Bang vir die Lewe
Bang vir die Lewe
Uit die oorspronklike Frans van Henri Bordeaux
ná die 137e Franse uitgaaf vir Suid-Afrika
vertaal en bewerk
deur
JAN F. E. CELLIERS
(_Derde Druk._)
[Illustration: HET DAGHET OVERAL
NASIONALE PERS BPK]
Die Nasionale Pers, Beperk, Drukkers en Uitgewers, Kaapstad,
Stellenbosch, Bloemfontein en Pietermaritzburg.
1925.
VOORWOORD AAN DIE LESER.
Hierdie verhaal het, as vervolgstorie, in „Die Brandwag” verskyn, van die
allereerste nommer af.
Baie boeke van die buiteland, en veral romans, behandel toestande,
persone en insigte wat vir die gewone Afrikaanse leser vreemd en dus
onverstaanbaar en ongenietbaar is. Dit kan van hierdie boek nie gesê word
nie: wat hier aan ons vertoon word, is algemeen-menslik—sulke persone en
hartstogte en gevoelens en kontraste tref ons by ons net so aan.
Sonder dat die outeur as sedemeester optree, gaan daar ’n sterk morele
invloed van sy boek uit, deurdat hy ons op meesterlike wyse die
teëstelling laat sien tussen swakkelinge—ryk en bedorwe sywurms wat bang
is vir die lewe en stryd en strewe daarvan—en ’n famielie van staatmakers
wat sout en krag in hulself het.
Die sentrale figuur is ongetwyfeld die brawe ou moeder Kibert—vir haar
vergeet ons nooit weer nie as ons die verhaal gelees het. En ons dink
daarby aan die talryke Afrikaanse moeders en dogters wat agtien jaar
gelede op so treffende wyse aan die wêreld getoon het hoe min _hulle_ vir
die lewe bang was—en vir die dood. Hulle rus daar op ons velde vandag,
dog die dag sal kom dat Afrikaanse skrywers ook uit _hul_ lewe stof sal
haal vir roerende en opbouende verhale. Dog die gewone lewe lewer daartoe
al stof genoeg op; hierdie skrywer—soos elke goeie skrywer—maak die
gewone vir ons interessant en het geen kunsies, soos intrigue en sulke
goed, nodig nie.
Hierdie verhaal is goed inmekaargesit. Die skrywer gee nie onnodige
praatjies en beskrywinge nie; ook sy natuurbeskrywinge is net van pas op
die toestande wat voorgestel word en nie plesiertuintjies waar die outeur
in verdwaal en die verband van sy storie versteur nie.
DIE VERTALER.
INHOUD.
Hoofstuk. Bls.
DEEL I.
I. Terugkoms van Marcel Kibert 1
II. Broer en Suster 17
III. Die Blommefees 31
IV. ’n Agtermiddag op Chenée 39
V. Die Geheim van Alida 55
VI. Meneer en Mevrou Delourens 70
VII. Die Huweliksaanvraag 86
VIII. Planne 101
IX. Afskeid 113
X. Vertrek 121
DEEL II.
I. Dertien aan Tafel 130
II. Die Boodskap van die Veldwagter 148
III. Haar Laaste Kind 154
IV. Roubeklag 162
V. Jan 173
VI. Isabella 187
VII. Die Geheim van Paula 201
VIII. Mevrou Kibert 214
IX. Haar Laaste Kind 223
X. Kalme Berusting 233
Bang vir die Lewe.
_Uit die oorspronklike Frans van Henri Bordeaux na die 137e Franse
uitgaaf vir Suid-Afrika vertaal en bewerk deur Jan F. E. Celliers._
I.
TERUGKOMS VAN MARCEL KIBERT.[1]
Klaar om te vertrek, in haar een hand haar sambreel, alhoewel dit mooi
weer is, terwyl die ander die swart kripsluier wegskuiwe wat van haar
hoedjie afhang oor haar gesig, staan mevrou Kibert te wag in haar
voorkamer op Maupas, moeite doende om geduldig te bly. En nadat sy
al verskeie kere na die horlosie gekyk het, staan sy op en loop met
langsaam, swak stappies deur die kamer; dan gaan sy meteens weer sit, nie
op een van die lekker sagte leuningstoele nie, dog op ’n rottingstoel,
waarvan sy gou kan opstaan sonder alte veel moeite. Mevrou Kibert is al
taamlik oud, kort en dik, en haal langsaam asem. Haar gelaat vertoon
sagtheid sowel as beslistheid. Haar oë is helder-blou, en sy kyk daar
so teer en droefgeestig uit, dat dit lyk of daar trane in is—getuiende
van ’n skroomvallige en liefhebbende geaardheid, wat maklik skrik
aan te ja is deur omgang met die wêreld; maar haar vierkantige ken
en haar gesette, stewige postuur, gee weer ’n indruk van geeskrag en
weerbaarheid. Haar wange het, ondanks haar jare, nog fris gebly, duidende
op edel bloed en goeie gesondheid.
Na ’n bietjie aarseling, besluit sy om ’n deur oop te maak en te roep:
—Paula, kom jy nou? Dis tyd om te gaan.
’n Helder en suiwer stem gee antwoord:
—Ag, ma, ons het nog baie tyd.
—Dis al sewenuur op die horlosie, sê die ou vrou, maar sonder haarself op
te win.
—Ma weet dat die horlosie drie-kwartier voor is.
—Ja, maar hy kan miskien meteens agtergebly het, hy is so vol nukke.
Die jongmeisie antwoord met ’n skaterlag, maar uitlag is dit darem glad
nie. Spoedig laat sy daarop volg:
—Ek sit nou my hoed op, ma, en ek kom.
Getroos gaan mevrou Kibert weer sit. Sy laat haar oë gaan deur haar
voorkamertjie (hulle woon buite die dorp), oor die wit gordyne, onlangs
skoon gewas en gestryk, waar die lig dowwerig deur val, reeds versag
deur die nuwe somergroen van die groot bome buite. Die meubels is oud en
stemmig, en daar is nie onnodige opskik nie.
Dis die roostyd, en sy sit ’n vaas met rose aldag daar, as ’n offerande
aan die portrette van die geliefdes aan die muur—oorsaak van al haar
vreugde en smarte; die vergrote portret van haar man, dokter Maurits
Kibert, gestorwe die jaar vantevore as slagoffer van sy plig gedurende
die koorssiekte wat geheers het; en die portret van haar dogter Thérèse,
’n klein meisie van twaalf jaar, na God geroep in die daeraad van haar
jeug en skoonheid. Daar is ’n groepie van haar kinders op één portret
bymekaar: Etienne, haar oudste seun, ingenieur in Tonkin; Marcel,
offisier; Magreet, pleegsuster; Frans, by sy broer in die verre Oos; dan
Paula, die laaste wat nog vir haar oorgebly het. Ag, hoeveel maal het sy
al moet afskeid neem—en vir altyd—in sestig jaar tyds! Maar dit lyk of
hulle haar toelag vandag—’n feesdag in haar huis van rou.
