Jan was so verbouereerd dat hy die pofadder losgelaat het, en die slang

het dadelik weggeseil, want hy was amper net so bang soos die baas van

die moterkar.

„Nee, nou weet ek dat jy werklik onnosel is,” sê Van As. „Dis te

gevaarlik om jou hierso te gebruik, maar ek sal jou nog ’n kans gee.

Loop gooi nat die perskebome daar in die boomgaard. Dit kan jy

tenminste doen sonder om fout te maak.”

Jan het mismoedig weggestap na die boomgaard, maar hy kon nie sien waar

die water was nie. Hy het toe maar aan een van die Kaffers gevra, en

die het hom gesê dat die water in die blikke in die winkel was, want

die Kaffer het gedink dat hy die water vir die moterkarbatterye wou hê.

Jan het na die winkel gegaan. Dit was juis die middaguur, en al die

mense was weg om te gaan eet. Jan het orals rondgesnuffel, maar water

kon hy nie kry nie. Daar was egter baie blikke, en hy het een daarvan

oopgemaak en gesien dat dit vol met iets was wat net soos water gelyk

het. Dit het wel anders geruik, maar daaraan het hy hom nie gesteur

nie. Hy het ’n dosyn van die blikke, één vir één, na die boomgaard

gedra, en die water uitgegooi onder die perskebome. Net toe hy besig

was om die laaste blik uit te gooi, kom Van As in die boomgaard. Sodra

hy sien wat Jan doen, gaan hy vreeslik te keer.

„Jou dit en dat,” skree hy, „dis mos my petrol wat jy daar vermors!

Hemel en aarde, wat moveer jou om soiets te doen....”

„Maar Omie het mos gesê dat ek die perskebome moet nat maak,” sê Jan.

„Dis die water wat ek in die winkel gevind het....”

„Twintig pond na sy grootjie!” sê Van As, woedend. „Jou pa sal my

daarvoor moet betaal, dit sê ek vir jou. En wat van die perskebome? As

hulle doodgaan dan eis ek skadevergoeding, so waar as my naam Van As

is, en al moet ek jou pa dagvaar in die rondgaande hof. Maar jy is nou

eenmaal te gevaarlik. Loop, ek wil niks meer met jou te doen hê nie!”

Nog mismoediger as tevore het Jan huis-toe gestap. Die plaas was ’n

goeie drie uur van die dorp, en hy het geweet hy sou nie vóór

sonsondergang daar aankom nie, so het hy maar stadig geloop, veral

omdat hy gedink het dat sy pa nie in sy skik sou wees om hom terug te

sien kom nie.

Op pad het hy ’n koddige kêrel ontmoet. Hy het eers gedink dat die

kêrel ’n smous was, want hy had ’n pak op sy rug, maar toe hy naby kom,

sien hy dat die pak net maar ’n veerbed was.

„Goeie middag,” sê die kêrel. „Kan jy my nie ’n bietjie met hierdie

veerbed help nie? Ek sal bly wees.”

„Ja,” sê Jan, „ek kan dit vir Oom dra. Waar gaan Oom na toe?”

„So-te-sê, nêrens nie,” antwoord die man. „Ek is hier alleenlik om te

kyk hoe die wêreld lyk.”

„Maar waarom dra Oom dan die veerbed?” vra Jan, wat nou en dan

nuuskierig was, soos elke gesonde seun is.

„Om op te slaap as ek die wêreld wil bekyk,” sê die man. „‚’n Veerbed,’

so het my oorlede ma gesê, ‚is altyd die beste om op te slaap.’”

Jan het gedink dat dit tog wonderlik is dat ’n mens sy beddegoed met

hom ronddra, maar hy was te beleef om meer aanmerkings te maak. Hy het

dus maar voortgestap, en gedink wat hy aan sy pa sou sê as hy tuiskom.

„Dit skyn vir my,” sê die kêrel, wat nou besig was om biltong te sny,

waarvan hy nou en dan ’n stukkie vir Jan gegee het, „dit skyn vir my

dat jy nie, so-te-sê, ’n alte skrander seun is nie. Ek oordeel maar na

jou uiterlike. Sou jy my miskien kan sê hoeveel ag-maal elf is?”

