Die kakies het gekom in ysterskuite;
Die spoke--nou, miskien het ek gedroom,
En huil en brul jou hond vir niks daarbuite!
Mordegai.
Ag, smous, waar gaan jy heen? Waar loop jy, smous?
Waarom so haastig, smousie? Sê vir my!
Jy het nog werk te doen? Ag nee, jy flous;
Jou werk is afgedaan: jy is mos vry.
Die hele dag het jy ons volk besteel;
Op alles tien persent of meer gewin!
Ja, krap jou kop, die waarheid jeuk mos veel,
En is nie altyd na 'n mens se sin.
Wat maak jy, smous? Jy is mos Jood: nou kom,
Jy het jou wet--ek ken nog wat daarvan--
En tog, jy draai Levitikus maar krom,
En Deutronomie pas nie vir jou, man.
Het jy nie gisteraand by ons geëet?
En ons het varkvleeswors gebraai gekou;
En niemand van ons nasie is--jy weet!
Is dit geselskap vir 'n Jood, vir jou?
Leer nie jou wet, jy mag nie woeker nie?
En jy vra tien persent, vir wat jy leen!
'n Skande, smous! Glo jy, dat Moses dié
Verekskuseer? Dié man het jou laat steen!
En sê die wet nie, dat jou klere ook
Van een stoffasie en een kleur moet wees?
En kyk, jou broek en onderbaadjie spook
Nog bonter as 'n mal ou Maketees!
En tog, ou smous, al heet jy Mordegai;
Al eet jy soms, so per abuis, ook sult;
Al is jy ook 'n vent, wat altyd draai,
Wat doodgesteen moet worde op 'n bult,
Waar al die mense jou kan sien, as jy
So rond moet spartel, as die klippe kom--
So sê jou wet, en dis genoeg vir my:
Dis joue, hoor, soveel jy daaroor brom!
Tog hou ek van jou, byna as 'n vrind--
'n Maat miskien, as dit nie sonde is!
Jy het my lekkergoed gegee as kind,
En niks daarvoor gevra--of het ek mis?
Miskien wou jy ook daarmee woeker, hoor!
'n Kind se liefde 's meer as tien persent,
en klontjies goedkoop: waarom dan versmoor
So in 'n sweetdoek jy jou een talent?
Aan 'n Seepkissie.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier in ons land as 'n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Het hier in die kamp met sy sussie gekom--
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
Daar oorkant in England, as doodkis vir hom!
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
Was hy maar drie weke, en toe--was hy dood!
Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
So blink as sy strale, as goud so geel.
Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie?
Het Tannie gesê: "Ag, klein Jannie die hoes!"
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
Was Jannie se lewe al half verwoes.
Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
Gedra na sy tent as 'n doodkis daar!
Die wit gesiggie--jy weet, seepkissie,
Die handjies gevou en gekruis oormekaar.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Die Doringboom.
Kyk, hier is 'n ou kameeldoring, amper kaal;
Sy blaartjies vuil en donkerbruin verbrand;
Sy stam gestrooi met geelgrys stof en sand;
Sy dorings wit as silwer, skerp as staal.
Hier staan hy nog, hoe dor die veld en skraal;
Hou stewig nog teen wind en storm sy stand--
Die oudste doringboom in ons doringboomland,
Wat reeds sy bloeityd tel vir honderdmaal.
Vir jare het hy hier sy goud gestrooi,
Die hele wêreld oor sy geur versprei,
Voor nog 'n witmens hier was of 'n pad;
Vir jare was hy bobaas hier, en mooi
Vol groen en goud: maar nou 's sy tyd verby--
'n Afgeleefde doringboom, droog en glad!
Die Soutpan.
Kaal is die ou sandwêreld hier, en kaal
Die see daarbuite, waar die branders breek:
'n Strand vol klippies en 'n poltjie kweek
Van ruigtegras, nou nie meer groen, maar vaal.
Hier praat die veld 'n onverstaanbre taal;
Hier maak die son die blou soutwater bleek,
Totdat hy saans vermoeid sy kop versteek
Agter die duine, waar sy glans verdwaal.
Hier staan die soutkors sonder vou of plooi,
Glad, silwerwit, en met 'n goudgeel lys
Van modder en klei--hier dun en daar nog dig.
So arm die wêreld hier, en tog so mooi:
Stil, as 'n oumens amper oor sy reis
En met die Dood se skadu op sy gesig.
