—Aangesien hy my liefhet, kan hy dan nie met my naby sy ma en naby my

ouers kom woon nie? Ons sal so gelukkig wees by mekaar! Ons het daarvoor

geld genoeg.

—Dit sal hy nooit doen nie, antwoord Paula. Sy is verontwaardig en

vergeet in haar trots dat sy ’n vreedsame boodskap het; sy laat daarop

volg:

—Dus is jy onwillig om met hom mee te gaan?

Alida begryp die verontwaardiging en antwoord met vuur:

—O, Seker;—Ek sal hom oral volg, want ek het hom lief. Maar ek sou wel,

maar....

Sy bly ’n oomblik stil, weifelend, en, met grote sagtheid in haar

droefgeestige stem, fluister sy:

—Ma sal nie wil nie.

—Jou ma het jou lief, en wil jou, voor alles, gelukkig sien.

—Ongetwyfeld, maar sy wil hê dat ek naby haar gelukkig moet wees, sodat

sy daar ook deel aan het. Is dit nie natuurlik nie?

Paula dink aan haar eie ma, wat al so baiemaal afskeid moes neem, en tog

nooit haar kinders van hul lewensweg teruggehou het nie. Sy bly stil, en

haar donker oë het hul glans verloor.

Alida neem haar hand; sy laat dit weer los en begin te ween:

—Paula, ek is tog so bang. Maar ek het jou tog so lief.

Die woord van liefde aan Paula is eintlik vir Marcel bestemd. Soos ’n

ouer suster paai Paula die verdriet van ’n vreesagtige jongere.

—Daar kom iemand aan, pas op! sê sy meteens, want sy hoor iets in die

droë blare roer.

—Sal hulle kan sien dat ek gehuil het?

—Nee, nie goed nie, moenie jou oë vrywe nie.

En met sagter stem sê sy nog daarby:

—Hou goeie moed en vertroue, beloof jy my dit?

—Ja, ja!

—Arme klein sus....

Alida glimlag tevrede op die liefderyke woorde.

Om ’n draai van die voetpaadjie verskyn Isabella Orlandi en Jan Berlier.

Sy praat opgewonde:

—Kyk, sê sy toe sy by die twee meisies kom, en sy wys haar linkerhand,

waarop ’n robyn en ’n smarag naas mekaar skitter.

—Twee verlowingsringe!

—Twee? sê Alida, laggend.

—Ja, meneer Landeau is windmakerig en grootmoedig. As ek julle nou

net nog my juwele kon laat sien! Dis ’n hele kissie vol. Ek moes iets

uitsoek, maar alles was so mooi, dat ek nie wis wat om te kies nie, toe

sê hy eenvoudig, met ’n swierige handbeweging: „Vat maar alles.” Om ma te

plesier het ek alles maar gehou. Kyk, hier, wat ’n mooi handbrilletjie:

die handvatsel daarvan is heeltemal bedek met edelstene.

—Maar jou oë is tog goed, sê Jan.

—O, dis niks, so ’n brilletjie lyk deftig en vernaam! sê Isabella, en sy

maak ’n buiginkie vir hom.

Terwyl sy laggend die komedietjie uitvoer, kyk Paula na die dooie blare

wat aan die voet van die groot bome lê.

Mevrou Delourens kom nou ook nader, met kaptein Kibert en meneer Landeau.

Sy is ongerus dat haar dogter so lank uitbly en het aan haar gaste

voorgestel om met haar te gaan wandel in die eikebos. Sy is weer gerus,

nou sy by Alida is, maar sy merk wel dat Alida se gesig rooi is en dat sy

’n bietjie bewoë is.

—Ja, dis tyd dat ons held nou moet trek, dink mevrou Delourens.

Agter haar rug hou Marcel ook sy oog op Alida gerig. Hy sien haar aan met

die verlange van ’n liefde wat nog in twyfel is. Maar gou slaan hy sy

oë weer neer, en hy voel op die oomblik die salige tevredenheid van ’n

liefde wat nie meer twyfel nie.

Mevrou Orlandi en ou-jongjuffrou Sonjon kom nou ook by die klompie. Hulle

bring Paula en Marcel weg tot by die hek; daar neem die twee afskeid.

Vlak voor die ope hek, aan die ander kant van die straat speel ’n klompie

kinders in die son, voor ’n armoedige huisie; hulle hare is deurmekaar,

hulle gesiggies gloei van gesondheid, en hul loop op blote voetjies.