„Ek is nog maar by tienmaal twee,” antwoord Jan, wat ’n bietjie skaam

gekyk het.

„So!” sê die man. „Nou tweemaal tien is ook al goed. Wat was was

voordat was was was?”

„Dit weet ek,” sê Jan, bly om iets te hê wat hy kon beantwoord. „Dit

was mos iets wat die bye uit die blomme kry.”

„Nie alte ver raak nie,” sê die man. „En van raak gepraat, as jy ’n bok

skiet wat wil jy liewers, dat jy amper mis of amper raak skiet?”

„Amper raa—” sê Jan, en toe bedink hy hom en sê vinnig: „Nee, ek wou sê

amper mis, Omie.”

„Dit kom daarop aan of jy die arme dier wou kwes,” sê die man. „En as

jou oom se broer nie jou oom is nie, wat is hy dan?”

„My oom se broer nie my oom is nie,” sê Jan, „maar my oom het mos maar

net één broer, Oom.”

„Ja, en as hy nie jou oom is nie?” vra die kêrel, en gee hom nog ’n

stukkie biltong.

„Hy’s mos my pa,” sê Jan, wat ’n bietjie in die war was.

„Dis heeltemal moontlik,” sê die kêrel, met ’n glimlag. „En as ’n

seuntjie honderd nartjies het, en vyftig appelkose, en dertig

tameletjies, en twintig stukke koek en hy eet die helfte daarvan, wat

sal hy dan hê?”

„Dan is hy mos baie gulsig,” sê Jan. „Maskas, Oom, glo mos buikpyn.”

„Dit glo ek ook,” sê die kêrel. „En nou ons van buikpyn praat, as jy ’n

gat deur die buikplank van ’n wa boor, boor jy dan ondertoe of

boontoe?”

„Ondertoe, Oom,” sê Jan.

„Daarvan is ek nie so seker nie,” sê die kêrel. „Maar ons kan dit maar

laat bly. Hoe oud is jy?”

„Vyftien jaar, Omie,” sê Jan.

„Nou ja,” sê die kêrel, „Sê veertien. Veertien bo twaalf—dit gee mos

nul punt ag-vyf. Taamlik goed. So-te-sê, nie alte sleg nie. Ek sou

liewerster iemand geneem het wat oor één was, maar dié soort seuns is

algar op skool, en dis moeilik om hulle in die hande te kry, veral nou

dat daar vry onderwys is. Dit bederf ’n hele lot van hulle, nie waar

nie?”

„Ja, Omie,” sê Jan, wat nie geweet het wat die kêrel bedoel nie.

„Nou weer, nouja,” sê die kêrel. „Kyk, as jy by my wil kom werk sal ek

jou agtien pond min sewentien gee elke jaar, en soveel te ete as wat jy

maar kan eet, en klere bowedien, en vakansie elke dag as jy niks te

doen het nie.”

„Watter werk, Omie,” vra Jan.

„Dit hang af van wat jy eintlik kan doen,” sê die kêrel. „My plan was

om ’n fabriek op te rig, êrens in die Karro, om paddavissies te speen.

Maar daar is groot gebrek aan water daar, hoor ek, en ek het nou

besluit om kieserslyste op bakstene te druk. Daar steek geld in, seun.

Jy sal met die kleitrap moet help.”

„Ja, Omie,” sê Jan.

„Nou kom dan maar mee,” sê die kêrel, en hy slaan ’n sypaadjie in, wat

hulle weldra na ’n spelonk in die berg gebring het. Jan, wat hier die

wêreld goed geken het, was ’n bietjie verbaas oor die spelonk, want hy

het nie geweet dat daar soiets in die omtrek was nie. Binnekant was dit

nog mooier as buitekant, want die mure van die spelonk was ingelê met

vuurvliegies, wat ’n skitterende lig gegee het, en daar was honderde

katte in die spelonk, wat algar rondom die kêrel kom krioel het, en

algar so baie gemiaau het dat dit amper ’n naarheid was om na hulle te

luister.

„Jy sal na die katte moet kyk,” sê die kêrel. „Daardie grootste mies is

baas, en jy sal hom baie versigtig moet behandel, want hy is geld werd.

So-te-sê diamante, daardie dier. Sy naam is Enkelvoud-meervoud. Daardie

swart ene se naam is Rombus-winkelhaak, en jy moenie die name verwissel

nie, anders kom daar onraad.”

