Die volgende dag, so omstreeks twaalfuur, het Johannes voor die komitee

verskyn. Die komitee was algar spoke en dus algar ewe wolkerig as

hyself. Die ou baas wat aan die koppenent van die lang tafel gesit het,

was ’n bekwame spook, wat jare en jare lank in een van die oudste

kastele in Europa reeds sy werk verrig het. Die visevoorsitter was die

spook van die Roomse keiser wat nou en dan die mense in verskillende

dele van die wêreld bangmaak. Die ander lede van die komitee was ewe

interessant. Daar was die dame wat in die huis van die Duitse vorste

spook; sy was, soos gewoonlik, in wit gekleed en het haar nie baie aan

die verrigtinge gesteur nie, maar het deurentyd Duitse bier gedrink.

Daar was die spook van kaptein Vanderdekken, wat in sy skip rondreis om

die wêreld en die spook van Hendrik Hudson, wat ewe ver gereis het;

hulle was altwee besig om ’n verslag van hulle laaste reis op te trek.

Dan was daar die spook Aboe Fas’l, wat die eerste minister van Keiser

Akbar was en wat nou en dan in die Oosterse lande ronddwaal, maar een

van die sagsinnigste en gemoedelikste spoke wat ’n mens kan aantref,

is. Daar was nog ’n paar ander spoke wat nie veel beteken nie en die

bediendes in die kamer was algar pontianaks—die snaakse spokies wat in

die bome woon in die Oosterse eilande, en wat op die kleure van blomme

teer en nou en dan geniepsig kan knyp.

Johannes het sy buiging gemaak en gewag. As jy voor die komitee is, dan

wag jy totdat die komitee jou aanspreek. Jy is nie astrant nie en praat

nie eerste nie.

„Meneer Johannes,” sê die Roomse keiser, „ons het nou ’n nuwe reglement

opgetrek. Ons vind dat jy tot hiertoe jou eie gang gegaan het in ... in

watter distrik ook weer?”

„In Prins-Albert,” sê kaptein Vanderdekken. „Lengtegraad 23,

breedtegraad 34 sover ek kan uitmaak, maar dit is binnelands en die

kaart is sleg. Ek sou nie op die berekening vertrou nie.”

„In Prins-Albert,” sê die Romeinse keiser. „Kan jy die komitee

inligting gee, meer of min, in watter rigting jou bedrywigheid tot

hiertoe uitgespat het?”

„Ek spook in ’n ou meulhuis in die Mieliedraai,” sê Johannes.

„Waar is dit?” vra die Duitse dame, en sy drink weer ’n teug bier.

„Dis ’n end uit die dorp,” sê Johannes. „Die mense sê dat daar een of

ander iets voorgeval het in die ou dae, en hulle hou nie daarvan om in

die meulhuis te gaan na sononder nie.”

„Daarin het hulle ook niks te soek nie,” sê die voorsitter. „Dit is die

grootste bog wat ek ooit van gehoor het. Dit bewys, dames en here, die

noodsaaklikheid vir ons nuwe reglement. Soos dit nou toegaan, word ons

spoke net maar so stadigaan geminag deur die mense. Hulle sien ons nie

en dus glo hulle nie in ons nie. Dit word tyd dat ons ons gesag ’n

bietjie handhaaf.”

„As die komitee dit goedvind,” sê kaptein Vanderdekken, wat altyd bars

was, „sal ek met my Vlieënde Hollander in die Ghoup verskyn....”

„Hulle sal net maar dink dat dit ’n nuwe vertoning vir die bioskoop

is,” sê die Romeinse keiser. „Bly maar liewers in die buurt van

Drie-Ankerbaai.”

„Soos ek sê,” vervolg die Romeinse keiser, „dit word tyd dat ons

organiseer. Sonder organisasie kom ons nie verder nie. Nou in jou

geval, Johannes, het die komitee besluit dat jy daar in Prins-Albert

weggegooi is. Jy is al taamlik oud en jy het baie ondervinding—te veel

om te verroes in ’n meulhuis. Jou werk sal moet wees om die mense te

oortuig dat daar spoke is.”

