deurkom nie.”
„Dan sal dit sleg met jou gaan in die lewe,” sê die meneer, wat ’n
digter was. „Maar ek dink dit is maar jou beskroomheid wat jou dit laat
sê. ’n Man wat sulke rymwoorde kan vind, kan maklik sy matriek deurkom.
Ek self het jare gelede my matriek gemaak en toe kon ek werklik nog
geen gedigte maak nie.”
„Maar Meneer het seker toe al versies uit Meneer se kop geken,” sê
Ah-ling.
„Natuurlik. Amper driehonderd-duisend,” sê die digter. „Hoe meer
versies jy uit die kop ken, des te beter vir jou. Kyk, kom maar by my
bly, seun. Ek sal vir jou losies en kos gee, as jy vir my help om
rymwoorde te vind.”
Ah-ling was tevrede met die aanbod, want hy het niks beters in oog
gehad nie. Die digter, wie se naam Nata-ki was, het hom nie baie
gesteur aan kos of woning nie, ofskoon hy taamlik ryk was. ’n Ou vrou
het elke dag na die huisie gekom om vir hom rys te kook, en nou en dan
het hy ’n stukkie vis bygekry, maar hy was alte druk besig met sy
gedigte om na sy kos te kyk. Ah-ling het dit gou-gou ingesien. Hy het
toe sake in sy eie hand geneem. Hy het die tuin omgespit en beplant,
lekker kos in die kombuis gekry, en gesien dat alles in orde was. Die
eetmale was nou eersteklas, maar Nata-ki het niks omgegee nie en alles
geëet net asof dit maar saagsel was. Al wat hy om getraak het was sy
gedigte, of liewers sy gedig, want daar was maar één, waaraan hy reeds
vir tien jare gewerk het. Die gedig was nou al sover soos die vyfde
reël en die nag nadat Ah-ling by hom gekom het, het hy die sesde reël
klaargemaak, wat met „manel” geëindig het. Daarna, met behulp van sy
nuwe kneg, het hy ’n nuwe reël elke dag klaargemaak.
Die digter was ryk en sy geld het orals in die huis sommer rondgelê.
Ah-ling kon daarvan neem wat hy nodig gehad het om kos te koop en ook
meer, want Nata-ki het nie eers geweet hoeveel geld hy gehad het nie.
Maar die lui seun was ’n eerlike seun; hy het die geld bymekaar gemaak
en veilig weggesluit in ’n ou kis wat in een van die kamers gestaan het
en later het hy nog geld bygesit, want hy het sy groente uit die tuin
verkoop en daardeur wins gemaak.
Toe hy nou amper ’n maand so gelewe het, sê Nata-ki eendag vir hom:
„Oormôre is die groot verjaardag van die keiser. Dan word al die
digters uitgenooi om ’n verjaardagvers vóór hom te gaan opsê. Ek dink
ek sal ook probeer.”
„Maar wêreld-beroemde Nata-ki,” sê Ah-ling, „as hierdie bogterige
niksnuts die vryheid mag neem om iets tot die uiters-interessante
gesprek by te dra, sou hy graag wil opmerk, dat sy blinde oë totnogtoe
geen speur van ’n gedig van die wêreld-beroemde Nata-ki gesien het
nie.”
„Dis in my kop,” sê die digter. „Skryf is ’n lastige ding. Dis alles in
my kop, maar ek vertrou op jou, dat jy my hier en daar met ’n rymwoord
sal help. Moenie vergeet nie.”
„Mastag!” dink Ah-ling, „die ding sal sleg afloop. As ons vóór die
keiser verskyn en my oubaas hakkel met sy gedig, word die keiser
miskien kwaad. En dan laat hy ons miskien ’n bietjie gesmelte lood
drink, wat, soos ek hoor, gladnie lekker smaak nie. Ek sal ’n plan moet
maak.”
Hy het toe die saak oordink en eindelik het hy probeer om self ’n gedig
te maak. Dit was sy eerste probeerslag en sy gedig was nie alte mooi
nie, maar dit was tog ’n gedig, want die endwoorde het opmekaar gerym:
Beroemde keiser van Sjiena,
Wat hierdie dag verjaar,
Ek het vir my konsertiena
’n Lied van gelukwens klaar.
