—’n Soen van jou lippe, meneer.

Jan is weer in haar mag, en voleindig haar sin:

—Op joue, juffrou!

Hulle lag albei half verleë, en ming dan met die ander mense in die kamer.

IX.

AFSKEID.

Dis ’n dag later, en alles gebeur soos voorsien was:

Isabella Orlandi en Jan Berlier lei Alida Delourens na die eikebos, waar

Marcel haar afwag. By die draai van ’n paadjie staan Alida meteens

voor Marcel. Die twee verlaat haar daar en wandel verder onder die

bruingekleurde najaarsblare.

Alida is verskrik en lê haar hand op haar bors. Haar eerste gedagte is om

te vlug, maar sy voel haar bene knik en haar asem is weg.

—Wag, asseblief ’n bietjie, sê Marcel met ’n ernstige en haastige

stemsuitdrukking—wat hy nouliks as sy eie herken. Vergeef my waagstuk; ek

gaan weg na Algiers, en ek het die moed nie gehad om dit te doen voor ek

jou eers gesien het nie.

—O! sê sy, bleek en bewend. Wat sal ma daarvan sê?

Die gedagte aan haar ma maak Marcel jaloers; hy frons sy winkbroue, dog

gaan voort, op dieselfde sagte manier:

—Alida, ek wil jou vertel dat ek jou liefhet. Paula sê dat jy my ook

liefhet. Is dit so? Ek wil dit uit jou eie mond hoor.

Hy sien hoe sy beef en met albei hande aan haar hals vat, net of sy wil

verstik. Al die bloed is weg uit haar wange, en haar oë is gevestig op

die dooie blare op die grond, maar sy sien niks nie.

Die eiketakke ritsel in die windjie met ’n droefgeestige geluid. Die

rosegloed van die lug, deur die regop stamme van die ou bome, kondig al

die end van die dag aan.

Soos ’n sag-tere klag kom die woorde oor haar lippe:

—Ek kan jou dit nie sê nie.

Dis die aanvallige en reine bekentenis van haar tingerige siel.

Bewoë tot in die binneste van sy hart, kyk hy nou met ander oë na die

vreesagtige kind, soos sy daar op enkele treë afstands van hom staan,

met ’n wit tjalie oor haar skouers, soos ’n geesverskyning onder die

hoë gewelf van die laning. Die lang ooghare lê half oor haar hemelblou

oë. Agter haar, tussen die takke deur, sien hy die son laer sink, soos

’n groot brand, waarteen die swart boomstamme skerp afsteek. En deur die

blare priem vurige, wrede strale van goud en bloed.

—Alida, sê hy, as jy my liefhet soos ek vir jou, beloof my dan dat jy my

vrou sal word.

Eindelik kyk sy op in die fiere gelaat van die jonkman. Sy sien dat hy

deur haar gely het, en daar kom trane in haar oë.

—Ek kan nie . . . . Marcel . . . . My ouers . . . . Verder kan sy nie kom

nie; haar trane verkondig wat sy wil sê.

Hy kom nader en neem haar hand. Sy trek dit nie terug nie.

Met ferme, oortuiende stem sê hy verder:

—Moet jou nie ongerus maak nie, Alida, jy sal hulle toestemming verkry.

Hou maar moed, en wag. Die tyd sal alles reg maak. Ek vra jou net om

geduldig te wees. Wat my betref, ek sal groot dinge verrig om jou te kry.

Ek gaan met ’n kommando na die binneland van Afrika. Met my oorwinninge

sal ek jou ook wen.

Vrees vir sy lewe verraai haar liefde vir hom:

—Nee, nee, ek wil dit nie hê nie. Jy moet jou lewe nie so blootstel nie.

O, as jy . . . . my liefhet, sal jy nie gaan nie.

—Ek sal gaan omdat ek jou liefhet, Alida.

—Jy ken my nog nie. Ek is banghartig. Ek is bang vir alles. Ek is maar ’n

armsalige wesentjie. O, wat ’n hoofpyn het ek!

Die hand wat hy nie vashou nie bring sy aan haar voorhoof en haar bors.

—Hoe swaar voel my hart! fluister sy.

—Alida! sê hy hartstogtelik, moet vir niks bang wees nie! Ek het jou

lief, ek sal jou beskerm!

Hy buig hom vooroor en raak met sy lippe die handjie aan wat hy vashou.