„Dit sal swaar gaan,” sê kaptein Hendrik Hudson. „Hulle glo nie eers

dat ek vandag nog rondseil in my bootjie om ’n weg deur die ysblokke te

vind nie.”

„Die matrose glo vas aan jou,” sê die Duitse dame, „net soos die

hofliede aan my, ofskoon ek vir jare nie my verskyning in die paleis

gemaak het nie.”

„Ja, jy is ’n geskiedkundige figuur, net soos ek,” sê Aboe Fas’l. „Ons

het tenminste ’n bestaan in die volksoorlewering, net soos neef Hudson

hier.”

„En wat dan van my?” vra kaptein Vanderdekken, isegrimmig.

„Jy staan nie op so ’n vaste voet nie,” sê die Romeinse keiser. „Dis

waar, hulle het ’n toneelstuk oor jou gemaak, maar in die Karo weet

hulle nie van jou nie. Dus het jy nog geen wêreldroem nie. Ek het dit.”

„Dis niks om oor te spog nie, die soort roem wat jy het,” sê kaptein

Vanderdekken, nog meer uit sy humeur.

„Here,” sê Aboe Fas’l, „moenie rusie maak nie. Ons is hier om vriend

Johannes se saak te bespreek.”

„Nouja,” sê die voorsitter. „Die komitee het jou saak in onderhandeling

gehad en besluit, dat jy voorlopig op ’n plaas in die Hantam sal gaan

spook.”

„Mag ek vra waar en vir wie?” vra Johannes, wat gladnie in sy skik was

nie, want hy het nie eers meer geweet waar die Hantam was nie.

„Die plaas se naam is Koekemoerskloof,” sê die voorsitter, „en die

eienaar daarvan is ’n seker meneer Giel Gouws, wat die bynaam het van

Glo-nie Giel. Daaruit kan jy self sien watter soort kêrel hy is.”

„Dit sal maar swaar gaan om daardie kêrel te oortuig,” sê kaptein

Vanderdekken. „Ek dink ek moet liewerster self gaan met my skip. As

daar ’n skip in sy slaapkamer rondswerwe sal hy sy opienie verander.”

„Nee, Kaptein,” sê die voorsitter. „Ons het besluit dat die taak aan

vriend Johannes opgedra sal word. Hier is dus jou orders, Johannes. Jy

moet nog vanmiddag aftrek na Koekemoersfontein....”

„Kloof,” sê die Romeinse keiser, wat baie op kleinighede gestel was.

„Ekskuus. Koekemoerskloof,” sê die voorsitter. „Wat jy daar moet doen,

laat die komitee heeltemal aan jou oor. Ons wil net hê, dat jy meneer

Glo-nie Giel aan die verstand bring, dat daar dinge is wat bo sy

vuurmaakplek gaan. Die komitee is van gevoelens dat hulle die saak

gerus aan jou eie ondernemingsgees kan oorlaat. As jy hulp nodig het,

kan jy ons maar laat weet, maar ons sal dit op prys stel as jy die saak

afhandel, sonder om ons verder lastig te val.”

„Sal ek moet kettings dra en my kop onder my arm vat?” vra Johannes.

„Nee,” sê die voorsitter. „Ons laat die manier van optree heeltemal aan

jou oor. Jy kan maak en doen net wat jy wil, mits jy nie alte ver gaan

nie. Ons wil die kêrel net ’n les leer en ons wil hom nie so-te-sê

seermaak nie.”

„En jy weet net so goed soos ons,” sê Aboe Fas’l, „dat ons hom nie kan

seermaak nie. Jy weet net so goed soos ons dat ons algar maar dons is

en dat ons geen wesenlike bestaan het, behalwe in die gedagte van die

persoon wat ons sien nie.”

„Dit is al,” sê die voorsitter. „Koekemoersrand...”

„Kloof,” sê die Romeinse keiser weer.

„Ja, waarlik, Koekemoerskloof is agter die Hantamberge,” sê die

voorsitter. „Dit sal jou omtrent twee sekonde neem om daar te wees. Dan

het jy nog oorgenoeg tyd om te sien hoe jy die saak moet aanlê. Bly

daar ’n week of twee en laat ons dan weet hoe dit gaan. Goeiendag.”