’n Lied wat die goue vissies
Sing as hulle pronkerig swem;
’n Lied wat die rooi-geel rissies
Sing as hul die tak omklem.
Ek felisiteer die Keiser;
Ek wens hom soveel hy wil hê,
Dat hy magtiger, ryker, wyser,
Regeer tot die mense sê:
Die roemryke keiser van Sjiena
Is die grootste wêreld-baas.
En dan stryk ek my konsertiena
Tot al sy snare raas.
Dit was nou nie ’n eersteklas gedig nie, maar Ah-ling het gedink dat
dit maar moet deug.
Hy het toe mismoedig met Nata-ki na die paleis gegaan. Die paleis was
mooier en pragtiger as wat hy hom ooit kon voorstel, en hy was so
verbaas om al die rykdom te sien dat hy sy gedig glad vergeet het.
Sy baas en die ander digters moes in die troonsaal wag, totdat die
keiser klaar was om al die verjaardaggediggies aan te hoor. Daar was
duisende van die digters en toe Ah-ling hulle algar sien, het hy weer
’n bietjie moed gevat, want hy het gedink: „Die keiser sal tog nie
algar laat lood drink nie.” Hy het nog meer moed gekry toe hy die
eerste paar honderd gediggies aangehoor het. Hulle was sleg—slegter as
sy eie versie, en tog, die keiser het elke digter beloon en was
blykbaar in sy skik met wat die versies gesê het.
Toe dit nou Nata-ki se beurt was, het hy vorentoe gestap en aan Ah-ling
gefluister: „Help my met die rymwoorde.” Maar Nata-ki het so gehakkel
dat die keiser ’n bietjie ongeduldig geword het.
„Hierdie digter,” sê die keiser, „is een van die nuwe soort. Hy dig die
vrye verse, en sny sy lyne in stukkies. En hy rym nie. Miskien kan sy
kneg iets voordra?” en die keiser kyk goedgunstig na Ah-ling.
Ah-ling het toe sy oë toegemaak en vinnig sy versie opgesê, so vinnig
dat hy die lyne inmekaar gerol het. Maar die keiser het dit tog
verstaan, en vriendelik met sy kop geknik.
„Ek hou daarvan,” sê die keiser. „Ofskoon ek nie reg weet wat ’n
konsertiena is nie. Dit skyn vir my dat ’n seun wat soiets kan dig baie
beter sal maak as hy soldaat word. Kyk, seun, ek bevorder jou tot
soldaat van my lyfwag.”
Ah-ling was hoogs in sy skik en ofskoon Nata-ki geprotesteer het, het
niemand hom aan die digter se protes gesteur nie, maar hulle het vir
Ah-ling na die soldate gebring en hom ’n sabel en ’n borsharnas gegee.
En twee dae later moes sy resjiment optrek teen die seerowers. Ah-ling,
wat nog nooit in sy lewe geveg het nie, was baie bang, veral toe hy die
skietery van vèr-af hoor, maar hy het hom dapper gedra en het daarin
geslaag om een van die seerowers te vang.
Die keiser het hom toe korporaal gemaak en daarna generaal.....
„Dit glo ek nie. Jy moet mos eers sersjant word en dan majoor, en dan
kolonel, voordat jy generaal kan word....”
Dis maar die gewoonte met julle padvindertjies. In Sjiena in dié dae
was dit anders. Daar kon jy toe van korporaal sommer na generaal
spring, en dit is ook wat Ah-ling gedoen het. Maar toe hy generaal was,
het hy dit nie maklik gehad nie. Hy moes baie veg en sy soldate was
maar vrot, want hulle het gewoonlik weggehardloop as daar moes geveg
word en dus het hy alles self moes doen. En eenmaal het hy dit so hard
gekry dat hy amper doodgemaak was deur die seerowers. Toe het hy aan sy
kierie gedink en sodra hy sê „Kierie, help my!” spring die kierie by en
verslaan al die seerowers.
„Dis darem ’n eersteklas stok, hierdie,” dag Ah-ling, en hy gaan stadig
terug na die keiser se stad. Toe hy daar aankom, hoor hy dat hulle al
vir die keiser vertel het dat hy morsdood was. Die keiser was bly om
hom weer te sien en toe Ah-ling hom vertel het hoe dit gegaan het, sê
hy:
„Dit moes die spook van my oorlede oupa gewees het wat jou daardie
kierie gegee het. Ons het so ’n kierie in die famielie gehad, maar my
oorlede oupa, wat self keiser was, het dit met hom saamgeneem toe hy
gesterf het. Dit is nie betaamlik dat jy die famieliekierie besit nie.
