KAMPSTORIES
DEUR
C. LOUIS LEIPOLDT.
Uitgewers: J. L. VAN SCHAIK BEPK., Pretoria.
1924.
VOORWOORD.
Hierdie stories is in ons skoolkampe vertel, gewoonlik aan die jonger
kinders. Daar hulle byval gevind het, stuur ek hulle die wêreld in,
sonder verder verandering.
C. L. L.
Pretoria, November 1923.
INHOUD.
Bladsy.
I. Die Een Wat Blind Was 1
II. In die Slamaaierwinkel 6
III. Abdoel se Storie 14
IV. Die Slim Kraai 24
V. Die Klappertjie 38
VI. Gorra en Gogga 52
VII. Die Lui Seun 61
VIII. Hoekom die See huil 75
IX. Waar die Reënboog vandaan kom 89
X. Die Arme Spook 98
XI. Die Onnosele Boerseun 115
I.
DIE EEN WAT BLIND WAS.
Toe alles op die wêreld nog klein was—so klein soos die borsveertjies
van ’n tingtinkie—toe was daar twee wat rondgeloop het. Die een het
altyd vir hom kos gesoek en die ander was blind.
Die Een Wat Kos Gesoek het, was ’n jagter. Hy het gate gemaak om die
wild te vang, en hy het baie hard gewerk om nou en dan ’n stukkie kos
in die hande te kry. Want in dié tyd, my Kleinbasie, was kos baie
skaars. Nie soos vandag nie! Nou kry jy brood en blikkieskos en wat jy
wil hê, as jy net vra, want die oubaas is mos ryk, en kan op die boekie
koop in die winkel.
Maar in dié dae was daar nie boekies nie en nie eers winkels nie, en
dit was baie swaar om jou kos te kry. Dit het sweet-sweet gegaan,
Kleinbasie. ’n Mens moes jag en rondspring en selfs dan het jy maar min
beetgekry.
Die jagter het eindelik ’n spelonk gevind. Die spelonk was vol met
wild, amper net soos ’n byenes vol met heuning is.
Hy het gewag totdat die oues uitgekruip het, en toe het hy ingekruip en
die kleintjies doodgemaak.
„Vanaand eet ek lekker ... tjiep, tjiep, tjiep,” het hy gesê, en hy het
sy lippe nat gemaak met sy tong, want hy het hom verbeel dat hy al die
sous van die braaivleis kon proe.
Toe het hy die klein lykies van die kleintjies wat hy doodgemaak het,
uitgedra en ’n groot gat in die grond gemaak, waarin hy hulle wou
begrawe.
„Nou gaan ek brandhout soek,” sê hy, en hy het die veld ingeloop om
brandhout te soek.
Maar toe hy weg was om brandhout te soek, kom die ander een, die Een
Wat Blind Was, en hy struikel oor die gat.
„Maskas,” sê hy, „wat is dit dan hier? Ek moet voel.”
En die blinde voel met sy lang vingers, en hy voel die lykies.
„Maskas,” sê hy weer, want dit was omtrent die enigste ondeunde woord
wat hy van geweet het, „Maskas, die kêrel is mos ’n swaap.”
En hy wag toe tot die jagter kom. Die jagter het ’n armvol
brandhout—mooi rooibos-hout, wat altyd lekker kole maak, en ’n warm
vuurtjie gee, my Kleinbasie—en hy was moeg en uit sy humeur. Hy sien
die blinde een en sê kortaf:
„Naand.”
„Naand,” sê die blinde, en hy begin sommer: „Maar, Jagter, jy is tog ’n
swaap. Verekskuseer as ek dit sê, maar jy is tog ’n swaap. Niks anders
as ’n swaap nie. Sonder die minste begeerte om jou te beledig, Jagter,
moet ek sê jy is tog maar ’n swaap....”
„Nie so baie van die swaap nie, Blindeman,” sê die jagter, wat al
vererg geword het. „Anders breek ons konfytpotjie.”
„Ek wil maar net sê,” gaan die blinde voort, „en dit sonder om aanstoot
te gee, dat jy tog maar ’n swaap is....”
„Hoekom sê jy so?” vra die jagter en hy gooi sy brandhout op die grond
en rol sy hempsmoue op.
„Ja,” sê die blinde, „vra dit gerus. Hoekom? Net omdat ek sien dat jy
dink hierdie goed is bokkies, nè?”
„Wat is hulle dan anders?” vra die jagter.
„Hulle is mos veetjies,” sê die blinde. „Mak veetjies. Dié kan jy mos
nie sommerso opeet nie. As jy vanaand wil kos hê, moet jy nou maar weer
gaan jag.”
Die blinde het met soveel gesag gepraat, Kleinbasie, dat die jagter
dadelik gevoel het dat hy nie reg gedoen het nie—net soos jy voel,
Kleinbasie, as jy kwepers gesteel het, voordat hulle ryp is.
Die jagter het toe sy brandhout laat staan en hy het weer veld-toe
gegaan om te jag. Maar dié aand het hy niks gekry nie, want die bokkies
het al loop slaap.
Die blinde het by die gat bly staan, en het ’n bietjie as oor sy oë
gesmeer, wat hom weer siende gemaak het. Hoe dit gebeur het weet ek
nie, maar Kleinbasie moet maar vir my glo as ek vir Kleinbasie sê, dat
dit so geskied en so gebeur het. Nog wonderliker dinge gebeur mos elke
dag. Kyk hoe die groot waterlemoen groei uit die pit, wat so klein as
die top van Basie se pinkie is. Dis maar ewe wonderlik.
Toe het die blinde die lykies uit die gat geneem en daaronder het hy ’n
paar koeitjies en kalwertjies gekry. Hoe hy dit geprakseer het, weet ek
wrintig nie, maar dis wat die storie sê, arrie ja Kleinbasie; en as
Kleinbasie nie die storie glo nie, dan kan Kleinbasie maar loop speel.
Die blinde man het ’n ringmuur van bossies rondom sy kalwertjies en sy
koeitjies gemaak. Daarbinne het hy sy veetjies gehou.
„Dis my kraal,” het hy gesê, en hy het hom ingesmeer met vet—wat ’n
bietjie galsterig was—en het pronkerig rondgeloop. Baie verwaand was
daardie blinde man, wat nie meer blind was nie.
Maar op een dag kom die jagter terug. Hy het moeg geword om sonder kos
te jag en hy het gedink, dat hy maar weer by die veetjies in die gat
sou kom probeer om kossies te kry.
Hy sien die kraal en hy bekyk die vetgesmeerde blinde man, wat nie meer
blind was nie.
„Blinde broer,” sê hy, „dis mos my goed daardie.”
„Ag wat,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie. „Wat verbeel
jy jou? Die miere het al lankal jou goed opgevreet. Trap!”
„Maar dit lyk mos na my goed,” sê die jagter, wat nou gladnie meer so
vererg was nie, want hy was baie maer en baie honger—so honger dat hy
amper buikpyn van die honger gehad het.
„Lyk!” sê die blinde man—wat nie meer blind was nie. „Ja, baie dinge
lyk soos hulle nie is nie. Loop na jou grootjie!”
Nou, Kleinbasie, die blinde man wat nie blind was nie, was reg toe hy
gesê het dat baie dinge lyk soos hulle nie is nie, maar hy was nie reg
toe hy die jagter gesê het om na sy grootjie te loop nie. Want die
jagter se grootjie was al jarelank dood, Kleinbasie. Maar die jagter
was nou so honger, dat hy bang was en hy het weggeloop en probeer jag.
In dié dae was die veld so droog dat jy jou eie water moes saamneem in
’n kalbas, en hy het sy drinkwater vergeet. Daar was nie eers bossies
om te kou nie, want die blinde man se veetjies het al die gras en
bossies opgevreet.
