Toe sien Nat dat daar uit die branders uitklim ’n koddige klompie van

die klein mensies. Vooraan het twee kleintjies gekom wat altwee in

groen gekleed was, met hoë mussies van groen seegras op die kop. Agter

hulle het ’n hele ry gekom wat algar in rooi was, en daarna weer ’n

halfdosyn wat in goudgeel was. Daarna het uitgestap ’n mensie wat ’n

kwartduim hoër was as enige van die ander wat om hom was. Hy was

pragtig gekleed in ’n blou pakkie, waarom hy ’n rooi mantel, gevoer van

binnekant met spierwit, dra. Op sy kop was ’n kroon van goud, met groot

pêrels om die kant en in sy regterhand het hy ’n skepter gehou van ’n

visgraat aan die punt waarvan ’n klein diamantjie fonkel. Die lang

sleep van sy mantel word gedra deur twee klein mannetjies wat in

spierwit gekleed was en agter hom het ’n vyftal trompetters gekom, wat

algar op skulpe blaas en wat ’n hele boel lawaai opskop.

Dit was die Koning, en Nat het sommer onplesierig begin voel, maar die

Koning het vriendelik na hom toe gestap en met een spring op sy knie

kom sit. Toe het hy Nat aangeraak met sy visgraatskepter en sodra die

diamant Nat se baadjie aanroer, het Nat gevoel asof hy springlewendig

was.

„Ek hoor,” sê die Koning, „ek hoor, seuntjie, dat jy wil weet waarom

die see huil?”

„Asseblief ... Oom, ... Meneer,” sê Nat, wat nie reg geweet het hoe hy

die Koning moes noem nie.

„Sê maar gerus Oom of Omie,” sê die Koning. „Ek is bly om te verneem

dat daar nog seuntjies is wat iets wil leer.”

„Ek ken al my A B C,” sê Nat, wat ’n bietjie trots op sy geleerdheid

was, veral omdat hy daarmee teen Mokkie kon spog.

„Dis nie alles wat jy behoort te weet nie,” sê die Koning. „Jy het

seker nooit gedroom dat daar sulke mense soos ons in die see lewe nie,

nè?”

„Nee,” antwoord Nat. „My pa sê daar’s net visse in die see.”

„Visse is daar genoeg,” sê die Koning, „maar daar is ook baie ander

dinge, waarvan julle mense nie droom nie. Groot slange byvoorbeeld, en

die See-Prinses, waarmee ek netnou sal gaan dans. Maar jy wil eintlik

weet waarom die see so huil, nie waar nie?”

„Ja,” sê Nat. „Pa sê dis maar die geraas van die branders, en Ma weet

nie, en Mokkie ook nie en outa Adoons sê dis maar die see se manier.”

„Hulle is almal reg en hulle is almal verkeerd,” sê die Koning. „Die

see huil nie, want dit het niks om oor te huil nie. Wat jy huil noem,

is die lied wat hy sing. Dit is elke dag en elke nag dieselfde, maar

dit is nooit dieselfde nie, want dit is altyd nuut. Daar is weemoed in

en blydskap, en berou en blye verwagting, en daar is vreugde in en pyn.

Dit kan jy nou nie verstaan nie, seun, maar as jy ouer word sal jy dit

leer verstaan, want jy lyk my ’n verstandige seun en nie sommerso ’n

swaap nie.”

„Ek kan al swem,” sê Nat, wat nie geweet het wat die Koning bedoel nie,

maar tog dink dat hy iets moes sê.

„Dis ook goed,” sê die Koning en knik sy kop so vorentoe, dat Nat bang

was dat die kroon sou afval. Maar hy hoef nie bang te gewees het nie,

want die kroon was vasgelym aan die Koning se kop en word nooit

afgehaal nie. Die Koning gaan selfs daarmee slaap en om dit vir hom

maklik te maak, het hy ’n besonder kussing van dik seegras met ’n

holtetjie daarin waarin die kroon rus.

„Dis ook goed,” sê die Koning, en hy knik weer. „Hou jy van die see?”

„Ja, Omie,” sê Nat. „Baie.”

