is drie-kwart bankrot vandat die dokter die skuld goedgemaak het van
sy broer, die bankier. Daar word wel vertel dat daar geen bankrot was
nie, dat alles afbetaal is. Maar ’n mens weet nooit. Die selfmoord,
die ruinasie—dit lyk maar alles baie lelik.... En dan die oorlog in
Madagaskar! Ja! ek weet die kaptein het hom fluks gedra. Ek het hom dit
ook gesê. Daarvoor kon hy my wel dankbaar wees. Maar in plaas daarvan
wil hy my my dogter ontneem. Al ons soldate kry koors in Madagaskar,
elke een, en ek wil nie hê dat jy ’n siek man moet kry nie. Dis my plig
om daarteen te waak. O, ek wil jou net gelukkig sien. Jongmeisies soos
jy ken die lewe nog nie. Julle vurige harte ontbrand te gou vir moed,
heldhaftigheid, naammaak, en dan dink julle dat die bewondering liefde
is. Maar dis nie dieselfde nie, my kind. Te laat sal jy dit uitvind. Mag
jy daar tog voor behoed word!
So verniel en vernietig sy, met kort beslissende woorde, die geluk van
Alida, terwyl sy juis dink dat sy dit bevorder. Verder en verder is die
meisie teruggewyk tot in die breë vensteropening, wat haar half verberg;
sy begin weer te huil, in stilte, en wring wanhopend haar hande.
Mevrou Delourens staan van die stoel op en tree nou aanvallend op:
—Ek het so gedink dat jy sin sou kry aan meneer Marthenay. Het hy nie
alles wat begeerlik is nie? ’n Mooi man, ’n mooi uiterlik, geld. Hy is
offisier en lyk pragtig op ’n perd. Hy dans volmaak. Ek het hom onder
almal uitgesoek. En dan sal jy ook naby ons bly. Dan sal ons ook deel in
jou geluk. Wil jy ons dan die deel ontneem?
—Maar, ma! sê Alida.
—Kinders is tog ondankbaar. Jy, wat ek as swakkerige kindjie so opgepas
het, en weer toe jy die koorssiekte gehad het—jy wil my nou gaan verlaat.
En as versagting van die selfsugtige klag laat sy dadelik volg:
—Ag, as ek maar seker was dat jy gelukkig sou wees! Maar as ek nie by is
om te waak oor jou gesondheid nie, aldag bang om te hoor dat jy siek is
daar vér, altyd vresende vir jou vrede en gemak, waarvan ek my nie met
eie oë sal kan oortuig nie, selfs nie teenwoordig te wees as daar miskien
kindertjies gebore word nie—dit sal dan voortaan my treurige bestaan moet
wees....
Alida is bewoë deur die uitstorting van moederlike toewyding en liefde,
sy steek haar arms na haar moeder uit:
—Ma, ma, ek sal u nooit verlaat nie!
Mevrou Delourens werp haar in die arms van haar dogter, wenend omhels hul
mekaar.
—En ek sal nooit trou nie: ek wil by ma bly.
Die halwe oorwinning het so gou gekom, dat mevrou Delourens dit as
voldoende beskou, en nie meer van haar planne praat nie nog die naam noem
van Marthenay.
—Ek het my liewe klein Alida weer gevind, sê sy, en druk haar kind aan
haar hart. Ek het jou tog so lief. Jy weet nie hoe baie lief ek jou het
nie. Ek dink dat ek jou te veel liefhet. O, ek wil jou tog so graag
gelukkig sien!
So vanself kom die woorde oor haar lippe op dieselfde oomblik dat sy die
hart van haar dogter breek.
Op die skouer van haar ma geleun, sien Alida nou deur die raam ’n vrou
in rouklere aankom; sy loop in die laning plataanbome na die huis toe.
Langsaam, gebuie, kom mevrou Kibert, vol vertroue, haar vra vir Marcel.
As Alida haar so sien aankom, maak sy haar bewend los uit die omarming
van haar moeder.
—Sy is nie gewaarsku nie, dink Alida. Dis nou te laat. O, die arme vrou!
Mevrou Delourens verbaas haar oor die nuwe ontroering van haar dogter en
dink:
—Wat makeer haar nou nog? Sou sy ’n twede maal van gedagte wil verander?
