Ons het die voorplein van die tronk betree,

En dit was vol met kakies. By die poort

Het hul ons twee by twee laat binnekom.

Daar in die agterplaas, daar staan die galg,

En naas hom Ben en Johnnie, hand aan hand,

Want hul was nie geketting; en ons het

Verlof gekry om met hul te gaan praat,

Maar net vir vyf minute.

Ek was stom,

Geheel verbouereerd en sonder tong;

Maar Bennie het my by die hand gevat.

"Oom Gert, dis kant en klaar! Goeiendag, Oom Gert!

Sê vir Tant Nonnie en vir Gerrie--nee,

Sê liewers niks, want hulle sal verstaan."

En Johnnie, met 'n glimlag om sy mond,

Het ook my hand geskud. "Dag, Oom." sê hy.

"Nee, Oompie, moenie grens nie!"--Soos ek sê,

Was Johnnie altyd half astrant gewees,

En sniprig ook.--"Nee, Oompie, moenie grens!

Ons het ons plig gedoen, en nou 's dit uit."

Toe het hul met die predikant gepraat;

En ek, as naaste bloedverwant van Ben,

Het met hom na die galg gegaan en daar....

Nee neef, dis maar die rook! Ek word al oud,

En jou tabak is al te sterk vir my.

Ekself rook swak tabak: jy weet, dit maak

My oë nie so seer.

Nou waar was ek?

Ja, toe het ons hul almal handgegee.

Geeneen van ons kon praat nie; Piet was stom

En net so naar as ek, en een van ons--

Ek weet nie, wie dit was--het hard gesnik.

Die kakies het oor Bennie se gesig

'n Sakdoek, of 'n kopdoekie of iets

Net soos 'n mus wil trek, maar Bennie vra--

En nog op Engels ook: hy kon dit praat--,

Of hulle hom nie sonder dit kon hang.

Die kolnel knik; en toe....

Nee, neef, laat staan!

Wat vat jy weer my hand? Laat bly my hand!

Vervlaks, hoe kan ek nou vir jou vertel,

As jy my somaar afbring van my rym?

Blaas net jou rook uit na die ander kant:

My oë is te oud vir jou tabak!

(En, hartlam, haal vir pa 'n sakdoek.)

Nou,

Daar is nie meer. Ons het weer tuisgekom,

En in die kamer hier het ons gekniel;

'n Korte bidstond het die predikant

Gehou vir ons--en daarna was dit uit.

Dié aand nog het neef Piet en Skeeloog-Louw

Die dorp uit na die naaste plaas getrek

En hulle by ons mense aangesluit.

(Hartlam, gee weer vir pa die suikerpot,

En skink dan nog 'n koppie vir neef Klaas.)

Oktobermaand.

Viooltjies in die voorhuis,

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

Dit is die maand Oktober,

die mooiste, mooiste maand:

Dan is die dag so helder,

so groen is elke aand,

So blou en sonder wolke

die hemel heerlik bo,

So blomtuin-vol van kleure

die asvaal ou Karoo.

Dit is die maand Oktober:

die varkblom is in bloei;

Oor al die seekoegate

is kafferskuil gegroei;

Die koppies, kort gelede

nog as 'n klip so kaal,

Het nou vir welkomsgroetnis

hul mooiste voorgehaal.

Dit is die maand Oktober:

die akkerboom is groen;

Die bloekoms langs die paaie

is almal nuutgeboen;

En orals in die tuin rond

ruik jy sering en roos,

Jasmyn en katjiepiering,

lemoen en appelkoos.

Al was die dag soos yster,

lank in die vuur gesteek,

Die varings in die klofies

deur hitte geel verbleek,

Tog as die son daaronder

agter die berge gaan,

Dan word oor heel die wêreld

die mooiste geur geslaan.

Dit is die maand Oktober:

die kokewiet is uit;

Boomsingertjies en kriekies

die hoor jy orals fluit;

Fiskaal is op die oorlog:

daaronder by die sluis,

Daar is 'n dor ou doringboom

sy spens en sy kombuis,

Dit is die maand Oktober:

ek dink, die mense vier

Vir ewig in die hemel

Oktobermaand soos hier!