Japie.
Vanmôre was Japie nog hier:
Vanaand is hy dood!
Met 'n lag om sy mond het hy bruilof gevier
Met 'n klein brokkie Engelse lood.
Vanmôre was Japie by my:
Vanaand is hy--waar?
As 'n mens maar kan weet, waar hy eindlik sal bly,
Wie het dan vir die toekoms gevaar?
Vanmôre was Japie my maat:
Vanaand is hy--wat?
Sal hy nog met my lag, sal hy nog met my praat,
Of my hand in die syne weer vat?
Vanmôre was Japie 'n kind:
Vanaand 's hy volleerd!
Ons het baie gestry om dié waarheid, ou vrind:
Weet jy nou, wie van ons had verkeerd?
Vanmôre was Japie--nee God!
Hy is nog vir my!
Want die dood kan nie skei nie, al is dit ons lot
Om alleen op die wêreld te bly.
Op 'n Leiklip.
Hier onder die leiklip, daar rus (as hy rus:
Want wie weet, of waarlik die dood ons kan sus?)
My arme ou Vonk--en tog, arm is hy nie:
Hy het, wat hy wil: wie dit teenspreek, die lie.
Vir my was hy meer as 'n halfduisend pond,
As kind of as kneg--ja, al was hy 'n hond:
Ek het mos geen kneg nie, en ook nie 'n kind,
En Vonk was vir jare my beste ou vrind.
Hy het altyd gehelp, hy was altyd ook klaar,
Vir die grootste plesier, in die naarste gevaar.
Oordag het hy met my die veld rondgeloop,
En miskien nog 'n hasie geja op die koop.
In die aand het hy stil by die vuurherd gelê,
En ek het hom my hope en wense gesê:
Ons het same gepraat--ja, tot laat in die nag,
Tot die môrester daar was en amper die dag.
Was dit goed vir ou Vonk, dan verlaat hy sy plek
En kom staan by my stoel om my hande te lek:
Daarby het hy altyd gemeen: "Ek verstaan,
Baas, al wat jy sê, en ek laat dit begaan."
Hier onder die leiklip, daar slaap (as hy slaap:
Is die dood maar 'n droom, wat 'n dier op kan raap?)
My liewe ou Vonk--want ek het hom nog lief!
My hart het hy gou weggesteel, as 'n dief;
Maar hy het my syne gegee--en ek vra,
Of 'n mens, soos die dier, so 'n ruil het gewa!
Ons harte is vol van gemors en verdriet,
En as steun in die lewe is hul maar 'n riet;
Maar die hart van ou Vonk was die hart van 'n kind--
En jy het hom vir my gegee, my ou vrind!
Ons het same die wêreld, hoe groot dit ook is,
Deurkruis; ons het same geniet en gemis;
En jy was vir my meer as kind of as kneg.
En nou is die wêreld weer leeg, wat jy 's weg--
Ek weet nie waarheen nie! Miskien is dit waar:
Soos rook in die lug gaan 'n mens uitmekaar,
En nog baie gouer 'n hond na die dood.
Jy het my die hand gegee, jy met jou poot;
Jy het my gesoen; ons het same gepraat:
En ek glo aan jou spook, Vonk, my liewe ou maat!
Hier onder die leiklip lê jy in jou graf:
Dis al, wat ek weet--want ons gissing is kaf.
Jy 's dood: dit staan vas, want ekself het jou hier
Begrawe, en sonder gebed, want 'n dier
Het tog nie 'n siel nie--so sê outa Kees:
Hy weet, want hy het mos diaken gewees,
En op eie houtjie die bidstond gelei
Daar bo in die sendingkerk. Ja, maar vir my,
(Al is dit nou sonde, waarvoor ek moet vrees!)
Het jy baie meer van 'n siel as ou Kees;
Jou oë was altyd so diep as die lug,
So hel as die hemel, so sag as 'n sug:
En agter die oë, daar lê tog verstand;
En agter verstand staan 'n siel by die hand--
'n Siel, wat nie somaar in niks nie verdwyn,
Of somaarso stiltjies in wolke verkwyn.
Jy 's dood--wat ons dood noem, wie weet wat dit is?
'n Slaap of 'n droom? Ag, 'n mens kan maar gis:
En dit is die moeite nie werd nie, want jy
Is altyd, ja altyd, my ou maat vir my.