Hulle juig van plesier en maak pret en rusie met mekaar. Hulle ma stap

uit op die drumpel van die deur. Sy is ’n boervrou met ’n sagaardige, dog

reeds verouderde, gesig.

—Hulle is arm, sê mevrou Delourens, en altyd kom daar maar meer

kindertjies. Daar is nou al sewe, en....

—Sewe kinders! hoe afskuwelik! sê juffrou Sonjon, en met afkeer draai sy

om.

—Dis die Heer versoek, voeg mevrou Delourens daarby.

En mevrou Orlandi sê breierig:

—Op ’n skildery sou hul mooi lyk, maar in die werklikheid is hul net

lastig en smerig.

Die boervrou het hul gehoor, en sy sê binnensmonds:

—Jul wil ook hê, maar kan nie kry nie!

En sy tel die jongste kindjie van die grond op en druk dit liefderyk teen

haar bors.

Isabella lag hardop en sê aan haar aanstaande, terwyl sy hom onbeskaamd

in die oë kyk:

—Nee, kyk hier, kinders wil ek nie hê nie!

Meneer Landeau trek sy mond tot ’n gemaakte glimlaggie. Die geselskap

is verleë om so ’n onbewimpelde en onwelvoeglike uitlating, wat net vir

mevrou Orlandi snaaks is, want sy sê:

—Nee, maar dié Isabella!

Alida gee Paula ’n kus tot afskeid. En as sy so vooroor buie, bewonder

Marcel die slapperige skoonheid van haar liggaamsvorm, wat haar ’n

besondere bevalligheid verleen. Naas sy liefde ontwaak die begeerte om

haar te steun en te beskerm. Hy sou sy krag wil afstaan aan hierdie

trektouerige kind: haar swakheid vervul hom met byna godsdienstige

ontroering.

Paula is nou alleen met haar broer op die terugtog na huis. Sy liefkoos

die kindertjies van die arm boervrou; hulle het hul speletjies laat

staan, en staan op ’n klompie bymekaar voor die mense wat hul so bekyk,

en hul het gevoel dat die oë nie met vriendskap op hulle gerig was nie.

—Arme kleingoed! sê Paula, en verontwaardiging blink nog in haar swart

oë. Ons tyd kan julle nie meer verdra nie.

Die boervrou vind dit lief van Paula en sê glimlaggend:

—Wat ’n klompie, nie waar nie?—en hul groei soos kole.

—God is goed en die wêreld is groot, sê Marcel, en hy dink daaraan hoe ’n

plesier sy pa altyd gehad het as hy mooi kindertjies mag sien.

—Ja, meneer Kibert. My moeder het twaalf gehad; ek het drie broers in

Parys en vier in Amerika. Hulle is vèr, dis waar, maar hulle vind hul

bestaan.

Die kindertjies begin met Paula te lag. Sy wys na die span vetsakkies en

sê:

—Die klompie sal jou nog eendag help.

—Ja, maar nou eet hul ons net die ore van die kop. My man moet aldag

sweet om die mondjies vol te hou, en ons ou geldjies kan ons in een hand

toemaak.

—Het julle nie voorraad nie?

—Ja, omtrent genoeg om ’n konyntjie te kan hou!

—Hou maar goeie moed, sê Paula, goeiendag!

En in die rooi handjie van die jongste druk sy ’n silwergeldstuk wat sy

gebêre het om vir haarself ’n paar handskoene te koop.

In die bos bly Paula staan en sê aan haar broer, glimlaggend:

—Jy vra my nie na nuus nie, het jy dan self met haar gepraat?

—Nee, maar ek verstaan. Sy het ja gesê, nie waar nie?

—Ja, sy het vanmôre geweier om met meneer Marthenay te trou; dis ’n

geheim. Sy het jou lief. Sy is fyn. In julle lewe sal jy moet moed hê vir

twee.

Hy gaan nie in op die laaste woorde van haar nie. En selfs broer en

suster praat nie verder alleen met mekaar oor die saak nie. Albei het

eerbied vir mekaar se innerlike gevoel van kiesheid. As hul die hek

ingaan teen die aand, sê hy aan Paula:

—Jy moet dit aan ma bekendmaak, hoor: jy is my beskermengel.

—Ja, sê Paula, ek sal haar dadelik vertel.