Eindelik het die jagter mismoedig weer teruggekom.
„Daar’s niks nie, blinde broer,” sê hy, „en ek is tog so honger. Gee my
iets om te eet, anders vergaan ek.”
„Nee,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie, „waarom sal ek
vir jou kos gee? Jy het mos niks gewerk nie. Ek moet my veetjies oppas.
Trap!”
„Asseblief tog, blinde broer,” sê die jagter, „gee my net ’n bietjie
vet om my in te smeer. Die son brand tog so seer.”
„Dè,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie, „hier’s ’n
skraapseltjie vir jou.”
En hy gee hom ’n smeerseltjie vet.
Die jagter het hom probeer insmeer, maar hy was so maer en so moeg,
omdat hy so honger was, dat hy dit nie kon doen nie.
„Jy’s tog ’n swaap,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie. „So
kry jy dit nooit reg nie.”
„Wat moet ek dan maak?” vra die jagter.
„Jy moet dit eers op die vuur smyt,” sê die blinde man. „Dan word dit
sag. Dan kan jy dit insmeer.”
Die jagter het dit toe in die vuur gesmyt, maar die vet het so vinnig
opgevlam, dat dit sy hare verskroei het en die blinde man, wat nie meer
blind was nie, het so vererg geword dat hy hom amper in die vuur
gestoot het.
„Maskas, jy’s tog maar ’n swaap,” het die blinde man, wat nie meer
blind was nie, gesê. „Loop weg, anders maak jy nog dalk vir my en my
veetjies dood. Maak vir jou ’n boog en pyl uit ghnarraboshout en skiet
sprinkane. Dis al wat jy kan doen.”
Die arme jagter het weggeloop en vir hom ’n pyl en boog uit
ghnarraboshout gemaak.
Hy was die eerste Boesman.
Tenminste so sê die Boesmans ... en hulle behoort dit te weet,
Kleinbasie.
Want, arrie! party van hulle is slim!
II.
IN DIE SLAMAAIERWINKEL.
Ou Abdoel se winkel was ’n wonderlike plek.
Dit was klein genoeg en die toonbank het die meeste ruimte ingeneem.
Agter die toonbank was daar net ’n nou gangetjie en jy moes jou omdraai
om nie vas teen die rakke te loop nie. Tot bo aan die dak was die rakke
en algar was belaai met allerhande soorte goed. Daar was voersis, en
geruit, en sy, en geblomde satyn, en kruisbande gestik met rooi garing,
en pakkies—orals, orals. Op die onderste rakke was dose en kiste, en
rondom die mure was nog groter dose en nog groter kiste. Sommige van
die kiste was van kanferhout en op die rakke, tussen die negosie, was
harde kanferbolletjies, om die motte uit die wolgoed te hou.
Maar dit was die toonbank wat die interessantste van alles was.
Op die toonbank was daar skottels met gekonfyte vye en
waterlemoenkonfyt, suurvye en meebos, en, in die eerste somermaande,
rooi duinbessies wat van Groenpunt gekom het. Daar was stapels
gedroogde mootjies, en bokkoms, en ’n kom ingelegde vis, wat ou Abdoel
se vrou daar bo in Chiappinistraat gemaak het. En daar was klappers, en
piesangs, en, ook in die eerste somermaande, appelkose en vroeë
perskes, en later spanspekke. En kraaltjies in pierinkies, en
allerhande soorte ander goed, wat ’n mens nie kan opnoem nie, want dit
sou te lank neem.
En rondom die muur was daar blikkies met speserye—allerhande soorte. As
ou Abdoel een van die blikkies oopgemaak het, dan kon jy allerhande
soorte geure in die winkeltjie ruik—kaneel en naeltjies, en kalmoes, en
Turkse tabak, en kassia, mirre, moskaatneut, rooi en wit peper, gemmer,
en Smirna-gom, en balsem van Alexandrië, stekeltee, roosmaryn wat
gedroë was, stieraks, en borrie, en saffraan, en bergamot, en bowe
alles die sterk geur van kanfer. En as ou Abdoel ’n klein botteltjie
oopgemaak het, dan was die ruik nog sterker, nie alte soet nie, en nie
alte erg nie, maar tog so sterk dat jou oë amper daarvan getraan het.
En as hy nog ’n kleiner botteltjie, wat ’n glas stoppertjie gehad het,
en wat in sy gedraai was, rooi sy, met ’n geel stukkie lak daarop,
oopgemaak het, dan was die ruik so sterk dat jy moes nies.
In die eerste flessie was opodeldok, wat hard soos lak was, en in die
twede was roseolie, wat so dik soos heuning was.
„Dit kom uit Persië, Basie,” het ou Abdoel gesê, ná hy sy hande aan sy
rooi Slamaaiermussie afgevryf het. „Duisende, duisende rose om één
druppeltjie olie te maak. Stapels rose, Basie, en daarom kos dit so
baie geld.”
„Tjeld,” het hy eintlik gesê, want hy het amper gepraat soos ’n Jood.
„Hoeveel dan, die botteltjie, Abdoel?”
„Meer as wat jy her, Basie. Meer as hier op die toonbank lê.”
„Ag nee a, Abdoel.”
„Ek lieg mos nie, Basie. Sewe pond vyftien sjielings het hierdie
botteltjie gekos, en ek verkoop hom sikpens vir ’n smeertjie. Dan het
ek trippens wins op elke smeertjie, Basie.”
„As dit kalifa-tyd is,” sê outa Abdoel, „dan kom die vroumense my vra
vir smeerseltjies, en dan is my klandiesie groot. Maar hulle gebruik
nie baie nie. Nie soos in my land nie, Basie.”
„Waar is jou eie land, Abdoel?”
„Semarang, my Basie. Daar ver in die Ooste, waar die weer altyd in die
namiddae opsteek en waar dit altyd reën. Daarvandaan kom ek, maar ek is
al lankal hierso, en hierso sal ek bly tot ek sterwe, my Basie. Ek is
mos hadj.”
„Wat is dit, Abdoel?”
„Dis een wat na Mekka gewees het, Basie. Ek het pelgrimstog gemaak na
Mekka. Ek het in Jedda gesien waar Eva begrawe lê—’n groot graf, baie
groter as dié wat agter op die Leeukop staan of dié wat by die strand
is. Dertig voet lank. En ek was deur die woestyn, waar die trein glo
nou loop. In my tyd was daar nog nie ’n trein nie. Ons moes te voet
loop; dae lank, Basie. Ek het die groot swart klip van die Kaäba
gesoen, en uit die put van Sem-Sem gedrink. My vrou het nog van die
water wat ons saamgebring het. Ek bewaar dit tot ek doodgaan. Dan sal
hulle daarvan op my lyk sprinkel, sodat die bose geeste nie vir my
aanraak nie.”
„Vertel ons ’n storie, Abdoel.”
„Watter storie, Basie? Van hierdie land, of van ’n ander land? Julle
ken mos ou Abdoel se stories, net soos julle sy waterlemoenkonfyt ken.”
„Ja, Abdoel, en altwee is lekker.”
„Neem dan gerus nog ’n stukkie, Basie. Wag, ek moet eers die meisiekind
help—trippens borriekruie, nè? Hierso .... en waar’s die trippens?
Goed. Daarom dra ek groen vir my kopdoek—tulband is eintlik die naam,
Basie. En julle wil ’n storie hê? Goed. Daar sal nou tog nie baie
klandiesie wees nie. Dit word ook sleg in dié dae. Die mense koop nie
soos vroeër nie. Hulle wil alles verniet hê en daar is geen wins
nie....”
„Ag ons weet jy’s ryk, Abdoel. Skatryk! Pa sê jy het meer geld in die
bank as menige winkelier....”