Kyk, ek sal jou drieduisend taels daarvoor gee en jou bevorder tot
veld-maarskalk, as jy die kierie aan my wil afstaan.”
Dit het Ah-ling gedoen, en met sy drieduisend taels het hy verlof vir
’n paar weke gekry. Dit het hy gebruik om huis-toe te gaan.
Toe hy by sy ou huis kom, sien hy dat alles daar agteruit gegaan het.
Hy self was nou so deftig gekleed, in die mondéring van ’n Sjinese
veld-maarskalk, dat die mense orals vir hom padgegee het. Selfs sy ou
vader, wat nie geweet het wie hy was nie, het vorentoe gekruip en hom
gegroet soos ’n mens ’n vername persoon groet, deur sy voorkop heen en
weer op die grond te vryf.
„Hoe gaan dit, Pong-lo?” vra Ah-ling, wat nie eers wou sê wie hy was
nie.
„Ag, beroemde Veldmaarskalk,” sê Pong-lo, „so-te-sê maar beroerd. Die
hondjies, wat my inkomste was, het algar die griep gekry. My mandoor
het my besteel en ek is vandag amper bankrot.”
„En vroeër was jy dan so ryk,” sê Ah-ling.
„Ja,” sê Pong-lo. „Al my moeilikhede het gekom van die tyd toe ek my
seun weggeja het.”
„Hoekom het jy dan jou seun weggeja?” vra Ah-ling.
„Hy was so lui,” sê Pong-lo. „Hy wou nie sy versies leer nie en sou dus
nooit sy matriek gemaak het nie. Dit sou ’n skande vir my en my
famielie gewees het as my seun in sy matriek gedruip het.”
„Maar as hy dit nou verder as matriek gebring het?” vra Ah-ling. „Sê as
hy dit nou sover gebring het dat hy ’n vriend van die keiser geword
het....”
„Daarvoor was hy te lui,” sê Pong-lo en vryf weer sy voorkop in die
sand. „Ek sê dit met jammerte, maar hy was altyd ’n lui seun.”
Toe het Ah-ling, wat altyd ’n goeie seun was, ofskoon hy lui was, dit
nie oor sy hart gekry om nog langer sy vader so te sien spartel nie. Hy
het die oubaas opgetel en omhels en gesê:
„Ek is Ah-ling. Ek bring drieduisend taels in plaas van eenduisend en
ek breek my beentjies op jou.”
Pong-lo was natuurlik amper flou van blydskap. Hy het sy laaste vet
hondjie—die enigste een wat oorgebly het—laat slag, en die aand het
hulle lekker hondekerrie geëet, met baie rissies daarin, sodat jou mond
daarvan gebrand het.
Die verder geskiedenis van Ah-ling sal jy later hoor, Klipsteen.
VIII.
WAAROM DIE SEE HUIL.
„Ma, waarom huil die see elke aand?” het die klein seuntjie gevra.
Hy het in ’n riethuisie op die strand gewoon, want sy vader was ’n
visser, wat die vis wat hy gevang het en nie self opgeëet het nie,
gedroog het en aan die smouse verkoop het as bokkems. Allerhande soorte
visse, wat middelmatig klein was, want die groter visse was nie geskik
vir bokkems nie. Die moes hy oopsny, insout, en in pekel lê en as hulle
klaar was, dan het hy hulle mootjies genoem. Die mootjies is baie sout,
want hulle het die pekel ingesuip vir dae lank, maar die mense maak
daarvan visbredie en smoor dit met uie en ertappels, nadat hulle dit
eers vir ’n paar ure in vars water geweek het.
Die klein seuntjie was maar ses jaar oud en sy naam was Natter. Eintlik
het hulle hom Nathaniël gedoop, maar die naam was te lank en dus is hy
gewoonlik Natter genoem, of nog korter, Nat. Hy was ’n skraal seuntjie,
met hare wat amper wit was, so bleek was dit, en met ’n gesigsvel wat
altyd sproete gebrand het. Dié soort seuntjies, so sê die mense, is
sterk, maar daar kom nooit baie reg van hulle nie.
