voorgevoelens. Haastig pratend

skud sy die man nou wakker uit sy verdowing:

—Maar praat, praat dan tog! Het daar ’n ongeluk gebeur? My

moeder . . . . . op die pad . . . .

Sy kan nie verder nie.

—Nee, sê die man. Ek het mevrou nie ontmoet nie.

Dan bly hy weer stil.

—Maar waarvoor het jy dan gekom? As jy iets te sê het, sê dit dan, en

maak gou!

Regop en fier, neem sy die toon van gesag aan, wat sy somtyds laat

geld—net soos Marcel. Dié houding bring die boodskapper heeltemal van sy

stukke af. Met stomheid geslae, haal hy die telegram uit sy sak en gee

dit met sy groot, bewende hand aan die meisie, dan wil hy weggaan. Paula

het die rooi papiertjie in haar hand. Voor sy dit nog oopvou dink sy al

aan haar broer. In ’n sekonde is haar oog daarop. Ag! is al wat sy sê. Sy

verfrommel die papier in haar hand en word doodsbleek. Maar sy span al

haar kragte in en bly regop staan, en stort geen traan nie. Aan hierdie

man, wat sy vir ongevoelig aansien, wil sy haar swakheid nie toon nie.

Maar sy moet vashou aan die tafel. Dié beweging en haar bleekheid is al

wat verraai wat sy voel.

’n Verskriklike stilte lê op albei.

Eindelik sê sy sonder enige beweging:

—Dis goed. Gaan nou maar weg. Dankie.

As hy omdraai om uit te gaan dink sy nog aan die wet van landelike

gasvryheid en sê:

—Vra aan Marie om jou iets te drinke te gee.

Maar die man hardloop die kombuis deur en vlug asof ’n moordenaar agter

hom aan is . . . . . .

—God! Is dit waar? sug Paula, nou sy alleen is. Sy wankel na die

skoorsteenmantel, hou met twee hande daaraan vas om te bly staan, maar

sak neer op ’n stoel. Sy beef oor haar hele lyf. Sy stryk haar hand oor

haar oë, wat geen traan stort nie en verdwaald rondkyk, asof sy die

verskriklike toneel wil uitsluit wat haar voorstaan. Daar voor haar, op

die kamertapyt, sien sy haar broer lê, met ’n gat in sy voorhoof, waaruit

sy edel bloed, sy lewe, wegvloei. O die ernstige gelaat, droefgeestig

maar fier, _welbewus van sy lot_, soos sy dit altyd gesien het na die

weiering van Alida; en nou sien sy dit weer, maar die oë is nou onsiende,

roerloos, starend—skoon is die gelaat, en kalm in die dood!

Saggies roep sy: Marcel! Marcel! en verberg haar gesig in haar hande.

Maar daar kom geen trane om haar smart te verlig nie. Haar broer, vir

wie sy soveel verering gehad het, op wie sy so trots was, is dood,

dood! Tien-, twintigmaal herhaal sy die woord om al die vreeslikheid

daarvan te deurgrond. Dood, die held van die skone oorwinninge! Op

twee-en-dertigjarige leeftyd is die heldhaftige en selfopofferende jong

lewe afgesny. O, hoe min was hy aan die lewe geheg! Al lank het hy daar

met geringagting op neergesien; was die ontmoeting met ’n banghartige

meisie nie genoeg om hom alle lewenslus te ontroof nie? En onwillekeurig

roep Paula al die herinneringe terug wat vir haar voortekens was van sy

naderende dood: Dit was daardie glimlag vol vertroue wat sy die aand op

sy lippe gesien het toe hy haar sy hartsgeheim geopenbaar het. Dit was

dié onverskillige handbeweging wat hy gemaak het toe hul die sombere

waarskuwing van die uile gehoor het ná sy laaste onderhoud met Alida. Dit

was ook—toe hul die dag van sy vertrek daar op die boomstam in die bos

gesit het—die sagte, wonderlike afgetrokkenheid wat hy laat blyk het toe

hy gepraat het van sy toekoms. Jare al, van dié aand dat hy Alida die

laaste gesien het, dra hy die dood in hom om. Nooit het hy weer haar naam

genoem nie. Nooit het hy weer gesinspeel op sy liefde vir haar nie. Maar

hy het alle geloof in die lewe verloor . . . . . . En op die geliefde

gelaat, wat sy in haar verbeelding met innige deelneming aanskou, ontdek

Paula ’n diep-tevrede rustigheid, onversteurbaar, altyddurend. En meteens

gee sy ’n luide skree, val knielend neer en ween.

