Gewoonlik is dit 'n siddering en 'n bewing vir 'n breuk van

Produced by Christine D. and the Online Distributed

Proofreading Team at http://www.pgdp.net

OOM GERT VERTEL

EN ANDER GEDIGTE

DEUR

Dr. C. LOUIS LEIPOLDT

MET 'N INLEIDING

DEUR

JOHANNES J. SMITH.

DERDE DRUK (Hersien)

J.H. DE BUSSY, BEPERK, PRETORIA.

HOLL.-AFRIK. UITGEVERS-MIJ. V/H J. DUSSEAU & Co., KAAPSTAD

1921.

INHOUD.

Bls.

Opdrag "Aan almal, wat voorgegaan het" VII

Voorrede IX

Inleiding XI

Gedigte.

Oom Gert vertel 3

Oktobermaand 13

Aan 'n ou Boek 16

In Amsterdam 17

In die Boesmanland 20

Op die Kerkhof 21

In ou Booi se Pondok 22

Die Verkleurmannetjie 29

'n Nuwe Liedjie op 'n ou Deuntjie 30

Die Sterretjie 32

Aan my ou Vrind 33

In die Konsentrasiekamp 35

Die ou Meul 37

Kleingelowige 38

Mordegai 42

Aan 'n Seepkissie 44

Die Doringboom 46

Die Soutpan 47

Japie 48

Op 'n Leiklip 49

Op my ou Karoo 52

My nuwe Vaderland 54

Vrede-aand 56

Die ou Blikkie 60

Woltemade se Spook 64

Lenteliedjie 69

Die Apie 71

'n Praatjie oor die Trougees 73

SLAMPAMPERLIEDJIES:

I. Boomsingertjie, jy fluister 79

II. Daar, waar die uitspan by die waboom 79

III. Van Noodt, van Noodt, ek sê vir jou 80

IV. Gee vir my 'n trouring 81

V. Krulkop-klonkie 81

VI. Jy sê vir my: "Ou boetie, wat moveer jou? 82

VII. Ek sing van die wind, wat tekeer gaan. 83

VIII. "Ou boetie, slaan jou kop nie teen die prikkels 84

IX. 'n Skoenlapper die vlieg daar bo 84

X. Sekretarisvoël met jou lange bene 85

XI. Weer hoor ek iemand vra: 85

XII. Kriekie, jy, wat op die solder sanik 85

XIII. Klossies, jul bewe en bibber 86

XIV. Twee dinge sê ek vir jou, ou boetie 86

XV. Gistraand in die maanlig daar buite 86

XVI. Nie maanlig meer, maar wolke orals rond 87

XVII. Dingaan, die Soeloe, was 'n duiwel 88

XVIII. Klim op, klim op, met die slingerpad! 88

XIX. Die see het juwele, robyne 88

XX. Die see is wild, die see is blind 89

Die Einde 90

OPDRAG.

"Aan almal, wat voorgegaan het".

Die son gaan onder in die weste, agter

Die grysvaal koppies van ons ou Karoo;

Die hele lug is rooi, en goud, en silwer,

Met elke wolk half-wit as sneeu daarbo;

En saggies oor die veld hier val die skemer.

Die laaste glans en jongste gloed verdwyn

Van elke berg, waar nog so kort die kranse

Geverf was deur die son met karmosyn.

Oor al ons land daar trek die nag 'n skadu,

Groen as die blare van 'n sederboom.

Die hamerkop verlaat die vlei; die reier

Stap na sy nes om op een been te droom;

Die naguil vlieg, en vlieënd klop sy vlerke;

In die tabaktuin gons die duiwelby;

En die aandblommetjies is algar ope

Om wierook oor die vlakte te versprei.

Waar in die weste, as 'n muur van purper,

Die bergrant teen die lug 'n skadu bou,

Daar stadig klim die volmaan na die sterre

En haal die hele wêreld weer uit rou.

Sag is die nag en slaaprig al die wêreld--

Sag as die wit gesiggie van 'n kind.

Dof in die maanlig skitter net die sterre,

En rustig in 'n klipskeur skuil die wind.

Slaap rustig so, jul almal, wat geworstel,

Slaap so, jul algar, wat gesneuwel het!

Hoe hard ook was die dag, die nag gee slaaptyd:

Na stryd kom slaap--dis die natuur se wet!

Kan julle op ons neerskou as die sterre,

Kind, vrou, en man, wat in ons tyd van nood

Die bitter kelk gesluk het en gevinde

'n Rus vir ewig in 'n heldedood,

Neem dan, wat ek (die nooit geen kans gehad het

Die laaste stap te doen uit liefdeplig)

As brokkies vir 'n eerbewys gebou het--

'n Nietig reeks van rympies--my gedig.

Ja, nietig, want geen sterretjie kan dowwer,

In vergelyking met jul voorbeeld, blink--

En tog, miskien, dis moontlik, dis 'n weerklank,

Van wat vir altyd in ons harte klink!

Die maanlig gooi 'n silwerwaas oor velde,

Waar eens die grys kruitwolke het gerol;

En elke plaas, wat vroeër van rook geruik het,

Is met die geure van aandklossies vol.

Maar selfs die silwerlig kan nie verberge

Die tekens van die tyd tien jaar verby:

Maak net jou oë toe, en tussen wierook

Bespeur jy nog die kruitrook op die vlei!

Ja, man, wat op die slagveld het gesneuwel,

En in die kinderkampe, kind en vrou,

Slaap rustig stil, julle, wat so geworstel,

En so gesterwe het--want ons onthou!

VOORREDE.

As 'n mens 'n Voorrede skrywe, dan het hy die reg om van homself te

praat. Ek wil egter van die reg afsien, want van myself is daar niks

te vertel nie. Slegs dit: hoe ek daartoe gekom 't om die bundel

rympies te laat druk. En miskien is dit nodig, dat ek die leser 'n

verklaring van sulke astrantheid gee.

Vir jare het ek my vermaak met versies draai en met die loop van tyd

het ek 'n hele boel van die rympies in my tafellaai opgegaar. Dit was,

en is, 'n onnosel vermaak, waarmee ek net maar myself gekwel 't,

deurdat ek somtyds nie 'n rym in die hande kon kry nie, en nog meer

kere nie goed in woorde kon uitdruk, wat ek gevoel en ondervind 't.

Toe het ek terloops eenmaal met my vrind Smith oor ons taal gepraat,

en hom ook een en ander van my versies gewys. Hy was vrindelik genoeg

om te sê, dat dit hom geïnteresseer het; en later het hy my wysgemaak,

dat dit ook miskien andere van ons mense kon interesseer. Hy het

sommige van die rympies uitgekies--dié wat in die volgende bladsye

staan--en het my gehelp om dit vir die pers klaar te maak.

Die leser sien dus, dat die boekie in 'n seker sin soveel sy, as my

kind is, en dat hy 'n deel van die lof, as daar lof is, of van die

blaam, as daar blaam is, moet dra.

Vir die gevoelens, wat in die gediggies geuiter word, is ek alleen

verantwoordelik. Ek weet natuurlik nie, of die gevoelens byval sal

vind nie by ons mense, wat nog gediggies lees; en ek vra ook geen

ekskuus daarvoor, al is daar hier en daar 'n reël of 'n woord wat ek

nou, as ek weer die rympies moes oorskrywe, nie sou behou nie.

