waarvan reeds die eerste sin van _Vaalrivier_ 'n voorbeeld is. In die
beeldspraak verras meer as een oorspronklike wending, b.v. "'n eensame
en blykbaar verlate woonhuis ... waarby 'n lang en nog eensamer ou
bloekomboom half staan en slaap, nes 'n reier op sy een been langs die
vlei" (_Vaalrivier_ p. 92). 'n Paar maal word _die_ as relatief gebruik
o.a. "Genl. Maritz, _die_ hy in daardie geval...." (_R. S._ p. 5).
Telkens kom _vyandige_ i.p.v. _vyandelike_ voor, b.v. "vyandige
perderuiters" (_Vaalrivier_ p. 55). Die anglisisme op p. 36 "die Jingoes
(het) my 'n vreeslike lewe gelei" moet seker op rekening van die spreker
gestel word. Die bewering, dat kuns "'n lukseartiekel" is (_R. S._ p.
122) moet blykens die verband nie _au sérieux_ geneem word nie. 'n
Voetnoot, soos die eerste op p. 24 (_Vaalrivier_) kan gerus weggelaat
word.
§5. J.A. Smith.
Johannes Anthonie Smith is gebore op Grootfontein, distrik Aberdeen in
1886. In sy jeug het hy _Ons Kleijntji_ gelees en vir Afrikaans geywer.
Toe hy byna vyftien jaar was het hy weggeloop na die Boere-kommandos en
tot die vrede geveg. Aan die Hoëre Skool in Stellenbosch het hy sy
studie voortgeset en daarna gaan boer. Die groot droogte van 1915 het
aanleiding gegee tot die keuse van 'n joernalistieke loopbaan. Eers was
hy tydelik werksaam by _De Nieuwe Tyd_, 'n Aberdeense krant en later
redakteur van _Het Westen_. Sedert 1917 is hy redakteur en bestuurder
van _Onse Courant_, Graaff-Reinet. Dit is die eerste krant wat in die
Kaapprovinsie oorgeslaan het in Afrikaans. Smith het daarin en ook
andersins aktief opgetree in die stryd om Afrikaans as voertaal erken te
kry. Die gevolg was die invoering van die Afrikaanse medium in die Hoëre
Skool op Graaff-Reinet. Hy versamel tans gegewens oor die mense en
toestande in dié distrik vóór die Groot Trek, en werk aan 'n brosjure
oor die teregstelling van Komdt. Scheepers. Van hom het verskyn: _Brit
en Boer, van Slagtersnek tot Jopie Fourie_ (1917) en _Naar Bloedrivier
en Paardekraal_ (1918)[420].
Brit en Boer.
Die skrywer gee 'n kort oorsig van die historiese gebeurtenisse van
1814 tot 1915. "By ons volk is 'n groot behoefte aan 'n kort, duidelik,
onpartydig en in Afrikaans geskrywe historieboek...." verklaar hy in sy
voorwoord. Deur gebrek aan 'n lewendige, persoonlike styl het dit egter
alleen 'n versameling van feite geword. As voorbeeld van die dikwels
gebrekkige styl en kanselagtige beeldspraak kan die volgende dien: "Hier
werd Afrikaanse lewens ontneem deur die Engelse, vir die eerste maal en
werd later nog weer herhaal.... Die diepe wond is nooit geen balsem
toegedien, maar steeds meer nuwe wonde in die boesem van die
diepgeteisterde volk geslaan." (p. 21.) Vorme, soos die volgende laat
mens twyfel of die boek wel in Afrikaans geskryf is: "Op s'n treurigs
(p. 22); Retief en de syne (p. 39); Die Regering ... het moe geword ...
en dag dit best.... (p. 64). Na veel moeite kreeg men die inwoners so
ver.... (p. 66); Goud werd gevonden" (p. 82) ens. Dan krioel dit nog van
taalkundige rariteite o.a. kalmtjes (p. 110); Men sal herinner (p. 77);
Southey het lang reeds in sy verstand gehad ... (p. 81) ('n Anglisisme);
sy bedriegelik invloed (p. 85); vermompte despotisme (p. 96); Mettertyd
het die uitlander populasie, die op sigself nie 'n presiese dreigende
gevaar was ... (p. 107); die ver-engelsen van die hele aardbol" (p. 108)
ens. As die dubbele negatief reg gebruik word is dit 'n uitsondering.