Johannes het goeie dag gesê en het dadelik weggesmelt. Hy het weer

bymekaar gekom, omtrent drie sekonde later, bo op die Hantamberge en

vandaar het hy rondgekyk, om te sien in watter rigting Koekemoerskloof

lê. Dit het hom nie lank geneem, om tot die besluit te kom, dat die

plaas waarop hy moes gaan spook die plaas was, wat net reg onder die

berg gelê het nie. Daar was ’n paar geboue op die plaas, omring deur

groot populier- en eikebome en hy kon maklik sien, dat die grootste

huis die woonhuis was; die ander huisie was die kafhok en stal en die

derde een was die meulhuis, want hy kon die meulsloot sien, en hy kon

ook sien hoe die meulrat stadig draai as die water daaroor val. Hy het

toe weer weggesmelt en weer tesame geraak in die voorkamer van die

huis, wat maklik genoeg vir hom was.

In die voorkamer, waar hy in ’n ligstraal bly staan het, sodat niemand

hom kon sien nie, was daar ’n ou kêrel wat besig was om spanspek te

eet. Hy was ’n stewiggeboude ou baas, met ’n verslete ferweelbroek en

baadjie, en met ’n volbaard wat halfgrys was. Dit was maklik vir

Johannes om dadelik te sien, dat die ou kêrel ’n man wat nie bang was

nie, was. Hy kon dit bespeur uit die vaste houding en dit kordate

manier, waarop die oubaas spanspek eet. Hy het dit met pitte en al

ingesluk. Net ’n kêrel wat nie bang is nie sou soiets waag.

Dié nag het Johannes sy verskyning gemaak in die ou se slaapkamer. Die

ou het gaan slaap in sy onderbroek en het ’n groot nagmus op sy kop

gesit. Hy was blykbaar alleen in die huis, want daar was niemand anders

in die kamer nie. En skaars het hy sy kop op die kussing gesit, of hy

was hard aan die snork.

Johannes het ’n bietjie gewag en toe het hy versigtig die deken opgelig

en die oubaas se voete gekielie. Eers het die ou net maar sy voet

teruggetrek, maar Johannes het bly kielie, met die gevolg dat die ou

wakker word. Daar was so ’n bietjie maanlig, wat in die kamer

ingestroom het deur die oop venster en in die maanlig kon hy vir

Johannes sien. Johannes was aan die voetenent van die bed, en het

fratse getrek dat dit ’n naarheid was.

„Naand Neef,” sê ou Giel. „Ek het jou nie hoor inkom nie, maar as jy

nagverblyf soek, is jy welkom.”

Johannes begin te kreun en maak nog meer fratse.

„As Neef siek is,” sê ou Giel, en hy klim stadig uit die bed en steek

die kers op, „kan ek Neef ’n bietjie rooileventel gee. Of ’n soet sopie

as Neef dit verkies.”

Johannes het nog nooit iets van dié aard in sy spooklewe teëgekom nie.

Sy ondervinding was dat hy net moes kreun en dan was die kamer leeg.

Gewoonlik het die mense nie eers gewag totdat hy gekreun het nie.

Hy het toe harder gekreun.

„Mastag,” sê die ou. „Dit kan ’n knoop in die derm wees. Verlede jaar

het daar ’n Hotnotjie van my daaraan gevrek. Hy het net so gekreun en

gesteun. Wag, ek haal die leventel.”

Die ou loop uit die kamer en kom gou terug met ’n bottel in die hand.

Hy gooi daarvan ’n paar druppels in ’n glas en reik dit toe aan

Johannes, maar sy hand, met die glas en al, het sommer dwarsdeur

Johannes se lyf gegaan.

„Mastag,” sê die ou kêrel, „hoe het ek dit dan?”

Johannes het harder gekreun en so baie fratse getrek, dat sy gesig

daarvan moeg geword het.

