Piet Retief word die martelaar van die Groot Trek genoem, Andries

Pretorius, die krygsman en Sarel Cilliers die profeet (p. 3). "Beter

tiepe van die diepe godsvrug en die innige vroomheid, wat in dae van

donkerheid en droefheid aan die hart van die Trekkers lig en troos

verskaf het is daar nie dan Sarel Cilliers" (p. 4). Sy kinderjare en

uittog na die noorde word beskryf, terwyl ook in vlugtige trekke die

verloop en betekenis van die beweging van 1836 geteken word. Episodes

waarin Cilliers 'n groot aandeel gehad 't, soos die slag by Vegkop en

die aflegging van die gelofte word uitvoerig behandel en op helder wyse

toegelig. Cilliers se ervarings in Natal en later in die Vrystaat, sy

rol in die kerklike lewe is op aanskoulike wyse in die laaste hoofstukke

geskets. Deur verskillende anekdotes kry ons 'n helder beeld van sy

persoonlikheid. In die slothoofstuk word sy betekenis so saamgevat: "Hy

was 'n onverskrokke baanbreker van die beskawing, 'n dapper stryder vir

vryheid, 'n edel patriot en 'n vroom Godsman" (p. 90.) Die geskiedenis

van die Dingaansfees en die beste manier om dit te vier word bespreek.

Dit was dan ook die aanleiding tot die ontstaan van die biografie (p.

4). Die aanhangsels bevat 'n joernaal en verskeie briewe van Cilliers.

"Die meeste mense van die twintigste eeu sal (Cilliers) noem 'n

onbuigsame, ouderwetse puritein" (p. 84). Deur sy verwante

lewensbeskouing kon Gerdener so 'n figuur met 'n begrypende liefde

aanvoel en hy slaag dan ook daarin om veel wat vaag was te verduidelik.

As hy ons egter vertel dat hy liewer "die sluier van vergetelheid" (p.

34) oor die onaangenaamheid tussen Cilliers en Smit wil trek, dan twyfel

ons aan sy objektiwiteit. Vir 'n geskiedkundige werk kan die

omsluieringsmetode nóg noodlottiger wees as vir 'n roman! Deur so 'n

sinnetjie bring die lewensbeskrywer homself onder die verdenking dat hy

te werk gegaan 't volgens die gesegde: _De mortuis nil nisi bene_.

Onwillekeurig vraag ons: Wat het nog meer onder "die sluier van

vergetelheid" geraak? In die aangehaalde geval is dit alleen getuigenis

uit 'n ander bron wat Gerdener tot 'n bespreking dwing. Maar die feit

dat hy dit met blykbare teësin doen, kan ons die indruk gee, dat hy

alleen 'n _lofrede_ op "die vader van Dingaansdag" wou skryf. En selfs

die vaagste sinspeling in dié rigting moet die biograaf vermy, as hy

geen agterdog wil opwek teen sy onpartydigheid nie.

Ook die volgende verklaring is 'n erkenning deur die skrywer self van

wat daar nog ontbreek in sy werk: "Ons sluit hierdie Hoofstuk "Bloed en

Trane" met die gevoel dat daar taferele in die geskiedenis is, wat

niemand kan beskrywe nie. Neem b.v. Piet Retief, bo-op die Drakensberg

met sy aangesig in die rigting van die Indiese Oseaan.... Gebeurtenisse

kan 'n mens nog beskrywe, maar sulke manne, so groot, so onsterflik: die

Martelaar, die Profeet en die Staatsman van die Grote Trek. Hier moet

die digter en die skilder ons te hulp kom!" (p. 47.) Die

kunstenaar-biograaf mag egter sy taak nie so maklik op ander skuiwe nie!

Dit spreek vanself dat iemand wat uit stowwige oorkondes en

fragmentariese oorlewerings 'n beeld van 'n mens moet opbou daarin slegs

gedeeltelik kan slaag; die tydgenoot, steunende op intieme kennis en

persoonlike omgang is daartoe veel beter in staat. Maar waar die

tydgenoot dit nagelaat het is 'n biografie soos die van _Sarel Cilliers_

vir ons van groot belang. Uit die beskikbare gegewens het Gerdener 'n

duidelike beeld van die man en sy betekenis saamgestel. By 'n twede druk

sal hy seker die onafrikaanse vorme wat daar nog in sy styl voorkom

vermy, en ook nie die piëteitlose afkorting _Maritzburg_ vir die ou

Voortrekkerstad gebruik nie (o.a. op p. 31).