„Dis reg so,” sê die Koning. „Die see is die enigste wat ’n mens van

kan hou. Dit is allenig die enigste wat jy op kan staatmaak....”

„Outa Adoons sê dat die see ’n mens verneuk,” sê Nat.

„Dis maar outa Adoons se manier van praat,” antwoord die Koning. „Die

see sal jou nooit in die steek laat nie. Dis die enigste vertroubare

vriend wat jy sal hê in jou lewe, as jy dit liefhet en dit nie haat

nie. As jy dit haat, is dit iets anders, want die see vergeet nie en

die see kan wreed wees. Baie, baie mense het hy doodgemaak, mense wat

hom nie liefgehad het nie, en mense wat hom liefgehad het, want hy het

geweet wat die beste vir hulle is. Hulle dooi bene lê gestrooi op die

vloere van die see, duisende en tienduisende van hulle en daar lê

juwele en rykdomme in oorvloed, die weelde van verongelukte skepe wat

die skatte van konings en keisers gedra het, maar wat die see ingesluk

het. Dis dit wat die see se lied soms weemoedig maak, want dit was

alles verniet wat die goed vergaan het. Dit baat niemand iets nie,

selfs nie vir die see nie. Maar elke dag gee die see sy water aan die

wêreld, wat as reën neerval op die aarde en die land verkwik, sodat die

koring kan groei en die graan weelderig opspring. Dis die see wat die

wêreld, jou wêreld waarin julle mense lewe, groen maak. Hy gee van sy

eie groen, waarin die sterre snags afgespieël word en die wit wolkies

by dag, aan die wêreld en hy laat alles groei wat groei by julle. Dis

hy wat die koelte gee aan die aarde en die wind laat waai. As daar nie

see was nie, dan gaan julle algar dood en alles om julle. Ja, die see

is ’n vriend, die beste vriend wat julle het. Jy kan dit voel as jy in

hom swem, as hy met sy sagte streling jou lyf vorentoe stoot en opbeur

in sy groen water, as hy sy seegras slinger om jou naakte been en die

sneeuwitskuim van sy brandertjies as donsies op jou nat hare laat

neerval. Van alles weet hy, want hy spoel die uiterste grense van die

wêreld met sy water. Die palmbome in die koraal-eilande van die groot

see, wat altyd stil is, omdat dit so groot is, ken hom, en die

tortelduiwe wat in leërskare vlieg oor die verre vleilande van

Suid-Amerika groet hom as hulle by duisende bo sy branders swewe. Die

wit ysberge van die noorderwêreld, waar die noorderligte die lang, lang

winternagte verlig en waar die yskoningin in haar slee, wat van

ysblokke gemaak is en deur die vinnige rendiere getrek word, hom bemin,

want hy is hulle vriend. En die middel van die wêreld, waar die

vuurspuwende berge hulle rook na die hemel uitblaas, weet van hom, want

dis hy wat hulle stoom gee en krag om te bars. Omdat hy so veel weet en

soveel verantwoordelikheid op hom het, sing hy die hele dag en nag

deur. Dit gee hom afleiding en dit maak hom sag, want in sy hart is hy

wreed en hy weet dit, maar hy kan dit nie help nie. Maar nou word dit

tyd dat ek na die dansparty gaan.”

En die Koning spring af, so vinnig dat sy kroon sou afgeval het as dit

nie vasgelym was op sy kop nie.

Nat het toe maar huis-toe gegaan. Die pampoenpap was al opgeëet en sy

pa het hom net ’n sny brood en ’n koppie gho-koffie gegee.

„As jy laat kom,” het sy pa gesê, „dan is dit jou eie skuld as jy niks

te eet kry nie. Loop slaap nou maar.”

IX.

WAAR DIE REËNBOOG VANDAAN KOM.

Mooi onder die kranse het die alwyne gebloei, pragtig rooi teen die

grys van die kliprand en oor hulle het die bye ’n dowwe gedreun gemaak.

„Daar’s baie heuning hier—daar’s baie heuning,” het die ou bye gesê.

„En dis maklik om te kry—dis maklik om te kry,” het die jongeres gesê,

want hulle was ’n bietjie lui, omdat dit so warm was.