Op my ou Karoo.
Hier wil ek rus, op ons vaal Karoo,
Hier, waar die veld 'n leegte is,
Hier, by die slang en die akeldis,
Hier, met die hemel blou daarbo.
Grawe hier, boetie, 'n graf vir my:
Hier is ek tuis, my land is hier;
Hier, waar die korhaan bruilof vier--
Hier wil ek lê in ons grougeel klei.
Stel nie 'n klip of 'n kruis daarbo,
Skrywe geen teks, wat 'n mens kan lees;
Sê net: "Hy slaap, waar hy wou wees--
Hier in die skoot van ons vaal Karoo.
"Rond oor die wêreld het hy gereis:
Nêrens was uitkoms vir sy hart;
Orals was donker, die wolke swart,
Orals die wêreld vaal en grys.
Nou lê hy diep hier in die sand;
Nou slaap hy vas, want hy rus in sy graf:
Was hy 'n sondaar, dan is sy straf
Lank afgewerk in 'n vreemde land.
"Praat van hom nie as 'n skuldenaar nie:
Hy het betaal tot die laaste toe;
Hy het gely--ja ons weet nie hoe!
Broer van almal, en maat van--wie?"
Dit is jou rede oor my lyk,
Dit jou gedagte, as jy daar staan--
Daar by my graf, waar die volle maan
Deur God se vensters na onder kyk.
Laat vir my slaap, boetie! ek het vaak:
Dof is my oë, my siel is moeg;
Gaan jy maar voort met jou land te ploeg,
Tot ook jou siel in die duister raak.
Laat my alleen op die toekoms wag,
Hier in my graf op ons vaal Karoo.
Dek my met veldbossies, boetie! So,
Nou sal ek rus tot die laaste dag.
My nuwe Vaderland.
Ek het so lief ons blougroen see,
Ons witgeskulpte strand:
Was ek geen Blikoor nie, dan was
Die see my vaderland.
My tuiste-veld is baie mooi,
In winter baie groen:
Ja, goudgeel blink die doringboom daar,
As son en wind hom soen.
My eie veld is baie nat
(Vervloek die tyd!) met bloed--
Daar sing vandag die mense nog
Van _Volk_ en _Heldemoed_!
Die see is baie, baie mooi,
Die see is blou en groen:
Daar 's niks so mooi die wêreld deur,
As son en wind hom soen.
Die see is vol met trane, vol,
Tot in sy hart, met bloed--
En tog sing nie die skulpe daar
Van _Volk_ en _Heldemoed_!
Ek is 'n Blikoor, want my wieg
Het op die veld gestaan;
Maar as ek na die branders kyk,
Loop oor my wang 'n traan.
My land is nie meer myne nie;
My volk is doodgestry;
My moed is nie meer heldemoed--
O God, vergewe my!
Ek wil nie, dat ek sterwe sal,
Geen pyn meer voel of leed;
'k Wil see toe, waar die koel wind waai;
Die veldson brand so heet.
Ek wil nie meer die mense eer,
Wat slegter is as vee--
Nie meer die volksgeskiednis lees
Met al sy leuens mee.
Ek wil vergeet en uithou: ja,
Ek kan nog jare ly,
Solank die branders tot my sing,
Die skulpe praat met my.
So lewe ek my lewe deur,
Neem, wat die lewe gee:
My volk sal nou die visse wees,
My vaderland die see.
Vrede-aand.
Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu die strate vol?
Sien jy, die hele wêreld is op hol?
Kom, hier 's 'n bottel soetwyn; laat ons drink!
Ons het ons nasie in die see gesink;
Ons het geen land meer nie: dis klaar met Kees!
Dis vrede nou: kom skreeu--of is jy hees
Van lag? Nou, lag maar, want die storie 's uit:
Ons nasie 's weg, ons kan daarnaar maar fluit!
Drink, drink jou glas! Die son skyn deur die wyn:
Is dit te soet, of smaak dit soos asyn?
Nou ja, dan kom hier by die venster staan
En skou met my al die gedoente aan.
Daar waai die vlag, daar word hoerê geskree:
Die aandeelmark rys weer, en ons daarmee!
Wat is ons land teenoor die aandeelmark?
Wat 'n kanarievoël teenoor 'n vark?
'n Lelieblom teenoor 'n stronk tabak?
