Is daar genoeg vir een: wat nou gedaan,
As jy 'n vrou het, kinders ook? Vergaan
Van honger? Nee, ou jong, jy moet maar bly
Stil by jou mame, vrolik aan haar sy.
Ag, akeldissie, het 'n vrou jou beet?
Kêrel, ek voel vir jou, ek stort 'n traan!
Hoe kon jy ooit so iets, ou man, begaan?
Jou hart is mos jou eie: laat dit bly;
Vry na jou mame, as jy tog moet vry!
_Akeldissie aan My_:
Ag ja, Tweebene, ek sit in die klem,
Vas in die ou slagyster van 'n vrou!
Haar mondjie, man, dit is so rooi as bloed;
Haar hare, man, dit is so swart as roet;
Haar stemmetjie as wind, wat oor die baai
Die soetste deuntjie fluister, as dit waai;
Haar ogies net soos sterretjies so mooi;
Haar wangetjies as kersies net so rooi;
Haar tandjies, as my eie, net so wit
As seesand of 'n appelkoos se pit:
Sy is die mooiste meisie op die veld;
Sy het ook, soos ek hoor, 'n bietjie geld:
Nou het jy alles, man; ek moet gaan trou,
Al hou jy my ook agter met 'n rem!
Jy praat, Tweebene, net asof jy dwars
Deur heel die formulier gekruip het. Jy--
Wat weet jyself van meisies, van 'n vrou?
Jy is mos nie 'n vent, van wie hul hou;
Jyself het mos 'n meisie nooit gesoen--
Ek het dit duisend male al gedoen!
Jy weet niks van die pret. Verbeel jou maar,
Jy het in een minuut so opgegaar
Die ganse pret van heel die wêreld: dan
Weet jy nog niks, of amper niks, daarvan!
Laat staan maar, man, al jou bangmakery:
Jy praat my tog nie om, selfs as jy bars!
My hele twis met mame is maar dit:
Ek wil gaan trou en mame wil nie ja sê.
My meisie is kordaat; ons is geskik
Een vir die ander; nie te arm; en ek
Het ook 'n bietjie oulappe gespaar
Om bruilofsfees te vier op Nuwejaar.
Die kinders is nog in die verte, man:
'n Mens hoef nie so vroeg hom in te span!
En honger ly? Nou ja, dit kan ek ly,
As sy maar by my is en aan my sy!
En as my kinders later vir my pa sê,
Sal op die klippers tog nog vliegies sit.
_Akeldissie se Mame aan ons al twee_:
Wat praat julle die liewe lange dag,
Wat wil jy hier vir Dissie wysmaak, jy
Tweebene? Affronteer jy nog vir my,
En staan vrygeestig ginnegaap en lag?
Ek is sy ma! Ek wil nie, dat hy trou:
Hy is nog nie agter die ore droog;
En ek is nog sy mame en sy voog!
Wat moet hy weet van kinders en 'n vrou?
Tweebene, dink jy nou, dat dit betaam
Om met 'n kind soos Dissie oor die saak
Te sanik? Is dit iets, wat jou moet raak?
Vervlaks, Tweebene! Man, jy moet jou skaam!
Ek bring my kinders op in sedigheid:
Hul het van sulke sake nie te weet!
En Dissie moet maar al jou praat vergeet,
Want as hy groter word, is daar nog tyd.
Nou moet hy maar die nonsens uit sy kop
Glad uitveeg. Hoor jy, Dissie, wat ek sê?
Ek wil geen koppigheid en nukkies hê:
Ek weet, die vroumense die sal jou fop.
Jy is so onnosel, Dissie! Elke meid
Kan jou net vir 'n appel en 'n ei
Laat bokspring na die maan, en dis vir my
'n Teken weer van jou wysneusigheid.
As jou oorlede pa nog hier was, dan
Sal hy jou goed die kop gewas het. Nou
Dink jy, dat jy kan kinders kry en trou--
Ja waarlik, soos 'n opgegroeide man!
En jy, Tweebene, styf hom in sy nuk:
Jy praat met hom oor dinge, wat 'n kind
Glad nie verstaan nie. Dissie is nog blind,
En moet gehoorsaam wees, en moet maar buk.