„Dit moet die pampoenkoek wees, of miskien die spanspek,” sê die ou en

hy kyk nadenkend na Johannes. Toe kom hy nader en neem die kussing op

en slaat daarmee teen Johannes. Dit was ’n geweldige slag en ofskoon

die kussing dwarsdeur Johannes gegaan het en hom eintlik nie seergemaak

het nie, het dit hom tog baie geskok. Soiets het nog nooit met hom

gebeur nie. Hy het toe so hard gekreun as hy maar kon.

„Dis wrintig die spanspek,” sê die ou. „Maar dit lyk tog koddig om hier

op my bed ’n kreunerige ou bywoner te sien....”

„Ek was nooit ’n bywoner nie,” skree Johannes, verontwaardig. „Ek het

my eie plaas gehad en ofskoon daar ’n verband op was, het ek tog altyd

vorentoegeboer. Jy moenie ’n mens so beskinder nie.”

„Hemel,” sê die ou baas. „Nou praat dit. So ’n nagmerrie het ek nog

nooit tevore gehad nie. As ek nie so slaperig was nie, sou ek dit kon

sit en aankyk, maar dis tog maar ’n nagmerrie.”

En die ou gaan weer lê en in ’n omsientjie het die kamer gedreun met sy

snork. Johannes was baie mismoedig. Hy het gesit en kreun en kreun,

maar die ou het bly slaap en as hy die ou se voete kielie dan het die

ou sy voete net maar weggetrek en nou en dan geskop, wat gladnie vir

Johannes plesier gegee het nie. En douvoordag het Johannes weggesmelt

en anderkant die kafhok weer bymekaar gekom.

„So sal dit nooit gaan nie,” sê hy. „Hierdie Glo-nie Giel is alte

astrant. Ek sal hom moet leer, dat hy nie so goedsmoeds met ’n spook

kan omgaan nie.”

Hy het toe in die voorkamer gegaan en gewag, totdat die oubaas se ete

op die tafel was. Daar was gebraaide wors en hardgekookte eiers, en hy

het dadelik die wors laat uitspring uit die skottel en in die lug laat

rondloop. Toe die oubaas inkom, gewaar hy die kaskenades van die wors

en vryf sy oë.

„Lieflot,” roep hy sy Hotnot, „kom kyk wat hier gaande is met die gedit

en datte wors.”

Lieflot het dadelik binnegehol uit die kombuis en die wors aangestaar

met oop mond en groot oë.

„Dis towery, Oubaas,” sê hy en hy trek agteruit, maar die oubaas was

nie so bang nie. Ou Giel het in die lug gespring en die wors gegryp, en

dit dadelik op sy bord gesit en sy vurk daarin gesteek.

„Towery of nie towery nie,” sê hy, „ek eet dit. Dè, kyk nou of jy kan

loskom.”

Maar net toe hy dit sê, begin Johannes, wat in ’n hoekie van die kamer

staan, weer te kreun. Dit het Lieflot so verskrik, dat die Hotnot

omspring en hardloop, totdat hy by sy pondok was. Maar die oubaas het

hom nie aan die gekreun gesteur nie. Hy het smaaklik sy wors opgeëet.

„Dis darem koddig,” sê die ou, „hoe lank die spanspek op ’n mens se

maag kan bly lê. Ek sou amper sê dat ek geluide hoor hier in die

kamer.”

Johannes het nou probeer om hom met die hardgekookte eiers te gooi,

maar die oubaas het hulle handig gevang, afgeskil en opgeëet.

„Dit spaar my die moeite om oor die tafel te reik,” sê hy.

Toe het Johannes maar die saak opgegee.

„Wag, ek sal jou vanaand kry,” sê hy en hy het sommer in die oubaas se

bed gekruip en daar bly lê tot die aand.

Toe die ou in die bed wou klim, het Johannes hom onderstebo gegooi,

maar die oubaas was rats en weer gou-gou op die been.

„Dis nou weer die varkspek wat ek vanaand geëet het,” sê die ou.

„Wonderlik watter uitwerking dit het. ’n Mens sou werklik sê dat daar

iets in my bed was.”

„Daar is ook,” skree Johannes, wat nou geweldig verontwaardig was.