Naar Bloedrivier en Paardekraal.
Op eenvoudige wyse gee die skrywer 'n beknopte oorsig van die
gebeurtenisse, wat in verband staan met Bloedrivier en Paardekraal,
volgens sy beskouing "'n onuitputtelike bron van sede- en nasionale
lesse" (p. 11). Hy wou 'n werk lewer "wat vir die opkomende geslag
onmisbaar moet wees in verband met die hedendaagse Dingaanfees." Of die
onmisbaarheid van lange duur sal wees val te betwyfel, omdat die styl,
ofskoon beter versorg dan in _Brit en Boer_ so weinig artistiek en
dikwels onbeholpe is. "Na hierdie aanval is die laers in vier groot
laers verdeel en teruggeset en het onder die bevel van Maritz ...
gestaan" (p. 41). Daar is meer sulke voorbeelde. Die dubbele negatief
ontbreek nog telkens en uitdrukkings soos "skatte-buiters (p. 59),
verpeins (p. 82); 'n bewering te maak uit denkbeeldige inisiatiewe" (p.
70) is 'n aanduiding van gebrekkige taalbeheersing.
Nadruk word veral gelê op die verband tussen Bloedrivier en
Paardekraal: "As 'n mens Dingaansdag kan of mag vier, dan kan en _moet_
'n mens die herstelling van die onafhanklikheid in 1880 ook vier. Albei
jaartalle het dieselfde betekenis vir die volk." (p. 93.)
§ 6. Dr. J.D. du Toit (Totius).[421]
Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, (1917).
"Een omstandigheid moet by die lees veral nie vergeet word nie. Ds.
du Toit was 'n Ismaël: sy hand was teen almal, en almal se hand was teen
hom.... By die beskrywing van sy lewenstaak was dus wysheid en tak 'n
hoofvereiste, en die skrywer wil hier die opregte versekering gee, dat
hy sy uiterste bes gedoen het om by oue gevoelighede verby te skram en
om oue wonde nie seer te maak nie. Vandaar dat deurgaans geen kritiek
geoefen en geen beoordeling van persone en gebeurtenisse gegee word nie.
Die dag daarvoor sal wel later aanbreek. Die skrywer wou volstaan met
die blote meedeling van _feite_ (soveel molik in sitaat)...."
(Voorwoord). Met dié woorde het Totius sy werk goed gekarakteriseer. Dit
is 'n feiteversameling van die grootste belang oor "'n periode van
Afrikaanse oplewing", soos die ondertietel lui. Die rangskikking van die
feite, die ordening van sy biografiese materiaal het Totius met talent
gedaan. Van alle oorde het hy met groot vlyt en nasporingsywer sy
boustowwe bymekaar gemaak. Netjies opgepak lê die stene in afsonderlike
stapels. Die fondament is ook al gelê en daarop moet die boumeester nou
vir ons 'n sierlike skepping van monumentale skoonheid oprig. Dit is 'n
taak waarvoor die digterlike seun van 'n groot vader allesins berekend
is. Maar hy deel ons mee: "Die dag daarvoor sal wel later aanbreek". Die
redene wat Totius voorlopig van 'n interpretasie van sy feite laat
afsien het, moet ongetwyfeld gebillik word, as ons onthou, dat sy vader
se hand "teen almal was, en almal se hand teen hom". Addison het in 1716
al verklaar: "The truth of it is, as the lives of great men cannot be
written with any tolerable degree of elegance or exactness within a
short space after their decease; so neither is it fit that the history
of a person who has acted among us in a public character, should appear,
until envy and friendship are laid asleep, and the prejudice both of his
antagonists and adherents be, in some degree, softened and
subdued."[422] Maar die opmerking van Samuel Johnson is nie minder juis
nie: "If a life be delayed till interest and envy are at an end, we may
hope for impartiality, but must expect little intelligence; for the
incidents which give excellence to biography are of a volatile and
evanescent kind, such as soon escape the memory, and are transmitted by
tradition."[423] Dit is juis dié soort insidente wat Totius, blykbaar
met opset verwaarloos het. "Die skrywer van hierdie reëls was toe maar
vyf jaar oud. Tog styg daar nog verskeie witte wolkies van skerpe
herinnering op bo die wegduisterende gesigseinder van kinderverlee. Die
skrywer sal daarmee die leser nie te veel lastig wees nie." (p. 243).