Alida gaan weg van die venster: dis vir haar te pynlik om die ou vrou te
sien, sy kan dit nie uithou nie.
—Hoe swaar sal sy tog moet ly! Ek wil nie! Ek wil nie! sê sy by haarself
terwyl sy van die een stoel na die ander loop.
Haar gevoel van medelye is selfs groter as haar groot, verminkte liefde.
Om die onvermydelike verdriet van die ou vrou so veel moontlik te
vertraag—van die ou vrou wat alreeds krom loop onder die sware slag van
die noodlot—sê sy niks van mevrou Kibert se aankoms aan haar ma nie—haar
ma, wat die wrede weiering sal uitspreek. Sy hou haar ma daar in die
kamer deur allerhande praatjies te maak. Haar pa sou ongetwyfeld die
saak op die lange baan skuiwe, geen besliste antwoord gee nie. Soos dit
met swakkelinge gaan, wat hulle tevredestel met die geringste uitkomste,
probeer sy niks verder as om mevrou Kibert ’n alte skielike verdriet te
bespaar, en sy erken vir haarself nie dat sy haar reeds buite staat voel
om die smart self van die ou vrou af te keer nie—die smart waaroor sy die
eerste gehuil het en waaroor sy altyd sal huil.
Na enige oomblikke van angstig wag, word aan mevrou Delourens berig
gebring dat mevrou Kibert in die voorkamer is.
—Ek kom, sê sy. Sy soen haar dogter, wat sy ten offer gebring het, en
stap die gang in. Skaars het sy die deur toegemaak of Alida, met haar
hand op haar hart, loop haar agterna na die deur; maar haar hand bewe, en
sy kom nie so vér dat sy die deur oop maak nie.
—Ma! roep sy, deur die geslote deur. Ek het hom lief! ek het hom lief! Sê
ja, ek bid u!
Ten laaste maak sy die deur oop, maar die gang is leeg. Mevrou Delourens
is al weg. Sy het wel heel duidelik die laaste, hartverskeurende beroep
gehoor. Haar gewoonte om haar dogter as ’n kind te behandel wat sy moet
regwys, het haar verhinder om daar enige gewig aan te heg. Bedaard,
sonder iets wat haar stuit, oortuig dat sy handel soos ’n liefhebbende
en vooruitsiende moeder, gaan sy mevrou Kibert ontmoet; en by die tyd
dat sy die deur van die voorkamer oopmaak, het sy al in haar gedagte die
uitgesogte en beleefde woorde van haar weiering agtermekaargesit.
Sodra Alida vind dat sy daar alleen is in die kamer, voel sy haar
heeltemal terneergeslae. Sy bly onbeweeglik staan, hygend, skuddend van
bewerasie, klaar om flou te val. Meteens druk sy haar hande teen haar
hoof, loop haastig die trappe af, en vlug die huis uit in die tuin in.
Sy hardloop om haar verdriet te gaan verberg onder die skaduwee van die
eikebome, op dieselfde plek waar sy uit Paula haar mond gehoor het dat
Marcel haar liefhet. Sy gaan sit op die dooie blare, sy wil selfs gaan lê
op die sagte blare en daar só bly, sonder beweging, soos ’n roerlose en
verlate ding.
Dis in die hoekie, vol misterie, waar haar jong hart sy eie jeug leer ken
het, waar haar oog vir die eerste keer die skoonheid en lieflikheid van
die natuur leer sien het, waar haar siel meteens die saligheid van die
lewe begryp het. Reeds beskou sy die plekkie as die enigste heiligdom van
haar teer bestaan, vandag afgesluit, en moedeloos dink sy aan die dood.
Sy het nooit geweet hoelank sy daar in die bos gebly het dié dag nie. Al
haar trane het sy daar uitgeween. Sy het aan haarself gesê dat sy haar
verloofde in gedagte trou sou bly, en aan niemand sou behoor nie, terwyl
sy nie syne kon wees nie. Maar sy het nie begryp dat die belofte, aan
haarself, ’n versaking inhou nie: so oordeel sy haarself dan ongeskik vir
die lewendige liefde wat stryd voer en oorwin.
VII.
DIE HUWELIKSAANVRAAG.