„En wie sou dit dan wees?” vra die ou, ewe bedaard.

„Ekke,” sê Johannes en smelt same, sodat die ou hom kan sien. Hy het

weer sy beste fratse getrek en so bangmakerig soos moontlik gelyk, maar

die ou het hom aangekyk asof hy ’n toktokkie was.

„Ek het nie my bril nie,” sê die ou, „en dus kan ek jou nie mooi sien

nie, maar dit skyn vir my dis dieselfde bywoner wat my gisteraand kom

stoor het....”

„Ek het jou al gesê ek is geen bywoner nie,” sê Johannes. „Ek is die

spook van ’n welvarende boer, wat jou kom bangmaak.”

„Maak dan maar,” sê die ou. „Maar ek wil in my bed lê en spook of nie

spook nie, daaruit hou jy my nie.”

En die ou het ewe bedaard in die bed geklim, die dekens na hom toe

getrek en vriendelik na Johannes gekyk.

„Jy is maar slegte spysvertering,” sê die ou op minagtende toon, „te

wyte aan spanspek of varkspek. Niks anders nie.”

„Ek is ’n spook,” skree Johannes, wat nou werklik kwaad was. „As jy nie

bang word nie sal ek ... sal ek....”

„Nou ja, wat sal jy doen,” vra die ou. „Bang is ek nimmer en nooit

nie.”

Johannes het gekreun so hard soos hy kon, en hy het weggesmelt en weer

bymekaar gekom om die ou te imponeer, maar die oubaas het bedaard al sy

kaskenades aangekyk en eindelik gegaap en gesê:

„Al maak jy nou wat jy wil, ek weet tog dat jy niks anders as slegte

spysvertering is nie. Môre neem ek koeksoda en dan is jy oor.”

En die ou het bedaard aan slaap geval en gelê en snork.

Die volgende dag het Johannes teruggegaan na die spookkomitee.

„So,” sê die Romeinse keiser. „Ek sien jy kom onverrigter sake terug.

Is ou Giel werklik nie bang nie?”

„Ag Keiser,” sê Johannes, „dis net ’n naarheid. Hy wil niks glo nie. Ek

kom om hulp soek.”

„Bang sal hy moet word,” sê die voorsitter, „anders is ons gesag na die

maan. As dit eers bekend word dat ons niks anders is as slegte

spysvertering nie—wat word dan van ons?”

„Onder die omstandighede,” sê Hendrik Hudson....

„Jy mag sê die benarde omstandighede,” sê die Romeinse keiser.

„Gaan jou gang maar, Hendrik,” sê die voorsitter.

„Wat ek wou sê is dit,” sê Hudson. „Ons vriend hier is te goedhartig.

Hy kon die ou regtig bang gemaak het....”

„Julle het mos gesê ek moet hom nie seermaak nie,” brom Johannes.

„Nie juis seermaak nie,” sê Hudson. „Maar jy kon hom tog skrikgemaak

het.”

„Ek glo nie die hele komitee sal hom skrikmaak nie,” sê Johannes.

„Dis ’n goeie voorstel,” sê die Romeinse keiser.

„Hoe sou dit wees as ons algar saamgaan met ons vriend?”

„Dit is glad benede die waardigheid van hierdie komitee,” sê die

voorsitter beslis. „Ek is verwonder dat jy soiets voorstel, Keiser. Wat

ek sou aan die hand gee is, dat ons ’n geraamtespook met ons vriend

saamstuur. Die twee sou miskien meer indruk kan maak.”

„Ek sekondeer,” sê die Duitse dame.

Johannes het toe vertrek met die geraamtespook. Die geraamtespook was

werklik ’n narigheid, want hy was nie eers vel en been nie; hy was

sommer pure been, en jy kon dwarsdeur sy kop sien, want daar was ’n gat

agter waar hy in sy lewe met ’n kielhouer geslaan was.

Dié aand het die geraamtespook bymekaar gekom aan die koppenent van die

bed net soos die oubaas wou inklim en het geraas met sy bene, terwyl

Johannes aan die voetenent staan en kreun.

