na hulle gegooi. Hulle is self bekoorlike blommetjies van die menslike
lewe.
Met sierlik bedwonge gang volg die rytuie mekaar op, en langsaam
verbygaande kry ieder sy beurt om deel te neem aan die aangename
stryd. Die bevalligste wat die aarde besit, is in die rytuie aanwesig;
vroueskoonheid en blommegeur. Die siel van die beroofde blomtuine
leef nog in hierdie bewegende tuine. Rytuie van allerhande soort en
fatsoen verdwyn onder ’n blommereën van duisende helder kleure. En die
jongnooiens in die rytuie glimlag vol vertroue, wetende dat hulle die
skoonste en verleidelikste blomme van almal is.
—Ere aan die blomme! Ere aan die blomme! roep al die mense vol geesdrif.
Isabella Orlandi en Jan Berlier het in uitgelate vrolikheid met hul
blomme gegooi tot hul mandjies leeg is.
Alida Delourens het ’n pers rok aan, opgemaak met wit kant—dit verhoog
nog haar dromerige bevalligheid. Naas haar voel Marcel Kibert hoe sy
standvastigheid langsamerhand padgee en sy droefgeestigheid verdwyn. So
baie kleure en geure oorrompel en bedwelm hom. Hy sien nog net blomme op
sy toekomstige lewensweg. Nou en dan kom daar herinneringe in hom op aan
skooltonele uit sy kindsheid, en tot sy spyt moet hy ondervind dat sy
gehegtheid daaraan hom ontval, hoe hy ook al teenstribbel. Maar hoe kan
hy nog by die verlede stilstaan as die teenwoordige so veel aantrekliks
het? Met die gevoel van triestigheid wat die ontluikende liefde kenmerk,
kyk hy na die blanke hals van die jongmeisie, wat vooroor buie om te kan
sien of haar sleggemikte blombossies hul doel tref.
Alida kyk nou om na hom: sy spraakloosheid druk haar; en net een opslag
van haar hemelblou oë is genoeg om sy gedagtes te verhelder. Sy wys hom,
met haar fyn handjie, op die mandjie wat al leeg begin te word.
—Daar is nog blomme. Waarom gooi jy nie?
Sy bloos by die eenvoudige woorde, en die oordrewe verleëntheid maak haar
nog mooier.
Daar kom ’n rytuig aan met offisiere in uniform. Luitenant Marthenay—’n
bietjie dikkerig van postuur, omdat sy eerste jeug al verby is—is die
enigste wat regop staan in die rytuig. In sy hand hou hy ’n bossie duur
en seldsame blomme. Dit lyk of hy na iemand soek op die tribunes. Hy sien
nou vir Alida, en glimlaggend en langsaam mik hy sy gooi na haar toe.
Die brutale manier om die aandag van almal op die jongnooi te vestig,
is vir Marcel te veel: hy buk skielik na Alida haar mandjie, en met
snelle beraad val hy die eerste aan op sy teenstander. Die doel was mooi
berekend, maar nie die krag van die gooi nie. Hy raak die offisiertjie
hard in die middel van sy glimlaggende gesig. Heeltemal uit die veld
geslaan laat laasgenoemde die kosbare blomme somar op die grond val.
Kwaadaardig kyk hy rond tussen die mense op die tribune, en sien net vir
Isabella Orlandi, wat haar hande klap en uitroep:
—Goed geraak! Die skerpskutters bo!
Jan Berlier juig haar toe: die uitbundige vrolikheid is vir hom mooi.
Luitenant Marthenay steur hom nie aan hulle spotterny nie. Naas Alida, ’n
bietjie na agter toe, sien hy eindelik die baasagtige en minagtende gesig
van Marcel Kibert. Hy is nog vol kwaadaardigheid en nyd as die rytuig met
hom en die ander offisiere weer aanry en weggaan.
Elke keer as hy weer verbykom voor die famielie Delourens en hul
geselskap, sien hy hoe Alida heeltemal vergeet om deel te neem aan die
slag, en net staan en gesels met sy teenstander; en sy lyk heeltemal van
gedaante verander, vol aandag, opgefleur. En elke keer het Isabella en
haar vryer ’n ondeunde plesier daarin om hom in sy waarneming te steur
deur hom aanhoudend met blomme te bombardeer.
Die mense begin nou genoeg van die fees te kry, en die geveg verflou.