Die meeste van die gediggies is gemaak geword, toe ek nog half flou

was met die skok van die oorlog, en toe die donder van die Engelse

kanonne nog altyd in my ore was. Miskien het dit my snare al te veel

laat tril. Miskien is dit beter, dat ons nie meer oor sulke goed praat

of sing nie. Maar daar is ook 'n ander kant: en dit kan wees, dat daar

onder my lesers is, wat nie maklik vergeet nie, hoe gou hul ook

vergewe. Ek laat dus maar die versies, soos ek hul geskrywe het, in

die hoop, dat die leser hul met 'n bietjie geduld en lankmoedigheid

sal lees, en nie 'n al te strawwe oordeel sal vel oor

_Die Skrywer_.

LONDEN, Oktober 1911.

BY DIE TWEDE DRUK.

Die spelling is in ooreenstemming gebring met die voorskrifte van die

Suidafrikaanse Akademie; en hier en daar is 'n woord verander, of die

punktuasie verbeter. Vir die orige is die gediggies nog, soos ek hul

oorspronklik geskrywe het.

C.L.L.

PRETORIA, Mei 1917.

INLEIDING.

'n Teken van Lewe en Groei.

As 'n gesonde kind 'n seker leeftyd bereik, dan begin hy praat, en sy

moeder is groots. So ook met 'n volk: solank as hy nog jonk en klein

is, is dit voldoende vir hom om na die stem van die moederland te

luister; maar sodra hy verstand begin kry, wil hy ook self praat--op

sy eie manier. Hoe krom en skeef die eerste woordjies vir volwasse ore

ook mag klink, dit getuig van lewe en vooruitgang--en aanhou!

Gedurende die laaste helfte van die neentiende eeu het die Afrikaanse

volk selfbewus begin word, en gevolglik ook begin lisp. Toe kom die

gebeurtenisse van die end van die eeu; en dié het sy groei sodanig

verhaas, dat dit bykans onmoontlik is om in die forse mannetaal van

vandag die dowwe stemmetjie van tien jaar gelede te herken.

Sover ek weet, dagteken die allereerste geskrif, waarin die

Afrikaans-Nederlandse taalvorm op 'n bewuste wyse aangewend word, uit

die jaar 1861. Ons skryftaal is dus uiterlik vyftig jaar oud; en wat

beteken vyftig jaar in die lewe van 'n volk? Elkeen weet, hoeveel eeue

dit geneem het om 'n standaardtaal in Duitsland of in Engeland te

ontwikkel; en in vergelyking met dié lande gaan alles by ons snel,

verbasend snel--maar tog nie te snel nie, want ons lewe mos nie meer

in die Donker Middeleeue nie, en ons hoef ook nie te wag nie op die

koms van 'n Dante, 'n Luther of 'n Chaucer, om vir ons uit 'n legio

van dialekte te kies of te smee, wat ons reeds besit--'n algemene

Afrikaanse taal.

Die Taal is die Volk Self.

Dit is 'n ou gesegde, deur alle eeue heen gehoor, dat volk en taal ten

nouste aan mekaar verbonde is. Die taal weerspieël die karakter en die

geskiedenis van die volk, wat dit praat; en 'n volk gee alleen dan sy

taal op, as hy nie meer as selfstandige volk kan of wil bestaan nie.

Die mag van die volkstaal as 'n middel om die volk te ontwikkel en aan

te vuur, is ook oorbekend uit die geskiedenis van byna elke nasie ter

wêreld. Tereg kon Willems, die wakkere en ywerige kampvegter van die

Vlaamse Beweging, getuig:

O Belgen! uw geluk is aan uw taal verbonden;

Slaat uw geschiedrol op; waar gij uw recht geschonden,

Uw heil vertreden vindt, de landspraak vindt ge er bij,

En haar verdelging steeds het doel der dwinglandij;

Want om naar eisch der kunst een moedig paard te temmen,

Moet men door 't slaafsch gebit, vooral zijn mond beklemmen;

Die kunstgreep is aan Spanje en Frankrijk nut geweest,

In 't onderdrukken van den Nederlandschen geest.

En wat omtrent die taal van die Afrikaner? Vorm die 'n uitsondering op

die reël? Geensins. Die Nederlandssprekende[1] Afrikaner--'n

afstammeling nie alleen van Hollandse, maar ook van Duitse en Franse

voorouers--het, deur 'n verblyf van twee eeue en 'n half, onder 'n

Afrikaanse son en in 'n Afrikaanse omgewing, kenmerkende eienskappe

ontwikkel, wat aan die Hollander van vandag totaal vreemd is. Dié

eienskappe word natuurlikerwys in die taal van Suidafrika weerspieël;

en juis dié feit is een van die grootste redes vir die skrywe van 'n

Nederlandse taalvorm, wat, ewenas die Afrikaner self, uit Suidafrika

geboortig is. Ons eenvoudige, maar doelmatige grammatika en die vele

tiepiese woorde en uitdrukkinge, in Suidafrika ontstaan of uit ander

tale ontleen om in die behoefte van die land te voorsien, roep luid om

erkenning, en moet ook erken word, as ons die ontwikkeling van ons

volk nie onnodig wil strem nie. En ook niks minder as algehele

erkenning is nodig; want om aan tiepies Afrikaanse woorde Hollandse

stertjies te gaan las of geslagte toe te ken, en ons dan te wil

wysmaak, dat dit goeie "Vereenvoudigde Hollands" is, is niks anders as

broeikaswerk, wat die taalgevoel van Hollander sowel as Afrikaner

kwes.

Laat die Afrikaner maar eers eenmaal besef, dat sy eie

Afrikaans-Nederlands ewe goed en ewe bruikbaar Nederlands is as die

hoogste Nederlands van Europa, ja dat dit vir hom 'n baie dienliker en

geskikter werktuig is, en hy sal ook gou genoeg by magte wees om te

boek te stel alles, wat in en om hom plaas vind.

Die Afrikaanse taalvorm kan tog alleen die draer van 'n eg

nasionaal-Afrikaanse letterkunde word: dit is immers bewys, nie alleen

deur die werke van 'n Celliers en 'n De Waal, maar ook deur die onmag

van hoogbegaafde Hollandsskrywende Afrikaners om tot die hart van die

volk deur te dring. Die "Hoog-Hollands" van die Afrikaner bly vir die

Hollander tog nog altyd "amper Hollands", en vir die Afrikaner "geen

Afrikaans". Dit is dan ook waarskynlik vir alle partye beter, as elke

voëltjie in die vervolg maar sing, soas hy gebek is.

Kan Afrikaans 'n Selfstandige Skryftaal word?

Elke goeie skryftaal moet aan twee eise voldoen: dit moet in staat

wees om ons gedagtes op 'n praktiese, ondubbelsinnige wyse weer te

gee, en dit moet ook 'n seker mate van verhewenheid hê. Nou, wie kan

bewys, dat die Afrikaanse taal onmagtiger of minder verhewe is as

enige ander Germaanse taal? Dit is die taal, wat deur 'n hele volk, ja

in die hoogste en aansienlikste kringe van dié volk, gepraat word, en

wat hom ook reeds by magte getoon het om die diepste digterlike ideë

in sierlike woorde te vertolk.