„Liewe tyd,” sê ou Giel, en hy kyk van die een na die ander. „Hier is

nou twee van julle en dit nieteenstaande die koeksoda. Wat op aarde kom

julle nou hier uitrig?”

„Ons kom jou bangmaak,” sê die geraamtespook en hy klapper met sy kop

teen die muur.

„Stadig,” sê die ou. „As jy so aangaan sal jy die pleister losmaak en

ek het dit net verlede maand gewitkalk.”

„Dit maak nie saak nie!” sê die geraamtespook, so kwaai as hy maar kon

praat—en dit was baie kwaai—„Ons kom jou bangmaak.”

„Maak dan maar,” sê die ou, ewe gerus. „Ek weet tog julle is net maar

onverteerde kos wat swaar op die maag lê.”

En hy kruip in die bed en begin te slaap.

Johannes en die geraamtespook het alles gedoen wat hulle kon, maar

hulle het die ou nie eers wakkergemaak nie. Die geraamtespook het ou

Giel met sy beenderige hande gekielie, en op en neer op sy deken

geskuif en Johannes het in sy oor kom kreun, maar die ou het net sy kop

geskud en gemaak asof hy ’n vlieg wou doodslaan, maar hy het soos ’n

kind bly slaap.

„Weer niks uitgerig nie?” vra die Romeinse keiser, toe Johannes met sy

maat voor die komitee verskyn. „Dis tog alte jammer.”

„As ons hom maar kan seermaak,” sê Johannes, „dan het ek nog moed. Maar

hy gee niks om vir dreigemente nie. So ’n soort skepsel het ek nog

nooit ontmoet nie. Hy maak my mismoedig.”

„Ek herinner my ’n dergelike geval,” sê kaptein Vanderdekken. „Dit was

’n matroos. Ek het telkens voor hom verskyn en hy het altyd beweer, dat

dit maar sy grog was. Die here kan hulle nie verbeel, hoe gekleineer ’n

spook hom voel as hy vir ’n grog uitgemaak word nie.”

„Dis nie erger as wanneer hulle sê, dat jy slegte spysvertering is

nie,” sê die geraamtespook, „veral as jy niks het om te verteer nie. Ek

kan sê dat ek ooreenstem met vriend Johannes. Die ou Giel is ’n snaakse

mens. Hy glo aan niks nie.”

„Daaraan moet nou ’n end gemaak word,” sê die voorsitter. „Ek dink ons

sal julle twee versoek om weer na Koekemoersdrif....”

„Kloof,” sê die Romeinse keiser.

„Ek bedoel kloof,” sê die voorsitter, ’n bietjie driftig, „te gaan, en

ons sal iemand anders met julle saamstuur. Wie dink die here sal ons

stuur?”

„Hoe sou dit wees om die kêreltjie wat sy kop ronddra te stuur?” vra

die Duitse dame.

„Hy is te jonk,” sê die voorsitter. „Ons moet iemand hê met rype

ondervinding.”

„Dan stel ek voor,” sê die Romeinse keiser, „dat ons die spook van die

hond Serberus saamstuur. Soos die here weet, hy is al taamlik oud, maar

hy het glo sewe koppe en hy lyk naar genoeg om die dapperste mens skrik

te maak.”

„Dis ’n goeie voorstel,” sê die voorsitter. „Laat hom weet dat hy hom

moet klaar hou, om met die here saam te gaan, môre.”

Die volgende nag het Johannes met die geraamtespook en Serberus in die

ou se slaapkamer gewag. Serberus was werklik ’n hond wat jou kon

skrikmaak. Sy sewe koppe was een nog leliker as die ander en sy

slagtande was so groot, dat hulle jou aan die van ’n bosvark laat dink

het. Hy het in die middel van die bed gaan sit en begin blaf dat dit ’n

naarheid was.

Toe die oubaas inkom, sien hy dadelik die drie.

„Ek gee nie om vir julle nie,” sê hy, „maar hierdie vervlakste hond wil

ek nie op my deken hê nie.” En hy gryp sommer sy kierie en slaan

geweldig los op die arme Serberus, wat nog nooit in sy lewe so ’n

behandeling ondervind het nie. Die houe het natuurlik algar deur hom

gegaan en op die deken te land gekom, maar die belediging was so groot,

dat die hond onder die bed weggekruip het. Hy was so verbouereerd, dat

hy nie eers daaraan gedink het om weg te smelt nie.