—Ja, dink sy, jy rus in vrede. Ons liefde was vir jou nie genoeg nie. En

ons het jou tog so liefgehad, Marcel. Jy het nooit geweet hoe lief ek jou

gehad het nie. Ek was nie in staat om jou dit te sê nie, maar mijn hart

was vol van jou. Waarom het die dood my nie weggeneem in plaas van jou

nie? Ek is _tog_ onnuttig!

Daar’s ’n ander onrus nog, waaraan sy maar liewer nie nou wil dink nie,

maar dit voleindig die verwarring van haar gees: Marcel het ’n maat by

hom gehad, in die slag . . . .

Meteens spring sy op:

—As ma nou kom!

Sy het haar vergeet. En terwyl sy God dank dat sy aan haar ma die

allerdroewigste nuus kan meedeel, ween sy nou, nie vir hom wat daar vir

altyd in slaap geval het op die veld van eer en oorwinning nie, maar vir

haar wat daar bedaard aangestap kom, terug uit die donker daarbuite,

sonder argwaan, na die rand van die afgrond. Sal hierdie laaste slag nie

genoeg wees om die ou, swaar-beproefde lewe heeltemal af te breek nie?

Tevergeefs soek Paula na ’n ligplekkie. Om haar heers ’n kerkhofrou.

Ag, al die sterfgevalle en skeidinge: haar suster Thérèse, dood op

twaalfjarige leeftyd; haar vader in sy volle krag afgeknak; haar suster

Margriet ’n sendelinge; Etienne en Frans in die kolonies. Sy is nog

net hier, heeltemal alleen, om haar ma te help om die alte sware kruis

te dra. Maar nou dit nie anders kan nie, sal sy dapper wees en die

wankelende ouderdom met haar krag ondersteun.

Sy droog haar trane af en was haar gesig.

—Ek sal haar nog nie nou, nog nie dadelik, vertel nie, sê sy. Sy moet tyd

hê om warm te word en te rus. Ek sal haar vanaand vertel dat Marcel siek

is. Verlede nag het sy niks geslaap nie. Vannag moet sy ten minste nog

slaap. Môre word haar hart verbrysel. By dag is dit gemakliker om pyn te

ly as in die nare, graf-donkere nag. Vanaand bly ek nog stil. . . . .

Sy spaar haar moeder die bittere lydensbeker. Uit die verre land, waar

sy siel nou in vrede rus, roep haar groot broer haar toe: Spaar haar

vanaand! Sy het tog al so swaar gely!

Daar hoor sy voetstappe. Haastig verberg sy die noodlottige telegram.

Marie, die ou bediende, kom binne:

—Daar is mevrou. Ek hoor die rytuig aankom.

III.

HAAR LAASTE KIND.

—Goeienaand, ma.

Mevrou Kibert kom binne, ’n bietjie vooroor gebuie, toegedraai in ’n

ou mantel waarvan die harebekleding verslete is. Die laaghangende kap

oor die lamp verhinder haar om die bleekheid van haar dogter op te merk

terwyl sy haar soen. Sy gaan na die vuur toe.

—O, hoe heerlik om tuis te kom! En ’n mens hou tog maar van so ’n ou tuis

waar ons die lewe geken het . . . . en die dood! Weet jy nog, Paula, hoe

bedroef ons was toe dit gelyk het of ons Maupas sou moet verlaat?

Sy verwarm haar verrimpelde hande by haar huislike vuurtjie. Paula nader

haar van agter en haal haar hoedjie af.

—Hou u mantel nog maar ’n bietjie om, ma; u het seker baie koud gehad.

Mevrou Kibert draai haar hoof om en kyk haar dogter aan. Sy glimlag haar

teen. En die glimlag, onder haar grys hare, op haar nog frisse wange, in

haar vertroulike, rein, blou oë, is lieflik, soos die najaarsrose wat nog

aanhou bloei, selfs in die sneeu.

—My liewe kind, as ek jou aankyk, dan maak dit my nog warmer as die

vuurtjie wat jy vir my aangemaak het.

Paula staan op haar knieë en vat die ketel aan:

—Ma gaan nou ’n lekker warm pons drink.