Die aand begin al te daal op die vlakte. Tere tinte, ’n mengeling van
rose kleur, violet, pers en goud, verdof die gesigseinder soos ’n
ontasbare stofwaas. En die rotskranse van die berge behou nog net vir
hulle alleen die glans van die reeds ondergegane son; ’n gloeiende rooi,
wat so ’n volheid van lewe uitstraal, dat dit lyk of die kranse tintel in
’n opbruising van blydskap te midde van die ligbad.
Agter Alida wil Marcel net die tribune afstap, maar hy bly staan as hy
die pragvertoning van die natuur gewaar. Die jongnooi draai om, om hom te
roep, en is verwonderd om te sien wat ’n uitdrukking van geluk daar op sy
gelaat lê. En hy gewaar ook in sy binneste ’n ooreenkomstige opwakkering
van al sy lewenskragte.
Die famielie Delourens en hul gaste ry na die stad, daar naby. Die
tuine is vol eethuise en op die grasperke daarby staan ’n menigte klein
tafeltjies; die lampe daarop het kappe van allerhande kleure, wat lyk
soos groot vuurvliegies tussen die bome.
Luitenant Marthenay was deur mevrou Delourens gevra om by hulle te eet
en kom nou by die geselskap. Hy is in ’n slegte bui. Hy kan dit maar nie
verkrop dat sake hom die middag so teëgeloop het nie. So gou as hy Marcel
Kibert sien, loop hy sonder nadink somar op hom toe, en sê:
—Meneer, u weet nie om onderskeid te maak tussen speletjies en geveg nie.
Marcel trek hom in sy volle lengte orent—hy is baie langer as
Marthenay—,kyk hom permantig aan, en antwoord:
—Ja, maar u het nie geweet wat die onderskeid was tussen respek en
hoflikheid nie.
Die toon van die gesprek laat mevrou Delourens vrees vir onweer; sy kom
nader. In haar gedagte weeg sy die tietel van die een teen die roem van
die ander: haar ydelheid het albei nodig.
Marthenay kan nie sien dat hy iets onbehoorliks gedoen het nie, en soek
nou rusie. Daar waai Isabella Orlandi meteens soos ’n warrelwind aan, en
los die gespanne verhouding op.
—Jan, kom kyk, hier is hy!
En aangesien sy as bedorwe en sleg-opgevoede kind nooit geleer het om
haar luim te beteuel nie, laat sy daar onmiddellik op volg:
—Wys ons jou gesig.
—Maar, mejuffrou!... protesteer die luitenant, en word bleek.
—’n Oomblikkie, net maar ’n oomblikkie! sê sy.
Sy maak of sy sy gesig bekyk en sê, asof sy almal opmerksaam wil maak:
—Maar dis snaaks, hy makeer niks.
—Maar wat wil u tog van my? vra Marthenay met nadruk.
Die meisie bars uit van die lag en sê nog spottend daarby:
—Jy kan nie stry nie, die kêreltjies wat in die kolonies was, weet
darem hoe om goed te mik. Julle klop hulle in die danssaal; maar in die
oorlog—daar moet jul vir hulle oppas!
—Maar ek begryp nie . . . sê Marthenay. . . .
—O, ja! u begryp my baie goed. Meneer Kibert, hier, het jou lekker
uitgeklop. Ons juig hom toe. Hy is ons held. As jou uniform ’n bietjie
nat gereën het, praat jy ’n hele week groot oor jou heldedade.
Vir ’n man van die wêreld is daar niks so moeilik nie as om met fatsoen
los te kom uit die verleëntheid waarin ’n mooi jong meisie hom dring deur
hom so te laat deurloop onder haar kwinkslae. Luitenant Marthenay is nie
fluks genoeg daarvoor nie. Hy draai weer na Marcel toe:
—Die meisies neem u in beskerming, meneer.
Isabella Orlandi laat hom nog nie los nie, en sy gee antwoord in plaas
van Marcel:
—O, om ’n aanval te maak het hy nie beskerming nodig nie.
Mevrou Delourens kom nou tussenin:
—Isabella, jy is onredelik.
Op ’n komieke manier gooi die nooi haar arms omhoog:
—O, so ’n offisiertjie van die dragonders mag ’n mens nie raak nie, selfs
nie met ’n bossie blomme nie.