Ons nasie, wat so wild was, is nou mak
En kan getrein word soos 'n jong bobjaan,
Wat, as hy steeks is, jy weer goed kan slaan.
Hoerê! hoerê! Skreeu saam met my:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy daaragter, hoe die mense huil?
Hoor jy 'n sug, 'n klag?--Dis maar 'n uil:
Die voëls is orals rond, selfs in die stad,
En orals skreeu hul, orals om ons pad:
Hul weet, ons was ook uile! Ons hou saam
'n Bondskongres hier, net soos dit betaam;
Passeer mooi resolusies; maak geraas,
En groot lawaai; en trek dan soos 'n haas,
Wat bang is vir die roer, weer in die hol,
En sit daar van die bewerasie vol!
Nou is die storie uit: die leë glas
Staan droog, wat vroeër so vol met water was;
Die put, wat eenmaal water het gegee,
Is vol met trane, souter as die see--
So brak as ooit 'n pan in die woestyn,
Waarop die son al dae helder skyn--
En bitter net soos gal, want in die put
Het al ons volk hul trane afgeskud;
En ons moet daarvan drink, die jare deur,
Al sal die smaak ons hart en siel verskeur.
Nee, boetie, nee, kom skreeu hoerê met my:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Sien jy die strate vol? Ek sien 'n ramp,
'n Kerkhof by 'n konsentrasiekamp
Met duisend graffies, elk waarvan bewaar
'n Skat, wat alles was, wat God aan haar
Gegewe het om eenmaal aan ons land,
In tyd van nood, toe te vertrou as pand:
Sy was die sterkste van ons almal, sy
Die met gebed en hoop het meegestry!
Sy het die swaarste deel van onse lot
Gedra, gehelp, getroos, gesteun deur God:
En as jy daaraan dink, dan moet jy glo--
Al twyfel jy--, daar is tog Iemand bo,
Die so 'n vrou tot yster maak en staal,
Met soveel troos haar steun en hoop betaal;
Maar dan weer dink jy aan haar smart en aan
Die graffies, wat daar op die kerkhof staan,
En voel weer twyfel, want 'n mens is swak!
Waarom het Hy die boom gesnoei, die tak
So afgekap tot aan die stam? Waarom
Het Hy haar lot so skeef gemaak en krom?
Nee, boetie, drink met my; skreeu saam met my:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu hoerê? Ek hoor
'n Dof gekerm en steune in my oor.
Ver oor die vlakte dryf die wolke neer;
Daar slaan die blits, daar dreun die donderweer.
Die hael, elk korrel as 'n kersiepit,
Maak die Karooveld net soos marmer wit,
En dek die kaal graf van ons laaste kind;
En deur die haelbui huil die noordewind.
Hoog was ons hoop, hoe laag ook was ons hart!
Ons land is duur: die prys--verdriet en smart!
En meer as ons, het sy haar deel gegee,
Haar siel ontroof van liefde om daarmee
Ons borg te staan; sy het vir ons gedra
Die skuld van gister en die dag daarna;
Op rots het sy gebou, en nie op sand--
Heldin en vrou! Die beste, wat ons land
Nog voortgebring het! Skreeu hoerê vir haar,
As jy moet skreeu--maar liewers, man, bedaar,
En skink weer met my in 'n glas vol wyn:
Dit sal nie ditmaal suur smaak soos asyn,
Maar heuningsoet, as suiker--en met my
Drink op haar naam: die oorlog is verby!
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, ja! Wat sal ons nou begaan?
Sal ons die vrou daarbinne weer laat staan
Om kos te kook, te braai, te stoof, te smoor?
Nie meer haar steun verlang nie? nie meer hoor
Haar stem, wat in die onweer het geklink?
Sal ons haar siel laat roes? Dié het geblink
Tot aan die kruis-ster, toe die donker nag
Rondom ons was, en niemand van ons dag
Verwag het nie: toe het haar lig gestaan
As lei-ster vir ons, ligter as die maan,
En as 'n son geskyn--toe was dit nood!
Dis vrede, maar dié siel is nog nie dood:
Dit lewe nog om ons te lei, en maak
Die swaar, swaar vrede plig; die harde taak,
Wat voor ons lê, die lewe, wat ons wag,
Ons donker pad, so helder as die dag.
Waak oor die stem; let op die siel; behou
Die beste, wat ons nasie het--die vrou!