„Nie in die bank nie. Ou Abdoel vertrou nie die banke nie. En waarom
sou ek nie iets vir my ou dag spaar nie? Soos die profeet sê ... maar
julle weet nie van die profeet nie, hè?”
„’n Storie, outa Abdoel, toe tog.”
„Nouja. Sit daar op die sak. Dis ertappels, maar dis sag genoeg en dan
kan julle nie so baie van my vye opvreet nie. Daar was vanselewe ’n
koning....”
„Waar, Abdoel, waar?”
„In ’n land ver in die Ooste. En sy naam was Abdoel....”
„Moenie glo nie! Dis mos nie ’n koning se naam nie.”
„Wrintig, dit is. Al die groot konings in daardie land heet Abdoel. En
hy was ’n groot koning en baie wreed. Een dag het hy uitgery en hy het
voor die stadspoort gekom, want sy stad was groot en omring van ’n muur
en daar was poorte in die muur, en by een van die poorte het hy
uitgery. Daar was ’n hele trop van sy edelmanne om hom, algar te perd,
en toe hulle by die poort kom, was daar ’n gedoente....”
„Hoekoem, Abdoel, hoekom?”
„Dit vertel ek mos vir julle. Bly tog stil, anders kan ou Abdoel nie
vir julle vertel nie. Die gedoente was omdat daar ’n kaffer....”
„Ag nee a, Abdoel, daar’s mos nie Kaffers in daardie land nie!”
„’n Kaffer noem ons een wat nie glo wat ons glo nie. Hy glo nie aan die
Profeet nie en in die koning se stad het algar aan die Profeet geglo.
Maar dié een was ongelowig en astrant. Hy het een van die stadsburgers
in die gesig gespuug en dit was ’n groot belediging. Daarom het hulle
hom tot die dood veroordeel en hulle wou hom stenig net toe die koning
verbyry. Die koning het dit gesien, want die kaffer het voor sy perd
kom lê en genade gesmeek. ‚Ja,’ sê die koning, ‚dis alte naar om jou te
stenig. Jy is ’n beter dood werd. Ek sal jou ’n beter dood gee.’ En die
koning roep een van sy edelmanne, ’n baie groot baas, wat baie
spoggerig was, want daar was koningsbloed in sy are en hy was baie ryk.
‚Jy wat van koningsbloed is,’ sê die koning, ‚maak hierdie ding dood
vir my.’ En die spoggerige edelman moes dit doen. Hy het sy swaard, wat
krom was, en so skerp soos ’n skeermes, uitgetrek, en met één hou die
kaffer se kop afgeslaan. Maar dit het hom nie aangestaan nie en hy het
baie kwaad geword. ‚Is dit nou ’n koning se werk,’ het hy gebrom, ‚om
’n hond dood te maak?’ ‚Nee, dis goed,’ sê die koning. ‚Jy is mos my
slagter. Dis al wat jy goed voor is.’ En die mense het die edelman
uitgelag, want hulle het geweet dat die koning nie baie van hom hou
nie. Elke dag het hulle hom uitgelag. Die kinders het agter hom
aangeloop en geskree: ‚Hè, slagter van die koning, kom slaan ons honde
dood.’ En die vissers het hom uitgejou: ‚Slagter, slagter, met jou
skeermesskerp-swaard, kom maak die keffertjies dood; hulle pla so
baie.’ Ja, dit was ’n naarheid en hy kon dit nie meer uitstaan nie. Hy
was woedend en hy het gedink: ‚Ek sal die koning leer. Ek sal hom gaan
wys dat ek nie sy slagter is nie.’
„Hy het lank oor die saak nagedink en eindelik het hy besluit, hy sou
die koning gaan vermoor. Hy het geweet dat die koning snags, as dit so
warm is, in ’n klein huisie in die tuin van die paleis geslaap het,
sonder wagte. Maar die koning het gehoor dat die edelman kwaad vir hom
was en die koning het sy eie maatreëls geneem.
„Een nag het die edelman na die huisie gestap, versigtig; want ofskoon
dit donker was, wou hy geen geraas maak nie. Hy wou die koning
stilletjies in sy slaap doodmaak. Dit was al.
„Maar toe hy in die donker in die kamer van die klein tuinhuisie kom,
het ’n paar soldate hom dadelik gegryp. Hulle het die lig aangesteek en
hy sien die koning voor hom staan. Die koning het ’n glimlag om sy mond
gehad en het vriendelik met hom gepraat.
„‚Edelman,’ sê die koning, ‚slagter-edelman, dis nie goed om so ’n
skerp ding met jou rond te dra nie. Dit kan jou maklik in gevaar bring.
Ek weet jy kom uit beleefdheid vir my, maar so ’n soort beleefdheid kan
ek sonder klaarkom. Ek wil jou daarvoor beloon. Die loon wat ek vir jou
gee is, dat jy vir my iets sal vra voordat jy drie dae ouer is en vir
my seën, omdat ek dit vir jou gee.’
„‚Dit sal ek nooit doen nie,’ sê die edelman. ‚Jy kan my doodslaan,
maar ek sal nooit iets vir jou vra nie. Ek gaan liewerster morsdood.’
„‚Ons sal sien,’ sê die koning, met sy glimlag. En hy sê aan die
soldate: ‚Neem hom buite die stad en stenig hom op die mishoop, maar
stenig hom volgens die wet.’”
„Wat beteken dit, Abdoel? Sê vir ons.”
„Die wet sê, Basie, dat as jy iemand stenig, moet jy hom so stenig dat
hy nie doodgaan nie. Jy moet hom seermaak en as hy self wil doodgaan,
dan is dit sy saak, nie joue nie. So het hulle ook die edelman
gestenig. Hulle het al sy bene en arms gebreek en ’n groot klomp klippe
op hom gestapel, en as hy ’n klip verroer, dan het hulle dit weer op
hom gegooi, so hard as hulle kon. En die koning het een van die soldate
by die kliphoop gestel en gesê: ‚As my slagtertjie iets van my verlang,
laat my dan maar weet. Maar nie vóór die derde dag nie. Sólank moet hy
maar probeer uithou.’
„Die mense het kom kyk, dag vir dag, hoe dit met die edelman gaan. Dag
vir dag het hy uitgehou, sonder water, sonder iets om hom verligting te
gee.
„En op die derde dag het hy gesmeek: ‚Maak my tog asseblief dood,
Koning. Red my uit my pyn.’ Die boodskapper wat nag en dag by die
steenhoop gestaan het, om die smeekgebed van die edelman te verneem,
het dadelik na die paleis van die koning gesnel.
„Die koning was aan die ete. Niemand kon hom stoor nie. Die boodskapper
moes dus bly wag, totdat die koning klaar geëet het.
„Toe hy voor die koning kom, sê hy: ‚Groot Vors, die skepsel wat jy
veroordeel het, smeek om van sy lewe verlos te word,’
„‚Aha!’ sê die koning, en hy lag. ‚Ek het mos gesê hy sou my iets vra,
voordat drie dae verby was. Hoe lyk dit met hom?’
„Dit lyk maar sleg, groot Vors,” sê die boodskapper. „Hy kan skaars die
woorde uitkry en dit sou ’n genade wees om hom uit sy pyn te neem.”
„Watter genade sou hy vir my gegee het, toe hy mv wou vermoor?” vra die
koning. „Maar hoor, ek is tog genadig en ek sal hom verlos. Maar dit is
nog maar sononder en hy het die hele nag voor hom. Laat hom maar vannag
nog bly lewe, dan kan hy oor die saak nadink. Maak hom môre dood.”
Die boodskapper het teruggegaan en aan die edelman, wat nou skaars meer
die woorde kon hoor, gesê:
„Die koning sê, môre eers. Tot dán moet jy maar uithou.