Langsaam en sukkelend kom mevrou Kibert aangestap in die laning van
plataanbome. Vir dié plegtige geleentheid het sy haar nuutste swart
rok aangetrek, en met besondere sorg het Paula haar hare en haar
weduweesluier in orde gemaak.
—So lyk ma nou net mooi, het haar seun en dogter haar verseker toe sy
voor die stoep van Maupas in die rytuig gestap het. Hoewel sy daarop teë
was, het Marcel vandag vir haar ’n mooi Victoria-rytuig bestel, in plaas
van hul ou rytuig.
Liefderyk knikkend met haar hoof na haar kinders, het sy vol vertroue
weggegaan, soos een met ’n boodskap van vrede en geluk. Maar sy dag dat
die pad baie kort was, en die vreemde perd baie vinnig. Sy wou afgeklim
het voor die hek van Chenée, sodat hulle haar ongewoon deftige rytuig nie
sou sien nie: dit laat haar verleë voel, net soos iemand wat opreg is en
’n leuen vertel.
—Sit my hier maar af, het sy aan die koetsier gesê, ek sal verder te voet
gaan.
[Illustration: Langsaam en sukkelend kom mevr. Kibert aangestap in die
laning van plataanbome.]
So stap sy dan aan in die breë laning, leunend op haar swart
sambreeltjie. Haar hart klop tog so. Ondanks haar groot lewensmoed het
sy bangerig gebly: die wêreld skrik haar af. Sy beskou die wêreld as
ydel en beuselagtig, maar is darem tog bang daarvoor. Haar ingebore
opregtheid en braafheid is oorsaak dat sy maar min verstand het van die
oordrewe modemaniere, en die alte afgelekte woorde, wat so goed berekend
is om ’n selfsugtige of kwaadwillige ondergrond van ’n mens se gedagtes
te verberg, of wel die leegheid daarvan, soos ’n mens ’n graf met blomme
toemaak. Dan, dink sy alte baie dat sy onhandig is in haar maniere, en
dit laat haar ook ongemaklik voel, nie vir haarself nie, maar vir haar
seun, want vir sy geluk wil sy haar op haar ou dag nog aantreklik maak.
Weet sy dan nie vooruit wat die toekoms van haar sending sal wees nie?
Kan iemand dan nalaat om met blydskap die aanvraag in te willig van haar
liewe Marcel, wat hom in sy hele lewensloop so waardig betoon? Al is sy
ook sy moeder, haar liefde het haar nie blind gemaak nie as sy besef
wat ’n aantreklikheid daar moet uitgaan van sy lang postuur en sy fiere
houding—soos ’n jong boom—,van die gebiedende manier waarop hy sy hoof
dra, van sy skone, welbesnede gelaatstrekke vol wilskrag, van sy oë
veral—afstotend of aanhalend na gelang sy blik hard of sag is—groen-grys
oë vol lewe en so opmerklik juis van uitdrukking. Wat sy van hom weet,
die arme ou moedertjie, dink sy dat alle vroue op sy gesig moet lees: die
deursettingsvermoë wat met waardigheid, byna met minagting, die teenhede
van die lewe dra; die daadwerklike goedaardigheid; die lewendigheid en
beslistheid in woord en gebaar—tekens van ’n woelende, vooruitstrewende
en ryke gees, van ’n gestaalde leiersgeaardheid. Nee! hy behoor tog nie
tot die geslag van popperig-mooi heertjies, laf en voos—’n geslag wat
onder éénselfde wêreldse vernis, en éénselfde mode-eenvormigheid, alle
dor, selfsugtige en bankrot siele insluit. Sy, wat sy lewenskameraad
sal word, om hom lief te hê, met hom te ly en te waag—sy sal nie weet
wat ’n dowwe en alledaagse bestaan beteken nie; hy sal haar hart en haar
gees verryk, hy sal al die bronne van haar vermoëns ontgin en haar bring
tot die volledige opbloeiing wat die skoonheid uitmaak van die menslike
bestaan.
Bowendien, weet mevrou Kibert dan nie van haar dogter dat haar besoek
aangekondig is, en dat haar aanvraag ingewillig is nie?