Doodjammer, want deur die verswyging van sy persoonlike herinneringe
ontbreek daar lewenswarmte aan die biografie. Die beeld van sy vader is
groot en imposant, maar daar is weinig _lewe_ in. Soos 'n reusagtige
silhoeët staan dit teen 'n agtergrond van die bontste verskeidenheid.
Maar Ds. Du Toit se pelgrimsreis van die wieg tot aan die graf, sy
titaniese worsteling met die lewe, die dramatiese afwikkeling van dié
geweldige stryd, die diepe kneusing van 'n groot siel wat van smaad en
hoon meer as sy volle deel gehad 't--daarvan val alleen 'n dowwe
flikkerlig op die beeld. En die indruk kom Totius self bevestig: "Van
Ds. du Toit se inwendige lewe weet ons nie veel nie" (p. 248).[424] "Ons
het tot dusver veel gesê van Ds. du Toit se _werk_ en weinig laat
deurstraal aangaande sy _persoon_. So hoort dit, want dis ons in die
eerste plaas te doen om die grote werk wat Ds. du Toit verrig het. Maar
daarom mag 'n beskrywing van sy persoon nie agterwege bly nie" (p. 378).
Die "persoonsbeskrywing" (Hoofstuk XVII) bring ons egter nie veel verder
nie. Dit bly aan die buitekant; ons mis daarin die vermoë om deur te
dring tot die innerlike psiege. Dit kan ons al weer met die skrywer se
_eie_ woorde bewys: "Nou oorgaande tot die beskrywing van Ds. du Toit se
meer inwendige lewe, _natuurlik soos dit sig naar buite geopbenbaar het_
(want "wie weet wat in de mens is dan de geest des mensen die in hem
is?") sal ons eers bespreek sy emosionele lewe." (p. 381).[425] En hier
wou Totius tog meer wees as 'n feiteversamelaar, hier wou hy ons iets
van die persoonlikheid van sy vader laat voel. "The biographer must be
more than the mere realist who can photograph facts--he must be
something of the idealist as well, for he has to create as well as to
reproduce: and we value a biography exactly in proportion as its author
has succeeded in creating for us the character of a new man or woman to
be added to our own personal acquaintance."[426] Nou lyk dit vir my of
Totius met die metode wat hy volg, soiets nie kán bereik nie. Hy
verklaar: "Nou gaan ons oor tot 'n beskrywing van Ds. du Toit se
verstand en wil. Vanself hoef dit nie so uitvoerig te wees nie. Sy ganse
lewe en werk deur ons beskrewe lê getuigenis af van die grootte van sy
verstand en die krag van sy wil." (p. 396). Dit mag nou wel waar wees,
maar so 'n bewering help ons geen druppel om die persoonlikheid van 'n
mens te begryp nie. En buitendien, het ons nie die reg om van die
biograaf 'n artistieke sintese, 'n psigologiese interpretasie te verwag
nie? Ons is nie tevrede met hier 'n raps en daar 'n raps nie, ons wil 'n
volledige beeld hê. Die skrywer vervolg: "Ook moet hier die opmerking
gemaak word dat dit ons nie te doen is om 'n strenge groepering van die
sielsfunksies nie. Ons het 'n skema gemaak wat prakties aanwendbaar is.