„In die vroeë môre het hulle die edelman doodgeskiet en toe hy die
roers hoor raas, het hy die naam van die koning geseën. Dit is die
storie wat hulle daar in my land vertel, Basie.”
„’n Nare storie, Abdoel. Wat nou van ’n spookstorie?”
„Nee, Basie. Nou moet ek toemaak, want dit is tyd om my gebed op te sê.
Maar Abdoel sal julle tog ’n storie vertel, môre.”
III.
ABDOEL SE STORIE.
Dis ’n klein eilandjie, maar dit staan nie eensaam nie, ofskoon dit ’n
eiland is en omring deur die see. Dit het duisende bure, want dit is
een van die Vyfduisend Eilande wat in die Indiese See staan. Daar’s
mense wat sê dat daar meer van hulle is, sesduisend, seweduisend—nog
meer, nog baie meer, en niemand weet of hulle reg het of nie, want
niemand het die eilande getel nie.
Hierdie kleintjie, waarvan ek praat, word Minekoi genoem, en is so
groot as van hierso tot daar waar jy die agterkant van die berg kan
sien. Daar is palmbome op, klapperpalmbome, waaraan die klappers by
dosyne hang en waarin die Bo-voël, wat kan praat net soos ’n mens,
speel met sy maters vóór die reën kom. Die strand van die eiland is
wit, soos silwer wat gesmelt is en daar lê baie skulpe daar. Daar is
sommige skulpe wat so groot soos ’n kruiwa is en ander skulpe wat so
fyn is, dat jy daardeur die klapperbome kan sien. En in die lae water,
naby die strand, groei donkerblou seegras, waardeur die geel en rooi
seeslange swem en waaronder die stekelige seemuise huisves; seegras wat
slinger om die kraalpilare net soos krulkrans om die doringboomstam.
Hier op Minekoi het ’n ou kêrel met die naam van Sadiah gewoon. Hy was
’n kort klein ou kêreltjie met lang, swart hare, wat nie gekroes was
nie, want die mense wat daar woon het nie algar kroeshare nie, ofskoon
sommige van hulle amper so lelik soos die Boesman hier is. Hy was ’n
see-Maleier, afkomstig uit die Ooste, uit vèr Borneo, waar die mense
nog baie wild is en koppe afslaan, tenminste die koppe van hulle vyande
waarmee hulle baklei het. Maar Sadiah was al oud en het nie meer baie
lus in bakleiery gehad nie. Hy het na Minekoi gekom en daar sy klein
pondokkie gebou en hom onderhou met wat hy uit die see kon kry.
Daar was baie wat hy kon kry. Die krulkrans-seegras het hy gekook en
net soos kool geëet, en vir vleis was daar altyd vis. Allerhande soorte
vis, met allerhande kleure, so mooi, amper, soos die weste geword het
by sonsondergang. Hy moes net maar sy bootjie neem en ’n paar myl van
die strand seil en dan kon hy soveel vis vang as hy maar wou. Vir aas
kon hy ’n stukkie rooi flennie gebruik. Dié stukkie rooi flennie was al
lank al in die famielie, want dit was kosbaar en dit kon oor en oor
gebruik word as aas, want die visse het dit nooit ingesluk nie. Dit het
hulle net maar aangelok na die hoek, en sodra hulle naby die hoek was,
het Sadiah hulle opgetrek, omdat hy handig genoeg was om die hoek êrens
deur hulle lyf te kry met ’n vinnige ruk.
Elke jaar, as die oostewind begin waai, kom die mense van Minekoi
bymekaar om fees te vier. Hulle neem ’n skuit—en dis algar snaakse
skuite wat hulle daar het, klein skuitjies met lang planke aan
weerskante, sodat hulle nie maklik kan omslaan nie selfs as die
branders baie wild is—en laai dit vol met gedroogde vis, met vrugte en
met blomme, die pragtige blomme wat in die bosse van die eiland groei.
Dan bring hulle die skuit waar die see diep is, en laat dit daar in die
see wegsink.
Dis ’n offerande wat hulle aan die bose geeste wat in die see woon,
bring.
Dié bose geeste word veronderstel onder die seegras te lewe, net soos
die seeslange, en volgens die mense van Minekoi is hulle baie
gevaarliker as die seeslange, alhoewel die seeslange giftig genoeg is.
Só giftig, dat as een daarvan jou byt, jy dan nie meer lank sal lewe
nie. Maar die geeste, veral die wat ver in die see woon, is baie kwaai,
en moet gepaai word. Anders kan jy nie vis vang en teen die branders
veg nie.
Daarom word die geeste gepaai met offerandes van vrugte en blomme en
gedroogde vis.
Sadiah het elke jaar deelgeneem aan die fees, en sy stukkie gedroogde
vis en ’n paar vrugte of blomme saamgebring om in die skuit te sit. Op
dié manier het hy gedink dat hy nou op ’n hoogs vriendskaplike voet met
die geeste gestaan het. Dié gedagte het hom ’n bietjie astrant gemaak
en hy het nie so versigtig te werk gegaan nie as hy anders sou gedoen
het, as hy gedink het dat die bose geeste teen hom was.
„Daardie Sadiah,” het sommige van sy vriende gesê, „daardie Sadiah sal
nog ’n ongeluk kry as hy nie oplet nie. Hy waag te veel.”
Maar jaar-uit en jaar-in het dit voorspoedig met Sadiah gegaan. Hy het
hom nie aan waarskuwings gestoor nie en het bedaard vis gevang met sy
stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in sy famielie was. „Poesaka” soos
hy sou gesê het, in sy Maleise taal.
Op één dag het Sadiah ’n klomp vissers teëgekom wat hard aan die praat
was. Toe hy by hulle kom, sê een van hulle:
„Sadiah, weet jy iets van die goudgeel otter?”
„Ek het daarvan gehoor,” sê Sadiah. „Dis mos ’n groot otter wat hier op
een van die Vyfduisend Eilande nes maak. Wat daarvan?”
„Die koning wil die vel hê,” antwoord die man. „Hy het gesê dat hy die
persoon wat hom die vel van die geel otter bring, skatryk sal beloon.”
Sadiah het nie baie om geld gegee nie, maar hy was tog gierig om deur
die koning beloon te word, en hy het sy ore gespits.
„Ja,” sê die kêrel. „Die koning het van die otter gehoor en hy het ’n
weddenskap gemaak, dat hy binne ’n jaar die vel sal hê. Ons het algar
bevel gekry om op te let of ons iets van die otter gewaar. Dan moet ons
dadelik aan die koning se visier kom sê waar die dier te kry is.”
Sadiah het huis-toe gegaan en die volgende môre het hy vroeg opgestaan,
’n klein mandjie vol gekookte seegras en ’n paar stukkies gedroogde vis
geneem, en na die Towenaar gestap.
Die Towenaar was ’n stokou kêrel wat alleen in ’n pondokkie op die
strand gewoon het. Al die mense was bang vir hom en het so ver as
moontlik van hom gebly, maar hulle het hom darem kos gegee en gesorg
dat hy niks nodig gehad het nie. Dit was om hom te paai, net soos hulle
die bose geeste wat onder die seegras woon, wou paai. Want hulle was
bang vir altwee, en het nie eers geweet of hulle banger vir die geeste
of vir die Towenaar was nie.
Toe Sadiah by die Towenaar kom, maak hy ’n diep buiging en sit sy
mandjie op die grond.
Die Towenaar, wat half blind deur ouderdom was, het hom gehoor en nors
gevra: „Wat wil jy hê, skepsel?”
„Ek bring die Towenaar hierdie presentjie,” sê Sadiah. „Gestoofde
seegras—dit smaak baie lekker, soos ek weet—en gedroogde vis, wat nog
lekkerder smaak.”