So kom sy dan aan by die buitehuis van die famielie Delourens—gerus, en
tog vol vrees. Sy eerbiedig Marcel se keus, hoewel dit nie ooreenkom
met haar begeerte nie; en, vergetende wat sy self sou wens, wil sy haar
onderwerp aan die wil van haar seun en al haar kragte inspan vir sy
toekoms; sy dink daaraan dat sy binne enkele oomblikke ’n kind by sal kry
in haar famielie en in haar liefde, en sy is klaar om alles vir haar te
doen.
Voordat sy aan die deurbel trek, bly sy ’n rukkie staan om asem te skep
en om die klop van haar hart te laat bedaar. Sy sien nie die venster waar
Alida staan te huil nie—Alida, wat haar sien aankom en haar ontsteld en
verslae aankyk.
In die voorkamer word sy deur meneer Delourens ontvang, en sy beskou
dit as ’n goeie voorteken. Die niksbeduidende mannetjie sal haar tog
onmoontlik van haar stuk kan bring en sal haar selfs in staat stel om
heeltemal by haarself te kom. Na ’n paar beleefdheidswoordjies, wat hy
uitstamel, sê sy, omdat sy die doel van haar koms nie langer kan verberg
nie:
—U vermoed al, meneer, waarom ek na Chenée gekom het.
En sy glimlag vriendelik—fris en lief is die glimlag, selfs nog op haar
ou dag, haar reine en byna nog arglose siel word daarin uitgedruk.
—Nee, mevrou, ek weet dit glad nie. Glo my, ons is baie vereerd met u
besoek. Dit spyt my dat my vrou nie hier is nie.
Verleë, bang om ’n lastige verantwoordelikheid op hom te neem, kan die
arme man nie op één plek bly staan nie. Hy trek hard aan die koord van
die kamerbel. Die diensmeid kom binne.
—Het jy mevrou gesê daar is mense?
—Ek soek haar, meneer: mevrou is nie in haar kamer nie. Is mevrou nie
miskien by die jongejuffrou in meneer se kantoor nie?
—Ja, ja! Hardloop en roep haar. En om tyd te win, herhaal hy nog ’n keer:
—Dis jammer, mevrou, dis baie jammer. Maar u sien, sy word geroep, die
meid gaan haar waarsku. Sy kan nie lank wegbly nie: dit spyt my tog so
dat u moet wag.
—Wat ek te sê het, meneer, gaan u net soveel aan as mevrou Delourens, sê
mevrou Kibert; sy is vol van haar boodskap, kyk na die vloer en dink daar
nie aan om te let op die manier waarop hy hom probeer te red nie.
Meneer Delourens spring verskrik van sy stoel op: Sal hy waarlik alleen
moet staan om antwoord te gee op so ’n lastige vraag? Sal hul hom só
blootstel aan die eerste aanval? Nee, maar dit kan tog nie: sy vrou moet
absoluut by die onderhoud teenwoordig wees.
—Maar sy sal kom, ek is seker daarvan, sê hy gejaag-haastig. Wag
asseblief net ’n bietjie, mevrou, my vrou sal tog alte jammer wees as
sy u nie sien nie. En met haar sal u baie beter kan praat, natuurlik,
natuurlik. Terwyl hy nog maar altyd woorde op woorde stamel, trek hy weer
aan die belkoord; hy kan dit nie meer hou nie en maak die deur oop:
—Ekskuus, mevrou, ekskuus!
Net soos hy die gang wil ingaan, lig mevrou Kibert eindelik haar oë
op van die vloer en gewaar hom in die beklaenswaardige, onrustige
houding. ’n Man wat heeltemal weggesyfer is, is nog meer te bekla as ’n
niksbeduidende man. Sy skaam haar vir sy part en dink:
—Ja waarlik, dis maar beter om te wag tot mevrou Delourens kom. Aan
hierdie sukkel sal ek tog niks van belang kan sê nie.
’n Donker voorgevoel bekruip haar goeie vertroue. Sy vergelyk in
stilte hierdie armsalige bog met haar eie oorlede man, wat onder geen
omstandighede sy kalmte, deursig en beslistheid verloor het nie, en
oombliklik alle harte tot hom getrek en gerusgestel het.