Ek sê vir jou, daar kom niks van! Hy trou?
Hy, half onnosel nog, hy kinders kry?
Hy bruilof vier om later weer te skei?
Vir my 'n skoondogter, vir hom 'n vrou?
Nee, glo vir my, jy het dit mis! Ek sweer,
Daar kom niks van nie! Dissie, jy bly hier;
Jou meisie kan met iemand anders vier
Haar bruilof; jy het nog te veel te leer.
_'n Jaar later_.
Ek was weer op die veld, en die son het so mooi
Goud, silwer en goud, oor die klippe gestrooi;
Die wind het weer lekker die bossies geswaai,
En fluks oor die geil afrikaners gewaai;
Die lug was so helder, so soet en so blou;
Die hele veldwêreld was weer uit die rou;
En orals was blommetjies, orals was groen;
Die gras en die grond het die son weer gesoen;
Daar onder, daar waar die oliewenboom staan,
Het vinke hul neste gebou; en die graan
Was hoog in die koringveld, groen as die see;
En ver in die vlakte was skape en vee:
En ek was gekom om te vra, of miskien
Ek Dissie of Dissie se mame kon sien.
Ek het by die klippe gestaan, en geskreeu
In vlot akeldissietaal toe vir die twee;
En daar het 'n klein akeldissie gekom
Gekruip uit sy skeur. En ek vra toe vir hom:
"Waar 's Dissie? Ek glo mos, dis Dissie se huis.
Is hy, of miskien mevrou Dissie nou tuis?"
Die kleintjie, die kyk my onnosel oorheen,
En slaan met sy stertjie so fluks teen sy been,
En sê toe verleë: "Ouseur, ek sal vra,
As ouseur 'n oomblikkie wag, vir my ma."
Daarmee gaan hy weer soos die blits in sy skeur,
En een-twee-drie later toe kruip hy daardeur,
En agter hom kom Akeldissie se vrou:
Die vent het--ja regtig, dis waar!--mos getrou,
En daar was vyf kinders! Ek moes toe ook praat,
Met klein mevrou Dissie gesels, ja tot laat,
Tot Dissie toe self--hy was uit op die jag--
Terug het gekom; dit was diep in die nag.
En toe het ou Dissie my alles vertel;
En die hele geskiednis voor oë gestel.
"Die ergste van alles,"--so sê hy vir my--
"Die ergste van alles, waaronder ek ly,
Is dat ons so oud worde, ek en my vrou:
Ons oudste seun wil al--verbeel jou--ook trou!"
Slampamperliedjies.
I.
Boomsingertjie, jy fluister
Die liewe lange dag
Geheimpies aan die keurbos,
Waaroor die miere lag.
Jy sanik so jou deuntjies
Eentonig op; jy sing
Van son-op, tot die son verdwyn,
En skemer ons omring.
Boomsingertjie, ek wonder,
Ken jy ook my geheim?
Vertel jy dit die keurbos,
Die miere ook, op rym?
II.
Daar, waar die uitspan by die waboom
So kaal staan op die veld,
Daar lê 'n half-verskroeide blom,
Bleek deur die son, verdor en krom:
Jy 's nie daarop gesteld.
Daar, waar die kruispad langs die waboom
Verbygaan oor die veld,
Daar lê 'n uitgedroogde mol,
Half sonder vel en sonder wol:
Jy 's nie daarop gesteld.
Hier in die dorp, waar ons nou lewe,
So ver nie van die veld,
Daar 's baie uitgedroog en dom,
Daar 's baie bleek, verdor en krom:
Jy is daarop gesteld!
III.
Van Noodt, Van Noodt, ek sê vir jou,
Die mense pla my met jou storie;
Vertel my, ag, jy was so hard,
En nie geraak deur 'n memorie.
Ek weet nie, of die mense lieg--
Dis alles uit die ou swart dosie!
Maar jy is tog--miskien onreg--
Vir al ons mense nog 'n josie.
Van Noodt, Van Noodt, jou tyd kom weer!
Al het jy ook maar net 'n greintjie
Van goedheid in jou, dis tog werd
'n Lofspraak, is dit maar 'n lyntjie.