Ek weet nie of dit waar is wat die mense sê nie.
Waar Nat se huis gestaan het, was die wêreld maar ellendig lelik, want
in die omgewing was daar niks anders as sandduine en suurvye nie. Jy
kon nie eers die see sien nie, want dié was agter die duine. Jy kon hom
net maar hoor. Dag-in dag-uit kon jy sy geraas en gesuis hoor,
eentonig, so eentonig dat dit jou amper moedeloos kon maak. Duskant die
duine was daar ’n pan, waarop die eendvoëls geswem het en duisende
seemeeue, en in die water van die pan was daar springers, wat ’n baie
lekker soort vis is—lekker om te eet en lekker om te vang. Agter die
pan, veld se kant-toe, was daar ruigte en skaapbossies, want dit was ’n
plat wêreld, woes en onbewoon. Net na die reëns het die suring pragtig
gegroei onder die skaapbossies en die veld was groen, met duisende
heuningpotjies waarop die miere met plesier rondgekruip het. Nat het
ook van die heuningpotjies gehou. Jy steek die punt van jou pinkie
daarin en haal so die heuning uit. Die heuning is goudgeel en
stroopsoet, met net ’n suur bysmakie as jy te veel daarvan eet. As ’n
mens die duine oorklim, dan moes jy nog sowat honderd-en-vyftig tree
stap voordat jy die strand, die eintlike strand, bereik het. Nat se pa
het sy huis agter die duine gebou, omdat hy ’n bietjie van die see moeg
en sat was; hy wou so min daarvan sien as moontlik en het meer van die
kaal, geel duinsand gehou as van die groen, altyd op- en afgaande see.
Hy was dag-in dag-uit op die see; dit was sy broodwinning, die see, en
’n mens vind jou broodwinning soms vervelig. Daarom het hy sy huis
agter die duine gebou.
Dit was ’n klein huisie, van riet gemaak, met rietmure, gepleister met
die swart modder van die pan en met ’n rietdak, oorgroei met die
maarblom se rooi en geel bloeisels. Daar was eintlik nie vensters in
die huis nie; net maar twee deure en ’n gat in die dak, wat as
skoorsteen gedien het in die koue winterdae as Nat se ma die
konfoortjie in die voorkamer aansteek. Die kombuis was ’n aparte
huisie, ’n paar tree verder af en die woonhuis het net maar twee kamers
gehad. Meer was ook nie nodig nie, want Nat se pa was byna elke dag uit
om vis te vang en niemand het ooit vir Nat se ma kom besoek nie. En
daar was nie ander kinders nie, behalwe Nat. Vroeër was daar ’n ander
kind. Dit was Nat se sussie, Triena, maar Triena het verdrink in die
panwater, toe sy nog so-te-sê ’n babetjie was, en van die tyd was daar
net Nat.
Hy het dus maar alleen gespeel, daar op die duinsand, waar hy nie die
see kon sien nie, maar dit gedurig kon hoor. Sy maat was Mokkie, die
klein half-Boesmantjie, wat die kind was van outa Adoons wat vir sy pa
help visvang het. Mokkie was net so klein soos hy, maar baie ouer, met
’n gesiggie wat so gerimpel was soos seewater, waarop die wind waai. Hy
was egter ’n taamlik goeie maat, want hy het baie geweet en het altyd
„Kleinbaas” gesê teen Nat, en was nooit astrant nie.
Dit was Mokkie wat die byeneste gevind het, ver agter die pan, in gate
in die grond, onder die skaapbossies. Dit was hy wat hulle uitgehaal
het, sonder dat die bye hom steek en die mooi stukke jong bye, wat soos
vars amandels smaak, huis-toe gebring het, en ’n stukkie van die koek
agtergelaat het vir baas Heuningvoël, wat op die skaapbossies sit en sy
vlerkies met plesier klap, want hy weet dat hy sy aandeel sal kry.