—Wat ’n verskil! dink sy meelydend, want sy kan niemand verag nie. Sy
dink nie aan haarself nie, hoe sy van haar eie seuns en dogters manne en
vroue gemaak het wat die lewe dapper tegemoet tree.
Solank meneer Delourens haar oorstelp met allerhande praatjies oor sy
gesondheid, slaan sy ’n liefdevolle blik op ’n portret van Alida, as kind:
—Sy is maar min verander, sê sy by haarself, so skoon, so sag soos ons
haar sal liefhê! Sy is fyn en swakkies, maar sy sal sterker word. Ons sal
haar versorg en liefderyk behandel. Van hierdie binne-huisblom sal ons
’n fris, vry veldblom maak. . . En dit kan wees dat sy, eerder as ek,
oorsaak sal wees dat hy meer tuis sal wees by ons. Ek is al oud, en elke
jaar word dit vir my swaarder om altyd weer afskeid te neem.
Aan haarself beken sy wel dat sy maar ’n swak vrou is.
Daar kom mevrou Delourens eindelik binne, soos ’n warrelwind. Vresende
dat haar man al alles bederwe het deur ’n onversigtige uitlating, het
sy so gou as sy kon die trappe afgekom. Die besef van haar gestrenge
oorheersing was nie genoeg om haar gerus te stel nie—sy weet skaars wat
’n despoot sy is.
Met talryke mooi woordjies maak sy ekskuus by mevrou Kibert dat sy so
lank weggebly het. Net so gou as mevrou Kibert haar sien, verloor sy
byna al haar selfvertroue. Wat kan sy vir goeds verwag van hierdie nog
mooi en behaagsieke vrou, met haar alte hoë stem, wat so neerbuigend en
ongevoelig klink, terwyl haar alte gemaakte beleefdheid nouliks haar
trots en koudhartigheid verberg. Mevrou Kibert begryp onmiddellik hoe
verskillend hul opvatting moet wees van die lewe en van ernstige sake. ’n
Afgrond skei hulle van mekaar. Sy het ’n stil gevoel dat al wat vir haar
gewigtig is, hier as van geen gewig sou wees nie, en dat toewyding, moed,
geeskrag, werk—die ware menslike adel—netnou hul krag sal moet meet met
die wêreldse oppervlakkigheid, wat sy tuis as niksbeduidend beskou het,
maar waarvan sy die onrusbarende werklikheid meteens gewaar in hierdie
voorkamer. Sy voel hoe arm en oud sy is, en sy roep die hulp van God in.
Onderwyl oorstelp mevrou Delourens haar nog maar altyd met
beleefdheidjies en komplimentjies; en uit die bangerigheid, wat sy wel
verwag het, wil sy party trek. Terwyl sy van die verdienstelikheid van
seker famielies praat, neem mevrou Kibert die kans waar om met haar
boodskap uit te kom:
—Hoe goed van u, mevrou, om so te praat. Ja, my seuns het goeie werk
gedaan. En in belang van één van hulle, van Marcel, kom ek met u praat.
Sy dink daar nie aan dat sy op dié manier te verstaan gee dat sy nie sou
gekom het as sy nie _moes_ kom nie.
Met teerheid praat sy van Alida, uit haar hart kom die woorde:
—Marcel kon haar nie sien sonder van haar te hou nie. Hy onthou nog
hoe sy hom as kind eendag gesê het: „Ek voel my so aangenaam by jou,
ek wil by jou bly.” Hy dra my op om u haar hand te vra vir hom. Hy gee
die versekering dat hy haar gelukkig sal maak. Sy geluk sal u vir altyd
verseker.
Mevrou Delourens, anders so gou klaar met haar woorde, bly nou stil, sy
wil die ou vrou op dié manier nog meer verleë maak. Dit geluk haar ook!
Dog op sagmoedige toon gaan Marcel se moeder aan:
—U weet dat ons geen fortuin besit nie. My seun het daar nie aan gedink
nie, omdat hy liefhet. My man het aan sy kinders meer eer as rykdom
nagelaat. Dog, alhoewel hy nog jonk is, het Marcel reeds ’n skitterende
verlede wat veelbelowend is vir sy toekoms.
En met waardigheid voeg sy daarby:
—Dis ook ’n fortuin.
