van die rowers wat onthoof is, het op hom gespat, maar hy het dit nie
gevoel nie, want hy was dood. Die aand, toe die kermis oor was, het een
van die seuntjies met die wye broeke hom opgetel.
„Hier’s ’n dooi klappertjie,” het hy gesê. En hy het hom oopgebreek en
die kruit binne aan brand gesteek.
„Ss-sssis,” sê die klappertjie en dit was die laaste wat hy gesê het.
En nie eers die vuurpyl het geweet dat die klappertjie ’n man se lewe
gered het, omdat hy nie ’n goeie klappertjie was nie.
Die keiser het sy tweehonderd-en-veertigste koppie tee gedrink en toe
gaan slaap.
VI.
GOGGA EN GORRA.
In die ou, ou dae, toe daar nog geen gewone mense, soos ek en jou pa,
of jy en jou sussie, ou seun, hier op die aarde was nie, toe was daar
twee goed wat op die plek gelewe het, wat ons nou Pretoria noem.
In die heerlike Oktobermaande het hulle daar gelewe. Want, selfs in die
ou, ou dae, toe daar nog geen gewone mense op die aarde was nie, was
dit lekker in die sonskyn en die geur van die duisende doringbome, wat
juis in dié tyd wolke van goudgeel dons in die lug laat rys het, om aan
algar te wys hoe rojaal hulle kon omgaan.
Dis waar, daar was nie jakarandas nie en die mooi blou van die
bloeisels het ’n mens nie kon sien nie. Maar die lug was ewe blou bo,
en diep in die bosse—want daar was bosse toe op die koppies—het die
lied van die groot kokkewiet, wat in die dae so groot soos ’n arend
was, getril.
Nou, in die ou, ou dae het daar twee goed gelewe.
Die een se naam was Gogga en die ander s’n was Gorra.
Ek weet nie, ou seun, wie vir hulle hierdie name gegee het nie en dit
kom ook nie daarop aan nie, want dit is al so lank gelede, dat hulle
tog nie sal omgee as ’n mens hulle verkeerd noem nie.
Gogga was nog snaakser as Gorra en altwee van hulle was so snaaks, dat
as jy hulle vandag vir die eerste maal op die straat sal aantref, jy
jou amper sal doodlag. So koddig was hulle. Potsierlik, soos oom
Andries sê.
Gogga was klein en tingerig, met beentjies wat soos spinnekop-beentjies
lyk en wat skaars drie duim lank was. Op sy kop het hy horings gedra,
tweemaal so lank as sy beentjies, waarmee hy gevoel het. Sy een oog was
op die end van sy neus, wat amper so lank as een van sy beentjies was.
En behalwe die voelhorings, die beentjies en die neus met die een oog,
was daar amper niks van hom te sien nie, want sy lyfie was so pieperig,
dat jy baie hard moes kyk om dit raak te sien. En wat kop betref, was
syne net so groot soos ’n klein speldekoppie.
Gorra, daarteen, was baie groot. Hy was so groot soos ’n olifant, wat
vet geword het en dus groter, ou seun, as ’n gewone olifant. Sy bene
was kort en dik en sy bors was soos ’n stikvat en het gedreun soos ’n
groot tamboer. Sy bokbaard—want hy het ’n bokbaardjie gedra, waarop hy
nogal baie trots was—was net onderkant sy oë, en sy mond was bokant, op
sy voorkop. In plaas van voelhorings, het hy ’n lang stert gehad,
waarmee hy in die rondte geswaai het om die warm-as weg te dryf. Selfs
in dié dae was die warm-as maar lastig op die plek waar Pretoria vandag
is.
Maar dis nie die moeite werd om vir jou alles te sê hoe Gorra en Gogga
daar uitgesien het nie, ou seun. Al gaan ek aan vir ’n halfuur om hulle
te beskryf vir jou, sal jy tog nie vir jou kan verbeel hoe hulle gelyk
het nie, want hulle was eenvoudig so komieklik soos ’n nagmerrie wat jy
van agterstevoor bekyk.