„Goed,” sê die Towenaar. „Sit dit maar daar en trap.”
„Ja,” sê Sadiah, „maar ek het ’n versoek.”
„Dit het ek gedink,” sê die Towenaar. „Julle bring niks vir my vir niks
nie. Wat wil jy van my hê?”
„Ek wil net maar weet, o Towenaar,” sê Sadiah, „of daar werklik soiets
is as ’n goue otter, en as daar werklik soiets bestaan, hoe ’n mens dit
in die hande kan kry.”
„So,” sê die Towenaar. „Jy wil skatryk word. Jy wil hê dat die koning
jou sal beloon. Nou, ek het daar niks op teen nie. Rykdom beteken niks
nie en dis een en dieselfde vir my of jy die skatte besit of die
koning. Ek sien dat jy nie alte dom is nie en dat jy jou maters vooruit
is. Geeneen van hulle het daaraan gedink om my te kom vra nie, of om
vir my iets saam te bring nie. Dus sal ek vir jou help. Die goue otter
woon in ’n grot op die sewehonderd-en-sestigste eiland.”
„En waar is die sewehonderd-en-sestigste eiland?” vra Sadiah.
„Net langs die sewehonderd-negen-en-vyftigste eiland,” sê die Towenaar,
„en duskant die sewehonderd-een-en-sestigste. Jy moet reguit seil, en
dit sal jou vyf dae en vyf nagte neem om daar te kom en niemand weet
hoe lank nie om terug te kom.”
„Dankie, Towenaar!” sê Sadiah. „Dankbaar!”
„Nee,” sê die Towenaar. „Moenie so gou wees nie. Daar is eintlik geen
haas nie, want die goue otter is al duisend jaar oud en kan nog ’n
maand of wat ouer word voordat jy hom gaan lastig val. Ek moet jou
egter sê dat dit gladnie maklik sal wees om hom te vang nie.”
„Hoe moet ek dit prakseer, Towenaar?” vra Sadiah. „Ek sal baie dankbaar
wees as Towenaar my wil sê, asseblief, hoe ek die saak moet aanvang.”
„Daarvoor het jy nodig ’n stukkie flennie,” sê die Towenaar. „’n
Stukkie rooi flennie....”
„Dit het ek,” sê Sadiah, vinnig. „Dis ’n erfstuk in my famielie, wat ek
gebruik om vis mee te vang.”
„Dan is jy oor die ergste bult,” sê die Towenaar, „want ek weet waarlik
nie waar jy soiets hier sou kon kry nie. Selfs ek, met al my toorkragte
sou dit moeilik vind om ’n stukkie rooi flennie sommerso te maak. Nou,
die stukkie flennie moet jy met klapperolie bestryk. Dit sal die goue
otter aanlok en hy sal kom snuffel....”
„Dan slaan ek hom dood,” sê Sadiah, „en bring hom huis-toe. Dankie....”
„Jy’s weer alte vinnig,” sê die Towenaar. „Dis nie so maklik om hom
dood te slaan nie, want hy is duisend jare oud en so taai soos
see-bamboes. Nee, jy moet anderster maak. Sodra hy aan die flennie
snuffel, moet jy my toorgoed op hom gooi. Dan verander hy in ’n stukkie
droë seegras. Die seegras moet jy versigtig wegsteek, sodat dit nie nat
word nie. Sodra dit nat of klam word, dan verander dit tot die goue
otter, en hy spring dadelik weer in die see en dan is jy al jou wins
kwyt.”
„En die toorgoed,” vra Sadiah. „Sal Towenaar my dit gee?”
„Ek sal dit vir jou ruil,” sê die Towenaar.
„Vir wat,” vra Sadiah.
„Vir die eerste vinger van jou regterhand,” sê die Towenaar, „en die
vyfde toon van jou linker voet. Ek het dit nodig vir my towery.”
„Allamaskas!” sê Sadiah.
„Moenie bang wees nie,” sê die Towenaar. „Dit kan wag totdat jy
terugkom. Dan sal ek saggies altwee afsny. Dit sal jou nie baie
seermaak nie en daar jy dan skatryk sal wees, sal jy nie ’n duim en ’n
groottoon nodig hê nie. Hier is die toorgoed en onthou, as jy terugkom,
moet jy hierso kom en my die vinger en toon afstaan.”
Sadiah was nie baie in sy skik met die ruil nie, maar hy was nou so
gierig om skatryk te word, dat hy die toorgoed maar geneem het.
Dieselfde dag het hy weggeseil, in sy skuitjie, na die
sewehonderd-en-sestigste eiland. Dit het hom vyf dae en vyf nagte
geneem om die eiland te bereik, en hy was toe al amper half mal van die
tel, want daar was so baie eilande dat hy nou en dan in die war geraak
het en weer agteruit moes gaan om reg te tel. Maar eindelik het hy die
eiland bereik en op die strand geland. Hy het sy stukkie rooi flennie,
wat ’n erfstuk in die famielie was, met klapperolie besmeer en dit op
’n stokkie in die sand regop gesteek, en hy het agter ’n klip gelê en
wag, totdat die goue otter te voorskyn sou kom.
Dit het ook nie lank geduur nie of die otter het uit die see gekom en
die galsterige klapperolie geruik. Die otter was werklik ’n pragtige
dier. Sy vel was so glad soos ferweel en het geblink soos ’n nuwe pond,
want elke haar was van goud en dit het die maanlig weerkaats, sodat die
lig in strale daarvan afgeskiet het.
Sadiah het gewag totdat die otter mooi aan snuffel was en toe het hy
die toorgoed vinnig oor die dier gegooi. Ja, regtig—die otter het
sommer verander in ’n stukkie seegras.
Maar alte bly dat die saak so gou-gou oor was, het Sadiah die stukkie
seegras opgetel en versigtig in sy kopdoek weggesteek. Toe het hy op sy
skuitjie geklim en so vinnig as hy kon huis-toe geroei. Toe daar ’n
windjie opsteek, het hy die seil van sy skuitjie opgehys en vantoeafaan
het die reis voorspoedig gegaan. Binne drie dae was hy weer by Minekoi.
Toe hy afstap by die groot klip op die strand waar al die bootjies
vasgemaak word, het hy gewaar dat daar ’n groot opskudding was. Die
mense het deurmekaar heen en weer gehardloop en orals het hulle te keer
gegaan. „Wat het dan gebeur?” vra Sadiah, aan iemand wat hy teëgekom
het.
„Het jy nie gehoor nie?” sê die man. „Gisternag het daar ’n rower gekom
wat die koning wou vermoor. Maar die koning het hom dapper geweer en
het die kêrel se regterduim en linker-groottoon met sy sabel afgeslaan.
Nou soek ons na ’n man wat nie ’n regterduim en linker-groottoon het
nie.”
„En wat sal geskied as julle so iemand kry?” vra Sadiah, wat al bang
geword het.
„Dit weet jy mos self,” sê die man. „Hy sal nie ’n lekker dood sterf
nie, dit kan ek jou verseker. Die koning is woedend. Hy praat van in
stukkies sny of lewendig opvreet of soiets, maar in elk geval, dit sal
nie iets plesierigs wees nie.”
Sadiah het mismoedig weggestap na die Towenaar se pondok.
Toe hy daar kom sê die Towenaar: „Ek sien jy het die goue otter. Nou
moet jy my die vinger en die toon gee. Ek het dit nodig vir my towery.”
„Maar Towenaar,” sê Sadiah, „het jy dan nie gehoor van die kêrel wat
die koning wou vermoor nie?”
„Daarvan weet ek,” sê die Towenaar, wat al besig was om sy mes te slyp.