„So,” sê die oubaas. „môre gaan ek dorp-toe en kry medisyne van die

dokter. Dis nou eenmaal te erg dat die slegte spysvertering so lank

aanhou.”

Johannes en die geraamtespook het die nag alles gedoen wat hulle kon

dink om die oubaas bang te maak, maar hy het glad geen notiesie geneem

nie. Hulle het volhard tot hy wakker geword het in die môre.

„Mastag,” sê hy. „En julle is nog daar? Waar is julle hond?”

Johannes was so mismoedig dat hy nie eers geantwoord het nie.

Toe die drie weer terugkom voor die komitee, het Johannes gesmeek dat

hulle hom maar weer sou toelaat om in Prins-Albert te gaan spook.

„In die Hantam is daar niks uit te rig nie,” sê hy.

„Ek dink ook so,” sê kaptein Vanderdekken. „Ons sal jou maar na jou ou

meulhuis stuur. Een dag as ek tyd het, sal ek self vir ou Giel gaan

bangmaak.”

Maar tothiertoe het geen spook weer Koekemoerskloof besoek nie.

XI.

DIE ONNOSELE BOERSEUN.

„Daar word niks van hom nie,” het die skoolmeester gesê, toe hy met Jan

se pa oor Jan gepraat het. „Hy is alte onnosel.”

„Maar daarom stuur ek hom mos skool-toe,” sê Jan se pa, en hy krap

agter sy oor, soos sy gewoonte was as hy vererg was.

„Ek kan niks met hom uitrig nie,” sê die skoolmeester. „Hy het dit tot

tweemaal tien gebring, maar verder kom hy nie. Verlede week was die

inspekteur hier, en ek het my amper moes skaam. Hy kon die eenvoudigste

vrae nie beantwoord nie!”

„Maar hoekom het hulle hom dan inspekteur gemaak, as hy so dom is?” vra

Jan se pa.

„Nee, ek bedoel nie die inspekteur nie,” sê die skoolmeester, nou ook

’n bietjie vererg, omdat hy geweet het dat hy fout gemaak het. „Ons

praat mos van jou seun.”

„Ek dink, meester,” sê Jan se pa, „dat hy maar lui is. Hy is nie so

onnosel soos jy dink nie.”

„Dis nie net luiheid nie,” sê die skoolmeester, „ofskoon ek toegee dat

hy ook lui is. Hy het al genoeg pakgekry, maar daar is niks aan te doen

nie. Hy kan eenvoudig nie leer nie. Oom moet hom maar uit die skool

neem.”

„Nouja,” sug Jan se pa. „As hy dan niks kan uitrig nie, sal ek hom maar

uitneem. Stuur hom maar vanaand terug, en ek sal met hom afreken.”

Jan, wat ’n kosleerling was, het dié aand huis-toe gekom, en sy pa het

met hom afgereken. Die ou was eers van plan om sy sambok te gebruik,

maar hy het daarvan afgesien, want hy het gedink, as Jan werklik

onnosel is dan sou dit tog nie regverdig wees om hom te piets nie.

„Kyk, seun,” sê hy, so bedaard hy maar kan, „die meester vertel vir my

dat jy baie onnosel is. Dit is nie iets wat in my famielie is nie,

onnoselheid. My oupa was prokureur, en jou ma se broer is advokaat, en

my swaer se oom is parlementslid, so kan jy nie sê dat dit iets is wat

jy van ons geërf het nie. Maar ek sien tog in dat jy nie so skrander as

Gert is nie. Hy is nog maar tien en hy is al in die vierde standerd, en

jy is al vyftien en jy is maar nog in die twede standerd. Ek dink jy

moet maar iets anders probeer. Dit kos geld om jou op skool te hou, en

ek het nie te veel daarvan om sommer so weg te gooi nie.”

„Ja Pa,” sê Jan, wat altyd ’n gehoorsame seun was.