„En die mooiste van die grap is,” sê die bergswaels, wat hoog in die

lug swewe, „die mooiste van die grap is, daar is so baie goggatjies wat

die alwyne kom besoek, dat ons ook volop te vreet het.”

Nog mooier was die groot sandlelies daar onderkant by die vlei. Mooier,

omdat hulle so rein, so skoon was, sonder ’n vlek op die rooskleur van

hulle fyn blomblare. Elke kelk het oop gestaan vir die lug, die warm

middaglug wat in wasem teen die kliprand opgerys het, om daarin te kom

speel. En ewe mooi was die groot waboombosse, waarin die

langstert-suikerbekkies boer, om die honderde goggatjies, wat die

bossiestroop se soetigheid kom steel het, te vang.

Daar was twee veral, van die langstert-suikerbekkies wat dit danig

besig gehad het. Hulle was man en vrou en hulle nessie was in ’n wilde

tabakboom by die lopie wat van die krans kom en wat deur die vlakte

kronkel om ’n pad te kry na die rivier. Daar was nog geen eiers in die

nes nie, want dit was vroeg in die somer, maar die sagte dons was al

gelê, waarop die eiers later sou moet rus en die ingang van die nessie

was al klaar gemaak, sodat dit net groot genoeg was om die wyfie toe te

laat om binne te kom.

„Volop ete hier, vrou,” het die mannetjie-suikerbekkie gesê. Onder die

suikerbekkies het hy die naam gedra van Korring, en sy vrou het hulle

Korra genoem, maar jy het nooit die name gehoor nie. Dit was altyd maar

net „Tjerptjik,” wat baie beduie. Volgens die uitspraak wat jy daarvan

gee, natuurlik. Die suikerbekkietaal is nie maklik om te verstaan nie,

maar ’n mens kan dit tog baasraak as jy vroeg in die môre opstaan en

jou daarop toelê om die uitspraak, so sleg of so goed soos jy kan, na

te maak.

„Ja, maar” sê Korra, „ek het al so baie van die torretjies gevreet, dat

ek nou maar sal ophou. Die sysie sê mos dat te veel torre ’n voël

buikpyn gee, en daarmee is ek nie gedien nie.”

„Ag wat,” sê Korring, „die sysie eet mos nie torre nie. Wat weet hy

daarvan? Môre is die goed weg. Ons moet ons kans waarneem. Ek bly nog

hier.”

„Net soos jy verkies,” sê sy vrou. „Vir my part, ek gaan daar na die

alwyne. Die bergkanaries is daar, en ek wil ’n bietjie met hulle

gesels.”

Die wyfie-suikerbekkie het toe na die krans gevlieg. Daar het sy ’n

klompie bergkanaries en geelsysies aangetref, wat druk aan die praat

was. Hulle het haar vriendelik gegroet en plek gemaak op die takkie vir

haar en sy was maar alte bly om te gaan sit, want sy was moeg, nie

alleen van die warmte nie, maar ook van die baie torretjies wat sy

ingesluk het.

„Verbeel jou,” sê die oudste bergkanarie, „verbeel jou. Daar is ’n

seun, so hoor ons, wat gaan probeer om uit te vind waar die reënboog

begin.”

„Dis ’n kordate onderneming,” sê die blink spreeu, wat juis aangevlieg

het. „Ek het ook al baie oor die saak gedink. Sover ek weet is daar

geeneen van ons voëls wat weet waar die reënboog begin nie.”

„Ek sou so sê,” tjirp die sysie. „Niks het mos nie ’n begin nie en die

reënboog is mos niks. Sommer ’n kleur en daarmee uit.”

„Dit glo ek nie,” sê die blink spreeu. „So ’n geweldige groot ding moet

tog iets hê. Hy kan nie sommer so in die lug staan nie. Ons moet

probeer uitvind.”

„Ek sê vir jou hy’s niks,” antwoord die sysie. „Ek het mos dwarsdeur

hom gevlieg en hy het net ’n kleurtjie op my vlerke gemaak, anders was

daar niks nie—glad niks nie.”