Wat wens jy meer as blomme,

as helder dag en nag?

Wat kan jy beter, mooier,

of heerliker verwag?

Ek is nog in Oktober:

my tuin is nog so groen,

So wit met al wat mooi is,

met bloeisels van lemoen,

So pragtig in die môre.

so heerlik in die aand!

Ek is nog in Oktober,

die mooiste, mooiste maand!

Wat gee ek om die winter?

Wat praat jy nou van Mei?

Wat skeel dit, as ons later

weer donker dae kry?

Ek is nou in Oktober,

die mooiste, mooiste maand,

Met elke dag so helder,

so pragtig elke aand!

Viooltjies in die voorhuis,

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

Aan 'n ou Boek.

Op die solder, waar die rotte

Hulle neste het gebou,

Waar die vlermuise en motte

Elke aand kommissie hou,

Het ek jou gevinde, ou maat, en jou maters lê daar nou.

Voor ons voorgeslag gebore

Was, het mense jou gelees;

Monnik, ridder, lang tevore,

Was met jou al maats gewees,

En hul het hul siek gelag oor al jou vuur en al jou gees.

Baie jare al gelede

Lê jy op die solder daar,

Rustig in jou rus, tevrede

Met jou lot, van jaar tot jaar.

Ou maat, waarom het die rotte vir ons al jou gees gespaar?

In Amsterdam.

As ek vanaand so moedersiel

Alleen hier by die vuurherd sit,

Dan borrel my geheue op,

En maak my hart en siel uit lid;

Dan dink ek aan die veld, en aan

Die doringbome by die krans,

Waar koggelmannetjies die son

Hou vir 'n maat om mee te dans;

En aan die duine, waar die wind

'n Wierook na die see toe waai,

En aan die dam, waaroor die voëls

So vrolik in die nessies swaai;

En aan die seekoegate, waar

Die kafferskuil en ruigte groei--

'n Donker groen die water oor,

'n Tuin, wat nooit nie word gesnoei;

En aan die koppies, waar die son

Ons Afrikaanse klippe soen.

En aan ons ou Karoo, so mooi

In al sy geil Oktober-groen!

En hier--hier waai die wind, en raas

Die strate om my; karre dreun;

Die trein daarbuite fluit en rook:

Dis orals galm, en gons, en steun!

Dis alles oud, so aaklig oud,

Die wye wêreld om my heen!

Aghonderd jare praat met my--

En tog--ek gril en voel alleen!

Ons kom van hier; ons wieg was hier,

Of verder, in die suiderland--

Hier, waar die Watergeuse was,

Hier, waar die strate is half strand.

Ou Amsterdam, ou Amsterdam,

Met al jou pronk, met al jou prag,

Met al jou smeerge strate ook,

Jy het nog oor my siel gesag!

Ek voel, as ek hier moedersiel

Alleen so by die vuurherd sit,

Wat jy nog vir ons nasie is--

En kyk, my hart kom weer in lid!

Ons nasie? ag, die mense praat:

Daar lê iets groots in woorde! Wat

Gee ons die reg om groot te wees,

Om saam te loop op so 'n pad?

Vir tagtig jare het hul hier

Gestruikel in die duister rond,

Die dyke oopgebreek, die see

Gemaak tot bobaas van die grond,

Die land gedoop met vuur en bloed,

Die klei vir elke huis deurwerk

Met trane: so 'n stad sal staan

Vir ewig--want die klei is sterk.

En elke duim van hierdie land

Is duur gekoop met suur en smart;

En elke morge is betaal

Met stukkies van 'n mensehart:

Dit gee hul reg om trots te wees,

Dit gee hul reg om nou te pronk,

Al is dit lank gelede al,

Al is die see weer in sy tronk.

En ons? ons wil 'n nasie wees!

Ook agter ons lê vuur en bloed;

Ook ons het vir ons land gestort

'n See van trane: ja, dis goed!