Haar twede seun, Marcel, is terug in die land. Hy het deelgeneem aan
die oorlog in Madagaskar tot onderwerping van die inboorlinge. Op
agtienjarige leeftyd was hy reeds kaptein. Hy het die erekruis gewin en
kom nou terug, fris en gesond, na afwesigheid van drie jaar. ’n Telegram,
vanmôre ontvang, wat sy al gelees en herlees het, lê nog oop op die
tafel, en het haar te kenne gegee dat hy sal aankom op Chamberie vanaand
met die trein van half-ag. En dis daarom dat mevrou Kibert haar vandag
twee ure te vroeg klaar gemaak het om na die naburige dorp, Chamberie,
te ry en haar seun by die stasie te ontmoet. Haar gedagtes loop haar
al vooruit op die treinspoor waar hy langs moet kom. Maar sy voorsien
by die ontmoeting ’n ontroering wat al haar moed sal verg. Daar ver in
die vreemde land het Marcel gehoor van sy pa se dood. As die dood in
die verte diegene tref wat ons liefhet, hoe bitter en wreed is dan sy
slae! Met die eerste oogopslag sal Marcel haar rouklere sien en die
vermeerderde tekens van haar ouderdom. Daar sal ’n skaduwee van die
dode oprys tussen haar en haar seun. Sy beproef haar kragte, en sê by
haarselwe:
—Sy kinders het nog nooit teruggekom met die trein van hier of daar nie,
of hy was altyd self by die stasie om hulle te verwelkom. Ek sal nou daar
wees in sy plek.
Paula kom nou die kamer in. Haar fraai blinkend-swart hare omlys haar
ronde dofkleurige gesig. Haar swart klere laat haar dun lyk, maar sy lyk
nie swak nie. Uit haar fiere houding en vaste uitkyk straal beslistheid
en dapperheid. Hierdie kind van twintig jaar het al geweet wat lye is,
op ’n leeftyd dat die lewe sy hoogste geur en fleur het. Om nie ’n
swakkeling te wees nie, het sy haarself skrap gesit, en die gevolge van
die stryd kom uit in haar houding.
Paula het ’n nuwe hoedjie in haar hand wat sy stilletjies klaar gemaak
het die dag vantevore.
—Sit nou eers stil, ma. Ma moet mooi lyk as Marcel vandag kom. Kyk wat
’n mooi hoedjie het ek klaar gemaak; daardie een wat ma op het, is te
afgedra.
Haar ma wil eers teënstribbel, maar laat haar dan begaan.
—Maar nou word dit darem regtig tyd, my kind.
—Ja, sê Paula, ek gaan Trelas roep.
Trelas is die kneg, wat sal leisels hou op die pad na Chamberie.
Paula kyk nog ’n keer op die horlosie en sê:
—Ons sal nog ’n uur by die stasie moet wag.
—My kind, ek sou tog nie te laat wil wees nie.
Met moeite klim sy van die stoep in die rytuig. Noudat sy sit, probeer
sy te glimlag met Paula, en die onvoleindigde glimlag gee vir ’n oomblik
aan haar gesig die frisse saligheid terug, wat die bekoring van haar jeug
was. Paula spring vlugtig in die rytuig, en gaat naas haar sit.
—Laat loop maar, Trelas, en ’n bietjie gou, hoor; maar moenie alte baie
slaan nie, en pasop by die afdraands.
—Tyd genoeg, sê Trelas drogies.
Hul ry onder die laning van swaargeblaarde kastaiingbome en plataanbome
deur, verby die eikebosse. Die ou merrie begin haar bene te kry en so
hard te draf dat mevrou Kibert bangerig word. Agter die bult is die son
al ondergegaan, dog die blonde lig van die someraand verlig die velde nog
lank.
—Ma, kyk tog na die berge, sê Paula.
In ’n groot sirkel lê die berge om Chamberie, hul rotsagtige toppe
helder-rooskleurig getint, terwyl op hul voet, en langs hul kante, soos
’n fyn sluier die blouagtige waas hang, wat mooi weer voorspel. Maar
mevrou Kibert is te besorg om na die sonnegloeie op die toppe van die
berge te kyk; meteens kom dit uit waaroor sy sit en prakseer:
—Sê nou die trein was te vroeg! En hoewel sy dit mènens gesê het, is sy
die eerste wat glimlag oor so ’n nuwe veronderstelling. Sy sien hoe die
tere en ligte skaduwee stadig die berge uitklim, terwyl ’n oomblik die
toringkruisie van die dorp helder daarteen afsteek. Sy wys dit aan haar
dogter, as ’n beeld van stralende geloof. En nou daal dieselfde stille
vrede neer op die hele natuur, en ook vir die eerste keer, sedert lank,
op die gesigte van die twee vroue in rou.
Naby Chamberie kom ’n rytuig, met twee pragtige harddrawers bespan, hul
agterop, en ry hul verby.
—Dis die rytuig van die famielie Delourens, sê Paula. Hulle het ons nie
gegroet nie.
—Hul het ons seker nie herken nie.
—O ja, ma, maar vandat ons ons geld verloor het deur ons oom te help,
groet hul ons amper nie meer nie.
Sy praat van ’n famielie-ramp wat voorgeval het kort voor die dood van
haar vader. Mevrou Kibert neem die hand van haar dogter.
—Dis maar niks nie, my kind; dink tog daaraan dat ons netnou vir Marcel
sal sien.
Maar na ’n oomblik stilte vra Paula;
—Was dit nie pa wat vir Alida Delourens gedokter en gesond gemaak het nie
toe die koorssiekte so geheers het, waaraan pa ook self gesterwe het?
—Ja, fluister die ou vrou, en al haar plesier is weg as sy daaraan dink.
En sonder klag voeg sy sag daarby:
—Ja, en hul het nog altyd vergeet om die rekening te betaal. So maak die
ryk mense baie maal. Hul weet nie dat ’n mens geld moet verdien om te
lewe nie.
—Dis omdat hul aan niks anders as aan tydkorting dink nie.
Mevrou Kibert sien ’n bitter trek op die nog jong gesig.
—Luister, my kind, ons moet hul nie beny nie. Onder die verstrooiing
vergeet hul om te lewe. Sou hul selfs weet dat die lewe iets kosbaars is?
Hul weet nie wat ’n mens se hart kan vervul en dit harder laat klop nie.
Ek sal gou sestig jaar oud wees.—Ek kan my gestorwene en my opofferinge
tel. Ek het my dogter Thérèse verloor, en my man, wat my krag was. Jou
ouer suster, Magreet, is sendelinge, en ek het haar in vyf jare nie
gesien nie. Etienne en Frans is in Asië, in Tonkin, en ek ken nie eens
my kleinkind wat daar in die verre land gebore is nie. Marcel kom terug
vandag, nadat sy afwesigheid my drie jare van onrus besorg het. Maar ek
het darem tog ’n skone deel ontvang. Ek prys die Heer, Wat my beproef het
nadat Hy my met weldade oorstelp het. Elke dag van my lewe het ek gevoel
hoe goed Hy is. Selfs in my ellende het Hy my ’n steun gegee—en dis jy.
Met haar klein handjie, sonder handskoen, druk Paula die verrimpelde en
gekerfde hand van haar moeder.
—Ja, dit is so, ma, ek sal nie meer kla nie.
Hul is eindelik by Chamberie, na die rit van drie myle. Trelas laat die
vroue afklim by die stasie en gaan opsy met die rytuig.
Paula kyk op die horlosie en sien met verbasing dat dit tien minute oor
sewe aanwys. Haar ma sien dat sy verwonderd lyk:
—Het ek jou nie gesê ons sou te laat kom nie?
Die jongmeisie glimlag:
—Te laat, omdat ons nie meer as twintig minute sal moet wag nie?
Hul gaan na die wagkamer. Net soos mevrou Kibert die deur oopmaak, wil
sy weer terugtree. Maar Paula druk haar saggies binne-toe. Die kamer is
vol deftig aangeklede mense. Dis die hoë mense van Chamberie wat wag op
’n trein wat hul na die komedie sal neem. Paula en haar ma herken die
famielie Delourens.