„Dit kon in één geval gebeur het,” merk die blink spreeu op. „Ek sê nie

dat dit ’n misverstand was nie, vriend Sysie. Maar ek hou vol dat daar

tog iets moet wees—iets wat ’n mens kan beetkry en wat selfs ’n voël

kan beetkry as hy kans het.”

„Ons voëls is algar slimmer as die mense,” sê die bergkanaries. „Hulle

kan mos nie vlieg nie. Wat verbeel jy jou?”

„Vlieg is nie die enigste ding nie,” sê die blink spreeu, wat

verstandig was en gladnie verwaand nie, want hy het al baie van die

wêreld gesien, en hoe meer jy van die wêreld sien, hoe minder dink jy

dat jy al die wysheid beet het. Die wêreld is so groot en daar’s so

baie dinge in, dat dit jou nadenkend maak, as jy verstandig is en nie

verwaand nie.

„Vlieg is nie die enigste ding nie,” sê die blink spreeu. „Ek sê nie

dat dit nie iets goeds is nie, maar dis nie die enigste goeie ding nie,

dit beweer ek en julle kan daar niks teen inbring nie. En wat die

reënboog betref, ek het selfs daarin en daar rondom gevlieg en ek het

niks bespeur nie, maar dit bewys nog gladnie dat daar niks is nie.

Hierdie alwyne het ’n maand gelede geen blomme gehad nie. Vandag is

hulle vol blomme. Daar moet tog iets wees, as jy my goed verstaan.”

„Dit skyn vir my,” sê die ou uil, wat tot hiertoe stil onder die klip

gesit het, want sy oë kon nie goed die lig verdra nie, „dat dit

alleenlik ’n saak van soek is. Tot hiertoe het hulle nie noukeurig

gesoek nie. As ’n mens—ek wil sê, ’n voël—soek, dan vind hy. Dit is ten

minste my ondervinding.”

Daar oom Uil—wat al amper oud genoeg was om oupa Uil te wees—baie

rondgereis het in die wêreld, het hy baie ondervinding opgedoen. Dit

het elke voël geweet en daarom het hulle met eerbied na sy woorde

geluister.

„Sou hierdie seuntjie nou een wees wat dit kan loop soek?” vra die

spreeu.

„Dit weet ek nie,” sê oom Uil. „Hy is glo ’n padvinder en die seuns is

ondernemend, maar of hulle volharding het, dit staat nog te sien. Ek sê

maar ’n mens—ek wil sê ’n voël—sou kan uitvind. Mits jy volharding het

en nie omgee wat jou oorkom nie.”

Toe die voëls nou so praat, het die klein seuntjie, waaroor hulle

gepraat het, hom klaargemaak om op reis te gaan. Hy was nie meer so ’n

klein seuntjie nie, want hy was al oor die sestien jaar oud en het die

vorige jaar reeds sy matriek gemaak. Daaruit kan julle sien dat hy

taamlik slim was. Nog meer, hy het Duits en ’n bietjie Frans geken en

nie alleen vir eksamens gewerk nie. Hy het gewerk en geleer om te leer

en hy het reeds so baie geleer dat hy geweet het, dat hy nog baie

onvolleerd was.

Ook was dit nie waar nie, dat hy van plan was om te gaan sien waar die

reënboog vandaan kom nie. Dit het hy al geweet. Hy het geweet dat die

reënboog maar die weerkaatsing en verbreking van die lig is deur

miljoene reëndruppeltjies, waardeur die lig straal. Hy het geweet dat

as jy ’n straal-lig opbreek jy dan die mooi kleure kry wat jy in die

reënboog kan sien. Wat kleur is, het hy nie geweet nie en hy wou dit

baie graag uitvind, maar om dit uit te vind moes hy nog baie, baie

aanleer.

En daar was nie meer geld nie. Sy pa was dood en sy ma het nie meer

genoeg gehad om hom op skool te hou nie. Ook was daar geen plek meer

vir hom op die skool nie. Hy moes, as hy wou leer, na die uniwersiteit

gaan.

Die seun, wie se naam Roelfs was, het ’n ou vriend in die dorp gehad.