Later in die aand, as Paula haar alles vertel het, bly mevrou Kibert ’n

lang tyd spraakloos; eindelik sê sy saggies:

—Sal dit ’n geluk wees vir ons?

—Sy is so sag en lief, antwoord Paula.

En die ou vrou sê weer:

—Dat sy hom tog gelukkig mag maak! Ek sou begeer dat sy minder geld en

meer moed gehad het. Maar nou hy haar liefhet, sal ons haar ook liefhê.

Laat ons bid vir hulle.

Sy dink daar nie aan dat die aanvraag van haar seun miskien afgeslaan sou

kan word nie.

VI.

MENEER EN MEVROU DELOURENS.

Elke môre sê Alida Delourens aan haarself dat sy vandag met haar ouers

sal praat oor die huwelik, waaraan sy maar net hoef te dink om oorstelp

te wees van blydskap; en elke aand moet sy ondervind dat sy nog niks

daaroor gepraat het nie, en dan stel sy dit maar uit tot die volgende

dag. Maar haar tyd word nou baie kort, want Paula het haar gesê dat haar

ma op ’n bepaalde dag sou kom om te praat.

Die aand voordat mevrou Kibert sou kom, het Alida nog nie so ver gekom om

met haar ouers te praat nie. Bekommerd, val sy eers laat aan slaap, en sy

staan vroeg op om kastig tyd te win. Die ure gaan een na die ander verby,

en daar is vrees in haar liefdevolle hart.

Nou lê sy haar ma voor en dan weer haar pa, om hul afsonderlik te spreke

te kry; maar, soos dit altyd met bangerige mense gaan, vind sy die

geleentheid nooit gunstig genoeg nie.

Haar ma is nou alleen in haar kamer. Haastig stap sy daarheen, maar

onhoorbaar saggies sluip sy weer ewe gou terug, want, kyk, haar ma sit

nou net te skrywe: dis maar beter om netnou weer terug te kom.

Met ’n kleurtjie op haar wange, gaan sy weer haar pa soek. Hy loop in die

tuin rond—maar kyk, nou staan hy weer net met die tuinman te praat.

So vind sy wel honderd kreupele verontskuldiginge om haar boodskap uit te

stel. Maar nou is sy eindelik vasbeslote om na die ete te praat. Dan voel

’n mens die lekkerste, sê sy—om haar nou maar weer van blaam te suiwer.

Ongelukkig val al haar mooi planne in die water, want op slag van

twaalfuur kom mevrou Orlandi as selfgenooide gas aangestap, met haar

mopshondjie Pistache op haar arm—sy is nooit sonder hom nie—en begin te

babbel op haar familiare Italiaanse manier:

—Ek kom tog nie ongeleë nie? Dis vir my alte naar om alleen te eet tuis.

Isabella is met haar kamerbediende na die stad om haar uitrusting te

koop. Ja, die trouery maak alles deurmekaar. My kop is al heeltemal op

hol.

Mevrou Delourens is vol van haar, maar sy sê darem:

—Wat ’n goeie gedagte van u om te kom.

En meneer Delourens verklaar op ernstige toon:

—Voorbereidsele tot ’n huwelik is inderdaad strydig met huislike rus.

Almal gaan nou na die eetkamer. Mevrou Orlandi wys op haar hondjie en vra:

—U laat tog toe dat my liefste saam met ons aan tafel gaan?

—O seker. Ons sal nooit so wreed wees om hom van u te skei nie.

Mevrou Orlandi sit Pistache op ’n stoel naas haar. Sy begin dadelik oor

hom te praat.

—My liefste het gister tog so ’n groot verdriet gehad. Ons was op

besoek by die oom van Jan Berlier—my dogter haar „flirt.” Hy woon naby

Chamberie, in ’n huisie wat byna begrawe is onder die rose. Die ou het

goeie smaak maar min beleefdheid. Hy woon maar daar in sy tuintjie

alleen, en vergeet die mense en ook sy goeie maniere. Pistache het hom

vergryp aan ’n jong roosboompie; toe het die ou kêrel so kwaad geword,

dat hy hom buite die hek gesmyt het. My eer het gevorder dat ek toe

ook moes uitstap, en ek het dit subiet gedoen; my dogter het ek daar

agtergelaat. Jan het haar in die aand huis-toe gebring, en het toe

allerhande verontskuldiginge vir sy oom gemaak.