En jy weet dit is so snaaks dat dit soms vir jou amper bangmaak, veral
as jy alleen slaap.
Gogga was die jongste, ofskoon hy hom altyd gedra het asof hy die
oudste was. Vir so ’n klein skepseltjie was hy nogal parmantig en daar
het baie slimmigheid gesteek in daardie speldeknop-koppie van hom.
Gorra, die oudste, was gladnie so gevat nie. Tussen ons, hy was maar
wat die mense vandag sê, „sonder een van sy varkies.” Jy kon hom maklik
om die hoekie gelei het, want hy sou alles geglo het, wat jy hom maar
ook vertel het. Hy was sag geaard, soos groot mense, wat baie groot is,
gewoonlik is en het baie verdra. Jy kon perd-perd op sy rug ry, as jy
in die dae daar gewees het, ou seun, en hy sou nie vir jou met sy stert
weggedryf het nie soos hy die warm-as weggedryf het.
Gorra het baie van seepsop gehou en Gogga van wilde heuning.
Dit moet jy onthou, my liewe ou boetietjie, want die hele geskiedenis
wat ek vir jou vertel draai uit op seepsop.
Jy weet tog wat seepsop is. Jy maak dit van seep en water en dan kry jy
’n strooitjie en blaas daar seepballe van. As jy handig genoeg is, kan
jy aan elkeen van die seepballe ’n klein mannetjie met ’n vlaggie in
die hand vasmaak en die balle dan in die lug laat swewe, en kyk hoe
mooi die mannetjies rondreis.
Dit kon jy nie in Gorra en Gogga se dae gedoen het nie.
In die eerste plaas, jy was nie daar nie, en in die twede plaas, daar
was toe geen seep nie. In die derde plaas, daar was nie ’n mannetjie
nie en dus sou jy nie geweet het om ’n mannetjie uit papier te sny nie,
want jy sou nie geweet het hoe hy moet lyk nie.
Wees dus maar bly, ou boet, dat jy nie toe gelewe het op die plek wat
nou Pretoria is nie.
Maar Gogga en Gorra het daar gewoon en Gorra was, soos ek gesê het,
baie lief vir seepsop.
Omdat ek nou gesê het, dat daar in die dae nie seep was nie, dink jy,
wysneus klein seuntjie, dat ek verkeerd het. Hoe kan Gorra nou van
seepsop gehou het as daar nie seep was nie?
Sit daar op jou hurke en ek sal jou die ding duidelik maak.
Ofskoon daar in die dae nie seep op die aarde was nie, was daar tog
baie seep in die see. Die branders het dit op en neer geslaan en die
seepsop het die skuim boöp die branders gemaak. Dit maak dit vandag
nog, maar intussen het die see so sout geword, dat jy nie meer met
daardie seepsop kan was nie. En Gogga was die oorsaak daarvan, dat dit
so sout geword het. Wag, ek sal jou vertel.
So op ’n heerlike Oktoberdag—hulle het natuurlik nie geweet dat dit
Oktober was nie, en hulle het die maand glo iets anders genoem, wat ek
noual vergeet het—ontmoet Gogga vir Gorra. Hy kon Gorra met sy een
oog—wat op die punt van sy neus was—sien, maar om sekuur te wees (want
’n mens se oë bedrieg jou soms) het hy vir Gorra oor en oor gevoel met
sy voelhorings.
„Buk, Gorra,” sê hy, met sy pieperige stemmetjie, „ek wil jou voel om
te weet of dit regtig jy is.”
Gorra het toe gebuk en Gogga het hom orals gevoel. Dit het ’n lang tyd
geneem voordat Gogga klaar was, want daar was so baie van Gorra om te
bevoel, maar eindelik, na vier uur, was hy klaar.