§ 10. A.J. van der Walt.

Andries Jacobus van der Walt is gebore op Grootfontein, Middelburg,

K.P. Van sy tiende tot sy vyftiende jaar het hy skool gegaan op

Ratelpoort, waar hy leer hoera skree het, toe die anneksasie van

Transvaal (1877) bekend word. Maar nadat hy enige jare skool gehou 't is

hy Transvaal toe en daar het hy gou tot 'n ander oortuiging gekom. Kort

na die Jameson-inval is sy Hollandse roman _Afrikaner wees u zelf_

geskryf.[429] Gedurende die Twede Vryheidsoorlog moes hy saam met ander

die wyk neem na Delagoabaai en vandaar na Holland. In Europa het hy byna

twee jaar gebly, baie rondgereis en sy ondersoekings oor Andries Hendrik

Potgieter begin, wat nog op 'n uitgewer wag. Na sy terugkoms was hy eers

tien jaar lank by 'n versekeringsmaatskappy en toe weer onderwyser in

die distrik Potchefstroom, waar hy nog is. _Noordwaarts_, wat in 1906 al

klaar was het hy in Afrikaans omgewerk vir die _Burger_-leeskring

(1919).[430] In 1920 het ook nog verskyn _Vastrappers I_.

Noordwaarts.

In 1877 het 'n groot aantal huisgesinne die Suid-Afrikaanse Republiek

verlaat en noordwaarts getrek. Die skrywer het historiese gegewens oor

hierdie Dorsland-Trek versamel en dit as Deel II van _Noordwaarts_

uitgegee. Die verhaal van D.J. Erasmus word afgebreek deur die volgende

opmerking van Van der Walt: "En dan volg 'n hele reeks van kostelike

informasie ... wat vir 2/3 as boustof verstrek ('t) van Boek II" (p.

217). Boek II is 'n gedeelte van 'n romantiese verhaal, wat aan die

_Boustowwe_ voorafgaan. Hier het ons dus te doen met 'n onwetenskaplike

vermenging van waarheid en verdigting, wat die boek vir die historikus

vrywel waardeloos maak. Selfs op die _boustowwe_ kan ons nie reken nie:

"Die skrywer het eers gemeen, by die _omwerking en besnoeiing van die

handskrif_, om die verdwaal-episode maar agterweë te laat....[431] Nog

duideliker blyk sy werkwyse uit die volgende: "Ons moes dus by die

skrale bedeling van boustof, nadat ons ons so goed moontlik onder ons

omstandighede op hoogte van die Land- en Volkkunde van die streke

waardeur die twee van Stadens denkelik getrek het, gebring het, toe maar

verder die regte van 'n romanskrywer ons aanmatig, om so op dié manier

die leemtes enigsins aan te vul." (p. 185.) Teen 'n historiese roman oor

die Dorsland-trek bestaan daar natuurlik geen besware nie, maar die

onoordeelkundige vermenging van fantasie en waarheid in 'n boek, wat die

ondertietel _Historiese Sketse_ draag, moet ten sterkste afgekeur word.

Van der Walt het verskillende episodes uit sy boustowwe tot een verhaal

saamgeflans. Hy gee 'n reeks gekleurde historie-prente en laat op

bioskoopagtige wyse die vernaamste episodes voor ons verbytrek. In die

_uiterlike_ omstandighede van die trekkers het hy hom goed ingeleef. Hul

ontberinge en eindelose gesukkel in die dorsland word op skilderagtige

wyse geskets. "Die opeenvolging van ellendes" (p. 58), die lyding van

mens en dier in woeste oorde, die moeilikhede met die inboorlinge is op

duidelike en aanskoulike wyse voorgestel, sodat die geheel 'n treffende

rolprent van die volhardingsvermoë van die Afrikanerpioniers word. Maar

ons mis die hand van die kunstenaar wat só kan skilder, dat die figure

van die doek af na ons toe kom, met ons praat en die roersels van hul

innerlikste menssyn openbaar. Want daarvoor deins die skrywer terug.