—En meneer Landeau is weg? sê mevrou Delourens, ’n bietjie geskok oor die

manier waarop mevrou Orlandi haar moederlike pligte waarneem.

Met die grootste gelykmoedigheid gaan mevrou voort:

—Meneer Landeau is weg. Hy maak nou pragtige profyte. My dogter sal hom

eers sien as die huweliksdag haas daar is. Hy lyk op die oog nie alte

mooi nie, en Isabella het kunssmaak. Maar sy sal daar wel gewend aan

raak. ’n Mens word aan alles gewend, behalwe aan lelikheid as ’n mens

eers mooi was.

Sy slaak ’n diepe sug om haar verlore jeug, en buig haar gesig oor haar

bord—die gesig is violet-kleurig, onder ’n dik laag poeier; dis al lank

dat sy haarself nie meer durf aankyk in die spieël nie.

Die bediende bied haar ’n bordjie vrugte aan; sy kyk dit verbaas aan, en

sê aan mevrou Delourens:

—Wat, is daar dan geen dessert nie?

—Nee, sê mevrou Delourens, verwonderd oor so ’n vraag.

—Dis nou vervelend.

Mevrou Delourens verbaas haar oor die aandrang om dessert, en maak

ekskuus:

—Ja, liewe mevrou, u het ons nie laat weet dat u sou kom nie. Ons het nie

verwag die eer te hê u vandag te ontvang nie.

—O, ja, sê mevrou Orlandi, sonder die minste verleentheid, ek is redelik

wat dit betref en ek begryp u heeltemal. Maar Pistache sal dit nie

verstaan nie. Hy is gewend om elke dag sy drie soorte kos te kry en sy

dessert. Hy sal nou dink dat ek hom vandag straf, en hy het dit nie

verdien nie.

Ongeduldig laat mevrou Delourens gou ’n wit van ’n eier opklop met

suiker, en dit word aan die verafgode diertjie gegee. Almal staan op van

tafel, maar die lekkerbekkige hondjie bly in die eetkamer agter, dinkende

dat daar nog wat te snoep sal wees—alhoewel sy meesteres hom smekend

aanroep.

Die bediende sien hom, en nou die deur goed en wel toegemaak is agter

dié wat aan tafel gesit het, gee hy Pistache ’n skop, dat hy tot aan die

ander end van die kamer rol. Pistache tjank en brom. Maar verbaas is hy

nie: die lewe lewer vir hom aldag sulke uiterstes op, en wysgerig neem hy

die afwisseling op van liefkosinge en skoppe, van voorkamer en kombuis.

Net na die ete groet meneer Delourens die dames, met ’n aansien van

besigheid en vernaamheid wat ’n bietjie komiek lyk op sy „rustige” gesig,

en hy gaan na sy kantoor, waar een van sy grondhuurders vir hom wag.

Dis ’n kwessie van agterstallige rekeninge. Die boer vra natuurlik om

korting: werkvolk is maar duur, geld is skaars, en die oes was maar baie

skraal.

—Wat, skraal! sê meneer Delourens met die skynbare hardvogtigheid wat

hy aanneem teenoor sy onderhorige en teenoor dié wat vir hom goed moet

lewer—’n poppehardvogtigheid wat hom te meer laat sien hoe swak en

niksbeduidend hy is teenoor sy vrou.

—Wat, skraal! Waar is die oes van verlede jaar? Wat het jy daarmee

aangevang? Het jy dit dan nie verkoop nie?

—Ag, meneer, u weet nie hoe laag die pryse van die wyn nou is nie. Ons

het dit liewers maar self opgedrink.

Meneer Delourens se geldelike belange laat hom ’n oomblik die belang van

sy „rustigheid” uit die oog verloor en hy wil net kwaad word, maar daar

val sy oog op ’n boek op die tafel—dit lê tussen ’n storieboek en ’n boek

oor wapenskilde—en die opskrif daarvan is: _Hoe om vrede te bewaar met

mense._ Om die opskrif alleen het hy dit gekoop, en hy lees ook nie meer

as die opskrif nie, wat so strelend is vir sy aangebore rustigheid. Hy

koel weer af en stuur die boer weg onder ’n hoop mooi woorde, maar sonder

enige afslag te maak.