Haar ma sien nou meteens dat sy so wit is as was:

—Maar dis jy wat versorg moet word, my kind! Jy is heeltemal bleek en

siek, en jy sê my niks daarvan nie. En die ou vrou staan dadelik op van

haar stoel.

—Ag, dis niks nie, ma. Moenie ongerus wees nie. Ek het miskien kou gevat

buite op stoep. Ek sal na die ete dadelik gaan slaap.

En om die besorgdheid van die moeder tot bedaring te bring, het sy die

moed om daar nog laggend by te voeg:

—Ek verseker u, ma, dis glad niks nie.

Sy dink daaraan dat die hanglamp in die eetkamer haar gesig te veel sal

verlig—daarom sê sy:

—Laat ons hier eet, ma, voor die vuur: dis beter.

—Maar die tafel is binne al gedek.

—O, dis gou te verhelp, ma sal sien.

—Nou toe dan maar, my kind. Jy is self yskoud. En in die oop rytuig het

ek dit ook maar goed gevoel.

Paula het alles reggemaak, en hulle sit aan.

—Jy het niks geëet nie, my kind. Jy is siek. Toe, gaan slaap nou. Ek sal

jou bed vir jou verwarm en ’n bietjie tee vir jou maak. Nou sal ek _jou_

weer versorg.

—Nee, regtig, ma, ek het niks nodig nie. Marie sal my ’n kruik warm water

gee. En nou moet ma ook maar gaan slaap. Nag, ma. My liewe ou mampie!

Hartstogtelik omhels sy haar moeder en verdwyn dan in haar kamer. Sy

kan nie meer nie. Sy pluk haar klere van haar lyf af, maak met een

handbeweging haar lang hare los, blaas haar kers uit, en—toegerol in

haar kombers—gee sy haar heeltemal oor aan haar heftige droefheid, wat

sy te lank onderdruk het. Agtereenvolgens voel sy, daar in die donker,

wat neerslagtigheid is, opstand teen die noodlot, en, eindelik, grenslose

medelye met al wat mens is.

Sy beween haar broer, haar moeder, haarself. Na die kant van die muur

gedraai, begrawe in haar ellende, haar gesig in haar sakdoek, vergeet sy

die verbygaande tyd en hoor nie hoe haar ma ook na bed gaan nie.

Mevrou Kibert se kamer is naasaan. Sy maak saggies die tussendeur oop,

om haar dogter nie wakker te maak nie, en om in die nag te kan hoor as

sy iets nodig mog hê. Dan, soos elke aand voordat sy haar uitklee, kniel

sy voor haar bed, en bid. Soos elke aand, versamel sy in haar gebed haar

geliefde dode en lewende—oor die hele wêreld verstrooi—om hulle aan te

beveel in die beskerming van die Heer; en sy herdink in haar gebed veral

die onsekere bestemming van Paula en die gemartelde siel van Marcel.

Haar hardhorigheid en haar toewyding sonder haar heeltemal af van alles.

Maar nou sy in haar bed is, verbeel sy haar dat sy ’n snik gehoor het. Sy

luister, maar stel haar weer gerus.

—Paula slaap, dink sy. Sy was bleek vanaand. Die arme kind. God behoede

haar en make haar gelukkig! . . . . Ou Marie moet seker ook kou gevat

het. Haar oë was rooi, en haar hande het gebewe.

Meteens gaan sy orent sit. Nee, nou het sy dit alte goed gehoor: die

half-versmoorde snik kom van Paula haar bed. Sy skerp nou haar oor en

hoor dat Paula wanhopend ween.

Geweldig verskrik, klim sy uit haar bed. Sy voel somaar meteens dat daar

niks aan Paula haar gesondheid makeer nie. Sy dink ook nou daaraan hoe sy

die hele aand al ’n treurige stemming in die huis gevoel het. Die ongeluk

is haar vooruitgeloop na Maupas en is voor haar die huis ingegaan—’n

ongeluk waar almal van weet, net sy nie, en wat wèl erg moet wees omdat

dit voor haar weggesteek word. Sy het ’n voorgevoel van die sombere en

gehate teenwoordigheid van haar ou kennis, die dood: Wie het hy weer

geraak? Watter slagoffer het hy haar nou weer ontneem? . . . .

En terwyl sy tastende en blootsvoets in die donker aanstap, tel sy almal

wat afwesig is, Magriet, Etienne, Frans, Marcel . . . . ja, dis Marcel!