„Jy kan nou weer opstaan, Gorra,” sê Gogga, „want nou weet ek dat dit
regtig jy is. My oog het my nie bedrieg nie. Maar dis altyd beter om
sekuur te wees, nie waar nie? Jy kon miskien ’n boomstam gewees het, of
’n swerm bye of so iets. My pa het altyd gesê, wees versigtig as jy met
die onbekende te doen het.”
„Jy kon my mos maar gevra het,” sê Gorra, wat amper styf was, omdat hy
so lank gebuk het, want hy was swaar.
„Daaraan het ek nie gedink nie,” sê Gogga. „Maar dit maak nie saak nie.
Dis altyd die dom mense wat met die maklikste begin.” En hy vrywe sy
voelhorings teenmekaar.
„Wat kom jy nou hier uitrig, Gorra?” vra hy weer, „Ek het jou vir ’n
lang tyd nie gesien nie en het gedink dat die groot likkewaans jou
beetgekry het.”
„Nee, Gogga,” sê Gorra, „ek gee niks om vir die groot likkewaans nie.
Eergister het ek een opgevreet. Ek was ’n bietjie moeg en wou ’n
stukkie biltong kou, maar ongelukkig het ek my biltong vergeet. Toe het
ek net ’n likkewaan sien verbygaan en ek het hom maar opgevreet.”
„En wat kom jy nou soek?” vra Gogga.
„Ek kom kyk of jy nie seepsop het nie,” sê Gorra. „Ek verlang so baie
na seepsop. Ag, Gogga, jy weet nie hoe aaklig dit is om sonder seepsop
te lewe nie. Man, dis ’n naarheid. Smôrens as my oë oopgaan, dan
verlang ek na seepsop. Saans as ek gaan slaap, kry ek bitter swaar,
omdat daar nie seepsop is nie. Ons is so ver van die see, dat ek
gladnie meer van die goed kan kry nie. Ek het gedink jy en ek moet ’n
plan maak.”
„Nou ja,” sê Gogga, „as jy my wil help om wilde heuning bymekaar te
maak vir die winter, sal ek probeer om ’n plan te maak om die see hier
te bring. Dis ’n moeilike saak, maar ’n slim mens soos ek sal darem nog
’n plan kan maak, as ek my daarop toelê.”
„Dis wat ek gedink het,” sê Gorra. „Daar’s heuning in oorvloed, want
die bye werk goed, en ek sal vir jou soveel neste uithaal as jy maar
verkies. Daar is ’n groot nes onder die vyeboom daar.”
„Dis al bestel deur die duiwelby,” sê Gogga, „en met hom wil ek nie
gaan baklei nie.”
„Ag nee a,” sê Gorra, „hy beteken niks nie. Hy’s sommer ’n mot.”
„Ja, so sê hulle,” sê Gogga, „maar ek vertrou die saak nie. As hy my
aan die horings beetkry, kom ek miskien sleg daarvan af.”
„Hy kan mos nie byt nie,” sê Gorra. „Maar in alle geval, ek sal jou
heuning genoeg laat kry, as jy my maar daardie plan uitwerk, waarvan
ons gepraat het.”
„Dis maklik genoeg,” sê Gogga. „Ons moet net maar ’n voor maak om die
seewater hierheen te lei. Die naaste see is daar by die plek wat hulle
later Delagoa-Baai sal noem. Vandaar moet ons die water hiernatoe
bring.”
„Maar dit is mos baie ver,” sê Gorra. „En hoe sal ons die voor maak?”
„Kyk,” sê Gogga, „jy het mos ’n stert. Jy moet net platlê op die grond
en met jou stert teen die grond slaan. As jy aanhou klop, sal jy gou ’n
voor hê. Dan gaan jy verder af lê en klop weer met jou stert op die
grond. Dan nog ’n end verder en so voort, totdat die voor kant en klaar
is van hierso tot by die plek wat hulle later Delagoa-Baai sal noem.”