Mevrou Kibert voel ongemaklik en wil uitgaan; sy fluister in Paula haar
oor:
—Laat ons in die wagkamer van die derde klas gaan: dis beter daar.
—Waarom? sê Paula.
Op dié oomblik verlaat ’n aansienlike jongman ’n klompie vroue wat daar
staan, en stap na hulle toe. Hul herken in hom luitenant Jan Berlier,[2]
’n vriend van Marcel. Hy groet hul op die vriendelike manier wat ’n mens
dadelik eie laat voel.
—U wag op die kaptein, is dit nie so nie, mevrou, want u hou tog nie van
reis nie.
—O, nee!
—Hoe bly sal hy wees om u netnou te ontmoet!
—Vroeër, sê die ou vrou aan die jongman, wat sy al as kind geken het, was
dit sy vader wat hom altyd ontmoet het, weet u!
—Ja, ek weet.
En om nou nie verder op ’n publieke plek oor die sterfgeval uit te wy
nie, laat Jan Berlier daarop volg:
—Ek sal Marcel ook nog die hand kan druk, eerdat ons trem weggaan.
—Kom soek hom op by ons huis. Gaan u op reis?
—Vir vanaand. Ons gaan na die stad. Daar word vanaand ’n nuwe
komedie-stuk opgevoer. Maar u stel daar nie belang in nie.
Altyd openhartig, antwoord mevrou Kibert:
—Ek is nog nooit in ’n komedie gewees nie. En om u die waarheid te sê, ek
het daar ook nie spyt van nie.
Alhoewel sy saggies praat, het twee jongmeisies in ligte klere haar
gehoor, en een van hulle, met bruin hare en brutale blik, bars uit van
die lag. Dit kan wees dat ’n luitenant wat met hulle staan en praat, die
lag verwek het.
Paula bekyk die meisie wat lag, veragtelik, van bo tot onder met haar
swart oë, wat ’n snelle blits uitskiet.
—Moenie hier so bly staan nie, sê Jan.
Die ou vrou gaan sit in ’n donker hoekie, op ’n stoel wat naas ’n leë
leuningstoel staan, net soos iemand wat hom nederig en bangerig voel.
—Maar neem dan tog die leuningstoel, ma, sê Paula ’n bietjie ongeduldig.
Sy beantwoord drogies ’n groet van die ander jongmeisie van die twee—wat
nie met haar saam gelag het nie, maar gebloos.
Die jonkman praat nog ’n paar woorde met hulle en gaan dan terug na sy
eie geselskap. Paula kyk hom na en hoor hoe hy aan mevrou Delourens sê:
—Ja, dis mevrou Kibert. Sy verwag haar seun uit Madagaskar.
—Watter een? Sy het so baie.
—Maar die offisier, Marcel!
—Watter rang het hy?
—Kaptein—dié wat die eremedalje gewin het—beroemd, sê Jan haastig, ’n
bietjie ongeduldig oor die uitvra, want die meisie met die bruin hare
roep hom.
Maar mevrou Delourens wil nou meer hoor:
—Beroemd? Wat het hy gedoen?
—Weet u dan niks van die slag van Audriba, waar sy kommando-afdeling die
oorwinning behaal het nie?
—Is jy seker daarvan?
—So seker as iets. Die hele land praat van Marcel Kibert.
Mevrou Delourens is dadelik vol belangstelling, en tree op mevrou Kibert
toe. Tot selfs in haar verval word die ou weduwee nou belangwekkend,
omdat haar seun so ’n naam gemaak het.
—Kom die kaptein vanaand tuis, mevrou? Ag, ons het hom almal met ons
harte gevolg, daar in die verre land en in die vreeslike oorlog, waar hy
sy land eer aangedaan het. In die koerante het ons gelees wat hy alles
volbring het in die slag van Audriba.
Agter sy vrou staan mnr. Delourens, ’n baie onderdanige en hoflike klein
mannetjie, en met ’n hoofbeweging bevestig hy al wat sy vrou sê.
Mevrou Kibert voel haar in dié omgewing baie ongemaklik. Hoe steek haar
armoedige rouklere af (alhoewel deur haar dogter opgeknap) by hul deftige
aandkleding; sy voel dat sy geen enkele gedagte gemeen het met hierdie
mense van die wêreld nie. Almal kom rondom haar staan en wens haar geluk.
Na mevrou Delourens kom mevrou Orlandi haar gelukwens. Laasgenoemde
is ’n ou Italiaanse gravin wat stil lewe in Chamberie en gedokter was
vir haar senuwees deur oorlede dokter Kibert. Meneer De Marthenay, ’n
luitenantjie, kyk die ou vrou op ’n byna brutale manier deur sy oogglasie
aan. Bangerig beantwoord sy hulle met enkele woorde; die bloed styg in
haar wange op, haar dogter Paula merk dit, en kom haar te hulp. Paula is
meer op haar gemak en, selfs ’n bietjie styf, ondanks die lieftalligheid
wat die twee jong meisies haar betoon—die bruine Isabella Orlandi, wat
in haar woorde net so aanstellerig is as in haar houding, en veral die
ander meisie, die blonde Alida Delourens, wat van nature vriendelik is.
Sy oorlaai Paula met beleefdheidjies en voorkomendheid, haar stem is
sangerig en breierig, sy versag die hardklinkende woorde en praat met ’n
aangename soetvloeiendheid.
—So, dan kom jou broer vandag? Jy is seker bly? Dis al jare gelede dat ek
hom laas gesien het. Weet jy nog toe ons almal saam gespeel het in julle
tuin by Maupas, of in ons syne by Chenée.
—Ja, sê Paula, en nou speel ons nie meer saam nie. Die tuin by Maupas lê
woes, en dié by Chenée is weer alte mooi versorg.
—Maar waarom kom jy nie meer na ons toe nie? Jy moet regtig kom.
En Paula vra haarself af waarom haar vriendin van vroeër dae—deur
lewensomstandighede van haar geskei—nou so vriendelik vir haar is. Sy
kyk na haar eie swart rok, so eenvoudig en glad, en bewonder dan, sonder
afguns, Alida haar ligblou lyfie, opgemaak met wit kant en ’n bietjie
laag in die hals—’n wit, dun hals, wat lyk soos ’n tere blom. Paula
beskou dan verder haar gelaat, waarvan die trekke fyn en suiwer is, en
die ligrose gelaatskleur sonder ’n vlekkie. Sy kan nie help om te sê nie:
—Hoe mooi is jy tog, Alida!
Die fris wange word meteens purperrooi. Alida gaan opsy om iemand te laat
verbykom, en Paula merk dat selfs haar slap-sleperige stap iets bydra om
haar dooierig-tingerige bekoorlikheid te voltooi: naas haar voel Paula
beter haar eie jong krag. . . .
—Nee, Paula, dis jy wat mooi is. . .
Daar kom die trein aan en breek al die gesprekke meteens af. Almal storm
die wagkamer uit. Die famielie Delourens en hul geselskap soek eersteklas
rytuie in die trein, wat nou stilhou. Die mense wat uit die trein stap,
loop al haastig na die uitgangsdeur. Die voorste van almal is ’n lang
jonkman, skraal en regop; hy hou sy hoof fier omhoog. In sy hand dra hy
’n sabel, in groen baai. Net soos hy mevrou Kibert opmerk, hardloop hy na
haar toe, en is in haar arms.
—My kind! sê sy, en ondanks haar besluit om sterk te bly, bars sy in
snikke los.