—Ons is baie vereerd, sê meneer Delourens eindelik; daar is ’n stryd
gaande by hom tussen die vrees om die goeie mevrou Kibert pyn aan te doen
en die vrees om sy vrou te vererg.
Met één kyk na sy kant toe lê sy vrou hom stil-swye op. Waar bemoei hy
hom mee!?
—Ja, waarlik, ons is baie vereerd, sê sy ook, met ’n berekende
langsaamheid van uitdrukking. Die eer is vir ons ’n verrassing. Ons was
daar nie op verdag nie.
Mevrou Kibert is verbaas, en vra haarself af:
—Het Alida waarlik versuim om met hulle te praat? .... of word ek vergek
gehou?
—Die lof van u famielie hoef nie meer verkondig te word nie, sê mevrou
Delourens verder, bedaard. Want ons weet, mevrou, dat u man hom
geruïneer het om sy broer te red—ongelukkig kon hy nie verhinder die
selfmoord en—die likwidasie nie.
Op dié manier uitgespreek, beteken die woord _likwidasie_ dieselfde as
_bankrot_. Mevrou Kibert voel die venynigheid van hierdie steek. Sy bring
’n boodskap van vrede en liefde, en vyandigheid tree haar tegemoet: dié
onreg jaag haar bloed na haar gesig, en dit skemer voor haar oë. Sonder
verder bewys weet sy van nou af dat haar saak verlore is; tog bring sy
nog in:
—Maar daar _was_ geen likwidasie nie. Kapitaal en rente—alles is
uitbetaal. Daaromtrent bestaan nie die minste twyfel nie. Die eer van ons
famielie is heeltemal onbevlek.
Sy dink aan die moed van haar man en aan die verlore huweliksgeld van
haar arme Paula. Waar voor is al sulke opofferinge dan? Het alleen die
rykdom dan die voorreg om eerbied en ontsag af te dwing?
Haar lydensbeker is nog nie heeltemal leeg gedrink nie. Met die gemak wat
eie is aan die wêreldse lewe, gaan mevrou Delourens verder, koud, en met
’n glimlag op haar lippe:
—Die kaptein het ’n skitterende loopbaan gehad. Nog so jonk en nou al
eretekens ontvang! Ek moet u sê dat niemand sulke verdienste meer prys
nie as ek. Hoe swaar moet dit tog vir u gewees het toe hy so lank weg was
in Madagaskar! Ons het tog so baie aan u gedink! Ons het u beklaag maar
ook beny . . . . En is hy nou heeltemal herstel van die soort koorssiekte
waarvan ’n mens so langsaam genees?
Die maat is nou vol: mevrou Kibert kan nie meer antwoord nie. As sy
probeer om te praat, sal sy seker in snikke losbars. Dié allerheiligste
van haar siel word aangeraak—haar kinders. Offer maar jou fortuin op
om die famielienaam te red, gee jou seuns aan hul vaderland, stel hul
maar bloot aan die dood—daar kom die troueloosheid en leuenagtigheid en
mistrou die belangeloosheid en heldhaftigheid en verklein dit voor die
askoekklompie wat _die wêreld_ genoem word!
Maar mevrou Delourens bou op wreedaardige manier voort op haar behaalde
voordeel, met speldeprikke kwel sy haar ongelukkige ontwapende slagoffer:
—Ek kan u niks met sekerheid sê nie, mevrou, voor nog teë. Ek sal u
aanvraag getroulik aan my dogter oorbring, en u sal gou haar antwoord
weet. Dis mos die mode nou in ons dae om jongmeisies te vra hoe hul dit
graag sou wil hê. Maar ek kan wel vooruitsien dat die vooruitsig van te
moet skei van my, die liewe kind skrik sal aanjaag; sy is so gewend om
altyd by my te wees; ons was nog nooit van mekaar af nie. Ek bewonder u
krag. Een van u dogters is sendelinge, nie waar nie? Twee van u seuns
is in Asië. Die kaptein gaan na Algiers. Hoe dapper is u tog, en wat ’n
voorbeeld gee u aan die moeders wat hul kinders alte liefhet!