Maar verder--wat? 'n Nasie word

Nie somaar as die koring groot:

Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,

Deur lewe ook word voortgestoot.

En as ek by die vuurherd sit

En in die vlamme kyk, dan voel

Ek in my siel, daar skort nog iets--

Nog iets? nog iets?--'n hele boel!

Daarbuite spook die wind weer hard;

Die vensters skudde: wat 'n nag!

Ou Amsterdam, ou Amsterdam,

Jy het nog oor my siel gesag!

In die Boesmanland.

Vaal rotse rondom, met vaal sand en klei,

En boesmangras en varings, geel en groen--

Wat 'n mooi wêreld hierdie! mooi geboen

Deur die Natuur, en mooi ook deurgebrei

Met bossies en met blomme! Dis vir my,

Asof die son die wêreld self wil soen,

En ook die sterre daaraan mee wil doen

By nagtyd, as die veld sy sluier kry:

Hier was my tuiste in my woeste jaar,

Toe ek nog kind was, sonder pyn of vrees,

Want ou Paaiboelie self was toe te klein!

Al die rooi klippies het ek ingegaar,

En al die varings was vir my gewees

Maters, wat elke somer het verdwyn.

Op die Kerkhof.

Eergister het ek na die plek gegaan,

Daar waar die aalwyn en die varkblom bloei,

Daar waar die doringboom nooit word gesnoei;

Waar elke leiklip as 'n grafsteen staan.

Dit was al laat, en om my het die maan

'n Silwerlig versprei, soos, as jy roei,

Die lang, blink sterre in die water groei.

Die kerkklok het strak agter my geslaan,

Ses, sewe, ag en neënuur, en nou

Was alles weer heel stil. Ek dag, ek hoor

Die aandgebed van elke mug en mot,

Wat in die maanlig kom vergaadring hou:

Hul sing en maak gegons, net soos 'n koor,

As lofsang aan 'n onbekende God.

As ek nou eenmaal sterwe, as ek is

'n Lyk, waarin geen asem en geen krag,

Met hande sonder voelte, sonder mag,

En met 'n oog, wat al sy glinstring mis--

As ek so lê, en self niks kan beslis,

Moet julle my nie uit die helder dag

Wegslinger in 'n eindelose nag,

Wat niks as my verwording vergewis;

Want ek wil nie tot duister kerkers keer,

Die noue graf vir ewig om my voel!

Verbrand my liewers, dat ek boontoe rys,

In vuur en vlam kan opklim tot die Heer,

Deur al die wêreld se rumoer en woel,

Tot oor die drimpel van die Paradys.

In ou Booi se Pondok.

Outa Booi, die wind speel dapper,

en dis bitter, bitter koud;

Kyk, daarbuite spoel die bliksem

al die wolke geel met goud;

En jy bibber in jou bene,

want jy is al baie oud.

Is daar plek, hier by jou vuurherd,

waar 'n Kristenmens kan sit?

Gooi nog hout daar op die kole,

want jou as is amper wit:

En die kou die gee jou sinkings,

en dit trek jou been uit lid.

So! nou is ons lekker warm hier,

Gee 'n kommetjie vir my

Vol met koffie uit die kan daar,

outa, aan jou regtersy:

Ek hou baie van goei koffie--

as ek dit maar nog kan kry.

Kom, vertel my uit die verte,

toe jy nog 'n slafie was,

Toe die oubaas jou verkoop het

vir twee perde en 'n kas--

Net soos jy nou self aan oubaas,

vir sy looi, jou sakkie bas.

Was die mense toe so vroom al,

as die mense is vandag?

Het die boere toe die swartvolk,

soos 'n boerplaas maar verpag?

Het ons toe, soos nou, oor alles,

wat belangryk is, gelag?

Was dit lekker in die dae?

Was dit beter in die tyd?

Was die ounooi regtig ounooi

vir haar jong en vir haar meid?

En die oubaas regtig oubaas?

Was die wêreld al so wyd?

In die Kaap, daar lê 'n ketting--

ja, dis oud, maar dis nog heel--

In 'n kamer, swart en donker,

van die aaklig ou Kasteel,

Met 'n ring, wat vasgemaak was

eertyds om 'n slaaf se keel.