En hy, hy rig hom weer op ná die omhelsing, en teer kyk hy sy moeder aan,
wat die merke dra van haar beproewing. Sy songebrande, byna hardvogtige
gelaat, vertoon ’n ontroering. ’n Naam wat hulle nie nodig het om uit te
spreek nie, beef op hulle lippe, en een selfde eerbiedige nagedagtenis
roer hul harte. Die vreug van sy terugkoms gee iets treffend nuuts aan
die smart wat hulle al lank gevoel het.
Met versagte blik kyk Paula haar groot broer en haar ma aan.
Voor die deurtjie van die trein draai Alida Delourens en Isabella Orlandi
om, en sien die verwelkoming van die jong offisier; en Isabella kyk
mevrou Kibert met spotlaggende oë aan, omdat sy so dik is en nog huil
daarby.
Jan Berlier staan opsy en wag eerbiedig. Hy kom na Paula toe.
—Hoe gelukkig is hulle tog!
En met iets treurigs in sy stem voeg hy daar nog by:
—As ek van ver af terugkom, is daar niemand wat my verwag nie.
Marcel omhels ook sy suster.
Jan kom laggend nader:
—Ek wil nou ook my beurt hê.
—So, Jan, is dit jy?!
En as warme vriende druk die twee mekaar hartlik die hand. Jan is ’n
oomblik ontroerd, dog glimlag nou weer:
—Tot weersiens. My trein gaat weg: ek moet hardloop.
—Waar gaat jy?
Al lopende draai die jonkman half om en sê:
—Ons gaan na die komedie in die stad. En hy wys met sy hand na die mense
wat by die trein staan.
Marcel Kibert laat haastig sy oog oor die deftig uitgedoste mense
gaan. Maar Paula draai nog ’n keer om en sien hoe Alida haar groet uit
die treinraampie. Sy groet terug, haastig, en nie besonder vriendelik
nie, net of sy ’n soort wantroue of bygelowige vrees voel vir daardie
verleidelike verskyning. Haar jong vurige siel het, deur vroegtydige
leed, ’n soort van trotse gevoeligheid oorgehou. Waarom was Alida so
tegemoetkomend? dink Paula. Haar oë volg die jong kaptein, wat aanstap
met sy ma, haar arm in syne. En, dinkend aan Alida, laat Paula op haar
vraag volg, so by haarself:
—Alte ryk, en te min moed.
Marcel sien die rytuig wat vir hulle wag, en roep:
—Daar is ons ou rytuig!
—Die enigste wat ons oorgehou het, sê mevrou Kibert, net of sy om
verskoning vra daarvoor.
By sy vrolike uitroep het die jonkman so ’n antwoord nie voorsien nie.
Die ou rytuig het hom laat dink aan sy kinderjare, en kyk, nou is dit die
teken van die agteruitgang van die famielie. Sy gesig betrek: hy begryp
meteens hoe moeilikhede van stoflike aard nog die rou en ellende in
Maupas vererger het. Sonder self persoonlike behoeftes te gevoel, want hy
is gewend om met min klaar te kom, voel hy vir sy moeder en sy suster om
die agteruitsetting, wat hy nou begryp. En mevrou Kibert sê by haarself:
—Ons moes ’n rytuig by die stasie geneem het om hom eer aan te doen.
Marcel asem met genot die lug weer in van sy geboorteplek. ’n Swerm
herinneringe kom hom weer te binne, terwyl hulle deur die dorp ry. Die
veld is weer ontwaak in ’n gelukkige hartstogtelike jeug. Half teen die
hoogte op, sag genestel in die groen bome, lê die kerkie, soos ’n skaap
in ’n vet weiland. Die fris, vreedsame groen op die hang versag die ruwe
en strenge indruk van die dreiende rotskranse bo. As hulle naby Maupas
kom, sien Marcel dat die landelike huis nog soos vroeër half begrawe lê
in rose en ander blomme; dat nog soos altyd die aandskemering aan die
bome in die laan ’n aansien gee van stille afgeslotenheid. Hy spring die
eerste af van die rytuig. Die sand maak onder sy voete die welbekende
geluidjie. By die stoep help hy sy ma die treedjies op. En as hulle eers
binne is, druk hy die wenende ou moeder aan sy hart.
En eindelik gee Paula, wat sterker is, haar ook oor aan haar ontroering.
Die hoof van die huis makeer, en op die drumpel van die deur het sy seun
hulle weer sy kragtige persoonlikheid te binne gebring, sy vriendelike
glimlag, sy vertroue.
En noudat hulle mekaar weer gevind het, smaak die drie, in ’n mengeling
van vreugde en smart, die hele inhoud van die menslike lewe. . . .
* * * * *
In een en dieselfde eersteklas rytuig het plaas geneem die famielie
Delourens, mevrou Orlandi met haar dogter, en luitenant Marthenay.
Isabella sit in ’n hoekie en kon met moeite ’n plekkie oophou vir haar
„flirt,” Jan Berlier. Hy stap op die laaste oomblik in, as die trein al
in beweging is, en Isabella ontvang hom bra onvriendelik:
—Bly maar liewers daar buite om al die mans hand te gee wat verbykom.
Jan glimlag:
—Ek gee die dames ook hand.
Isabella bly op haar perdjie:
—Wat ’n vertoning het jy gemaak met al daardie Kiberts—dit was belaglik.
Alida Delourens, wat ’n beskaafde inbors het, kry ’n rooi kleur, maar sy
durf nie teen Isabella opkom nie. Die jonkman laat hom nie so gou uit die
veld slaan nie. Hy het ’n manier om by sy flirtery ’n spotagtige toon
aan te neem, wat die meisie kwaad maak, maar darem ook aantreklik is vir
haar—so ’n mooi en vreeslik verwende kind.
—Ja, dis waar, sê hy nadat die Kiberts drie jaar lank geskeie gewees het
in rou, en nou weer mekaar kry, het hulle so skoon vergeet om te probeer
of hulle nie vir jou aangenaam kan wees nie. En selfs die mooi kaptein
het jou nie eens aangekyk nie!
—Loop met jou mooi kaptein!
—Hy is kaalkop, sê luitenant Marthenay, wat ’n digte haarbos het, net
soos ’n borsel.
—Ja, sê Jan, hy het kaalkop geword in die kolonies; het hy liewers
tuisgebly en hier vredesoldaatjie gespeel, dan het hy vandag seker nog
baie hare gehad.
Isabella hou nog maar aan. Al sê sy dit nie, sy voel ’n afkeer teen die
vriende van Jan en val hulle aan—ja, sy weet nou nie meer waar sy moet
ophou nie:
—Maar hoor, daardie offisier het ’n spektakel van ’n ou moeder. Sy was
nog nooit in ’n komedie nie. Watter soort lewe moet sy dan wel gely het?
Jan Berlier het eerbied vir mevrou Kibert, en word nou bitter:
—Sy het gedaan, juffertjie, wat jy nooit sal regkry nie: sy het vir ander
gelewe.
—Dis geen lewe nie.
—So, dink jy so? Ek glo dat sy meer gelewe het dan vir jou ooit moontlik
sal wees, al sou jy honderd jaar oud word.
—Verbeel jou! Ek daag enigeen uit om meer lewe te verlewe as ek.
—Ja, jy is altyd in opwinding, maar dis nie dieselfde nie. Maar wat is jy
in staat om te doen?
En om nou ’n end te maak aan die prekery, laat die jonkman daar met ’n
lag op volg:
—Is jy selfs in staat om ’n huwelik te sluit uit liefde?