Dis haar plesier om hierdie jonkman te verneder. Voordat die lewe
haarself verneder—want sy is vooraf beslote om alles, ook die liefde,
prys te gee aan haar begeerte om te skitter—gee sy haar heeltemal oor
aan die plesier van mooi en behaagsiek en vermetel te wees.
Gedurende die toneeltjie het Alida sku en stil gebly.
Almal gaan nou aan tafel sit, en die voorvalletjie word vergeet in die
onderlinge hartlikheid wat so vanself kom as mense so ’n heel dag saam
pret gemaak het in die ope lug. Isabella het opgehou met haar geplaag
en kry dit selfs reg om haar vyand weer op te vrolik. Alida sit tussen
Marcel Kibert en luitenant Marthenay, en hoewel sy agterhoudend is, soos
altyd, probeer sy tog om dit vir albei ewe aangenaam te maak. As almal
opstaan van tafel, vergeet sy naas haar bord die bossie blomme wat sy die
hele middag op haar bors gedra het. Marcel tel dit op en sy merk dit.
—U wil dit tog wel aan my gee, nie waar nie, juffrou? vra hy; so ’n
smeektoon val hom swaar, en hy voeg daarby:
—U gee daar so min om, dat u dit laat lê het—en die blommetjies is al
verlep.
Sy antwoord nie, dog bloos, en die glimlag is vir hom ’n teken van haar
voorkeur.
Marcel vertrek vroeg met die trein terug na Chamberie; hy wil vroeg
tuis wees om sy moeder nie ongerus te laat voel nie. Dis so ’n heerlike
aand, dat hy, by aankoms op Chamberie, besluit om huis-toe te loop van
die stasie af. Dis tienuur. Hy moet drie myl loop deur die veld, onder
lanings van plataanbome deur, en dan deur ’n bos.
Hy stap haastig aan, en ruik nou en dan die skerpgeurende blomme. Die
donker van die nag is onder die bome nog eens so swaar—hy kan maar ’n
paar sterre deur die blare sien. Met volle teue asem hy die balsemgeurige
aandlug in. Hy het ’n gevoel van ’n heerlike vernuwing en opheffing van
sy hele wese.
Het hy haar lief? Hy weet nog nie reg nie. Maar die teenwoordigheid van
die nooi was voldoende gewees om sy jong bloed in onstuimige beroering te
bring.
Meteens kry hy gedagte aan iets wat hom eenkeer in Algiers oorkom het, ’n
paar jaar gelede. Dit was so ’n onvergeetlike oosterse nag, swaardonker,
met so ’n lui, lou windjie. Hy was te perd, alleen, op ’n stap deur die
bossies. Meteens het sy perd stil gestaan. Rondom het hy niks anders
gesien nie as die donker kolle van die naaste bossies. Hy het die perd
met die spore gesteek en gepaai, maar vooruit wou hy nie, en hy het
gebewe oor sy hele lyf. Was daar iets lewends in die donker naby hulle?
In die groot stilte, drukkend op die donker en verlate vlakte, het die
perd iets geruik. Maar Marcel het nie bang gevoel in teenwoordigheid van
die geheimsinnige gevaar nie—vrees was vir hom iets onbekends. Nee, hy
was alleen bewus van al sy vasberadenheid en van al sy krag.
Met geweld het hy die perd toe gedwing, en die dier het op galop die
duisternis ingehol. Hy het nooit agtergekom of dit ’n denkbeeldige vrees
van die perd was nie, dan wel of hulle werklik naby die dood verbygegaan
het . . . .
Waarom moet hy op hierdie oomblik nou aan dié geval terugdink? Hy het
dieselfde wonderlike gevoel van daardie nag. Soos toe, voel hy nou ook
dat daar gevaar naby is: hy weet nie wat vir ’n toekoms van vreugde of
verdriet hy tegemoet gaan nie. Maar, net soos toe, voel hy nou ook sterk.
Hy druk sy hand op sy bors: daar is ’n béwerige gevoel in, terwyl hy met
’n diep haal die aandlug inasem. Hy trek sy lyf orent, om nog groter te
wees, en hy verheug homself in sy jonkheid. In ’n bedwelming van hoop en
fierheid begin hy te hardloop. Hy hou weer op; maar die gevaar sonder
oorsaak, wat hy voorgevoel het, is nog nie weg nie: dit bly in hom.
In die bos sug die luggie droefgeestig deur die blare . . . .