"Ons laat maar liewer die sluier val!" (p. 112);[432] "Maar laat ons

maar liewer van Tys van Wyk, die vader en van Roelf, die liefhebbende

oom, swyg--swyg van algar se verdriet, wat elkeen op sy eie manier

getoon het...." (p. 136); "O, geen pen kan die aakligheid van die reis

beskrywe nie!" (p. 139); "Wie sal 'n vroumens se trane deurgrond?" (p.

162). So soek die skrywer altyd maar uitvlugte. Net waar hy 'n kans kry

om die dieper menslikheid te teken, getuig hy sélf van sy onmag. Hy bly

meestal die belangstellende toeskouer, wat nie die ellende self deurleef

nie, maar op 'n goeie distansie aantekeninge maak: "Laat ons, Leser,

hulle afkyk in hulle doen...." (p. 65). Die kranksinnige Mieta is "die

ware beeld van wanhoop" (p. 51) en 'n paar reëls verder weer "die beeld

van verregaande onverskilligheid". Tog het hy daarin geslaag om 'n hele

paar lewendige toneeltjies te teken, soos o.a. die dood van Joggie (p.

68 vlg.). Ook die vaste vertroue op die Voorsienigheid onder die bangste

gevare, en die stille godsvrug van die trekkers is goed weergegee.

Die gebeurtenisse deur Van der Walt beskryf was vanself al danig

romanties. Maar hy is nog nie tevrede nie! Dit word so aangedik, dat

mens jou naderhand verbeeld dat jy onder die oud-testamentiese bedeling

leef. Daarom verbaas dit ons nie dat die steenbokkie reguit in Tys se

knipmes inloop nie! (p. 144). Die meisie wat deur die kaffers ontvoer

word, ontbreek ook nie, nog minder die paartjie wat mekaar "kry".

"Leser, ons paar _het_ mekaar nou. Sal ons ook nou maar ophou?" (p.

157.) Asseblief tog neef, want ons het dit al só baie gehoor! As jy van

die verliefde paartjie nie twee lewendige _mense_ kan maak nie, wat op

hul eie manier liefhet en nie mekaar sommer "kry" en "het" nie--bly dan

maar liewer stil! Die bruilof ens.--ja kyk--soiets lees ons elke dag in

_Die Burger_ en _De Volkstem_. Ons weet presies hoe dit gebeur en daar

in die wildernis is 'n mens ook maar 'n mens! Hou tog maar liewer op!

In plaas van plastiese uitbeelding kry ons moralisasies en godsdienstige

oorpeinsings, soos by die beskrywing van Sarie Swarts se lotgevalle. Hoe

sterk die moraliserende tendens is blyk duidelik uit

Vastrappers I.

In die voorwoord al staan 'n heftige tirade teen allerlei "onruswekkende

verskynsels". Daartoe behoort: "die prysgewing van ons jeug aan die

Rugby-Moloch, ... die goddelose Rugby-gedoente" (p. 7); "die gruwelike

en gevaarlike sigarette-draak, gemengde baaiery, die Malthusiaanse

euwel" ens. Ook in die teks kom sulke uitvalle voor. Van der Walt het

seker die volste reg om vir sy lewensbeskouing propaganda te maak, maar

in 'n historiese werk kom sulke sedeprekery nie te pas nie.