Die kus laat haar bewe. Sy sê, met ’n suggie:

—Laat ons binne-toe gaan, dis verkeerd wat ons doen.

—O, nee! Ek het jou so lief. Is ek dan nie jou verloofde nie?

Sy sê weer:

—Dis verkeerd.

Hulle kyk mekaar in die oë. Die kleure verbleek aan die aandlug; ’n blou

waas skuiwe tussen die boomstamme deur en oor die grasperke. Dis die

geheimsinnige uur wanneer dit lyk of alles huiwer vir die naderende dood.

Die dag draal nog, maar dis ’n swakkerige daglig, mat en sag wegkwynend.

En die voetpad wat hom onder die bome verloor, word afwisselend

rooskleurig en violet.

Die ondergaande son spieël hom af in die oë van die meisie—die hele

droefgeestigheid van die sterwende Natuur.

Nog nooit het hy so ’n besef gekry van haar tingerigheid nie. Nog nooit

het sy so sterk die kuise behoefte gevoel om haar te steun op sy jeugdige

krag nie. Nogtans, as hy haar nadertrek en vooroorbuig om haar ’n kus te

gee, stoot sy hom saggies weg met haar hande en sê, vir die derde maal:

—Nee, jy mag nie, dis verkeerd!

Die vreesagtige deugsaamheid, wat tog nie haar liefde kan verberg nie,

vervul hom met eerbied en ontroering.

—Alida, sê hy nog ’n keer, sweer my dat jy my vrou sal word.

Maar haar antwoord is weer dieselfde:

—Ek kan nie. My ouers wil nie.

Dit verbaas hom dat hy nog maar nie verder gevorder het as dit, van die

begin af van hierdie onderhoud, waar hy so vurig na verlang het en

waarvan hul toekoms sou afhang. Beslis neem hy weer die woord, sterk in

sy liefde en seker dat hy haar sal oorhaal:

—Alida, Alida, ek gaan weg, miskien vir ’n paar jaar. Maar wat beteken

twee of drie jaar as ’n mens iemand liefhet? Liefde duur vir altyd. Ek

wil jou woord hê om met my mee te neem; dit sal ’n beskermende hand oor

my hou en dit sal my moed gee. Alida, ek het jou meer lief as my eie

lewe, of liewer, ek het my lewe nie lief sonder jou nie. Moeilikhede is

niks as ’n mens liefhet nie. Sweer my dat jy jou hart vir my sal bewaar

solank as ek weg is, en hierdie handjie, wat jy my gegee het, en wat so

yskoud in myne lê.

Maar sy is onder ’n verbod, en sy bly roerloos en spraakloos staan. Sy

het nooit in haar lewe iets uit haar eie gedoen nie. Sy weet nie of sy ’n

eie wil het nie. Selfs haar liefde het haar oorrompel en pynig haar op ’n

manier wat haar oordrewe en ongeoorloof lyk.

So sien hy haar staan, bleek en swak; al wat hy wil is om haar te beskerm

teen die slae van die noodlot. Maar terwyl sy nog maar swyg, sê hy weer:

—Alida, ek het jou lief. Dit word laat, jy moet binne-toe gaan. Die lug

word al koud. Sal jy my laat vertrek sonder ’n woord, sonder enige hoop?

Dis die aangrypende uur van die dag wanneer dit lyk of alles ’n oomblik

in gedagte bly staan, alvorens in die nagskaduwee te verdwyn, te sterwe.

Die laaste lig van die westerhemel val nog op die reine engelgelaat, op

die goue hare; en haar wit tjalie steek af teen die donkerte onder die

bome. Sy bly so staan: spraakloos en roerloos. Terselfdertyd dink sy aan

die onmoontlike stryd teen haar ma en die onmoontlike huwelik met meneer

Marthenay. Sy weet nie wat ons van ons lewenslot kan maak as ons die moed

het om dit te lei met ’n hand wat nie beef nie. Die liefde maak die deure

van die lewe wyd ope vir haar. Verskrik durf sy nie binnegaan nie. Wat

het sy tog misdrewe teen die Heer dat Hy haar keus van haar alleen laat

afhang? Waarom is haar pad tog nie gelyk en gemaklik nie? En so verlam

die vrees haar, dat sy geen keus kon doen nie.

Waarom praat hy nie van sy smart nie? Dit sou haar so aandoen, dat sy die

verlangde belofte sou gee. As hy dan sou probeer om haar, soos vantevore,

nader te trek na hom, sou sy hom nie weer afstoot nie, sy sou eindelik

haar hoof neerlê op ’n dapper bors.