Naderhand sou Marcel nog terugdink aan hierdie aand, toe hy in die donker
gehardloop het na iets bedwelmends en gedugs, wat niks anders was as die
liefde nie.
IV.
’N AGTERMIDDAG OP CHENÉE.
—Ek kom u kinders wegneem, sê Jan Berlier aan mevrou Kibert, nadat hy
haar gegroet het.
Die ou vrou se sagte antwoord is:
—O, ek smeek u, gun hulle aan my.
Haar glimlag is fyn en teer. Die jonkman het haar verras by haar werk;
sy sit in die skaduwee van die kastaiingbome, voor die huis. Sy het
haar bril op, om die steke beter te kan sien van die handwerkie waar sy
aan besig is. Dadelik roep sy vir Marcel en Paula; hulle is ’n entjie
daarvandaan, in die tuin. Terwyl hulle stadig nader kom, vra sy byna
bangerig:
—Gaan julle na Chenée, na die famielie Delourens?
—Ja, sê Jan, om krokee en tennis te speel. En net of hy spyt het dat hy
dit gesê het, laat hy daarop volg:
—As u wil, mevrou, sal ek hulle daar niks van sê nie.
—O Ja! Marcel het ’n bietjie afleiding en beweging nodig. Hy is gewend
aan baie beweging. En my arme Paula het alte lank met ’n ou vrou, soos
ek, alleen gebly.
Sy dink nie aan haarself en aan haar eensaamheid nie.
Mevrou Kibert behandel Jan Berlier amper soos ’n moeder haar kind. As
klein kind het sy hom dikwels op Maupas sien speel, saam met haar eie
kinders. Hy is die enigste seun van ’n advokaat wat die hof van Chamberie
eer aangedaan het en in die krag van sy lewe gesterwe het. Te vroeg
’n wees geword, is Jan opgevoed deur ’n oom wat ’n bietjie snaaks en
afgetrokke van maniere is en hom maar baie min oor Jan bekommer. Hy is ’n
liefhebber van rose; sy huisie is amper daaronder begrawe. Hy verlies Jan
heeltemal uit sy gedagte as Jan weg is op diens in die kolonie. En as Jan
op verlof tuiskom, vertel hy hom van die nuwe roos-soorte wat hy gekweek
het, en dink dat hy hom daarmee baie liefde bewys.
Marcel en Paula is nou ook by, en Jan vertel hulle dat hulle op Chenée
verwag word. Hy sê aan Marcel:
—Jy skuld bowendien ’n besoek aan mevrou Delourens, na die blommefees; as
jy nou vanmiddag gaan krokee speel, dan doen jy tegelyk die besoek af.
—Dit is so, sê Marcel.
—En u gaat seker saam, juffrou Paula?
Maar Paula weier.
Marcel kyk haar neerslagtig aan, en Jan met simpatieke nuuskierigheid.
Jan onthou nog hoe hy vroeër op hierdie selfde plek gespeel het met ’n
uitbundig vrolike kind, nog wilder as ’n jongetjie. En in haar plek sien
hy nou ’n jongnooi, teruggetrokke en fier, selfs teenoor haar vroeëre
speelmaat. Hy kan darem nie help om haar slank, bevallige postuur te
bewonder nie, haar flinkheid daarby, en haar somber oë, wat lyk of hulle
lig uitstraal. Hy sou wel die vriendskap van sy ou kameraadjie weer wil
win, maar voor _hierdie_ Paula, so mooi en so moeilik te nader, voel hy
’n verleëntheid en bangerigheid waarvan hy homself die oorsaak maar nie
wil vra nie.
—Jan, ek moet jou knor, sê mevrou Kibert meteens.
—O nee, asseblief nie! antwoord Jan, en trek ’n gemaak-kwaai gesig. Sy
goeie humeur is spreekwoordelik, en sodra hy êrens gesien word, neem alle
gesigte ’n vrolike plooi aan.
—Ons is jou oudste vriende, sê mevrou Kibert, en tog moet ons van mevrou
Delourens hoor van die groot gebeurtenis in jou lewe.
—Watter groot gebeurtenis? sê Jan, met gemaakte verbasing.
Paula staan op en loop haastig na die huis se kant toe, net of sy daar
iets belangriks te doen het, terwyl mevrou Kibert aan Jan antwoord:
—Jou huwelik.