Sy voel die geopende deur, sy raak aan Paula haar bed, en oor Paula

gebuie, sê sy:

—Paula, sê my wat jy makeer!

Meer durf sy nie te sê nie.

Die meisie, meteens in haar smart verras, laat ’n skreeu hoor van angs en

jammer, wat haar hele geheim verraai:

—O my arme ma!

—Marcel—is dit nie so nie? sê mevrou Kibert asemloos. Daar’s slegte nuus

van Marcel.

—My ma, my ma! sug Paula.

—Is hy siek, baie siek?

—Ja, ma, hy is siek!

En Paula, half orent, slaan haar arms om die hals van haar ma.

Saggies, maar ferm, stoot haar ma haar weg:

—Hy is dood?!

—O! laat ons tog wag tot môre, ma; dan sal ons tyding kry. Wees sterk,

ma; ons weet nog nie.

—Jy het iets gekry, ’n brief of ’n telegram. Wys dit vir my. Ek wil dit

sien!

—Maar, ma, bedaar tog! smeek Paula, met ’n gebroke stem waar die hele

waarheid in lê.

—Hy is dood! hy is dood! herhaal mevrou Kibert.

Sittende op die rand van die bed, yskoud, voel sy haar hart opegaan en

alle lewensmoed daaruit wegstroom. Tevergeefs wend sy haar tot die Heer,

haar eerste toevlug in die ure van rou. Sonder trane, en verskrikliker as

wanneer sy sou gehuil het, kla sy met luide stem:

—Ag! hierdie keer is dit te veel! Ek kan nie. Nee, daarby kan ek my

nie neerlê nie. Altyd het ek my aan U wet onderwerp, my God! Met ’n

verbryselde hart het ek U naam nog geprys. Maar nou het ek nie meer krag

nie. Ek is ’n arme ou vrou, afgeleef en baie swak, en ek het al meer gely

as wat nodig was om my te beproef. Ek kan nie meer nie, ek kan nie meer

nie! Marcel, my Marcel!

—My ma! my ma! sê Paula weer, en druk haar vas in haar arms.

Sy voel die koue rillings loop oor die lyf van haar ma, wat onbeweeglik

bly in die donker, soos ’n boom in die nag deur die blits getref.

Meteens spring sy op, stryk ’n vuurhoutjie aan, en met haar arms om haar

weeklaende ou moeder, lei sy haar terug na haar kamer. Sy wil haar in

haar bed help. Maar mevrou Kibert—tot dusver volgsaam en gedwee—stribbel

nou teë:

—Nee, staande wil ek ly!

Paula kleed haar ma eers haastig aan voordat sy haarself aankleed.

Dan bring sy haar na die voorkamer, waar sy die byna dooie kole weer

aanblaas. Sy maak ’n groot vuur en sit weer ’n ketel water daarop. Stil

en terneergesla loop sy heen en weer in die kamer, in ’n wit kamerrok,

bleek onder haar lang swart hare, wat in oorvloed neerhang op haar

skouers—sy lyk soos ’n engel van smart en vertroosting.

Sy het haar ma by die vuur gesit, in ’n groot stoel, met ’n kombers oor

haar knieë.

Gewond in die heiligdom van haar moederlike bestaan, bly die ou vrou

verdoof en roerloos sit, sonder ’n lid te beweeg, sonder ’n traan, in ’n

toestand van terneergeslaendheid, erger as die wanhoop self. Sy kla nie

meer nie, sy bid nie meer nie, sy kyk net reguit sonder iets te sien, en

sy swyg. Deur die noodlot oorstelp, lyk sy nou onverskillig. Sy voel haar

gemartelde hart nie meer in haar bors nie. Sy laat haar meegaan met die

ontsaglike stroom van haar ongeluk, soos ’n drenkeling hom oorgee aan die

bodemlose oseaan.

Geduldig wag Paula af tot die trane die aaklige stilte kom verbreek, soos

’n watervloed meteens ’n dam deurbreek wat hom stuit. Maar haar ma bly

nog maar roerloos en stil. Sy wil haar iets laat drink. Sy gaan op haar

knieë staan, neem haar hande en roep haar aan:

—Ma, ma! praat van Marcel. Praat tog, ma!

Daar is geen antwoord nie. Nou begin sy bang te word. Dis of sy met die

dood alleen is. Buite haarself snik sy:

—Ma! is ek dan nie ma haar kind nie, ma haar laaste kind, haar Paula nie?