Bowedien is die siel van 'n mens 'n eenheid, wat sig nie uit mekaar laat
kerf nie. Op die feit wys veral die nuwere sielkunde. Vandaar dat ons
reeds die verstand en wil laat inwerk het op sommige van die beskrewe
emosies of gemoedsaandoeninge." (p. 397.) Almal netjies beredeneerd,
maar hier help al die skemas en tabelletjies van die hele wêreld jou
totaal niks! Die biograaf staan voor dieselfde probleem as die
romanskrywer: Hoe moet ek die mens laat _lewe_? En as hy dié groot
wonder reg kry, dan is dit nie omdat hy 'n knap psigoloog is nie, goed
op die hoogte van die allerlaaste emosionele _formulae_, maar enkel en
alleen omdat hy kunstenaar is. Hoe die wonder geskied weet hy miskien
self nie, en ons kan dit alleen by benadering uitrafel; maar as ons sy
boek gelees het, dan is daar nog 'n man of vrou toegevoeg by die getal
van ons intieme vriende. En in die sielkundige skema van Totius mis ek
die warme intimiteit; ek ken sy vader na meer as 450 bladsye nog nie so
goed as my eie vader of een van my vriende nie. Die "witte wolkies" van
sy herinnering, die moes hy nie laat wegwaai het nie!
Beskou ons Totius se biografie nou alleen as feiteversameling, dan is
dit inderdaad 'n handige kompilasiewerk, wat onmisbaar is vir die kennis
van ons letterkunde en geskiedenis. Hy het die outobiografie, briewe en
sitate op bekwame wyse inmekaar gevleg, sodat iedereen na bestudering
van die bewysstukke sy eie oordeel kan vorm. Daarmee het hy seker
bereik, wat hy Kuyper op die tietelblad laat sê: "Niet vergeten van onze
doden is niet genoeg. Er kan zo dikwels veel ook voor onze doden nog
gedaan worden. Om hun eer en goede naam te verdedigen tegenover
miskenning en laster.... Bitterheden weg te nemen, die als onkruid
tussen hen en hun omgeving waren opgeschoten...." Hy het as onpartydige
historikus sy vader sy eie saak laat voordra, hom uit sy werke, self tot
ons laat spreek; nou moet hy nog as _seun_ sy vader vir ons uitbeeld met
al die warmte van 'n liefdevolle kinderhart. Die voorwoord laat ons
hoop, dat "die dag daarvoor wel later (sal) aanbreek." Vir ons
letterkunde kan dit 'n blye dag word!
Die biografie bevat besonderhede oor Du Toit se jeug, sy werk as
predikant van die gemeente Noorder-Pêrel, sy stryd vir die beginsel van
Christelik Nasionale Onderwys. Die oprigting van die _Genootskap van
Regte Afrikaners_, _Die Patriot_ en ander blaaie word uitvoerig
bespreek, asook die stryd vir die Afrikaanse taal. Duidelik blyk hoe
groot die invloed van Ds. S.J. du Toit sedert 1875 was, en van hoeveel
bewegings hy die eintlike vader kan genoem word. Die oprigting van die
Afrikaner Bond, die oplewing in die Kaap-Kolonie en die aandeel van _Die
Patriot_ in die Transvaalse Vryheidsoorlog is ook breedvoerig uitgewerk.
Uit die belangrike sitate kan ons 'n helder beeld van die kulturele lewe
van dié tyd saamstel. Ds. Du Toit se werk as Superintendent van Onderwys
en polietikus in die Transvaal, sy Bybelvertaling en reise word ook
behandel. Dan volg sitate oor sy houding tydens en na die Jameson-inval.
Die verklaring van Adv. J.H.H. de Waal, soos aangehaal op bladsy 2 word
deur Ds. Du Toit se eie woorde bevestig: "Die houding deur my in
_Patriot_ en _Getuige_ ingeneem teenoor die Transvaal-regering van die
laaste tyd was egter nie populêr in die Kolonie nie, veral sedert die
Jameson-inval. Dit het gemaak dat die blaaie agteruit gegaan het." (p.
313.) Oor Du Toit se stryd teen sektes en kettery word ook meedelings
gedaan. Met 'n beskrywing van sy persoon en laaste dae sluit die boek,
waarin ook nog enige gedigte van hom afgedruk is.
Van Du Toit se veelsydige bekwaamheid, sy onvermoeide ywer vir
godsdiens, taal en nasie is op byna iedere bladsy bewyse te vind. Sy
lewensbeskrywing is meteen ook die geskiedenis van die ontwaking van die
Afrikaner bewussyn en sy aandeel daarin was ongetwyfeld belangrik.