—My huwelik! Grote goedheid! en met wie nog al?
—Met Isabella Orlandi.
Mevrou Kibert self sê nooit iets sonder dat sy dit meen nie—daarom het sy
ook geglo wat mevrou Delourens vertel het. Jan Berlier bars uit in ’n lag.
—Sy is my „flirt,” het mevrou Delourens gemeen. Maar ek glo dat u die
betekenis van die Engelse woord nie ken nie.
Paula klim langsaam die treedjies op. Eers hou sy haar hand op haar bors,
net of sy met moeite asemhaal; maar dan stap sy weer makliker. Voor die
spieël in die voorkamer bly sy ’n oomblik staan, en is self verwonderd
dat sy so mooi lyk. Sy glimlag droefgeestig teen haar spieëlbeeld,
en die laggie sê soveel as: Wat help dit? Wat help skoonheid vir dié
wat geen huweliksgeld het nie, en die teerheid en toewyding wat in ’n
leë hart tog maar brand soos ’n lampie wat in ’n kamer vergeet is?
Maar onwillekeurig vind sy darem nog troos by die aanskouing van haar
nuttelose bekoorlikheid.
Jan hou homself baie geleerd terwyl hy aan mevrou Kibert uitlê:
—„Flirt” is eintlik ’n vryery na ’n nooi met wie ’n mens juis _nie_ wil
trou nie.
—Speletjies dus, sê mevrou Kibert. Jan, dis nie mooi van jou nie. Kyk, ek
is ’n ou vrou, luister na my: jonkmans en meisies staan nie gelyk in die
spel nie; jongmeisies verwag altyd om te kan trou. Julle jonkmans bedrieg
’n hoop wat by hulle heeltemal wettig is, en vir jul plesier versteur
julle die vrede van hul harte en die opregtheid van hul gevoelens.
Die jonkman hoor die sedeles aan met ’n eerbiedige glimlaggie.
—Ek hoor u graag so praat; maar ek merk wel dat u die jongmeisies van ons
dae nie ken nie.
—Ek ken hulle ook nie, sê Marcel. Gaan jy dikwels na Chenée?
—Ja, vir my oom en sy roosplantjies is ek te woelig. Hy is altyd bang dat
ek hulle sal trap. As hy my sien weggaan, gee hy ’n sug van verligting.
Die mense op Chenée is so belangwekkend.
—So? sê Marcel, en hy doen baie moeite om te laat sien dat die mense hom
eintlik maar min aangaan.
—Ja, sê Jan, hulle het duisende middeltjies om die tyd—hul ergste
vyand—dood te maak—En, ondanks alles, smaak hulle nou en dan die
verveling van niks-doen. Mevrou Delourens roer en woel, skryf
uitnodiginge, stel spyskaarte op, skrywe vir die koerante verslae van
haar partytjies. Meneer Delourens, bangerig en gedwonge, rangskik sy
boeke, waarvan niemand tog ooit die goeie orde versteur nie, begroet
die mense wat sy vrou uitnooi, keur die minste woordjie van sy vrou
goed, en hou homself so nederig, dat dit lyk of hy altyd maar aan so ’n
deur-en-deur aristokratiese vroumens verskoning vra vir sy burgerlike
bloed. Haar seun, Clement, ry honde dood met sy motorkar.
—En Alida? vra mevrou Kibert, onskuldigweg.
Die jonkman antwoord versigtig:
—Juffrou Alida wag af wat met haar sal gebeur; dit kan nie anders wees as
aangenaam nie. Die hemel het haar met skoonheid geseën.
—Maar gaan jy net na Chenée om die famielie Delourens te sien? vra Marcel.
—Daar is nog hul gaste, mevrou Orlandi, by voorbeeld. Sy het teruggekom
na haar geboorteplek om haar verlore skoonheid te beween—meer as haar
man. So lank as sy nog mooi was, het sy in Florence gewoon. Dog na haar
jeug verby is, het sy Italië verlaat. Haar verminderde fortuin het dit
noodsaaklik gemaak. Maar sy wou haar agteruitgang nie laat sien op die
plek waar sy so geskitter het nie. Sy het alle spieëls uit haar kamer
verban; ek hoor hulle is nou almal na die kamer van haar dogter verhuis.