„Hoe lank sal dit neem, dink jy?” vra Gorra.
„As jy nie gaan slaap nie,” antwoord Gogga, „sal dit maar ’n kort
tydjie neem, sê tweehonderd jaar of so. Maar dan moet ons noual begin.”
„Tweehonderd jaar is darem lank,” sê Gorra, mismoedig. „So lank sou ek
amper nie kan wag nie.”
„Daar begin jy al met jou gesanik,” sê Gogga. „Moet nou nie so
kleingeestig wees nie. Onthou, dit het duisende jare geneem om daardie
seepsop in die see te kry. Loop haal nou eers vir my ’n bietjie heuning
en dan kan jy dadelik met die voor begin.”
Gorra het toe die byenes loop uithaal en met ’n hele klomp heuningkoeke
teruggekom, wat hy aan Gogga gegee het.
Gogga het toe smaaklik van die heuning geëet en hom toe opgekrul onder
’n anyswortelblaar.
„Ek neem nou so ’n klein dutjie,” sê hy, „jy kan maar aangaan met die
voor. Sodra ek wakker word sal ek jou kom help.”
En hy begin sommer snork.
Gorra het toe op die grond gaan lê en hard met sy stert geklop. Dit was
vermoeiende werk en die grond was baie hard, sodat hy nie veel uitgerig
het nie. Buitendien, hy het altyd rumatiek in sy stert gehad, en
binnekort was dit te seer vir hom om aan te hou met die voorgrawe. Hy
het toe gedink hy sou maar ’n bietjie rus, maar net toe hy ophou, word
Gogga wakker.
„Op so ’n manier kom jy nooit by die plek wat hulle later Delagoa-Baai
sal noem nie,” sê Gogga. „Jy rus te gou. Toe ek so oud soos jy was, kon
ek nooit rus voordat ek klaar met my werk was nie. Jy sal moet werk.”
Die arme Gorra het weer begin en die werk was so hard en sy stert het
so seergekry, dat die trane in sy oë gestaan het. Die trane, wat baie
sout was het in die voortjie gerol en daar gebly. Die son het hulle
opgedroë en ’n laag sout agtergelaat.
Vir tweehonderd jaar het Gorra so moes werk, sonder seepsop. Elke dag
moes hy eers heuning soek en dan moes hy met sy rumatieke stert op die
grond klap. Op so ’n manier het hy dit eintlik reg gekry om ’n diep
voor te grawe van die plek wat nou Pretoria is tot waar nou
Delagoa-Baai is. Die apies het kom kyk hoe hy werk en hulle het in die
sloot gespeel, ofskoon daar so baie sout in was dat hulle versigtig
moes wees om nie onder die sout begrawe te word nie. Want die arme ou
Gorra het elke dag baie, baie trane gestort, omdat sy rumatieke stert
hom so seergemaak het.
„Dis ’n mooi begin,” sê Gogga, wat weer heuning geëet het. „Dis nou nie
juis ’n reguit voor nie, want dit kronkel en slinger geweldig, maar dis
tog ’n voor. Ons sal dit die Apiesvoor noem. Gaan maar voort, ou maat.”
Toe Gorra sy voor ’n paar myle verder gegrawe het, het die krokodille
kom kyk wat daar te doen was. Hulle was baie nuuskierig en het so
rondgespeel in die voor dat hulle dit groter en wyer gemaak het.
Gogga was eers kwaad daaroor, maar later het hy gesien dat dit goed was
dat die voor groter gemaak word.
„Dan kry ons meer seewater, ou maat,” sê hy. „Dis mooi van die
krokodille dat hulle ons help. Ons sal die gedeelte van die voor maar
Krokodilvoor noem. Gaan maar aan, ou stertklapper.”
Eindelik het die arme ou rumatieke Gorra sy voor klaargehad tot in die
wêreld wat nou anderkant die wildtuin van die Sabie lê. In dié dae was
dit glad anders as nou en die grond was baie sag daar, sodat Gorra mooi
vordering met sy sloot gemaak het. Maar dit was nou al
eenhonderd-twee-en-negentig jaar wat hy aan die werk was en sy stert
was so afgeslyt dat ’n mens dit nie meer as ’n stert kon beskou nie.
Dit was maar net ’n skaduwee van ’n stert—’n skaduwee wat vol met die
rumatiek was.
Toe Gorra dit sien, sit hy op die kant van die sloot en begin te huil.
Hy het so hard gehuil dat die trane die voor gevul het en self ’n pad
gemaak het na die see.
„My maskas,” sê Gogga, toe hy dit sien. „Ons het mos die sloot afdraand
in plaas van opdraand gemaak. Nou kry ons nooit die seewater hiernatoe
nie. Ons sal weer ’n plan moet maak.”
„Ek het genoeg van jou planmakery,” sê Gorra, mismoedig. „Ek sal nou
maar hierso doodgaan sonder seepsop.”
En hy het ook daar doodgegaan, maar voor hy doodgegaan het, het hy so
baie trane gehuil dat die sloot vol sout was.
Later het die reëns gekom en die sout afgespoel, seetoe. En dít is die
rede waarom die see vandag so sout is.
So tenminste sê die mense wat van Gogga en Gorra iets afweet. Ek was
nie daar nie, ou seun, en ek vertel jou maar die storie soos hulle dit
aan my vertel het.
Wat van Gogga geword het weet ek nie. Sy kinders en sy kleinkinders
lewe nog om die sloot—wat nou die Krokodilrivier is—en hulle is soms
baie lastig as ’n mens nie seepsop het nie.
VII.
DIE STOUT SEUN.
Dit was in Sjiena, jare gelede.
Die seun se naam was Ah-ling. Wat dit beteken weet ek nie, want ek ken
nie Sjinees nie. Maar jy weet nie eers wat jou eie naam beteken nie,
Pierewiet.
„Dis mos Pieter, nie Pierewiet nie.”
Maak nie saak nie. Jy weet nie wat dit beteken nie. Elke naam het sy
betekenis en joue beteken Klipsteen, want dis die Grieks vir klip.
„Daar glo ek niks van nie.”
Omdat jy so dom is. Frikkie se naam beteken „Geelbaard.”
„Dit kan ek glo. Oom Andries het mos ’n vos baard.”
Maar oom Andries is mos sy pa, swaap. As jy nou nie vir my wil glo nie,
dan kan ons maar loop slaap....
„Vertel maar van die stout seun. Ek het nog nie vaak nie.”
Nouja. Ah-ling was sy naam en hy het in Sjiena gelewe, jare gelede.
Sjiena is die land waar die meeste dinge van papier gemaak is. Die
huise is van papier—of was van papier in dié dae; die vensters was van
papier, en die mense het met papier geëet....
„Daar glo ek niks van nie....”
Weer omdat jy dom is, Klipsteen. Kyk, hulle het die papier opgerol en
daarvan stokkies gemaak en die stokkies het hulle gebruik om mee te
eet, net soos ons vurke en lepels gebruik.
„Hoe het hulle dan hulle sop geëet?”
Ook met die stokkies. Ek het dit self gesien en ek het ook so probeer
eet, maar dit het nie gegaan nie, want ’n mens het oefening nodig om
die stokkies te hanteer. Maar Ah-ling kon dit goed doen, want hy het
van sy babetjietyd met die eetstokkies omgegaan.
„Ek dink dis sommer so wysmaak....”
As jy dit dink kan jy maar loop slaap. Maar hierdie Ah-ling nou. Sy
vader was baie ryk, want hy was ’n mandaryn van die derde klas....
„Wat is ’n mandaryn?”
’n Mandaryn is ’n edelman ... iemand wat hoog staan. Die hoogste man in
Sjiena is die keiser, wat in ’n porseleinpaleis, met vensters van
papier, woon. Dan kom sy eerste minister, wat ’n mandaryn van die
eerste klas is, en wat ’n diamantknopie op sy mussie dra. Elke mandaryn
dra so ’n soort knopie, wat sy rang wys. Die twede klas mandaryn dra
glo ’n rooi kristalknopie; die vierde klas dra blou, die derde klas
groen en die vyftiende klas geel. Ah-ling se pa het dus ’n groen knopie
op sy mussie gedra en hy was skatryk, want hy het hondjies vir die
keiser vetgemaak....
„Hoekom?”
Omdat die keiser, net soos elke Sjinees, baie gek na gebraaide hondjie
was. Die vetste en lekkerste hondjies het Ah-ling se pa vetter en
lekkerder gemaak en die het hy aan die keiser gestuur, wat hom baie
geld daarvoor betaal het. So het hy skatryk geword en ander besighede
begin, wat hom nog ryker gemaak het.
Ah-ling was sy enigste kind en hy was baie trots op Ah-ling en het die
seun ’n bietjie verwen. En Ah-ling was lui. Hy was ’n goeie seun, maar
hy was vreeslik lui. Hy wou nie sy versies leer nie en ’n Sjinese seun
moet baie versies leer. Vir sy matriek moet hy seshonderd-duisend
twee-en-negentig versies pront uit sy kop ken en kan opsê....
„Dit glo ek nie!”
Miskien is dit seshonderd-duisend drie-en-tagtig; ek weet nie presies
nie, maar dis ’n geweldige getal versies, al glo jy dit nie. En as hy
één fout maak dan druip hy. En as hy druip, dan is dit ’n baie groot
skande vir hom en vir sy hele famielie, net soos dit vir my is, as jy
sewentiende in jou klas kom, Klipsteen....
„Ek was nog nooit sewentiende nie....”
Maar jy was al twaalfde, wat amper net so erg is. Nou, Ah-ling wou nie
sy versies leer nie. Hy wou die hele dag speel en visvang, en vlieërs
laat vlieg, want in Sjiena speel al die mense met vlieërs. Sy pa was so
druk besig met sy besigheid, dat hy nie baie tyd gehad het om na
Ah-ling te kyk nie en hy het die seun maar aan sy meesters oorgelaat.
En een dag kom die meester na hom toe en maak ’n buiging voor hom en
sê:
„Pong-lo”—want dit was Ah-ling se pa se naam—„Pong-lo, hierdie
armsalige bog wat die eer het om jou eersteklas seun onderwys te gee,
kom met ’n bedrukte hart na jou toe.”
Eintlik het hy gesê „bedrukte maag,” maar die betekenis is dieselfde.
„Wat is dit dan, hoogs gewaardeerde meester?” vra Pong-lo.
„Dit is omtrent jou eersteklas seun,” sê die meester. „Hy is, om dit
met waarheid uit te druk, nie geneig om sy eersteklas kop te gebruik as
hy my niksbeduidende sommetjies moet maak nie, en nog minder is hy
geneig om die armsalige versies wat vir sy bogterige matriek nodig is
uit die hoof te leer.”
„En waarvoor betaal ek my waardelose geld aan jou dan?” vra Pong-lo,
„as dit nie is om hom te dwing om te leer nie?”
„Hierdie vermetele vent,” sê die meester, en hy trek sy skouers op,
„het dit al probeer. Om die waarheid te sê, hierdie ongeskikte
leermeester het al sover gegaan om die lat op jou seun se vereerde
sitplek te gebruik, maar die gevolge het nie die kraginspanning, wat
daartoe noodsaaklik was, geregverdig nie. Dit is hierdie ellendige vent
se plig om aan jou edelagbare te sê, dat hy geen kans sien om die slim
eersteklas seun van jou deur sy matriek te kry nie.”
„Maar by dit en dat,” skree Pong-lo, wat nou baie verontwaardig was,
amper net soos ek toe jy twaalfde in jou klas gekom het, Klipsteen....
„Dit was mos omdat ek pampoentjies gehad het. Ons wil van Ah-ling
hoor.”
Goed. Baie verontwaardig was. „By dit en dat,” skree Pong-lo, „ek sal
hom leer.” En hy slaan op die ghong wat naas hom gestaan het....
„Wat’s ’n ghong?”
Dis die klok wat die Sjinese gebruik—’n stuk metaal waarop hulle slaan
en daardeur ’n geluid maak. Toe die kneg inkom, sê die kneg:
„Vereerde Pong-lo, die hondjies het al...”
„Dis nie oor die hondjies wat ek jou geroep het nie,” skree Pong-lo.
„Loop sê vir my lui seun dat hy dadelik hier moet kom.”
Kort daarna het Ah-ling binnegekom. Hy het platgeval op sy gesig op die
tapyt voor sy pa en sy voorkop op die vloer op en neer gevryf. Dis die
manier waarop die seuns in Sjiena hulle eerbied vir hulle ouers bewys.
„Ek breek my beentjies op jou,” sê hy, want dit is die manier waarop ’n
seun sy vader toespreek in Sjiena.
„Ek sou amper joue kan breek!” snou sy vader hom toe. „Wat is dit wat
ek van jou hoor? Dat jy lui is en nie wil leer nie. Hoeveel versies ken
jy al?”
„Ek weet nie reg nie,” sê die seun, „maar verlede week het ek dit tot
die sewehonderd-en-sestigste gebring....”
„Allematties!” skree die oubaas. „En aanstaande maand is die matriek.
Dink jy ooit dat jy dit kan maak as jy maar so min versies ken? Maskas,
maar jy is lui!”
„Ek kan maar probeer,” sê Ah-ling. „Ek kan maar probeer.”
„Ja en druip,” sê Pong-lo. „Dankie hartlik. Die skande wil ek nie
deurlewe nie. Jy het tyd genoeg gehad. Luister nou wat ek vir jou sê.
So ’n seun soos jy wil ek nie meer hê nie. Trap! Van vandagafaan is jy
nie meer my seun nie. As jy terugkom met ’n duisend pond—eintlik het hy
gesê „taels”—dan kan jy weer my seun wees, maar voor die tyd wil ek
niks met jou te doen hê nie. Ek skraap jou naam uit my geslagsregister
en as jy langer as ’n jaar wegbly, dan neem ek ’n ander seun aan, want
ek moet tog iemand hê wat my kan begrawe as ek doodgaan. Trap!”
Ah-ling was bitter bedroef, maar hy het geweet dat sy pa nie sy besluit
sou verander nie, want die oubaas was baie hardkoppig. Hy het toe weer
sy voorkop op die tapyt gevryf en agteruit gegaan, totdat hy by die
deur van die kamer kom. Daar het hy ’n diep buiging gemaak,
opgestaan—want tot daar moes hy agteruit kruip om sy eerbied vir
Pong-lo te bewys,—en uitgegaan.
Hy het sy goedjies bymekaar gepak, maar hy het sy versies vergeet en
die versboekies—daar was ’n duisend van hulle—het agtergebly. In die
kombuis het hy ’n bietjie padkos gekry—’n bietjie gekookte rys en ’n
stukkie gebraaide hondjie, en ook ’n paar worsies wat van hondevleis
gemaak was en wat baie lekker smaak as jy van die soort vleis hou. Toe
het hy vir hom ’n groot strooihoed gekry, die huis uitgeloop en die
groot pad, wat oor die land, tussen die rysveld gaan, gevat.
Hy het die dag ver geloop en hier en daar het hy op ’n klip gaan sit en
gehuil, want hy het werklik nie geweet wat nou van hom sou word nie.
Maar hy het gou-gou gesien dat die huilery hom niks sou baat nie en het
toe weer opgestaan en verder geloop. Laat in die middag het hy by ’n
riviertjie gekom, waar ’n ou kêrel by gestaan het. Die ou kêrel was
baie oud en baie swak en het op ’n kierie geleun, en nou en dan het hy
sy toontjies in die water gesteek, kastig om daardeur te gaan, maar
altyd het hy dit weer teruggetrek, want die stroom in die rivier was
sterk en die ou kêrel was maar swak.
Toe hy vir Ah-ling sien, sê hy:
„Seun, jy lyk groot en fris. Dra my asseblief deur hierdie rivier en ek
sal jou beloon.”
Ah-ling het dit gedoen, want die ou kêrel was baie lig. Hy het die ou
kêrel deur die rivier gedra en toe hulle op die anderkant kom, sê die
ou man:
„Dankie. Ek gaan hierdie kant-toe en jy moet maar daardie ander pad
neem. Ek het nie geld om jou mee te beloon nie, maar neem hierdie
kierie van my. Dit kan jou te pas kom en as jy werklik in die nood is,
sê dan maar ‚Kierie, asseblief tog.’”
Ah-ling het hom bedank en die kierie geneem en voortgestap met die
regterhandse pad. Die oubaas het die linkerhandse pad geneem.
Ah-ling het dié dag tot die aand hard geloop. Nou en dan het hy ’n
rukkie gerus en ’n paar ryskorreltjies geëet, saam met ’n stukkie van
die gebraaide hondjie.
En so omtrent die tyd wat in daardie land sonsondergang beteken, het hy
by ’n klein huisie gekom, met ’n klein tuintjie daarvoor. Die huisie
was van papier, op bamboesstokke en die vensters was van papier en die
dak van papier, oorlê met sand en gras. Die tuintjie was maar
verwaarloos, want al wat daarin was was daikon of radys en die was ook
al in saad en voos, want niemand het na hulle gekyk nie.
Voor die huisie het ’n kêrel gesit. Hy was ook ’n Sjinees en het dus
ook ’n stert gehad, en hy was omtrent vyftig jaar oud. Hy was glo
bysiende, want hy het ’n sterk horingbril opgehad en het glad geen
notiesie van Ah-ling geneem nie, selfs toe die seun ’n tree ver van hom
af was nie.
„Ek wou maar sê,” sê Ah-ling, nadat hy reeds viermaal ’n buiging gemaak
het en tweemaal goeienmiddag gesê het op die beleefdste manier wat aan
hom bekend was. „Ek wou maar sê, dat hierdie verstote en
uit-sy-vader-se-huis-weggejaagde deugniet ’n nagverblyf soek.”
Die man met die horingbril het niks geantwoord nie.
„Hy moet doof wees,” dag Ah-ling. „Ek sal maar skree.”
„Kan ek hier nagverblyf kry?” skree hy toe, so hart soos hy kon.
Die man met die horingbril het ’n bietjie verwonderd opgekyk en geknik.
„Jy hoef nie te skree nie,” sê hy. „Ek is mos nie doof nie. Ek is net
besig om versies te maak. Op die oomblik is ek vererg, omdat ek nie
goeie rymwoorde kan kry nie. Verbeel jou, ek soek ’n rymwoord vir
‚snel.’”
„Daar’s mos baie,” sê Ah-ling.
„So? Ek kan maar net twee kry—wel en kwel,” sê die meneer. „En geeneen
daarvan is geskik nie.”
„Daar’s hel—en vel, en manel, bel, tel, optel, opstel, vertel,” sê
Ah-ling, „en glo nog ses of sewe meer...”
„Wag, wag!” sê die kêrel en hy skryf sommer op. „Allerdankbaars! ...
veral vir manel. Dit kom goed van pas. Sou jy ook miskien ’n digter
wees, of nie?”