Terwyl die boer uitstap en hom bekla omdat hy niks gewin het deur die

onderhoud nie, kom Alida in die kantoor van haar pa. Sy bring ’n koppie

koffie, na sy smaak klaargemaak, en sy reken op die invloed van die

geurende drank, wat deur meneer Delourens in ontvangs geneem word met ’n

suikersoet glimlaggie. Terwyl haar pa met klein slukkies die dampende

koffie geniet, gaan sy sit en staan weer op en kan nie op een plek bly

staan nie. Verleë en bangerig bring sy die eenvoudige woorde uit:

—Pa, iemand sal u netnou ’n besoek kom bring.

—Dis goed, my kind. Jou ma is in die voorkamer. En wie sal dit wees?

—Mevrou Kibert, is die antwoord, op gedempte stem, wat voldoende sou

gewees het om die meisie se geheim te verraai aan haar pa as hy nie al

lank afstand gedaan het van sy voorregte as huisvader, en afgeleer het om

sy eie kinders te verstaan nie.

—Mevrou Kibert? Maar vandat sy weduwee is, het sy niemand meer besoek

nie. Dis ’n eer wat ons op prys stel.

En hy trek sy ou postuurtjie orent om aan sy waardering grote vernaamheid

by te sit, en hy voeg daar nog by:

—Sy weet maar min af van geselskapsmaniere, maar sy is darem ’n goeie

vrou, en haar seuns het nogal vooruitgekom.

Alida vind die loftuiting onvoldoende en sê saggies:

—Haar man het my lewe gered, pa: weet u nog van die koorssiekte wat ek

gehad het?

—Ja, ja, sê hy haastig.

Hy onthou ook dat die doktersrekening nooit betaal is nie, en hy het maar

min lus om op die sakie in te gaan. Sou mevrou Kibert op betaling van die

ou skuld wil aandring? Nee, so veel sal sy wel nie waag nie; en veral

nou, dat haar seun en dogter so vriendskaplik op Chenée ontvang word, sal

sy wel ontsien om sulke goeie maatskaplike verhoudinge te bederwe deur

geldpraatjies.

—Het sy gesê sy sal kom? vra hy.

—Ja, pa.

En saggies sê sy daarby:

—Mevrou Kibert kom om my ontwil.

Meneer Delourens kuier op en neer in die kamer; dis goed vir sy

spysvertering—as biblioteek word die kamer maar min benut, maar wel

bepaald as die plek vir dié klein gesondheidsbeweginkie; maar nou bly hy

meteens staan, want dis hom nou eindelik duidelik geword dat daar iets

buitengewoons in sy huis gaande is.

—Om jou ontwil? sê hy besorg.

Met die plotselinge oorhaasting van weifelende mense verbrand Alida haar

skepe:

—Wil u my nie graag gelukkig sien nie, pa?

—Seker, seker! bepaald wil ons dit.

En reeds sien hy allerhande moeilikhede tegemoet wat sy rustige bestaan

kan versteur, ja, selfs sy spysvertering van vandag. En tog, hy het die

mooie Alida lief, haar sagtheid stem ooreen met sy eie karakter; en met

plesier sou sy swakheid haar aanbid en bederwe het as hy nie in toom

gehou word deur vrees vir sy vrou nie, wie se gebare en gesagvertoning

hy na-aap as sy afwesig is. Verdeeld tussen so baie verskillende

aandoeninge, so ingewikkeld, dat hy bang begin word en sy lamgoedige

gelaat ’n harde trek aanneem, vra hy om ’n uitleg:

—Jy praat van mevrou Kibert, en dan van jou geluk—ek verstaan nie.

Alida aarsel nou nie meer nie:

—Sy kom om my hand te vra vir haar seun.

—Vir die kaptein?

—Ja.

Op swakker toon laat sy daarop volg—en in die bangerige versoek wat haar

woorde uitdruk, lê die hele krag van haar liefde:

—Pa, ek smeek u, gee u toestemming aan haar, en haal ma ook oor.

Het sy die laaste woorde nie uitgespreek nie, dan sou haar pa hom laat

ompraat het. Hy onthou gesproke woorde net na mekaar, soos hul kom, en

die laaste woorde onthou hy altyd die beste.

—Ma omhaal! Altyd maar ma! sê hy hardvogtig, en begin weer op en neer te

kuier.

Hy verseker hom eers dat die deur goed toe is en hou sy oor daarby om te

luister; en gerusgesteld daaromtrent, vaar hy parmantig uit:

—Jou ma! Weet jy nie, my kind, dat my toestemming van baie meer belang is

nie? Die wet sê dit—en die wet is regverdig. Daar moet maar een baas in

die huis wees—en as dié baas is die huisvader aangewese!