Die bekwaamheid en doelmatigheid van Afrikaans is nooit ernstig betwis

geword; maar meer as een teëstander het sy toevlug geneem tot die

standpunt, dat Afrikaans laag en plat is--'n gebrou van Hottentots en

Hollands, 'n Maleis-Portugese mengelmoes. Mense, wat so praat, laat

hulle vooroordeel met hulle verstand weghol. Hier is die feite:

Afrikaans is so "plat", dat selfs Dominee dit in sy preke op die

preekstoel gebruik, en dat selfs die hooggeleerdste Afrikaner in sy

natuurlike oomblikke hom daarvan bedien in sy huislike omgewing.

Taalvorsers, wat in alle verskimmelde hoekies gegrawe het, het al te

saam nog geen honderd-en-vyftig Indiese en Hottentotse woorde in ons

taal kon aantoon; en onder dié getal is daar nog meer as een, waarvan

die afleiding verkeerd of twyfelagtig is. Die Maleis-Portugese invloed

veral is geweldig oorskat geword, en daar is o.a. geen voldoende

rekening gehou met dié Maleis-Portugese woorde, wat ook in Hollands

bestaan of bestaan het, en wat ons dus waarskynlik deur Holland gekry

het. Maar dis nie hier die plaas om dié onderwerp te bespreek nie, en

ek volstaan dus met daar net op te wys, dat Afrikaans een van die

suiwerste Germaanse tale is, wat daar vandag bestaan, oneindig

suiwerder as Hollands--om nie eers te praat van Engels nie met sy

duisende van vreemde woorde uit elke moontlike taal ter wêreld

ontleen. Nee, die taal self is seker goed genoeg.

Maar wat omtrent die omstandighede? Is dit wel wenslik en prakties om

in die twintigste eeu met 'n nuwe skryftaal aan te kom? Wel seker is

dit. Dit is wenslik, want dit sal ons 'n intellektuele mag en 'n

natuurlike selfstandigheid gee, wat ons onmoontlik met 'n ander

taalstandaard kan verkry. Nou word dit nog dikwels verskonenderwys

gesê: "Hollands is te moeilik; Afrikaans het ek nooit leer spel nie:

ek is dus verplig om my toevlug tot 'n vreemde taal te neem." In

dieselfde gees word ook menigmaal geklaag: "Hollandse boeke val nie in

my smaak nie; Afrikaanse boeke bestaan daar nie, of nie genoeg nie:

gevolglik lees ek net Engels." Die slotsom van dit alles is: die

Afrikanerdom ly skade, en word van sy beginsels vervreem. Die gees tog

is van oneindig groter waarde as die vorm; en sal ons nou, in ons ywer

om 'n seker, vir die Afrikaner verouderde vorm te behou, die gees

veronagsaam?

Die toestande in ons land is baie gunstiger vir die ontwikkeling van

'n nasionale skryftaal, as dit ooit in enige Europese land gewees het.

Daar is by ons, byvoorbeeld, geen teenoormekaarstaande dialekte nie:

inteendeel, ons taal is wonderlik eenvormig van die Kaap tot aan die

Sambesie; en daar kan dus geen stryd ontstaan omtrent die basis van 'n

algemene skryftaal nie.

Ons het ook die voorreg om by die ontwikkeling van ons skryftaal, die

hulp in te roep van die hedendaagse taalwetenskap om vir ons die beste

woordvorme te bepaal in die paar gevalletjies, waar daar wel verskil

van uitspraak bestaan, of om vir ons aan 'n praktiese, wetenskaplike

spelling te help; en ons hoef dus nie, ewenas die Europese nasies, dié

dinge aan die eeue-durende willekeur van die tyd oor te laat nie.

Dan weer is daar die moderne drukpers, wat ons 'n mag gee, waar geen

middeleeuer ooit van gedroom het nie.

Die allergrootste voordeel lê egter daarin, dat ons Afrikaans 'n

spruit is van 'n edel en ou geslag, wat nie alleen in Suidafrika nie,

maar ook in Holland en Vlaandere voortlewe--'n geslag, wat 'n ryke

litteratuur en 'n uitgebreide woordeskat gesamentlik besit.

Vyftig jaar gelede was die taal van die Czechs versmaad en verag,

sonder letterkunde en sonder enige regte: vandag bloei die taal in hof

en skool en universiteit, nieteenstaande die langdurige verset van die

Duitssprekende inwoners van Boheme; en Praag, die hoofstad van die

land, het dosyne boekwinkels vol met werke in die Czechiese taal--ja,

selfs die straatname van Praag is alleen in Czechies te lees. En dit

alles kon binne 'n halwe eeu geskied, en in weerwil van die bitter

teëstand van die Duitse taal met sy wêreldlitteratuur! Voorwaar, die

saak is in Suidafrika nie hopeloos nie.

Twee Taalstandaarde.

Vir my is Afrikaans en Hollands nie soseer twee afsonderlike tale, as

twee afsonderlike standaarde van dieselfde Nederlandse taal, waarvan

die een meer bepaaldelik in Suidafrika, die ander meer bepaaldelik in

Holland tuis hoort. Elke standaard het sy ontstaan te danke aan die

besondere behoeftes en omstandighede van 'n besonder land.

Atties, Dories en Ionies was drie letterkundige standaarde van

dieselfde Griekse taal; en net so kan Hollands en Afrikaans as twee

gewestelike standaarde van dieselfde Nederlandse taal beskou word.[2]

Die "jas" van die Hollander met sy Europese snit en Europese fraiings

is nie so geskik vir die Afrikaanse veld, en sit ook nie so bevallig

op die breë skouers van die Afrikaner, as die welbeproefde "baadjie";

maar desnietemin kan elkeen tog sien, dat jas sowel as baadjie van

dieselfde stof gemaak is.

Een ding staan vas: daar bestaan geen algehele gelykheid meer tussen

die taal van Holland en die taal van Suidafrika nie; maar of ons nou

ook praat van twee tale of van twee taalstandaarde, die verskille

tussen die twee mag nie tot vyandskap voer nie, want hulle bly tog nog

nou verwant, en die bloei en welvaart van die een is van ontsaglike

betekenis vir die ontwikkeling en vooruitgang van die ander.

Afrikaans veral sal in sy wordingstyd veel te leer hê van die meer

ontwikkelde Hollands, en sal ook sy woordvoorraad vir letterkundige en

tegniese begrippe uit die ou Nederlandse taalskuur moet aanvul. Dit

hoef niemand te bevreem nie, want elke wettige en reggeaarde kind het

reg op 'n erfenis, en alle tale (behalwe die basters en die diewe!)

het so geërf.

Ook die Hollandse en Vlaamse letterkunde is gemeenskaplike goed en sal

dit ook altyd bly solank as die Nederlandse taalvorme nog onderling

min of meer verstaanbaar is. Maerlant behoort ewegoed tot die

letterkunde van die Afrikaner, as Caedmon en Chaucer tot dié van die

Engelsman; en Maerlant is ook heelwat verstaanbaarder aan die

Afrikaner as Caedmon, ja selfs as Chaucer, aan die Engelsman.

En dan vra hul nog: "Waar is jul letterkunde, wat ons vir die eksamens

kan voorskrywe?" Ag, die eksamenvrees! Dit benewel ons verstand, en

selfs manne, wat beter hoort te weet, skrik hul asvaal, as 'n pedante

teëstander maar net iets oor "letterkunde" brom--'n teëstander, wat

dikwels nie eers weet nie, dat sy geliefde Shakespeare in 'n

gemoderniseerde spelling en met 'n verklarende woordelys moet gedruk

word, ten einde aan die moderne leser verstaanbaarder te wees!