—Welseker nie! En sonder geld, nè? Nee, dankie, hoor! Om in trane ’n
stukkie droë brood te eet en linneklere te dra!
En sy laat haar mooi blinkende tande sien, skerp en vraatsugtig.
—Kom, sê Jan, troos jou nou maar en gee my jou hand.
Sy gee hom haar fyn hand, waarvan sy die handskoen uitgetrek het. Hy maak
of hy die hand met aandag beskou.
—Ek sien in die lyne van jou hand dat jy met ’n lelike veertigjarige ou
rykaard sal trou. Maar ná die huwelik sal sy ware geaardheid uitkom,
vrekkerige skraapsug. ’n Mens word altyd gestraf volgens jou oortreding.
Op ’n grapperig-nadruklike preektoon het hy dit gesê, tot vermaak van
almal in die rytuig.
Die gesprek begin weer algemeen te word, en Isabella sê op lughartige
toon aan iemand wat regoor haar sit:
—Dit sal die ryk ou vrek dan wel berou, want ek sal hom fop!
—Deur met my te „flirt,” nè? sê Jan, laggend.
—Miskien met jou, ja. En sy bars daarby weer in ’n skaterlag uit en laat
haar mooi wit tande sien, wat so sterk is as dié van ’n jong hond; en
brutaalweg kyk sy daarby die jonkman aan, omdat hy haar geval.
Alida is heeltemal ontdaan deur die onbeskaamde woorde en bloos vir haar
metgesel. Dit duur nie lank of sy praat nie meer met die ander nie; sy
sit half in slaap en droom van die huwelik uit liefde, waar Isabella nie
van wil hoor nie, en waarvan sy die beeld aanskou in verband met ’n seker
ontmoeting van dié dag.
Mevrou Delourens dink en praat van die partytjies wat sy wil gee, en sê
aan iemand naas haar:
—Dit lyk of hy ’n held is. Ons sal hom dus vra om te kom.
En haar man knik mevrou Orlandi toe dat hy dit heeltemal goed vind.
—Maar veral moet ’n mens sorg dat jou rus versekerd bly. Daarin lê tog
maar die hele geheim van die lewe. . . .
II.
BROER EN SUSTER.
Die vriendskap tussen broer en suster het iets sag-gemakliks en
eenvoudigs, wat dit heeltemal laat verskil van enige ander gevoel.
Vanself is so ’n vriendskap gevrywaar van die heftige liefdesopwindinge
en van die hartstogtelike opwellinge wat te bedwelmend is om lank te
duur. Maar dis tog onderskeie van gewone vriendskap (soos tussen man
en man of vrou en vrou) deur iets bedeks, deur ’n beskeidenheid en
teerheid wat uitgaan van die vrou. Wat aan so ’n vriendskap nog meer
iets aparts bysit, is die wonderlike gemak waarmee die twee gelykdinkend
en gelykvoelend kan wees, deurdat hulle ’n gemeenskaplike oorsprong en
kindsheid gehad het; dit stel hulle in staat om reeds deur ’n halwe woord
te verstaan, op dieselfde oomblik aan iets terug te dink, en altyd weer,
by elke asemhaling die ou tuisplek se lug gewaar te word, ook uit die
verlede.
Die liefde selfs mis hierdie eienskap, en mag daar wel spyt van hê. . . .
Soos hulle daar sit in die tuin van Maupas, in die tuinstoele, merk
Marcel en Paula met vreugde op—sonder te veel onnodige gepraat—dat,
solank as hulle so vér was van mekaar, hulle tog op dieselfde manier deur
die lewe geryp en gevorm was. Hulle voel wel anders as eers, maar hulle
voel tog nog eners.
—Ek voel so lekker hier, sê die jonkman, dat ek vandag niks wil doen nie
Hy is maer. Hy het rus nodig.
Al is hy so gesond, hy het iets oorgehou van die oorlog in die kolonies.
Nou en dan kry hy nog koors, maar die aanvalle word minder. Hy reken
daarop om hier weer heeltemal te herstel.
Dis een van die kalm someragtermiddae dat ’n mens hom kan verbeel die
trilling van die lug te hoor. Geen windjie stryk daar langs hul gesigte
nie. Net die dun toppies van die lindebome word nou en dan geroer deur
’n lui windjie wat die blaartjies laat fladder, sodat beurtelings die
donkergroen bokante en die liggroen onderkante gesien word.
Op die ronde klip-tuintafel lê koerante en briewe deurmekaar. Paula maak
dié oop, want haar broer laat hulle maar lê:
—Die koerante praat nog maar altyd oor jou. Wil jy nie lees nie?
—Nee tog, asseblief nie! sê die kaptein.
—Hier is uitnodiginge, sê Paula weer; daar word ’n eetmaal gegee tot jou
eer. ’n Kaartjie vir die konsert in die stad. Barones Vittos ontvang
Dinsdags geselskap . . .
—Dit gaan my alles niks aan nie. Ek wil niemand sien, glad geen een nie!
—Ja, jy is nou in die mode. Jy moet daar maar jou deel van neem. Daar
word inbreuk gemaak op jou vrye tyd. So wil die mense in jou roem deel.
—Kyk, sussie, nou praat ons daar nie meer oor nie, hoor.
—Maar almal maak so. Roem is teenswoordig in die mode. Een van die dae
sal die famielie Delourens ons kom opsoek en nog ander mense ook, wat ons
tot nou toe nie gesien het nie van dat ons die geld verloor het!
Haar gladde voorhoof, oorskadu deur haar swart hare, het van die
beproewingstyd af ’n plooitjie van bitterheid oorgehou.
In dié tyd is die geld ook verloor wat sy sou kry as sy sou trou, en so
is haar kanse op ’n huwelik ook verminder. Haar broers reken op haar
toewyding aan hul moeder op haar ou dag, net of sy maar altyd haar eie
lewe moet vergeet en tevergeefs die teer verlange na liefde in haar hart
moet voel opkom.
Marcel kyk haar lank aan. Met liefderyke eerbied bewonder hy haar
rank liggaamsbou, wat lenigheid aandui, en toekomstige krag, haar
gelaatskleur, waarvan die suiwerheid nog beter uitkom deur haar swart
klere, haar diepsinnig-sombere en tog sagte oë—oë van ’n vrou wat
die lewe ken, wat daar stryd mee gevoer het en nie bang is daarvoor
nie—Hy sien haar in haar geheel soos sy is: ’n bekoorlike maag, fier en
deugsaam. Hoe sou dit kan wees dat iemand haar nie eendag sal lief kry
nie!
Langsaam, vashoudend aan die tralies en elke keer met albei voete op ’n
treedjie stappend, kom mevrou Kibert die stoep af na haar kinders toe.
Soos ’n najaarsblom wat ’n verlate tuin versier, so verhelder ’n flou
glimlaggie mevrou Kibert haar gesig vandat Marcel terug is. Hy loop haar
tegemoet en bring haar op ’n plekkie waar sy in die koelte kan sit.
—Sit ma nou lekker so?
Die glimlag versprei hom oor haar hele gesig:
—My groot seun! Jy lyk tog so baie na _hom_.
Die jonkman se gelaat word ernstig toe hy sê:
—Dis nou al agtien maande dat hy ons verlaat het. O, die aand daar vér in
Madagaskar! Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het rondgeloop om die kamp,
ek het hom geroep, en het jul almal se name genoem, ek het die dood naby
my gevoel . . .