Hy kyk gou in die spieël om te sien hoe hy lyk as hy oppermagtig is.

Dit lyk of hy heeltemal die ernstige onderwerp van hul gesprek uit sy

hoof verloor het, en die bewende meisie is bang om dit weer aan te roer.

Moet sy nou nog bowendien die naam Marcel Kibert uitspreek? Maar meneer

Delourens kom weer tot die werklikheid terug en bespaar haar ten minste

so ’n hernude daad van moed; hy herhaal woord vir woord wat sy vrou

eendag gesê het:

—Die jonkman is ’n held. Dié heldhaftigheid maak hom ons syne.

En sy vrou wou daarmee sê dat Marcel Kibert gerus ontvang kon word in so

’n vername kring as dié van Chenée.

Meneer Delourens bedink betyds dat hy nie sy woord moet verpand

nie—daarom haas hy hom om teenbedenkinge te opper:

—Maar ek glo dat jy ’n rustige bestaan begeer, my kind. Dan moet jy nie

’n man hê wat die wêreld wil gaan oorwin nie. Jy is kalm en vreedsaam van

aard. Sal die kaptein in Chamberie kom woon?

—Pa, sê Alida, dinkend aan die manhaftige woorde van Paula, ’n vrou

behoort by haar man te staan en hom nie te hinder in sy roeping nie.

—Sy roeping? Nou wel, dié kan hy ook hier by ons volg. Die

soldate-garnisoen van Chamberie is ’n uitgesogte. Hy word hiernatoe

verplaas—dis eenvoudig genoeg. Of wel, hy neem sy ontslag. Maar hy besit

niks.

Alida sê niks. Haar pa merk dat sy stille trane stort. Dit roer hom, en

hy hervind sy ware aard, wat deur sy ploertigheid en afhanklikheid so

lank vervals was. Hy stryk saggies met sy hand oor haar wang:

—Moenie huil nie, my kind, ek wil jou gelukkig sien.

Maar ag, die halfslagtige wilsuiting vlug meteens soos ’n voël voor die

jagter, want die deur gaan oop en mevrou Delourens—eindelik ontslae

van mevrou Orlandi en ongerus oor Alida, omdat sy nie teruggekom

het nie—kom die studeerkamer binne. Nou kan meneer Delourens die

baasagtige houdinkie—waarmee hy hom getooi het voor sy dogter—maar

nie weer vind nie, en die ontroering wat hy gevoel het vir haar, het

heeltemal vervlieg. As vanself neem hy die deemoedige houding aan van

’n ondergeskikte voor die bestuurder van ’n besigheid. Beroof van alle

huisvaderlike moed, en besluiteloos, behalwe tot vermyding van ’n

famielierusie, maak hy dat hy die kamer uitkom, met die soetsappige

woorde:

—Ek laat ons dogter aan jou oor, vrou: sy wil trou, en sal daar met jou

oor praat.

En aan Alida sê hy:

—Daar is jou ma nou. Bespreek maar alles met haar. Wat sy doen, is wel

gedaan.

En weg is hy, voor alles daarop bedag om met die hele wêreld vrede te

bewaar.

Mevrou Delourens het haar man geen antwoord gegee nie; vir die eerste

maal is sy afgunstig op hom: het hy nie vertrouelike mededelinge

van Alida ontvang nie? Sy het haar dogter lief met ’n uitsluitende

en allesbegerende liefde, en deur die oorheersing van dié oordrewe

moederliefde het sy langsamerhand, sonder dit self te weet, die gevoelige

en van nature reeds trae gees van haar dogter heeltemal tot soete

onderdanigheid gebring. Soos ’n besitter van eiendom, verheug sy haar

in die skoonheid van haar dogter, van haar hele jong lewe; sy koester

haar nog soos ’n swak pasgebore kindjie. Hoe sal ’n hart, vol frisheid

en teerheid, so ’n onafgebroke toewyding nie waardeer nie, nie aangedaan

word daardeur nie? Alida dwing haar om, deur gehoorsaamheid, die alles

oormeesterende moeder te behaag, sy voel die moederoog altyd op haar

gerig; dog die liefderyke bewaking verlam haar kragte.