Gooi neer die glas; die stukkies skop opsy:
Daaruit sal ons geen ander heildronk drink
As dié aan haar! Maar roep, man, tot dit klink:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Die ou Blikkie.
Wat is die ding, wat jy daar hou?
Wat droom jy oor 'n blikkie, vrou?
'n Armsalige ou blikkie?
Wat is die ding tog nou vir jou?
"Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
Die armsalige ou blikkie,
Daaruit het Gert en Griet gedrink.
"Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier, waar die suring bloei so gul,
Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul.
"Ek wil daarin 'n plantjie plant,
Wat groei aan Griet haar graf se kant:
Die armsalige ou blikkie,
Was vasgeklem in Griet haar hand.
"As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit:
"Ons konsentrasiekamp is daar;
Die oorlog word ek weer gewaar--
Ag, armsalige ou blikkie,
Waarom het God ons nie gespaar?
"Was Gert en Griet nie heel my hart?
Die plaas is afgebrand en swart--
En jy, armsalige ou blikkie,
Herinner my nog aan my smart.
"Ons kan die plaas weer opbou: ja,
Jan het al geld op leen gevra;
Maar, armsalige ou blikkie,
Kan Gert en Griet my ooit weer pla?
"Daar in die konsentrasiekamp,
Daar in ons aaklig oorlogsdamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Daar is hul lewe uitgestamp!"
Vergeet, wat jy gely het, vrou:
Ons is weer vredevrinde nou!
Die armsalige ou blikkie,
Wat is die ding tog nog vir jou?
"Dit laat my dink aan Gert en Griet:
Al is dit 'n gebroke riet,
Die armsalige ou blikkie
Is anker teen my sielsverdriet.
"Die plantjie, wat hierin sal groei,
Sal elke jaar opnuut weer bloei,
Ag, armsalige ou blikkie,
Al is my trane opgeskroei;
"Want ek het nog 'n traan gespaar,
Nog 'n paar sugte opgegaar,
Om, armsalige ou blikkie,
Jou plantjie veilig te bewaar.
"As ek vanaand my kers uitblaas,
Dan werp die maan 'n silwerwaas
Oor jou, armsalige ou blikkie,
En oor ons afgebrande plaas.
"Ek luister; en dit skyn vir my,
Klein Gert is weer hier aan my sy,
By jou, armsalige ou blikkie,
Om weer 'n slukkie melk te kry;
"En Grietjie staan daar by die deur--
Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!
Ag, armsalige ou blikkie,
Hoe kan ek eensaam wees en treur?
"Die dood het albei weggehaal;
Ons plaas is afgebrand en vaal;
Maar, armsalige ou blikkie,
My hart is nog nie net so kaal.
"Solank jy op die vensterbank
Hier by my staan, so skoon en blank,
Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank,
"Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp
My kinders al twee in die kamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Die lewe so het uitgestamp,
"Nog in my hart het hoop gegee,
Dat ek bedaard was in my wee,
Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink, ek sien hul weer, al twee!
"Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou 'n deel;
Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!
"Verbeelding--dit is alles nou,
Wat ek nog het: laat my dit hou!
Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!"
Woltemade se Spook.
"Hier agter troon die Duiwelskop;
Ou Tafelberg is vlak daarnaas--
'n Egte tafelklip, waarop
Die seedons afdaal as 'n waas,
Nog witter as renosterrook,
Nog dunner as die jongste spook.
Die onderdeur staan ope nou,
Al is die naglug nog so koud,
Al is die water nog so rou,
Al glans die weerlig bont as goud:
Die seelug is mos nie 'n dief--
Ek hou van hom, ek het hom lief!
My kers is amper uitgebrand:
Dit kwyn nog net 'n vlammetjie;
Ek het 'n snuiter by die hand--
Die ouderwetse ding, hierdie;
Maar ek wil maar die kers laat staan:
Dit kan nog meeding met die maan--
Die maan, wat deur die wolke loop
Soos 'n fisant deur ruigtegras--
Nou vol, dan halfpad oorgedoop
Deur wolke, dan weer in die kas;
Nou skemer oor die strand, dan swart,
Stikdonker skadu, koud en hard.
Geen ster skyn deur die vensters hier;
Geen mot vlieg om my kersievlam;
Geen gogga gons of maak getier;
Ja, selfs die wind se stem is lam:
Die hele nag het dit gedreun,
Die hele aandlang deur gekreun.