Dit was Mokkie wat osse en waens van die suurvyeblare gemaak het en
potkleimannetjies uit die sagte witklei wat hier en daar by die pan kon
gevind word. Dit was hy wat die osse algar name gegee het—Swartland
hierdie een, Troe-troe daardie een, en Geelmoggel die ander, Bleskol
die hotagter een en Kasman die haaragter een. En die potkleimannetjie
was baas Ewert, en die ander een met ’n swart-gesmeerde gesig was outa
Perskie wat moes touvat, maar wat altyd omgeval het, omdat sy bene nie
gelyk was nie.
Dit was Mokkie wat geweet het, waar die beste plek was om springers te
vang. En dis nie so maklik om springers te vang nie, veral as jy maar
’n kort seilgaretjie het en ’n ou hoek, waarvan die punt afgebreek het.
As jy nie presies weet hoe om die saak aan te lê nie, dan sal jy nooit
’n springer met so ’n koddige hoek beetkry nie. Maar Mokkie het geweet
hoe om dit te prakseer en waar om die aas te kry—klein krefies, wat
onder die sand lê of onder die vuil en halfopgedroogde seegras, of
wurms wat hulleself in kassies ingemessel het vas aan die skaapbossies.
En dit was Mokkie wat kon sê waar die vaal korhaan, wat daar op die
laagte rondloop en net vlieg as jy hom opja, omdat hy meer hou van loop
as van vlieg, sy nes sou maak hierdie jaar. Dit was hy wat vir Nat die
nes gaan wys het, versigtig, want as jy aan die eiers raak dan is broer
korhaan kwaad en dan wil hy niks meer met die eiers te doen hê nie. Wat
tog ’n treurigheid sou wees, want die kleintjies is baie mooi en koddig
as hulle so astrant in die gras rondloop en doodstil lê as hulle hulle
verbeel dat iemand hulle wil pak.
Dit was Mokkie wat Nat leer swem het, want Mokkie kon goed swem, en die
panwater, waarin Triena verdrink het, was makwater as ’n mens kon swem.
Net as jy nie kon swem nie was die panwater kwaai en het dan sy bes
gedoen om jou onder te kry en om vir jou dood te maak. Dís waarom dit
vir Triena beetgekry het, toe sy nog maar ’n babetjie was.
Heerlik was dit om in die late namiddag daar in die panwater rond te
swem. Dit was so stil en so warm maar tog so fris dat jy dit moes
geniet, al was jy ook isegrimmig. Jy kon stadig op en neer swem en
probeer om die eentjies, wat altyd naby die ruigtepolletjies geskuil
het, beet te kry, maar dit was uiters moeilik, ofskoon Mokkie nou en
dan dit reggekry het. En dan kon jy platsit in die water, stil sonder
om jou te roer en voel hoe die swerms klein vissies jou kom ondersoek
en hoe hulle probeer om jou vel te byt. Dit was kielierig as hulle teen
jou rug met hulle neusies stoot, en dit was ’n pret om hulle skrik te
maak deur sommerso om te draai en met jou hande in die water te klap.
En die mooiste, die pragtigste van alles, ofskoon nòg Nat nòg Mokkie
baie daarna gekyk het, was die sonsondergang daar op die pan. Dit het
dan gelyk asof daar honderde reënboë gebreek het bo in die lug, en die
kleure het algar afgeval op die panwater en daar bly steek, terwyl ’n
paar van hulle, rooi, groen en violet, bo in die lug uitgebrei het,
totdat die hele hemel bo jou daar in die weste ’n geruit van bont was.
Dan kon jy, in die vroeë somernamiddae die geur van die sandlelies en
die bobbejaantjies bespeur, wat opgestyg het van onder die skaapbossies
en wat jou laat dink aan die fyngestampte pypkaneel wat die mense in
kollewyntjies sit.
Elke dag het Nat die see gaan bekyk, want hy was gek na die see en het
baie gehou van sy pa se skuit. Nou en dan het hy en Mokkie saamgegaan
met sy pa en met outa Adoons as hulle gaan visvang. Die eerste skoot
was dit gladnie plesierig nie, want Nat het naar geword, maar later het
hy dit lekker gevind, want die skommel van die skuit op die water het
hom nie meer mislik gemaak nie. Maar sy pa het gesê dat hy in sy pad
was en het hom nie baie keer saamgeneem nie.