Geen letterkunde is ooit gebonde aan die besondere taalvorm, wat op

een of ander tydperk in swang mag wees nie; en dit is alleen onkunde

of vitsug, wat aan 'n Afrikaanse letterkunde eise wil stel, waaraan

selfs geen Engelse of Duitse letterkunde voldoen nie.

Met 'n Afrikaanse skryftaal sal daar geen jota minder letterkunde wees

as met 'n ander Nederlandse skryfvorm nie. Inteendeel, daar sal veel

meer wees; want behalwe die bestaande Hollandse en Vlaamse, sal daar

ook 'n spesiaal Afrikaanse litteratuur wees--wat noodwendig moet volg,

as die Afrikaner selfbewus bly en 'n doelmatige uitingsmiddel vir sy

gedagtes besit. En laat ons tog nooit vergeet nie, dat, hoewel

Afrikaans genoegsaam verskillend van Hollands is, en aan 'n

genoegsaam aparte en selfstandige volk behoort, om as afsonderlike

skryfmedium spesiale voordele vir die Nederlandssprekende bevolking

van Suidafrika te besit, dit tog ook terselfdertyd nog genoegsaam

gelykend op Hollands is, en aan 'n volk genoegsaam verwant aan die

Hollanders behoort, om 'n maklike en dankbare gebruik te kan maak van

die geestesskatte in die Hollandse vorm van die Nederlandse taal

bewaar. 'n Hartelike eendrag is veel meer werd as 'n doodse

eenvormigheid.

'n Oortuigingswerk.

Eendrag maak mag, maar tweedrag breek krag, sê ons ou spreekwoord; en

die ou spreekwoord is nog altyd bewaarheid geword. Onderlinge

verdeeldheid en tweespalk kan alleen tot gewisse ondergang voer, en is

ook gevaarliker as die vuur en die swaard van die felste vyand. Dié

dinge moet dan ook as dodelike gif vermy word.

Hoe ons Afrikaners ook onderling mag verskil omtrent die beste

skryfvorm van ons Nederlandse taal, tog moet ons nooit vergeet, dat

daar 'n hoër taaleenheid bestaan, wat geen onderskeid ken tussen

Hollands en Afrikaans. Die werk van die Afrikaanse Beweging is dan ook

'n oortuigingswerk; en 'n oortuigingswerk moet dit altoos bly. 'n

Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar 'n vrind en 'n

bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as jyself,

moet jy oortuig--as jy ten minste nie jou eie ondergang wil

bewerkstellig nie.

Dat die skryftaal van die Afrikaanse volk vroeër of later

Afrikaans-Nederlands sal wees, staan by my onteenseglik vas; en ek

grond my mening op die geskiedenis van die wording van ander tale en

op die herlewing in ons volk; maar dié mening regvaardig my nog glad

nie om voortaan teen elke Afrikaner, wat nog aan die ouer taalvorm

vashou, te velde te trek nie--en dit selfs onder die oë van die vyand,

wat gereed staan om ons albei te verslawe en deur ons verdeeldheid oor

ons te heers.

En ons, jong Afrikaners, moet ook nie somaarso die ou kampvegters van

'n vorige geslag oor die hoof sien nie, eenvoudig omdat hulle ons

nuwighede 'n bietjie onsimpatiek behandel. Hulle het hul hele lewe

lank net Hollands gelees en geskrywe; en die aangebore konserwatisme,

wat aan elke mens eie is, en wat seker nie met die jare verminder nie,

word lig geskok deur 'n "taaltjie", wat _ons is_ wil skrywe in plaas

van _wij zijn_! So 'n standpunt is nie heeltemal onverklaarbaar nie,

en dit hoef ons ook geensins te berowe van die hulp en die raad van

dié geharde stryers, wat douvoordag op was om vir ons te werk, en aan

wie dit te danke is, dat die bestaan van 'n Afrikaanse Beweging vandag

moontlik is.

En die ouer geslag? Sal hulle dan ook nie 'n bietjie notiesie neem van

die woorde en werke van die jong geslag nie? Ons stry tog nog vir

dieselfde beginsels, waar hulle voor geveg het--net, ons wil

Afrikaanse wapens gebruik, omdat dit meer by die hand, makliker te

hanteer, en doeltreffender in die stryd is. Ons verwag ook van hulle,

dat hul nie die onkundige of bevooroordeelde uitlander sal napraat

nie, as hy ons wil wysmaak, dat ons Nederlands 'n patois, 'n

mengelmoes, 'n kombuistaal sonder grammatika en sonder woordeskat is!

Sulke skreiende onkunde is begryplik in iemand, wat alles, wat

Hollands of Afrikaans is, verag; maar by iemand, wat die Afrikaanse

taalvorm elke dag hoor en ook self praat, sal ons nie sulke gesegdes

soek nie.

Selfs die bewering, dat Afrikaans 'n dialek van die Hollandse taal is,

is nie genoeg om die ondienlikheid of onwenslikheid daarvan te bewys

nie; want elke litteratuurtaal, sonder onderskeid, het een of meer

dialekte tot grondslag; en elke dialek word 'n litterêre taal, sodra

'n volk daarin begin te skrywe en dit tot voermiddel van sy gedagtes

maak.[3]

Twis en tweedrag moet ons dus vermy. Maar met dié woorde word geensins

bedoel, dat ons voortaan moet stil sit en wag, tot die tyd "ryp" word

nie. Die tyd word nooit vanself ryp nie: dis die mense, wat dit ryp

maak deur woord en daad.

'n Saak kan altyd op 'n besadigde en verstandige manier bespreek word,

en moet ook bespreek word, as ons vordering wil maak; want as ons

altyd bang vir verskil van opienie is, dan sal ook nooit enige nuwe

denkbeelde kan verkondig word nie; en die gevolg sal wees stilstand en

verstening.

Die werk van die Afrikaanse Beweging is, om die volk te "beweeg" en op

te wek om die voordele van 'n eie Afrikaanse taal in te sien. Dié werk

mag nooit stilstaan nie, voor en aleer die meerderheid van die volk

oortuig is. As daar waarheid en lewenskrag in die Beweging sit, dan

sal die dag ook gewisselik aanbreek, dat die meerderheid deur minsame

rede oortuig word; en dan sal die Afrikaanse taalvorm ook vanself tot

sy regte kom, sonder omwenteling en sonder onenigheid.

Ek geloof nie, dat die vurigste Afrikaans-gesinde die Afrikaanse taal

wil forseer en aan die volk teen wil en dank wil opdring nie. Dit is

nie alleen gek nie, maar onmoontlik! Nee, van opdring en dwing is daar

geen sprake nie: die werk is 'n oortuigingswerk. Aan die werk kan en

moet elkeen, wat reeds oortuig is, help, want hoe eerder ons die

meerderheid aan ons kant het, hoe beter vir die verstandelike

vooruitgang van ons volk.

En die beste middel om ander te oortuig, is om self die Afrikaanse

taal, by elke geleentheid, te gebruik, en sodoende die nut en die

dienlikheid daarvan te bewys. Woorde wek, maar voorbeelde trek.

Alles maar Slim Praatjies!

En hoe antwoord die teëstanders die argumente ten gunste van 'n

Afrikaanse skryftaal?