Daar is geen mens so aaklig goed,
Daar is geen vent so vals en swart,
Of in sy bors klop daar nog deur,
'n Brokkie van 'n mensehart.
Van Noodt, Van Noodt, daar in jou graf
(Waar het die mense jou begrawe?)
Daar kan jy deurslaap tot die dag,
As die geskiednis jou kom lawe
Met lof en prysgeskal, en jou
Gedoentes nie meer as misdade
Gereken worde, goewerneur,
Met al jou papbroek-hemerade!
IV.
Gee vir my 'n trouring;
Gee vir my 'n vrou;
Gee vir my 'n babetjie:
Neem die res vir jou!
Wat wil jy met trouring?
Wat wil jy met vrou?
Wat wil jy met babetjie?
Jy, nog in die rou?
Neem die werk as trouring;
Neem jou land as vrou;
Die toekoms as jou babetjie:
Dis genoeg vir jou!
V.
Krulkop-klonkie,
Waarvandaan
Kom jy hierso
Gou-gou aan?
Van die hemel, krulkop-klonkie, van die sterre, van die maan?
Krulkop-klonkie,
Is jou hart
Nog nie klaar nie,
Nog nie swart?
Of is dit al lank verdor al, grysgemaak deur al die smart?
Krulkop-klonkie,
As jy lag,
Vlug die donker
Uit die nag
Deur die agterdeur na buite, en dit skyn hier as die dag.
Krulkop-klonkie,
Wat wil jy
Op die wêreld
Hier by my
Nou kom haal of lewer, klonkie? Wat is hier te gee of kry?
Krulkop-klonkie,
Slaap gerus,
Van die drome
Onbewus:
Vroeg genoeg kry jy nagmerrie; wie sal jou dan, klonkie, sus?
VI.
Jy sê vir my: "Ou boetie, wat moveer jou?
Dink jy, die mense lees jou versies? Glo,
Ons het nog ander goed om oor te babbel,
En hou nie van slampampertjies hier bo."
Nou goed, ou boet; ek skrywe nie vir jou nie:
Die windswaal sing--nou, waarvoor moet hy sing?
Vir jou en my? Nee, wragtie, vir homselwe,
Net om hy iets moet sê, iets, iets, moet bring!
En ek ook, soos 'n windswaal, maak my versies
Nie maar vir jou--nee, glad nie; want ek weet,
Jy hou mos nie van versies, jy, wat trots is,
Omdat jy dink, jy het die wysheid beet.
Ek sing net vir myself: uit puur verstrooiing
Maak ek slampamperliedjies net soos dié:
'n Mens moet huil of lag, moet loop of stil sit,
En ek moet versies maak, of praat met--wie?
VII.
Ek sing van die wind, wat tekeer gaan;
Ek sing van die reën, wat daar val;
Ek sing van ons vaal ou Karooland;
Van blomme, wat bloei by die wal;
Van water, wat bruis oor die klippe;
Van duikers, wat draf oor die veld;
Van voëls, wat daar sing in die bossies--
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!
Vir my sing maar liewers van blomme;
Van al, wat die vlei laat verkleur;
Van al, wat die sonskyn laat spartel;
Van voorjaar en najaar se geur;
Vir my sing maar liefs van die water;
Van duikers, wat draf oor die veld;
Van rotse en branders en wolke--
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!
VIII.
"Ou boetie, slaan jou kop nie teen die prikkels;
Neem, wat die lewe gee, en maak ekskusie:
Want anders word jou beste vrind jou vyand,
En broei jy net maar stryd en rusie."
Ag nee, ou boetie, laat my maar slampamper:
Somtyds is oorlog nog die beste vrede.
Diep in die klei daar steek die diamante:
'n Mens moet grawe--dis die rede!
IX.
'n Skoenlapper die vlieg daar bo
En fladder oor die rose daar:
Ek sien hom en ek word gewaar,
Die son die skyn daarbuite, glo.
Netnou was dit nog wolkerig,
En outa Adam het gesê:
"Kleinbaas, ons sal weer donder hê;
Ja waarlik, basie, kyk hoe dig!"