„Maar dit het niks met ons akkoord te maak nie. Sit daar op die klip en
gee my jou voet.”
„Maar so sal dit nie kan gaan nie, Towenaar,” sê Sadiah. „As jy nou my
toon en my duim afsny, dan sê die mense sommer dat ek die kêrel is. En
al sê ek ook dat ek gladnie hier was nie, wie sal my glo?”
„Dis jou saak,” sê die Towenaar. „Daar het ek niks mee te doen nie. Ons
akkoord bly akkoord.”
„Sou jy dan nie iets anders in ruil wil neem nie?” vra Sadiah.
„Nee. Nie eers die goue otter nie,” sê die Towenaar. „Ek het jou duim
en jou groot-toon nodig vir my towery. Moet nou nie so sanik nie, want
dit word laat. Sit daar op die klip en ek sal altwee afsny, voordat jy
nog daarvan weet.”
Sadiah was nou werklik in ’n moeilikheid. Hy was ’n man van sy woord en
hy wou nie sy woord breek nie, maar hy het gesien, dat as hy sy vinger
en sy toon laat afsny, dit miskien lelik met hom kan gaan. Om in
stukkies gesny te word, veral vir ’n misdaad wat jy nooit gepleeg het
nie, was darem alte naar. Maar hoe hy ook soebat, die Towenaar wou nie
toegee nie. Eindelik het Sadiah so naar geword dat hy begin huil. Om sy
trane af te droog, het hy sy kopdoek gebruik, en die trane het die
kopdoek papnat gemaak. Die klammigheid het deurgedring, totdat dit die
stukkie gedroogde seegras bereik het, en sodra die stukkie droë seegras
nat was, het die goue otter woeps uit die kopdoek gespring en ewe
vinnig in die see weggehol.
„Daar het jy dit nou,” sê die Towenaar, vererg. „Ek het jou mos
gewaarsku. Dit kom van jou koppigheid. As jy eers gedoen het wat ek vir
jou gesê het, dan sou jy nie die otter kwyt geraak het nie. Daar swem
jou rykdomme terug na die sewehonderd-en-sestigste eiland.”
„Ek gee nie om nie,” sê Sadiah. „Nou het ek mos nie my toon en my duim
af te staan nie!”
„Hè?” skree die Towenaar. „Dink jy so? Maar jy het mis, visserman. Ons
akkoord bly akkoord. Ek het my gedeelte daarvan stip nagekom. Dis nou
jou plig om jou gedeelte daarvan ewe stip uit te voer.”
„Nee, wrintig nie,” sê Sadiah. „Ek sal my nie in stukkies laat sny vir
iets wat ek nooit gedoen het nie en veral nou as ek geen kans sien om
die beloning te kry nie.”
En hy hol sommer, so hard as hy kan, van die pondok weg. Die Towenaar
het hom probeer naloop, maar hy het gestruikel en op sy skerp mes
geval. Die mes het sy regterduim afgesny, en toe hy rondspartel van die
pyn, het hy met sy linkervoet op die mes geraak en die mes het sy
linker-groottoon afgesny. Die Towenaar moes toe huis-toe hink, en op
pad het hy die mense teëgekom wat na die rower gaan soek het.
„Hier is mos die vent,” skree hulle. „Kyk, hy het mos geen duim aan sy
regterhand nie en geen groottoon aan sy linkervoet nie. Dis hy.”
Hulle het hom toe dadelik beetgepak en alhoewel hy soebat en skree, het
dit niks gehelp nie. Die koning was te woedend om na hom te luister.
„Sny hom in stukkies,” sê die koning. „Ek sal hom leer om my te probeer
vermoor. So ’n astrantheid! Sny hom in stukkies!”
Sadiah, wat veraf gestaan het en dit alles aangekyk het, het toe gesien
hoe die Towenaar in stukkies gesny word. Dit het hom so sleg laat voel,
dat hy dadelik huis-toe gehol het en tuis gebly het, totdat hy so
honger was dat hy weer met sy stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in
sy famielie was, moes gaan vis vang.
Wat van hom later geword het weet ek nie. Miskien lewe hy nog op
Minekoi, maar dis seker dat hy niks meer met Towenaars te doen het nie.
IV.
DIE SLIM KRAAI.
Duisende van jare gelede—honderdduisend van jare—miljoene van duisende
van honderde van dosyne van jare gelede, meer as wat jy op jou vingers
kan tel, al tel jy van nagmaal tot nuwejaar, ou seun, het daar ’n kêrel
gelewe in die agterveldse Hantam.
Die agterveldse Hantam was toe nog net so mooi soos dit vandag is.
Veral na die reëns in Septembermaand. Die blomme het al die kleure
gehad, wat jy in die reënboog kan sien en het so dik gestaan op die
veld, dat jy sou gedink het dat oom Jan dit gesaai het. Die ruigte en
boesmangras het so wild gegroei, dat jy daarin wegkruipertjie kon
speel. Die wilde appelkosies was so groot soos ’n okkerneut en so soet
soos gemmerkonfyt en die wilde uintjies het algar in sagte sand
gestaan, sodat jy nie jou hande hoef seer te maak om hulle uit te grawe
nie.
Arrie, dit was lekker in dié dae, want daar was volop om te geniet en
dit was nooit so droog soos nou nie.
Ek glo die kêrel se naam was Aspoester, maar ek is nie seker nie, want
daar was ook ’n meisiekind wat dié naam gehad het, ofskoon sy êrens
anders gelewe het. Daar hulle albei vandag dood is, maak dit nie saak
nie en ons sal maar aanneem, dat ek reg is en dat die kêrel se naam
werklik Aspoester was.
Nou, een goeie dag het Aspoester na die rivier geloop. Vóór hy die
rivier bereik het, moes hy oor die vlakte van die veld gaan. Dit was
vol reënboogkleurige blommetjies en hy het stilgestaan om hulle te
bekyk.
„Dis darem mooi hier in ons ou Hantamwêreld,” sê hy, „en daar’s niks
wat ’n mens anderster wil hê nie.”
En toe hoor hy iets.
„Dit lyk vir my asof iemand hier kreun,” sê hy en hy luister goed. „Ja
wrintig,” sê hy weer, „dis mos iemand hier op die grond. Wat sou dit
nou wees?”
En hy snuffel rond, maar kon niks sien nie.
„Dis tog hier in die nabyheid,” sê hy. „Ek hoor dit duidelik. Iemand
wat seerkry, want ek hoor: ‚Eina, eina!’ Wat sou dit wees?”
Hy lê toe plat op die grond en gou-gou bespeur hy dat die gekerm van sy
linkerkant kom.
Daar, tien tree van hom af, was ’n groot klip. Die geluid het van onder
daardie klip gekom.
„Ag foeitog,” sê Aspoester, wat ’n baie sagte hart gehad het, „daar’s
iemand onder daardie klip en hy kerm om uit te kom. Ek sal hom verlos.
Foeitog.” En hy loop na die klip en tel dit op.
Daaronder was ’n groot rinkalsslang, wat halfpad dood gedruk was deur
die swaarte van die steen.
„So,” sê Aspoester, „nou is jy vry.”
„Ja!” sê die rinkals. „Verbeel jou, ek was vyf dae onder daardie klip.
Praat van hongerly! Maar nou is ek daaronder uit en nou moet ek kos hê.
Ek sal jou maar byt.”
„Ag nee a,” sê Aspoester. „Moenie so praat nie! Hier het ek jou verlos
van onder die klip en nou wil jy my doodbyt. Dis mos nie reg nie. Dis
mos glad verkeerd.”
„Nee,” sê die rinkals. „Nie vir my nie. Dis my geaardheid. As ek ’n
tweebenige ding sien, soos jy, dan moet ek hom byt. Moet nou nie so ’n
lawaai opskop nie. Buk net oor en ek sal jou in één hap doodbyt....”