Of ons die deur moet oopset vir woorde soos die volgende, is
twyfelagtig: leaders (o.a. p. 41); waiter (p. 283); debater (p. 350);
smoking-cap (p. 379), wasies (p. 380).
§ 7. Ds. W. Postma (1874-1921), (Dr. O'kulis).
Doppers (1918).
Dr. O'kulis verklaar in sy inleiding: "Ik het die egte ou Doppers nog
goed geken en hulle opregte nasate leef ik nog mee saam, sodat ik meen
in staat te wees om enigsins 'n suiwere portret te skilder van 'n
eienaardige groep van ons volk...." Hy het 'n ruim opvatting van die
woord Dopper. "Al die Doppers (is) nie in die Dopperkerk nie, en ... nie
alle lidmate van die Gereformeerde Kerk van S.A. (is) egte Doppers nie."
(p. 8.) "Ons profeteer dan ook beslis ... dat ons volk altyd meer terug
sal draai naar die _Backveld_, al meer Dopper sal worde, naarmate ons
nasionale selfbewustheid ontwaak en ontwikkel" (p. 15). Op kernagtige
wyse word die hele lewensbeskouing van die Dopper uiteengeset en alles
wat daarmee in stryd is afgekeur. Die oorsprong van die Doppers, hul
isolement, godsdiens en beskawing word geskets en hul beginsels met
warmte verdedig. Ten slotte word daar 'n staanplek gevra vir die Dopper
in die Afrikaanse samelewing: "Ons vra geen guns, geen medelyde, geen
beloning, geen verering nie. Ons vra net staanplek in die Boer-geledere
om saam te werk en saam te stry vir die heilige pand ons saam
toevertrou" (p. 116). In die bylae volg die opienies van ander skrywers
oor die Doppers.
Die grootste gedeelte van die boek is van godsdienstige aard en kan
buiten beskouing bly. Dat ons hier egter te doen het "met 'n faktor, wat
geweldig invloed uitgeoefen het op die kultuurlewe van ons volk" (p. 71)
is ongetwyfeld waar, en Dr. O'kulis se pleidooi vir die Doppers is 'n
belangrike bydrae op kultuur-historiese gebied. Daaruit kan ons die
Dopper se standpunt teenoor die wetenskap, die kuns, opvoeding, sport,
ens. leer ken. Die skrywer het 'n persoonlike kyk op al die probleme van
ons tyd, al is sy behandeling daarvan dan ook dikwels sketsagtig.
Kapitalisme en sosialisme kan seker nie met so 'n paar sinnetjies soos
die volgende afgemaak word nie: "Geen van bei ken soiets as 'n
lewens- of nasionale ideaal nie--hulle klim nooit hoër op as hulleself
nie. Daar is niks verhewens of opheffends in hierdie rigtings nie--dit
is net:--"Laat ons eet en drink en vrolik wees, want more sterf ons."
Ook die definiesie van modernisme is vaag en misleidend, (p. 65.)
Die Boervrou, (1918).
_Die Boervrou_, "Moeder van haar Volk" is saamgestel op versoek van die
Nasionale Helpmekaar- en Kultuur-Vereniging, Reddersburg. Die skrywer
verklaar: "Dis my doel om die lewe en dade van die Boervrou in die
geskiedenis op te spoor en voor te stel op eenvoudige en heldere wyse."
(Voorwoord).[427] Hy wil probeer om self "so min molik te sê en soveel
molik getuienis van vreemdelinge (ook vyandige), wat die mense geken het
invoer." (p. 20.) In hoofsaak is dit dan ook 'n kompilasiewerk, waarin
veral die periode van die Groot Trek en daarna uitvoerig behandel word.
Onder ander word die gedenkskrif van Anna Stenecamp afgedruk en 'n paar
krante-artiekels oor Maria Koopmans-de Wet. Daar is nog naklanke van die
_Eselskakebeen_: "Ongelukkig dat ons altyd op skool nog moet ly aan die
verouderde Engels-Turkse stelsel van afgryslike geestesmoord." (p. 104.)