Ná ’n oomblik van diepe stilte sê mevrou Kibert weer:
—Agtien maande! Is dit moontlik! . . . . Ek het die maande tog darem
deurleef. En dit het ek aan hierdie een te danke. My liewe kinders, so
lank as ek nog leef, sal ek God dank vir die man wat Hy my gegee het, en
vir seuns en dogters soos myne!
Sy droog haar oë af en begin die droewige verhaal te doen wat haar seun
al lank verwag het:
—Die ongeluk van jul oom Markus was die begin van al ons ellende. Ons
was alte gelukkig, Marcel. Jou vader was die krag, die vertroue, die
arbeidsaamheid in persoon. Ná sy swaarste dae het hy nog altyd vrolik
tuisgekom. En julle het almal goed geslaag in jul lewenswerk.
—Almal was jaloers op julle, sê Paula.
En haar broer, fier soos sy, voeg daarby:
—Dis beter om beny as bejammer te word.
Die ou vrou gaan aan:
—Dit het baie goed gegaan met jou oom se bank. Iemand wat àl sy vertroue
gehad het, het toe weggeloop met die papiere en die geld. Die storm wat
daarop gevolg het, kon hy in die eerste oomblikke van verslaendheid nie
weerstaan nie. Hy het homself van sy lewe beroof. God gewe dat hy nog
tyd gehad het vir berou! Jou pa het dadelik daarnatoe gegaan, het alles
oombliklik begryp. Alles het hy toe betaal—kapitaal en rente—maar ons
moes self die grootste deel van ons fortuin afstaan. Maar Maupas het ons
darem tog gehou—dis famieliegoed.
—Ja, sê Marcel, Maupas is vir ons almal die lewende beeld van ons
kinderjare.
—Maar voor hy sy besittinge afgestaan het, sê mevrou Kibert verder, het
hy julle almal gevra om toe te stem.
—Ja, dit onthou ek nog goed, sê Marcel, die veldtog sou net begin. Ek het
in dié versoek van pa niks meer gesien as oorbeleefdheid nie. Geldsake
is my so vreemd en onverskillig.
—Ons het Paula ook gevra.
—Ons naam moes gered word en ons eer, sê Paula.
—Jou huweliksgeld moes ook afgegee word, my kind . . . . . Die droewige
lot van jou pa se broer was vir hom ’n sware slag. Sy opgewektheid was
weg vir altyd; maar sy ywer en werkkrag het hy verdubbel. By die uitbreek
van die koorssiekte het hy homself nie genoeg gespaar nie. Laaste van
almal, toe hy uitgeput was van vermoeienis, het die siekte hom aangepak.
Van die begin af het hy gevoel dat hy verlore was, maar hy het daar niks
van laat blyk nie. Naderhand het ek hom begryp; Hy het self die gang
van sy siekte gevolg. Eendag sê hy aan my: Moenie ongerus wees nie: God
sal jou help. En het ek geantwoord: Ja, Hy sal ons help. Hy het toe
geen antwoord meer gegee nie. Sonder vrees het hy die dood afgewag. Nog
heeltemal by sy verstand het hy in ons arms gesterwe.
—Net ek was nie hier nie, sê Marcel.
—Etienne was by hom—hy was terug van Tonkin—, Frans, Paula, en Louise
Saudet, die verloofde van Etienne.
—En Margreta?
—Sy kon nie kom nie, sê mevrou Kibert sonder bitterheid, maar nie sonder
droefheid nie. Sy is te vér. Sy behoort aan God. Vandat sy sendelinge is,
het ons haar nie meer gesien nie.
Hulle is stil, en dink al drie aan die verlede. Rondom hulle, wat so aan
die dode dink, is alles lewe en lig. ’n Blaartjie, reeds deur die son
verskroeid, vroeë voorloper van die verre najaar, val langsaam af van een
van die bome, as gedra op die loue lug. Paula wys haar broer daarop, en
sê:
—Alreeds verlep!
In sy droefgeestige stemming sien Marcel daar ’n teken in.
—Hy het gewag vir die somer, ander vergaan al in die voorjaar.
Hy dink aan sy vroeg-gestorwe suster, Thérèse; hy dink aan homself, wat
al meer as eenkeer deur die dood genader is. Maar die somber gedagte aan
’n voorteken skud hy van hom af, en sê:
—Of dit nou kort duur of lank, ons moet ons lewenstaak dapper ter
hand neem. So het pa gedoen. In plaas van my af te skrik, moedig sy
nagedagtenis my aan.
Mevrou Kibert vertel hom hoe Etienne toe weer terug is na Tonkin, om sy
werk daar weer aan te vat.
Marcel vra:
—En is Louise gewillig met hom meegegaan na die verre land?
—Louise is net so dapper as wat sy kalm is. Ag dae na hul huwelik is
hulle weg. Nou het hulle ’n seuntjie, wat ek nie ken nie, maar wat ek
liefhet.
Paula voeg daarby:
—Dit was ’n hele opskudding in Chamberie toe Louise getrou het. Al die
vrouens het Louise haar ma bekla: hoe kon sy tog haar dogter so vér weg
laat gaan? Hulle het haar beskuldig van onvergeeflike koudhartigheid.
Maar mevrou Saudet het gesien dat Louise gelukkig was, en dit was vir
haar genoeg. Al dié wat so baie gepraat het, dink net aan hulself en aan
hul eie gemoedsrus. Meneer Delourens sê ook altyd: _Voor alles moet ’n
mens rustig wees_.
Dit lyk somtyds of ’n losweg uitgesproke naam diegene aanbring wat
die naam dra. Sulke heeltemal toevallige gebeurtenisse het selfs
’n spreekwoord laat ontstaan. Voor die ope hek, in die laning van
kastaiingbome, hou ’n rytuig stil, en Paula sien dat dit die rytuig is
van die famielie Delourens.
—Hulle het al heeltemal nie meer na ons toe gekom nie, sê mevrou Kibert,
en haar gesig word rooi. Sy is ’n heldin in die lewe, maar bangerig voor
die mense.
—A, dis omdat ons ’n held hier het, sê Paula, om haar broer te pla. Hul
staan aldrie op en gaan die besoekers tegemoet. Mevrou Delourens het die
eerste afgeklim, en haar eerste woorde doel al op die kaptein, want die
eerste wat sy aan mevrou Kibert sê is:
—O, mevrou, hoe trots moet u tog wees op so ’n seun!
Mevrou Delourens is van adellike geboorte en vergeet dit nooit nie;
daardeur dink sy dat al sulke bemoeiinge, van haar kant, uit hoë genade
geskied, en selfs ’n soort van welwillende beskerming is van alle
verdienste en heldedade, wat eintlik alleen die voorreg van die adel
behoort te wees, maar waarvan die adel darem die eer kan bemagtig deur
daar maar baie lawaai oor te maak.
Heeltemal agter sy vrou verdwene, maak meneer Delourens ’n bevestigende
buiging sonder opgemerk te word. Van kop tot teen, van hoed tot skoene,
is hy in ’n grys pak gekleed. Instinkmatig het hy ontdek dat so ’n
kleur by iemand pas wat op die agtergrond staan. Hy het ’n vreesagtige
bewondering vir sy vrou, wat met hom getroud is ondanks sy burgerlike
afkoms, omdat hy ryk was; maar deur haar houding teenoor hom laat sy
hom altyddeur voel wat ’n opoffering dit van haar kant was. Hy dank
sy ydelheid en sy politieke opienies aan hierdie huwelik, wat hom met
diepe eerbied vervul vir die adellike stand, waarvan hy ’n persoonlike
voorstelling sien in sy mooi vrou, groot en swaar van liggaam, met ferm,
gebiedende gelaatstrekke en ’n gesagvoerende, selfs knorrige stem.