Gewoonlik is dit 'n siddering en 'n bewing vir 'n breuk van die band

met Holland, en daar word dan gepraat en gehandel, asof die sogenaamde

"Vereenvoudigde Hollands" van Suidafrika gelyk is aan die skryftaal

van Holland, terwyl die feit wil, dat die oorgrote meerderheid in

Holland van geen vereenvoudigde skryftaal wil weet nie, en die

Hoog-Hollands van die Afrikaner ewe "raar" vind as sy Afrikaans.

Sê die Afrikaner, dat Hollands styf en onnatuurlik vir hom is, dan

antwoord die teëstander, met 'n skyn van geleerdheid: "Het Hollands

lijkt de Afrikaner stijf en artificiëel om geen andere reden, dan dat

hij er geen behoorlik onderricht in heeft gehad, en hij het zo slecht

kent. Had het Hollands op school gelijke rechten met het Engels, dan

zou het Afrikaanse kind zich het Hollands veel gemakkeliker eigen

maken dan het Engels. In Holland wordt dat bewezen, doordat de Fries,

de Brabander, of de Limburger, die ook thuis en in de dagelikse omgang

buitenshuis zijn eigen taal of dialekt spreekt, toch ook met gemak

Hollands leest en spreekt." Dié argument word af en toe gehoor, veral

uit Holland, en dit geld as 'n besonder kragtige argument. Die

redenasie is egter ver van oortuigend. Geen verbeterde onderwys kan

die natuurlikheid van die alledaagse omgangstaal aan 'n ander taalvorm

gee nie--nee, nie eers in Friesland, Brabant of Limburg nie.

Suidafrika, egter, is geen provinsie van Holland nie, en sy belange

en toestande is totaal verskillend: hier word o.a. 'n felle taalstryd

gevoer--'n seën, waarvan die drie genoemde provinsies vry is. Had ons

'n menigte dialekte, dan was daar natuurlik nog veel te sê vir

Hollands as onsydige landstaal; maar die vry grote eenvormigheid van

Afrikaans oor ons hele spraakgebied maak die gebruik van 'n ander

gemeenlandse taal onnodig en onprakties. In grammatika is die

verskille tussen Hollands en Afrikaans ook veel ingrypender as tussen

Hollands en enige dialek van Holland; en in dié hoogs belangryke opsig

staan Afrikaans werklik nader aan Engels. Dink maar net aan die

woordgeslag en die ingewikkelde vervoeging van die skryftaal en die

dialekte van Hollands en Vlaams! Dit maak ons taalstryd soveel

gevaarliker, daar Engels nie alleen op sy eie eenvoudige grammatika,

maar ook op die natuurlike ontvanklikheid van die Afrikaner kan staat

maak. Alleen die erkenning van ons eie grammatika sal teen dié gevaar

bestand wees.

Dit word heel dikwels beweer, dat Afrikaans te na aan Hollands staan

om as afsonderlike litteratuurmedium op te tree. Maar is Deens, Noors

en Sweeds dan nie ewe na aan mekaar verwant nie? En staan Spaans en

Portugees ook nie betreklik na aan mekaar nie? Hoe na aan of hoe ver

van 'n ander taal dit staan, het niks hoegenaamd met die

noodsaaklikheid of die dienlikheid van 'n taal as selfstandige

skryftaal te doen nie. Elke selfbewuste volk, wat 'n afsonderlike

geheel vorm, met afsonderlike maatskaplike en staatkundige belange,

sal die taal, deur die meerderheid van die volk gepraat, tot

skryftaal ontwikkel, onverskillig hoe min of hoe veel dit op die

skryftaal van 'n ander volk gelyk.

Dan weer heet dit, dat ons bevolking te klein is. Maar Ysland, met sy

wêreldberoemde saga-litteratuur, het selfs op sy bloeiendste tydperk

nie meer as 600000 inwoners gehad nie; en Wales, 'n ander land, waar

die tweetalige duiwel aan die woed is, tel ook maar sowat een miljoen

Welssprekende, en tog is daar geen tekens, dat die Welse taal aan

uitsterwe is nie. En waarom moet ons, Afrikaners, dan moed opgee--ons,

wat by die dag meer word?

Die vrees is ook meer as eenmaal uitgespreek, dat 'n Afrikaanse

skryftaal nodeloos ons lesende publiek sal beperk tot die driekwart

miljoen Afrikaners en ons geen lesers onder die miljoene van Holland

sal besorg nie, en dat die klein debiet van ons boeke dan geen

skrywers sal uitlok en dus die ondergang van die Nederlandse taal in

Suidafrika sal vergewis. Dit is egter in die laaste jare ten

duidelikste geblyk, dat die bevolking van Holland veel meer belang

stel in ons Afrikaanse as in ons "Hoog-Hollandse" produkte. Hollands

en Afrikaans is ook onderling nog vry verstaanbaar, sodat 'n

Afrikaanse werk, wat die moeite werd is om te lees, altyd ewe gretig

in Holland en Vlaandere as in Suidafrika sal gelees en verstaan word,

ewenas die intelligente bevolking van Suidafrika sal voortgaan om

Hollandse en Vlaamse werke te lees en te bestudeer.

Die tweetaligheid van Suidafrika en die daaruit spruitende onluste

verskaf stellig die mees geliefde argument teen die gebruik van die

Afrikaanse skryftaal. So'n kersvers Afrikaans, heet dit, kan tog

onmoontlik standhou naas die Engelse wêreldtaal, met sy uitgebreide

litteratuur. Maar wat leer die voorbeeld van Boheme ons? En leer Wales

en Ierland ons ook nie, dat 'n wêreldtaal met 'n wêreldlitteratuur nie

altyd die sterkste is nie?

Die gebruik van die Afrikaanse skryftaal sal ook geen verandering in

die bestaande spreektaal bring nie (behalwe dat dit die spreektaal

teen verwildering sal bewaar); en ook die bestaande letterkunde sal

bly, in watter taalvorm dit ook al mag geskrywe wees. 'n Skryftaal,

wat maklik en prakties is--dis al, wat ons meer wil hê. En hoe

makliker ons skryftaal, hoe hoopvoller die taalstryd; want 'n maklike

grammatika en 'n maklike spelling het nog in elke taalstryd twee

gedugte wapens geblyk. Laat elkeen maar eers besef, dat sy alledaagse

Afrikaans goed genoeg is om te skrywe, en kyk dan, of die Afrikaner

nog Engels aan sy mede-Afrikaner sal skrywe!

'n Ander argument, wat 'n seker klas mense by voorliefde van gebruik

maak, is dat die meerderheid van die volk teen Afrikaans is,[4] en dat

ons net onnodig stryd verwek. Maar watter hervorming het ooit met 'n

meerderheid begin? Die volk is meestal teen 'n nuwe ding, eenvoudig

omdat die nut en die voordeel van die nuwe ding nog nie duidelik

gemaak is nie; maar om nou die volksonwetendheid en -vooroordeel 'n

ekskuus vir individuele swakheid en papheid te maak, is baie dieselfde

soort redenasie as dié, wat Adam en Eva in die Paradys gebruik het om

hulle ongehoorsaamheid te verontskuldig. Of Afrikaans is die beste

skryfvorm vir die Afrikaner, òf dit is dit nie; en as dit bewys is,

dat dit die beste is, dan word dit die dure plig van elke opreggesinde

Afrikaner om vir die spoedige en algehele erkenning daarvan te werk.