Die aand het Jan op die veerbed geslaap, nadat hy ’n heerlike aandete

geniet het. Dit was ’n bredie wat so lekker gesmaak het dat hy driemaal

daarvan gevra het. Hy het nie geweet dat dit van paddas en streepmuise

gemaak was nie, en wat ’n mens nie weet nie maak hom ook nie heet nie.

Die volgende môre het die kêrel gesê:

„Ek gaan nou weer die wêreld bekyk. Bly jy nou hier en voer die katte.

Jy sal genoeg muise vang hier in die spelonk. As jy ’n muis wil hê,

hoef jy net te sê: ‚Muis, kom laat die kat jou opvreet, en die muis sal

dadelik na jou kom.’”

Toe die kêrel weg was, het Jan die woorde gesê, en dadelik was daar ’n

groot muis, wat Enkelvoud-meervoud sommer opgesnap het. So gou as Jan

die woorde kon uitspreek, het die muise gekom, en die katte het

smaaklik ge-eet. Enkelvoud-meervoud—wat ons in die toekoms maar Em sal

noem—en Rombus-winkelhaak—wat ons vir verkorting maar Row sal noem—het

die meeste ge-eet, en Jan was moeg om muise te roep, want die katte se

aptyt was baie groot. Eindelik het hy so moeg geword dat hy gesê het:

„Nou het julle genoeg. Ek gaan nou slaap.”

Maar Em en Row het so ’n lawaai opgeskop dat Jan weer ’n paar honderd

muise geroep het. Toe het hy so vererg geword, omdat die katte nog

aangehou het om meer muise te kry, dat hy Em by die stert en Row by die

nek beet gepak het en hulle altwee teen die muur van die spelonk

geslinger het. En sodra hy dit gedoen het, het al die katte sommer

verdwyn.

Die aand toe die kêrel huis-toe kom was sy eerste vraag, „En waar is

die katte?”

„Oom,” sê Jan, „die goed het my so gepla dat ek hulle weggeja het.”

„Dis ongelukkig vir jou,” sê die kêrel, „want sonder katte kan ek nie

klaarkom nie.” En die kêrel roer Jan se hare aan met sy hand, en Jan

verander sommer in ’n groot kat. Dit was baie onplesierig, en hy het

nie geweet wat om met sy stert uit te rig nie, want die ding het altyd

tussen sy bene gekom maar hy kon daar niks aan doen nie. Hy het mos nie

geweet dat die kêrel een van die slimste towenaars was nie.

Die kêrel het hom nie verder aan Jan gestoor nie, maar het gaan slaap

op sy veerbed, en Jan het bly staan, en met sy stert gepeuter en

probeer hardloop. Ofskoon die stert hom baie gehinder het, kon hy tog

mooi hardloop, en hy het die spelonk uitgehol in die rigting van sy pa

se plaas.

Toe hy daar aankom was dit al amper dag. Sy pa was net besig om vroeë

môrekoffie te maak in die kombuis en Jan het dadelik by die venster

ingespring.

„Waar kom die kat nou vandaan?” sê sy pa. „Voertsek, kat.”

Jan het gemiaau, want hy kon nie anders praat nie, maar sy pa het

natuurlik nie verstaan wat hy gesê het nie, en het eindelik die besem

geneem en hom uit die kombuis verwilder. Toe het Jan na die voorhuis

gegaan en onder die tafel gaan lê. Na ’n rukkie het Stomp, die hond,

binnegekom, en dadelik vir hom gaan blaf. Jan het weer gemiaau, en tot

sy verbasing het die hond stil gestaan en hom bekyk, en toe met hom

gepraat. En weer tot sy verbasing het Jan gevind dat hy Stomp se taal

goed kon verstaan.

„Watter soort kat is jy nou?” vra Stomp. „Ek ken al die katte in die

buurt, maar vir jou ken ek nie.”

„Ek is nie ’n kat nie,” miaau Jan. „Ek is Jan. Ek het ’n ongeluk gehad,

anders was ek nog Jan.”

„Jan die onnosele seun,” sê Stomp, en hy skater uit van die lag. „Nou

dit is alte koddig. Nou kan ek mos vir jou ja oor die werf....”