Die eerste afdeling van _Vastrappers_ bestaan uit sitate van "wat ander

mense so ongeveer van Boer geskryf het." Waarom ons dit eers moet lees,

is nie duidelik nie. Dan volg: "Die Historie van seker vier

Potgietergeslagtes", 'n reeks "oorspronklike famielieverhale", wat "so

orgineel moontlik" afgedruk word. Hy hoop dat "veral Jong S.A. se oë

meer mag oopgaan om die egte goud van ons skone Verlede te onderskei van

baie namaaksels en klatergoud van ons tye." (p. 37.) Die derde afdeling

"Baanbrekers en Vastrappers" is 'n soort sedekundige verhandeling om aan

te toon, dat daar "'n goue streep van Kalvinisme deur heel ons

Vaderlandse Geskiedenis (lê)" (p. 200). Afdeling IV dra 'n uit

taalkundige oogpunt onjuiste tietel: "Uit vanmelewe ou Potchefstroom se

dae". Dit is 'n herdruk van 'n artiekel uit _Het Westen_ van 1908, met

'n naskrif van 1919 waarin gedeeltes uit ou Potchefstroomse krante

afgedruk word. III en IV is albei "_onvoltooide_ sketse". "Omstandighede

het ons belet om al die informasie behoorlik te verwerk soos dit eintlik

behoort. Dit het gekom deels omdat ons nog nie klaar het met ons

histories ondersoek" (p. 211). Met dié woorde veroordeel die skrywer sy

eie werk. Die wanordelike allegaartjie wat hy ons aanbied, met sy

doolhof van inleidings, aanhangsels, naskrifte, note en

bymekaargeskraapte sitate is 'n duidelike bewys dat naas liefde vir die

voorgeslag 'n deeglike, wetenskaplike voorbereiding onmisbaar is. As

_Vastrappers I_ enige waarde het, dan moet dit gesoek word in die

Potgieterverhale, wat die grootste gedeelte van die boek beslaan. Die

beoordeling daarvan kan egter aan die historisie oorgelaat word.

In _Noordwaarts_ skryf Van der Walt 'n gemaklik-vloeiende taal, wat

egter weinig persoonliks het. Die invloed van die Hollandse skool van

vóór '80 blyk nie alleen uit sy "bewerkte" sitate van Ten Kate nie, maar

ook uit beeldspraak soos: "'n vlym deur sy siel" (p. 152). Hinderlik is

die gebruik van "geword" (p. 60), en die verkeerde sinstelling: "Sy het

vooroorgeval, en het haar liggaam 'n skok gekry" (p. 90). In

_Vastrappers_[433] is die styl minder versorgd. Daar kom voor o.a.: "Die

Barbaar gevaar" (p. 202); "verhaalde" (p. 232); "Soiets sou wel meer

konsekwent, ... en op tot datum (up to date) gewees het, as al die

onnasionale _dus_ egoïsme in die hand werkende voetbal-gedoe." (p.

215.)[434].

§ 11. Senator G.G. Munnik.

Kronieke van Noordelike Transvaal, (1920).

In die eerste hoofstukke word die nedersetting van blanke onder

Generaal Hendrik Potgieter in Soutpansberg beskryf. Dan volg 'n

uiteensetting van die moeilikhede met die talryke kafferstamme en die

gebeurtenisse wat gelei 't tot die belegering van Makapaan in sy

grotte.[435] Ook die politieke kibbelarye tussen verskillende

Transvaalse leiers en die toestande op die goudvelde word geskets. Uit

die lewe van die goudsoekers en jagters vertel die skrywer interessante

voorvalle. Sy ondervindings as mynkommissaris en landdros lewer die stof

vir meer as een vermaaklike anekdote, wat op lewendige toon vertel word.

Ons kry ook 'n goeie kyk op die verhouding tussen die regering, die

amptenare en die burgers. Die skrywer slaag daar goed in om ons 'n

kleurige beeld te gee van die lewe van die baanbrekers in die noorde,

die wisselvallighede van hul swerwersbestaan, hul moed en uithou-vermoë.

Veel beter as deur 'n lang betoog word die toestande geskets met 'n

voorval soos die volgende: "Uit die getuienis blyk ..., dat elkeen van

twee vyandige gemeentes die kerk, 'n sinkgebou, eis. Daarop breek die

wakkerste gemeente die kerk, die van hout en yster was, af, en karwei

dit weg op bokwaens, voordat hulle teenpartyders daar iets van wis" (p.

69). Ook die talryke Kruger-anekdotes word op aangename wyse vertel.

Sonder dat dit aanspraak kan maak op groot letterkundige verdienste is

die herinneringe van Senator Munnik ongetwyfeld 'n aantreklike boek,

waarin die algemeen-menslike kant van 'n so goed as onbekende historiese

tydperk mooi belig word. Sulke bydraes kan ook vir die geskiedkundige

navorser van groot belang wees en die skrywe van soortgelyke

herinneringe verdien navolging. Van Oud-Pres. F.W. Reitz het in

verskillende tydskrifte ook sulke memoires gestaan, wat behoorlik

bygewerk 'n interessante bundeltjie oor die ou dae kan word.