Die ou vriend was ’n ou prospekteerder, wat op sy ou dag ’n

broodwinning verdien deur as skoenmaker te werk. ’n Prospekteerder is

iemand wat rondgaan om te kyk of daar goud of silwer of edelgesteente

in die kliplae te vind is. Dit is ’n interessante soort werk, maar dit

verg baie van die man wat dit onderneem en as hy nie geluk het nie, dan

laat dit hom baie min oor vir sy ou dag. Dit het ou meneer Jors—want

dit was die oubaas se naam—ook uitgevind, en in sy ou dae was hy maar

alte bly dat hy in sy jong dae geleer het, hoe om ’n skoenmakersels te

gebruik.

Vir hom het Roelfs nou opgesoek en aan hom het hy die saak vertel.

„Dit is ook nie nodig dat jy na die uniwersiteit gaan nie,” sê die ou

skoenmaker. „Ek was nooit na ’n uniwersiteit nie en as jy nagaan sal jy

sien, dat die beste en grootste manne waarvan die geskiedenis praat ook

nie uniwersiteit-toe gegaan het nie. Noudat jy sover is, behoort jy

jouself op te werk. Dit is maklik genoeg. Gebruik jou oë, lees so veel

jy maar kan en leer waar jy maar ’n kans kry.”

„En wat van die kos?” vra Roelfs.

„Daarmee kan ek jou help,” sê die ou. „Hier het net aangekom ’n meneer

wat na die wilde bosse gaan. Hy gaan om orgideë te soek. Jy weet mos

wat ’n orgidee is, nè?”

„Nee,” sê Roelfs. „Ek weet nie.”

„Ek ook nie,” sê die ou kêrel. „Ek weet net maar dat dit ’n soort blom

is, van die soort wat ons moederkappies noem. Maar in die wilde bosse

groei hulle op die boomstamme en nie op die grond nie. Hoe warmer en

ongesonder die streek is, des te mooier is die orgidee. Nou, die meneer

wil graag ’n handlanger hê, wat iets verstaan van plantkunde. Hy weet

dat ek ’n prospekteerder was en het my kom vra of ek nie van iemand

weet nie. As jy wil kan jy met hom saamgaan. Dit sal ondervinding vir

jou wees en jy sal iets van die wêreld sien en jy sal baie leer, want

die professor is ’n geleerde man en sou jou baie kan help.”

Roelfs het die saak oordink, en besluit om mee te gaan. Daarom was hy

juis aan pak toe die voëls oor hom praat.

In die wilde bosse was dit baie mooi en baie bedompig en baie eensaam.

Elke dag het dit gereent en alles was waternat. In die dag kon jy byna

nie die son sien nie, want die bome was so dig en het so teenmekaar

boontoe gegroei dat hulle ’n soort van gewelf gemaak het, waardeur die

lig nie kon dring nie. Snags was dit egter mooi lig, want ofskoon jy

nie die sterre te sien kon kry nie, was daar so baie vuurvliegies, en

vuurkewers, wat nog baie groter as die vliegies was, wat die omgewing

helder gemaak het. Daar was ook swerms muskiete en gifgoed genoeg in

die bos, maar daarteen kon ’n mens een of ander maatreël neem. Roelfs

het die reis baie geniet en hy het baie geleer. Die professor, sy baas,

wat regtig ’n geleerde kêrel was, het hom allerhande dinge vertel oor

die blomme en veral oor die orgideë. Hy het hom gesê wat eintlik ’n

orgidee is—en dit is nie so maklik om te sê wat ’n orgidee is nie, want

om dit duidelik te maak, moet jy Latyn en Grieks praat wat dié saak nog

onduideliker maak. Maar Roelfs het verstaan dat ’n orgidee eintlik ’n

soort blom is waarvan die saaddraadjies algar saamgevleg is en in ’n

klein stammetjie binne in die blom, wat die kolom heet, en dat die

beste orgidee nie in die aarde groei nie maar op boomstamme. Hy was

verbaas om te hoor dat sommige soorte baie skaars was en dat sommige

soorte baie op prys gestel word.