Dit lyk of mevrou Kibert uit ’n bedwelming ontwaak. Sy kyk na die gesig

vol verdriet wat haar so angstig aanstaar. ’n Lang rilling skud haar hele

lyf deurmekaar. Oorwin, strek sy haar arms uit na haar kind, en aan haar

bors geleun, ween sy. Dis nou sy wat, in haar swakheid, om hulp smeek.

Lank bly die twee so sit, mengende hul trane en hul ellende, en

ondervindende die soete smart van ’n gesamentlike lye in liefde.

As die moeder haar woorde weer kan vind, dan gebruik sy dit om die Heer

te dank:

—Paula, my hart, wat het ek netnou gesê? Nee, God is goed: Hy kan my nog

meer kasty. In my ellende skenk Hy my ’n engel tot hulp, en die engel

is jy. En ek weier om gebroke te wees! O my God, U wil is wreed, maar

geprese sy U naam!

Nou sy weer ’n bietjie moed het, vra sy om die noodlottige telegram te

sien. Herhaaldelik moet sy haar kragte bymekaarmaak om dit te kan lees,

en wenend sê sy aan Paula:

—Hy is geval soos ’n held . . . . Hy herleef nou in die bysyn van sy God.

—Ja, sê Paula, as oorwinnaar is hy gestorwe, in sy voorhoof getref.

Altwee bly stil. Altwee sien die skone voorhoof van Marcel, met bloed

bevlek, die hoë voorhoof wat so ’n fiere gees gebêre het.

Mevrou Kibert kry jammer vir Paula:

—Gaan slaap nou. Môre sal jy al jou kragte nodig hê om jou ou moeder by

te staan.

—Nee, ek laat ma nie alleen nie, sê Paula.

—Kom, laat ons dan same bid.

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou

moeder. Paula is uitgeput en gaan sit naas haar. Maar mevrou Kibert hou

aan, ondersteun deur ’n bowemenslike krag; oor haar wange rol die trane,

wat sy nie meer afdroog nie. Sy smeek.

[Illustration: Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed

van die ou moeder.]

—Liewe Heer, neem aan die offer van ons droefheid en ellende. Toe U aan

die kruis gestorwe het, was U moeder ten minste by U. Maar ek was nie by

my seun nie. Skenk my moed om die beproewing te dra. Nie vir my nie, my

God, maar vir die taak wat ek nog te vervul het, vir my kinders, vir

hierdie een wat U nie gespaar het nie. Sy is nog baie jonk om soveel te

dra. Ek het al gewend geword aan pyn en ellende: maar sy—beskerm haar,

wees genadig . . . .

Sy keer haar om na Paula en sien dat sy met haar bleek gelaat agteroor lê

in die groot stoel. Ondanks haar moed is die jongmeisie in haar trane in

slaap geval, haar geswelde ooglede is nog vogtig.

Mevrou Kibert staan op, gaan naas haar sit, en medelydend neem sy die

hoof van Paula op haar skoot. Haar mooi swart hare val om haar gelaat

en verhoog nog die bleekheid daarvan. So lê die doodvermoeide kind aan

slaap, bewaak deur haar moeder.

Haar moeder kyk in haar gesig, op die onbeweeglike, jong gelaatstrekke.

En sy sien ook hoe haar seun lê, daar vèr op die woestynsand, ’n gat in

sy voorhoof; soos hy daar uitgestrek lê, groter nog as toe hy fier orent

in lewe rondgewandel het. Saggies spreek sy hom aan:

—O my kind! my liewe kind! nou weet jy wat die ewige rus en vrede is.

Jy is ’n goeie seun vir ons gewees en ’n dapper man. Niks as wat groot

is, het jou hart geroer nie. Jy kan ons sien, nie waar nie? Jy sien hoe

ons ween en hoe ons harte verbrysel is. Waak oor ons uit die Hemel, oor

Paula. Ek is reeds op pad na my graf, na jou, na jou vader. Die aarde

trek my aan. Ek voel dit, en jy roep my. Gou-gou sal ek vir altyd by jou

wees . . . . My God, wie sal my oë toedruk op my doodsbed as U my al my

kinders ontneem?

En met haar arms om Paula, druk sy haar vol liefde teen haar aan en begin

weer te bid, smekende aan die noodlot om tog haar laaste kind vir haar te

spaar . . . .

Bang vir die lewe · 第 9 / 15 段