Volgens 'n meedeling het Munnik sy werk nie oorspronklik in Afrikaans

geskrywe nie. Sy taal en styl laat nog heelwat te wense oor. Hy gebruik

_die_ as relatief; daar is 'n klompie anglisismes o.a. raar (Eng. rare)

(p. 21); "om vir verlore kanse op te maak" (p. 72); "hy was ook gemeng

met die affêres...." (p. 82). Die woordskikking is telkens verkeerd

b.v.: "Met die _vooruitsig_ (anglisisme) van 'n Hooglander het hy hom 'n

massa kruit saamgebring en het dit die Republikeinse Goewernement

aangeneem...." (p. 53).

§ 12. Ds. J.D. Kestell.

Ds. Kestell is 15 Des. 1854 gebore op Pieter-Maritzburg. In sy jeug is

hy persoonlik met verskeie Voortrekkers in aanraking gewees. Hy vertel:

"Sarel Cilliers het ek gesien in die huis van my vader, en later op sy

eie plaas, Doringkloof. J.N. Boshoff het ek as kind op Pieter-Maritzburg

geken. Marthinus Oosthuijse het ek dikwels ontmoet, en uit sy eie mond

die geskiedenis van die Trek gehoor. Daniel Bezuidenhout het my self

verhaal wat sy wedervaringe was."[436] Na sy teologiese opleiding op

Stellenbosch het hy 'n jaar lank gestudeer aan die Utrechtse

uniwersiteit. As predikant het hy gestaan op Kimberley, Harrismith,

Ficksburg en Bloemfontein. Daarna was hy redakteur van _De Kerkbode_ en

op die oomblik is hy rektor van die Grey-Uniwersiteits-Kollege.

Sy eerste geskrif was 'n toneelstuk oor Slagtersnek, _The Struggle for

Freedom_. In sy studiejare het hy ook 'n Engelse roman oor dieselfde

onderwerp geskryf. "Onse Jan" het dit vir _Het Z.A. Tijdschrift_

vertaal. _Uit het Afrikaansche Boerenleven_ (1897) is 'n bundel

dorpsnovelles.[437] _De Voortrekkers_ of _Het Dagboek van Izak van der

Merwe_ (1898) is in samewerking met Nico Hofmeyr geskryf, _Johanna

Cloete_ in 1899. Gedurende die Twede Vryheidsoorlog het Ds. Kestell

Pres. Steyn en Genl. De Wet vergesel op hul togte en die stryd meegemaak

tot die bitter einde toe. Na die vrede het verskyn: _Met de

Boerencommando's_ of Mijn Ervaringen als Veldprediker en _De

Vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit_ (1909), die laaste in

samewerking met D.E. van Velden.

Sy skoonvader se biografie het Ds. Kestell in 1911 uitgegee onder die

tietel _Het Leven van Prof. N.J. Hofmeyr_, die van _Christiaan de Wet_

in 1920.[438]

_Die Voortrekkers_ (1920) is 'n omwerking van 'n reeks voorlesings op

Kimberley gegee. Ds. Kestell is lid van die S.A. Akademie, die _Leidsche

Maatschappij_ en die _Historische Genootschap_ van Utrecht. Op kerklike

en nasionale gebied is hy een van die volksleiers. Volgens die redakteur

van _Die Brandwag_ is hy "in baie opsigte vir ons die verpersoonliking

van die beste wat daar in ons Afrikaanse volk woon."[439] Aan die

redakteur het hy ook vertel "hoe dit hom spyt, dat hy in die ou dae nie

deelgeneem het aan die stryd vir die regte vir Afrikaans nie." Hy is nou

besig om al sy verhale in Afrikaans te vertaal.

Die Voortrekkers.

Dit is "'n kort geskiedverhaal", waarin die oorsake en die vernaamste

gebeurtenisse in verband met die Groot Trek tot op 16 Desember 1838

beknop en helder uiteengeset word; 'n handige boekie vir iedereen wat

die groot gang van die emigrasiebeweging wil begryp, sonder om daarvan

eintlik 'n studie te maak. Van Gardiner en Owen word gesê: "Maar so

bitter vyandig teen die Boere was hulle ook nie, dat hulle 'n barbaarse

opperhoof kon aanhits tot 'n gruwelike bloedbad." (p. 76). Die bewyse

vir die stelling ontbreek egter.

"Ek vertrou dat wat aan my werk iets wat op sigself staan sal gee is,

dat ek persoonlik met eminente Voortrekkers in aanraking is gewees." (p.