Maar hy wil hê dat sy, in antwoord op sy aansoek, haar uit haar eie moet

gee. Hy wag nog maar daarvoor, en namate dit langer duur, soveel te meer

bejammer hy die arme wankelmoedige kind. Nee, dis nòg skamerigheid,

nòg natuurlike teruggetrokkenheid wat oorsaak is dat sy nie praat nie.

Die omstandighede is te ernstig dan dat sy sou aarsel om te praat as

sy voel dat sy moet. Die moeilikhede wat hulle skei, is maar net die

struikelblokke van ydelheid en selfsug, wat gemaklik te oorwin is. Sy het

hom lief, en tog bly sy stil.

Hy voel dat hulle weë alte veel verskil. Fier en verontwaardig rig hy

hom tot sy volle lengte op teenoor haar. Om haar te kan groet, oorwin hy

egter sy trots en hy sê, met toegeeflike ontferming:

—Nee, Alida, beloof maar liewer niks nie. Jou woord wat jy aan Paula

gegee het vir my, gee ek jou terug. Jy is te swak om lief te hê.

En terwyl hy die klein, koue hand loslaat, wat hom nie versit nie, sê hy

nog daarby, duidelik en ferm:

—Dag, juffrou, ons sal mekaar nooit weer sien nie.

Sy sien hoe hy haastig verdwyn in die laning, waar die skaduwees van

die invallende nag al rondsluip. Hy kyk nie om nie. Nou is hy nie meer

te sien nie, en sy soek hom nog met haar oë. Die boomblare bewe in die

aandwindjie. Een van die blare gaan los, en raak Alida haar hare in sy

val. By dié aankondiging van die winter voel sy die dood om haar heen

en in haar. Soos twee huppelende, vrolike skimme verskyn Isabella en

Jan weer. Hulle kry haar beweegloos staan op dieselfde plek waar Marcel

haar verlaat het. Hulle wil met haar praat, dog sonder ’n woord loop sy

huis-toe om haar verdriet te verberg. Sy dink daar nie aan om Jan Berlier

in vertroue te neem nie—hy sou haar nog uit haar ongeluk kan red. Sy is

in haar kamer, bêre haar gelaat in haar hande, en ween. Maar selfs in

haar verdriet dink sy nie aan stryd nie; sy gee haarself oor aan die

wrede noodlot, wat in haar oë onvermydelik is.

Alida het weggevlug, en Jan en Isabella kyk mekaar verwonderd aan:

—Ek begryp daar niks van nie, sê hy.

—Ek verstaan, sê sy. Dis nog ’n bange! Ons is almal eners in ons dae: Ons

wil geniet, maar niks waag nie. Ek weet net van een wat vir liefde tot

aan die end van die wêreld sal gaan in ’n rok van ’n paar dubbeltjies.

—Wie?

—Paula Kibert.

Voordat sy die naam nog uitgespreek het, sien hy meteens in gedagte die

fiere sy-gesig, die reine gedaante van Paula in haar rouklere. Isabella

merk wel wat daar in sy gedagtes omgaan. Jaloers kom sy nader en sê, op

haar mees vleiende toon:

—En die loon vir my medepligtigheid? Het jy dit al vergeet?

Sy bied haar lippe aan. Hy onthou nou weer wat hy beloof het; en terwyl

’n mistigheid die tinte van die aand bedek, gee hy haar, daar onder die

bome, haar betaling . . . .

Marcel kyk eers om as hy naby Maupas is. Hy sien Chenée onder in die

donkerte, terwyl op die berge bo nog die glans van die aandlig lê. ’n

Lang vlokkige wolk, soos ’n verskeurde doek, sweef op halwe hoogte die

bergwande verby; die strale van die son, wat al onder is, giet daar ’n

fyn rose tint oor, so teer, dat dit lyk soos ’n blou geaderde berggodin,

half verberg in gaas en neteldoek.

Hy skep behae in sy selfpyniging, en hy kyk, tot die opkruipende

skaduwee oor die toppe gaan, die heerlikheid uitwis en die skat van

kleure laat verbleek. Dit lyk vir hom of hy makliker asemhaal in die

versomberde natuur. Met ligter stap gaan hy die bos deur; die bome is

al half ontblaar, en deur die takke sien hy bloedkleurige wolkveë. Die

uile—soos onheilspelende geeste van die aand en die najaar—roep mekaar

met noodkrete, soos die doodsangstige hulpgeroep van slagoffers, wat die

hart van ’n late verbyganger laat stilstaan.