Sy hou net mooi, fris kamermeisies, en takel haarself op met juwele—die
getuie van haar vroeëre triomfe pak sy heeldag in en uit. Maar sy het
darem nog tyd genoeg om haarself heeldag besig te hou met ’n afskuwelik
lelike mopshondjie, waar sy meer van hou as van haar dogter Isabella.
—Daar het ons haar eindelik, na ’n lang ompad, sê Marcel.
—Juffrou Isabella is bekoorlik. Sy weet dat haar skoonheid haar die vrou
sal maak van ’n miljoenêr. Sy sal dié plig wel nakom; haar ma en ek
moedig haar aan daartoe.
—Foei! sê mevrou Kibert, en hou op met haar werk.
—Sy het nie aanmoediging nodig nie, sê Jan. Die Italiane is baie
prakties. Eindelik is daar nog juffrou Sonjon, met haar maer gesig van ’n
adellike ou-jongjuffrou; sy is nog nie die mins wonderlike van die klomp
nie.
—Ek ken haar, sê mevrou Kibert, sy is ’n heilige. Sy doen so baie aan
liefdadigheid en bring haar lewe deur met bywoon van vrome byeenkomste,
en sy reis daarvoor baie rond.
—Ja, sy hou baie van rondtrek en heers. Sy order en gaan van plek tot
plek, en sy maak of sy godsdienstig is, terwyl sy net haar eie luste
dien. Die mense sê dat sy soos ’n Jood haar skuldenaars uitsuig om haar
God soveel te meer volgens die mode te kan dien.
Mevrou Kibert het hom belet om verder te praat:
—Jan, my liewe Jan, wat vertel jy daar? Jy sal ons laat dink dat jy ’n
ondeug is.
—Dis maar kwaadsprekendheid, sê Jan. Kyk, ek het vryuit gepraat, soos ek
in eie famieliekring sou gedaan het, as ek een gehad het. Ek voel my hier
op my gemak. As kind was ek al hier. Maar moenie vir my vertel van die
ou-jongjuffrou Sonjon nie. Sy ’n heilige? Nee, maar u is een, mevrou.
Ondanks haar leeftyd bloos mevrou Kibert as sy so geprys word. Sy is
alleen inwendig dapper.
—Jan, wat sê jy daar? God het my bederwe deur sy goedheid—dis al.
Die jonkman kyk met verbasing na die ou vrou in haar rouklere, met haar
gesig deur droefheid verlep, met haar oë altyd vol trane, en die Heer
dankend vir haar beproewinge. Sy sien sy blik op haar en sê:
—Ja, God het my oorlade met Sy seëninge, voordat Hy dié weer van my
weggeneem het. Maar nou nog, as ek lewe vir my kinders wat oral versprei
is, vir hierdie een, Marcel, wat deur so baie gevare gegaan het, hoe sou
ek dan nie tegelykertyd ook trots voel op hul moed, op hul werk nie? Is
hul lewe nie my lewe nie?
Jan is bewoë; hy staan op, neem mevrou Kibert haar hand en soen dit.
—U is ’n heilige, soos ek gesê het. As ek u sien, word ek self beter en
voel ek nie meer lus om my lewe te laat verstrooi deur die vier winde
nie: ek voel lus om mannewerk te doen, soos u seuns. Maar ek, ek het nie
’n moeder nie.
Hy sien Paula die treedjies weer afkom. Sy het haar hoed op, en haar
gelaat het ’n nuwe uitdrukking van frisheid.
—A, juffrou Paula, so het u darem tog besluit om mee te gaan?
—Ja, sê sy, dis sulke mooi weer en Marcel is vererg as ek tuisbly.
Sy soen haar ma, en sy stap saam na Chenée, tussen die twee jonkmans, en
sonder moeite hou sy hul snelle looppas by.
Hulle kom aan voor die poort van Chenée. ’n Laning van plataanbome lei na
die huis, wat ruim en elegant is. Tussen die grasperke voor die huis is
tennis- en krokeegronde. Agter die huis is ’n bos van eeueoue eikebome,
waar in die somer baie koel en afgeslote hoekies is.
Die famielie Delourens weet hoe om dit vir hul gaste gemaklik te maak,
en hulle groot verskeidenheid van afleiding aan te bied. Op die oomblik
dat Paula met Marcel en Jan daar aankom, het die krokeeparty net opgehou,
en almal staan om Isabella Orlandi, wat baie hard praat en baie beweging
maak met haar hande:
—En dan is sy naam nog Landeau, sê sy.