VI.) Gedeeltelik is dit waar, maar daar is tog geen figuur, wat so

geteken is nie, dat ons na die lesing van die boekie voel, dat ook ons

in persoonlike aanraking met 'n Voortrekker gewees is. Kestell mis die

plastiese gawe wat vir so 'n uitbeelding nodig is. Hy verseker ons

trouens self, dat dit onmoontlik is. "_Onbeskryflik_[440] was die

aandoening in (Retief se) siel, toe hy staar op die land wat daar aan sy

voet lê: Natal, met sy golwende berge en dale" (p. 60). Ook die

beskrywing van Retief se eerste blik op Natal toon duidelik, dat Kestell

geen woordkunstenaar is nie, wat deur die mag van sy skilderende woord

'n beeld kan laat lewe nie. "In die jonge groen van die vroeë lente was

alles gedos.... Oral sien hy die veld _met_ 'n ryke oorvloed bedek

_met_[441] blomme van allerhande vorm en kleur en geur...." (p. 60). Ook

die moord van Retief is "onbeskryflik" (p. 76), en in die

Bloedrivierslag beleef die Trekkers "onbeskryflike ure" (p. 101). Of

anders is die tonele weer "ontsettend, hartverskeurend" (p. 86),

retoriese skrikmaak-frases, wat geen ontroering wek nie. In die eerste

hoofstuk (§ 6) het ons al gesien, dat Kestell van die Hollandse kuns van

na 1880 niks wil weet nie en in sy werk kom dan ook versteende

beeldspraak soos die volgende voor: "onuitwisbar(e) littekens in die

hart ... gebrand" (p. 8); "'n golf van onuitspreeklike smart" (_C. de

Wet_, p. 64).

Die taal van _Die Voortrekkers_ is erg onafrikaans. Die dubbele

ontkenning word selde reg gebruik; _die_ as relatief, _hem_ en vorme

soos die volgende is storend: Het is nie swaar ... (p. 15); die droewig

pad (p. 103); Hulle het nie beter op die hoogte kon gewees het nie (p.

1);[442] geontbied (p. 71). Onbeholpe is die volgende: Dingaan (het) in

sy stad in druk gesprek gesit praat met twee van sy vernaamste kapiteins

(p. 78); Toe die dag breek kon dit beter gesien word om sig te verdedig.

(p. 82.)

Christiaan de Wet.

In die eerste hoofstukke word 'n oorsig gegee van sy jeug en die

moeilike jare wat op sy huwelik gevolg het. Op lewendige wyse word sy

aandeel in die Transvaalse Vryheidsoorlog meegedeel. Nadat hy 'n tydlank

veldkornet en volksraadslid gewees 't in die Transvaal, keer hy terug

Vrystaat toe, waar hy ook gou op politieke gebied optree. "Sy breë kyk

op sake" word veral geroem. Dan volg 'n historiese oorsig van die

gebeurtenisse wat aanleiding gee tot die Twede Vryheidsoorlog. De Wet

gaan op kommando as gewone burger, maar word gou veggeneraal en na die

oorgawe van Cronjé hoofkommandant. Met gebruikmaking van De Wet se

oorlogsboek gee Kestell dan 'n oorsig van die vernaamste

krygsgebeurtenisse. Die besoek van die Boere-generaals aan Europa word

beskryf en ook Mevr. De Wet se ondervindings gedurende die oorlog. Onder

die verantwoordelike bestuur word De Wet minister van landbou.

Die gebeurtenisse na 1914 is breedvoerig behandel. Hier gee die skrywer

nie alleen 'n relaas van die uiterlike feite nie, maar hy toon duidelik

aan wat daar in die siel van die generaal omgegaan 't en hoe sy besluit

om te rebelleer geryp 't. Die laaste gedeelte van die biografie is die

bes geslaagde, omdat ons daar werklik in aanraking kom met 'n

persoonlikheid. De Wet se laaste veldtog, sy verhoor en gevangenislewe

word op gevoelvolle wyse beskryf. Met verskeie historiese bylaes sluit

die boek.