Die see was nooit stil nie. Dit het nooit geswyg nie. Dag-in, dag-uit
en die hele nag deur het dit op en af geskuif en sag gesing. Nat het
bly luister saans as hy op sy klein duikerkarossie lê, na die sang van
die see en het probeer om dit te verstaan, maar hy moes altyd dit
opgee, want die see het hom gou-gou in slaap gesus. Nou en dan het hy
van die see gedroom, maar die drome was nie altyd plesierig nie, want
soms het hy gedroom dat hy en Mokkie in die see spartel en nie kon
uitkom nie. En dan het hy met ’n gil wakker geword en sy ma het hom
kasterolie ingegee, want sy het gedink dat hy te baie uintjies geëet
het.
„Ma, waarom huil die see so?” het Nat gevra.
Hy het al die vraag gestel aan Mokkie, wat nie daarop kon antwoord nie.
Ook outa Adoons het nie goed geweet wat om te antwoord nie.
„Dis maar sy manier, my Kleinbasie,” het Outa gesê. „Dis maar die
vuilis se manier,” want outa Adoons het die see nie lief gehad nie,
miskien omdat dit sy broodwinning was.
„Die see,” het die outa gesê, „die see, Kleinbasie, moenie tog vir hom
vertrou nie. Hy verneuk jou, Kleinbasie en jy kan nie op hom staatmaak
nie, nooit nie, my Kleinbasie.”
„Maar waarom huil hy, Outa?” het Nat gevra, en die outa het sy kop
geskud.
„Dis sommer sy manier, my Kleinbasie,” het hy geantwoord, „net soos
ditte myne is om te pruim, my Kleinbasie. Ons het almal ons eie
maniere, my Kleinbasie en dis syne om lawaai te maak as ’n mens wil
slaap, my Kleinbasie.”
Maar Nat was nie tevrede met dié verklaring nie en hy het altyd gedink:
„Die see moet tog iets makeer, anders sal dit mos nie so huil nie.”
Toe het hy vir sy pa gevra, maar sy pa was besig om die net, wat
stukkend was, reg te maak en was vererg omdat die netnaald afgebreek
het.
„Moenie sulke onnosele vrae vra nie, Nat,” het hy kortweg gesê. „Dis
mos nie huil nie; dis maar die geraas van die branders teen die strand.
Sal jy dan nooit iets leer nie?”
En sy pa het hom weggeja om water te gaan haal uit die put.
„Hoekom huil die see so, Ma?” het Nat gevra, en sy ma, wat besig was om
gho-koffie te brand, het ongeduldig geword.
„Hoe weet ek dit?” sê sy ma. „Moenie met die gho-boontjies peuter nie,
Nat; jy weet mos hulle is giftig. Loop speel met Mokkie as jy niks
anders te doen het nie.”
Toe het Nat maar met Mokkie gaan speel, maar hy het gedurig gedink aan
die huil van die see. En toe Mokkie na die pondokke gaan, het Nat na
die strand geloop en daar op die wit sand, waar die klein, fyn blou
skulpies opspoel as dit storm is, gesit en na die see gekyk.
Dit was al laat in die namiddag en die son was halfpad onder, agter die
pan. Die weste het al sy geruit van bont kleure aangetrek en die hitte
van die dag was alreeds afgekoel. ’n Sagte windjie het oor die see
gewaai, ’n windjie wat ver van die suide kom, waar die groot ysberge
rondswem en waar die robbe snags in die lig van die groen ys, wat die
skyn van die sterre weerkaats, met mekaar speel. Brandertjie na
brandertjie het teen die sand gespoel en elkeen het, as hy spoel, ’n
geluid gemaak. Nat het gesit en wonder wat die geluid sou beteken, want
hy het gedink dat dit tog praat moet wees en praat kon ’n mens tog
verstaan. Maar dié soort praat kon hy niks van uitmaak nie.