Daar's 'n kats daar, en die plek nog,

waar die galg gestaan het: ja,

Onse ouers het geweet, hoe

om te martel en te pla,

Maar miskien ook baie beter,

hoe om pyn en smart te dra.

Daar was reuse in die dae--

ook al was die wêreld vaal,

En al het ook daar die duiwel

in die donker rondgedwaal,

En so baie van die harte

met sy nukkies opgesaal.

Daar was liefde toe, kennis--

skoon ons nou daarmee so spot--

Elke man was groot genoeg toe

vir sy eie siel en lot,

En ek glo nie, as 'n nasie

was ons mense toe so vrot!

Ja, ek weet ons het gely toe--

daar is altyd rou en pyn!

Laat jou grootste vat maar ope,

met jou beste, soetste wyn:

Proe dit oor 'n maand, en waarlik,

dit is amper nes asyn!

Kom daar ooit 'n kind ter wêreld,

groei hy op en word hy droog,

Sonder dat hy ooit sy trane

het moet wegveeg uit sy oog?

Ja, jy maak ook nie rosyntjies,

wat sal goed bly sonder loog.

As 'n mens met vuur en vlamme

tot sy gorrel volgeprop,

Met 'n hoop op seker uitkoms,

waar sy hart van helder klop,

By die vuurherd sit te luister,

op wat omgaan in sy kop,

Sonder bang te worde, sonder

op sy hoop te struikel--staan

Penorent, kordaat en wakker,

as die wêreld ook vergaan,

En die son word donker, duister,

en nog donkerder die maan--

As 'n mens met ideale

elke keer sy ideaal

Sien verbygaan voor sy oë,

nes 'n ster, wat skiet en straal

Vir 'n oomblik in die hemel

en dan in die see verdwaal,

Sonder vrees, vir wat sal worde,

as die nag nog langer duur,

As die wind nog kouer warrel,

en die naglug trek so guur,

As die lewe skyn so bitter,

en die toekoms lyk so suur,

Sien hy nooit nie in die vuurherd,

wat is groot en wat is klein--

Nooit tevrede met die toekoms,

nooit versadig met die wyn,

Want die suiker is te suinig,

en die drank smaak soos asyn.

Tog--daar is 'n toekoms altyd:

waar vandag is opgeslaan,

Daar op Golgotha, die kruise,

sal die mense môre staan

Rond die heiligdom van helde,

wat alléén is voorgegaan.

Waar ons nou net bitter trane,

klagte, sugte, smart gewaar--

Waar die koringvelde kaal staan,

en die droogte druk so swaar,

Wys die toekoms diamante

en die koring in die aar.

Jy was ketter nog eergister,

en vanmôre is jy vroom!--

Laat vanaand se melk maar stil staan,

môre kry jy tog die room!

Slaap gerus maar, slaap gerus maar,

ja, hoe swaar ook is jou droom!

Jy was sondaar in jou sede--

elke woord het jou gekwets:

Vir die een was jy te nuut al,

vir die ander ouderwets!

Op jou siel is al jou smarte

met jou lewenssuur geëts.

Jy was vyand vir jou vrinde:

elke kêrel op die straat

Het 'n broederlik berisping

op jou wandel afgepraat.

En die aakligste van almal,

en die kwaaiste was--jou maat!

Ja, jou vader was 'n Boesman:

en die volkies is nie mooi,

Met 'n agterste, wat uitloop

as 'n afgesakte kooi;

En jyself is nie te ekstra

as 'n spoghings, outa Booi!

Het hy ook 'n hart besit toe

soos 'n witmens, en 'n stem?

Was dit koddig, as hy sanik

soos 'n strandmol in die klem,

Of 'n wawiel op die hoogte,

wat geskraap word deur die rem?

Hy was mens--miskien 'n reus ook,

want 'n siel is nie so klein

As 'n vlees-en-bene liggaam,

ook al is dit nog so fyn:

Ag, 'n liggaam dra maar laste,

en 'n siel die dra mos pyn!