Nou die deur toe is agter haar man, trek mevrou Delourens party van

haar pynlike triomf; sy is reeds op haar hoede teen ’n gevaar wat sy

vooruit voel, slaan albei haar arms om haar dogter, en gaan naas haar op

dieselfde stoel sit. Sy soen haar en sê in haar oor:

—Dis my gravin Marthenay hierdie!

Maar Alida praat niks, en haar trane vloei maar altyddeur.

—Jy wil sy vrou word, nie waar nie? En dit het jy aan jou pa vertel, in

vertroue. Niks kan my meer aangenaam wees nie. Ons sal nooit hoef te skei

nie—Marthenay het my dit belowe.

Sy wil alle twyfel uitvee omtrent die waarmaking van haar plan, en sê

weer:

—Hy sal hier rangverhoging kry, en so nie, wel dan neem hy eenvoudig sy

ontslag! Jy het genoeg, dat julle niks hoef te doen nie; buitendien, die

geselskapslewe gee werk genoeg.

Die aanhoudende trane en spraakloosheid van Alida laat haar eindelik

verstaan dat haar vrees gegrond is:

Het ek my dan bedrieg, my kind? Weier jy om sy vrou te word? Kan hy jou

nie behaag nie?

Ja, so is dit; Alida bevestig dit met ’n hoofbeweging, en nou weet

mevrou Delourens met sekerheid dat die hart van haar dogter aan Marcel

Kibert weggegee is. Sy besit selfbedwang genoeg om haar spyt te verberg;

en dadelik is sy bedag op planne om ’n gebeurtenis te verydel wat sy,

sonder aarseling of nadink, as ’n ramp beskou; so word sy beheers deur

haar gevestigde opienie en toomlose vooroordeel en veral deur haar

moederhartstog: selfsugtig en nie in staat om ’n offer te bring nie. In

Alida haar oor fluister sy:

—Jy wil seker nog nie trou nie. Wou jy nog ’n bietjie by my bly? Ek wil

jou tog te graag gelukkig weet—daarom sal ek toestem om jou nie langer

by my te sien nie—al sal die afskeiding swaar wees, as ek maar net weet

dat jy gelukkig is en ek my elke dag met eie oë daarvan kan oortuig. Maar

jy antwoord nie; is dit dan iets anders?... Het jy jou miskien aan iets

oorgegee sonder my toestemming, en wil jy my daarin teëgaan?

Die verwyt maak Alida nog meer bedroef. Op vleiende toon sê haar moeder

verder:

—Is ek nie jou beste vriendin en vertroueling nie? Het jy geheime vir

my? My liefste, dit het ek nie verdien nie. As jy meneer Marthenay nie

liefhet nie, maar iemand anders, dan moet jy my dit vertel: dan kan ons

saam planne maak.

Nuwe hoop word wakker in die meisie haar boesem; eindelik sê sy met ’n

suggie:

—Ja ma.

—En wie dan? vra haar ma, terwyl sy haar soen: Wie het die hart van my

liefste gesteel? Ek sal my oor by jou mond hou: noem my sy naam.

Sy weet goed wat die naam is, maar wil dit nogtans hoor uit die bewende

lippe.

Alida kan aan sagtheid nie teenstand bied nie. Sy droog haar oë af en

skokkend nog oor haar hele liggaam na die tranebui, sê sy:

—Mevrou Kibert kom netnou.... Sy sal oor my praat ... en oor haar seun....

—Die kaptein?

—Ja.

—My liefste, wat ’n smart doen jy my aan!

Sy laat Alida alleen, gaan op ’n ander stoel sit en berg haar gesig in

haar hande, as wanhopend.

Alida kom om haar te troos:

—Waarom die smart, ma?

Mevrou Delourens lig haar hoof op en antwoord met die grootste droefheid

in haar stem:

—Omdat ek sien dat jy my wil verlaat. Meneer Kibert sal jou vér weg neem

van ons af, miskien wel na Algiers. Wie weet of hy jou nie sal vra om mee

te gaan met ’n kommando nie. Dié wat so hongerig is na roem en gevaar,

kan nie lank liefhê nie. Jy wat so sagaardig en vreesagtig is, hoe kan jy

hom liefkry?

Sy staan voor haar ma, met neergeslae oë, en sy sê saggies:

—O, ma, ek weet tog nie, miskien omdat ek swak is ... en hy sterk.

Met haar ken op haar hand geleun, kyk mevrou Delourens haar dogter nie

aan as sy haar eie uitleg gee nie:

Bang vir die lewe · 第 4 / 15 段