Nou is die wolke weg: die straal
So geel as goud, lê oor die rooi,
Die skoenlapper die speel weer mooi,
En vlieg weer op om neer te daal.
So is dit in ons wêreld: nou
Is alles weer so wolkerig,
Die toekoms swart, met donker dig;
Dan somaar speel die son om jou.
X.
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?
XI.
Weer hoor ek iemand vra:
"Wat meen jy dan daardeur,
Om sulke versies op te maak,
So sonder smaak of geur?
Wat het ons met 'n voël,
Met blou of geel of groen--
Met sulke vrae, wat het ons,
Of jy ook, dan te doen?
Vertel ons iets wat deug,
Iets, wat 'n mens onthou,
Iets, wat 'n mens van nut kan wees,
Wat beter pas vir jou."
Ek het jou al gesê,
Ou boet, ek sing alleen:
Verstaan jy daarvan niks--nou ja,
Jy is nog nie gespeen.
XII.
Kriekie, jy, wat op die solder sanik,
Wat het jy tog vir ons te vertel?
Glo jy ouderwetse ou geheimpies?
Is daar iets, waarop jy agting stel?
Of moet jy, dag in, dag uit, maar sanik,
Kriekie, tot ek dol word van jou dreun?
Is jou lofsang maar 'n kriekie-klaaglied,
En jou deuntjie, kriekie, maar 'n kreun?
XIII.
Klossies, jul bewe en bibber:
Is dan die aandlug so koud?
Moet julle so teen die westewind koes?
Sal hy vir julle die blou en die goud,
Alles verwoes?
Klossies, jul bewe en bibber:
Drink maar die son, en wees bly!
Goud, blou en rooi is die lewe; en sag
Waai ons ou westewind koel oor die vlei:
Nog is dit dag.
XIV.
Twee dinge sê ek vir jou, ou boetie--die een is: "Vergeet, wat jy kan!"
Die ander: "Onthou, wat jy moet, ou boetie!" Is dit nou te veel vir 'n man!
Twee dinge sê ek vandag vir myselwe--die een is: "Onthou, wat jy kan!"
Die ander: "Vergeet, wat jy moet!" Dis amper te veel om te verg van 'n man!
XV.
Gistraand in die maanlig daar buite
Het ek stil op die seestrand gestaan,
En die weerlig het bo op die ruite
Van die vensters geel vonke geslaan.
En ver, waar die see maar 'n lyn was,
Waar die hemel en sterre hom soen,
Waar die vloed kristalhelder en rein was,
En die branders half wit en half groen,
Het ek weerlig gesien op en neer gaan,
As silwer en goud in die lug,
As siele, wat bo na die Heer gaan--
Stil, sonder 'n klag of 'n sug.
XVI.
Nie maanlig meer, maar wolke orals rond;
Die branders groot as berge; en die see
Kook oor en raas; die hele lug is swart,
Swart as 'n kool, of diepswart as die mond
Van 'n spelonk by nag gesien; en hard
Slaan teen die see die donder en raas mee.
Hier staan ek aan die strand, en om my woel
See, donderslag en bliksem. Daar 's 'n lig,
Dig by die rotse: dis 'n skip se vuur;
Want op en neer dans hy daar--en ek voel,
My hart het jammer vir die see se plig
En vir die skip se prys: dis tog so duur!
Vanmôre was die see weer stil; die strand
Gestrooi met seegras, maar met meer as gras;
Want daar was een--hy het sy prys betaal,
En lê bankrot en brandarm op die sand,
Half met sy hand nog aan 'n houtblok vas--
'n Lyk met ope oë, doodsbleek en vaal.
XVII.
Dingaan, die Soeloe, was 'n duiwel:
Handlanger van die hel was hy!
Hy het ons mense hard geteister,
Windmaker in sy dwinglandy.
Dingaan, die Soeloe, was 'n duiwel,
Maar hy is lankal dood, en nou
Het ons geen mens, wat ons kan teister--
En tog sit ons nog in die rou!
XVIII.
Klim op, klim op, met die slingerpad!