Wat is van jou pa geworde?

As hy reus was, is hy nog;

As hy dwergie was--soos ons nou--

ja, dan was hy maar 'n bog.

Hy was Boesman, skelm en deugniet--

ja, maar mens dit was hy tog!

Maar wat lol ons met die Boesmans,

wat tog almal heidens was?

Hulle moet vir hulle toekoms

selwers maar het opgepas.

Is dit onse skuld, die volkies

is vergaan soos droë gras?

Vra jouselwe, as jy moeg word,

en die wêreld is so stil,

Wat jou lot is, wat jou toekoms:

is dit God die Heer se wil,

Dat 'n nasie uit sal sterwe,

of maar die Natuur se gril?

Weet jy seker, wat beslis is?

of daar ooit beslissing is?

Wie vertel jou, as jy raak skiet?

Wie vermaan jou, as jy mis?

Sal jy alles weet, of niks nie,

as jy lyk is in 'n kis?

Arrie, outa, dit word koud hier,

en jou stories maak my vaak.

Jou goei koffie is verbrand, glo,

want dit het 'n bitter smaak.

Dit word tyd dat ons goeien-nag sê,

eer jy van jou draad afraak.

Kleiner, kleiner, en nog kleiner--

dis verdrietig, maar dis waar--

Word ons as die jare omgaan;

en ons het maar nog een snaar,

Om ons deuntjie op te speel, en

ag, die een is amper klaar!

Maak die deur maar toe, en sê maar,

soos ek sê vir jou, goeien-nag!

Gaan maar slaap nou, net soos ek ook,

outa! Slaap, en droom, en wag

Tot die skemer in die ooste

sê, dis weer 'n nuwe dag.

Die Verkleurmannetjie.

Daar op die vyboom sit die vabond,

So sedig as 'n predikant;

Maar glo tog nie, dat hy so vroom is:

Nee, regtig nie, hy is astrant!

As jy hom aanraak, dan verkleur hy,

Geel, rooi, grys, bruin, en blou en groen;

En al sy vel blink soos die skulpies

Se binnekant met perlemoen.

So teemrig sit hy op sy takkie

Die muggies met sy tong te vang.

En met sy ronde oë maak hy

Die spinnekoppe algar bang.

Hy draai sy nek soos 'n toktokkie,

Of soos 'n papie uit die klei,

En kyk so sedig na die vliegies,

As hy die goed nie beet kan kry.

Arrie, ek hou van jou, kleurklasie!

Jy gaan jou lewe deur so mooi;

jy steur jou nie, aan wat die mense

So praat of skinder en flikflooi.

Jy steun op niemand nie, kleurklasie,

Net op jou takkie en jou tong:

Verkleur maar môre net soos gister;

En as jy oud word, bly nog jong!

'n Nuwe Liedjie op 'n ou Deuntjie.

Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Vou jou handjies same

En sê ame,

Mame se kindjie, Siembamba!

_Lokasieliedjie_.

Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Vou maar jou handjies saam, my kind:

Hoor tog hoe huil die noordewind!

Hier in die kamp is alles stil,

Net maar die wind waai, soos hy wil;

Net maar jyself kan kreun en steun:

Niemand sal hoor nie, niemand, seun!

Almal is besig! Oor die land.

Drywe 'n wolk van die noordekant--

Swart as die rook uit die skoorsteen puil,

Swart as die nag, en as roet so vuil:

Vou maar jou handjies dig tesame,

Sluit maar jou ogies en sê ame!

Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Jy, wat die hoop van ons nasie is;

Jy, wat ons volk so min kan mis;

Jy, wat moet opgroei tot 'n man;

Jy, wat moet plig doen, as jy kan:

Jy, wat geen deel aan die oorlog het;

Jy, wat moet sing uit pure pret--

Jy moet verkwyn in 'n kinderkamp,

Jy moet vir vrede word uitgestamp:

Vou maar jou handjies dig tesame,

Sluit maar jou ogies en sê ame!

Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Kinkhoes en tering, sonder melk:

Bitter vir jou is die lewenskelk!

Daar is jou plek, by die graffies daar--

Twee in een kissie, 'n bruilofspaar!

Alles vir ons, wat die oorlog hou,

Alles vir ons, en niks vir jou:

Jy het van ons jou plig geërwe--

Plig om as kind vir ons land te sterwe!

Al, wat jy wen, is dat ons onthou:

Meer was die vryheid as kind of vrou!

Vou maar jou handjies dig tesame,

Sluit maar jou ogies, en sê--ame!

Die Sterretjie.

Fonkel, sterretjie, fonkel,

Hoog in die lug so blou!

Kort is die dag, en lang is die nag;

Dood is jou skyn, eer die son jou verwag:

Snel sal jou glans in die môre verflou:

Fonkel, sterretjie, fonkel!

Fonkel, sterretjie, fonkel,

Hoog in die lug so hoog!

Engele daar kan jy byna gewaar,

Onder die wolke die hemelse skaar,

Elk met jou silwerwit skit'rende oog:

Fonkel, sterretjie, fonkel!

Fonkel, sterretjie, fonkel!

Lag in die lug daar bo!

Hier is dit sleg, want die dag is mos weg,

Oor al die veld het die nag hom geheg,

Tot as jy skyn--ja, dan kan 'n mens glo:

Fonkel, sterretjie, fonkel!

Fonkel, sterretjie, fonkel,

Bo in die lug so blou!

Kort is die nag, en lang is die dag,

Hier, waar ons lewe en pligte verwag,

Lig van die son, maar tog swart van die rou:

Fonkel, sterretjie, fonkel!

Aan my ou Vrind.

Jy is al tagtig, en jou kop is wit--

Wit soos die sneeu, en witter as 'n wolk

Daar bo ons in die bloute van die lug.

Jy is al tagtig, styf in elke lid--

Maar nog vir my, en altyd vir ons volk,

Van wat voorheen was, wat sal kom, 'n tolk,

Wat goed sy taal verstaan en praat kan sonder sug.

Jou oog is flink nog, en jou hand is vas:

Jy kan 'n jongmens nog as leier dien

Oor al die paaie, wat jy het deurkruis;

Jy kan nog help met elke sware las--

Jy, wat so veel gehoor het en gesien

Van agtien-dertig tot aan neëntien-tien,

So lang geswerwe het--so na nou aan jou huis!

Nooit is jou hande swak vir goeie werk,

Nooit dof jou oog--al dink jy aan die tyd,

Die tagtig jare van jou lewensbaan.

Soms was jy swak miskien; soms was jy sterk;

Soms was jou hart gekwel deur haat en nyd;

Soms het jy pyn gehad, miskien ook spyt,

En soms as lewensprys jou fooi betaal--'n traan.

Die tagtig jare was nie almal goud,

Selfs silwer nie! Die weer was somtyds swaar;

Met wolke swart, met blits die hemel ryk;

Na elke somer kom die winter koud!

Nie altyd nie het jy die son gewaar,

Die goud sien blink as vonke in 'n aar;

Nie altyd het jou pad die vlakte deurgestryk.

Vir tagtig jare het jy volgehou,

En hou nog vol--al bewe ook jou hande,

Al moet jy om te lees jou bril gebruik.

Nog is jou stem nie afgedaan en flou,

Nog is jou gees nie ingeklem in bande:

jou tagtig jare is nog nie 'n skande,

Waarvoor jou grys ou kop in rou hoef weg te duik.

Jy kyk getroos jou tagtig jare trug,

Op al jou lang, lang lewe op land en see--

Jou loopbaan so met ondervinding ryk--

En praat daaroor nog sonder traan of sug:

Die hele reis daar het jy vrede mee.

Ekself sou baie graag my beste gee,

As ek eenmaal soos jy getroos terug kan kyk!

In die Konsentrasiekamp.

(ALIWAL NOORD, 1901)

O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!

_Dante_.