"Dis nodig om die wissels van die spoor van ons Vaderlandse Geskiedenis
eers reg te sit vir ons, wat op skool deur _Cape History_ en
Jingo-laster so hopeloos verknoei is...." (p. 44.)
"Die godsdienssin van die Boervrou is die sleutel van haar hele
geskiedenis; die wat dit nie vooropstel, en gedurig voor oë hou nie, kan
haar nie begryp, haar portret nie skilder nie" (p. 66). Godsdienstige
beskouings neem dan ook 'n groot plaas in, en telkens word 'n klein
prekie ingelas (o.a. p. 160, 179). Die streng-Kalvinistiese
lewensbeskouing van die skrywer laat hom dikwels teen allerlei
maatskaplike euwels te velde trek, teen "die sonde van kinderbeperking"
(p. 157), die vrouestemreg en allerlei vreemde sedes. "Hoe geleerd en
ontwikkel ons ook al word, laat ons Boer bly. Praat van _beskaaf_--wel
ik het nergens hoër, fyner beskawing gesien as by ons egte kristen Boer
voorouers nie." (p. 109.) Hy is nie teen vooruitgang nie: "Die Boervrou
mag die kappie en die manteltjie vaarwel sê en tog haar grootmoeder in
alles gelyk bly." (p. 177.) Maar ons moet voortbou op "die hegte breë
Boerfondament" en alle "vreemde modelle" vermy. "Daar is geen hoër adel,
geen fyner beskawing, geen edeler siel as die van die Boervolk self nie.
Al wat ons daarvan afwyk, gaan ons verkeerd, breek ons onsself af,
ondermyn ons ons indiwidualiteit. Ons mog dan wat vreemds byspyker, en
daar uitlandse vernis oor smeer, maar dit sal nie hou teen die
Afrikaanse son nie.... Wat ons het is egte goud, al mag dit nog nie
gelouter en bewerk wees nie, wat ons in die vreemde naloop is
klatergoud." (p. 206.) Hier ontaard die gevoel van nasionale eiewaarde
in chauvinisme, en werk die ou isolasie-drang van die Boer, en sy afkeer
van alle vreemde beskawing nog na. Op 'n ander plaas is sprake van "die
gesonde lewenswyse en wêreldbeskouing van die Boervrou, so afkerig van
die verfynde en demoraliserende uitlandse 'beskawing'...." So voer die
groot nadruk wat op die Afrikaanse voortreflikheid gelê word en die
waarskuwing vir alles wat vreemd is tot die stelling, dat alles in
Afrika goed is en alles daarbuite sleg. Dit was seker nie die bedoeling
van die skrywer nie, maar wanneer 'n goeie beginsel te veel op die spits
gedryf word, lei dit tot bekrompenheid.
Die neiging vir allerlei moeilik verdedigbare generalisasies, wat ook in
_Doppers_ aangetoon is, blyk uit so 'n bewering: "Is die teenwoordige
oorlog nie vrug van die onvrouelikheid van die vrou van Berlyn, Parys,
Brussels, Londen?" (p. 180.)
Die portret en karakter van die Boervrou het Dr. O'kulis met liefde
geteken. Veral in die sewende en agste hoofstuk, waar die skrywer self
meer aan die woord is, kom juiste opmerkings en 'n persoonlike
uitdrukkingswyse voor. Die nuwere geskiedenis wil hy verbygaan, maar oor
die konsentrasiekampe kán hy nie swyg nie. (p. 141.) "Die geskiedenis
swyg nie, al vergeet ons ook al graag." (p. 148.) "_Dwars deur ons land
loop die bloedspoor van die Boervrou_" (p. 114). Met eerbiedige hulde
volg hy die spoor deur ons geskiedenis. Van die politieke
vroueverenigings verwag hy weinig heil. Ook die foute van die Boervrou
word beskryf. In Mevrou Marie Koopmans-de Wet "sien ons die Boervrou
soos sy ontwikkel op die hoogste sport" (p. 181.) Die bylaes bevat
hoofartiekels van die _Mediator_ oor die trekkers en oor
vaderlandsliefde, asook 'n stuk uit Preller se _Voortrekkermense_.