—Dink u dan dat ek hul minder liefhet as die ander moeders? dit sou
mevrou Kibert haar wil vra. Ja, so goed as ek kon, het ek al die
losskeuringe gedra, en ek het daar selfs stil onder gebly, om nie die
moed te ontneem aan dié wat vér van my moes weggaan om ’n groot roeping
te vervul nie, in plaas dat ek hulle wou in die pad staan en beperk deur
hulle by my te hou. Ek het my altyd gedwing om hulle aan te moedig tot
gebruik van al hul kragte, na die wil van die Heer. En, wat u nie weet
nie, mevrou, die skeiding verminder volstrek nie die liefde tussen moeder
en kind nie, maar veredel en louter dit. Dit neem hul natuurlike selfsug
weg en bedeel hulle met die onsterflike skoonheid van selfverloëning en
opoffering, waarin vreugde en toewyding één word.
Maar dit alles sê sy nie, haar lippe bly stom. Later sou sy haar weer
die minste besonderhede te binne bring van hierdie onderhoud, om al die
vernederende daarvan te besef, en selfs in haar vroomheid te dink dat dit
’n straf vir haar was, omdat sy te hoogmoedig was op die deugde van haar
talryke kinders.
Mevrou Delourens bly nie lank stil nie.
—Alida is van natuur wankelmoedig. Sy is nog so jonk, nog maar ’n kind.
Sy het al meer aansoeke gehad, mevrou. Dis nou maar tussen ons gesê. Die
voordeel van die ander is dat ons dogter nie van ons behoef weg te gaan
nie. Dis iets wat swaar weeg by Alida. Adel, fortuin—alles kom daar nog
by. As die kaptein tog maar wou toestem om nie weg te gaan van Chamberie,
om te bedank, sodat hy naby ons kan bly, en naby u ook! Het hy dan nog
nie genoeg roem behaal om tevrede te wees nie?
Mevrou Kibert staan op, en sê eenvoudig:
—Ek weet nie, mevrou; ek dank u.
Sy bedank haar vyand, wat haar so onnodig wreed gemartel het. Nog nooit
het sy haar so swak en ontdaan gevoel nie.
Mevrou Delourens doen haar uitgeleide; tevrede met haar oorwinning, het
sy nou jammer vir haar, en oorstelp haar met mooi woordjies oor haar
gesondheid, oor haar kinders, wat help om ’n nuwe vaderland oor die see
op te bou, oor Paula, so fier en skoon, wat nie genoeg by Alida kom
kuier nie. Sy hou haar dogter—dus kan sy nou wel goedgeefs wees met mooi
woorde. Dit lyk of sy op die allervriendelikste manier haar allerbeste
vriendin na die voordeur bring. Agter haar kom meneer Delourens op ’n
trippelstappie aan en kan nie genoeg klein buiginkies maak nie . . . .
As mevrou Kibert weer alleen is in die laning van plataanbome, haal sy
diep asem, soos iemand wat aan ’n groot gevaar ontsnap het. Die vrou was
sleg en hard vir haar. Hoe goed het sy geweet wat haar sou seermaak, in
haar gevoel en in haar trots. Wat ’n valse uitleg het sy gegee aan die
gebeurtenisse in mevrou Kibert haar famielie, waar die ou vrou eer op
stel! Haar lewe van daaglikse, ongesiene toewyding het haar nooit geleer
dat moederliefde nog makliker ’n moederhart kan verklein as verruim nie;
anders sou sy wel begryp het dat dit so ’n hartsgebrek was wat mevrou
Delourens daartoe beweeg om, op alle maniere, haar bedreigde geluk te
verdedig, haar eie geluk, wat sy werklik aansien vir die geluk van haar
dogter.
Maar sy vind nie lank troos by haarself alleen nie. Moet sy nie nou
teruggaan na Maupas en die droewige nuus aan haar seun vertel nie? Die
gedagte dat sy hom die smart nie kan bespaar nie, dat sy die boodskapper
daarvan moet wees, laat eindelik die trane vloei wat sy so lank met
moeite teruggehou het.
Die strale van die langsaam dalende son boor deur die sware loof van die
bome en beskyn nog die ongeluksdag van ’n jong liefhebbende hart. Vir die
eerste maal pynig dit haar om die ou tuis binne te gaan: sy weet dat sy
daar afgewag word met ongeduld en vertroue.