By die hek van Maupas ontmoet hy sy suster; sy was ongerus en het kom kyk

of hy al aankom. Sodra Paula hom sien, weet sy wat die uitslag is van sy

tog.

—Ag! sê sy eenvoudig.

Een woord van hom verklaar die saak.

—Sy is bang vir die lewe: sy en ek is nie van één soort nie.

Sy neem sy arm en wil hom soen, dan sê sy meteens, bewend:

—Luister!

—Dis maar die uile—die bome is vol van hulle.

—Laat ons gou weggaan. Hulle maak my bang. Die boermense sê hul kondig

die dood aan.

Hy maak ’n beweging van onverskilligheid met sy arm . . . .

X.

VERTREK.

Die maaltyd wat voorafgaan aan die vertrek van iemand uit ’n famielie,

kom in treurigheid ooreen met die eerste waaraan die famielie weer

deelneem nadat een van hul lede vir altyd uit hul kring verdwyn het. Al

is almal nog daar, die vreugde is al verban. Elkeen probeer tevergeefs om

vrolik te wees, en die aandoenlike, dog vrugtelose pogings maak die smart

nog dieper.

So is dit ook stil en gedruk in die eetkamer van Maupas, hoewel die

sonnetjie inskyn deur die rame. Marcel sal teen die aand vertrek met

die rytuig; hy moet van die stasie weggaan met die trein van sesuur. As

die gesprek val, dan neem niemand weer die draad daarvan op nie—skaars

lewensvatbaar flikker dit nou en dan op uit ’n onbeduidende woordjie om

dan weer uit te gaan. Marie, die ou huismeid, het dié kos klaargemaak wat

die kaptein graag eet; maar sy skud haar hoof en is self ook bedroef as

sy die skottels terugdra kombuis-toe nog amper heeltemal vol.

Na die maaltyd loop Marcel met sy suster buiten-toe, hy sê aan haar:

—Kom, ek wil ons ou wandelpaadjies nog eenkeer sien.

Teen die hang op gaan hul deur die wingerd tot by die kastaiingbome, waar

hulle dikwels as kinders in die koelte gespeel het. In die sluimerende

water van die meertjie in die verte spieël die berge hulle af—teen die

aand is die tinte altyd die mooiste.

—Laat ons nou na die waterval gaan, sê Marcel.

Voor hy weggaan, wil hy nog ’n keer vars indrukke kry van al die afgeleë

en besielende plekkies wat bygedra het tot die vorming van sy vurige

gemoed.

Marcel bly staan as hy die waterval deur die bome sien—’n lang dun

sluier, vallende van ’n hoogte van honderd voet, ’n opslag van silwere

stof verspreiende in die sonlig. Hy glimlag van plesier.

—Ons moenie verder na bo gaan nie, sê hy. Ons moet nog na die bos en na

die kloof gaan.

Die gronde het vroeër almal by Maupas behoor, maar deur die ongeluk met

hul fortuin, het hul dit moet afgee. Maar al is die plekke verkoop, die

bekoring daarvan bly nog dieselfde. Die skoonhede van die aarde is nie

te koop of te verkoop nie: hulle behoor aan dié wat ’n ope oog het om te

begryp en te geniet.

Die kloof van Foresan is diep; die kante is dig begroei met struike.

Op sommige plekke kan ’n mens langs die skuinste afgaan tot aan die

kristal-heldere stroompie in die diepte. Daar, onder ’n lang blaredak, is

die tuis van die vreedsame, diepe, allesvergetende stilte.

Marcel loop voor. Hy kyk om en sien hoe sy suster haar rok vasgeraak het

in die klimop-plante langs die voetpad. Voordat hy haar gaan help, sê hy:

—Hoe mooi lyk jy, hier tussen die bome!

—Kom help my liewer in plaas van onsin te praat.

Maar hy maak nie gou nie. Die lewendige natuurlike bevalligheid van die

jongmeisie stem so volkome ooreen met die maagdelike en frisse omgewing.