Dof slaan die see daar oor die sand,
Eentonig oor die klippers weg;
Die seegras strooi die hele strand,
Waar skuim nog met die skulpe veg--
Grys as 'n blinde man se oog,
En troebel as 'n emmer loog.
Hier binne gooi my kers se skyn
Groot skadu-spoke teen die muur,
Wat flikker, fladder en verkwyn
Soos spinnekoppe in 'n skuur;
En hoog daar bo, daar by die dak,
Waai vlaggies van vuil spinnerak.
Nou luister maar: daar hoor jy raas,
Sag as 'n muis, wat bruidskoek kna,
Of vir sy maters in 'n kaas
Trakteer, op wat hul weg kan dra.
'n Dof geritsel by die deur--
Iets koddigs nou kan jy bespeur:
'n Voetstap op die stoep; 'n ding,
Wat sagter as 'n blootvoet kind,
Dwars rondloop as 'n vreemdeling,
So vinnig amper as die wind--
Wat skielik in die duister blink,
En dowwer oor die drumpel klink;
Iets, wat jy nie met oë kyk;
Iets, wat jy nie met vingers vat;
Wat deur die hele kamer reik,
Wat kruip so deur die sleutelgat--
Miskien 'n bietjie mis of rook,
Of Wolraad Woltemaad se spook!
Jy sien hom nie; jy voel maar glo
Die yskoud lug, waarin hy gly!
Die spinnekoppe spartel so,
Asof hul bewerasie kry;
Die kat krimp weg, sy rug is krom;
Die hond die huil; die wind is stom!
En elke nag teen middernag,
Dan ry die yskoud spook op land,
En kuier op die strand, en wag
Sy lewe, wat die see as pand
Moet hou, totdat die eerste slag
Geslaan word op die laaste dag.
En as hy oor die drumpel waai
En inkrimp in jou huis, dan kreun
Die ou skarniere, en dan swaai
Die onderdeur; 'n dof gedreun
Klink in jou ore, want dis ook
Die koms van Woltemaad se spook!
Jy moenie daarvoor bang wees nie:
'n Spook het mos geen been of murg:
Wat kan hy kwaad doen, of vir wie
Kan hy so goedsmoeds dood verwurg?
Nee, glo nie, hy sal rusie stook!
Hy is mos Woltemaad se spook!
Hy kom net om die strand te sien,
Waar eenmaal hy 'n heldestreek
Begaan het om die Plig te dien.
Verbeel jou, hy is dood en bleek:
Hy kan jou nie moveer, en jy
Moet trots wees op sy koms en bly.
Net goeie mense sien sy spook!
As jy miskien op sterwe lê,
Gewaar jy hom as gryswit rook,
Waaruit 'n stem klink sag, en sê:
(Al dink jy ook, dis maar die wind)
"Kom saam met my; kom huis toe, vrind!"
Al is jy goed of goddeloos,
Sit net maar stil alleen en wag;
Alleen, met twak en tonteldoos,
Gewaar jy hom op middernag--
Nie met jou oog, nie met jou hand:
Net met jou siel en jou verstand.
Gevoel--alleen aan dit gewoon,
Kan jy vir Woltemade sien:
Het jy dan ook gevoel nie, loon
Dit jou niks, want jy word miskien
So vaak en teemrig, dat jy gaap,
En netnou sluimer vas aan slaap.
Dan droom jy, Woltemade kom
Net soos Klaas Vakie deur die dak
Of skoorsteen--want 'n spook is dom
En gee nie om die spinnerak--
En as jy slaap, dan bo jou kop
Lê hy sy koue hande op
Dan skrik jy wakker en kyk rond:
Die kersie gluur nog om die pit,
Die skadu flikker oor die grond,
Die sterre en die maan skyn wit,
Jy hoor nie eers 'n kreun of sug,
Jy voel net maar die yskoud lug;
Maar in jou kamer, by jou bed,
Daar het sy spook gestaan, en hy
Het op jou in jou slaap gelet;
Oor jou sy hande uitgesprei:
"Ek het my plig gedoen, gegee
My lewe aan ons Moedersee.
"Ek het my plig gedoen; en jy,
Jy, wat so sedig droom en gaap--
Wat het ons land van jou gekry?
Het jy gewerk of net geslaap?
Jou lewe, was dit werk of rook,
'n Droom--soos Woltemaad se spook?"
Lenteliedjie.