„Dit verbeel jy jou,” miaau Jan. „Ek sal dit nie toelaat dat ’n hond

vir my ja nie.”

„Ons sal sien,” sê Stomp, en hy lag weer geniepsig. „Jan het my baie

geja oor die werf toe hy hier was, en nou sal ek hom daarvoor betaal.

Die oubaas is mos nie gedien met vreemde katte op die plaas nie. Hulle

steel net.”

„Ek sal jou krap as jy dit probeer,” sê Jan. „En ek is nie bang vir die

oubaas nie; hy is mos my pa.”

Net op die oomblik het Jan se pa in die kamer gekom. „Daar is die gedit

en datte kat weer,” sê hy, vererg. „Stomp, ja hom tog uit. Sa, Stomp!”

Stomp het weer begin blaf, en so na aan Jan gekom dat Jan onder uit die

tafel weggespring het, die deur uit. Hy was baie kwaad, maar hy kon

niks teen die hond doen nie, en hy moes toe maar die groot eikeboom

opklim waar die hond hom nie kon bereik nie. Daar het hy mismoedig

gesit, en sy stert was baie lastig vir hom, want dit het altyd tussen

sy bene gekruip, en hy het gedink dat dit hom sou laat afval van die

boom. Maar hy het darem daarin geslaag om sy balans te behou, en

ofskoon dit koud was om daar in die nag op die boom te sit—want hy moes

die hele dag en die volgende nag daar sit—het hy maar uitgehou. Nou en

dan het hy hard gemiaau, wat eintlik was „Ek wens tog maar dat ek weer

in ’n seun kan verander.”

Ondertussen het Stomp, die hond, met die hoenderhaan gaan praat.

„Verbeel jou,” sê Stomp, „daardie onnosele Jan, die oubaas se seun, sit

daar in die bloekomboom. Hy is nou ’n kat.”

„Skei uit met jou gekskeer,” sê die hoenderhaan. „Daar glo ek niks van

nie.”

„Dis waarlik waar,” sê Stomp. „Jy kan hom daar gaan sien. Dis om oor te

lag. Onthou jy nog hoe hy vir ons geja het oor die werf....”

„Vir jou moet jy sê,” antwoord die hoenderhaan. „Geen seun sal my ja

nie, óf oor die werf óf oor iets anders. Ek sou daar hartlik voor

bedank.”

„Jy spog altyd,” sê Stomp.

„Nee, ek praat die waarheid,” sê die hoenderhaan. „Maar ... sê my nou

eers, is dit werklik waar wat jy daar sê?”

„Ja,” sê Stomp, „ek kan dit sweer.”

„Nou dan is dit baie ernstig,” sê die hoenderhaan. „Daar is ’n gesegde

dat as die oubaas se seun in ’n kat verander, dan is die end van die

wêreld naby. Dan word ons algar glo opgeblaas of soiets. Dit staan my

nie aan nie.”

„Wat is daar dan aan te doen?” vra Stomp.

„Net een ding,” antwoord die hoenderhaan. „Dit het ek van my oorlede pa

gehoor. Ons moet die seun weer verander kry; hoe onnosel hy ook as seun

is, hy is tog minder gevaarlik as soos hy nou is. Loop soek daardie

towenaar, want dit moet ’n towenaar wees, en vra hom om die seun weer

tot seun te maak.”

Stomp was nie in sy skik nie, maar hy was bang dat as die wêreld

vergaan hy ook miskien sou opblaas, en dus het hy maar toegestem. Hy

het nog dieselfde nag na die spelonk geloop, want hy het geweet waar

dit was, en wie die towenaar was. En hy het so hard gesoebat dat die

towenaar gesê het, „Ja, ek sal bom weer verander. My katte is terug, en

ek het hulle gepaai, sodat ek eintlik niks teen hom het nie. Maar hy is

darem maar ’n onnosele seun.”

Hoe die towenaar dit geprakseer het, weet ek nie, maar die volgende

môre het Jan se pa vir Jan onder die bloekomboom gevind waar hy aan

slaap was.

„Daar word tog niks van jou nie,” sê Jan se pa. „Jy bly maar onnosel.”

En hy het vir Jan na die uitlê-veld gestuur met die skape.

Kampstories · 第 7 / 7 段