„Nou goed,” sê sy pa. „môre moet jy na die dorp gaan. Ek het met Van As

gepraat, en hy sal jou aanneem as handlanger in sy moterkarwinkel. Jy

kan dan leer om ’n moterkar te dryf, en mettertyd daaruit ’n

broodwinning verdien.”

„Ja Pa,” sê Jan.

„Jy sal by Van As loseer,” sê sy pa, „en ek sal kyk dat jy klere het.

Vir die eerste paar maande kry jy nie loon nie, maar later sal hy jou

iets gee, as jy dit werd is.”

„Ja Pa,” sê Jan weer.

„En ek hoop jy sal jou goed gedra,” gaan sy vader voort. „Jy is tog nie

so onnosel soos die meester sê nie, en die werk sal lig genoeg wees.

Later sal ons sien wat uit jou te make is.”

„Ja Pa,” sê Jan, en hy kyk op sy skoene.

Die volgende môre het Jan dorp-toe gegaan, en die eerste ding wat Van

As hom gegee het om te doen was om ’n moterkar skoon te maak.

„Was daardie kar af,” sê die baas van die winkel. „Neem daardie slang

en was hom goed, en dan vryf jy hom met die seemsleer-doek totdat hy

blink.”

„Ja Omie,” sê Jan, en hy gaan na die agterplaas waar die kar staan,

want hy was ’n gehoorsame seun.

Maar waar hy ook soek, hy kon nie ’n slang vind nie.

„Dis nou snaaks dat ’n mens ’n slang moet gebruik om ’n kar te was,” sê

hy. „Ek weet ook nie waar ek een kan kry nie. Ek sal maar in die veld

loop soek.”

Hy het toe van die agterplaas gegaan en buite op die veld, buitekant

die dorp gaan soek. Dit was nie lank nie, of hy sien ’n pofadder onder

’n kraalbos. Die pofadder was aan slaap, want hy het net die môre ’n

streepmuis ingesluk, en die beste manier om dit te verteer is natuurlik

om daarop te gaan slaap. Dit was dus vir hom baie onaangenaam toe Jan

hom met ’n stok wakker gemaak het. „Wat op aarde wil jy nou van my hê?”

sê die pofadder. „As jy my nie met rus laat nie, dan byt ek jou in jou

hakskeen.”

„Ag nee a,” sê Jan. „Ek het jou nodig om meneer Van As se motorkar te

was. Hy het mos gesê ek moet die slang gebruik.”

„Daarvan het ek nog nooit in my lewe gehoor nie,” sê die pofadder, wat

regtig verwonder was. „Maar as jy my werklik nodig het, sal ek saamgaan

en vir jou help. ’n Mens moet altyd hulpvaardig wees, selfs vir sy

vyande.”

„Ja,” sê Jan.

„Maar dan moet jy vir my dra,” sê die slang. „Ek is te vol om agter jou

aan te seil.”

„Jy moenie vir my byt nie,” sê Jan, wat ’n bietjie bang was, en

liewerster ’n dooi slang wou geneem het as ’n lewendige.

„Nee,” sê die pofadder, „dit sal ek nie doen nie, as jy my nie seermaak

nie. Tel my op by my stert en dra my versigtig sodat my kop altyd net

bo die grond is. Ek hou van die sand.”

Jan het toe die pofadder versigtig opgetel en hom gedra aan sy stert.

Toe hy in die agterplaas kom, was Van As net daar om te sien hoe ver

die kar-skoonmaak gevorder het. Toe hy Jan sien aankom met die slang,

spring hy boöp die kar en gaan tekeer.

„Maak daardie vervlakste slang dood,” skree hy. „’n Groot pofadder! Het

jy in jou lewe soiets gesien? En hy bring dit nog hier! Maak die ding

dood!”

„Maar Omie het mos gesê ek moet die kar skoonmaak met die slang,” sê

Jan.

„Magtig, maar die vent is onnosel!” skree Van As. „Die slang is mos

daardie ding waardeur jy die water pomp. Maak die ding dood....”

Kampstories · 第 6 / 7 段