Jou oë is nat met die trane van gister;

Jou siel is gemartel, deur smarte gepla;

Van vrede en pret was jy vroeër 'n verkwister;

En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,

'n Spreekwoord tot steun--daar's geen trooswoord beslister:

"Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!

Hier sit jy te koes teen die wind, wat daar suie

Yskoud deur die tentseil, geskeur deur die hael--

Jou enigste skuil in die nag teen die buie;

Die Junielug stort oor die stroom van die Vaal--

Jy hoor net die hoes van jou kind, en die luie

Gedrup van die reendruppeltjies oor die paal.

'n Kers, nog maar anderhalf duim, voor hy sterwe,

Brand dof in 'n bottel hier vlak naas jou bed.

('n Kafhuis gee makliker rus: op die gerwe

Daar lê 'n mens sag, en sy slaap is gered!)

En hier in die nag laat jou drome jou swerwe

'n Aaklige rondte met trane besmet.

Hier struikel die kind, wat te vroeg was gebore;

Hier sterwe die oumens, te swak vir die stryd;

Hier kom 'n gekerm en gekreun in jou ore;

Hier tel jy met angs elke tik van die tyd;

Want elke sekond van die smart laat sy spore

Gedruk op jou hart, deur 'n offer gewyd.

En deur elke skeur in die seil kan jy duister

Die wolke bespeur oor die hemel verbrei;

Geen ster skyn as gids; na geen stem kan jy luister--

(Eentonig die hoes van jou kind aan jou sy!)

Wat sag deur die wind in jou ore kom fluister:

"Geduld, o geduld, wat so baie kan ly!

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?

Die smarte, die angs, het so baie gepla!

Die yster het gloeiend 'n merk vir die eeue

Gebrand op ons volk, en die wond is te na,

Te na aan ons hart en te diep in ons lewe--

"Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!"

Die ou Meul.

Rol, rol, ou wiel, en spat die skuim

Rond om die eende in die sluis!

Die water kom van bo die berg

Om in die meulstroom hier te bruis.

Twee groot pop'liere skadu jou,

Ou wiel; en as die winter kom,

Dan val die blare om jou as

En bewe, as jou speke brom.

Want nimmer het jy lang tyd rus:

Jy werk aldag en maak geraas.

Dof in my ore klink jou stem:

Ek hoor, hoe jy die water blaas.

Dis al 'n jaar of dertig so--

Toe het ek eers jou stem gehoor--

'n Donker Meidag met 'n lug

Half toe, met wolke hoog daaroor;

Die ou pop'liere was nog kaal;

Die winter, ag, was lankal daar,

En op die berge was kapok:

Ja, dit was bitter koud en naar!

Ek het gekoes, verkluim van kou,

Maar jy het altyddeur gesing,

En al die ys daar in die sluis

Het jou nie van jou stuk gebring,

Kleingelowige.

"Nee, regtig, oubaas speel met ons die gek!

'n Ding, wat sonder voete loop op spore,

Met vuur en vlam en vonke in sy bek?

Nog nooit het ek daarvan gehoor tevore!

"'n Ding, wat vol met water word gestop,

Wat mense dra, en perde ook en skape?

Baas het ons swartvolk baiemaal gefop--

Vertel nou maar die storie aan die ape!

"Hoe kom die ding so sonder trekgoed deur,

En sonder leier? Arrie, baas, ek wil nou

Die storie goed uitpluis, want vir ouseur

Is so 'n Bolands grappie maar 'n gril nou!

"Ek glo daar net niks van nie: ja, al sweer

Baas op sy dawie, dis die egte waarheid.

Ons swartgoed word gefop een, twee, drie keer--

Maar nooit nie weer! Ag, oubaas, dis 'n naarheid

"Om sulke dinge vir ou Klaas te sê:

Ek weet mos goed, daar is mos niks van waar nie!

Waar het die ding voorheen so lank gelê?

Of was dit in die outyd nog nie klaar nie?

"'n Ysterperd, vervlaks, sê seur, wat spuit,

En vuur blaas uit sy neus en uit sy ore;

'n Perd, wat harder as 'n snip kan fluit,

En nooit nie flou of steeks is op sy spore;

"Wat agter hom 'n tien stuks karre trek--

Arrie, die perd is bobaas van die pêr'e!