„Ja,” het die professor gesê, „daar is baie soorte. Hoeveel soorte weet

ek eintlik nie, maar ek vermoed so omtrent twaalfduisend. Daar is

kleintjies, byna nie groter as ’n pinkie nie en omtrent twee duim hoog,

met blommetjies so groot soos ’n speldeknop en met maar een of twee

blommetjies aan die steel. Daar is grotes, so groot soos ’n kruiwa, met

duisende blomme aan die steel en met elke blom drie duim groot van kant

tot kant. Daar is alle soorte van kleure, en alle soorte van gedaantes

onder die blomme op te merk, want die orgideë is die koddigste blomme

wat ons ken. En wat die kosbaarheid betref, daar is ’n paar wat jy nie

vir ’n duisend pond sal kan koop nie.”

„Nie eers een plantjie nie,” antwoord die professor. „’n Halwe plantjie

van een soort is onlangs verkoop op ’n publieke veiling vir oor die

vierduisend pond. Die oorspronklike bol van die blou orgidee het

vyfduisend pond gekos vir sy twede eienaar. Nog baie meer eintlik, want

dit het die lewe van verskillende mense gekos. Soos jy sien, dit is nie

maklik om dié soort blomme te kry nie. Hulle groei in plekke waar dit

baie gevaarlik is, weens die koors en die ongedierte, om te gaan

snuffel in die kreupelhout.”

Die twee het lank weggebly, maande lank, en altwee het koors gekry. Toe

Roelfs weer huis-toe kom, was hy taai en groot, want hy het baie

deurgemaak, en genoeg geld by hom gehad om nou na die uniwersiteit te

gaan. Die blink spreeu het hom gesien huis-toe kom en het dadelik die

nuus aan die ander voëls gaan vertel.

„Die seuntjie is terug,” sê die blink spreeu.

„So,” sê die bergkanarie. „En wat van die reënboog?”

„Die het hy nie meegebring nie,” sê die blink spreeu. „Tenminste ek het

dit nie gesien nie. Hy het net ’n hele boel ou stukkies gedroogte hout

meegebring, wat daar in die agterplaas in die son lê.”

Die blink spreeu het nie geweet dat die stukkies droë hout die bolle

van die kosbare orgideë was nie. ’n Mens verwag ook nie dat blink

spreeus iets van plantkunde afweet nie.

Maar oom Uil was ’n bietjie slimmer.

„Ja,” sê oom Uil, „ek dink hy het uitgevind waar die reënboog vandaan

kom. Hy was mos in die wilde bosse. Daar reën dit elke dag en die

reënboog word elke middag daar gebore. Hy het baie kans gehad om dit te

sien. En wat meer is, hy het van die reënboog meegebring. Daardie droë

stukkies hout sal later algar reënboogkleure hê. Glo vir my.”

Maar die voëls het dit nie geglo nie, want hulle het dit nie gesien

nie, en wat hulle nie sien nie, glo hulle ook nie. Net soos sommige

mense wat alles eers wil sien, voordat hulle dit glo.

Roelfs het later self professor in die botaniek geword. Die blink

spreeu het in ’n wip bly vassteek en die klonkies het hom gebraai, want

hulle het nie omgegee om hom op te eet nie ofskoon hy baie taai was.

X.

DIE ARME SPOOK.

„Regtig?”

„Ja, man, regtig. Ek het dit netnou gehoor.”

„Maar van wie het jy dit gehoor?”

„Van die portier. Hy vertel my dat daar ’n kennisgewing binnekort op

die voordeur sal geplak word.”

„Nou vóór ek hier op die deur daardie kennisgewing lees, glo ek daar

niks van nie. Dit sou alte onregverdig wees.”

„Daar stem ek nie met jou saam nie. Hoekom sou dit onregverdig wees?”

„Hoe kan jy so praat, man? Sou dit nie onregverdig wees, om my

broodwinning weg te neem, nadat ek vir jare dit gehad het nie? En

sommer vir niks nie. As dit nou was dat ek te sleg was vir die werk, of

te oud, dan sê ek niks....”

„Ek sien nie hoe dit ’n broodwinning kan wees nie. Ons het mos nie

brood nodig nie en ons het eintlik ook geen rede om te werk nie....”