En toe hy daar sit, bespeur hy dat die brandertjies vol klein liggies
was. Die son was nou onder en dit was skemeraand en hier en daar was
reeds ’n ster te sien in die lug. In die skemer was die blink liggies
in die brandertjies baie mooi, want hulle het gefonkel soos
vuurvliegies wat in die winter bo die ruigte van die pan speel. Die
liggies was van allerhande kleure; groen, en pers, en wit, en rooi, en
die kleur van die kanaänse druiwe, wat Nat eenmaal op die dorp aan ’n
prieel gesien het. En daar was nog baie ander kleure wat hy nie geken
het nie en wat hy dus nie die naam van geweet het nie, maar algar was
blink en het geskitter soos sterretjies daar in die deurskynende groen
van die branders. As die branders teen die sand platslaan, dan het die
liggies uitgegaan, en Nat het gesien dat ’n hele boel klein dingetjies
op die sand rondkruip. Eers het hy gedink dat dit maar klein krappies
was. Daar is baie klein krappies op die strand daar by die panne. Hulle
kom saans uit hulle gate, wat bo die waterkant is en jaag in duisende
oor die nat sand, sodat hulle ’n geraas maak soos ’n swerm bye wat hoog
bo jou in die lug vlieg.
Maar dit was nie krappies nie, hierdie skoot.
Dit was die klein volkies wat in die diepte van die see lewe, en wat
verwant is met die dwergies en kaboutertjies wat in die klowe van die
berge woon. Nat het dit nie geweet nie, want hy was nog maar dom en
jonk en niemand het hom ooit van die dwergies vertel nie.
Maar nou, toe hy al die klein volkies sien, was hy eers amper bang. Hy
het nog nooit sulke dingetjies teëgekom nie. Hulle was algar ’n
kwartduim hoog, elkeen met ’n paar beentjies wat amper net soos die van
’n toktokkie was en met armpies wat skaars so lank soos ’n koringkorrel
was. Elkeen was net gekleed in ’n groen baadjie en groen kortbroekie,
wat, koddig genoeg, gladnie nat was nie, ofskoon hulle algar net nou
uit die branders gekom het. Hulle het rondom Nat geswerm, honderde van
hulle, duisende, en nog altyd het daar meer en meer uit die branders
strand-toe gekom.
Nat wou eers padgee, want hy het die vrede nie vertrou nie, maar die
mannetjies was so vriendelik, dat hy weer moed gevat het en besluit het
om maar ’n bietjie te bly kyk wat hulle sou doen. Dit was al laat en hy
het geweet dat hy moes huis-toe gaan, want sy ma het reeds die
gho-koffie klaar gemaak, en dié aand sou hulle in die riethuisie
pampoenpap en gebraaide vis hê en hy was baie gek na pampoenpap. Maar
die mannetjies was so koddig, dat hy tog maar ’n tydjie wou bly.
Tot sy verbasing het hy gevind dat hy goed kon verstaan wat die klein
mensies sê. Dit was nou nie juis Afrikaans wat hulle gepraat het nie,
maar dit was tog verstaanbaar genoeg en hy kon uitmaak, wat die wat
naaste by hom was, sê. En dit is wat hy gehoor het:
„Hierdie seuntjie,” sê die een, „is mos die seun wat altyd vra waarom
die see huil en hoekom.”
„Ja,” sê die ander. „Ek hou van seuns wat vra waarom, maar wat die
hoekom betref, dit gaan bo al ons vuurmaakplekke. Dis ’n alte lastige
vraag, daardie en as ’n seuntjie daarmee begin, dan is dit tyd dat ’n
mens hom suurlemoensop gee.”
„Sou ons hom dan nie inligting kan gee nie?” sê die ander een weer.
„Dis mos maklik genoeg.”
„Ek dink ons moet wag tot die Koning hier is,” antwoord die ander. „Hy
is aan die kom, want ons gaan mos vanaand die groot dansparty daar in
die seegraskuiltjie op die rotse hou, en hy sal met die Prinses dans.”
„Dit weet ek goed,” sê die ander. „Ek en jy kom mos ook om te dans. En
dit herinner my dat ons nog baie te doen het. Ek weet nie eers of daar
kos genoeg sal wees vir ons algar nie.”
„Moenie bang wees nie,” sê die ander. „Daar is vanmôre al kos bymekaar
gebring. Daar is volop kreefslaai en seeslakpastei en seegraskonfyt, en
ek weet nie al wat nie.”
„Maar die drank ... wat van die drank?” vra die een. „As ’n mens dans
dan kry jy geweldig dors en ek hou altyd van ’n stukkie iets as ek dors
het.”
„Daarvoor is ook gesorg,” sê die ander. „Daar is wyn uit ’n
verongelukte skip en vir diegenes wat goeie tempeliere is, is daar
moerbeistroop. Maar wag, hier kom die Koning.”