Hy kan nie help om met bewondering te kyk na die lenigheid van haar

beweginge nie terwyl sy besig is om haar aan die plante te ontworstel—die

wandeling het ’n gloed van gesondheid in haar wange gedryf. Voor hy nog

by haar is, spring sy al vooruit, los van die bossies wat haar vasgehou

het:

—Jy is te laat!

—Bravo, Paula! Jy sal nie bang wees vir die bosse van die verre lande

nie. Miskien kom jy nog eendag daar. Jy is van dieselfde ras as jou

broers.

—Ek! sê sy, en die vlam in haar oë verdof, ek sal op Maupas bly tot ek

sterf.

Deur die bome klim hulle weer teen die skuinste uit. Die windjie speel

deur die bome, wat al half beroof is van hul somertooi. Die blare wat hul

nog dra, is van ’n rooiagtige goudkleur, net soos die dik tapyt daarvan

wat alreeds op die grond lê. Dit word aand en die hele bos is gedompel

in ’n violetkleurige newel wat daar iets geheimsinnigs en plegtigs aan

meedeel. In die vensters van ’n plaashuis vlam die rooi gloed van die

ondergaande son.

By ’n omgekapte boom bly Marcel en Paula staan, en gaan daarop sit.

Onder hulle sien hul die voetpad wat hul uitgeklim het; die dooie blare

wat daarop lê, neem ’n rose en pers kleur aan. ’n Skotskar met hooi,

deur twee osse getrek, kom verby hulle. Teen die gloed van die westerlug

vertoon die asem, uit die osse se neusgate, hom elke keer soos ’n

ligtende wolkie. Dis of die aarde vreedsaam en met lang asemhaling die

groot winterslaap ingaan, treurig en beroof van al sy groen weilande en

blaretooi.

Marcel neem die hand van sy suster. Net soos sy sy handdruk voel, bars

sy in trane uit. Alvorens die uur van afskeidneem het hul al te veel

gevoelens in hul harte opgehoop. Hy dink aan die swakheid van Alida, en

Paula dink aan hom. ’n Oomblik bly hy stil, uit eerbied vir Paula haar

trane, hy laat die vrye loop daaraan, dan sê hy:

—Luister, jy moet ma mooi oppas: ek sal miskien baie lank wegbly.

Sy het ’n onrustige voorgevoel van ’n nuwe ongeluk wat dreig. Meteens

oorwen sy haarself.

—Jy kom mos aanstaande jaar terug van Algiers, nie waar nie?

Hy sien haar liefderyk aan:

—Ek weet nie, sus; ek behoor by die kommando wat dwarsdeur die

Saharawoestyn gaan.

—O, sê sy, dit het ek wel gedink. Jy verg te veel van ons moed, Marcel.

Ma is al baie oud en gedaan. Die swaar druk vir haar net so erg as vir

ons. Jy moet haar spaar.

Hy kyk na die vreedsame veld en kry ’n gedagte dat dit wel soet moet wees

om hier te bly by sy ma en sy suster. Maar dis ’n verbygaande begeerte,

en hy hervat:

—Maar jy, ons goeie sus, is mos hier. Ek moet baie vèr gaan . . . . . en

ek moet vergeet. Moet nog nie vir ma vertel nie. Ek vertel vir jou alles.

Ma sal maar alte gou ook hoor.

Sy vra eenvoudig:

—Sal die kommando lank wegbly?

—Met sekerheid kan niks gesê word nie—waarskynlik agtien maande.

Sy probeer haar smart te verberg, maar sy beswyk:

—Jy weet nie hoe lief ma en ek jou het nie. Ag! as dit tog maar moontlik

was om daardie een wat nie gedurf het nie, aan jou te bind; sy sou jou

ten minste hier gehou het, wat ons nie kan doen nie.

Hy omarm haar en kus haar. Seker van haar vriendskap en manhaftigheid,

wag hy tot die bui van wanhoop verby is. Maar Alida haar naam noem hy

nie. Nooit sou die naam weer oor sy lippe kom nie. Hy verwaardig hom

slegs om geringagtend van sy liefde te sê:

—Moenie daarvan praat nie, sus; die huwelik sou my minder gemaak het.

Ongelukkige vroue wat die lewenswerk van hul mans belemmer! Die liefde is

in ons dae nie meer sterk genoeg om skeiding en smarte te kan verdra, of

’n offer te bring nie. Dis jammer, want my pad lê deur die groot wêreld.

—Jy vergeet, sê sy, dat daar vroue is soos dié van ons broer Etienne.