„Ag, loop na die hoenders. Jy weet tog dat ons ’n tydverkorting nodig

het, iets wat ons moet doen. Leegloop is nie goed nie, nòg vir ’n kind

nòg vir ’n ou mens. Ek is noual jare aan die gang en nou vertel jy my

dat ek niks meer moet doen nie.”

Die gesprek wat hier kortliks weergegee word, het plaasgevind in die

donker êrens in die distrik van Prins-Albert, maar wáár weet ek nie reg

nie, want daardie distrik is groot. Daar was twee mense wat die gesprek

gevoer het—of liewerster dit was twee „ietse,” want mense sou jy hulle

nie eintlik kon genoem het nie. Hulle gedaantes was so onstandvastig as

’n miswolk en daar was niks van hulle wat jy met jou hand kon vat nie.

Hulle lyf, hulle klere, hulle skoene en hulle gebare was algar maar net

soos wat jy in ’n spieël sien; sonder wese en glad, net maar ’n

weerkaatsing.

Dit was dan ook nie so snaaks nie, want altwee was spoke.

Die eerste een was taamlik oud. In sy lewe moet hy ’n oom van sowat

vyftig jaar oud gewees het, ’n bietjie isegrimmig en kort gebaker,

sterk en gesond wat liggaam betref, maar nie alte slim nie. Die twede

een was baie kleiner, korter en dunner; hy was nou, net soos hy in sy

lewe gewees het, net maar ’n graat, ’n geraamte met vel bedek en tog,

nieteenstaande die dunnigheid, het hy altyd maklik gelag en was altyd

in die beste humeur. Dit op sigself was ’n bietjie wonderlik want dun,

geraamteagtige mense is gewoonlik nie so goed gehumeur nie.

Om julle nie langer op te hou nie, die naam van die ouer spook was

Johannes, en die van die maer spokie, Klaas. Vanne het hulle nie in die

spookwêreld nie.

Johannes en Klaas was besig om ’n gerug te bepraat. Dié gerug was amper

net so spookagtig soos hulleself. Gerugte is gewoonlik van so ’n aard.

Hierdie gerug het Klaas eers aan Johannes vertel.

„Verbeel jou,” sê hy, „hulle sal van oormôre vir ons belet om meer te

gaan spook, waar en met wie ons wil. Ek hoor die plan is nou om vir

elkeen van ons ’n besonder werkkring te gee, waaraan ons ons moet hou.”

„Nee, wrintig nie!” het Johannes gesê.

„Ja,” sê Klaas. „En nog mooier—ofskoon jy dit nie sal glo nie—ons moet

ons gedra, as ons aan die werk is, net soos die ouerwetse spoke in die

stories.”

„Dit doen ek vervlaks nie!” sê Johannes. „Ek sleep geen ketting met my

mee nie en ek sal nooit my kop onder my arm dra nie.”

„In jou geval sou jy jou kop op jou nek kan dra,” sê Klaas. „Ek glo jy

het mos griep of so iets gehad. Die kopdraers is algar mense wat

kopafgesny was en dus gewoonlik uit die ou dae....”

„Hier was ’n jong seun die anderdag,” sê Johannes, „wat rondgespog het

met sy kop onder sy linker-elmboog....”

„Ja, ek het hom gesien. Hy was een van die mense wat in die oorlog sy

kop verloor het deur ’n bom. Maar die gevalle is selde. Soos ek sê, die

regulasies sal nou verander word en ons sal nie meer kan doen en laat

wat ons wil nie, soos ons vroeër gedoen het.”

Klaas het sy kop geskud, toe hy dit gesê het en Johannes het suur

gekyk.

„Ek dink dis ’n fout wat ons komitee maak,” sê Klaas. „Hulle behoort

ons eers te vra, voordat hulle nuwe regulasies optrek.”

Die twee spoke het toe maar verder gestap en oor ander dinge gepraat.

Maar nog dieselfde aand het Johannes ’n briefie gekry van die

Spookkomitee.

„Waarde heer,” so het die briefie gesê—„My komitee sal bly wees as u

môre so omtrent teen twaalfuur voor hulle kan verskyn. U dienswillige

dienaar—” en daaronder was die naam van die sekretaris, wat ook geen

van gehad het nie.

Kampstories · 第 5 / 7 段