„Nee, asseblief tog!” skree Aspoester, wat nou regtig bang was, want
die rinkals het op sy stert gaan staan en was toe amper so hoog soos
Aspoester self, en die rinkals het sy nek opgeblaas en begin spu, sodat
dit ’n naarheid was.
„Soebat help nie,” sê die rinkals. „Dis nou my gewoonte en daar is niks
aan te verander nie.”
„Maar dis mos gemeen!” skree Aspoester. „Ek het jou lewe gered en jy
wil my doodmaak. Dis mos nie regverdig nie!”
„Van regverdigheid hoef ons nie te praat nie,” antwoord die rinkals.
„Daar is maar min daarvan hier op die veld. Elkeen probeer lewe. Ek
ook. Buk, man, buk!”
„Wag – – wag – wag,” sê Aspoester. „Jy is mos ’n verstandige soort
slang—dit sien ek in, alhoewel jy ’n baie wrede soort dier is. Ek wil
vir jou eers ’n voorstel maak.”
„Maak dit dan gou,” sê die rinkals, „want ek is moeg en wil gaan
slaap.”
„Wat ek wou sê, is dit,” sê Aspoester. „Dis ’n saak onder ons twee. Jy
sê dis reg dat jy my byt; ek sê dat dit glad verkeerd is. Maar as twee
mense met mekaar stry moet ’n derde die saak beslis. Ek stel nou voor
dat ons iemand anders vra om tussen ons te beslis. As die iemand sê dat
dit reg is dat jy my byt, nou goed, dan gee ek in en dan kan jy my maar
doodbyt. Maar nie sommerso nie.”
„Nou goed,” sê die rinkals. „Kom ons loop soek iemand.”
„Kan ons dit nie liewers môre doen nie?” vra Aspoester.
„Nee!” sê die rinkals. „Nou is nou. En moenie dink dat jy kan
weghardloop nie. Nou dat ek op my stert seil, kan ek tweemaal so vinnig
hol as jy en as jy dit probeer, byt ek jou sommer, buk of nie buk nie.”
„Dis darem aaklig,” sug Aspoester, terwyl hy met die rinkals oor die
veld stap. „Nog netnoumaar het ek gesê dat ons Hantamse wêreld so mooi
was, dat ’n mens niks daarin sou wil anders hê nie, en nou kom dit my
al voor dat daar te veel rinkalse is.”
„Wat brom jy nou weer daar?” vra die rinkals.
„Ek sê maar, Rinkals,” sê Aspoester, „dat die blomme baie lekker ruik.”
„Blomme hou ek nie van nie,” sê die rinkals. „’n Streepmuis is baie
beter as die beste blom wat daar ooit bloei. Maar wag, daar is broer
Bobbejaan. Ons sal vir hom vra.”
Broer Bobbejaan was op sy klip en hy was kwaad. Die môre het hy
tuin-toe gegaan om te sien, hoever die waterlemoene was. Hy het geweet
dat dit nog te vroeg was vir die waterlemoene, want hulle sou eers in
Desember ryp wees, maar hy wou maar kyk of daar niks anders te kry was
nie. En die boer se hond het hom weggeja. Dit het hom kwaad gemaak en
sku, en toe hy Aspoester sien, wou hy sommer wegspring.
Maar Rinkals het hom uit die verte toegeroep.
„Broer Bobbejaan, broer Bobbejaan, moenie bang wees nie. Ons kom raad
vra.”
Toe hulle by broer Bobbejaan kom, sê Aspoester:
„Môre, Bobbejaan. Ons kom vir jou raad vra. So en so is die saak,” en
hy vertel vir Bobbejaan wat daar gebeur het en eindig met te vra: „En
dink jy nou dat dit regverdig is, dat hy vir my byt, Bobbejaan? Sonder
my sou hy daar onder die klip van honger en dors gevrek het. Is dit nou
regverdig dat hy my byt?”
„Regverdig?” sê broer Bobbejaan. „Ho-ho, regverdig! Dink jy dis
regverdig dat die boer se hond my kom pla as ek kyk of die jong
waterlemoentjies nie van die droogte verkwyn nie? En dan praat jy van
regverdigheid? Wat van jou slagysters en jou mielies met gif daarin?
Regverdig ... natuurlik is dit regverdig dat hy jou byt. Gaan jou gang
maar, broer Rinkals.”
„Hoor jy?” sê Rinkals. „Buk nou, dan byt ek jou mooi sodat jy nie eers
hoef te spartel nie.”
„Maar dit is mos alte wreed,” sê Aspoester. „Ek dink nie dat Bobbejaan
die saak goed verstaan nie, Rinkals. Kom ons gaan iemand anders soek.
As hy net so sê dan sal ek ingee.”
„Julle tweebene is nooit tevrede nie,” mompel Rinkals. „Maar ons kan
iemand anders vra. Hulle sal algar dieselfde sê. Kom maar.”
Aspoester en die slang loop toe verder, en op pad sê Aspoester vir
homself: „Netnou het ek nog gesê dat ons Hantamse wêreld so goed is dat
’n mens niks daarin sou wil verander nie en nou sien ek, dat daar ook
nog ’n Bobbejaan te veel is.”
„Is jy weer aan die brom?” vra Rinkals. „Wat is dit nou weer?”
„Ek sê maar net,” antwoord Aspoester, „ek sê maar net dat die uintjies
hier volop is.”
„Uintjies,” sê Rinkals en hy spu van veragting. „Uintjies gee ek niks
voor om nie. Dis kos vir skape en bobbejane. Gee my ’n mooi klein
meerkatjie en jy kan al die uintjies vir jou hou.”
Hulle het ’n halfmyl verder geloop en toe by ’n steenbokkie gekom. Hy
was baie wild, maar Rinkals het hom van ver toegeskree dat hulle hom
nie sou seermaak nie en die steenbokkie het bly staan, maar hy het op
sy agterpote vasgetrap sodat hy sommer kon wegspring.
„So en so is die saak, broer Steenbok,” sê Rinkals. „Sê nou vir ons, is
dit nie my reg nie—ja selfs my plig as ’n goeie rinkals om hom te byt,
al het hy my verlos?”
Die steenbokkie was van geaardheid baie sag en wou nie graag iemand
seermaak nie, maar hy het gedink aan sy dogtertjie, wat Aspoester se
buurman ’n paar dae tevore met ’n handvol lopers doodgeskiet het, en hy
het te veel daarvan gedink. Twee groot trane het oor sy gesig geloop en
hy het dit probeer afveeg met sy voorpote, maar dit het hom nie geluk
nie.
„Hy het meely met my,” sê Aspoester vir homself. „Kyk, hy huil. Hy sal
tog nie so wreed wees nie.”
Maar toe Steenbokkie praat, vind Aspoester dat hy ook gladnie
vriendelik was nie.
„Ek dink, broer Rinkals,” sê Steenbokkie, „jy het die volste reg om hom
te byt. Dis jou geaardheid om mense te byt en jy sou jou plig versuim
as jy dit nie doen nie.”
„Wag-wag-wag,” skree Aspoester, wat nou baie bang was, „hoe kan jy so
onbarmhartig wees? Is dit dan regverdig om soiets toe te laat?”
„Wat praat jy van regverdigheid?” sê Steenbokkie. „Was dit regverdig om
my dogtertjie te skiet en nogal met lopers op die koop toe? Regverdig
... ek dink hy het die volste reg om jou te byt.”
„Toenou,” sê Rinkals en hy maak sy bek oop om ’n goeie byt te neem,
„daar het jy dit. Algar sê dis my plig. En ’n slang moet nooit sy plig
versuim nie. Dit weet jy so goed soos ek. Buk nou of lê plat op die
grond. As ek jou die eerste skoot mis, kan ek dan weer probeer?”