Hy gee haar ’n kus en sê:

—Ja, en ek vergeet een soos jy is ook. Jy sal die hart sterk maak van hom

wat jou sal liefhê.

Sy trek haar fier op:

—Nie vir my nie!

Haar woorde dui ’n inwendige terugstoting aan, wat hy begryp.

Te jonk het die teenhede van die lewe haar oorval op ’n leeftyd as alles

nog sonnig en vrolik wil wees; en sedert die dood van haar vader het

sy te veel lae ondank en kwetsende neerbuiendheid ondervind—sy en haar

moeder. Haar kragte is daardeur gehard, maar ’n verbitterde trots het

sy ook daarvan oorgehou. Sy verwag niks meer van die toekoms nie; sy

probeer om haarself te vergeet, soos almal haar vergeet. Met haar liefde

as suster en dogter, stel sy haar tevrede. Fier in haar waardigheid

en minagting van die wêreld, wil sy die verborge roeringe wat in haar

vurige hart ontkiem, nie deurgrond nie. Hy weet dat sy net soos hy is, in

haarself geslote en nie graag haarself beklaende nie. Hy probeer haar af

te lei en sy groot liefde vir haar lê in sy woorde:

—Moenie ongerus wees nie, Paula: ééndag sal jy gelukkig word. Dis ek wat

jou dit vertel. Jy verdien dit.

Maar sy lei die gesprek op iets anders en vra hom omtrent sy kommando.

—Ek het baie moeilikheid gehad, Paula, antwoord hy. Eindelik het ek dit

so ver gekry dat Jan Berlier ook meegaan.

—So, so, meneer Berlier!

—Ja, en hy kom terug as kaptein, met ’n ereteken op sy bors. Bowenal

sal hy gestaald terugkom. Die woestyn, soos die see, maak hart en hoof

ruimer. ’n Mens dink daar nie aan „flirtery” nie. Maar hoekom noem jy hom

nou meneer en nie Jan soos eers nie?

Sy antwoord nie. Hy kyk haar aan en staan op:

—Laat ons binne-toe gaan, dit word al donker; ons moet ma nie meer alleen

laat nie.

Mevrou Kibert sit voor die deur en wag al vir hulle. Sy brei ’n paar

kouse vir die dogtertjie van die boervrou. Elke keer kyk sy die laning

op, deur haar bril; sy sien Marcel en Paula aankom, en glimlag. Terwyl

hul die treedjies opstap, haal sy gou haar bril af om haar oë af te vee.

—Eindelik terug, sê sy.

Marcel kus haar.

—Ons het te lank versuim in die bos. Maar hier is ons nou. Dit word alte

koud vir ma om nog buite te bly.

Hulle gaan binne-toe, Marcel maak die deur toe. Hy gaan naas sy ma sit op

’n laer stoeltjie, leun teen haar aan en neem haar hand. Hy kyk na die

arme gekerfde werkhand, met vormlose vingers, sonder ringe, sprekende

van ’n werksame lewe en van ouderdom. Mevrou Kibert weet waar Marcel aan

dink, en sy sê:

—Ja, ek het my trouring moet afhaal: dit het my seergemaak. ’n Tydlank

het ek die ring van jou vader gedra, maar die goud was al so dun geslyt,

dat dit eendag gebreek het, soos glas.

En sy voeg daarby asof sy net vir haarself praat:

—Dis maar niks. Wat ons _voel_, is tog maar alles—en dit kan selfs die

dood nie breek nie.

Marcel soek met sy oë aan die muur ’n ou portret van sy ma wat hy

goed ken. Sy staan daarop as jongmeisie, slank en skoon, met iets

teruggetrokkens in haar houding, en met ’n blom in haar mooi, lang

vingers.

Hy buig hom oor die verlepte ou hand, wat hy vashou, en druk daar ’n soen

op. Hy dink daaraan hoe sy moeg en terneergeslae teruggeloop het van

Chenée, na die ongunstige antwoord wat sy daar gekry het, en hy onthou

ook die onvriendelike woorde wat hy haar gesê het:

—Ma, ek is somtyds haastig gewees met my woorde.

Sy trek haar hand saggies uit syne en streel sy wang. En op haar gelaat

lê die helder dog droewige glimlag wat spreek van ’n siel deur lye

gereinig.

—Stil! sê sy, bewoë. Ek verbied jou om jouself te berispe. Elke dag dank

ek die Heer vir die kinders wat Hy my gegee het.