—Wie is dit? vra Jan, terwyl hy by die kring van toehoorders kom.
—My aanstaande! En sy bars uit in ’n harde, byna oorverskeurende
skaterlag. Sy gee haar hand aan Jan:
—Dag Jan.
Sy noem hom by sy voornaam, want, sê sy, sy het hom eenmaal as kind
gesien.
Die krokeespel gaan weer aan; en terwyl sy en Jan by ’n afgeleë hoepel
staan, maak sy van die geleentheid gebruik om met hom te praat:
—Ja, sê sy, terwyl hy merk dat sy bleek is, ek moet jou bekend maak dat
ek gaan trou met ’n fabrikant van die stad Lyon—’n besigheidshuwelik.
—Veels geluk, sê Jan.
—Dankie. Hy is meer as miljoenêr, en is baas van verskeie welvarende
fabrieke. Hy het groot beloftes gemaak aan my notaris. Jy begryp, dan kom
dit daar ook maar min op aan dat hy lelik is, dat hy veertig jaar oud is,
en opgeskeep met ’n belaglike naam.
—Dit spreek vanself.
—Nie waar nie?
Hul meespelers roep hulle om te speel. Maar hul lus om te speel is weg,
en deur hul skuld verloor hul kant die spel.
Toe die spel uit is, gaan almal na binne om iets te gebruik. Hulle twee
sorg dat hulle draai tot hulle die laaste van almal is. Meteens vra sy
aan Jan:
—Begryp jy dit nou, Jan, dat ’n mens trou, terwyl daar reeds liefde in
jou hart is?
—Liefde vir jou man, nie waar nie?
—Loop, jy maak grappies.
Dis werklik skerts van sy hart, want hy _wil_ haar nie begryp nie. Maar
as hy op dieselfde oomblik ’n vieslike slak sien kruip op ’n roos, in
die tuin, dan voel hy tog alte jammer dat Isabella haar skoonheid so ten
offer moet bring.
—Dis beter om voor die tyd iemand anders lief te hê as daarna, sê hy.
—O, as ’n mens vantevore liefhet, dan het jy daarna nog lief, antwoord sy.
Hy gee ’n ander wending aan die gesprek, want hy weet dat hy te stry
het teen ’n hartstogtelike aandoening. Nog nooit het hy soveel plesier
gehad in die mooi gesig, die onbeskaamde oë, die rooi, sinlike lippe, die
glinsterende tande, die volle buigsame bevalligheid van haar hele wese.
—Is ek nie ’n goeie profeet nie? sê hy. In die trein het ek jou ’n tyd
gelede so ’n huwelik voorspel.
—Ja. My ma het my al baiemaal gesê: „My liewe kind, na ’n week is al
die mans maar eners. Geld en jeug is verbygaande dinge, maar die eerste
alleen maak die twede van waarde.”
—Ja, jou ma is wel skerpsinnig.
—In Italië is al die mense so. Digterlikheid is goed as dit by woorde bly.
Meteens, op die skielike manier wat haar grootste aantreklikheid is en
haar in onverwagte vervoering bring, begin sy te ween. En terwyl hy haar
nog verwonderd daaroor aankyk en nog geen woord van medelye kan kry nie,
sê sy:
—Waarom trou jy nie met my nie, jy?
Sy antwoord kom hakkelend, maar darem gou:
—Ek kan jou nie meeneem na die kolonies nie.
—Jy kan ’n handelsbesigheid begin. Dit lewer geld genoeg op. Meneer
Landeau sal jou help.
En by die gedagte aan die wonderlike rol wat sy meneer Landeau (haar
aanstaande) wil laat speel, bars sy uit in ’n lagbui, of sy mal is; die
jonkman word daar ook deur aangesteek. Hulle stap nou aan deur die laning
van plataanbome. Sy neem die kans waar in die donker skaduwee van ’n
groot boom:
—Gee my ’n soen, om my te troos.
Die fris wang se smaak proe hy nog as sy reeds te kenne gegee het dat
haar keus gedaan is:
—Dis tog jammer, maar waarom is jy nie ’n miljoenêr nie?
—Ja, dit vra ek ook, sê Jan . . . .
Mevrou Delourens sien Jan en Isabella in die verte, en sê aan haar gaste,
terwyl sy na haar wys: