„As dit nie vir die aaklige honde was nie,” sê die kraai, en hy kyk

weer so skuins na Aspoester, „sou ekself graag die werf besoek....”

„Die hond is gewoonlik in die eetkamer as daar ... besoek is,” sê

Aspoester, want hy was slim genoeg om te sien wat die kraai bedoel.

„Ag ja,” sê die kraai, en hy word sommer ernstig. „Dit is nou eintlik

nie ter sake nie. Ek is nog nie duidelik op één punt nie. Verstaan ek

goed dat ons vriend Rinkals onder die klip was?”

„Ja,” sê Rinkals. „Ek was daaronder. Dit gee ek toe.”

„Onder—nie boöp nie?” vra Kraai weer, en hy kyk ernstig, en skud sy

kop.

„Ja,” sê Aspoester. „Hy was onder die klip en hy kon dit nie roer nie.

Die klip was te swaar vir hom. As ek hom nie daaruit gekry het nie, dan

sou hy nou nog daar wees....”

„Met permissie,” sê die kraai, „met permissie, dit kan ek werklik nie

glo nie.”

„En tog was dit so!” sê altwee.

„Nee,” sê die kraai. „Ek moet dit eers met my eie oë sien, voor ek dit

kan glo. Neem my nie kwalik nie, maar dit is te veel geverg van ’n mens

se geloof. Onder die klip sê jy, onder ... nee” en hy skud weer sy kop.

„Maar ek sê mos vir jou dit was so!” sê die rinkals.

„En tog, met permissie,” sê die kraai, „ek kan dit nie glo nie. Maar

ons kan dit maklik toets. Wys my die plek waar die eienaardige

gebeurtenis voorgeval het. Is dit ver hiervandaan?”

„Omtrent ’n myl,” sê Aspoester. „Ons kan daarnatoe gaan as jy wil.”

„Kom dan,” sê die kraai. „Ek wil graag dit sien. Onder die klip, sê

julle ... merkwaardig ... hoogs merkwaardig! Nog nooit van so iets

gehoor nie ... buitengewoon is geen naam daarvoor nie!... Onder die

klip!”

„Kom ons sal hom wys,” sê Rinkals. „Ek word moeg van al die gesanik.

Ons sal hom wys waar dit gebeur het en dan kan jy gaan platlê, dat ek

vir jou kan byt.”

Die drie het toe teruggegaan. Broer Kraai het stadig vooruit gevlieg,

maar af en toe het hy verby Aspoester gevlieg en aan hom gefluister:

„As ek jou kom besoek, sal die hond seker in die eetkamer wees?” En

Aspoester het gesê: „Ek sal sorg daarvoor.”

„Wat brom julle twee so baie?” vra Rinkals, wat dit nie gehoor het nie.

„Ek sê maar net,” sê Aspoester, „ek sê maar net vir broer Kraai dat die

reën nie veraf is nie. Dit steek al op in die ooste.”

„Daar gee ek niks voor om nie,” sê Rinkals. „Reën of mooi weer is

dieselfde vir my, as ek maar iets te vreet kry.”

Toe hulle by die plek kom waar Aspoester die rinkals verlos het, wys hy

vir die kraai die klip waaronder die slang gelê het.

„Regtig ’n baie groot klip,” sê die kraai en hy spring daarop en kyk of

daar niks te eet was nie. Maar al die goggatjies het al weer weggekruip

en daar was niks nie.

„Alte groot vir so ’n slang,” sê die kraai. „Ongelooflik! En tog, jy

sê, hy was onder hierdie klip?”

„Ja!” sê hulle altwee.

„Sou u so goed wees om weer te gaan lê,” sê Kraai aan Rinkals. „Net

soos u daar voorheen gelê het. Ek kan dit waarlik nie glo, tensy ek dit

met my eie oë sien nie.”

„Wat ’n gedoente oor ’n kleinigheid,” brom Rinkals en hy rol hom op in

die holtetjie waar die klip gelê het. „Waarom kan ek hom nie maar byt

nie, dan is die saak mos afgedaan. Maar so het ek gelê. Die klip was

natuurlik bokant my.”

„So,” sê die kraai en hy kyk weer skuins na Aspoester. „En die klip was

boöp jou. Merkwaardig!... buitengewoon merkwaardig! Ongeloofbaar! Ek

sou graag wil sien of dit so is. Rol tog asseblief die klip boöp hom,

Tweebene.... So ... merkwaardig....”

Aspoester het die klip boöp die slang gesit en die slang het dadelik

begin te kerm, want die swaar klip het op hom gedruk.

Broer Kraai het sy kop eenkant-toe gesteek en geluister.

„Kan u werklik nie uitkom nie?” vra hy. „Merkwaardig ... probeer tog!”

„Nee, ek kan nie!” skree Rinkals en sy stem was flou, want hy had dit

baie swaar onder die klip. „Jy moet die klip optel....”

Aspoester wou dit net doen.

„Kyk, so het ek hom opgetel,” sê hy en hy buk oor die klip, maar broer

Kraai pik sy hand.

„Wat dan?” vra Aspoester.

„Hy wou jou mos gebyt het,” sê broer Kraai. „Laat hom nou maar bly waar

hy is, dan kan hy jou mos nie byt nie.”

„Maskas, maar dis reg!” skree Aspoester. „Dankbaar, Kraai, dankbaar.”

En hy spring sommer van blydskap drie voet vier duim in die lug en val

amper terug op Kraai.

„Bedaar, bedaar!” sê Kraai. „Ons sal hom nou maar hier laat staan en jy

kan huis-toe gaan. Môre, so omtrent sonop, sal ek op die werf wees. Ek

dink die vroeë môrelug is ongesond vir honde....”

„Ja,” sê Aspoester, wat nou regtig dankbaar was, „Floors het ’n bietjie

rumatiek, want hy is al oud. Ek sal sorg dat hy warm in die kombuis bly

as jy kom.”

En daarna het Aspoester huis-toe gestap.

„Ons Hantamse wêreld,” sê hy vir homself, „is tog baie mooi. En een van

die mooiste dinge hier is die witborskraaie. Eerste klas voëls,

daardie, wat behoort beskerm te word.”

V.

DIE KLAPPERTJIE.

Die bontgekleurde Koelies was druk besig om die kiste weg te dra. In

die pakhuis was dit warm en bedompig, want dit was in die middel van

die somer en die nartjiebome—wat nartjies so klein soos okkerneute

dra—was al amper aan die bloei. Die blou eentjies het sedig rondgeswem

tussen die groot wit waterlelies, wat op die water van die

agterplaas-fontein gedryf het. „Warm is dit, baie warm,” het die

klappertjie gesug, want hulle het net die rooi papier om hom vasgeplak

en hom saamgebind met die agt dosyn ander klappertjies wat ’n pakkie

sou uitmaak.

„Dis tog benoud hier, met so baie ander mense heeltemal teen jou,” het

die klappertjie gekerm. „Alleen sou ek dit kan dra, maar so vas gebind

en nogal met bamboestou, maak ’n mens gedaan. Waar gaan dit nou na

toe?”

Die stadige ou mandaryn, aan wie die fabriek behoor het, het op en af

geloop om te sien dat sy Koelies goed werk. Sy swart kophaar was gevleg

in ’n lang stert, wat tot agter sy voete op die grond geval het, met ’n

wit sydraad daardeur gevleg en op sy blou petjie was die kraalknoop,

wat bewys het dat hy ’n edelman van die soveelste rang was.

„So ’n mandaryn sou ek tog graag wil wees,” het die klappertjie gesê,

want hy het nie geweet dat die mandaryn aan hartkwaal ly en die lewe

maar baie ongerieflik vind nie. „Dit moet prettig wees om so ryk te

wees en soveel goed te besit.”

„Ek weet nie,” sê die voetsoekertjie, wat hom gehoor het en wat nog

sonder sy papieromhulsel was, „ek weet nie. Vir my is die vryheid die

beste—om rond te spartel soos jy wil, net soos die goue vissies onder

die lelies daar in die fontein swem.”

„Elke mens het tog sy beskikking,” sê die vuurpyl, wat klaar vir inpak

was. „Hoe hoër jy gaan, des te beter vind jy dit. My oupa het my dit

gesê en hy het tot tweehonderd voet in die lug gespring.”

„Ek weet van jou oupa,” sê die voetsoekertjie en trek sy neus op. „Hy

het verongeluk op ’n bruilof in Pekin. Nie alte welvarend nie, na my

vertel is. Hy het net maar ’n stok agtergelaat.”

„Dit doen ons algar,” sê die vuurpyl. „Ons rykdom steek in ons

geskitter. Dan sien jy wat ons werd is.”

„Julle kan tog nie kompeteer met die sterrereën nie,” sê die

voetsoekertjie, wat snipperig was. „En wat van die groot vuurwerke?

Daarby kom julle nooit nie. Ek het een gesien wat amper driehonderd

tree lank was en wat vir ’n halfuur staan en brand het. Dit noem ek

sukses.”

„Wat dink jy sal van ons word?” vra die klappertjie, want die

voetsoekertjie het met so ’n gesag gepraat, dat hy gedink het dat sy

tog iets moet weet. Dit is die indruk wat baie praterige mense maak,

totdat jy uitvind dat hulle net maar praterig is en nie van

ondervinding kan praat nie.

„Dit weet ek goed,” sê die voetsoekertjie. „As daar êrens pret is, dan

word ons gebruik. Ek hoor die keiser sal aanstaande week ’n groot

kermis hou. Allerhande vermake sal georganiseer word. Dertien rowers

sal onthoof word op die markplein. Dit sal ’n pret wees....”

„Daarby wen ons niks,” sê die vuurpyl. „Dit sal mos by daglig geskied.”

„Nee, maar in die aand kry ons ’n beurt,” sê die voetsoekertjie. „Ek

hoor daar sal honderdduisend kerse aangesteek word en miljoene klappers

sal afgeskiet word. Miskien is jy een daarvan....” en sy knik die

klappertjie welwillend toe.

„Maar hoe ’n soort ondervinding is dit nou?” vra die klappertjie, wat

nog gladnie geweet het hoe dit met hom sou gaan nie. „Dis mos ’n soort

uitmekaarspat, nie waar nie?”

„Natuurlik,” sê die vuurpyl, voordat die voetsoekertjie kon antwoord.

„Dit is die mooiheid daarvan. Jy kan jou nie verbeel, hoe plesierig dit

is as jy boontoe reis nie. My oupa het my herhaalde male daarvan

vertel. Ek sien dit met belangstellende vreugde tegemoet.”

„En nog meer,” sê die voetsoekertjie. „Daar sal tafels wees, vol gelaai

met gemmerkoek en gekonfyte suurlemoene en daar sal volop spanspekpitte

wees, vir algar om van te eet. Ek hoor die keiser sal met sy hele hof

teenwoordig wees. Wat ’n eer vir ons!”

„Maar ek sien nie in,” sê die klappertjie, „ek sien nie in dat dit vir

ons iets sal baat nie. Ons eet tog nie spanspekpitte nie en die keiser

sal nie notiesie van ons neem nie....”

„Van my seker!” sê die vuurpyl, trots. „Hy sal moet opkyk as ek

losbars. Daar is sewentig goue sterre in my en ’n halfdosyn groen

sterre, so groen soos die seewater. Hy sal moet opkyk, dit beloof ek

jou.”

„En van my ook,” sê die voetsoekertjie, hoogmoedig. „Ek sal langs die

grond seil en vir hom ’n lied sing. Ek het dit eergister gedig, toe

hulle my volgelaai het met kruit. Dis ’n baie mooi gedig. Ek kom van ’n

famielie van digters. Wil julle dit hoor?”

„Asseblief,” sê die vuurpyl, wat altyd hoflik was. „As dit nie te lank

is nie....”

„Langdradig is ek nooit,” sê die voetsoekertjie en sy begin opsê:

Waar die sterre in die groen van die helder middernag

En die pronk’rige planete naas die suiderkruis staan wag,

Waar die melkstraat soos ’n paling deur die hemelleegtes kronkel

En die bruidsluier van komete met ’n duisend liggies fonkel,

In die wye hoë ruimte van die helder middernag

Sal ons skitter soos die sterre met ons eie sterreprag.

„Nie jy nie!” sê die vuurpyl, wat ’n bietjie jaloers was, ofskoon hy

hom altyd hoflik gedra het. „Jy sal mos op die grond spartel. Ek, soos

my oupa, gaan boontoe.”

„Maar jy sal tog op die grond val,” sê die voetsoekertjie, ’n bietjie

bitsig. „Alles kom terug op die grond. Dis waar ons algar vandaan kom

en ons gaan algar terug daarheen. Ofskoon ek geen oupa het nie, weet ek

dit tog.”

„Elkeen het ’n oupa,” sê die vuurpyl. „Sommige weet net nie wie hulle

oupa is nie. As jy daaromtrent twyfel, vra dan maar aan die oubaas

daar.”

Die mandaryn, met die kraalknopie op sy pet, het verby gestap.

„Wat maak al die vuurwerk hier?” vra hy, kwaad. „Dit moet al lank

verpak gewees het. Hulle wag daarop by die markplein. Die hofmeester

van die keiser het my al daaroor gevra. Dra dit weg, gou!”

Die Koelies het sommer die voetsoekertjie in ’n pakkie gemaak en die

vuurpyl saamgebind met ’n halfdosyn ander vuurpyle. Die voetsoekertjie

het bly sing, totdat sy agter die papier was. Selfs toe kon jy haar nog

hoor:

In die wye hoë ruimte van die helder middernag

Sal ons skitter soos die sterre in ons eie sterreprag.

Die klappertjie het hulle ook in ’n pakkie gemaak. Hy was nou in die

donker en dit was nie plesierig nie, want hy was vasgebind aan sy maats

en hulle was algar slaperig en wou nie praat nie. Maar die klappertjie

was vol moed en gladnie vaak nie.

„As ek net maar kon sien, wat daar omgaan,” sê hy. „Ek sou graag die

keiser en sy hofstoet te sien kry. Ek hoor hy is ’n mooi vet kêrel. En

daardie rowers ook. Dit moet aaklig wees om ’n rower te wees en jou kop

te laat afkap. Dan wil ek liewerster bars, want dan maak jy tog ’n

geluid en die mense skep daar plesier in. Maar geduld is ’n deug en ek

sal maar geduldig wag tot ek iets te sien kry. So kan dit mos nie vir

altyd aanhou nie.”

Die Koelies het die pakkies weggedra na die groot kanaal. Daar het die

kanaalbote gelê en daarop het die klein seuntjies, algar in wye lang

broeke, met stertjies—die seuntjies natuurlik, nie die broeke nie—en

met bontgekleurde jassies. As daar ’n wit lyntjie in die seun se

kophaarstert ingevleg was, dan het jy dadelik geweet dat hy nog nie

getroud was nie; as daar ’n rooi lyntjie ingevleg was, dan het jy ewe

dadelik geweet dat hy getroud was. Want in daardie land trou die seuns

baie jonk.

O, wat ’n drukte was dit daar op die kanaal. Die seuntjies het dit

selfs baie druk gehad, want hulle moes vinnig wegswem vóór die groot

kanaalbote, wat dwars heen en weer oor die water roei, en die swawels

moes ewe vinnig of nog vinniger vlieg om die bye te vang wat uit die

byeneste op die bote kom. Want sommige van die kanaalbote was klein

dorpies, met tuintjies daarop en prieeltjies. Aan die kant van die

rivier het baie mense geloop en besigheid gedryf of gespeel, want in

daardie land speel die oumense ook en nie net die kinders nie. Daarom

noem die mense dit ook die Hemelse Ryk. Ja, dit was druk daar op die

kanaal. Vanaand sou die groot kermis wees en algar was van plan om dit

by te woon. Jy hoef niks te betaal om die kermis by te woon nie en oud

en jonk, ryk en arm, was welkom daar. En iedereen het reeds geweet van

die rowers wat daar sou onthoof word. Dit sou vir jou ’n pret wees.

Op die kleiner bootjies het die langnekkige dartervoëls slaperig gesit,

elkeen met ’n ring om die nek, want hulle was makvoëls wat gebruik word

om vis te vang. Die vissers was aan slaap, want dit was middag en dit

was baie warm. Op die groter kanaalbootjies het die mense tee gedrink.

Dit doen hulle daar elke dag, of hulle op die kanaalbootjies is of nie.

Die Koelies het die kiste vuurwerk op die bote gelaai en die mandoor

het met groot letters die adres op die kiste geverf. Met ’n kwas en ’n

stuk ink, want die ink is daar hard en moet eers in water gevryf word,

om die vloeibaar te maak. En die letters wat hulle gebruik is baie

koddig. Elkeen lyk asof hy te veel mos gesuip het en dus dronk is—smoor

dronk. En een letter is ’n hele woord.

Dus het die mandoor maar glo A B C op die kiste geskryf, wat beteken:

Aan die Hofmeester van die Allermagtigste en Alombekende Grootbaas, die

Roemryke Keiser van die Hemelse Ryk; vuurwerk; moenie naby die warmte

van die stoomketel sit nie. Anders ontplof dit. Gelewer deur die firma

Heng-Shu-Ling, vuurwerkmakers vir sy Allerhoogste die Keiser.

Duisende kerse het gebrand en duisende lanterns. Dit was algar

papierlanterns, gemaak van rooi, en blou, en grasgroen, en goudgeel

papier, en daar was sommige van bont papier, waarin die kleure soos dié

van ’n reënboog was of soos die kleur wat in die binneste van ’n

seeskulp sit. Die lig het dof deur die papier geskyn, maar algar tesame

het genoeg lig gegee om die markplein helder te verlig.

Die markplein was nie eintlik die markplein nie, want dit was buite die

keiserstad, myle ver buite, waar die grond afgedaal het, afdraand na

die groot rivier, wat nou en dan soos ’n bruisende berg binne gestoot

het. Hier op die groot plein het hulle jaarliks kermis gevier en op die

tye van kermis het die keiser en sy hof altyd die plesierighede

bygewoon, om te toon dat hulle tog ook maar mense was, wat kon geniet

en voel soos ander mense. Maar die keiser het altyd op ’n verhoog

gesit, alleen, met sy eerste minister; ’n mandaryn van die eerste rang

wat die voorreg geniet om ’n kristalknopie op sy pet te dra, twee

trappies onder hom. Die keiser het altyd ’n waaier gehad, net soos elke

ander persoon wat op die markplein was, om hom te waai en koel te hou.

En hy het altyd tee gedrink. Eersteklas tee wat die karavane bring van

die verre hoëlande, tee wat lyk soos buskruit en wat ’n goudgeel tee

maak, wat die keiser sonder melk en suiker gedrink het. Koppiesvol! ’n

Mens kon vra waar hy plek gekry het vir al die tee wat hy ingeslurp

het.

Dit was nou eenmaal die keiser se liefhebbery—om tee te drink. Toe hy

gebore was, het hy daarmee begin. In plaas van melk, het hy tee

gedrink. In plaas om aan ’n bottel te suie, het hy tee ingesluk uit ’n

klein porseleinkoppie, wat so groot soos ’n eier was en so dun soos ’n

seepblasie. Dis seker daarom dat hy so goedhartig was. Want goedhartig

was hy. Vir ’n keiser nogal baie goedhartig. As hy ’n rower moes

veroordeel, om onthoof te word, het hy altyd bygevoeg:

„En sorg dat hy ’n lekker koppie tee kry, voordat sy kop afgeslaan

word!”

Wat ’n bewys is van sy goedhartigheid, want anders sou hy nie soveel

oorgehad het, om aan die rower se plesier te dink nie. Volgens die

keiser was die grootste plesier in die lewe om tee te drink.

Die twede grootste was om vuurwerk te sien afskiet.

Om die twede plesier te geniet, het hy die aand na die markplein gekom

om hom aan sy duisende onderdane, in die lig van die duisende lanterns,

te vertoon.

„Lon-sin,” sê die keiser, „as ek my sestiende koppie tee opgedrink het,

kan jy maar vir hulle sê dat hulle die vuurpyle moet afskiet.”

Lon-sin was die eerste minister en het self ’n pakkie klappers in sy

sak gehad, wat hy van plan was om self af te skiet. Want in daardie

land neem die oumense eweveel lus in klapperskiet as die kinders, en

soms nog meer.

„Lon-sin,” sê die keiser weer, „as ek my twintigste koppie in het, kan

jy vir hulle sê dat hulle nou maar die rowers kan laat onthoof.”

„Ek slaan my beentjies stukkend op die Allerhoogste,” sê Lon-sin—want

op die eienaardige manier was dit die gewoonte om die keiser toe te

spreek.—„Ek slaan my beentjies stukkend. Hierdie niksbeduidende stukkie

vleis sal dadelik bevel gee, dat die eerbare rowers hulle

nie-te-waardeerde koppe verloor.”

„Dit sou goed wees, Lon-sin,” sê die keiser, „as hulle ’n bietjie nader

vorentoe kom. Dan kan ek beter sien, wat daar met hulle gebeur. Nie dat

ek nie dit reeds al baie male gesien het nie, maar om te kyk of dit

alles stigtelik afloop.”

„My ingebore lamlendigheid van verstand,” sê Lon-sin, „laat my vermoed

dat die geëerde rowers dit stigtelik genoeg sal vind. Ek kruip op my

onaansienlike buikie om die Allerhoogste se bevel te volbring.”

Dit was maar so ’n manier van praat, want Lon-sin se buikie was gladnie

onaansienlik nie. Dit was soos ’n stikvat, want hy was taamlik vet.

Toe die rowers tevoorskynkom en agter hulle die skerpregters met hulle

skeermesskerp-sabels, het die keiser sy vyftigste koppie tee ingesluk.

Hy was toe nog goedhartiger as ooit tevore.

„Gee hulle ’n koppie tee,” sê hy, vriendelik „en ’n klappertjie om af

te skiet. Dit sou tog alte wreed wees om hulle kop af te slaan, voordat

hulle ’n bietjie plesier gehad het.”

Juis op die oomblik het die Koelies aangekom met die kiste. Die

hofmeester het die kiste dadelik oopgemaak en ’n paar pakkies klappers

na die verhoog gebring, waarop die keiser gesit het. Daaronder was die

pakkie waarin die klappertjie was.

Toe die eerste minister die papier van die pakkie stukkend skeur, het

die klappertjie die geleentheid gekry om te sien wat daar gaande was.

Hy het al die lanterns gesien, en gedink dat hulle tog baie mooi was.

Hy het die vet meneer Lon-sin gesien en dadelik gedink dat dit die

keiser was.

„Nou is ek tog in goeie hande,” sê hy. „Ek sien nie alleen die keiser

nie, maar ek word gehanteer deur die keiser. Wat ’n eer! Die

voetsoekertjie sal van isegrimmigheid vrek as sy daarvan hoor.”

Maar die voetsoekertjie was al klaar. Hulle het haar afgeskiet en sy

het gesis dat dit ’n pret was. Maar dit het maar ’n rukkie geduur, want

sy was gou uit.

Lon-sin het ’n paar van die klappertjies losgemaak en aan ’n bediende

gegee om dit aan die veroordeelde rowers te gee. Een van die

klappertjies was dié klappertjie.

„Nou wat sal gebeur?” vra die klappertjie verwonderd. „Ek wil tog

liewerster by die keiser bly.”

Maar die rower het hom al in die hand en die rower kom vorentoe, totdat

hy voor die keiser staan en begin te praat:

„Allerhoogste,” sê die rower, „my beentjies breek ek stukkend op

Allerhoogste se genade”—wat weer maar so ’n manier van praat was, want

hy sou die eerste gewees het wat teen so ’n brekery sou geskree het.

„Die minderwaardige skepseltjie wat voor jou staan sou graag nog ’n

bietjie langer sy onnuttige lewe wil geniet.”

Die keiser knik vriendelik.

„Dit kan ek goed verstaan,” sê hy. „Selfs ek, niksbeduidende keiser wat

ek is, sou in soortgelyke omstandighede my ewe waardelose lewe ’n

bietjie wil uitrek. Maar die volk is nou hier om te kyk, hoe jy kop

afgeslaan word, en dit sou te naar wees om die volk teleur te stel. Ek

vrees dat die genot van jou prysenswaardige bestaan nou sal moet

ophou.”

„Daaraan val nog te twyfel,” sê die rower, „as ek my so mag uitdruk.

Volgens die leer van die beroemde Konfu’tse—op wie se gedagtenis ek

ootmoedig wat daar oorbly van my agste klas soort beentjies in flenters

slaan—is daar niks wat seker is nie....”

„In hierdie geval,” sê die keiser sag, „dink ek selfs die beroemde

Konfu’tse sal met my instem, dat die sekerheid van die ophou van jou

bestaan, hoe eerbaar die bestaan ook is, ’n saak is wat nie aan twyfel

onderhewig is nie. Die skerpregter sal dadelik die sekerheid bevestig

deur ’n klein houtjie op jou eersteklas nek te gee met sy

skeermesskerp-sabel....”

„As ek die astrantheid mag hê,” sê die rower, „as ek die astrantheid

mag hê om die deur-die-wêreld-benyde Allerhoogste in die rede te val,

wil ek net maar opmerk, dat die begrip van sekerheid soos opgevat deur

die blinkende verstand van die beroemde Konfu’tse en die ewe

skitterende geestesvermoë van die Allerhoogste, nie akkordeer met dié

van hierdie misvormde skepseltjie nie. Ek wou maar sê dat hierdie

aanstootlike mensie, wat die eer het om voor die Allerhoogste sy

beentjies te breek, gladnie kan toegee nie dat daar ’n volkome

sekerheid bestaan omtrent die onmiddellike ophou van sy onbetwisbaar

niksbeduidende lewe nie.”

„Dit is mos nou wysgerigheid,” sê die klappertjie, wat alles

aangeluister het. „As dit langer duur, sal ek baie slim word. ’n Mens

leer altyd iets, al is dit per abuis.”

„Nee!” sê die keiser. „Alhoewel my stompsinnigheid van verstand dit

onmoontlik vir my maak om die fynheid van jou ongetwyfeld leersame

redenasie volkome op te vat, skyn dit vir my dat, in die benarde

omstandighede waarin jy jou op die oomblik bevind, dit ewe seker is,

dat jy nou sal doodgaan as dit seker is, dat daardie klappertjie wat jy

in jou benydenswaardige mooi hand hou, sal bars as jy hom aansteek.”

„Nou het hulle dit met my te doen,” sê die klappertjie. „Ek wens dat

die voetsoekertjie hier was om te hoor. Magtig, sy sou van

isegrimmigheid uitgebrand het.”

„In dié geval,” sê die rower, „sou hierdie alles-behalwe-plesierige ek

aan die luisterryke Allerhoogste voorstel, dat, as die sekerheid

omtrent die bars van die klappertjie wat ek in my kinderagtige hand

hou, bewys word, nie ’n sekerheid te wees nie, my potsierlike lewe nog

’n kans gegee word, om ’n poging te maak om tot die toestand van

deeglikheid, waarvan die oralsbeminde Konfu’tse elders praat te

geraak....”

„Wat bedoel die vent, Lon-sin?” vra die keiser, wat nou sy

vyf-en-sewentigste koppie tee ingesluk het en ’n bietjie dromerig

geword het.

„Ek breek my beentjies op u,” sê Lon-sin, „maar as ek die agbare rower

goed verstaan—en selfs so ’n nietige skepsel soos ek, kan nog staatmaak

op sy alte verroeste verstand—dan sê hy dat, as die klappertjie

aangesteek word en nie bars nie, dit ’n bewys lewer, dat dit nie so

uitgemaak seker is, dat die klapper sal bars as hy aangesteek word

nie.”

„En wat dink jy daarvan, Lon-sin?” vra die keiser, besig met sy

ses-en-sewentigste koppie tee.

„Dit is wat die mense logika noem, Allerhoogste,” sê Lon-sin. „Ek breek

my beentjies—wat daar van hulle oorbly—weer en ek sê dit is logika.”

„In dié geval,” sê die keiser, „kan ons ’n proef neem. Steek maar die

klappertjie aan, agbare rower.”

Daar die rower geketting was, kon hy dit nie so maklik doen nie, maar

eintlik het hy tog die lontjie van die klappertjie aan brand gesteek en

die brandende klappertjie voor hom op die grond gegooi.

„Nou bars ek,” sê die klappertjie. „Sies—die lont ruik nie lekker nie.

Ek wonder hoe dit sal voel as ek bars. Maar dis tog ’n heerlike iets om

te bars om die logika te bewys.”

Hy het nie geweet wat logika was nie, maar dit was maar weer net so ’n

manier van praat. Baie van ons het dit.

Die lont het uitgebrand maar die klappertjie het nie gebars nie. Dit

het op die grond bly lê, dood.

„Onder die benarde omstandighede,” sê die rower, „soos Allerhoogste

self aan hierdie niksnuts skepseltjie gesê het, is die sekerheid van

die bars van hierdie vervlakste klappertjie bewys as ’n onsekerheid, en

die woorde van die alom geprysde Konfu’tse bewaarheid deur die

gebeurtenis.”

„Dit skyn vir my of die vent reg het, Lon-sin,” sê die keiser en hy

slurp sy tagtigste koppie tee in.

„Dit is logika, Allerhoogste,” sê Lon-sin, wat die hele gedoente

vervelig vind, omdat hy self sy klappertjie wou gaan afskiet.

„In dié geval kan jy maar trap, agbare rower,” sê die keiser. „Daar bly

genoeg oor van jou maters om vir die volk plesier te gee.”

Kampstories · 第 2 / 7 段