Hulp by die saai is veel meer welkom as hulp by die maai.

Die Verband van die Taal.

Die verskil tussen Afrikaans en Hollands lê hoofsaaklik in die

grammatika, en by name in die fleksie. Die woordeskat en die idioom

van die twee taalvorme is nog baie eners, hoewel ook hier volstrek

geen algehele gelykheid bestaan nie.

Tereg sê meneer Preller:

Afrikaans is vir ons méér as Hollands, omdat dit Afrikaans is

plus Hollands: Hollands, verryk met die Afrikaanse woordeskat,

en sagter en buigsamer gemaak in 'n Afrikaanse vorm-leer. Dis

àl.

Dit lyk duidelik genoeg, maar desnieteenstaande is dit 'n treurige

feit, dat baie van ons allerbeste skrywers die taal skandelik verkrag

deur onnodige ontleninge uit die Hollandse grammatika. Ons woordeskat

kan en moet ons aanvul uit die Groot-Nederlandse voorraadskuur, maar

ons grammatika moet altyd suiwer Afrikaans bly. Word dié eenvoudige

beginsel veronagsaam, dan berowe ons nie alleen ons taal van sy

eienaardige karakter nie, maar ontneem ons ook onsself alle reg om 'n

aparte taalstandaard vir Suidafrika te ontwikkel.

Grammatiese vorme as _wy_ (Afr. _ons_), syn (Afr. _wees_ en _is_),

_ben_ (Afr. _is_); _der_ (Afr. _van die_); verlede tye as _kwam_,

_werkte_, _hoopte_; infinitiewe as _kappe_, _rukke_, _sitte_;

partisipiële konstruksies as _sy staat te wag_, _vashouende in haar

één hand haar sambreel_, is geen Afrikaans en sal dit ook nie maklik

word nie. Sulke geleende vere ontsier baie van ons verhewenste poësie,

en gee ons die onaangename indruk, dat ons tiepies Afrikaanse

woordvorme en sinswendinge nie goed genoeg vir wit papier is nie.

Die bestaan van 'n buigingsvorm in Hollands is ook nog glad geen rede

vir die invoer daarvan in Afrikaans nie; en ons taal is ook voorwaar

nie armer nie, as dit 'n buigingsvorm mis, wat in 'n Hollandse of

Latynse grammatika aangetref word. Die _buigingsvorm_, as sodanig, het

maar heel weinig waarde: dis die _betekenis_ daardeur uitgedruk, wat

van belang is, en dieselfde betekenis word in een taal deur middel van

'n buigingsvorm, maar in 'n ander taal deur middel van 'n partiekel of

aparte woord of woorde uitgedruk. As dié eenvoudige feit onthou word,

dan sal daar veel minder wysheid uitgekraam word oor die "armoede" van

Afrikaans, wat, soos dit heet, nie eers 'n verlede tyd het nie! As

buigingsvorme 'n taal ryk maak, dan moet die Boesmantaal stellig baie

ryker as die Engelse taal wees!

Die reëls van ons taal moet netsowel as die reëls van die versmaat en

die rym gehoorsaam word; en elke skrywer moet onthou, dat hy ons

Afrikaanse taal nie somaarso in enige Hollandse pakkie kan dwing, of

dit na hartelus met ou vorme kan besaai nie. Verouderde grammatiese

vorme moet selfs in poësie uitsondering en nie reël wees nie; en in

gewone prosa is dit eenvoudig onduldbaar. Die grammatika is die

verband tussen die boumateriale of die woorde van die taal, en daarvan

hang die stewigheid en die selfstandigheid van elke taalgebou af.

Sonder die regte verband word die grootste woordeskat 'n majestueuse

ruïene.

Nog 'n Plantjie vir die Tuin!

Die gedigte in hierdie Afrikaanse bundeltjie is 'n nuwe blyk van die

bewusword van ons volk en van ons ontluikende Afrikaanse letterkunde.

Ek ken die skrywer al vir jare, maar dit was eers onlangs, dat ek

ontdek het, dat hy kon "rympies" maak. 'n Gesprek met hom oor die

toekoms van die Nederlandse taal in Suidafrika het my die aangename

kennismaking met sy gedigte besorg. Ek het die handskrif met soveel

genoeë deurgelees, dat ek daar ten volle van oortuig was, dat dit te

goed is om in 'n tafellaai te lê en roes. Ek laat dit aan die leser

oor om te oordeel, of ek heeltemal verkeerd het!

Die gedigte was my weer 'n nuwe bewys, dat ons eie Afrikaans tog maar

die natuurlikste voermiddel vir die Afrikaner is; en dit het dan ook

tot my hart gespreek op 'n wyse, soas alleen die moedertaal by magte

is.

Ek het van die gedigte van my vrind Leipoldt gehou, want ek het daarin

gekry 'n ware digtersiel vol gevoel en verbeelding, wat weet om die

leed van homself en van sy volk te vertolk; 'n wonderlike

vertrouelikheid met die lewe, kleure en poësie van die natuur; en 'n

ongekunstelde, melodiese Afrikaans--kenmerke, wat die skrywer m.i. 'n

eervolle plaas onder ons ander Afrikaanse digters besorg. Die inhoud

van die gedigte kan in sy eie woorde opgesom word:

Ek sing van die wind, wat tekeer gaan,

Ek sing van die reën, wat daar val,

Ek sing van ons vaal ou Karooland,

Van blomme, wat bloei by die wal,

Van water, wat bruis oor die klippe,

Van duikers, wat draf oor die veld,

Van voëls, wat daar sing in die bossies,

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Is iemand vatbaar vir egte natuurgenot, laat hy dan die _Lenteliedjie_

en _Oktobermaand_ lees, waar hy 'n pragtige natuurprentjie in

bekoorlik-eenvoudige taal geskilder sal aantref. Maar hoe lief

Leipoldt ook al die natuur het, dit is nie hoofsaak by hom nie: dit

dien maar vir teëstelling of vir agtergrond vir sy eie diepgevoelde

smart. Hy is in die eerste plaas 'n digter, wat onthou, wat sy volk

wedervaar het.

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?

Die smarte, die angs, het so baie gepla?

Die yster het gloeiend 'n merk vir die eeue

Gebrand op ons volk, en die wond is te na,

Te na aan ons hart en te diep in ons lewe:

"Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!"

Dieselfde snaar hoor ons besonder duidelik tril in _Aan 'n

Seepkissie_, _Die ou Blikkie_, _Vrede-aand_ en _Oom Gert vertel_.

Ja, Leipoldt is iemand, wat in sy siel voel en wat "uit pure

verstrooiing" genoodsaak word om te sing; en vir my altans het sy sang

geweldig bekoor.

Ek heet die gedigte hartelik welkom, en hoop, dit sal 'n weerklank

vind by menige Afrikaner, wat nie alleen 'n oog het vir die skoonhede

van die natuurlewe en 'n oor vir die klanke van ons eie taal nie, maar

ook 'n hart vir die lyde van 'n digter, wat meevoel met sy volk.

JOHANNES J. SMITH.

LONDEN, Oktober 1911.

STELLENBOSCH, Oktober 1916.

FOOTNOTES:

[1] "Nederlands" word in hierdie Inleiding altyd gebruik in sy wye

betekenis, en sluit in: Hollands (die taal van die Hollanders), Vlaams

(die taal van die Vlaminge) en Afrikaans (die taal van die

Afrikaners). Hollands en Afrikaans is twee standaarde of vorme van

dieselfde Nederlandse taal.