Hulle is nou spraakloos. Die stilte omsluit hulle. Snel gaan die minute

verby, onverbiddelik. Hul is alreeds geskei voor die afskeid nog daar is.

Maar alles opsy skuiwende, geniet hul, tot martelens toe, hul bedreigde

samesyn. Daar is niks wat siele so aanmekaarbind as gemeenskaplike

sorge en smarte nie. Wanneer sal hul ooit weer so bymekaar wees in

die goudkleurige najaar, die geel blare deur die venster sigbaar in

hul sterwende skoonheid? Van die drie wat hier bymekaar is, het twee

’n voorgevoel dat so ’n samesyn nooit weer sou kom nie. Mevrou Kibert

probeer tevergeefs om, soos altyd, sterk te bly by die afskeid. Marcel

se hart is swaar: hy dink aan die eensame woestyne van Afrika van waar

menigeen nie weer terugkom nie.

Die bediende kom sê dat die rytuig ingespan is. Dis al nag as hul vertrek.

Hulle ry deur Chamberie. Onder ’n veranda in die straat sien Paula mevrou

Delourens en haar dogter staan. Sy sien hoe Alida doodsbleek word; maar

as sy haar broer aankyk, dan is sy verbaas om te sien dat hy heeltemal

onverskillig is, hoewel sy voel dat hy hulle ook gesien het.

By die stasie moet hul nog wag en bly bymekaar in die wagkamer. Mevrou

Kibert haar oë is net op haar seun, wat gaan vertrek. Sy sê meteens:

—Van al die kinders lyk jy die meeste na jou pa.

—Sy geloof in die lewe het ek nie, sê Marcel. Hom het ek nooit ontmoedig

gesien nie. By teenspoed het hy laggend sy hoof opgehef en gesê „So lank

’n mens nog nie dood is nie, is daar niks verlore.”

—Vandat hy dood is, sê die ou vrou, is my krag weg.

—Hy leef nog in U, ma. Vir ons is hy nog hier.

—In julle ook. Vir my wag hy.

Marcel kus haar.

—Nee, ma, ons het ma nog nodig.

’n Spoorwegbeampte kom aan die deur en waarsku hulle. Hul gaan op die

stoep en sien die twee lanterns van die naderende trein soos oë wat hul

aanstaar. Hul moet afskeid neem van mekaar. Nog nooit het mevrou Kibert

so bedroef gevoel nie. Sy omarm haar Marcel, en hy glimlag om haar moed

te gee. Haar laaste woord is ’n seën-wens, ’n gebed:

—Dat God jou beskerm!

Krom gebuie na die aarde, wat haar aantrek, so bereik sy, aan Paula haar

arm, die rytuig.

—Moenie ongerus wees nie, ma, sê Paula. Net ’n jaar bly hy weg. Die

vorige keer het U beter uitgehou.

Maar sy het ’n geheime voorgevoel wat haar martel. Swyend ry hul terug

na Maupas. Daar word die ou vrou nog ’n keer oorval deur ’n vreeslike

aandoening van droefheid:

—O, ek is bang ek sal hom nooit weer sien nie.

Paula verbaas haar oor die wonderlike voorgevoel van gevaar, wat haar ma

alleen het.

—Ek weet nie waarom ek so voel nie, sê die ou vrou. Ek voel net so

bedroef, as die jaar toe jou pa gesterwe het.

Met grote selfbeheersing bedwing sy haar, om haar dogter ontwil. Sy neem

die hand van haar laaste kind, met die sagte bevalligheid wat sy nog uit

haar jong jare oorhou; en terwyl sy dink aan al die skeidinge, sommige

vir lange tyd en sommige vir altyd, sê sy:

—My liewe kind, jy is nou die laaste blommetjie wat oorbly in my verlate

tuin.

_DEEL II._

I.

DERTIEN AAN TAFEL.

—Ons sou miskien aan tafel kan gaan.

Meneer Delourens waag om dit te sê, met ’n bangerige stem.

Onder die geselskap van sy vrou haar oog maak hy dadelik dat hy wegkom

van die vuur, waar ’n paar groot eikeblokke vlam, en hy neem die vlug na

’n alleenstaande stoel ver daarvandaan. Laggend toon mevrou Delourens dan

aan haar gaste ’n almanak wat in groot syfers die datum dra: 25 Februarie.

Bang vir die lewe · 第 7 / 15 段