Alida is die laaste van almal van die rytuig afgestap. Sy dra ’n ligblou
rok, bekoorlik soos die fyn kleur wat die see smôrens vertoon; die tint
pas goed by haar gelaatskleur en verhoog nog die sagte skoonheid daarvan.
Sy kom nader met ’n bangerige bevalligheid, wat aan haar skoonheid ’n
aansien van swakkerigheid gee. Dadelik kyk Marcel na niemand meer as
na die jongnooi. Sonder dat dit hom plesier doen, bedank hy vir die
komplimentjies wat almal hom maak; sy nederigheid en militêre eergevoel
maak dit vir hom ondraaglik.
Sonder enige twyfel is hierdie besoek op hom gemunt—hy is daarvan die
beweegrede en doel. Die adellike mevrou Delourens betoon wel enige
beleefdheid, en selfs lieftalligheid, aan mevrou Kibert en Paula, maar
dis ’n hooghartige beleefdheid en ’n neerbuigende lieftalligheid, wat
deur die moeder nie raak gesien word nie, dog wat nie ontsnap aan haar
dogter nie, wat fyner sien en die ou wêreld beter ken. Maar onophoudelik
draai mevrou Delourens haar na Marcel se kant toe, net of sy die jonge
beroemdheid somaar wil steel en wegneem in haar rytuig.
—Nou wel, jonkman, sê sy aan die end brutaalweg, u is nou al ’n paar dae
terug, maar ’n mens sien u nêrens nie. ’n Mens sou sê u kruip weg. Dis
tog nie u gewoonte nie. Die vyande weet dit wel goed.
Meneer Delourens het baie bewondering vir mense wat werkkrag en moed
besit, en wil die woorde van sy vrou krag bysit:
—O, maar dit was ’n swaar veldtog . . . . U het seker nie dikwels rus
gehad nie?
Paula bars amper uit van die lag. Almal is al so gewend aan meneer
Delourens se praatjie oor rus, dat hy al die bynaam het van die Rustige
Ridder—’n gelukkig gekose naam wat sy adellike neiginge en sy liefde vir
vreedsaamheid mooi saamvat.
Mevrou Delourens neem nou weer die woord:
—Al ons vriende wil graag met u kennis maak. My huis is vir u oop, as u
maar net wil kom.
En, net of sy meteens vir Paula sien, sê sy daarby:
—Natuurlik, met u suster.
Die suster moet ook maar by, omdat dit nie anders kan nie—dis duidelik.
En dis Paula wat antwoord gee:
—Dank u, mevrou; maar ons is nog in die rou.
—Halwe rou. Na agtien maande mag jongmense al uitgaan, veral agtermiddags.
En sy sê aan die jong offisier:
—Ons gaan Maandag na die stad om deel te neem aan die blommefees. Gaan
nou met ons saam. In die aand eet ons almal saam. U sal daar vriende
ontmoet: graaf Marthenay, luitenant Berlier, u vriend van lank al. U weet
sy huwelik met die mooie Isabella Orlandi word nou bekend gemaak.
Sy vertel die leuen, so op die oomblik bedag, om die trotse Paula te
tref, wat haar planne so dwarsboom. Vrouens het ’n voorgevoel (niemand
weet hoe nie), wat ingegee word deur ’n begeerte om te behaag sowel
as om seer te maak—’n voorgevoel van die geneëntheid wat daar bestaan
tussen geeste en harte wat mekaar soek en uitkies. Is daar nie vrouens
wat tog so goed weet hoe om ’n sukses te maak van ’n eetmaal, deur mense
naas mekaar te plaas aan tafel van wie hul veronderstel dat hul goed
met mekaar sal klaarkom nie? So gee hul selfs dikwels aanleiding tot
toenadering.
Paula laat niks merk nie, dit sy dat sy betyds klaar was om haar te
beheers, dit sy dat die nuus haar heeltemal onverskillig is.
—Ons kan dus op u reken, nie waar nie? hou mevrou Delourens aan, net of
sy van Marcel self antwoord wil hê.
Alida kyk die jong offisier vriendelik aan met haar ligblou oë. Paula
het ook haar oog op hom. Hy lyk somber. Hy het goed gevat dat mevrou
Delourens hom wil aftrek van sy suster, en, gelei deur die famieliegees
wat dr. Kibert aan al sy kinders ingeprent het, weier Marcel:
—Dank u, mevrou, my terugkoms lê nog te na aan ons droewige herinneringe;
ek wil liewer op Maupas bly.
Daar straal blydskap uit Paula haar swart oë, terwyl die lang oogwimpers
neerval oor die half geslote blou oë van Alida.
—Hy moet rus hê, sê mevrou Kibert.
Alida, nog altyd met haar oë op die grond gerig, bloos ’n bietjie, terwyl
sy sê:
—Dis u vader, meneer, wat my gesond gemaak het. Vroeër het u ons dikwels
opgesoek. Paula was my beste vriendin. Ons moenie van mekaar vervreem nie.
As sy eindelik haar hemelblou oë opslaan, ontmoet sy die blik van Marcel,
en sy glimlag. Dan bloos sy weer: haar bloed volg die geheime roeringe
van haar hart.
—Seker sal hulle u kom sien, juffrou, sê mevrou Kibert, ’n bietjie
verwonderd oor Paula se teenstribbeling.
—Waarom _juffrou_ gesê? U het my vroeër altyd Alida genoem.
—Dis lank gelede: u was toe nog klein.
—Ag, ek is nog maar ’n bietjie klein.
Mevrou Delourens kan dit nie reg verkrop dat sy so uit die veld geslaan
is nie. Sy dink aan die naam wat sy met haar partytjies sal maak. As sy
hierdie held van Madagaskar kan beetkry, dan kan sy haar teenstander,
barones Vittos, ’n mooi vlieg afvang, want laasgenoemde spog nou met ’n
ontdekkingsreisiger wat sy in die hande gekry het.
Ja, sy het Jan Berlier goed verstaan; die jong kaptein het ’n skitterende
verlede. Aan sy vasberadenheid en moed is dit grotendeels te danke
dat die oorlog in Madagaskar ’n sukses was. Aldag word nog van hom
gepraat. Hy het die erekruis ontvang en nog meer erkenningstekens van
sy verdienste. Hy is dus net uitgeknip om tot pronk van die ydelheid te
dien. En ’n strydlustige vrou soos mevrou Delourens het aan so ’n held
meer as aan ’n letterkundige of wetenskaplike beroemdheid. En daarby is
die teenwoordigheid van die jong kaptein by haar huis nodig om graaf
Marthenay ’n bietjie bang te maak, want hy is tog alte stadig om Alida
ten huwelik te vra.
—Ek glo nog nie dat u weier nie, sê sy aan die jonkman, terwyl sy
klaarmaak om te vertrek, ons verwag u in die stad by die blommefees. Sy
verander werktuiglik haar manier van praat toe sy mevrou Kibert groet, en
sê, op ’n soet-salwende toon wat heeltemal in stryd is met haar aard:
—Ag, al die moeders beny u, mevrou!
Alida is oordadig vriendelik by haar afskeid van Paula, wat haar nog maar
ewe koel hou. Die rytuig is al lank die hek uit toe Marcel nog altyd na
die ope hek staan en kyk. Hy is so in gedagtes verlore dat hy nie merk
hoe sy suster hom staan en aankyk met liefderyke droefgeestigheid nie.
—Waaraan dink jy tog? vra sy.