[2] Ook Vlaams kan as 'n aparte standaard van die Nederlandse taal

beskou word; maar die verskil tussen Hollands en Vlaams is nie so

groot as die tussen Hollands en Afrikaans nie. Daar is ook al 'n

Indies-Nederlands, wat veral in woordeskat heel wat afwyk van

Hollands-Nederlands.

[3] So is Engels oorspronklik niks anders as die dialek van Londen,

Hollands die dialek van Suidholland, Frans die dialek van Parys, ens.

Afrikaans is reeds dikwels by een of ander van die vele Nederlandse

dialekte vergelyk; maar sulke vergelykinge lewer geen afdoende bewys

nie, want uit 'n blote taaloogpunt beskou, is Hollands ook maar 'n

dialek van Duits, en Portugees 'n dialek van Spaans.

Die taal van 'n afsonderlike volk en van 'n uitgestrekte wêrelddeel is

nie dieselfde nie, as die taal van die inwoners, dikwels alleen van

die laagste inwoners, van een of ander stad of streek, wat maar 'n

kleine onderafdeling vorm van 'n groter geheel; en Suidafrika staan in

'n heel ander verhouding tot Nederland, as, sê, Rotterdam of Zeeland.

[4] In 1916 is dit waarskynlik nie meer waar nie. Afrikaans geniet nou

al aansienlike erkenning in die laer onderwys, in enkele

kerkgenootskappe, in die dagbladpers en op publieke platforms. En Jong

Suidafrika is byna as één man ten gunste van Afrikaans.

GEDIGTE.

Oom Gert vertel.

Ja, neef, wat kan ek oumens, jou vertel?

Jy wil die storie van ons sterfte hoor?

Nou goed!

Dis nooit te laat nie om daarvan

Te leer en van gebruik te maak, veral

Vir julle, jongling-mense. Hou maar vas

Aan wat ons het, en staan orent, en neem

Jul aandeel aan ons nasie!

Maar jy kom

Verkeerd by my; daar 's menige beter man,

Wat jou die storie goed agtermekaar,

En met 'n les daarby, en meer begrip

Van al die politiek ook, kan vertel

As ek: ek weet maar uit my eie siel,

En kan maar grawe uit my eie hart,

En dit is baie oud en amper dood--

My hart, meen ek--en waarlik, as jyself

Soveel het deurgemaak, soveel gely,

Soveel geworstel, en soveel gesien,

Van wat jy liewers nooit nie het gesien,

Dan was jou hart ook nie meer sonder kraak.

Maar kom--wat kan ek nou vir jou vertel?

'n Lang geskiednis is dit! Treurig ook,

Want daar gaan snikke en trane deur, ou neef!

Wil jy dit aanhoor? Goed!

Maar sit, man, sit!

Ek kan jou nie vertel nie, as jy staan.

Sit daar. (En, Gerrie, gee hom wat te drink,

En pa kan ook 'n slukkie koffie sluk.)

Nou ja, jy weet, neef, toe ons mense hier

Almal beteuterd deur die oorlog was,

Het kakies op kommando hier ons dorp

Beset, en Martjie Louw geproklameer.

Ou Smith, die magistraat--hy was 'n man

Vir wie ek eerbied voel, al is hy Engels:

Hy was tog altyd nog 'n jentelman,

En het met onse mense akkordeer;

Maar hulle het hom soetjies afgesit

En na Oos-Londen toe gestuur, omdat

Hy nie na hulle pype vlot wou dans,

En in sy plaas 'n kolnel aangestel;

Sy naam--nou Gerrie, wat was ook sy naam?

Jones? Nee, kind, dit was maar sy offisier--

Jy weet, die aap met strepies op sy mou--

Ek het dit! Wilson was die vent se naam:

'n Dik, vet kêrel, met 'n grysgeel snor,

En lang slagtande, en rooi in die gesig;

Die mense sê, hy suip; maar ek het nooit

Hom dronk gesien; en wil ook nou nie meer

Agter sy rug die man beskinder nie,

Al was hy ook 'n deugniet--dit maak niks!

Hy het ons onderdruk; sy hand was hard:

Geen lig mag in die kamers brand; geen mens

Mag buite op die straat gaan na agtuur;

Orals het hy op ons spioen, en selfs

Ons huise deurgesnuffel om te sien,

Of ons miskien nie wapens het of kruit,

Patrone, doppies of so iets; hy dag,

Ons het 'n heelboel kos byeengegaar

Om vir die Boerkommando's af te gee.

Ja, neef, sy hand was hard! (Hartlam, gee weer

Die suikerpot; twee klontjies is te min;

Jy weet, pa drink sy koffie soet.)

En ons

Was deur die war daarmee, half uit ons vel;

En niemand van ons mense het geweet,

Wat môre of oormôre vir ons wag.

Die dorp was vol gebrom, net soos 'n deeg,

Waardeur jy goed die suurdeeg het geknee--

Jy weet, hoe rys die ding: nou net so ook

Met onse mense! Maar wat kon ons maak?

Die jongmense veral was baie steeks--

Ons kon hul byna nie in toom meer hou--

En twee van hul het sieto omgespring.

(Hartlam, neef Klaas se koppie is weer leeg.)

Een aand kom Bennie Bêrends na my toe,

En met hom Johnnie Hendriks, Saarl se seun.

Hul het die straat so stiltjies oorgespring:

Die skildwag het hul nooit nie eers bespeur--

Anders het ek en Saarl daarvan moet hoor,

En op die koop 'n boete nog betaal!

Ou Saarl was altyd maats met my gewees,

Maar hy het in dieselfde maand gesterwe

Van kanker in die maag--die Heer se hand!

So het hy nie die dag oorleef. Maar kom,

Ek gaan te vinnig met die saak vooruit.

Hier op my stoel het ek gesit, en daar

Waar jy nou sit, het Bennie ook gesit.

En Johnnie vlak naas hom. Ek sien hom nog,

'n Opgeskote kêreltjie, nog nie

Heel droog agter die ore was hy toe,

Nogal astrant en sniprig met sy mond,

Dié jaar nog aangeneem. (Gerrie, my kind,

Haal tog die album.)--Hier is sy portret,

En hier is Bennie syne; daar is die reël,

Wat sy oorlede ma geskrywe het,

Die dag na--na--sy dood. Jy kan dit lees;

My bril die pas nie mooi, en in die rook

Kan ek so goed nie sien nie. Lees maar voor.

"Barend Gerhardus Barends,"--Reg! en nou?

"Geboren op den zesden Mei,"--Ja reg!

"Ge...."--Maak die boek maar toe: ek weet dit al!

(Hartlam, kom neem dit weg. Wat staan jy daar

Beteuterd as 'n kat? Kom, skink weer in:

Ons het mos melk genoeg en suiker ook,

En Martjie Louw is nou nie in die dorp!)

Ja, Bennie was 'n egte witmenskind!

My peetseun--en, ofskoon ekself dit sê,

'n Regte mooi soort vroumens-kêreltjie,

So paal-orent en met 'n kaal gesig:

'n Skeermes het hy glo nog nie gebruik.

(Hartlam, gaan kyk, of Leentjie al die hout

In die kombuis gebring het.)

Ja, ou neef,

Hy het vir Gerrie hier gevry; en ek

Was ook nie teen die saak, want Bennie was

'n Uitgesnyde jongetjie vir haar.