Tot die minder juiste uitdrukkings behoort o.a.: "'n daghelder feit"
(_Doppers_, p. 63); "die ster-rol speler in die bioskoop" (id., p. 66);
"Die meisies was ... op reken van die moeder...." (_Boervrou_, p. 59);
"oor algemeen" (id., p. 94); "meedoen met allerhande lewensdrukte" (id.,
p. 97); "geleerdheid bring in 'n groef" (id., p. 105); "om oor die
toekoms te praat en te plan (id., p. 149); "omdat men hiervoor geen oog
had" (id., p. 24); "om die verdrukte landgenote te help met tonne van
selfgemaakte en geofferde versagting" (id., p. 92). As staaltjies van
retoriese beeldspraak kan dien: "Twee feite het hulle diep in die hart
deurboor" (id., p. 118); "die hartverskeurende skouspel; die vlym nog
dieper voel" (id., p. 148).
§ 8. Thos. Blok.
Thos. Blok is in 1879 gebore. In Holland was hy 'n tydlank onderwyser en
sedert 1913 in Bloemfontein, waar hy tans hoof van die Voorbereidende
Tegniese Skool is. Hy het hom dadelik na sy vestiging in Suid-Afrika op
Afrikaans en geskiedenis toegelê. Hy streef daarna om die resultate van
sy argiefondersoek in aantreklike vorm uit te gee en bewerk veral die
periode van die Oranje Rivier Soewereiniteit. Van hom het verskyn 'n
serie leesboeke _Ons Eie Taal, Klein Jannie, Oom Willem, Hendrik Afbeen_
en _Willem Kruger_, skool- en kinderlektuur, 'n paar bundels
kinderversies en _Grensboere_ (1918).
Grensboere.
Dit is 'n verhaal uit die dae van President Hoffman, "'n inleiding tot
die geskiedenis van die (Basoeto)-oorloë." Blok wil "'n duidelike beeld
... gee van die toestande, wat geheers het, en die moeilikhede, waarmee
die Boere te stry gehad het op die grens van Basoetoland.... Behalwe die
vorm, waar die storie in verskyn, is alles suiwer geskiedenis."[428] Die
geskiedenis smoor dan ook die verhaal dood; die argieflug is te sterk.
In die begin kry ons nog iets van die mense te sien, maar ons verloor
hulle gou tussen al die historiese feite en dokumente. In 'n suiwer
historiese vorm sou Blok se werk meer voldoening gee, want die feite wat
hy meedeel is belangrik en van sy simpatieke inlewing in die
Boerekarakter getuig iedere bladsy van die boekie. Die helder,
eenvoudige styl, wat alleen op enkele plekke spore van Hollandse invloed
vertoon, maak _Grensboere_ uiters geskik vir die jeug. Hinderlike
herhaling kom voor o.a. op p. 21: skaf--skaap; op p. 57:
gekies--kiesers--kies.
§ 9. Ds. G.B.A. Gerdener.
G.B.A. Gerdener is in 1881 gebore op Wupperthal, 'n Rynlandse
sendingstasie in die Sederberge, Clanwilliam, waar sy vader, 'n Duitse
sendeling gearbei het. Sy gehele opvoeding het hy feitlik in
Stellenbosch geniet, en daar is hy ook tot predikant opgelei. Sy
teologiese studie het hy in 1922 voltooi aan die uniwersiteit in
Tübingen, waar hy die graad Dr. Phil. _cum laude_ verwerf het en hom
veral op die nuwere geskiedenis en die tydperk van die Hervorming
toegelê het. As sekretaris van die Christelike Studente-Vereniging het
hy in 1907 en 1910 groot buitenlandse reise gemaak. Gedurende 1912-17
was hy onder die Mohammedane in Kaapstad werksaam en daarna as twede
predikant op Stellenbosch. Van hom het verskyn 'n bundel gedigte: _Uit
Mijn Jonkheid_ en verskeie godsdienstige werke, alles in Hollands.
_Sarel Cilliers, Die Vader van Dingaansdag_ is egter in Afrikaans
(1919). Hy was ook redakteur van _Het Gereformeerd Maandblad_.
Sarel Cilliers.