„Nee, asseblief tog!” soebat Aspoester. „Laat ons nog iemand vra.
Steenbok is ook nie onpartydig nie, want hy het sy dogtertjie verloor
en ek het eintlik niks daarmee te doen gehad nie....”
„Wat van die wildsboutjie wat in jou kombuis hang?” vra Steenbok.
„Ag die ... die het neef Bokkom my gegee.... Ek weet regtig nie waar
dit vandaan kom nie.”
„Dis die linkerbout van my oorlede dogtertjie,” sê Steenbokkie en hy
gebruik weer sy voorpote om sy trane af te vee. „In die fleur van haar
jeug afgemaai deur ’n loper! En jy praat van regverdigheid!”
„Ek simpatiseer met jou,” sê Aspoester, wat ’n bietjie skuldig gevoel
het, want hy het geweet dat Steenbokkie die waarheid praat. „Maar jy is
tog partydig. Ek dink ...”
„Ek dink ons moet nou ’n end daaraan maak,” sê Rinkals. „Lê plat....”
„Ag nee a,” sê Aspoester. „Moenie so vinnig wees nie! Gee ’n man ’n
bietjie tyd! Kom ons vra nog een ... nog net maar een. As hy dieselfde
sê, dan gee ek in ... ek sweer dit ... toe tog ...”
„Nouja,” sê Rinkals. „Ons sal nóg iemand vra. Maar dis dan ook die
laaste. As dit weer teen jou gaan, dan moet jy buk of platlê.”
Toe hulle wegstap sê Aspoester:
„Netnou het ek gedink ons Hantamse wêreld is die mooiste wêreld op
aarde en dat daar niks is wat ’n mens daarin sou wil verander nie, maar
nou sien ek dat daar selfs te veel steenbokkies is.”
„Wat sê jy?” vra Rinkals. „Maak tog jou mond wyd oop as jy praat, man.
Dié gemompel kan ’n slang mos nie verstaan nie.”
„Ek sê maar,” antwoord Aspoester, „ek sê maar dat dit lyk of hier
byeneste onder die klippe is.”
„Dit kan jy vir jou hou,” sê die rinkals. „Heuning is ’n vrot kos as
daar klein uiltjies, vet na die winter reëns, te kry is. Hulle glip in
soos melk en ek sê vir jou dis die lekkerste kos wat jy jou kan
verbeel.”
Hulle het weer ’n end verder geloop en toe sien hulle ’n witborskraai,
wat op ’n miershoop sit.
„Daar is nou iemand,” sê Rinkals. „Ons sal hom vra en as hy dieselfde
sê as die ander, dan moet jy platlê. Ek is nou moeg van die saak.”
„Maar sou ’n kraai iets weet oor sulke dinge?” vra Aspoester. „Sal ons
nie verder loop totdat ons ’n verstandige iemand teëkom nie?”
„Vervlaks nie!” sê Rinkals. „Ek sê jou, ek is moeg en sat van die saak.
Daar moet nou ’n end aan gemaak word.”
„Dis tog ’n nare ding om so onregverdig te wees,” sê Aspoester. „Jy sal
vir jou hele lewe lank berou hê, as jy so handel—teen beterwete ook. Ek
sê jou, dis nie mensliewend nie. Dit is teen al die beginsels wat jy
van kleinsaf-aan geleer het.”
„Ek gee nie om nie,” sê Rinkals. „Maar hier is broer Kraai. Sal jy vir
hom sê, of sal ek?”
„Nee, ek sal hierdie skoot praat,” sê Aspoester. „Ek kan die saak beter
voordra, want my oorlede vader was parlementslid en het baie te doen
gehad met vergaderings.”
„Nou toe dan,” sê Rinkals, „Maar moenie te lank besig wees nie.”
Die kraai het na hulle staan en kyk, asof hy nie reg geweet het om weg
te vlieg of te bly sit nie, maar eindelik het hy tog besluit, om hom
maar kordaat te hou. Hy het toe eers gemaak of hy niks van hulle gesien
het nie.
„Ka-ka-ka,” sê hy, „die wêreld hier herinner my aan wat ek daarbo in
die noordelike distrikte gesien het. Volop groen en baie miershope,
maar min kos vir ’n respektabele kraai. Nie eers ’n dooi skaap nie! Ek
sê tog ... en mag ek vra wat ek vir julle twee kan doen?”
„Ons kom om raad te vra, Kraai,” sê Aspoester. „Ons het ’n moeilike
vraagstuk wat ons aan jou wil voorlê....”
„Hy bedoel dit is ’n allermaklikste vraagstuk,” sê Rinkals.
„’n Moeilike vraagstuk,” sê Aspoester en hy kyk Rinkals verwytend aan.
„Ons verwag eintlik ’n Salomo, maar ons weet dat jy baie slim is,
Kraai....”
„Baie vriendelik, baie vriendelik,” sê die kraai en hy stryk oor sy
vlerke met sy sterk, skerp bek. „Dankbaar vir die eer—vleiend ... alte
vleiend ... maar verdien, ofskoon ek dit self sê ... altyd eerste in
vliegklas ... hoogste graad sertifikaat vir opvreet van dooi skape ...
eerste klas dieto vir rispers vang....”
„So het ons besluit om maar na jou te kom,” sê Aspoester. „Die saak is
’n baie gewigtige saak. Dit is ’n kwessie van lewe en dood....”
„Nee,” sê Rinkals. „Nou oordryf jy dit. Net maar ’n saak van byt. Niks
anders nie.”
„Moenie vir my in die rede val nie,” sê Aspoester. „Is dit ek of jy wat
aan ons geleerde vriend die vraag voorlê?”
„Jy talm so lank,” sê Rinkals....
„En jy is te gulsig om te byt!” sê Aspoester. „Maar om aan ons vriend
die saak duidelik te maak, so en so is dit. En nou wil ons weet....”
„Nee,” sê die kraai „jy sê dis so en so, maar jy beduie nie vir my hoe
dit was nie. Ek verstaan die saak nog gladnie.”
„Dis so eenvoudig soos jy maar kan dink,” sê Aspoester. „Soos ek sê, ek
het hierdie ... hierdie rinkals onder ’n klip gekry. Ek het die klip
opgetel en hom verlos van honger en doodgaan en hy wil my nou doodbyt.
Is dit ...”
„Maar ek verstaan nog nie goed nie,” sê Kraai. „Onder ’n klip, sê jy?
Nogal onder ’n groot klip? Eienaardig! Ongelooflik, sou ek sê!”
„Nee, daar’s niks ongeloofliks in die saak nie!” sê Rinkals. „Ek was
onder die klip. Hoe ek daar gekom het, weet ek nie, maar ek was daar en
ek sou van honger vergaan het as hierdie ... hierdie Tweebene my nie
verlos het nie. Dit erken ek.”
„En tog,” sê Kraai, en hy dink ’n bietjie na. „Ek sê, Rinkals,” sê hy
dan, „jy praat van honger doodgaan. Hoe het ek dit dan? Het jy nie
volop vleis nie? Stukkies rot en meerkat, en so meer nie?”
„Nee, broer Kraai,” sê Rinkals en hy skud sy kop. „Jy weet dit is nie
so maklik om hier teenswoordig goeie kos te kry nie.”
„So het ek gedink,” sê Kraai en hy bekyk Aspoester sydelings. „En hoe
staan dit met jou, Tweebene? Daar is seker baie afval in die kombuis?
Stukkies skaapvleis ... kaiings en wat dies meer....”
„Volop!” sê Aspoester. „Die hoenders het ’n rojale tyd by my. Hulle
lewe soos konings.”