Jy sien, sy is nog nie goed oor die bult;

Maar ons moet almal oor die drimpel klim,

Al is dit ook so swaar, ons hart moet breek!

En hartlam sal ook met ons Liewen-Heer

Se seën daaroor stap, en haar smart vergeet,

Al gaan dit moeilik--maar dit moet tog gaan!

Maar as ons oor hom praat, dan pas dit tog,

Dat ons haar eers die kamer uit sal stuur.

Nou goed! waar was ek?

Ja, die aand, toe hul

By my kom raad vra. Bennie had 'n plan:

Hy wou met Johnnie weg na Witkransspruit--

Dáár, so het hul verneem, was Smuts gelaer

Met sy kommando.

Ek was amper flou

Om dit te hoor. Ek het vir hul vermaan--

Maar nee!

Ag, neef, 'n jongmens is tog steeks!

En Ben was altyd koppig: selfs as kind

Het hy daar baie keer om sla gekry!

En hul was vas beslote om te gaan.

Ek het twee perde toe by my gehad--

Die kakies het dit nog nie afgeneem--

Ek weet nie waarom nie, maar ek kan sweer,

My skuld was dit nie, dat die diere nog

Daar in die tuin gestaan het, maar hul het!

Nonnie--my vrou en Gerrie haar ma: sy het

Dieselfde jaar gesterwe in Goudini,

Van hartkwaal, want die oorlog het haar ook

Gebreek in siel en liggaam--Nonnie ook

Het meegewaarsku, maar dit was vergeefs!

"Ons kan dit nie hier uithou nie, Oom Gert,

'n Mens moet tog iets vir sy nasie doen."

"Doen! doen! iets doen! ag, wat kan julle doen?

Wat kan ons algar doen?"

Maar tevergeefs.

Nonnie het toe my knapsak volgeprop

Met biltong en beskuit; en ek het self

Die saalsakkies met hardgekookte eiers

En ander padkos volgelaai, want hy

Was tog my peetseun, en dan Johnnie ook

Neef Saarl se seun--en Saarl en ek was maats!

So kan geen mens my dit tog kwalik neem,

Al was ek ook 'n Britse onderdaan:

Kan ek my eie vlees en been sien ly,

As ek nog kos het? Nee, neef, ek hou vas:

En my gewete het my nooit gekwel!

So, kort en goed, die twee is weg en hoor,

Die môre was die heel gespuis om my!

Die kolnel, as 'n brommer, gons en gons

En vloek en maak lawaai--maar ek staan pal.

Ek kon mos nie gehelp het, dat die perde

Nog in die tuin gestaan het, en ek sê,

Dat dit sy skuld was, en nie myne nie;

Maar van die biltong en beskuit en eiers

Het ek hom toe maar liewers niks gesê.

Hoe ons die maande deurgelewe het?

Neef, vra my nie! Die tyd is as 'n wolk,

Wat oor ons hang, en nie maar oor ons dorp,

Maar oor ons land, die hele nasie oor!

Op een dag kom die nuus.... (Wag, hier 's sy weer.--

Ag, hartlam, ja die hoenders van die stoep.

Kyk daardie haan; hy krap die blomme uit!)

Nou, eendag kom die nuus--ja, wat 'n skrik!

Johnnie en Ben was albei vas gevang

En in die tronk gestop. 'n Krygsgerig--

Jy weet die res! En daarop weer 'n slag:

Die vonnis was--hul al twee word gehang!

Ons Liewen-Heertjie weet, dit was 'n slag!

Ons het ons bes gedoen, maar tevergeefs;

Die vuilgoed skreeu om wraak--en hul moet hang!

Dié môre kom die hoofkonstabel sê:

"Die kolnel stuur sy komplimente!"--God!

Sy komplimente,--hoor! het jy verstaan?

Verstaan jy, neef?--sy komplimente!

Nee!

Bedaar, bedaar, my hart al kraak jy ook:

Ons moet die drimpel oor, al breek ons dood!

En "Asseblief, wil ek op môre kom

En sien, hoe 'n rebel word getrakteer,

Anders...." Die hoofkonstabel was 'n man;

Hy het hom nie op sy gemak gevoel,

Toe hy die boodskap aan my het kom bring;

En ook die kakies, moet ek sê, was goed,--

Maar hul moes tog hul plig doen. Ek was bly,

Dat hul dit nie astrant gedoen het nie.

Die hoofkonstabel--Nichols was sy naam:

Hy 't later in die Vrystaat lood geëet

En dit nie goed verteer nie--sê vir my,

Die anders het ook so 'n bevel gekry,

En daar sou meer van ons die--nou jy weet!--

Daar in die tronk aanskou. Hy waarsku my,

Ek moet maar kom, al gaan dit bo my keel.

Dié nag het ek en Nonnie nie geslaap.

Ja, ek onthou nog goed! Die dag was koel--

'n Mens vergeet mos so 'n dag nie gou!--

Met net 'n bietjie oostewind, half koud,

Want Nonnie het daar sinkings van gekry:

Sy het aan sinkings veel gely, en kon

Nooit koue goed verdra nie. Soos ek sê,

Die dag was koel, en daarom was my jas

Dig toegeknoop--jy weet, ek hou daarvan

My onderbaadjie te laat spog: vir wat

Dra 'n mens 'n onderbaadjie, as geen mens

Dit sien nie?--Maar die weer was regtig fris.

En daarom was my baadjie toegeknoop.

En by die draai, daar onder by die meul,

Het ek die anders almal vroeg ontmoet,

Want, soos ek sê, ons algar was geroep.

Die predikant was daar, en Albert Louw--

Jy ken tog Skeeloog-Louw, neef Klaas? Nou ja!

En Michiel Nel, en Gys van Zyl, en Piet--

Maar Piet sal jy jou nie herinner nie,

Want hy was voor jou tyd; hy was 'n vent

So sterk as Simson: arrie, hy was sterk!

En net so steeks as 'n skerpioen was hy!

Maar koddig, neef, en ook 'n grappiesmaker,

Selfs as die wolke donker was, en dof

Die donder deur die wolke dreun. Nou ja,

Ons algar het ons foute, en ek wil

Dit nie vir Piet Spanspek so kwalik neem,

Dat hy nog altyd grappies het gemaak,

Toe al ons anders mislik was en naar.

"Die wind skeef glad, neef Gert," het hy gesê,

"Jy moet vir Ben jou oorjas leen: miskien

Kry hy swaar weer daar boontoe!" En hy lag!

Maar ek was bly, die predikant was daar:

Eerwaarde het hom op die plek berispe

En mooi die kop gewas.

"Is dit 'n tyd

Vir pret, meneer Van Ryn?" het hy gevra.

"Foei, foei! hoe kan u so iets waag vandag,

As onse harte vol is, en ons oë

Nog donkerdof met trane vir ons land?"

(Hartlam, jaag tog die hoenders uit: hul maak

Die werf so vuil; ons kan ons selwers help.)

Maar Piet Spanspek was nooit nie op sy mond

Geval nie, en hy het ook voortgegaan

Met grappies maak, ofskoon ons niks van hom

Gehoor het en ook nie geluister het.

Ek dink, hy was so mislik as ekself,

Maar wou nie, dat dit opgemerk sou worde.

Oom Gert Vertel en Ander Gedigte · 第 1 / 4 段