Hy keer hom na haar kant toe met ’n half swaarmoedige glimlaggie, net of
hy hom skuldig voel aan ’n swakheid.
—Ons gaan tog eendag by hulle kuier, nie waar nie?
Hy is ’n bietjie verwonderd oor die uitwerking van sy vraag, want Paula
haar gesig betrek en haar oë is neergeslae:
—Jy het alreeds nie genoeg aan ons nie, sê sy saggies.
Oombliklik oorwin sy haar, en sê met vaster stem:
—Wat my betref, ek gaan nie. Hulle het my nie gevra nie.
—Maar seker, sê Marcel.
—Ja, ja, soos ’n handjievol op die koop toe! Mevrou Delourens het my dit
goed laat voel.
—Paula, ou sus, jy weet ek gaan nie sonder jou nie.
—Nou kom, ons gaan glad nie. Laat ons hier bly. Ma en ek is so bly dat
jy hier is by ons; ons wil jou vir ons hou. Die huis was so lank stil en
onder ’n wolk. Maar jou aankoms het ’n sonnetjie daarin gebring.
—Ja, my kind, sê mevrou Kibert, bly tog maar by ons.
Marcel se voorhoof lyk somber. Hy hou daar nie van dat sy vryheid aan
bande gelê word nie, en hy verdra dit sleg selfs van dié wat hy die
liefste het. Bowenal is hy ontevrede met homself. Hy het teruggekom
met die vaste besluit om hom in Maupas af te sonder, om die lug van sy
ou tuis in te asem tot hy daar genoeg van sou hê, om te lewe in die
herinnering van dié wat oorlede is, en om ook sy moeder en suster ’n
bietjie op te vrolik—en kyk, die besoek van daardie noointjie was genoeg
om al sy planne te bederwe, om sy trots en sy wil te breek.
Ondanks hul mooi-praat bly hy stil. Paula kan die somber stemming van
haar broer nie lank verdra nie:
—Nou kyk, sê sy, jy gaan alleen daarnatoe; ek kan nie gaan nie; ek het
nie klere nie.
Sy antwoord is maar alte gou klaar en toon aan hoe erg hy op die besoek
gesteld is:
—Ek sal vir jou ’n rok bestel, ou sus: ek het nog geld.
—Jy het ons reeds gehelp, sê mevrou Kibert, en liefderyk kyk sy haar seun
aan, net of sy nog nie heeltemal gewend is om hom so naby haar te sien
nie.
Laat in die aand, terwyl mevrou Kibert met stadige stappies rondgaan om,
soos al dae, te kyk of die huis goed toe is, sien Paula vir Marcel weer
in gedagtes verlore staan, in die voorkamer; sy nader hom en lê haar hand
saggies op sy skouer:
—Jy staan nou te dink aan mooi Alida? Sy sê dit op so ’n vriendelike
manier, dat hy glimlag:
—Nee, sê hy, en verloën so sy swakheid. Maar dadelik erken hy dit deur te
sê:
—Maar sy is darem regtig mooi. Hou jy van haar?
—Ons het saam skoolgegaan, soos jy weet. Sy is ’n bietjie ouer as ek;
sy het my altyd liefgehad soos ’n ouer suster, want sy is sagaardig,
onderdanig, bangerig: sy laat liewer iemand anders voorgaan as dat sy dit
self doen.
—Vir ’n vrou is dit mooi, sê hy.
Paula lê haar hand op haar broer se voorhoof en sê:
—Alida is nie ’n vrou vir jou nie.
Sy antwoord is vinnig:
—Ek het daar nog nooit aan gedink om met haar te trou nie.
Maar Paula ken sy gedagtes:
—Sy het geen moed nie. En dan, sy behoort nie tot ons kring nie.
—Nie tot ons kring nie? Omdat die famielie Delourens meer geld het as
ons? Gelukkig bepaal die rykdom hier nog nie ’n mens se maatskaplike
standpunt nie!
Paula het spyt dat sy hom ’n bietjie kwaad gemaak het.
—Dit wou ek ook nie sê nie. Dié mense neem die lewe anders op as ons.
Hulle maak daar ’n vertoning van en verwar bogterige dinge met sake van
belang. Ek kan my nie duidelik maak nie, maar dit was nie my plan om jou
kwaad te maak nie.
—Jy wil vir my preek oor die wêreld; voordat jy dit self ken, wil jy
daaroor oordeel!
Geraak deur die kwetsende toon van sy stem, draai Paula haar om, en stort
nou al die bitterheid uit wat in haar jong hart is.
—Dink jy waarlik dat ek nie onderskeid kan sien tussen ’n gryns en ’n
glimlag, en leuentaal nie kan onderskei nie? Daardie mense verafsku ons
en sou ons éénkant wil laat lê. Maar hulle haal jou aan om hul ydelheid
te voed; en vir ma en my stoot hul opsy, omdat ons maar arme vroumense
is. Alida is toegewys aan ’n seker graaf Marthenay en is nie vir jou
bestemd nie.
As die laaste woorde nie gespreek was nie, sou Paula se uitstorting, so
vol verontwaardiging, seker uitwerking gehad het. Wat Paula so ronduit
gesê het, voel Marcel self al, hoewel minder duidelik. Sy trots en die
liefde wat hy voel vir sy moeder en suster, sou hom teruggehou het. Maar
Paula se laaste woorde het alles oorstem wat sy die eerste gesê het. Die
gedagte alleen dat hierdie voorkamer-offisiertjie in sy pad gegooi word
as ’n teenstander, seker van oorwinning, wakker meteens sy veglus aan,
sy behoefte om baas te wees en te heers. Hy is al jaloers voordat hy
bemin.
III.
DIE BLOMMEFEES.
—Daar kom hulle! Daar kom hulle! sê Jan Berlier, en hy wys na die bo-end
van die baan.
—Daar kom hulle, sê ook Isabella Orlandi, en sy klap haar hande.
Die rytuie, met blomme opgemaak, kom aan om verby te gaan voor die
tribunes wat beset is met ’n skaar van mooi aangeklede mense. Die
toeskouers trappel van geesdrif toe hul die rytuie sien aankom en maak
meteen allerhande beweginge soos ’n klomp gekke of ’n werksame bye-swerm,
neem die mandjies vol blomme aan van die blommeverkopers wat verbygaan
en sit dit voor hulle neer; dis hul ammuniesie; en as inleiding op die
komende slag, laat hul uitroepe van opgewondenheid hoor, soos soldate
maak voor ’n aanval.
In die helder sonlig, van vér, lyk die naderende rytuie net soos
opmekaarvolgende helder lig-vlekke, met oral tussenin uitskietende
blitsies van die blinkende tuie en wiele. Hulle kom nader. Dit lyk soos
’n skitterend-ryke oosterse optog.
Voor op die groot tribune het die famielie Delourens en hul uitgenooide
vriende plaasgeneem: Jan Berlier naas Isabella, Marcel Kibert tussen
mevrou Delourens en Alida. Paula wou nie met haar broer meegekom het
nie, en Marcel staan swygend voor die kleurryke skouspel en sien in sy
verbeelding twee bedroefde vrouegesigte; hy verlang na die stille vrede
van Maupas en begin die inwendige vernederinge te voel wat die liefde
meebring.
Die musikante begin dansmusiek te speel. Op die ligte tone, verlore in
uitroepe en gelag, begin die blommeslag.
Op die grasperke oorkant hardloop die mense toe wat wil deelneem en nie
te laat wil kom nie, en dis daar ’n lewendige geharwar van kleurige rokke
en sambreeltjies.