Op die gebrek aan sielkundige analiese maak die skrywer ons 'n enkele

maal self weer opmerksaam: "Geen woorde kan beskryf wat daar op die

oomblik deur die siel van C. de Wet gaan nie" (p. 84).[443] Die

plastiese skildering is meestal geslaag, ofskoon die gemeenplaatse soms

hinderlik word: "Daar kom generaal De Wet aangery van die voorpunt, en

hy roep die burgers bymekaar. Hy bly sit op sy perd, en die burgers kom

voor hom staan. Hy is woedend kwaad. Hy byt op sy tande. Deur sy tande

kom die woorde sissend ... Daarna word hy kalmer, en eindelik haal hy sy

hoed af. "Kom ons bid", sê hy. Wat 'n gebed was dit uit die mond van dié

man, daar op die perd! Dit roer elkeen tot op die bodem van sy wese.

Elkeen voel dat die hare op sy hoof rys...." (p. 68-9). Meer as een

lewendige kommando-toneeltjie is treffend deur juiste tekening. Die

begin van hoofstuk XIII is daarvan 'n mooi voorbeeld. Ook uit die

generaal se jeug het die skrywer heelwat voorvalle opgeteken wat ons 'n

goeie insig in sy persoonlikheid gee. De Wet se eie meedelings is op

aangename wyse verwerk en munt uit deur aanskoulike voorstelling.

Kestell het gesegdes van hom opgeteken, wat 'n kosbare bydrae is tot ons

kennis van die groot heldefiguur, terwyl die na-oorlogse periode van sy

loopbaan op treffende wyse verduidelik is.

Vergeleke met _Die Voortrekkers_ is die meeste on-Afrikaanse wendings

uit die styl verdwyn. Slegs selde stuit mens op 'n sin wat minder goed

in mekaargeset is, soos die volgende: "As hierdie manifes nou gelees

word, dan tref dit dadelik dat daarin uitdrukkinge voorkom soos dié nie

sou verwag word as uit die pen van Beyers te gevloei het nie, maar wat

dikwels van die lippe van De Wet geval het" (p. 202).[444]

§ 13. Dr. N.J. van der Merwe.

Hy is gebore in 1888 op Senekal, O.V.S. Aan die Grey-Kollege het hy in

1907 gegradueer met honneurs in moderne tale. Twee jaar lank was hy

onderwyser in Fauresmith en daarna het hy teologie studeer aan die

Stellenbosse Kweekskool, waar hy in 1911 ook die B.D. eksamen afgelê

het. In 1914 was hy reisende sekretaris vir die C.S.V. en daarna

predikant op Wepener. Sy teologiese studie het hy voortgeset aan die

Vrye Uniwersiteit op Amsterdam, waar hy in 1921 gepromoveer het op 'n

dissertasie _Die Sosiale Prediking van Jesus Christus_. Op die oomblik

is hy predikant op Theunissen O.V.S. Hy is in 1916 gehuud met 'n dogter

van President Steyn. Sy skoonvader se lewensbeskrywing _Marthinus

Theunis Steyn_ het in 1921 verskyn in twee dele.

Marthinus Theunis Steyn.

Die skrywer van 'n politieke biografie staan voor 'n groot moeilikheid

wat deur Winston Churchill goed aangedui is in sy voorwoord by die lewe

van _Lord Randolph Churchill_. "The style and ideas of the writer must

throughout be subordinated to the necessity of embracing in the text

those documentary proofs upon which the story depends. Letters,

memoranda, and extracts from speeches, which inevitably and rightly

interrupt the sequence of his narrative, must be pieced together upon

some consistent and harmonius plan. It is not by the soft touches of a

picture, but in hard mosaic or tessellated pavement, that a man's life

and fortunes must be presented in all their reality and romance. I have

thought it my duty, so far as possible, to assemble once and for all the

whole body of historical evidence required for the understanding of Lord

Randolph Churchill's career." Op dieselfde manier het Van der Merwe te

werk gegaan. Die grootste gedeelte van sy biografie bestaan uit

historiese dokumente, waaronder 'n uitgebreide diktaat van Pres. Steyn,

briewe, redevoerings en offisiële stukke. Tereg verklaar hy dan ook in

sy voorwoord: "Met die volle bewussyn dat daar in die voorliggende werk

_dikwels eenvoudig boustof gelewer word_ waar die leser miskien 'n gebou

sou verwag, dog met die oortuiging dat dit onder die huidige

omstandighede voorbarig sou wees om meer te doen...."[445]

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 26 / 27 段