Al die veld is vrolik;
Al die voëltjies sing;
Al die kriekies kriek daarbuite;
Elke sprinkhaan spring.
Al die koggelmannetjies
Kom om fees te vier;
Hier galop 'n goggatjie,
Daarso dans 'n mier.
Selfs die vissies spartel
Teen die kafferskuil;
In die groot ou eikeboom
Droom 'n oupa-uil.
Rond in ons Karooland
Is 'n ruik versprei:
Boegoeblom en appelkoos--
Kan jy beter kry?
Katjiepiering-heinings,
Bont met blomme hier;
Rose en sering daarnaas,
Roos en angelier.
Binde vir my same
Katjiepiering wit,
Bobejaantjies blou en bont,
Rose in die lid;
Varings van die klippe,
Afrikaners rooi,
En kalkoentjies uit die vlei--
Algar is so mooi!
Geel gousblomme uit die veld,
Klossies uit die kuil--
Sal ons ooit ons blommetjies
Vir iets anders ruil?
Vrolik is die wêreld,
Vrolik, rant en vlei!
Elke koggelmannetjie
Het sy maat gekry;
Elke gonsrig goggatjie
Is getroud of vry:
Vrolik is die wêreld hier,
Vrolik veld en vlei!
Die Apie.
Apie, apie, sê vir my,
Is jy mens, of is jy dier?
Het jy bruilof ooit gevier?
Waar en wanneer het jy getrou?
Het jy kind of het jy vrou?
Het jy skulde? In jou huis,
Apie, is dit alles pluis?
Is die kleinnooi in haar skik?
Of moet sy op alles pik?
Apie, apie, sê vir my.
Oubaas, oubaas, ek sal sê:
Ek is maar 'n viervoet dier;
Ek het bruilof nooit gevier;
Agter die bossies het ek getrou,
Kinders het ek en 'n vrou.
Skulde nie; en in my huis,
Glo ek, is dit alles pluis.
Kleinnooi is nie in haar skik,
As ander apies op haar mik:
Oubaas, dit is, soos ek sê.
Apie, apie, sê vir my
Waarom lewe jy so mooi,
Sonder kamer, sonder kooi,
Sonder selfs 'n trouring, sonder
Ook 'n huwlikseen? Ek wonder,
Dat jou vrou so goed verstaan
Nie met apies rond te gaan;
Dat jy sonder skulde lewe,
En nie vir verbande bewe:
Apie, apie, sê vir my.
Oubaas, oubaas, ek sal sê:
Ek kan lewe sonder kooi--
Klipskeure is net so mooi--
Sonder selfs 'n trouring, sonder
Ook 'n huwlikseen! Jy wonder?
Ek het altyd goed verstaan
Met vroumense om te gaan:
Anders loop my hele lewe
Opdraand, dat ek daarvan bewe:
Oubaas, dit is, soos ek sê.
'n Praatjie oor die Trougees.
Akeldissie, waarom trou jy nie?
Mame wil nie hê nie!
_Lokasieliedjie_.
Ag, akeldissie, as jy eenmaal weet,
Wat 'n getroude mens het uit te staan,
Hoe hy moet spartel, hoe hy rond moet slaan,
Om deur te kom, moet worstel, dan sal jy
Nie so voorbarig praat nie, glo vir my!
Ag, akeldissie, man, die wêreld weet--
Die wêreld, wat 'n mens so gadeslaan!--
Wat man en vrou tesame uit moet staan;
En jy weet niks daarvan; ja, glo vir my,
Dis beter, nie te trou, en tuis te bly.
Jy gaan so teen jou ma tekeer; jy sweet
Van stoutheid en astrantheid; jy wil gaan
Met vroumense op reis nou na die maan;
Jy wil gaan trou, wil kinders hê en vry:
Maar dink, oormôre, wil jy sieto skei!
Ag, akeldissie, jong, jou mame weet
Meer van vroumense af, as jy verstaan;
Sy wil jou nie sien spartel en vergaan,
Net om 'n meisie, waar jy na gaan vry:
'n Vroumens is astrant, ja glo vir my!
Bly liewers tuis, ou kêrel. As jy meet
Die jonkmanskap teenoor die huweliksbaan,
Dan sien jy tog, hoe sleg die maat moet gaan
Vir man en vrou; hoor dus na my en bly
Maar tjoepstil tuis, en laat jou ma jou lei.