Klim op, klim op, tot jy staan daar bo,
Waar jy al ons land in 'n oomblik vat,
Van die Suurveld af tot die kaal Karoo!
Klim op, klim op, langs die slingerpad!
Klim op, tot jy bo-op staan; en kyk,
Hoe mooi ons wêreld is! Dan weet
Jou siel die waarheid--want jy is ryk!
XIX.
Die see het juwele, robyne,
So rooi as 'n korrel granaat;
Die see het sy lyke, geraamtes,
Van elke verdrinkte Janmaat.
Die see het sy skulpe, wat, mooier
As ooit ook 'n mens dit kan maak,
Daar pronk in paleise van seegras,
Waar ewig die branders om kraak.
Die see het 'n hart: in die diepte--
Waar selfs nie 'n kreef kan bestaan,
Waar lewens nog laer as muggies
Gebore word om te vergaan--
Daar setel sy siel, en dit uiter
In elke verandring sy wil!
Verslinger die rotse die branders,
Die see sal daar nimmer van gril;
Want ewig en altyd onsterflik
Is diep in die diepte sy krag,
En laag in die land van sy lewe
'n Siel, wat vir ewig kan wag.
XX.
Die see is wild, die see is blind:
Hy slaan so oor die rotse grof;
Veraf nog dreun sy donder dof,
En oor hom huil die noordewind.
Die wind is wild, die wind is kwaai:
Hy gons die bome deur en breek
Die takke van die stam, en steek
Die haelbui aan met sy lawaai.
Die hael is wild, die hael is sterk;
Hy maak die see se branders glad,
En stamp die koringvelde plat,
En breek die sekretaars se vlerk.
Nog wilder as die see en wind,
Nog strammer as die haelstormsnood,
Nog blinder as die drie--die Dood,
Wat op jou voorkop sit, ou vrind!
Die Einde.
Gee vrede en rus vir ons almal, wat lam is van swerwe,
Moed en geduld vir ons almal, wat bang is te sterwe;
Gee vir ons hart soos in somer die sap vir die bome;
Gee vir ons krag vir die werk en verstand vir die drome;
Gee, dat ons lag, as die lewenslas druk op ons harte;
Gee vir ons hoop in die donkerste nagte en smarte;
Gee vrede en rus vir ons almal, wat lewe en erwe
Smart en verdriet, met die reg om uiteindlik te sterwe.
Gee vrede en rus; en ons vra nie iets anders, en luister
Stil na die wind, wat so sag in ons ore kom fluister:
"Moed, mense, hou moed!
Die kwaad sal verander in goed:
Die môrelig kom uit die duister."
BY ONS IS OOK TE KRY:
=DICHTERS UIT ZUID-AFRIKA=
BLOEMLEZING
uit de gedichten van
CELLIERS, TOTIUS, LEIPOLDT, MALHERBE,
JOUBERT, LANGENHOVEN, MARAIS,
KEET, WASSENAAR EN FAGAN.
* * * * *
Saamgesteld door
Dr. E.C. PIENAAR B.A.
MET INLEIDING EN WOORDVERKLARING.
* * * * *
DERDE HERSIENE DRUK.
* * * * *
PRYS EXTRA GEBIND 5/6 POSVRY.
VRA VANDAG NOG 'N EKSEMPLAAR AAN DIE UITGEWERS VAN HIERDIE BOEKIE.
NUWE BOEKE
By die uitgewers van hierdie boekie het die volgende nuwe uitgawes
verskyn:
DANIE SE HOOP VERVUL
'n voorbeeld vir ons Afrikaanse seuns
deur
Mevr. PHILIP OELOFSE.
'n Ekstra boekie vir 'n geskenk.
=3/9 posvry=.
* * * * *
TWEE RAMPE EN TWEE GELUKKE
deur
Ds. J.H. KRUGER.
Aan hierdie boek is die twede prys toegeken in die prysvraag,
uitgeskryf deur ons firma vir die beste werk in Afrikaans.
=6/- posvry=.
* * * * *
HUIS EN VELD
deur
G.R. VON WIELLIGH.
=5/6 posvry=.
Die boeke van Meneer v. WIELLIGH behoef geen aanbeveling nie.