Maar seur, ons swartvolk is nie almal gek,

En baas is neus verby met baas se têre.

"Dis koddig in die Boland--ja, dis waar,

En dit wil ek ook glad nie nou bestry nie:

Die swartgoed self dra onderbroeke daar,

En spog daarmee: arrie, jy wil nie bly nie!

"En my oorlede vader het gesê--

Hy was nog slaaf en hy het nooit gelieg nie--

'n Bolands baas het in 'n bal gelê

Te kyk, of hy nie daarin rond kon vlieg nie:

"Nou ja, ek sien nie in, hoedat 'n bal

Met man en muis so in die lug kan swewe--

Wie dit probeer, is seker gek, en val;

Miskien verloor hy daarby nog sy lewe.

"Maar nooit het ek gehoor van so 'n perd,

Wat rondgalop of draf op ysterspore--

'n Dier, wat nie eers maanhaar het of stert,

En net 'n skoorsteen vir sy mond en ore!

"Foei, oubaas, foei! Baas skeer met ons die gek:

Maar ons word nooit van sulke grappies grys nie!

'n Ysterperd met vonke in sy bek--

Nee, dit maak oubaas nooit vir outa wys nie!"

* * *

"Maar hoor, eerwaarde, het ek goed begryp?

Ekskuus, maar ek kan byna dit nie glo nie:

So iets steek mos 'n mens nie in sy pyp

Om uit te rook--ek kom dit nie te bo nie!

"Eerwaarde sê, U het dit self gehoor?

Nou goed! Maar dit is koddig, dat die mense

My nooit daarvan vertel het, of daaroor

Gepraat het, en eerwaarde weet, my wense

"Is altyd nuus te weet; maar ek moet sê,

Eerwaarde se geskiednis neem my asem

Glad weg! 'n Skuit, waarin 'n dorp kan lê,

En wat gedrywe word deur wind en wasem;

"'n Ysterskuit, wat honderd treë lank

En dertig treë breed is--dis 'n wonder!

En as ek hier so stil sit op die bank,

Eerwaarde, kan ek dit nie glo nie sonder

"'n Sterk bewys. Ek sê nie, dat U jok--

Nee, waarlik nie!--maar U het misgereken:

'n Mens spring somtyds rond net soos 'n bok,

En weet nie, wat sy woorde reg beteken.

"Hoe kan die skuit so oor die see gaan seil?

Waar sou dit heen, eerwaarde, as daar storm is?

So somaar weg te vlie, net soos 'n pyl,

Dit kan hy tog nie, as hy so enorm is!

"Ek weet, die ark van Noag was al swaar,

En volgelaai met leeus en olifante--

Dit staat so in die Bybel en is waar--

Miskien met meubels ook soos ledikante?

"Maar nie in Eksodus of Genesis,

Eerwaarde, kan ek van 'n stoomskuit lees nie;

Neem my nie kwalik, maar U het dit mis:

So iets, eerwaarde, is daar nooit gewees nie!"

* * *

"Aan spoke? Kêrel is jy mal? Jy weet,

Daar is geen spoke nie: dis 'n versinsel.

Jy het nie daar die regte waarheid beet;

Dit stryk nie met 'n Kristen se beginsel.

"Dié stories is maar laf! Ja, glo dit wel,

Hiernamaals gaan ons almal na die hemel

As salige, of sondaars na die hel:

Hoe kan die lug dan so met spoke wemel?

"En het jy van jou lewe ooit gewaar

'n Spook? Nee, kêrel, en geen mens op aarde!

Die leuens sit so goed nie inmekaar,

En het vir my ook nie die minste waarde."

* * *

Nou ja, oom, outa, neef, ek skeer die gek:

Dis amper tyd, dat ek daarmee al klaar is!

Die dinge is mos bo ons vuurmaakplek--

Maar wie kan sê, dat hulle nog nie waar is?

Oom Gert Vertel en Ander Gedigte · 第 2 / 4 段